Die wêreld begin al meer (vyandig) kennis neem van die bediening van Angus Buchan. Vanoggend op RSG (Radio sonder Grense) is daar tussen 08h00-09h00 ‘n onderhoud met hom gevoer, op die geselsprogram ‘Praat Saam’.
Die RSG aanbiedster het haar bes probeer doen, met die hulp van enkele paar inbellers, om Buchan se bediening in ‘n slegte lig te probeer stel, onder andere dat sy bediening nie genoeg aandag skenk aan die vrou nie (te mansgesentreerd) en dat hy in die proses lekker baie geld maak.
Albei aantuigings is natuurlik ‘n klomp snert, want al kan mens as mede-gelowige met Buchan in liefde verskil oor sekere teologiese standpunte en metodes wat hy gebruik (sien: “Open Letter to Angus Buchan”: http://web4.sa-media.com/articles/gr-829084333-6.PDF), glo ek nie ‘n mens kan die man van God beskuldig van allerleie valse bymotiewe en idees met sy bediening nie. Wat sy gesindheid en motiewe betref, wat die Here alleen oordeel, glo ek ons kan dieselfde van hom sê as wat ons Here van Nataneal gesê het: “Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” (Joh.1:48)
Wat is dit van Buchan se eenvoudige boodskap wat soveel aanstoot by die valse kerk en nou ook die afvallige wêreld veroorsaak ?
In die onderhoud het die volgende 5 sake na vore gekom waaroor Buchan onbeskaamd sy standpunt gestel het sonder om verskoning daarvoor te vra:
1. Verwerping van ewolusie
Hy glo die skepping soos die Bybel dit openbaar, die mens is nie afkomstig van ‘n aap nie, maar is geskape na God se beeld.
2. Verwerping van die gay lewenswyse
Die Here het die man vir die vrou geskape en andersom, nie mans vir mans of vrouens vir vrouens nie. Hy het al vir mense gebid om verlos word van homoseksualisme en lesbianisme.
3. Geen teologiese opleiding nie
Op hierdie aanklag het Buchan verwys na Petrus en Johannes wat ook nie ‘formele teologiese opleiding’ ontvang het nie.
4. Verwerping van godsdiensgelykheid
Buchan wys daarop dat hy alle mense van alle gelowe liefhet, maar geen mens kan gered word en hemel toe gaan sonder geloof in Jesus Christus nie (Joh.14:6).
5. En, wat heel moontlik die grootste aanstoot veroorsaak van Buchan se bediening wat lynreg in stryd is met die valse feministiese kerk en samelewing : hy pleit vir ‘n terugkeer na die bybelse tradisionele gesin van manlike leierskap en vroulike onderdanigheid.
Mans moet bevry word deur Christus om weer hul vrouens en kinders met self-opofferende liefde te dien. Mans moet weer leer om hul vrouens soos prinsesse te behandel, hulle moet weer ‘manlik’ wees en soos mans begin lyk.
Dit is baie duidelik dat sou Buchan vir roem, geld of aansien sy bediening begin het, hy nie baie ‘strategies’ en ‘polities korrek’ is in sy boodskap nie. Nee, met ‘n goeie sin vir humor en kalmte van gees het hy die vuurpyle van die RSG aanbiedster en sekere inbellers afgeweer en goed beantwoord.
Twee inbellers het egter goeie vrae gevra wat ‘n mens wel oor moet dink:
1. Waarom het veral so baie Afrikaner mans na Buchan se saamtrekke gegaan, terwyl hul tog as ‘tradisionele Afrikaners’ al dekades lank in hul eie tradisionele kerke min of meer dieselfde boodskap hoor ?, en
2. Is daar ook gevra wat dink Buchan van die ‘Toronto blessings en revivals’ wat gepaardgaan met allerlei ‘laughing in the spirit’ en ander vreemde verskynsels ?
Buchan se antwoord op eersgenoemde was dat sy boodskap altyd is dat mans moet terugkeer na hul gesinne en kerke, en daar opofferend, betrokke en diensbaar sal wees. Dit wil sê sy doel is nooit om ‘n nuwe kerk te stig nie.
Hier wil ek ook ‘n antwoord gee: ek glo in die meerderheid gevalle hoor mans nie meer die boodskap van ‘manlike leierskap en vroulike onderdanigheid: die man en vrou is gelyk in waarde en wese, maar verskillend in rol’ nie. Daarom dat hul in hierdie tye van rolverwarring juis Buchan se boodskap waardeer hieroor, omdat hul weer die stem van die Bybel hoor wat hul rolle en take betref, wat hul nie in hul kerke meer hoor nie, ten minste nie in die oorgrote hoeveelheid ‘tradisionele susterskerke’ nie.
Op die tweede vraag het hy ge-antwoord dat ware herlewing word in die vrugte gesien, wat dus beteken dat daar ‘n lewe van liefde, diens aan God en die naaste, en godsvrugtigheid daaruit sal vloei. So ons moet ‘n ware herlewing aan sy vrugte toets. Ware herlewing is ‘to be saturated with God’, met verwysing na Wesley, volgens Buchan.
Nou is dit die vraag, en hier is my eie besinning oor die Mighty Men Conference:
Eerstens, positief, glo ek dat deur Buchan se bediening, Christus ten minste verkondig word, en daarvoor is ‘n mens dankbaar en moedig dit aan. Dat dit al duisende mans se lewens verander het, huwelike gered het, en weer lewe in gesinne geblaas het, is ‘n mens net so dankbaar, soos ook deur vele getuienis tydens die onderhoud en deur inbellers gehoor kon word. Mag dit voortgaan, hoe meer ons manne op ons knieë kom, hoe meer ons begin Bybel lees, ons vrouens en kinders weer dien, die huisgodsdiens herstel word, hoe groter ‘herlewing’ (lees: reformasie) mag daar wees, as die Here wil.
Maar, tweedens, en dit is my broederlike kritiek en vraag: kan daar ware standhoudende deurgaande persoonlike-, huwelik- en gesinsreformasie wees, sonder kerklike reformasie oor dit wat veral sentraal staan in Buchan se bediening: die reformasie, die terugkeer, die herstel van die bybelse leer oor die besondere ampte spesifiek in die plaaslike gemeente, nl. dat mans soos hulle hul vrouens en kinders lei, ook die gemeente as predikante, ouderlinge en diakens in liefde sal dien en lei, soos hul die gawes en roeping het (1 Tim.3:3,4) ?
Hoeveel van daardie duisende mans, wat met hul bekering by een van Buchan se konferensies ‘nee’ gesê het vir die God onterende feminisme in hul huwelike en huise, het dit ook gesê wat hul kerke en gemeentes betref, daar waar die feminisme in hul kerke ons vrouens al mislei het om hul te vergryp aan die besondere ampte wat die Here hulle nie gun nie (1 Kon.12:31b; 1 Tim.2:11-15) ?
Ek weet nie of Buchan selfs hierdie valse dualisme handhaaf nie, nl dat die vrou kan maar die ‘broek dra’ in die kerk (in die besondere ampte staan), maar net nie in die huwelik en gesin nie. Ek hoop regtig nie so nie, want dan val sy hele bediening in mekaar wat sy hoofboodskap betref, nl. dat mans opnuut hul roeping as mans in Christus sal herontdek en hul vrouens en gesinne in die waarheid van die Woord sal lei.
Daarom kom die vraag op, waar is die vrugte van die herlewing van die duisende manne wat deur al die jare die MMC bygewoon het, spesifiek wat ‘kerklike herlewing en reformasie’ betref ?
Want, een konferensie in ‘n jaar of lewe kan glad nie opmaak vir die weeklikse erediens, broederskap en gemeenskap van die heiliges wat nodig is vir elke Christenman (en vrou!) om die Here te dien soos Hy ons beveel nie.
Wat help dit ‘n man het oor ‘n naweek die waarheid gehoor, maar nou sit hy vir die res van sy lewe in ‘n gemeente wat ‘n valse leer verkondig oor die rol van man en vrou, wat ewolusie goedpraat of akkomodeer (‘God het deur ewolusie geskep’), wat homoseksualisme goedpraat, waar godsdiensgelykheid bevorder word deur ‘n humanistiese menseregte kultuur onder invloed van die Wêreldraad van Kerke, waar die broederbonders die kerk regeer volgens die tydsgees, en nie in Christus deur sy Gees en Woord nie.
Hopelik sal hierdie vrug van ware herlewing/hervorming nog kom onder die manne van ons land ?
‘n Ware man bedink God se wet, sy Woord, dag en nag, hy is passievol oor die waarheid, oor Christus se eer, sy gesin, sy gemeente, hy lees bybelse teologie, want dit bepaal sy lewe en die lewe van sy geliefdes: Ps.1:2; 2 Tim.3:16,17
Hopelik is dit deel van die toekomstige boodskap van oom Angus, dat manne wat hul waarlik bekeer, terugkeer na Christus, terugkeer na die Bybel – saam met hul gesinne – daardie valse kerke sal verlaat wat ‘iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus nie’ (1 Tim.6:3), spesifiek nie instem met wat Jesus Christus ons deur Paulus leer dat die vrou nie oor die man mag regeer deur die besondere ampte nie (1 Tim.2:10-15).
Wanneer daar openlik getuig is, opgeroep is tot bekering terug na God se skeppingsorde in beide gesin en kerk, en ‘n kerk en sy leiers volhard in die feministiese dwaling en tydsgees wat tot vernietiging is van die bybelse gesin, kerk en samelewing en God se Naam onteer, dan kom daar ‘n tyd om meer gehoorsaam te wees aan God soos ons dit vind in Paulus se oproep aan die ware gelowiges en die ware kerk, hoe hartseer en gebroke dit ook al mag wees vir ons lewens:
“Ontrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:5c)
Dit is ware bekering, dit is ware deurgaande reformasie tot lof van God en heil van sy kerk orals, om weer gemeentes daar te stel wat God waarlik dien en aanbid in alles, en wat weer sy skeppingsorde en plan vir man en vrou, vir gesinne hoe langer hoe meer konsekwent begin handhaaf.
Ek het groot respek vir oom Angus, vir die feit dat hy op ‘n wêreldse stasie wat hom nie goedgesind is nie, openlik sy geloof bely het, aan God al die eer gee, nie skaam is om die Bybelse standpunt oor ‘kontroversiële’ sake te stel nie, hom nie skaam om Christus te bely voor mense nie. Ek voel my in baie gevalle baie nader aan die broer as baie in my eie kerkverband wat die geloof al meer kompromeer ter wille van die tydsgees. Ook in my eie kerkverband blyk dit dat die aanslag en tyd gaan kom, waar die feministiese tydsgees ook amptelik gaan oorneem, en dan sal die getroue gelowiges hul moet verantwoord aan 1 Tim.6:3-5.
Ek dink ek sal met baie van Buchan se ervarings kan deel, omdat ekself ‘n stuk brandhout is, ‘n swak erdekruik is wat deur die Here se genade alleen gered is, en wat daagliks nog moet stry teen my eie bose sondes, die aanslae van die wêreld en die Satan se bose magte.
Maar oom Angus is reg, ons kort weer passie in ons kerke, en daardie passie kan nie daar wees sonder Jesus Christus nie. Petrus en Johannes en die ander manne kon alleen ‘manlik’ wees, en die evangelie met vrymoedigheid verkondig en geen mens vrees nie, omdat ‘hulle metgeselle van Jesus’ was (Hand.4:13c) !
Saam met oom Angus is my passie ook dat ons mans weer gehoor sal gee aan ons Koning en Verlosser se oproep in Luk.9:23ev, en dit is nie maklik nie, sonder sy Gees en Woord kan ons dit nie doen nie, en ons het mekaar as broers in die geloof nodig. Ons moet mekaar weer in die oë kyk, erken ons is swak en nietig, en kan alleen ‘manlik’ wees in Christus, want daarvoor is ons geskape en daarvoor word ons gered: om mans tot eer van God te wees !
Soos ‘n ander broer van my dit ook stel: ons is saam almal in die modder (die sonde en die gevolge daarvan, soos ons tye dit ook uitwys), en moet saam tot lof van God en deur Christus die goeie stryd stry.
Daartoe roep Paulus ons ook op, nie net persoonlik nie, nie net in ons huwelike en gesinne nie, maar ook (en veral) in die plaaslike kerk en gemeente van ons Here Jesus Christus:
1 Kor.16:13-14 “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.”
Ware mans het Jesus lief
Ware mans het hul vrouens en kinders lief
Ware mans het hul gemeentes lief
Here, help ons om waarlik ‘manlik’ te wees tot U eer !
Jou tweede vraag kan ook omgedraai word. Kan daar kerklike reformasie wees sonder persoonlike-, huwelik- en gesinsreformasie?
Ek meen dat die antwoord op hierdie vraag negatief is.
As dit so is dat Angus Buchan bydra tot persoonlike-, huwelik- en gesinsreformasie.
As dit so is dat kerklike reformasie nie kan gebeur sonder persoonlike-, huwelik- en gesinsreformasie nie.
Dan dra Angus Buchan indirek by tot kerklike reformasie.
Verder moet jy ook in ag neem dat kerklike reformasie nie meer lyk soos in die verlede nie. Dis nie meer ‘n skeuring van ‘n groot kerkverband in twee kleiner kerkverbande nie. Dis eerder ‘n verbrokkeling van bestaande kerkverbande en die stig van allerhande huiskerke, selgroepe, onafhanklike gemeentes, preekpunte, ens. ens.
Bouwe, ja, dit is albei of alle ‘terreine’ wat moet reformeer:
Persoonlike/huwelik/gesinreformasie én kerklike reformasie moet plaasvind, en die twee werk saam op maniere wat die Here deur sy Gees werk en wat ons nie kan bepaal of stuur nie.
Op hierdie stadium sien ons egter deur Buchan se bediening heelwat reformasie van die individu, huwelik en gesin, maar nie veel reformasie vrug daarvan op kerklike terrein nie. Dit blyk dat die meeste Afrikaner manne (hoofsaaklik afkomstig uit die ‘susterskerke’, veral die NGK) wat teruggekom het van die konferensies nog rustig en tevrede is om in kerke aan te bly wat al meer deformeer, veral wat die saak oor VIDA betref (wat direk of indirek sentraal staan in Buchan se bediening).
As ons Buchan se eie maatstaf vat van die toets wat ‘ware herlewing’ is, dan sien ek ongelukkig nie veel ‘vrug’ daarvan wat die kerklike terrein betref nie, daar is bv. maar ‘n klein groepie besorgdes in die NGK, en as mens hul geskrifte lees, dan is hul nie eers besorg oor bv die wesentlike sake oor VIDA nie (sien die boek Trojaanse perd, wat andersins goed is, maar nie vermelding maak van die feministiese VIDA aanslag nie).
Maar, soos ek ook genoem het, hopelik sal daar in die toekoms nog verdere reformasie wees op die kerklike terrein, deur ons almal, as vrug van die reformasie op persoonlike en gesinsterrein.
Mag die Here deur sy Gees en Woord bymekaar bring wat bymekaar hoort.