Ter herdenking van ‘Stigtingsdag’ plaas ek dr. WJ Snyman se artikel, “Die Afrikaanse volk se krag is in Calvinisme’ (Woord en Daad, jg.IX, April 1966m p.1-3) hier:
“Van Riebeeckdag vestig die aandag op die tradisie van die Afrikaner: die Calvinisme. Dit is die kraglyn wat van die volksplanting af deur sy geskiedenis loop.”
Van Riebeeckdag herinner ons aan die noue band wat daar tussen die Afrikaner en die Calvinisme bestaan.
Dit het tot uitdrukking gekom in die gebed waarmee ons volksgeskiedenis begin het: dat die ,,ware Gereformeerde Leere” in hierdie land uitgebrei mag word. Die ware Gereformeerde leer is niks anders nie as die Calvinisme. Die Afrikaner — dit moet die herdenking van ons geboortedag in ons oproep — is Calvinis van oorsprong. Van ander nasies kan daar gesê word dat hulle op een of ander tydstip in hulle geskiedenis Calviniste geword het. Van die Afrikaner geld: Hy is dit gebore.
Is dit te veel om te sê dat die Afrikaner wat met die Calvinisme breek, met sy verlede breek en ontrou is aan sy afkoms? Ons het hier ‘n lyn wat deurloop tot aan die begin van sy geskiedenis. Die Calvinisme is die tradisie van die Afrikaner. Die tradisionele Afrikaner moet ‘n Calvinis wees.
Huidige stryd
Dit herinner die Afrikaner ook daaraan dat hy in sy huidige stryd om sy identiteit as blanke te behou, hy sy identiteit as Afrikaner kan verloor, juis in die stryd. Dit kan daartoe lei as daar nie met die volksaanvulling van buite af, wat ongelukkig noodsaaklik gemaak word deur die gebrek aan die eie aanwas, baie kieskeurig en versigtig te werk gegaan word nie.
Vir diegene wat die Afrikaner wil breek, is hiermee gesê: Breek hom in sy Calvinistiese geloofsoortuiging.
Hiermee is seker die geheim van die Afrikaner ,,prysgegee”; die ,,ware Gereformeerde Christelike Leere”. Die Calvinisme. Diegene wat die Calvinisme verstaan, verstaan die Afrikaner en sy geskiedenis — die onsinnige of wonderlike daarvan: Die Groot Trek — Bloedrivier — Paul Kruger en die Britse wêreldryk — die geskiedenis van die Republiek: sy ondergang en weerverskyning.
Afrikaner se geheim
Hierdie blootlegging van die geheim van die Afrikaner, sy Simsonsgeheim, is noodsaaklik, ter wille van die Afrikaner self. Dit is nodig dat hy moet weet wat die kraglyn is wat deur sy geskiedenis loop, want hy het vandag aansluiting daarby nodig soos nog nooit tevore nie. Hy moet ook weet dat die Afrikaner wat sy Calvinisme vir ‘n ander soort geloof of lewensbeskouing prysgegee het, nie oorwin hoef te word nie, want hy het dan klaar, soos Simson, as ‘t ware in sy slaap, verloor.
Dit is ook nie nodig dat ons hierdie geheim met die oog op die vyande moet verswyg nie. Hulle weet daarvan. Hulle het die krag van die Afrikaner lankal ontdek, en hulle het raakgesien dat dit geleë is, nie soseer in sy verbondenheid aan sy Kerk soos ons oor en oor hoor nie. Hulle het hom nie probeer loskry van sy Kerk nie, maar van sy Caivinistiese geloofsoortuiging, deur dit te ondermyn met ‘n oppervlakkige, metodistiese volksvroomheid. Daarmee moes die ,,harde” Calvinis week gemaak word. Nou nog. Ook deur die liberalisme.
Reeds toe al. Die liberalisme is nie ‘n vyand wat eers in die twintigste eeu opgeduik het nie. Miskien het baie hom nou eers gewaar. In die vorige eeu het dit die Afrikaner al kerklik geskeur. Ons moet ons ook nie daarteen blind staar as die enigste gevaar wat ons bedreig nie. Die eintlike gevaar, die prysgewing van die Calvinisme, vir watter ,,isme” ook, of bloot die prysgewing daarvan. Dit is die prysgewing van ons eersgeboortereg. Dan word ons afgesny van ons wortel, en is ons oorwonne voordat die slag gelewer is, soos Simson.
Verwydering
Daar was tye in ons geskiedenis toe daar verwydering gekom het tussen die Afrikaner en sy Calvinisme, selfs teestelling, openlike bestryding van sy Calvinisme deur die Afrikaner, selfs van kerkilke kant. Hoewel daar nog skermutselinge plaas vind, soos wat onlangs die geval was in een van ons Afrikaanse dagblaaie, het hierin groot veranderinge gekom.
Die assosiasie van die Afrikaner met die Calvinisme was nog nooit so gewild soos vandag nie. Dit is hoogs verblydend dat dit gekonstateer kan word. Die Calvinisme bied weer eens die gemeenskaplike platform vir die Afrikanerskap. Dit is ook die enigste deugdelike platform om die Afrikaner op die kerklike en politieke gebied bymekaar te bring, want daarmee staan die Afrikaner op die bodem van sy tradisie. Die tradisionele Afrikaner moet Calvinis wees. Hy is dit van oorsprong. Ons wil ook hieruit aflei dat, hoeveel stof daar ook al van buite oor ons volk gewaai het, sy onderlae steeds Calvinisties is.
In die feit dat die tradisionele Afrikaner Calvinis moet wees, skuil ook weer gevaar. Dit is asof daar teenswoordig ‘n wedloop is om die Calvinisme te annekseer. Die erenaam loop gevaar om ‘n modewoord te word, ‘n vlag om allerlei ladinge mee te dek. So moet die tipiese verskynsel van tans verklaar word dat onder die Afrikaners Calvinis teenoor Calvinis te staan kom, op kerklike, politieke en onderwysgebied.
Calvyn se Calvinisme
As hierdie gevare raakgesien word, dan is die weg vorentoe ook duidelik. Dit is naamlik om tot die insig te kom (nie dat die krag van die Afrikaner in die Calvinisme gesoek moet word nie; hieroor skyn daar teenswoordig min of meer ooreenstemming te wees) wát die Calvinisrne is, wat die krag was en is. Die weg is dan dat die Afrikaner hom moet deurgrawe deur allerlei, sells teenstrydige, vertolkings van die Calvinisme na die oorspronklike — die Calvinisme van Calvyn.
Daar is ‘n epigone — ‘n ingevoerde en ‘n oorspronklike Calvinisme. Dit is ook die weg tot heling vir die verdeelde Calvinistiese Afrikaner en tot krag in eendrag.
Karikatuur bestry
Vir die bestryders van die Calvinisme is dit ook goed om goed op die hoogte te kom van die Calvinisme wat hulle bestry, om sodoende daarvan gespaar te word orn ‘n spook van eie maaksel te beveg i.p.v. die Calvinisme. Dit was dikwels die geval met Calvyn.
Ons dink veral aan die bestryding van die Calvinistiese beginsel van ,,Christelik-Nasionale” onderwys. Wat bestry word, is gewoonlik ‘n karikatuur daarvan. Dit word bestry as seksioneel en eng. In werklikheid is niks so ruim as die Calvinisme in sy rotsvastheid (1 Kor. 15 : 58) nie, omdat dit nooit, soos die liberalisme, botsende elemente wil saamdwing binne dieselfde ruimte (skool, universiteit) nie. Dit is ook allermins seksioneel (of sektaries), want dit val met die Afrikaner saam. Dit is sy tradisie.
Voeg by bostaande (skool, universiteit) ook ,,gebied”. Dan is dit duidelik hoe dieselfde beginsel ook geld op die politieke gebied, eweneens op die kerklike gebied.
Wat kom eerste?
By die noue band tussen die Afrikaner en die Calvinisme moet ook gevra word: wat kom eerste? Moet ons spreek van ‘n Afrikaanse Calvinisme of van ‘n Calvinistiese Afrikaner? Ons word bv. daaraan gewoond gemaak om te hoor van ons Afrikaanse Protestantse tradisie. In die lyn moet ons dan ook spreek van ‘n Hollandse, ‘n Engelse Calvinisme. In die jongste jare word die Afrikaanse nogal dikwels gestel teenoor die Hollandse. So kom Calvinisme teenoor Calvinisme te staan, en word dit opgebreek in soveel nasionale Calvinismes. Dit word dan van sy (saambindende) krag beroof. Bedenkliker is nog dat dit sodoende aan die nasionale ondergeskik gestel en innerlik van sy krag beroof word.
Die vraag is of ons deur hierdie spreekwyse nie self bydra nie tot die valse voorstelling by die bestryders van die Calvinisme, dat dit die soort Christendom is waarin die Nasionale die Christelike oorstem, dat dit ‘n soort nasionale Christelikheid is.
Valse teëstelling
Ons spreek verder die oortuiging uit dat ons in ons stryd teen die liberalisme, wat die Christelike beklemtoon ten koste van die nasionale, self besig is om ‘n verbinding tussen die nasionale en die Christelike te lê, in die kerklike en volkslewe, waarby die nasionale oorbeklemtoon word tot skade van die Christelike, en dat ons besig is om altyd vaster te raak in ‘n valse teëstelling, die van ‘n anti-nasionale en ‘n nasionale Christendom.
Die antichris is in albei aanwesig.
Wat die laaste betref, hoef ons slegs aan die nasionale (Germaanse) Christendom vroeër in hierdie eeu te dink en aan die Afrika-Christendom, waarvan ons nou so baie hoor.
Die weg
Die Calvinisme bied die weg uit hierdie greep. Dit is die Christelik-nasionale weg, die van ‘n Christendom wat nie nasies opbreek of deur nasies opgebreek word nie, maar wat die nasies verbind, wat ons bind aan ons volk, maar wat ons met ons volk onderwerp aan die tug van Gods Woord. Dit leer ons om nie net krities te staan teenoor ander nasies nie, maar om ook krities te staan teenoor onsself.
Dit is nie ‘n teken van swakheid soos ons geleer word om te dink nie, maar van gesondheid en van geestelike krag.
Dit is niks anders nie as die ,,ware Gereformeerde Christelike Leer” waarmee ons volksgeskiedenis begin het.
Hiermee het ons die antwoord op ‘n laaste vraag: Of daar nog sprake moet wees van ‘n organisasie van Calviniste onder ‘n Calvinistiese volk soos die Afrikaanse — ‘n organisasie soos die Instituut vir die bevordering van die Calvinisme wat aan ons Universiteit opgerig is in samewerking met die Afrikaanse Calvinistiese Beweging.
Die antwoord is (samevattend): dit is nodig dat ons steeds herinner moet word aan ons Calvinistiese oorsprong. Dit is ook nodig dat ons moet terugkeer tot die oorspronklike Calvinisme — die van Calvyn en dat ons by bedreiging van binne en van buite ons krag moet put uit die tradisie wat ons volk van die begin af teen die oormagte sterk laat staan het.