Uit die geskiedenis: die ontdekking van die Victoria watervalle

KAREL TRICHARDT, VICTORIA-WATERVAL EN RENOSTERHORINGS

deur prof. V.E. d’Assonville (snr.)

Dit is verstommend hoe dat ’n sekere historiese feit vir meer as ’n eeu in talle groot ensiklopedieë geskryf is, deur één enkele oorspronklike dokument omver gegooi kan word. Oor wie die eerste blanke persoon was wat die bekende Victoria-waterval gesien het, of soos wat dit gewoonlik genoem word, ontdek het, gee alle standaard ensiklopedieë in Afrikaans of Engels, deurgaans dieselfde antwoord: David Livingstone (1813-1873) in 1858. Hier kan ons o.a. verwys na die Encyclopaedia Britannica (twee plekke), die Ensiklopedie van die Wêreld (deel 6, p. 637, 1974-uitgawe) en in die Nederlandse Christelijke Encyclopedia (deel 4, p. 472, 1959-uitgawe). Was daar dan geen witman in Afrika wat voor Livingstone die beroemde waterval gesien het nie? Dit is wel waar dat Livingstone die eerste Europeaan was wat hierdie natuurwonder aan die wêreld deur middel van die Engelse koerante bekendgemaak het en die naam van die koningin van Engeland daaraan in 1858 verbind het. Maar is daar geen ander getuienisse wat vertel van ander witmense wat voor 1858 by hierdie massiewe waterval uitgekom het nie?

Die “British Association for the Advancement of Science” in 1905

Na die Anglo—Boereoorlog (1899-1902) toe Brittanje die twee Boererepublieke, Transvaal en Vrystaat, wreed met bloedvergieting en kampe vir vroue en kinders oorrompel het, het die ideologie van Engelse imperialisme hoogty gevier. Behalwe die afdwinging van die Engelse taal op ons skole en die staatsdiens, is monumente ter herdenking van Brittanje se “roemryke” geskiedenis in Afrika opgerig. Sierlike standbeelde bv. van koningin Victoria wat die aardbol vashou, is opgerig.

Hier by ons in Pretoria, die ou hoofstad van Transvaal en daarna van die Republiek van S.A., was daar destyds ’n sterk plan van die Engelse om vir David Livinstone ’n monument op ’n sentrale plek op te rig — waarskynlik waar vandag die standbeeld van president Kruger staan. Die motief van die imperialistiese jingo’s vir ’n monument vir Livingstone juis in Pretoria, was nogal interessant, nl. “omdat hy die ontdekker van die Victoria—waterval was wat ’n poort na die res van Afrika is”.

Maar, was Livingstone werklik die eerste ontdekker, waarmee die Engelse die eerste Europeaan bedoel het, of in ons terme die eerste witman? Alreeds destyds (1905), het daar stemme opgegaan dat die stelling van “Livingstone die eerste ontdekker” nie waar is nie! En verbasend genoeg, die ontkenning van hierdie sogenaamde historiese feit, het nie van die Boere gekom nie, maar van Engelse wetenskaplikes, nl. die British Association of Science. In 1905 verklaar hierdie vereniging in Johannesburg:

“It is well known that, long before Livingstone ‘discovered’ the Zambezi river and the famous falls, these places had been visited by Boer hunters, many of whom left the Colony before the great expartriation took place”.

Die woorde “it is well known” is baie veelseggend, komende van ’n wetenskaplike vereniging. Dit beteken dat dit vir mense in die Kaapkolonie destyds nie onbekend was nie dat lank voordat die sendeling Livingstone by die beroemde waterval uitgekom, daar alreeds Boerejagters was. Maar wat sê die Boere, die Voortrekkers 20 jaar voor Livingstone self?

Karel Trichardt se “Herinneringe”

Dit is een van die grootste, geskiedkundige fondse, dat die staatshistorikus, G.A. Odé, op versoek van president Kruger in 1894, die Herinneringe van die Voortrekker Karel Trichardt, seun van die trekleier Louis Trichardt, laat opteken en beëdig het. Karel het in sy hoë ouderdom toe nog op sy plaas Trichardtsfontein, waar vandag die dorp Trichardt is, geleef.

In hierdie Herinneringe lees ons dat Karel Trichardt, op versoek van sy vader in 1837, vanaf Delagoabaai (vandag Maputu) moes reis “naar het noorden om land te zoeken, dat voor een groot nederzetting geschikt is”. Ruimte ontbreek om hier ’n volledige oorsig oor Karel se hoogs interessante reise in Afrika in die jare 1837/38 te gee. Hy het selfs ’n draai in Ethiopië gemaak. Ons stip slegs enkele plekke aan wat hy besoek het.

In Julie 1838 het Karel op die Portugese handelsboot, die Strella da Mouw langs die ooskus van Mosambiek tot by die plek Inhambane vertrek en vandaar na die binneland met ’n Portugese tolk en ’n aantal swart helpers. Hier, ver in die binneland, so lees ons, “ruilde hij veschillende artikelen voor olifantstanden, rhenoster-horens en goud”.

Met die euwel van renosterstropery ter wille van hulle horings wat vandag in ons land aangaan, lig ’n mens jou wenkbroue om agter te kom dat dit alreeds in 1837 ’n gesogte handelsartikel in Afrika was. Waarskynlik is ivoor, goud en renosterhorings uit Afrika destyds aan handelaars aan die ooskus verkoop om dan verder hulle pad na die verre-ooste te vind. Of Karel Trichardt ooit iets van die geheimsinnige medisyne (of magiese towery) agter renosterhorings geweet het, is te betwyfel. Soos olifantstande of besondere diervelle (bv. van ’n zebra), was dit vir hom maar ’n blote handelsartikel en nie skelm diefstal nie.

Op een van Karel se reise het hy ook die bekende Zimbabwe—ruïnes besoek. Die volgende oorspronklike sin uit sy Herinneringe is egter vir ons i.v.m. die Victoria-waterval belangrik:

“Hier gaat hij ‘t binneland in, trekt de Shire over, en komt aan de oever van de Zambezie, wiens loop hij volgt tot aan de watervallen…”.

Volgens Karel Trichardt, praat hy nie slegs van ” ’n” waterval nie, maar van “de watervallen” waaruit ons kan aflei dat dit goed bekend was. Karel se besoek aan hierdie bekende plek was twintig jaar voor Livingstone se “ontdekking” in 1858. Die naam van die waterval, “Victoria Falls”, het met Karel Trichardt se besoek toe nog nie bestaan nie. Die historiese feit dat hierdie Voortrekker die wêreldberoemde waterval reeds in 1838 gesien het, word in ’n artikel van G.J.W. du Toit in die tydskrif Die Brandwag van Desember 1919, bevestig.

One thought on “Uit die geskiedenis: die ontdekking van die Victoria watervalle

Add yours

  1. Beste Josef
    Het vandag eers my gmail posbus gelees!
    Baie interressant! Karel Trichardt die trekker, was my groot groot ouma aan moeders kant se broer. So ek stel nogal in hierdie feite belang!

    Groete
    T Linda

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: