Dit is niks nuuts nie, dit gebeur deur al die eeue, dat daar ‘profete’ opstaan en meen dat hul nou presies vir ons kan sê wanneer Christus se wederkoms is.
Hier is ‘n boek wat die geskiedenis van eindtyd histeria beskryf tot en met die einde van die jaar 2000:
The Last Days Are Here Again: A History of the End Times, R. Kyle
Die twee nuutste datums wat ek gehoor het, is 21 Mei 2011 en 3 Maart 2013. Die laaste datum is nog meer akkuraat vasgestel om 05h58.
Wel, ironies genoeg kan dit op daardie datums wees, maar dit kan ook nie op enige van daardie datums wees nie, wat dan ?
Die gereformeerde gelowige berus in die woorde van Christus dat ons nie weet nie (Matt.24:36) én dat dit nie die fokuspunt van ons taak en roeping moet wees nie (Hand.1:7). Ons bely oor die wederkoms (NGB artikel 37):
“Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het-die tyd is vir alle skepsels onbekend-en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met die liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.”
Ons Here Jesus sal kom wanneer die laaste uitverkorene in Sy Koninkryk ingegaan het.
Ons moet besig wees in sy Koninkryk, nie agteroor sit en wag vir die wederkoms nie (Matt.20:1ev; Hand.1:11; 2 Thess.3:10-12), soos Luther gesê het: as ek weet die Here kom more, plant ek vandag ‘n boom. En, dit is ongelukkig nie wat die meeste van hierdie ‘eind-tyd profete’ doen nie, hul verkoop gewoonlik alles, wil nie meer werk nie, en doen nou net ‘eindtyd-evangelisasie’. En natuurlik wil hul ‘n klomp volgelinge saam met hul vat, soos die geval is met mnr Johannes Coetzee wat meen die wederkoms is 21 Mei.
Dit is nie al dag dat ek prof. Adrio Konig se artikels aanbeveel nie, maar sien sy weerlegging van die datum vastellings hier:
http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Coetzee-kan-ons-praat-op-2205-20110216
Die eindtyd histeria vind gewoonlik ook binne die raamwerk van die moderne chiliasme of te wel dispensationalisme plaas. Vir ‘n weerlegging van laasgenoemde, sien die volgende webblad wat ook besig is met ‘n 2 volume DVD reeks, ‘The Late Great Planet Earth – The Rise of Dispensationalism’, wat dispensationalisme weerlê op die volgende twee maniere:
vol.1 – die geskiedenis en agtergrond
vol.2 – Skriftuurlike oorwegings
http://www.againstdispensationalism.com/95theses.shtml
Sien ook die volgende artikels wat die probleme van eindtyd histeria aanspreek:
http://www.preteristarchive.com/dEmEnTiA/1989_gentry_foreword-beast.html
http://www.preteristarchive.com/Press/2002_miller_demar.html
U kan by Augustine Bookroom navraag doen oor bogenoemde DVD stel.
Daar is ‘n insiggewende opmerking wat Konig maak, wat ek hier wil aanhaal aangesien dit ook van toepassing is op ander sake in die kerk van Christus (beklemtoning bygevoeg):
“Dit is ook interessant dat elke voorspelling wat deur die eeue heen gemaak is, gepraat het van die toekoms wat voor die deur was en direk moes aanbreek. Die huidige voorspelling sê ons kan nou eers die regte datum kry omdat die Here eers op 21 Oktober verlede jaar die sluier gelig het. Maar dit beteken natuurlik daar is nou nuwe inligting wat nooit vroeër bekend was nie. En die meeste Christene is nogal huiwerig oor sulke nuwe openbarings.”
Van toepassing op ‘n baie belangriker leersaak, haal ek uit ‘n vorige artikel van my aan, oor die kwessie van die vroue in die besondere ampte:
“Wil die voorstaanders van (vroue in die besondere amp) ons nou regtig vertel dat ‘die Woord en Gees’ het nou skielik tot ons geslag (in die 20ste eeu en daarna) alleen gekom om ons heeltemal anders te leer (as die kerk deur al die eeue), en hierdie ‘nuwe insig’ te gee (1 Kor.14:36), wat Hy nie eens aan sy Apostels en Profete geopenbaar het nie, wat die ”fondament” van die Kerk is, terwyl Jesus Christus die Hoeksteen is (Ef.2:20). Moet ons nou dink dat die geloof wat eenmaal oorgelewer is (Jud.3), toe nie heeltemal oorgelewer is nie, en dat ongeag dat die apostelamp ge-eindig het in die eerste eeu (Hand.1:21,22; 2:43; 2 Kor.12:12), daar vandag ‘apostels’ opgestaan het wat ons nou verdere of andere openbaring gee oor hierdie saak (nl. dat die vroue nou skielik in die besondere ampte kan dien) ?
Dit is jammer dat Konig en baie ander teoloë nie ook ‘huiwerig’ was en is om die feministiese agenda die kerke in te dra nie.
Laat ons opnuut vashou, juis in hierdie afvallige eindtye (die tye tussen Jesus se eerste en tweede koms: 1 Tim.4:1; 2 Tim.3:1; Hebr.1:1; 1 Joh.2:18), aan die woorde van 2 Tim.3:12-4:5 … Maar bly jy in wat jy geleer het (Judas 3) …
Leave a Reply