“Want tot vandag toe …” – preke uit die OT sonder Christus

PREKE UIT DIE OU TESTAMENT SONDER CHRISTUS

deur prof. Victor d’Assonville (snr.)

Daar’s ’n doek wat die OT vir die valse prediker (en die gemeente?) bedek

1 Kor. 2:2: “Ek het my voorgeneem om niks anders ander julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde”.

2 Kor. 3:14: “Hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word” (2 Kor. 3:14).

Niks anders as Jesus Christus as gekruisigde nie! Dit was die inhoud van elke preek van die apostel Paulus. Christus het self sy Evangelie aan hom geopenbaar, uit die getuienis van die Nuwe Testament en ook uit sy Bybel, die Ou Testament, die Skrifte, soos wat dit ook genoem is. Juis as hy die teks vir sy preek uit die OT neem, dan is dit om Christus te verkondig – “niks anders nie”, soos wat hy aan die Korinthiërs skryf.

En ons? Juis ons predikers op die kansels vandag? Verkondig jou teks uit die OT niks anders as Jesus Christus as gekruisigde nie? Of moet die gemeente al weer ’n sedepreek aanhoor? Of ’n klomp “waarhede” oor mense, Dawid of Salomo, maar nie dié waarheid, Christus as gekruisigde, nie?

By die suiwer preek oor ’n teks uit die OT, het ons by een van die grootste probleme van ’n verkeerde (of vals) preek aangeland. Uit ’n klein stukkie geskiedenis, 60 jaar gelede (1951), het ons baie oor hierdie saak gedink.

Die “Venterwaentjie” agter aan jou motor

Sestig jaar gelede was ek op Potchefstroom in ’n lesingklas oor die Ou Testament van professor S. du Toit (seun van Totius). Eintlik was dit ’n preekklas, want die professor en ons saam met hom, was besig om ’n student se proefpreek wat voor ons gelewer is, te bespreek.

Die teks van die preek was uit die Ou Testament oor die geskiedenis van Jakob en in my jeug het ek en my medestudente gedink dat dit nogal ’n “goeie preek” was.

Maar die professor?

Hy het glad nie so gedink nie, inteendeel, ek onhou nog sy woorde:

“Jammer broeder. Jou preek is eintlik nie uitleg van God se Woord nie”.

Dit was ’n skok vir ons studente. Wat was dan die probleem? “Jy het nie Christus verkondig nie, maar Jakob”. Die broeder en ons saam met hom was ietwat stomgeslaan. Aan die einde van sy preek het die student nogal duidelik van Christus se kruisdood en ons redding gemeld. “Ja, ja, maar jy het Christus nie vanuit die teks ivm Jakob verkondig nie”, antwoord prof Du Toit. “Jy moes ten minste jou teks uit die OT in die lig van Heb. 11 behandel het en dan spesifiek Heb. 11:9. Jou Christusprediking het jy soos ’n aparte bagasiewa agter aan die trein gehak”. (Toe was daar behoorlik ’n geruis van papier soos wat ons almal tegelyk na Heb. 11 soek).

Hierdie beeld oor ’n OT-teks volg die prediker soos sy skaduwee

My lewe lank kon ek hierdie woorde nooit vergeet nie: “soos ‘n bagasiewa agter aan die trein gehak…” Vandag, na sestig jaar, sal ons sê: soos ’n Venter-waentjie agter die motor gehak. By elke preek wat ek later die teks uit die OT geneem het, kon ek die beeld van die bagasiewa nie vergeet nie. Nog erger, toe ek in my ouderdom preke met ’n teks uit die OT hoor, het hierdie beeld altyd in my gedagtes gekom. Soms was dit selfs skrikwekkend as ek agter kom dat mooi woorde oor Christus, nie eens aan die “trein” gegekoppel is nie, maar heeltemal los is van die teks, ’n sedeles miskien, “moraalpreek” oor hoe ons goed moet lewe (soos “preke” in ’n Joodse sinagoge of in ’n moskee), maar nie Christusprediking nie.

Wat is die eintlike probleem met sulke vals OT-preke?

Hierdie vraag, hoe kan ek Christus in die Ou Testamentiese teks ken?, is glad nie so maklik om te beantwoord nie. Dit vereis goeie kennis van die hele Skrif. En toegewyde Bybelstudie. Ook sterk geloof deur die Heilige Gees. Ja, dis so moeilik dat baie teoloë maar die maklike pad vat en sê: Christus word nie in die OT verkondig nie! Die Messias is ook nie in baie Psalms nie. Dit is egter nie ’n nuwe dwaling nie, want reeds die apostel Paulus het daarteen gewaarsku. So oud as die Christelike kerk, meer as twintig eeue oud, worstel die gemeente met hierdie dwaling.

Eintlik is dit ’n baie ernstige waarskuwing wat die apostel Paulus in sy tweede brief in hoofstuk 3 aan die kerk in Korinthe en ons rig: Moet asseblief nie die Ou Testament verkeerd lees nie! Hoe hanteer die gemeente die Bybel wat destyds vir hulle uit die Ou Testament bestaan het. Dit is nodig dat ons ’n paar dinge in hierdie teks (2 Kor.3:14) duidelik maak:

1. Dit is die enigste plek in die Bybel waar die term Ou Testament (of Ou Verbond) so direk as ’n samevatting van al die boeke van die ou bedeling gebruik word. Die Griekse woord vir testament of verbond is diathéke. Christus noem die O.T. o.a. “die wet van Moses en die profete en die psalms” (Luk, 24:44).

2. Die woord bedekking is ’n vertaling van die Griekse woord kalumma wat ook sluier of deksel of ’n doek om toe te maak beteken. Die Engelse Bybel vertaal dit met “veil” wat natuurlik ook ’n sluier kan wees. Die punt is: die Ou Testament is toegemaak en kan alleen deur Jesus Christus oopgemaak word, of soos hier staan, in Christus vernietig word.

3. Die Heilige Gees gryp hier in die Korinthiërsbrief terug na Exodus 34:29 e.v., daar waar die gesig van Moses vir die Israeliete met ’n sluier bedek was.

Die sluier oor die gesig van Moses

Ons word verplaas na ’n aangrypende toneel by die berg Sinaï. Moses kom na 40 dae en nagte van die berg af met die twee nuwe kliptafels van die wet. Sy gesig blink van heerlikheid, omdat hy met die HERE gespreek het- maar hy het dit nie geweet nie (vers 29). En toe Aäron en Israel hierdie blinkende gesig van Moses sien, “was hulle bevrees om naby hom te kom” (Ex. 34:30). Die Israeliete het eintlik vanweë Moses se blinkende gesig hulle van hom gedistansieër. Die heerlikheid van die HERE was vir hulle te veel. Hulle kon dit nie vat nie. Hoekom? Vanweë hulle sondes waar onder die verskriklike oortreding van die 2de gebod met die goue kalf (Exodus 32). Hulle was in hulle verstand verblind en het nie die HERE se verlossingsplan en sy heilsgeskiedenis begryp nie.  En toe het Moses besef hy moet ’n sluier oor sy gesig trek as hy met hulle praat (vers 33).

Die sluier in die Korinthiërsbrief

Skielik word daardie gedeelte uit Exodus 34 vir die gemeente van Korinthe ’n hartgrondige en lewendige prediking! Paulus gee hier die suiwer eksegese (verklaring) van Exodus 34. Dit is vol dinamiek — selfs “dinamiet”. Pasop hoe julle die Ou Testament lees! Ook die Ou Testament is die Woord van God. Ook die Ou Testament dra die HERE se gesag. Juis die Ou Testament verkondig Christus.  As julle dit nie reg lees of preek nie, is julle sinne verhard.

 Julle verstand sien dan nie die waarheid raak nie. Die skokkende werklikheid is dat die Ou Testament steeds vandag nog vir die mense bedek is, soos die Skrif hier sê: Die sinne is verhard “want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word”.

Ek neem my Hebreeuse Bybel (die Ou Testament) en sit dit op my lessenaar neer. Maar dit is “toe”. En nou moet ek onthou: dit is met ’n doek toegemaak sonder dat ek die Ou Testament kan sien. Ek mag miskien ’n groot kenner van die Hebreeuse taal wees. Die beste kommentare en woordeboeke help my niks as iemand nie die doek (bedekking) vir my wegneem nie. Ekself is totaal magteloos en op my eie (selfs met die grootste geleerdheid) die Ou Testament oop te maak sodat ek nie met “verharde sinne” (duistere verstand) sal lees nie. Iemand (die Here) moet die doek wegneem.

Alleen in Christus word die bedekking vernietig

Let op elke woord wat hier staan: in Christus vernietig. Ja, dit is die enigste manier hoe ek die Ou Testament reg (korrek) kan lees: as die bedekking daaroor in Christus vernietig word. Die doek word nie maar net geskeur sodat ek effens kan inloer nie of net ’n stukkie van die inhoud van die Ou Testament sal raaksien nie, maar dit word vernietig — geheel en al vermorsel, totaal tot niet gemaak! Nie slegs deur Christus nie, maar IN Christus.

“Bly in My, soos Ek in julle… as iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp” (Joh. 15:4,6).

Paulus roep uit:

“Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20).

Sonder die lewe in die Christus van die Nuwe Testament, het jy ook ’n Ou Testament sonder Christus. Sonder die vernietiging van die bedekking in Christus, sal ook jou teologie “ ’n verharding van sinne” wees. Sonder die wedergeboorte in Christus (1 Petrus 1:23) “deur die lewende Woord van God”, is die Bybel vir jou ’n geslote boek wat nie deur die slimste teoloë oopgemaak kan word nie.

Met die Reformasie in die 16de eeu is die bedekking van die Ou Testament in die Roomse kerk totaal in Christus vernietig. Solo Christo (deur Christus alleen) het saam met die sola Scriptura (die Skrif alleen) die Gereformeerde kerke se belydenis geword. Daarom verklaar Calvyn in sy kommentaar op 2 Kor. 3:14:

“Ons moet dit leer dat in die wet en ook in die hele Woord van God daar geen lig sonder Christus is nie; Hy wat die son van geregtigheid is — Maleagi 4:2 “.

Ons uitgangspunt om die Ou Testament sonder sy bedekking te lees, moet dus Christus wees.

By die kern van ons kerklike probleme vandag

As ’n predikant sy preek oor ‘n teks in die Ou Testament maak sonder dat die bedekking in Christus vernietig is… dan kry ons dikwels eksemplaristiese sedepreke (bv. Abraham of ander Bybelfigure as voorbeelde) vir ons goeie lewenswandel — nog nie Christus nie, maar die Bybelfiguur Abraham of Jakob staan in die sentrum.

As ’n digter Psalm 110 berym (omdig) sonder dat die bedekking in Christus vernietig is… dan sing die gemeente van ’n aardse koning soos wat die Verklarende Bybel van die 1983-vertaling, Psalm 110 verklaar, “sodat Salomo langs God, aan sy regterhand sit” (Kaapstad, Lux Verbi, 1989, p. 657). Dan sing die gemeente in aanbidding van Salomo en nie van Christus nie. Christus self sê dan op drie plekke in die NT dat Psalm 110 juis na Hom verwys (Mat. 22:44; Mark. 12:36; Luk. 20:42). Die gemeente moet tog asseblief onthou!: Die “Here” van Psalm 110:1, is Christus en nie Salomo nie, soos wat die genoemde Verklaring van die 1983 aan die Afrikaanse kerkvolk verkondig!

As die dominee in sy katkisasies met die kinders die Ou Testament leer, sonder dat die bedekking in Christus vernietig is, sal hulle nie die genadeverbond met Abraham in Christus en die HERE se heilsgekiedenis met Sy volk verstaan nie — hulle sinne sal verhard bly. Die betekenis van God se verbond met sy beloftes en eise vervaag en die kerk word aan die slaap gesus.

Wat is die dominee se uitgangspunt in sy eksegese (Skrifverklaring) as hy ’n preek uit die OT maak? Dit is juis hier waar ons belydenis van die Skrifgesag volgens artikels 3 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis so uiters belangrik is. Die hele Bybel is God se Woord. Die hele Bybel, OT en NT is die Evangelie van Jesus Christus — die “Christus as gekruisigde” van Paulus se preke (1 Kor.2:2).

Die ses spreiligte oor die veld van die Ou Testament

As ’n mens in die aand na ’n krieketwedstryd kyk, dan sien jy helder en duidelik hoe daardie klein bal vir ’n “vier” of ’n “ses” oor die grens geslaan word? Hoe is dit moontlik om dit in ’n donker nag so duidelik te sien? Dis omdat daar helder spreiligte is wat die hele veld verlig.

Nou sò verlig die Nuwe Testament met sy spreiligte die donker veld van die Ou Testament. En deur die helder lig van al die boeke van die Nuwe Testament vind ons in hierdie boeke ses uitstaande ligtorings wat die skaduwees van die Ou Testament opruim. Hierdie ses “spreiligte” is God se dade met sy Seun Jesus Christus. Ons noem dit ook die ses heilsfeite: Christus se geboorte, sy kruisdood,  sy opstanding, sy hemelvaart, sy uitstorting van die Heilige Gees en sy wederkoms.

Elke teks wat die dominee uit die Ou Testament neem om daaroor ’n preek te maak behoort hy onder die lig van een of meer van hierdie heilsfeite van Jesus Christus te bestudeer. Dit sal niks help om soos ’n boer in ’n donker nag sy seun sal stuur om met ’n flou flits die tang in die groot, donker skuur tussen al die mieliesakke en al die ander baie dinge en rommel te gaan soek nie. Dit is onproduktief om in die donker met ’n klein liggie te snuffel na iets sonder sterk elektriese ligte waardeur jy dadelik die “tang” kon raaksien. So is dit onmoontlik om die Ou Testament sonder die helder lig van die Nuwe Testament te verklaar.

Jesus se uitleg van die Ou Testament op die pad na Emmaüs

Ons lees dit in Lukas 24:27 :

“En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het”.

Dit was teen die aand van Jesus se opstandingsdag, daardie Sondag kort voor sonsondergang. Hy het saam met twee manne gestap wat ontsteld oor die kruisiging was en die boodskap van die Ou Testament nie verstaan het om Christus daarin raak te sien nie en Hy hulle moes aanspreek:

“O onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!” (vers 25).

Hier is Jesus Christus Self (soos baie ander kere) aan die Woord oor sy Evangelie uit die Ou Testament. Later daardie aand, het die opgestane Christus weer op sy prediking uit die Ou Testament teruggekom toe ook die elf dissipels teenwoordig was (v.44,45):

“Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe …

Dit is die Ou Testament wat oor Christus skrywe.

Diaken Stéfanus se lang rede oor die Ou Testament

In die hele hoofstuk van Handelinge 7 verkondig die diaken Stéfanus Jesus Christus deur aan die Joodse raad die geskiedenis van die Ou Testament aan hulle uit te lê. Toe hy God se heilsgeskiedenis langs die pad van die Ou Testament aan die Skrifgeleerdes en priesters verkondig het om daardeur aan hulle te bewys dat Jesus die Messias, die Christus is, het hulle Stéfanus gegryp en hom gestenig. Ja, dit was juis, spesifiek oor sy prediking van Christus uit die Ou Testament wat hulle woedend gemaak het. Ons lees:

“En toe hulle dit hoor (dws die Christusprediking uit die Ou Testament), was hulle woedend in hulle harte en het teen hom op die tande gekners” (Hand. 7:54).

Hoe is dit tog moontlik? Onder daardie Joodse raad, die offisiële kerkleiers van die jaar 33 nC., was die Skrifgeleerdes, die grootste teoloë van hulle Bybel — die Ou Testament! Ja, hoe is dit moontlik dat selfs die Bybelkenners so blind kan wees en Christus nie daarin kan raaksien nie?

Die apostel Paulus gee aan die Korinthiérs (2 Kor. 3:14) die duidelike antwoord “tot vandag toe” tot aan elke gemeente waar die Ou Testament vandag nog gepreek word en Christus nie raakgesien word nie:

“Hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig is”.

Die boodskap aan elke prediker met ’n teks uit die Ou Testament is duidelik:

Moenie met die ondeursigtige doek oor die teks preek nie.

Jy mislei die gemeente.

Christus het die doek vernietig!

_______________________________

Nota:

Die fokus van prof. d’Assonville se artikel is op die enigste fondament en bron van ons saligheid, Christus en Hom as Gekruisigde (1 Kor.2:2). Vanuit Christus, ons Geregtigheid én Heiligmaking (1 Kor.1:30) volg dan die appél en oproep tot geloof, bekering en groei in gehoorsaamheid en heiligmaking, hoe langer hoe meer (NGB art.22-24; HK v/a 114), wat alles nie kan plaasvind sonder Christus nie (Joh.15:5; sien ook HK v/a 64). Prof. d’Assonville verwys wel na die oproep en eis wat in die prediking moet kom, deur te skryf: “Die betekenis van God se verbond met sy beloftes en eise vervaag en die kerk word aan die slaap gesus.”

Dus, alhoewel ons dus eksemplariese prediking moet verwerp  (as met ‘eksemplariese’ prediking bedoel word blote morele lesse sonder die fondament en begronding daarvan in Christus se volkome heilswerk en/of sonder die openbaringshistoriese lyne in die Skrif in ag te neem), moet ons wel ‘eksemplaries’ preek, as daarmee bedoel word dat vanuit ‘n heilshistoriese en openbaringshistoriese verklaring van ‘n bepaalde teks, daar vanuit Christus én in Christus oproepend, vermanend, appélerend, toepaslik gepreek word, want soos ons gereformeerde vaders dit gestel het, prediking is:

Explicatio et Applicatio verbi Dei! (die verklaring én toepassing van die Woord van God)

Sien meer daaroor hier:

Heilshistoriese én eksemplariese prediking

Sien ook prof. SCW Duvenhage se boek, Die Navolging van Christus, wat daarop wys dat ‘in Christus’ beide die regverdiging en die heiligmaking gehandhaaf word, en dus verkondig moet word. 

One thought on ““Want tot vandag toe …” – preke uit die OT sonder Christus

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: