Maleagi 1:2-2:9 – ‘n Verklaring en toepassing

Tanach.jpg

Maleagi 1:1-2:9 – ‘n Verklaring en toepassing

Ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)

Inleiding

In die gereformeerde kerk Daspoort is ons deur die loop van die jaar in die prediking besig om deur die profesie van die HERE deur die diens van Maleagi te gaan. Met gereelde intervalle word die prediking opgesom en in die gemeente beskikbaar gestel. Ek het gedink dat daar dalk meer mense sal wil deel in dit wat ons as gemeente by Maleagi kon leer.

[PDF uitgawe: Maleagi 1:1-2:9 – ‘n Verklaring en toepassing]

Maleagi 1:1

In Mal 1:1 lees ons die volgende: “Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági.” Uit hierdie woorde leer ons die volgende oor die boek Maleagi:

* Dis die Woord van die HERE

In die boek Maleagi het ons te doen met die HERE, die Almagtige, se absolute gesagvolle Woord.

* deur die diens van Maleági.

Maleagi was die mens vir wie die HERE sy Woord ingegee het (2Tim 3:16). Deur sy Heilige Gees het die HERE Maleagi gedryf om sy Woord volmaak foutloos te praat, en te skryf (2Petr. 1:21; NGB art 3).

* aan Israel.

Die boek Maleagi is aan Israel en daarom vir Israel bedoel. Israel is altyd ten diepste in die Ou sowel as in die Nuwe Testament die HERE se volk – Sy uitverkore-verloste-gemeente.[1]

Daarom is die boek Maleagi ook vir Christene in die NT, al kom die woord van die HERE deur Maleagi vir die eerste keer tot Israeliete wat geleef het so ongeveer 75 jaar na die Babiloniese ballingskap.[2] Ons is immers ook Israel, die HERE se uitverkore-verloste-gemeente (Gal 6:16).[3]

* Maleagi is ook ‘n “Godspraak.” 

Die woord wat ons vertaal met Godspraak is die Hebreeuse woord masa (משׂא). Die Statevertaling vertaal die word met “las.”[4] Want hierdie Godspraak druk soos ‘n las op Israel – dis ‘n Woord vol bedreiging en tug.[5]

Die profeet Maleagi profeteer dus in ‘n tyd toe Israel van die HERE af weggedwaal het. En dit gebeur deur die eeue met die kerk(Israel) van die HERE (DL 5:5). Maar dan los die HERE ons nie. Met die tugtende houe van sy Godspraak bekeer die HERE sy uitverkorenes altyd weer (DL 5:7).

Maleagi 1:2-5

Die eerste saak waaroor die HERE sy gemeente tugtigend aanspreek kry ons in Mal 1:2-5. Ons hoor in hierdie verse Israel se klag, en die HERE se antwoord daarop.

* Israel se klag: “Waarin het U ons liefgehad?”

So kla Israel terwyl die HERE haar lief het (vers 2a). Die HERE se liefde is brandend emosioneel (bv Jer 31:20).[6] Maar ook altyd verlossend aan die werk – Dit verlos uit Egipte en die Babiloniese ballingskap (Deut 7:8; Jer 31:3).[7] Maar nou, so 75 jaar na die ballingskap sê Israel: Waarin het die HERE ons lief?  Want dit voel vir hulle of die HERE hulle nie lief het nie.

Daar was sekerlik dinge wat Israel so kon laat voel. Byvoorbeeld: Hulle kon uit Babilon terugkeer. Maar steeds het hulle onder ‘n vreemde koning gestaan.[8] Dalk het hulle in daardie tyd gedink aan die profesie van Sagaria wat daar in die begin jare na die ballingskap geprofeteer het oor die komende Messias, wat nou 75 jaar later, steeds net nie wou kom nie (Sag 9:9).[9] En dan kom daardie woorde oor Israel se lippe: “Waarin het die HERE ons lief?”

Toepassing

Veroorsaak ons omstandighede nie dat ons ook baie maal so vra nie? Omstandighede soos: geliefde wat dood gaan, ernstige siekte, slegte werksomstandighede, werkloosheid, nog ‘n plaasmoord, die ANC regering … ens. En dan word ons depressief, swartgallig en verbitterd. En wat gebeur dan? Ek kom nie meer eredienste toe nie; Ek voel ook nie meer lus om te bid en Bybel te lees nie; Ek sien kans vir net mooi niks nie. Want waarin het die HERE my lief? Ek sien dit nie meer nie.[10]

Wanneer Israel (van die Ou en Nuwe Testament) so begin praat moet ons oppas. Want wanneer ons vra: Waarin het die HERE ons lief? Terwyl Hy ons oneindig verlossend lief het, dan is ons besig met twee sondes.[11]

  • Die eerste is self-gesentreerdheid. As alles nie loop soos ek graag dit wil hê nie, dan vra ek die HERE: “Waarin het U ons lief?”
  • Die tweede sonde is ons vergeetagtigheid. Ons vergeet van die HERE se groot dade van liefde wat Hy aan ons openbaar in die Bybel en wat die Heilige Gees toepas in ons lewe.

* Die HERE se antwoord

Met sy Godspraak antwoord die HERE, tugtugend, waarskuwend en bekerend. In sy antwoord laat die HERE ons twee dinge onthou – (a) ons uitverkiesing (b) en die verskriklike oordeel oor die verwerptes.

(a) Ons uitverkiesing – vers 2b-3a

In vers 2b-3a sê die HERE: “Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat …”  Die HERE het Jakob lief, Hy het hom verkies en laat Jakob deel in die beloftes van verlossing, omdat Hy wil. Daarteenoor haat die HERE vir Esau, verwerp Hy hom en laat Hy Esau nie deel in die beloftes van verlossing nie, omdat die HERE wil (Rom 9:11-13).[12]

Dit gaan dus hier om die soewereine wil van die HERE, en nie om die verdienste van Jakob en Esau nie. Dit gaan ook nie oor enige beter kwaliteit in Jakob of groter afstootlikheid in Esau nie (Rom 9:16).

Hierdie werklikheid beklemtoon die HERE as Hy in vers 2b sê: Is Esau nie die broer van Jakob nie?  Die antwoord is natuurlik: Ja! Hulle was ‘n tweeling (Gen 25:19-26).[13]

Juis daarom was albei ewe verdorwe, afstootlik en verlore in hulle sonde (Ps 51:7; 14:1-3; Rom 3:9-20 Sondag 2-3; NGB art14-15; DL 3/4:1-3). Jakob kon dus nooit die liefde en die verkiesing van die HERE verdien het nie. En so is dit met elke uitverkorene (die ware Israel) deur die eeue.

Toepassing

Wat die HERE hiermee vir ons sê, is dit: In ons moedeloosheid, depressiwiteit, verbitterdheid en sondige self-gesentreerde vergeetagtigheid, moet ons ophou vergeet en ons uitverkiesing begin onthou!

Ek moet weer daardie tyd onthou toe ek tot bekering gekom het en begin glo het in Jesus. Ek moet onthou hoe ek toe vanuit die Woord so wonderlik kon leer dat dit alles die vrug van die HERE se uitverkiesing is (Joh. 6:37,44; Rom 8:30; 2Tes 2:13-14). En dan moet ek daarin raaksien die HERE se ontsaglike selfopofferende liefde vir my (1Joh 4:10; DL 2:8-9)! Vir my … wat net mooi niks daarvan verdien het nie.

(b) die verskriklike oordeel oor die verwerptes – vers 3b-4

Wanneer Israel selfgesentreerd en vergeetagtig vra: “Waarin het die HERE ons lief”  dan wys die HERE nie net op ons uitverkiesing nie. Nee, Hy wys ons ook op sy verskriklike oordeel oor die verwerptes: “Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid!” (vers 3b-4).

Wanneer die HERE vir Esau haat, dan verwerp Hy hom ook. En dan is dit nie asof die HERE arme onskuldige Esau, en baie ander, onskuldig laat verlore gaan nie. Nee! wanneer die HERE hulle haat en verwerp, laat die HERE hierdie mense “in hulle val en verderf bly waarin hulle hulself gewerp het”  (NGB art 16; DL 1:6). En hierdie verderf is die verskriklike onontkombare oordeel van die HERE – iets daarvan sien ons in vers 4.

Toepassing

In ons moedeloosheid en depressiwiteit en verbitterdheid en sondige self-gesentreerde vergeetagtigheid moet ons dus hierdie verskriklike uiteinde van die verwerptes raaksien! En daarby onthou dat ons nie beter is as hulle nie, maar uit genade alleen deur uitverkies is en deur Hom tot bekering en geloof gebring is, sodat ons nie verlore is soos die Esaus nie. Maar ewige lewe by die HERE kan hê, op die nuwe aarde waar die HERE “die dood vir ewig vernietig, en die trane van alle aangesigte afvee; en die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem …”  (Jes 25:8; 65:17; Openb 21:1-4).

Maleagi 1:6-14

In Mal 1:6-14 kry ons die tweede saak waaroor die HERE sy gemeente tugtigend aanspreek. Hier gaan dit oor die priesters in Israel se offerdiens wat nie tot eer van die HERE was nie. Daarom hoor ons hier die HERE se waarskuwing: met oneerbiedige offersdiens was die priesters nie anders as Kain en Esau nie al was hulle in Israel.

* Die priesters – vers 6

In Israel van die OT was die priesters verteenwoordigers van Israel.[14] En as hulle offer, dan het hulle die offers van Israel vir Israel geoffer.[15] Al praat die HERE dus met die priesters praat Hy steeds met die hele Israel (Mal 1:1).

Toepassing

Ook met Israel in die NT. En soveel te meer met ons. Want Jesus het “ons van ons sondes gewas in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader …” wat “geestelike offers (moet) bring wat aan God welgevallig is …”  (Openb 1:5-6; 1Pet 2:5).

* Die priesters eer en vrees nie die HERE nie, maar verag Hom – vers 6

Van hierdie sonde van die priesters hoor ons as die HERE in vers 6 sê: “‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag!”

Israel moet die HERE eer en vrees. Dit beteken hier in Mal 1:6 dat Israel, as kind en kneg, die HERE as Vader (Eks 4:22-23; Deut 32:6) en Heer (Ps 123:2; Jes 42:19) moet respekteer, gehoorsaam en lief hê.[16] Maar dit het die priesters nie gedoen nie. Hulle het die HERE verag, want hulle is deel van Israel wat in Mal 1:2, in vergeetagtige self-gesentreerdheid, sê: “Waarin het die HERE ons lief?”  En toe verag hulle Hom.[17]

Toepassing

Sien tog hoe gevaarlik is self-gesentreerdheid en vergeetagtigheid is! Dit maak van jou ‘n veragter van die HERE!

* Die priesters verag die HERE by die altaar – vers 7

“Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar …”  In vers 7 en 12 hoor ons ook van die tafel van die HERE. Hierdie tafel van die HERE verwys egter steeds na die altaar van die HERE. En dis waar die priesters die HERE verag – by die altaar en daarom ook in die offerdiens aan die HERE.[18]

Die offerdiens[19]

By elke offer het die bloed van die offerdier heengewys na Jesus se bloed wat Israel reinig van sondes en na Jesus se lewe wat Hy gegee het om in Israel se plek die doodstraf op die sondes te dra. En wanneer die offerdier op die altaar aan die brand gesteek is, het dit heengewys na Jesus, wat in ons plek sy lewe in volmaakte liefdevolle gehoorsaamheid aan die HERE oorgegee het.

En wanneer die priesters met hierdie heerlike Christus-bediening en wonderlike erediens besig was het hulle ook die HERE geëer vir sy wonderlike liefde.[20] Maar nou’t dit nie gebeur nie. By die HERE se altaar verag die priesters Hom.

* Hoe die priesters die HERE by die altaar verag – vers 7, 8 en 13

In vers 7 en 13 hoor ons wat die priesters gedink en gesê het. Die offerdiens met die evangelie van Jesus Christus daarin is veragtelik of nikswerd nie (vers 7) en verder net ‘n onsaglike moeite (vers 13)![21] In vers 8 hoor ons dat hierdie gedagtes en woorde van die priesters dade van wetsveragting geword.[22] Vergelyk die optrede van die priesters in vers 8 bv met Lev 22:22 en Deut 15:21.

Toepassing en selfondersoek

Alhoewel ons nie meer diere-offers bring nie (NGB art 25), beteken dit nie dat ons nie meer offer nie. Ons is immers almal priesters wat geestelike offers aan die HERE moet bring (Openb 1:5-6; 1Pet 2:5). Juis daarom moet ons selfondersoek doen – vgl Rom 12:1; Heb 13:15-16; 2Kor 8-9 (2Kor 9:5); Openb 8:3-5; Sondag 45.

* Die HERE se waarskuwing (1): – vers 8-10

In vers 8-10 waarsku die HERE sy priesters dat hulle met hulle offerdiens wat Hom verag net soos Kain (Gen 4) is … al is hulle sigbaar deel van Israel.

In vers 8  begin die HERE se waarskuwing met ‘n voorbeeld uit Israel se elke-dag-lewe. Die HERE sê: “Bring (sulke offers) tog vir jou goewerneur![23]Sal hy … jou goedgesind wees? (of: sal hy jou offer gunstig aanneem?)”. Die antwoord is natuurlik, nee![24]

En as dit die geval is met die goewerneur, wat ‘n mens is, hoeveel te meer sal dit nie waar wees van die HERE nie. En presies dit hoor ons in vers 9 en 10 (vgl ook vers 13). Die HERE neem nie offers aan waarmee die priesters Hom verag nie.

Toepassing

En net hier moet daar ‘n ernstige waarskuwing opklink vir die HERE se priesters van die Ou en die Nuwe Testament. Want elkeen wat volhard – sonder om hom/haar te bekeer – met ‘n offerdiens wat die HERE verag, is eintlik net soos Kain al is jy sigbaar deel van Israel.

Want, net soos die priesters van Mal 1, het Kain met sy offerdiens die HERE verag.[25] En net soos met die priesters in Mal 1 het die HERE ook nie Kain se offer gunstig aangeneem nie (Gen 4:5).[26]

En nou’s die skrikwekkende waarskuwing dit: Kain was ‘n kind van die duiwel (1Joh 3:12). Laat dit ons dan tog waarsku!

Wanneer ons aanhou om ‘n lewe te leef waar ons die HERE volhardend verag – Hom nie lief het en respekteer nie – wys ons dat ons nog nie salig is nie. Dan is ons nog ‘n priester soos Kain,[27] totaal verlore buite Israel, al is ons sigbaar deel van Israel (die kerk).

* Die HERE se waarskuwing (2): – vers 13-14

Maar dan’s ons ook soos Esau. Mal 1:4 sê vir ons dat die HERE vir ewig vertoornd is op Esau.[28] Mal 1:4 se ‘vertoornd’ het die selfde betekenis as ‘vervloek’. Esau is dus deur die HERE vir ewig vervloek.[29]

En priesters wat, sonder bekering, aanhou om die HERE te verag met hulle offers (vers 13), is net soos Esau ook vervloek[30] (vers 14). Priesters wat die HERE verag met hulle blinde, siek en lam offers is dus vervloek, soos Esau.

Die skrikwekkende waarskuwing is dat die HERE het in vers 2 en 3 gesê: “Ek het Jakob liefgehad (en hom uitverkies), maar Esau het Ek gehaat (en hom nie uitverkies nie maar verwerp).”

Toepassing – vers 9a

Iemand wat dus aanhou om die HERE te verag … is soos Esau, dra vrugte wat by verwerptes pas. En uiteindelik word hy deur die HERE vervloek.

Daarom, laat ons almal altyd doen wat die eerste deel van vers 9 sê: “Smeek dan nou tog die aangesig van God. En (die HERE) sal ons genadig wees.” [31] Ps 51:19 sê: “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”

Maleagi 2:1-9

In Mal 2:1-9 hoor ons die derde saak waaroor die HERE sy gemeente tugtigend aanspreek. Hier gaan dit nog steeds om die priesters. Vers 1 sê immers: “En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.”  Hierdie gebod is ‘n gebod van oordeel en genade, wat die HERE gee na aanleiding van die priesters se sonde.

* Die sonde van die priesters

In vers 2 hoor ons van die sonde van die priester wat nie gehoor gee nie, en … dit nie ter harte neem om (die HERE te eer) nie …”  In Mal 1:6-14 het die HERE reeds hierdie saak aangeroer. Maar in Mal 2:1 tot 9 is daar nog ‘n sonde waarmee die priesters die HERE nie geëer het nie. Ons hoor daarvan in vers 8: “júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare.”

Omdat die priesteres van die weg afgewyk het. En omdat die priesters deur hulle onderrig baie laat struikel het. Daarom het hulle die verbond met Levi verbreek.[32] En dit  is die sonde waarop Mal 2:1 tot 9 konsentreer.

Maar voor ons nou voortgaan met die behandeling van die sonde van die priesters, kom ons staan eers stil by die verbond van Levi.

* Die verbond met Levi – vers 5-7

Die HERE se verbond met Levi was ‘n verbond met die priesters van die OT. En hulle almal, soos die HERE se wet bepaal het,[33] het uit die stam van Levi gekom. Ons hoor van hierdie verbond in Num 18:19; 25:12-13; en in Jer 33:21. Wat sterk in hierdie gedeeltes na vore kom is dat die verbond met Levi ‘n ewige verbond is. In Mal 2:5-7 leer ons egter meer.

(a) Die belofte van die verbond met Levi

In vers 5 sê die HERE: “My verbond met hom was die lewe en die vrede …”  En dit beteken dat die belofte van die verbond met Levi lewe en vrede was.[34] Die HERE het die gawe van ware ewige-lewe uit genade alleen beloof.[35] En daarby vrede, wat inhou vriendskap en harmonie met die HERE. Albei dinge wat die priesters nie van nature het nie. Want van nature was die priesters dood in hulle sonde, en het hulle die HERE en hulle naaste gehaat.[36]

(b) Die bevel van die verbond met Levi

Maar by die belofte het die HERE ook ‘n bevel gegee. Uit dankbaarheid moes die priesters die HERE vrees (vers 5).[37] Hierdie vrees vir die HERE het beteken dat die priesters die HERE uit ‘n ware geloof[38] moes lief hê en eer. Hulle moes kinderlike ontsag vir Hom hê en Hom gehoorsaam. Juis daarom soveel moeite doen met Bybelstudie en gebed.[39]

Uit ‘n lewe van ware Godsvrees het dan twee dinge voortgevloei.

  • Ten eerste was daar “Betroubare regsleer in (hulle) mond …”  (vers 6). Dit beteken dat die priesters vir Israel die Woord van die HERE betroubaar verklaar en toegepas het.[40]
  • Tweedens het hulle “in vrede en opregtheid met (die HERE) gewandel …” , wat ingehou het dat die priesters by die HERE in die verbond geleef het soos die HERE in sy wet beveel het (vers 6).[41]

En so met die ware prediking van die Woord en ‘n lewe uit die Woord,[42] het die priesters “baie mense … van ongeregtigheid (maw: van ‘n lewe in sonde onder die oordeel van die HERE)[43] teruggebring (na die HERE toe)[44] (vers 6)

* Terug by die sonde van die priesters

Maar dit het die priesters nie gedoen nie (vers 8). In plaas daarvan dat hulle met die HERE gewandel het, het die priesters van die weg afgewyk. In plaas daarvan dat hulle die Woord in waarheid gepreek het, het die priesters baie laat struikel deur hulle onderrig.[45] In plaas daarvan dat die priesters, met ‘n ware geloof die HERE gevrees het, Hom lief gehad het, en Hom geëer het, het die priesters “die verbond(bevel) … verbreek …”

Toepassing

Ons is nie in die verbond van Levi nie. Maar tog is ons priesters (Openb 1:5-6). Hoe staan dit met ons verkondiging van die Woord van die HERE in die wêreld, in die kerk in  ons huise? Praat ons as kerke nog die waarheid? Of laat ons baie struikel omdat ons nie meer leer wat die Skrif sê oor sake soos die vrou in die ampte, homoseksualisme nie ens – vgl 1Pet 2:9; 2Tim 2:15; Tit 1:9; Efes 6:4? Wen ons ons naaste vir Jesus met ons priesterlike Godvresende lewe? (Sondag 32 v/a 86).

* Die oordeel in die HERE se gebod.

Na aanleiding van die priesters se sonde gee die HERE nou sy gebod in vers 1. In die eerste plek is daar oordeel in die HERE se gebod. Van die oordeel hoor ons in vers 2: “As julle nie gehoor gee nie, en as julle … nie … my Naam eer … nie … dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge in ‘n vloek verander …”[46]

Die HERE se vloek – sy oordeel – is om ewig dood te gaan; dis om die HERE as jou vyand te hê; dis om nie lewe en vrede te hê nie.[47]

En in vers 3 gee die HERE meer detail oor sy vervloeking.[48]Kyk, Ek sal julle nakomelingskap (kinders) bedreig …”  met skrikwekkende woede en verbondswraak (Deut 28:32).[49] “en Ek sal mis op julle gesigte strooi …”  Die pensmis van die geslagte offerdiere waarmee die priesters die HERE verag het.[50] So maak die HERE die priesters, wat Hom verag het, veragtelik (vers 9).[51]

En steeds gaan die verskrikking voort. Want in vers 3 sê die HERE: “… en hulle sal (die priesters) na die mishoop dra”  buitekant die tempel, buitekant Jerusalem, buitekant alles, wat in die OT heengewys het na die teenwoordigheid van die HERE.[52] Daar waar alles met vuur verbrand word (Eks 29:14).[53]

Toepassing

Wat ‘n verskrikking! Buitekant die verbond, weg van die HERE, met mis op jou gesig, in die vlamme van die mishoop. In die NT klink hierdie oordeel nog erger (2Tes 1:8-9; Openb 21:8) … Skrikwekkend!

* Die genade in die HERE se gebod

In vers 2 hoor ons van die HERE se oordeel, maar ook van sy genade. Want vers 2 is in die vorm van ‘n voorwaarde gestel: As julle nie gehoor gee nie, en as julle … nie … my Naam eer … nie … dan sal Ek die vloek onder julle stuur …”

Daar is dus nog tyd. As ons volhard in ons sonde dan sal die HERE se oordeel ons tref. Maar as ons ons bekeer en die HERE vrees, dan sal ons lewe en vrede hê.[54]

Toepassing

Die genade in die HERE se gebod is dus dat Hy oordeel verkondig, om ons wakker te skrik. Dis asof die HERE ons oor die vlamme van die hel hou, sodat ons kan skrik, om dan, terwyl daar nog genade-tyd is, ons te bekeer.

So bring die HERE sy uitverkore priestervolk, deur sy Woord en Gees, altyd weer tot bekering.[55] Want die HERE sal sy uitverkore priesters nie laat verlore gaan nie (Eseg 33:11).

* Die sekerheid by die genade

Ons hoor dit in vers 4:“En julle sal weet dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, sodat my verbond met Levi kan bly bestaan.” [56]

Ja, elke priester sou weet, en kan nou weet: Die HERE het hierdie gebod, met die oordeel verkondiging daarin, gestuur met die doel om ons te bekeer sodat ons lewe en vrede kan hê.

Maar hoe sal ons dit weet? Uit die openbaring van die HERE se oordeel. Dis wat die konteks van vers 2 en 3 en 4 vir ons sê.[57] Die HERE sê: “As julle nie … my Naam eer … nie … dan sal Ek die vloek onder julle stuur  … (so sê vers 2 en 3). En (dan, sê vers 4) sal julle weet dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, sodat my verbond met Levi kan bly bestaan …”

Maar hoe werk dit, dat ons in ons oordeel weet, dat die HERE ons verlos? Op die HERE se manier! Want in die volheid van die tyd het die HERE ons enigste Hoëpriester gestuur.[58] Hy was nie uit die priester-orde van Levi nie. Nee, vir Hom “het die HERE gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek”  (Ps 110:4).

Hy is die Priester, in Wie die verbond met Levi ewig bestaan.[59] Hy het die HERE volmaak gevrees. Dis Hy wat met die woorde van Ps 40 gesê het: “Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God” (Heb 10:7; Ps 40:8-9). Volmaak “Betroubare regsleer was in sy mond …” ; “in vrede en opregtheid het hy met (die HERE) gewandel …”  Dis Hy wat deur die eeue met sy Gees en Woord, ook met sy oordeelswoord, sy uitverkore priesters terugbring van ons ongeregtigheid (Sondag 21 v/a 54).

En dan daarby die straf, wat vir ons die vrede en die lewe aanbring op Hom geneem het (Jes 53:5).

En toe … toe het Hy buitekant die poort van Jerusalem gaan ly, in God verlatenheid op die mishoop (Heb 13:11-12),  met die spoeg van Romeinse soldate op sy gesig, met strome bloed wat uit Hom loop. Ja, daar was Hy in ons plek verag, en ons het Hom nie geag nie (Jes 53:3).

Maar daar het sy strome bloed die waarborg geword van die nuwe verbond van lewe en vrede (Mat 26:27-28; Heb 7:22). En daar het Hy “ons van ons sondes gewas in sy bloed en ons priesters gemaak vir sy God en Vader” (Openb 1:5-6).

Toepassing

En deur sy Gees en Woord roep Hy ons op met die HERE se gebod van oordeel en genade om ons te bekeer en waarlik priesters te wees in die nuwe verbond. Priesters wat die HERE vrees, wat leef uit die HERE se Woord en wat verkondig met die HERE se Woord, hier in die gemeente, in ons huise, in die wêreld.

Want as jy volhard in ‘n goddelose ondankbare lewe, dan is jy nie ‘n priester nie, en ook nie in die nuwe verbond nie; dan het jy nie lewe en vrede nie; dan sal die HERE “mis op (jou) gesig strooi … en hulle sal (jou) na die mishoop dra” buite die poort van die nuwe Jerusalem. Daar waar dit ewig brand met vuur en swael.

[PDF uitgawe: Maleagi 1:1-2:9 – ‘n Verklaring en toepassing]


[1] Rom 9:6-13; vgl ook Robertson, The Israel of God, yesterday, today and tomorrow, bl 39-46.

[2] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 273-274, 277, 290; Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi, bl 839-841; Robertson, The Christ of the Prophets, bl 390

[3] Vgl Robertson, The Israel of God, yesterday, today and tomorrow, bl 39-46.

[4] Statevertaling: De last van het woord des HEEREN tot Israel, door den dienst van Maleachi.

[5] Vgl Theological Wordbook of the OT vol 2 bl 606; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 276.

[6] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 280-281

[7] Vgl Keil & Delitzsch, Minor prophets, bl 430; Reformation study Bible, bl 1097; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 191.

[8] Mal 1:8 sê dat hulle onder ‘n goewerneur staan – ‘n teken van vreemde heerskapy van ‘n vreemde koning (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 3 bl 601; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 290). In daardie tyd was dit koning Artasasta die koning van Persië (Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi bl 838). En die lewe onder die Persiese konings was nie maklik nie (Vgl Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 191; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi  bl 279).

[9] Vgl Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 191; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 279; Robertson, The Christ of the prophets, bl 389-390

[10] Vgl a’Brakel, Het redelijk Godsdienst, vol 1 bl 943.

[11] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 279-280; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi, bl 191

[12] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 3 bl 1257; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 192.

[13] Met הלוא word ‘n retoriese vraag ingelei wat alleen ‘n ja vir antwoord het (Vgl Bybels-Hebreeuse Naaslaan Gramatika bl 264).

[14] Eks 28:29-30 wys dat die Hoëpriester die volk verteenwoordig het, want daar hoor ons van die bors-tas met die name van die stamme van Israel in. Hierdie bors-tas moes hy in die teenwoordigheid van die HEERE – in die tabernakel – bring (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 2 bl 600).

[15] Vgl Commentaries of John Calvin on the Prophet Malachi bl 485

[16] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 286

[17] Vgl Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi bl 847; Macey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 286; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 199-200.

[18] Vgl Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 434; Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi bl 847 bl 289

[19] Vgl Vos, Biblical theology, bl 169-171; opsomming van offers.doc by My documents/Daspoort/preke/Lev/2010

[20] Vgl Vos, Biblical theology, bl 158.

[21] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 628

[22] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 289; Commentaries of John Calvin on the Prophet Malachi bl 489.

[23] Hierdie goewerneurs was deur die Persiese konings in die tyd na die ballingskap oor Palestina aangestel.

[24]ה by הירצך = Ja/Nee vraag-partikel (vers 8 en 9) wat ‘n retoriese vraag met ‘Nee’ as antwoord merk (Bybels-Hebreeuse Naslaan Grammatika, bl 264).

[25] Vgl Waltke, Genesis, bl 97; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 203.

[26] Die werkwoord wat in Gen 4:5 gebruik word om “aansien” te vertaal is שׁעה. Die betekenis van hierdie werkwoord kom ooreen met ישׂא פניך in vers 8 en 9 en רצה in vers 13 (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 3 bl 638-639, vol 4 bl 201; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 290; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 202).

[27] Deurdat Kain besig was om te offer was hy ook ‘n priester (Waltke, Genesis bl 97)

[28] Vers 4 praat van Edom. Maar Esau staan ook vir Edom (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 4 bl 556).

[29] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 1129.

[30] Alhoewel die Hebreeuse word ארר hier vir vervloek gebruik word, val ארר en זעם (vers 4) in die selfde semantiese veld (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 1129).

[31] John Gill skryf hieroor in sy kommentaar op Mal 1:9 die volgende: These are the words of the prophet to the priests; and are spoken either seriously, exhorting them to that part of their office which lay in interceding for the people that God would be gracious to them, and forgive their sins; and the rather, inasmuch as they had been the means of their sin, and accessary to it, who ought to have reproved them for bringing such offerings, and should have refused to offer them for them; or otherwise, if they did not do this, they could not expect that God would accept their persons, and their offerings: or else ironically, now you have offered such sacrifices to the Lord, as the blind, the lame, and sick, go and intercede for the people; pray that their sins may be forgiven them, and that the curse may be removed from them, and see how you will succeed: (e-sword)

[32] Vanuit eksegese oor wat die verbond met Levi behels, blyk dit dat wanneer die priesters סרתם מן־הדרך (8a) teenoor בשׁלום ובמישׁור הלך אתי (6c) en הכשׁלתם רבים בתורה (8b) teenoor  תורת אמת היתה בפיהו (6a) en ורבים השׁיב מעון (6d) hulle daardeur die eis van die verbond om die HERE te vrees (vers 5) nie nagekom het nie, en so onder die strafgerig van die HERE kom (Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 446). Dus: 8c vat 8a-b saam.

[33] Num 3:12,45; 18:6; Vgl Aalders, Het verbond Gods, bl 111.

[34]בריתי היתה אתו החיים והשׁלום(vers 5a) = nie-verbale sin waarin die HERE se verbond met Levi geïdentifiseer  word as ‘n verbond wat bestaan in החיים והשׁלום(Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 445). Dit beteken dat jy binne in hierdie verbond החיים והשׁלום vind – Die HERE gee dit; vgl vers 5b (Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 445; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 300; Aalders, Het verbond Gods, bl 117).

[35] Ps 36:9; Theological Wordbook of the OT vol 1 bl 279-280; Waltke, An OT theology, bl 909

[36] Vgl Theological Wordbook of the OT vol 2 bl 931.

[37] Vgl Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 445; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 300; Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi bl 852; Commentaries of John Calvin on the Prophet Malachi bl 524 voetnoot 1.

[38] Vgl Reformation study Bible bl 873. Die feit dat vrees ‘n vrug is van sondevergifnis (Ps 130:4) sê vir my dat vrees iets is wat jy uit ‘n ware geloof doen.

[39] Lev 19:14; 25:17; Deut 17:19; 31:10-12; Ps 86:11; 128:1;  Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 2 bl 330, 529-532; Theological Wordbook of the OT vol 1 bl 400; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 287.

[40] Vgl Theological Wordbook of the OT vol 1 bl 52-53, 404; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 302-303; Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 445; Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 210.

[41] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 301; Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 445-446;  Theological Wordbook of the OT vol 1 bl 418; New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 1033.

[42]ורבים השׁיב מעון (6d) is die gevolg van תורת אמת היתה בפיהו ועולה לא־נמצא בשׂפתיו בשׁלום ובמישׁור הלך אתי (6a-c). Dit blyk uit die eksegese en breër konteks van Skrif (vgl bv Sondag 32 v/a 86). Grammatikaal laat die וby ורבים gevolgtrekking toe (Bybelse-Hebreeuse Naslaan Grammatika bl 245; Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 446)

[43] Vgl Theological Wordbook of the OT vol 2 bl 650-651

[44] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 3 bl 57; Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 446

[45] Letterlik staan daar in die Hebreeuse teks: ‘julle het baie laat struikel oor die wet.’ Ons vertaling gee egter die betekenis van die teks reg weer (vgl Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 254 voetnoot 11).

[46] Die oordeel in die HERE se gebod beteken nie dat die priesters lewe en vrede moes verdien deur hulle werke nie. En nou dat hulle ongehoorsaam was hulle dit nie meer sou ontvang nie. Nee! Lewe en vrede is ‘n gawe van die HERE se genade alleen. Maar wat net so belangrik is, is dat die Skrif ons leer dat daar waar priesters volhard in ‘n goddelose ondankbare lewe hulle bewys dat hulle nie waarlik lewe en vrede het nie. Want  die HERE se lewe en vrede maak jou radikaal anders. Vanuit die ware lewe en vrede begin jy die HERE vrees , terwyl jy van te vore die HERE gehaat en verag het. En priesters wat in so lewe volhard het, het nie waarlik lewe ne vrede nie. Hulle deel in die verbondsbelofte nie. En daarom verag en verbreek hulle ook die verbondsbevel. En onder hulle in stuur die HERE sy vervloeking.

[47] Deut 30:19; New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 523; Theological Wordbook of the OT vol 1 bl 75.

[48] Omdat גּער (vers 3a) in die selfde semantiese veld lê as זעם (1:4) en ארר (vers 2) is dit wat ons in vers 3a lees ‘n voortvloeisel van die HERE se vloek (New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 528, 887; vol 2 bl 171; vol 4 bl 281; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 298).

[49] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 1 bl 885; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 298

[50] Vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 298

[51] Vgl New International Dictionary of OT Theology and Exegesis vol 3 bl 701; Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 443; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 298

[52] Vgl Duguid, Haggai, Zechariah & Malachi bl 209.

[53] Vgl ook Lev 4:11-12; 8:17; Num 19:5-7; vgl ook Longman&Garland, The Expositors Bible commentary, Daniel-Malachi bl 851

[54]  אם + imperf lei ‘n waarskynlike voorwaarde in (Van Rooy, Hebreeuse Sintaks, bl 95). Daar is dus ‘n sterk moontlikheid dat die priesters dit wat hier gesê word gaan doen. Maar dis nie ‘n feitlike voorwaarde nie. Daar is dus steeds die geleentheid om tot bekering te kom en dan gaan die oordeel van die HERE nie meer geld nie. In hierdie dreigende woord van die HERE is daar dus ‘n oproep tot bekering!! (vgl Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 442; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 299).

[55] DL 5:7; vgl Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 299.

[56]להיות בריתי את־לוי (vers 4) sê wat die doel is van המצוה הזאת wat God gestuur het – ‘sodat is/bestaan My verbond met Levi.’ Dit wat ek uit die voorwaarde sin van vers 2 geleer het word dus hier verder beklemtoon. Die doel van die ‘gebod/bevel/bedreiging’ is om die priesters te bekeer sodat die verbond met Levi kan bly bestaan. 

[57] Vgl Keil & Delitzsch, Minor prophets bl 444; Mackey, Haggai, Zechariah & Malachi bl 299.

[58] Sondag 12

[59] Vgl Aalders, Het Verbond Gods, bl 181.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: