Posted by: proregno | February 28, 2011

Die Christus-openbaring in Markus 1:1-13

Die Christus-openbaring in Markus 1:1-13

ds. Cobus Rossouw, Gereformeerde Kerk Daspoort

1. Mark 1:1-3

In Mark 1:1 hoor ons van: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.”  Evangelie is nuus, goeie-nuus, wat jou bly maak. Wanneer Markus egter goeie-nuus vertel, dan is dit nie sommer enige-goeie nuus nie. Nee, die evangelie waaroor Markus skryf is werklik goeie-nuus. Dis nuus wat God se volk bly maak tot in ewigheid … al kry jy hier en nou baie swaar.  

Die evangelie waaroor Markus skryf het ‘n begin (Mark 1:1). Die begin van die evangelie stem ooreen met dit wat die profete van die OT geprofeteer het (Mark 1:2). So leer ons dat die evangelie waaroor Markus skryf die wonderlike vervulling is van die beloftes van verlossing wat die HERE in die OT vir sy volk gegee het.

 Wanneer Markus skryf dat die begin van die evangelie in ooreenstemming is met dit wat die Profete van die OT geprofeteer het, dan verwys hy in Mark 1:2 en 3 na twee spesifieke gedeeltes uit die Profete, naamlik Mal 3:1 (Mark 1:2) en Jes 40:3 (Mark 1:3). Vanuit hierdie twee gedeeltes uit die profete leer ons dat die evangelie van Jesus Christus begin met ‘n boodskapper (Mal 3:1). Jes 40:3 noem hierdie boodskapper “‘n Stem van een wat roep in die woestyn.”

 Die Profete – spesifiek Maleagi en Jesaja vir wie Markus aanhaal – sê egter nie net dat die evangelie van Jesus Christus begin het met ‘n boodskapper  nie. Nee, hulle sê ook wat die boodskapper moes doen. En dis hier, wanneer ons hoor wat Maleagi en Jesaja sê oor die taak van die boodskapper, dat ons wonderlike dinge oor Jesus leer.

*  Jesus is een in wese met Jahwe.

Ja, as ons luister wat Maleagi en Jesaja sê oor die taak van die boodskapper, hoor ons wonderlike dinge oor Jesus, want in Mark 1:3 haal Markus aan uit Jes 40:3. Daar waar ons hoor van “die stem van een wat roep in die woestyn (Mal 3:1 se boodskapper).” En dan sê die boodskapper: “Berei die weg van die HERE (Jahwe) …”

Hier leer ons dus dat Jesus – wie se koms deur die boodskapper aangekondig word – Jahwe is. Dis tog wat die boodskapper die Een wat na hom kom, naamlik Jesus, noem. Ja, Jesus is Jahwe, die VerbondsGod, die God van Abraham, Isak en Jakob (Eks 3:14-15). Hy is die almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is die Een wat die wonderlike beloftes van verlossing in die OT gemaak het en dit deur die loop van sy verlossingsgeskiedenis vervul.

*  Jesus is die Engel van Jahwe … of sy Seun.

Tog, wanneer ons kom by dit wat Maleagi oor die taak van die boodskapper sê (vgl Mark 1:2), leer ons dat daar ook ‘n onderskeid tussen Jesus en Jahwe (die HERE) is. Want as Markus die gedeelte van Mal 3:1 aanhaal, waar daar staan: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak”  dan gaan Maleagi self verder en hy sê: “dan sal skielik na sy tempel kom (op die voorbereide pad) die Here na wie julle soek, die Engel van die verbond …”

Hier hoor ons dat Maleagi saam met Jesaja profeteer dat die Een wat na die boodskapper kom, die HERE is.[1] Tog wys Maleagi ons dat Jesus ook onderskeie van die HERE is. Want Maleagi noem Jesus: “die Here … naamlik die Engel van die verbond …” 

Die Engel van die verbond is niemand anders as die Engel van Jahwe, of die Engel van die HERE, nie (vgl Rig 2:1).[2] En dan leer ons vanuit die res van die OT en NT dat die Engel van die HERE, die Seun van God is – die tweede Persoon in ons Een Drie-enige God. Hy wat van Ewigheid af God is en by God is (Joh. 1:1).[3]

2. Mark 1:4-8

In Mark 1:4-8 leer ons meer oor die boodskapper  wat voor Jesus uit gestuur is. Mark 1:4 wys vir ons dat hy Johannes-die-Doper is (vgl ook Joh. 1:23). In die lewe (Mark 1:6) en die woorde (Mark 1:4 en 7-8) van Johannes leer ons nog meer oor Jesus.

*  Jesus kom as Regter en Verlosser.

Johannes het kameel-haar-klere en ‘n leer-belt om sy heupe gedra (Mark 1:6). Hierdie kleredrag van Johannes het ooreengestem met die van die profeet Elia (2Kon 1:8). So is Johannes  ‘n vervulling van die profesie van Mal 4:5 – “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die dag van die HERE aanbreek.”  

Maar so leer ons ook dat Jesus op die dag van die HERE kom. Want Johannes, die Elia wat sou kom, tree op net voor Jesus kom (Mal 3:1), maar hy tree ook op net voor die dag van die HERE kom (Mal 4:5). Hieruit leer ons dat die dag van die HERE gekom het in die koms … en wederkoms … van Jesus, Hy wat een in wese met die HERE is, en net na Elia (Johannes) op die dag van die HERE kom.

Vanuit die OT leer ons dat die dag van die HERE ‘n spesiale dag is. Dit is die dag waarop die HERE sy kerk sal verlos. Maar dis ook ‘n dag van verskriklike oordeel oor die HERE se vyande. En dit sê vir ons dat Jesus die Verlosser is en die Regter, wat gekom het, en weer sal kom, op die dag van die HERE, om te verlos en te oordeel.

*  Jesus kom as Verlosser vir sy volk – dis die wat hulle bekeer.

Dis veral vanuit Johannes se woorde, in Mark 1:3-4, dat ons leer dat Jesus kom om sy ware volk te verlos. In vers 4 hoor ons dat “Johannes gekom het en besig was om in die woestyn … die doop van bekering … te verkondig.”  

Johannes het sy verkondiging in die woestyn gedoen. En daar by hom was “die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem …”  (Mark 1:5).

Wanneer Johannes in die woestyn verkondig en die volk van die HERE daar by hom in die woestyn is, dan leer ons ook iets oor die ‘geestelike’ toestand van die volk van die HERE.[4]

Die woestyn is ‘n beeld wat vir ons vertel van die HERE se volk wat skuldig staan voor Hom. Dis ‘n beeld van die skuldige-kerk wat leef onder die skadu van die HERE se strafgerig. Dis beeld van die kerk vasgevang in die slawebande van haar sonde en die slawebande van die duiwel.

 En so is dit met elke geslag in die kerk deur die eeue van die wêreld geskiedenis – ook vandag. Van nature staan ons skuldig voor God, vasgevang in die slawekettings van ons sonde en die duiwel (Heidelbergse Kategismus Sondag 2-3; NGB art 14-15; DL 3/4:1-3).

Daarom is dit so wonderlik dat die HERE sy boodskapper  stuur, die woestyn in, met sy stem wat weergalmend roep: “Berei die weg van die HERE …”  (Mark 1:3; Jes 40:3) wat kom, op die dag van die HERE, as Verlosser en Regter.

Om die weg (pad) van die HERE te berei, beteken dat die HERE se volk hulle tot die HERE – wat kom – moet bekeer, met ‘n bekering waar ons ‘n hartlike berou moet hê oor ons sondes waarmee ons die HERE verskriklik vertoorn (Joël 2:12); met ‘n bekering waar ons ons eie sonde haat en daarvoor vlug (Jes 55:7) na die HERE toe, van Wie alleen ons dan smekend, belydend en met ware berou vergifnis verwag (Joël 2:13; Eks 34:6-7; Mark 1:5).

Die wat hulle so bekeer – waaragtig bekeer – kan dan weet: Hulle is deel van die HERE se uitverkore volk (Hand 5:31; DL 1:12). Dis vir hulle dat die belofte van Jes 59:20 geld: “Maar vir Sion kom (die HERE in sy Seun, Jesus Christus) as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer …”

*  Jesus is die Verlosser want Hy doop met die Heilige Gees.

Wanneer ons let op Johannes se woorde in Mark 1:7 en 8 kom ons ook agter hoe[5] Jesus aan die HERE se ware volk vergifnis skenk en verlos. In vers 7 hoor ons van die Een wat na Johannes kom, wat sterker is as hy. Hierdie Een is natuurlik niemand anders as Jesus nie (vgl ook Mark 1:9).

In vers 8 hoor ons dan dat Jesus die Een is wat “… julle sal doop met die Heilige Gees.”  (vgl ook Mark 1:10; Joh. 1:33). Van uit die OT leer ons dan hoe Jesus vergewe en verlos as Hy die Een is wat met die Heilige Gees doop.

In die OT hoor ons ook van die doop met die Heilige Gees (bv Jes 32:15 en Jes 44:3 en Joël 2:28 en 29 en Sag 12:10). Wat nou belangrik is van al hierdie gedeeltes, is dat hulle aan ons verkondig dat wanneer die HERE (in sy Seun, Jesus Christus) sy volk met die Heilige Gees doop die tyd van verlossing gekom het en die tyd van die Koninkryk en Vrederyk.

Maar wanneer die HERE sy kerk met die Heilige Gees doop het ook die tyd van die reiniging en vergifnis van sondes aangebreek. Want die doop met die Heilige Gees, so leer ons uit God se Woord, staan nooit ooit los van die vergewing en die reiniging van ons sondes nie.

Ons sien dit in Eseg 36:25 en 27. In Eseg 36:25 hoor ons van die vergewing en die reiniging as die HERE vir sy volk sê: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.”  En net daarna in Eseg 36:27 praat die HERE van die doop met die Heilige Gees, as Hy sê: “En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel  en my verordeninge onderhou en doen.”

En dadelik sien ons hoe daar vergewing kom! Dit sal gebeur wanneer die profesie, oor die HERE wat sy volk doop met sy Gees, ‘n werklikheid word. En daardie profesie het  ‘n werklikheid geword!! Want die Een na die boodskapper  het gekom – die Engel van die verbond, Jesus Christus, die Seun van God. Dis Hy wat die Heilige Gees doop soos die profete geprofeteer het en soos ons hoor in Mark 1:8 (Hand 1:5; 2:1-4, 32-33). En dit nadat Hy sy volk gereinig het van al ons onreinhede en van al ons drekgode, en so vir ons vergifnis bewerk het.

3. Mark 1:9-13

In Mark 1:9 hoor ons: “En in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop.”  Uiteindelik het die dag aangebreek waarop Johannes se woorde in Mark 1:7 nou vervul is, toe hy gesê het: “Hy wat sterker is as ek, kom ná my …”

*  Jesus kom in vernedering.

Maar nou is dit baie belangrik dat ons moet raaksien vanwaar Jesus kom. Hy kom van Nasaret af (Mark 1:9). Nasaret was ‘n agterlike plek (Joh. 1:47). En van daardie agterlike plek af het Jesus Christus, die verhewe Seun van God, gekom.

Dit alles was geen toevalligheid nie. Jesus moes van Nasaret af kom“sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word”  (Mat 2:23). En die profete wat so geprofeteer het, was hulle wat geprofeteer het oor Jesus se veragting en vernedering ook omdat Hy uit Nasaret gekom het (Jes 53:3).

Ja, Hy wat in die gestalte van God was het aan die mense gelyk geword, en Homself verneder (Fil 2:6-8). En dit alles vir die HERE se skuldige sondaar kerk wat dit op geen manier verdien nie!

Die vernedering van Jesus kom staan nog meer in die kollig wanneer Mark 1:9 verder sê dat Jesus uit Nasaret gekom het “en deur Johannes in die Jordaan gedoop is.”  En nou moet ons onthou: Wanneer Johannes doop, dan doop hy met die “die doop van bekering tot vergifnis van sondes …”  (Mark 1:4).

Wat ‘n verskriklike vernedering! Jesus, die Seun van God, word so gelyk aan die mense dat Hy, die heilige sondelose (Heb 4:15), deur Johannes se doop ingelyf word by sy skuldige kerk. Maar in dit alles moet ons ook God se ontsaglike genade sien. Want deur sy doop heen het die Seun van God een met sy kerk geword, behalwe in die sonde (Heidelbergse Kategismus, Sondag 14 v/a 35).

 *  Gesalf met die Heilige Gees is Jesus Koning en Kneg.

Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Jesus dadelik opgeklim uit die water. En toe sien Hy die hemele skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal (Mark 1:10). So word die gebed van Jesaja verhoor, toe hy eens gesmag het om die verlossing van die kerk,  en gebid het: “Ag, as U (o HERE) maar die hemele wou skeur …”  (Jes 64:1).

En toe gebeur dit. Die hemele skeur. Die Gees daal op Jesus neer. En so met die Heilige Gees op Jesus, is Hy die Een wat met die Heilige Gees doop (Joh. 1:33), en daarom ook die ‘met-die-Heilige-Gees-Gesalfde’ Verlosser van die kerk (Hand 10:38).

Wanneer die HERE egter uit die hemel vir Jesus sê: “U is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”  (Mark 1:11), leer ons dat Jesus, as die gesalfde Verlosser, ook die HERE se gesalfde Koning en Kneg is.

Jesus is Koning

Jesus is die HERE se gesalfde Koning, want as Hy uit die hemel vir Jesus sê: “U is my geliefde Seun …”  hoor ons die vervulling van die profesie Ps 2:7, waar die Seun van God praat … en dan sê: “Die HERE het aan My gesê: U is my Seun …” [6] Dis egter vir hierdie einste Seun van God dat die HERE in Ps 2:6 sê: “Ek tog het my Koning gesalf …”

En so sien ons dat Jesus waarlik die Seun van God is … maar ook die Koning wat die HERE self met die Heilige Gees gesalf het (vgl Jes 11:1-2).

Ja, Hy die vernederde veragte uit Nasaret is die Een wat van ewigheid deur die HERE as Koning van die kerk aangestel is (NGB art 27); Hy is die Een wat nou in die volheid van die tyd met die Gees gesalf is, sodat Hy ook sy kerk se Verlosser-Koning is; die Een wat “ons by die verlossing wat (Hy) verwerf (het), beskerm en bewaar”  (Joh. 10:28; Heidelbergse Kategismus Sondag 12 v/a 31).

Jesus is Kneg

Jesus is die HERE se Seun, sy gesalfde Koning – soos Ps 2:7 profeteer. Die HERE bevestig dit as Hy uit die hemel vir Jesus sê: “U is my geliefde Seun …”  Maar nou is dit nie al wat die HERE uit die hemel vir Jesus sê nie. Nadat die HERE gesê het: “U is my geliefde Seun …”  gaan Hy verder en sê: “in wie Ek ‘n welbehae het.” 

In hierdie laaste woorde van die HERE, hoor ons ‘n vervulling van Jes 42:1 waar die HERE sê: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie (Ek) ‘n welbehae het.”  

Ja, Jesus is die Een van Jes 42:1 in wie die HERE ‘n welbehae het. Maar dadelik sê dit vir ons dat Jesus nie net Koning is nie. Nee, Hy is ook Kneg. Die Kneg van die HERE se welbehae. En hiervan kan ons seker wees, want oor die Kneg van sy welbehae het die HERE in Jes 42:1 verder gesê: “Ek het my Gees op (my Kneg) gelê …”  En presies dit gebeur in Mark 1:10. Die HERE lê sy Gees op Jesus – Sy gesalfde Koning-Seun en Kneg.[7]

En wanneer ons hoor dat Jesus ook die HERE se Kneg is, leer ons ook baie meer oor hoe Jesus sy kerk verlos. Want die Kneg van Jes 42:1 is ook die Kneg van Wie ons hoor in Jes 53. En in Jes 53 hoor ons dat die Koning-Kneg ook die vernederde Kneg uit Nasaret is; die Kneg wat deur die mense verag is (Jes 53:3); die lydende Kneg op wie “die HERE die ongeregtigheid van ons almal laat neerkom het”  (Jes 53:6); die Een op wie “die straf (was) wat vir ons die vrede aanbring …”  (Jes 53:5).

*  Jesus neem sy kerk se sonde weg

Die wonder oor Wie Jesus is en Wie Hy vir sy kerk is word nog groter, as ons in Mark 1:12 hoor: “En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.”  Uitgedryf!  Dis ‘n sterk woord. Dis wat Jesus met demone gedoen het. Hy’t hulle uitgedryf.

Maar hier is dit nou die Gees wat Jesus uitdryf. Van daar af waar Jesus, die vernederde Kneg van die HERE se welbehae, by sy kerk staan word Hy uitgedryf weg van hulle af al dieper die woestyn in … belaai met sy ware kerk (dis die wat hulle bekeer en oor hulle sonde treur) se sonde (Jes 53:5-6).

Dis soos op die groot versoendag waarvan ons lees in Lev 16. Op daardie dag het die volk hulle verootmoedig en oor hulle sonde getreur (Lev 16:29). En Aaron het hulle sonde voor die HERE bely terwyl hy sy hande op ‘n bok wat daar by hom gestaan het, gesit het (Lev 16:21). So het die HERE vir sy volk gewys dat hulle sonde oorgegaan het op die bok. Na dit alles is die boek uitgedryf die woestyn in (Lev 16:21-22).  

Jesus, die Seun van God, die almagtige gesalfde Koning, maar ook die veragte vernederde Kneg, met sy kerk se sonde op Hom, word die woestyn ingedryf, soos die Versoendag se bok. Ja, Jesus neem nie net sy kerk sonde op Hom nie. Hy neem dit ook weg, net heeltemal weg, die woestyn in.

Daar waar Hy 40 dae was “terwyl Hy deur die Satan versoek is”  (Mark 1:13). Maar nie in sonde geval het nie! Belaai met die kerk se sonde bly Hy self die sondelose Seun van God, wat Koninklik oor Satan triomfeer. 

[1] In Mal 3:1 lees ons nie van ‘die HERE’ (Jahwe יהוה) nie, maar van ‘die Here’ (ha adoon האדון). Tog verwys die woorde ‘die Here’ na Jahwe (die HERE). Dit leer ons uit die konteks van Mal 3:1, want in Mal 3:1 hoor ons dat ‘die Here’ na sy tempel sal kom – en in die OT is die tempel altyd die tempel van Jahwe (die HERE). Verder hoor ons in Mal 3:1 dat ‘die Here’ die Een is na wie die volk soek. In Mal 2:17 hoor ons dat die volk na ‘die God van die reg’ soek. Die God van reg is ook ‘n manier hoe daar gepraat word oor Jahwe (die HERE) (vgl Keil & Dilitzsch se kommentaar op Maleagi, bl 458; New International Dictionary of OT Theology and Exigesis  vol 1 bl 723; Commentary on the NT use of the OT, bl 117).

[2] Vgl Macey se Maleagi komm bl 320; Bavinck, Magnalia Dei, bl 133,267.

[3] Toe ons as gemeente tydens ons aand-eredienste stil gestaan het by die Skrif-leer oor ons Drie-enige God soos dit saamtrek in NGB art 8-11, het ons in meer detail geleer hoe die Engel van die HERE in die OT ‘n manier is om te verwys na die Seun van God. Alle preke – ook hierdie een oor die Drie-eenheid van God – is op skrif of CD beskikbaar by sr Alet Oosthuizen (tel 012 3793248).

[4] Vanuit Mat 3:1 leer ons dat hierdie woestyn, waar Johannes verkondig “die woestyn van Judéa” was. Die woestyn van Judea het aan die weste kant van die dooie-see gelê. Markus self sê egter nie vir ons waar die woestyn is nie. Dit sê vir ons dat Markus wil hê dat ons meer op die geestelike betekenis van die woestyn moet fokus (Vgl Guelich se Mark kommentaar bl 18).

[5] In Mark 1:3-4 leer ons dat Jesus die ware volk van die HERE verlos. In Mark 1:7-8 gaan dit om die hoe van die verlossing.

[6] Vgl Commentary on the NT use of the OT, bl 122; NTES 875 bl 137. Dat ons in Ps 2 met profesie te doen het, vgl Van Bruggen se Mark komm bl 45.

[7]Wat in hierdie konteks baie belangrik is, is om daarop te let dat die uitverkore Kneg van die HERE (van wie ons hoor in Jes 42:1) in die profete die ‘ideale Dawid’ is. Of anders gestel: Die Kneg van die HERE en die HERE se gesalfde Koning uit die geslag van Dawid wat tegelyk ook waarlik die Seun van God is en self God is (Jes 9:5-6) is die selfde Persoon (vgl Ps 78:70; 89:4; Jes 11:1-2; Eseg 34:23; Sag 3:8; vgl ook Commentary on the NT use of OT bl 125-129). 



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: