Posted by: proregno | July 27, 2011

Probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983 & 2016)

Ek plaas verskillende artikels wat ek geskryf het in die verlede oor die NAV, asook ds. LS Kruger se lesing daaroor, hier onder:

1. Probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV = 1983 vertaling), ds. LS Kruger … bl.1

2. Verdere probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling … bl.14

3. Die 2016-vertaling, ‘n enkele paar kritiese opmerkings … bl.20

4. God se voorsienigheid, die kanon en die grondteks … bl.26

Al vier artikels kan ook hier as een PDF dokument afgelaai word.

1. Probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV = 1983 vertaling), ds. LS Kruger[2]

Die beginsel standpunt wat die vertalers as uitgangspunt geneem het by die vertaling van die NAV is van kardinale belang.  Hier val die klem op wat die Bybel is, hoe dit tot stand gekom het en wat die kenmerke daarvan is.

1. Die Prinsipiële Skrifbeginsels

Ons glo die Bybel is die Woord van God. Dit het Goddelike gesag.  Paulus sê immers in 2 Tim. 3:16:  “Die hele Skrif is deur God ingegee ….” en as hy verder byvoeg dat dit voldoende is “sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” onderstreep hy die duidelikheid van die Skrif soos dit deur God ingegee is.

Hoe God die Skrif aan ons gegee het, word onder andere in 2 Petr.1:21 duidelik geopenbaar:  “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, DEUR DIE HEILIGE GEES GEDRYWE, het die heilige mense van God gespreek.”

Die Heilige Gees is in wese die Skrywer van die Woord van God. En daarvoor het Hy mense gebruik en geïnspireer. Ons noem dit die organiese Skrifinspirasie. Dit beteken dat God die Heilige Gees deur die eeue heen mense gebruik het, in hul eie omstandighede, aanleg, geleerdheid om die wil van God te openbaar.  Nou moet ons nie dink dat die Heilige Gees die skrywers maar net ‘n algemene idee gegee het en dat hulle die bedoeling van die Heilige Gees in hul eie woorde weergegee het nie. Dit gaan in die skrywe van die Woord van God ook om die woordelike inhoud. Ons noem dit die grafiese inspirasie.

Moses sê immers:  “Julle mag by die woord wat ek julle beveel het niks byvoeg nie en julle mag daar niks van weglaat nie.” (Deut.4:2).  In aansluiting hierby sê God in Openb.22:18,19 dat wie by die geopenbaarde Woord iets wil byvoeg God oor hom die plae sal byvoeg en wie iets weglaat, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe. Onse Here Christus bevestig in Matt.5:18 dat dit gaan om elke jota en titteltjie van die Woord van God. Dit gaan in die Woord van God om die noukeurigheid van die kleinste besonderhede.

Hiermee word gesê dat die Bybel genoegsaam en volkome is.  Die Bybel, as die Woord van God, het die deurlopende tema:  So sê die HERE Here! Dit word Ou en Nuwe Testament genoem (2 Kor.3:14; Hebr.9:15). En by ‘n testament gaan dit om elke woord en jota en titteltjie. Daar mag nie aan gepeuter word nie, want dan is dit vervalsing van die oorspronklike.  Hierdie beginsellyne dat die Bybel die Woord van God is, dit Goddelike gesag het, genoegsaam, duidelik en volkome is, word vervat in ons Nederlandse Geloofsbelydenis artt. 3 & 7.

Teen hierdie agtergrond moet ons nou die uitgangspunt van die Bybelvertalers beskou. Aangaande die wonder van die Woord van God, net die volgende twee opmerkings:

*   Hoewel daar meer as 1500 jaar verloop het tussen die skrywe van Genesis en dié van Openbaring, volg die hele ontplooiingsgeskiedenis van die Bybel ‘n vaste faset en is dit ‘n afgeslote geheel.

*  Hoewel ons nie meer die oorspronklike geskrifte van Moses of Dawid of Jesaja of Paulus het nie, het God dit so beskik dat die hele inhoud van die Bybel bewaar gebly het deur al die eeue heen – en tot vandag toe word nog steeds nuwe en hele fragmente van die Bybel ontdek wat die oorspronklike bevestig.

2. Vereistes by Vertaling

Die krag van die Gereformeerde Kerk was nog altyd die handhawing van die waarheid van die Woord van God. Hierdie beginsel moet dus ook by elke vertaling gehandhaaf word.

‘n Vertaling is alleenlik suiwer as dit, met inagneming met die verskil in idiomatiese uitdrukkings en die verskil in sinskonstruksies tussen die oorspronklike en die ontvangstaal, teksgebonde is en bly. As gevolg van die verskil in sinskonstruksies en woordeskat kan geen vertaling absoluut presies wees nie.  Juis daarom moet dubbele sorg aan die dag gelê word om die oorspronklike so suiwer moontlik letterlik weer te gee en is alle eie interpretasies ‘n wesenlike vervalsing.

Teen die agtergrond van wat die Bybel is, hoe dit tot stand gekom het, wat die kenmerke daarvan is en wat ‘n suiwer vertaling wesenlik inhou, moet die uitgangspunt van die vertalers van die NAV beoordeel word.

3. Die Uitgangspunt van die Vertalers

Die Bybelvertalers van die NAV het die etiese Skrifinspirasie as uitgangspunt vir hul vertaling geneem.

Hiervolgens gaan dit in die Bybel nie om die waarheid en vastigheid van elke jota en titteltjie nie, maar om wat die algemene bedoeling van God met die Skrif was.  Daarom is die Bybel vir hul nie die Woord van God nie, maar bevat net die Woord van God.  Alleen die direkte woorde van God is die Woord van God  terwyl die res van die Skrif net etiese riglyne is. Gevolglik ag hulle hul nie absoluut teks- en woordgebonde soos ‘n werklik suiwer vertaling eis nie. Hierdie uitgangspunt word nie deur my by hul ingelê nie, maar dit is hul eie verklaarde uitgangspunt:

In die Voorwoord van die NAV word gestel dat dit ‘n vertaling is “wat so getrou as moontlik aan die grondteks bly.”  Daarmee sê hulle direk dat die grondteks nie konsekwent gevolg is nie. Die so na as moontlik is egter in die ‘Voorwoord van die Blye Boodskap’ baie duidelik omskrywe. Die uitgangspunt van die vertalers was, so word dit in die Voorwoord gestel, om ‘n vertaling daar te stel “wat vir die grootste moontlike getal lesers aanvaarbaar sal wees.”

Nie God nie maar die mens is dus hul norm. Uitgaande van die etiese inspirasie stel hulle hul uitgangspunt onomwonde “dat die verstaanbaarheid van die vertaling VAN GROTER BELANG GEAG IS as die letterlike weergawe van die grondteks.”

Hoewel die grondteks “nougeset geëerbiedig word”, so sê hulle, is dit nie letterlik gevolg nie.  Deur eksegetiese ondersoek het hulle die bedoeling van die teks nagespeur en hul bevinding as vertaling weergegee.

Volgens die vertalers hoef die grondteks, die Testament van God, nie letterlik weergegee te word nie – solank dit net geëerbiedig word en so na as moontlik in gees en waarheid ooreenstem. Hulle ag die aanvaarbaarheid van die vertaling van groter belang as die suiwere weergawe van die geskrewe Woord van God soos dit deur die Heilige Gees geïnspireer, geskenk en bewaar is. Deur in hul vertaling van ‘n eksegetiese analise gebruik te maak om na te speur wat God en Jesus Christus en die Heilige Gees eintlik bedoel het (en nie letterlik gesê het nie), kom hulle in die NAV met hul eie interpretasies oor wat God eintlik wou gesê het (in moderne Afrikaans) en wat Christus sou gesê het as Hy in ons tyd geleef het.  En om in hierdie doel te slaag, is weglatings van en byvoegings by die oorspronklike aan die orde van die dag.

In hul uitgangspunt, opset en doel het die vertalers van die NAV hul gedistansieër van die prinsipiële Skrif-gefundeerde Gereformeerde Belydenis en Belydenisskrifte (o.a. NGB artt. 3,7) dat die hele Skrif deur God ingegee is, daar niks aan verander mag word nie, dit duidelik genoegsaam en volkome is.

Die NAV is in wese ‘n humanisties-georiënteerde parafrase met eie interpretasies (van die vertalers) van die oorspronklike en nie ‘n wesenlike vertaling nie.

Die gevolg hiervan is dat die inhoud wemel van inhoudelike misvertalings.

4.  Inhoudelike misvertalings

Op die pas afgelope Sinode is van die kant van verskeie Part. Sinodes ernstige besware teen die inhoud van die NAV ingebring. In hierdie verband wil ek ‘n paar losstaande voorbeelde aanstip.

a. Die wegvertaling van Christus in die OT

Die Klassis Pretoria het in ‘n breedvoerige en intensiewe studiestuk onder andere bevind dat Christus uit die Ou Testament uitvertaal is.

i) Die gebruik van die naam HERE

God openbaar Hom in sy Wese met verskillende Name in die Heilige Skrif.  Met sy Naam sê God Wie Hy is en wat Hy doen. So openbaar God Homself met die Naam Jahwè.  Dit is die Naam van die God van die Verbond, die verlossende God, God Drie-enig. Hierdie eienaam is in die ou vertaling vertaal met HERE.

Hierdie Verbondsnaam is in die NAV vereenselwig met God se “titel” “Naam Adonai, wat met die Here vertaal is.  Die Part. Sinode Oos-Transvaal het bevind dat dit buite die bevoegdheid van die vertalers lê om “na aanleiding” van ander plekke in die Bybel (wat ‘n subjektivistiese standpunt van die vertalers mag wees) die onderskeidings wat in die grondteks in die Name van God voorkom, weg te vertaal.

Hoewel die Sinode van 1982 (Acta, p.641/2) reeds teen die wegvertaling van God se Verbondsnaam (Jahwè/HERE) in die 1979-vertaling van die Psalms beswaar aangeteken het, het die vertalers van NAV hulle nogtans nie daaraan gesteur nie.

‘n Treffende voorbeeld van hoe die sin, diepte en wesentlike betekenis van God se Verbondsopenbaring in die NAV wegvertaal is, is die seëngroet van Num. 6.

In die ou vertaling lees vers 24: “Die HERE (Jahwè) sal jou seën en jou behoed.”  Hier val die klem op God, die Vader. In die NAV lees dit:  “Die Here (nie Jahwè die God van die Verbond nie) sal julle seën en julle beskerm.”  Die verandering in sin betekenis tree skerper na vore in vers 25: “die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn (profetiese-digterlike beeldspraak van Christus se verskyning as die Son van Geregtigheid) en jou genadig wees”.  Hiervan maak die NAV: “die Here sal tot jul redding verskyn en julle genadig wees.”

In die derde spreuk (vs 26) val die klem op die werk van die Heilige Gees.  “Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef (= om lief te hê) en aan jou vrede gee.” Hiervan maak die NAV: “die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee”.

Nie alleen verwerp die NAV die Skriftuurlike beeldspraak nie, nie alleen vertaal hulle die Verbondsnaam weg nie, maar hulle plaas hul eie interpretasie in aanhalingstekens asof hulle weergawe die letterlike woorde is wat God gespreek het!

ii. Psalm 110

Hierdie psalm besing die Messiasskap van Christus. In die ou vertaling lui die opskrif:  “Die Priesterkoning”. Dit gaan in die hele inhoud om die koningskap van Christus. Die woorde van vers 1: “Die HERE (Jahwè) het tot my Here (Adonai) gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete”, word letterlik deur Christus aangehaal in Matt.22:44 as synde ‘n profetiese heenwyse na Hom;  Mark.13:36 sê dat Dawid dit deur die Heilige Gees sê en Hand.2:34,35 verklaar dat hierdie woorde heenwys na die hemelvaart van Christus.

Die NAV verwerp die hele Messiasskap van Christus in die psalm en verwater die inhoud daarvan asof ‘n gewone aardse koning hier bedoel word: “Die Here (nie HERE nie) het vir my koning (nie adonai, Here nie) gesê:  Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” Dit is ‘n totale verwaterde misvertaling.

iii. Jesaja 49:8

Nog een van die honderde voorbeelde van hoe Christus uit die OT wegvertaal is, is Jes.49:8. Daar staan geskrywe:  “In die tyd van welbehae (= heilsbegunstiging), het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp;  Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk ….” Die U wat hier aangespreek word dui op ‘n profetiese heenwyse na Christus;  daarom word dit met ‘n hoofletter geskryf.

Die NAV verwater die hele teks en laat alle spore van die Christus-verwysing na:  “Op die tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help ……”

b. Wegvertaling van Skriftuurlike heilsbegrippe

In die ‘Voorwoord van die Blye Boodskap’ sê die vertalers dat hulle weggedoen het met woorde en uitdrukkings wat slegs van kerklike gebruik is en dit vervang het met “meer gebruiklike woorde uit die spreektaal.”

In hulle poging om die Bybel (onthou, dit is die geïnspireerde Woord van God) te verwêreldlik het hulle dan ook weggedoen met Skriftuurlike heilsbegrippe.

i. Welgeluksalig

Hierdie woord word in die Bybel gebruik om ‘n staat van geluksaligheid uit te druk.  Dit is beskrywend van die verloste mens. So word die mens beskryf wat nie meng met die goddelose (Ps.1:1); by God en Christus skuil (Ps.2:12;84:5); deur God onderrig word (Ps.94:12);  deur God uitverkies is (Ps.65:5);  wie se sonde vergewe is (Ps.32:1,2) om maar net enkele voorbeelde te noem.

As Paulus in Rom.4:7,8 die mens welgeluksalig noem wie se ongeregtigheid vergewe is, wie se sondes bedek is en aan wie die Here die sonde nie toereken nie, dan kom hy met ‘n letterlike aanhaling van Ps.32:1,2.  Dit gaan hier om die ewige geluksaligheid. Die Griekse word makarioi dui daarop dat iemand “in die hoogs denkbare staat van geluk verkeerd” (Grosheide). Hierdie word wat Paulus met “welgeluksalig” omskrywe, kom van die Griekse stamwoord makaria = die geluksaligheid (Van der Es: Grieks Woordenboek).  In verswakte sin beteken hierdie word “geluk” – soos dit in Plato en o.a. Luk.12:37 voorkom.

In die verplattingsproses van die NAV word die ewigheidsbetekenis van hierdie woord wegvertaal en daaraan net ‘n etiese betekenis gegee:  dit gaan goed;  jy is gelukkig.

ii. Goedertierenheid

Hierdie woord, wat minstens 158 keer in die Bybel voorkom, beskryf God se vergewende genade, sy barmhartigheid en lankmoedigheid as uitvloeisel van Sy neerbuigende liefde. Tog het die vertalers in die NAV hierdie wesenseienskap van God totaal uitvertaal.

c. Verplatting

In hulle strewe om weg te doen met woorde en uitdrukkings wat slegs van kerklike gebruik is, het die vertalers hulle op ‘n weg van algehele verplatting van alles wat verhewe is, begeef.

i. Die Psalms

Op die Sinode was daar ernstige beswaar (o.a. Part. Sinode Noord-Transvaal) oor die vertaalde Psalms. In hul uitgangspunt om weg te doen van alle Goddelik geïnspireerde beeldspraak, is die siel van elke Psalm wegvertaal.  (Verg. maar net Ps. 23). En in die vervangingsproses van die geïnspireerde woord met hul eie en die inhoud daarvan met hul eie interpretasies, is die wesenskern van feitlik elke Psalm misvertaal. Na Ps.110 is reeds verwys.   So ook na die wegvertaling van die heilsbegrippe “welsalig” en “goedertierenheid” wat die meerderheid van die Psalms kenmerk.

As voorbeeld hoe die kern misvertaal is, kan Ps.1:1 genoem word.  Die weg van verval word in die oorspronklike baie duidelik uitgestip: Dit begin met die wandel (saamloop), word voortgesit met die staan en eindig met die sit in die kring van die spotters. In eie NAV word hierdie dalende lyn totaal gemis en in die omhaal van woorde word die kern van die teks gemis.

ii. Genesis 32

In Gen.32, waar Jakob met God worstel, word Hy gemeensaam deur Jakob aangespreek as “jy” en “jou”, terwyl Jakob in die volgende hoofstuk vir Esau eerbiedig as “u” aanspreek (Part.Sinode, Noord-Transvaal). Dieselfde verskynsel vind ons in Joh.4 waar die Samaritaanse vrou vir Christus sommer “jy” en “jou” – en dit terwyl ons weet, dat teen die historiese agtergrond gesien, daar geen gemeenskap tussen die Jode en die Samaritane was nie, met ‘n vrou in die publiek haas nie gepraat is nie en dit buitendien nog ‘n Samaritaanse vrou was.

iii. Miga 1:8

Beskrywend van ‘n hartverskeurende verootmoediging lees ons in die “ou” vertaling:  “Ek wil klae soos die jakkelse en treur soos die volstruise.” Die smart wat vibreer in hierdie woorde word deur die NAV amper lagwekkend weergegee as:  “Ek sal skreeu soos ‘n jakkels, brul soos ‘n volstruis.”

d. Misvertaling leerwaarhede

i. Genesis 6

In Gen.6:2 word die oorspronklike “seuns van God” (= die nageslag van Set, die gelowiges – sien Hos.1:10) in die NAV met “Hemelwesens” vertaal, wat dan met “die dogters van die mense” (= ongelowiges, nageslag van Kain) getrou het en ‘n nuwe geslag verwerk het. Volgens ons gereformeerde engeleleer is die engele eenmalige geskape wesens met geestelike liggame en sonder voortplantingsorgane. Volgens die NAV beskik hul oor stoflike liggame met seksdrange en voortplantingsorgane. Daarmee word ‘n streep getrek deur die geestelike bestaan van die engele.

Die Part. Sinode Noord-Transvaal het dan ook bevind dat die opwekking van ‘n nuwe menslike geslag deur hierdie “hemelwesens” in stryd is daarmee dat

*      in Adam alle mense in sonde geval het (Rom.5:12) en

**   God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het (Hand.17:26)

ii. Markus 1:4

Die Part. Sinode van Oos-Transvaal het ernstige beswaar gehad teen die nuwe vertaling van hierdie teks:  “Hy (Johannes) het verkondig dat die mense hulle moet bekeer sodat God hulle sondes kan vergewe, en dat hulle hulle moet laat doop.” Hierdie vertolking berus op die dwaling van Arminius en word nog aangegryp deur verskeie sektes.

Hiervolgens moet jy jou eers bekeer voordat God jou sondes vergewe en eers dan kan jy jou laat doop. Nie alleen verdraai hierdie vertaling die oorspronklike, naamlik die doop van die bekering (lei) tot (in) die vergifnis van sonde en dat sondes sonder enige verdienste van ons kant vergewe word nie, maar dit trek ook  ‘n streep deur die hele Verbondsgedagte:  ons kinders moet gedoop word as seël van die Verbond van sonde-vergifnis. Die Part. Sinode was dan ook van oordeel:  “Daarom is die vertaling van die Nuwe Afrikaanse Bybel nie toelaatbaar nie.”

iii. Die Onse Vader

In Matt.6:13 eindig die Onse Vader met:  “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Die NAV laat hierdie woorde weg. Die vertalers oordeel dat dit ‘n valse byvoeging by die woorde van Christus was.  Daarmee verklaar hulle dat die Kerk van die vroegste eeue af misgetas het en trek hulle ‘n streep deur o.a. ‘n gedeelte van die Heidelbergse Kategismus en die bestaande Formuliergebede.

e. Die Weglating van die Skriftuurlike historisiteit

Omdat die vertalers van die standpunt uitgegaan het dat die hele Skrif nie grafies geïnspireer is nie en dit vir hulle in die vertaling nie gaan om wat God en Christus werklik gesê het nie, maar wat God eintlik bedoel het en wat Christus eintlik sou gesê het as Hy in ons tyd geleef het, ontruk hul vertaling uit die historiese kontekste waarin die Bybelskrywers hul bevind het deur o.a. weg te doen van alle Skriftuurlike mate, gewigte, tye, en dies meer.

Alle Bybelse lengte-, gewigs- en inhoudsmate word in die NAV wegvertaal en vervang met ons moderne mates van kilometers, kilogramme en liters. Dit is in wese dus geen suiwere vertaling nie, maar inlegkunde.

Ons Gregoriaanse kalender (met die name van die dae van die week) dateer vanaf die tyd van Pous Gregorius XIII (1572-1585) en tog word dit terug getransporteer na Matthéus (Mat.28:1) en Lukas (Lukas 24:1) waar die oorspronklike “die eerste dag van die week” vervang word met “Sondagmôre.”)

Net so word, waar Christus in Mark.12:15 en Luk.20:24 melding maak van ‘n penning, die direkte woorde van Christus verdraai asof Hy van ‘n ongeïdentifiseerde muntstuk spreek. So word ook die word penning (= die dagloon van ‘n arbeider) in die gelykenis van die verlore penning in Luk.15 wegvertaal en vervang met ‘n ongeïdentifiseerde “silwermuntstuk” – waarmee die hele simboliek van die gelykenis ook in gedrang kom.

‘n Treffende voorbeeld egter van hoe – deur die vermodernisering van Christus se woorde en die verwerping van die Skriftuurlike simboliek en historisiteit deur die vertalers – die wesenlike sin en betekenis van die oorspronklike misvertaal is, is die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser in Matt.18:23 vv. Christus maak hier melding van ‘n man wat tien duisend talente skuldig was. Dit is ‘n enorme bedrag. In daardie tyd is daar nie met sulke bedrae gehandel nie.  Grosheide sê dan ook:  “Sommen als hier genoemd, kwamen toen niet voor.” Letterlik oorgesit gaan dit hier wel om ongeveer R8 000 000. Maar in die gelykenis gaan dit om ‘n diepe simboliek. ‘n Talent was die hoogste geldeenheid. 10 is die getal van afronding. 1000 (10x10x10) dui ‘n volkomenheid van ontwikkeling aan. En hierdie 1000 word nogmaals met 10 vermenigvuldig. In kort: die simboliek hier is dat die betrokke dienskneg absoluut in skuld verkeer het.  So onberekenbaar is sy skuld dat daar geen betalingsmoontlikheid is nie. Só skilder Christus die mens in sy absolute ewigheids-skuldverlorenheid. Daarteenoor, so sê Christus, was aan hierdie man ‘n klein bedraggie, naamlik honderd pennings, verskuldig.  En hierdie 100 pennings word nou “vertaal” met “’n paar rand.”

Die hele simboliek van die absolute skuldverlorenheid soos vervat in die 10 000 talente word egter totaal misvertaal met “miljoene rande.”  Die vertalers sien die simboliek van die ewige sondeskuld mis en vervlak dit tot ‘n blote materiële skuld. En die ergste van alles is dat hulle hierdie “miljoene rande” en “’n paar rand” letterlik in die mond van Christus lê deur dit in aanhalingstekens te plaas asof Christus nie van talente en pennings gespreek het nie, maar van rande.  En hierdie voorbeeld van hoe die wese en kern van die oorspronklike mis vertaal is en woorde in die mond van Christus lê wat Hy nie gesê het nie, kan in massa vermenigvuldig word.

5. Die aanvaarbaarheid en gebruiksnut van die NAV

a.  Aanvaarbaarheid

Ons pas afgelope Sinode, en so ook verskeie Part. Sinodes, het ‘n woord van besondere dank uitgespreek vir die onvermoeide ywer van almal wat met die vertaling van die Bybel (NAV 1983) gemoeid was.

Sonder om elke besluit van die Sinode in detail aan te haal, kan die volgende hooftrekke van die besluite gestel word:

*          Die Sinode het nie die NAV amptelik gesanksioneer en in gebruik geneem nie;

*          die kanselgebruik van die vertalings van 1933/53 (die ou bestaande) en die 1983 word aan die plaaslike kerke oorgelaat;

*          die teks van die NAV sal nie in die Belydenisskrifte of die formuliere geïmplimenteer word nie;

*          Hersieningsdeputate is benoem om al die besware wat voor die Sinode gedien het en wat nog uit die kerkverband kan kom te ondersoek.  Prakties kan dit op ‘n hele nuwe hervertaling afstuur.

b. Gebruiksnut

Ten spyte van al die ernstige besware wat teen die NAV ingebring kan word, beteken dit nie dat die hele vertaling nutteloos en nie-aanvaarbaar is nie. Inteendeel! Hoewel dit meer ‘n parafrase van die oorspronklike is as ‘n vertaling, kan dit nogtans op verskillende terreine met vrug gebruik word. In hierdie verband word verwys na ‘n skrywe van dr. G Jordaan in die Kerkblad enkele maande gelede. Hy stel dat die NAV vertaling nuttig gebruik kan word in nie-amptelike byeenkomste soos Bybelstudie, katkisasie, huislike gebruik, e.d.m.[3] (lees asb. hierdie voetnota – slc)

Maar wat nou van kanselgebruik van die NAV? Omdat dit in wese net ‘n parafrase van die oorspronklike is met die willekeurige byvoeginge, verandering en weglatings deur van die vertalers, en dit in die prediking van die Woord van God gaan om woord- en tekseksegese van die oorspronklike, behoort liefs met die 1933/53-vertaling, in die prediking volstaan te word.

Ek wil afsluit met die vraag: Is daardie predikante wat op die kansel van die NAV gebruik maak nie dalk vlak in hul prinsipiële besinning nie?

2. Verdere probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling, deur ds. S Le Cornu

Die probleem met die NAV is ongelukkig dat dit nie die OAV probeer verbeter het nie, maar dat dit ‘n ander vertaling en verklaring van die Skrif geword het.  Daarteenoor was daar bv. baie groter kontinuiteit tussen die Hollandse Bybel en die OAV Bybel, al was dit ‘n groot sprong van een taal na ‘n ander nuwer taal.

Kyk bv. ook as ‘n mens die OAV en die KJV (Engels) en selfs die NIV vergelyk met mekaar, dan is dit asof jy dieselfde woord lees … net in ‘n ander taal.  As ‘n mens die OAV en die NAV egter saamlees (wat ons doen in ons Bybelstudies), dan is dit in baie gevalle asof ons iets teenstrydig met mekaar lees.  Baie lidmate sien hierdie teenstrydigheid raak en het dan probleme met stellings soos “dit hang af vir wie hierdie vertaling is, d.w.s. vir watter gehoor.”

Hier is ‘n paar voorbeelde (die beklemtonings het ek bygevoeg en wys op die verskille in die betrokke vertalings. Ek het doelbewus die NIV [New International Version] gekies, wat ook ‘n moderne ‘dinamies-ekiwalente’ vertaling is soos die NAV, en bekendgestel is in 1984, ‘n jaar na die 1983-vertaling):

1. Ps.45:7,8

OAV: “7U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. 8 U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugdeolie bo u metgeselle.”

NAV: “7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied. 8U het die reg lief en u haat die onreg, want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.”

NIV: “Your throne, O God, will last for ever and ever; a scepter of justice will be the scepter of your kingdom. You love righteousness and hate wickedness; therefore God, your God, has set you above your companions by anointing you with the oil of joy.”

Hebreeus: in albei gevalle is dit elohim = God.  Hoekom vertaal die NAV dit as ‘verhewe wese’ terwyl geen moderne vertaling, volgens my kennis, dit doen nie ? Selfs die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) het elohim as ‘God’ vertaal.

2. Ps.110:1

OAV: “Die HERE het tot my Here gespreek … “

NAV: “Die Here het vir my heer die koning gesê …”

NIV: “The LORD says to my Lord …”

Hebreeus: JahweAdoni = “Die HERE vir my Here” of ten minste “HERE vir my Koning”. Maar waar kom die NAV aan die invoegsel of herhaling: “my heer die koning” ? Tereg het S du Toit gesê: “vertaling, nie ‘n verklaring nie”.

As die NAV so sterk gevoel het dat sy lesers nié mag glo dit wys op Christus nie, hoekom sit hul dit nie ten minste in ‘n voetnota nie?  Hoekom byvoeg by die Skrif, want dan word dit ‘n Nuwe Afrikaanse verklaring (wat in elk geval verkeerd is), i.p.v. vertaling.  Die NLV: “Die HERE het vir my heer gesê” … is al baie beter.

3. Rom.1:17

OAV: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

NAV: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ ”

NIV: “or in the gospel a righteousness from God is revealed, a righteousness that is by faith from first to last, {17 Or is from faith to faith} just as it is written: ‘The righteous will live by faith.’ ”

Grieks: ek pisteos eis pistin = (vanuit, van, deur) geloof (in, na, tot, toe, vir, tussen) geloof: dus geen ‘omdat’ hulle glo nie.  In vers 17 word aangehaal uit Hab.2:4, waar die OAV lees: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”; en die NAV: “maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.”  Met die voorsetsel ‘deur’ word gewys op die middel/manier waardeur ‘n mens geregverdig word en reg lewe. Met die voorsetsel ‘omdat’ word gewys die rede/begronding waarom iemand regverdig verklaar word.

In NGB artikel 22 bely ons: “Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is. Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind.” En in HK, v&a 21 word Rom.1:17 as Skrifbewys gegee vir die laaste sin wat as volg lei: “’n Ware geloof is … ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.”

Dit is by hierdie ‘geskenk het’ wat Rom.1:17 as Skrifbewys dien.  Nie ‘omdat’ ons glo nie, maar ‘deur’ die geloof ontvang ons al sy weldade (die ‘geskenk’), en uit die geloof in daardie geskenk lewe ons dan in dankbaarheid.  Met hierdie (baie) slegte (nuwe) vertaling (‘omdat hulle glo’) word die hartklop van die Reformasie in navolging van die Skrif aangetas, nl. dat ons gered word uit genade deur die geloof sonder enige werke (sien ook ds. Kruger se opmerkings hierbo by Mark.1:6).

4. Rom.13:4

OAV: “want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

NAV: “want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.”

NIV: “For he is God’s servant to do you good. But if you do wrong, be afraid, for he does not bear the sword for nothing. He is God’s servant, an agent of wrath to bring punishment on the wrongdoer.”

Grieks: machairan (swaard) word ‘vertaal’ of eerder verdraai deur die NAV om te beteken ‘die reg om te straf’.  Die swaard was juis die simbool van “the power of life and death (Rom.13.4)” (Friberg).  Die ‘reg om te straf’ kan enigiets beteken … ook die afskaffing van die doodstraf en in die plek daarvan enigiets te plaas?

5. Ef.2:15

OAV: “deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep”

NAV: “Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.”

NIV: “For he himself is our peace, who has made the two one and has destroyed the barrier, the dividing wall of hostility, 15 by abolishing in his flesh the law with its commandments and regulations. His purpose was to create in himself one new man out of the two, thus making peace”

Grieks:  Daar is nie ‘Moses’ in die grondteks nie, en nog minder die adjektief ‘al’ (pas).  Weereens, die NAV is ‘n verklaring en nie ‘n vertaling nie, en boonop ‘n slegte verklaring daarby, omdat die ‘vertaling’ hier misverstand kan veroorsaak dat nie net die seremoniële wette tot niet gemaak is nie (NGB art.25), maar sommer ook ‘al’ Moses se wette, dus ook die tien gebooie.  Miskien nie die bedoeling van die ‘vertalers’ nie, maar die gevaar vir misverstand is groot vir lidmate met so ‘n vertaling.

6. Sien die verskil tussen die OAV teenoor die NAV by Ef.5:19:

OAV: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here …”

NAV: “en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.”

NLT (New Living Translation): “singing psalms and hymns and spiritual songs among yourselves, and making music to the Lord in your hearts.”

NLV (Nuwe Lewende vertaling): “terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing”

In die Grieks is daar glad nie die woord ‘ander’ soos wat dit deur die NAV hier bygevoeg word nie. Waarom het die NAV vertalers dit daarby ingevoeg (so ook by Kol.3:16)? Die konteks van Ef.5:19 regverdig ook nie die woord nie.  Is dit dalk ingevoeg om begronding te probeer kry vir Gesange in die erediens ?

Ten slotte

Ja, geen vertaling is onfeilbaar nie, maar dit moet getrou oorgesit word vanuit die grondtale, sodat ons mense ‘n betroubare vertaling van God se Woord het in ons eie taal. Verder moet dit ‘n ‘vertaling’ wees, nie ‘n ‘verklaring’ nie.  Hoe gouer lidmate en hul kinders weer terugkeer om die OAV te gebruik, hoe beter. Mag die vertaling wat nou aan gewerk word hierdie en baie ander foute regstel sodat ons kerke weer saam verenig kan word om een betroubare vertaling van die Woord van God in Afrikaans.

Ns. Wat die ‘2016-vertaling’ betref, lyk dit ongelukkig nie te goed volgens sekere proefvertalings wat al verskyn het nie, sien die volgende artikel.

 

3. Die 2016-vertaling – ‘n enkele paar kritiese opmerkings

Inleiding

Daar is in 2008 aan die Afrikaanse kerkverbande se gemeentes ’n pamflet uitgestuur met die naam ”Afrikaanse Bybelvertalingsprojek – Proefvertaling deur die Bybelgenootskap”.

Dit word uitgestuur met die doel om “die lesers se reaksie op die inhoud van die proefvertaling en die aard van die Afrikaans te toets”, en wil die Bybelgenootskap graag weet hoe u en ek voel oor hierdie proefvertaling. Dit is dus geen finale vertaalwerk van die betrokke stukke in die pamflet nie (Gen.1; Deut.5; Ps.1,8,23; Matt.6; 1 Kor.13). In die pamflet is daar ‘n afskeur-poskaart wat gebruik kan word om jou indrukke te gee, of ‘n e-pos adres waarin opmerkings gestuur kan word (waarna ek ook my opmerkings hieronder gestuur het).

Hier is ‘n paar enkele opmerkings solank van my kant af (onderstrepings bygevoeg):

1. Die inleiding op Genesis

In die “Inleiding” op Genesis, die tweede sin (bl.5) staan daar,

“Die boek begin daarom ook met ‘n gedeelte (1-11) wat die oorspronge van die mensdom probeer beskryf uit die oogpunt van die godsdienstige oortuigings van die mense van die Bybelse tyd.”

Vraag: wat word bedoel met hierdie sin ? Waarom die woordjie ‘probeer’ ? Bogenoemde sin laat Gen.1-11 klink na die subjektiewe mening van ‘n klompie Jode wat probeer sin maak het uit die wêreld waarin hul bestaan vanuit hul eie idees, moontlik net nog ‘n oorsprongs-teorie tussen die magdom van oorsprongsteorieë in die destydse ‘bybelse tyd’. Is Gen.1 dan nie Godsopenbaring wat Israel gesaghebbend ontvang het, deur die Heilige Gees openbaar aangaande die oorspronge van die mensdom nie (sien bv. Matt.19:4) ? Die gevaar bestaan dat hier moontlik ruimte gelaat word sodat vandag se mens van ons (post)modernistiese tye die ‘oorspronge van die mensdom’ kan beskryf uit hul ‘godsdienstige oortuigings’, wat die oortuiging van (teïstiese) evolusie insluit. Die sin skep verwarring.

2. Watter G(g)ees ?

Gen.1:2 se vertaling (bl.6): “En die gees van God was aan die sweef oor die water

Vraag: hoekom ‘n klein letter “g” by die woord “gees” ? Sien HK v/a 25 wat hierdie vers gebruik ter begronding van die belydenis dat God Drie-Enig is, “naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees … Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het, dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is” asook HK v/a 53 wat hierdie vers gebruik ter begronding van die belydenis dat “Hy (die Heilige Gees) saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (is).”

3. Die dae van die skepping

Voetnoot c by Gen.1:5 (bl.6) lees as volg,

dag een Die getal sewe is dikwels in die Bybelse tyd gebruik om ‘n verhaal, gedig of lied te struktureer en tot ‘n klimaks te laat ontwikkel.”

Vraag: dit is waar dat die getal 7 simboliese waarde het in die Bybel (soos baie ander getalle), maar waarom dit hier vermeld ? Is dit dalk om die leser te laat verstaan dat die skeppingsdae op allerlei maniere ‘simbolies’ verstaan moet word, behalwe die ‘letterlike’ grammaties-historiese verstaan van ses letterlike historiese dae, soos verwoord word in Ex.20:11 ?

4. God Drie-enig

By voetnoot f by Gen.1:26 (bl.7) lees ons,

1:26 Ons Die meervoudsvorm wat hier gebruik word, verwys waarskynlik na God se ‘binnespraak’, of dit is ‘n soort koninklike meervoud. Die naam van God staan in Hebreeus ook in die meervoud.”

Opmerking: In NGB artikel 9 bely ons dat o.a. hierdie spesifieke vers getuig van die Drie-eenheid: “Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel.[1] Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskei en oordeelkundig uitkies: (Gen.1:26,27) “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis … En God het het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape … Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is.[2]

5. Besitlik of jaloers ?

Deut.5:9 word vertaal (bl.9) as, “… Ek is ‘n besitlike God wat kinders laat boet …”

Vraag: is die woord ‘besitlik’ ‘n goeie afrikaanse woord om God se heilige jaloersheid te beskryf ? ’Besitlik’ klink na ‘n sondige begrip in moderne Afrikaans.

6. Wat van die Messiaanse Psalms ?

Die ‘Inleiding’ van die Psalms (bl.11) vermeld verskillende soorte Psalms, “so verwoord die psalms byna al die emosies wat gelowiges kan ervaar in hulle verhouding met God”

Opmerking: Daar is egter geen vermelding in die ‘Inleiding’ van een van die sentrale lyne in die Psalms nie, naamlik die Messiaanse Psalms wat dié sentraal-bepalende saak en ‘emosie’ was van die gelowiges van die OT (en NT) in hul verhouding tot God (Ps.110:1, vgl. Hand.2:34,35).

7. Die Onse Vader gebed

Voetnoot h by Matt.6:13 (bl.17) lees as volg,

6:13 verlos ons van die Bose Ander manuskripte en ouer vertalings lees ook nog hierna: ‘Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.Amen.’ Daar word algemeen aanvaar dat dit nie deel van die bronteks is nie.”

Vraag: Volgens die gereformeerde belydenis is hierdie frase deel van die kanon van die Skrif (sien HK v/a 119 en 128). Die tweede sin, (“Daar …. nie”) bevraagteken die kanoniek van die Skrif soos bely word in die NGB art.4 (“Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie”). Hierdie voetnota spreek dus ‘n kanonieke waarde-oordeel/kritiek oor die Skrif uit wat nie deur die NT tekskritiek met sekerheid bepaal kan nie. Ekself glo dat hierdie frase wel deel is van die bronteks, en dat daar in ‘n voetnota slegs vermeld moet word dat daar wel ander manuskripte is wat dit nie bevat nie. As die Meerderheidsteks en Textus Receptus nie gevolg word nie, moet ten minste die tweede sin weggelaat word.

8. Die Godsname

Daar word met dankbaarheid kennis geneem dat die Godsname onderskei word in die vertaling van die Ou Testament deur die gebruikmaking van hoofletters en kleinletters (HERE/Here), ongeag die feit dat die Hebreeuse grondteks nie onderskei tussen hoof- en kleinletters nie. Mag dieselfde wysheid en insig ook gehandhaaf word in die aanduiding van die Messias in die OT, daar waar die res van die Skrif die eksplisiete Messiaanse gedeeltes vir ons aandui (bv. Ps.110, vgl. Matt.22:41-46).

9. Brontaal-vertaling

Dit is ook verblydend dat die vertaling terugkeer na die ‘bronteks georïenteerde” vertaalmetode.

10. Wat maak die 2016 vertaling anders ?

Op die vraag hoe gaan die nuwe vertaling (2016) verskil van die bestaande vertalings, word in die ”Begeleidende Inligting” (bl.2-4) van die pamflet verskeie redes vermeld, waarvan een is: dit sal nie ‘n “woord-vir-woord vertaling soos die 1933/53-vertaling wees nie. In die nuwe vertaling sal daar groter klem gelê word op die weergee van die bronteks in vloeiende Afrikaans as wat by woord-vir-woord vertalings die geval is.”

Wat egter nié vermeld word as ’n ‘verskil’ tussen die 2016 vertaling en die 1933/1953 vertaling nie, is seker die grootste en belangrikste verskil wat sedert die koms van die 1983 vertaling, gelowiges oor alle kerkgrense verdeel het, en dit is die saak van hoe die Messiaanse gedeeltes in die OT aangedui gaan word. Met hoof- of kleinletters ? Waarom hierdie baie belangrike feit nie vermeld word in hierdie voorwoord nie, is werklik vreemd, aangesien dit ‘n wesentlike verskil is tussen bv. die OAV en die NAV.

Wat die besluit van die Advieskomitee van die 2016-vertaling is (nl. dat die Messiaanse gedeeltes gaan nie met hoofletters aangedui word nie, slegs in voetnotas – soos die nuwe omdigting) kan hier gelees word: www.2016vertaling.co.za.

Sien ook op genoemde webblad, die teologiese veronderstellings wat onderliggend is aan of jy met hoof- of kleinletters die Messiaanse gedeeltes aandui. Dit gaan nie soseer oor die gebruik van hoof-of kleinletters nie, maar veral oor die rede(s) waarom jy die een verkies en die ander een verwerp, waarom jy verkies om die Messias in die Teks of in die voetnotas aan te dui. Dit openbaar ‘n mens se teologies-hermeneutiese vertrekpunte en siening van die verhouding OT-NT.

Dit is my beskeie mening dat nie die Godsname of vertaalmetode nie, hoe belangrik dit ookal is, die bepalende faktor in die aanvaarding van die 2016-nuwe vertaling gaan wees nie, maar hoe daar met die Messias omgegaan word.

“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.” – Lukas 24:44

 

4. God se voorsienigheid, die kanon en die grondteks, ds.S Le Cornu

Deel van die probleem aangaande die vertalingkwessie, lê na my mening in die volgende saak: God se voorsienigheid ten opsigte van die kanon en die grondteks.

Aangesien ekself met die sake worstel, lê ek die volgende gedagtes in u midde vir verdere besinning en bespreking.

1. Kanon

Wanneer dit oor die kanon gaan, dan sê of bely ons tereg dat die kerk nie die kanon vasgestel het nie, maar ontvang het deur God se Voorsienigheid:

“… die kerke (het) nie besluit dat hierdie 66 boeke tot die Bybel moet behoort nie. Hulle het bloot amptelik erkenning gegee aan dit wat die Heilige Gees oor verloop van drie eeue in die kerke laat gebeur het: dat hierdie 66 boeke, en hulle alleen, herken is as Goddelike Geskrifte, God se Woord, die Bybel.” (Kerkblad, Maart 2008, p.19)

Daar is nêrens in die kanon ‘n volledige lys met 66 name wat sê dit is die kanon nie. Ons glo dat God deur sy Gees die bepaalde 66 boeke vir sy kerk gegee het, en in ons harte is hierdie getuienis vas en seker, niks kan teen hierdie boeke ingebring word nie, en hul getal kan nie verminder of vermeerder word nie (NGB artikel 4-6).

2. Grondteks

Wanneer ons egter by die grondteks kom, word daar anders te werk gegaan:

“Die Tekskritiek probeer om ‘n betroubare grondteks saam te stel (vanuit die verskillende manuskripte) … (en) waar daar wel verskille is moet daar op goeie wetenskaplike gronde tussen die verskillende lesings gekies word. Een van die beginsels in hierdie proses is dat ‘n mens nie bloot maar net manuskripgetuienis kan tel en so besluit watter lesing die beste is nie. In meeste gevalle behoort daar eerder geweeg as getel te word.” (Kerkblad, Augustus 2005, p.14,15)

Dus:

– die kanon ontvang ons gelowig deur die Gees in God se Voorsienigheid.

– wat die grondteks betref, moet die mens deur wetenskap, deur te weeg of te tel, bepaal of vasstel wat die ‘betroubare grondteks’ is, d.w.s. God se Woord word ‘saamgestel’.

Baie mense sal sê: ons ‘bepaal’ nie God se Woord nie, ons vergelyk maar net die ‘verskille’ tussen die manuskripte.  Dalk is dit nie die bedoeling nie, maar in die moderne praktyk van tekskritiek kom dit ongelukkig daarop neer. Dit sien ons onder andere in die volgende aanhaling:

“Langs hierdie weg (om te weeg) – wat natuurlik baie ingewikkelder is as wat nou in ‘n paar woorde geskets is – word uit al die verskillende manuskripte een teks saamgestel wat na die mening van die betrokke samestellers die naaste aan die oorspronklike kom en dan as grondteks beskou word.” (Kerkblad, Augustus 2005, p.15)

Natuurlik kan’n mens ook vra: as ons nie die oorspronklike het nie, en die ou manuskripte wat ons gehad het, was nié ‘n getroue weergawe van die oorspronklike nie, en die nuwe manuskripte is dit ook nie, hoekanons nog enigsins daarna strewe om “naaste aan die oorspronklike” te kom ?

Hierdie probleem, dilemma en twyfel het natuurlik juis ontstaan nadat ‘nuwe manuskripte’ ontdek is aan die einde van die 19de eeu, en wat op vele plekke verskil van die ou manuskripte.  Die ontdekking is nie die groot probleem nie, maar wel wat daarmee gedoen is en die gevolge wat dit het vir die bestaande manuskripte: die ‘nuwe’ manuskripte is nou ‘beter’ as die ou manuskripte, en dit is ‘nader’ aan die ‘oorspronklike’.

Dit lyk my die enigste legitieme antwoord hierop, is om soos in die verlede gelowig te aanvaar en te bely dat die manuskripte wat die kerk nog altyd gehad het wel betroubare afskrifte is van die oorspronklike grondteks, wat God in sy voorsienigheid vir sy kerk bewaar het, soos dit bv bely word in die Westminster Konfessie, hoofstuk 1.8:

“Die Ou Testament in Hebreeus (wat die moedertaal van God se volk in die ou tyd was) en die Nuwe Testament in Grieks (die taal wat algemeen bekend was aan die volkere toe dit geskryf is), is onmiddellik deur God geïnspireer en deur sy buitengewone sorg en voorsienigheid in alle eeue suiwer bewaar en is daarom betroubaar; sodat in alle godsdiensgeskille die Kerk hom uiteindelik daarop sal beroep. Maar omdat die ganse volk van God nie almal die oorspronklike tale ken nie, wat reg het op en belang het by die Skrifte en wat beveel word om hulle in die vrees van God te lees en te ondersoek, daarom moet hulle vertaal word in die volkstaal van elke nasie tot wie dit kom, dat die Woord van God oorvloediglik in almal kan woon en hulle Hom op geskikte wyse mag dien, en deur die volharding en vertroosting van die Skrifte hoop kan hê.”

3. Vrae

Om dan te beweer dat ‘nuwe manuskripte’ wat later in die geskiedenis ontdek is, nou ons in staat stel om ‘n ‘beter’ suiwerder grondteks vas te stel, laat twee baie ernstige vrae na vore kom vir die kerk en gelowige:

1. was of is dele van my ou Bybel dan nie woord van God nie ?  Is bv. Matt.6:13b en Joh.8:1-11 woord van God of nie ?

Wat word dan anders bedoel met woorde soos:

“Saam met die nuwe ontdekking van ouer manuskripte het die tekskritiek-wetenskap self ook baie ontwikkel. Betroubare metodes om die ouderdom van tekste te bepaal is byvoorbeeld ontwikkel. Die gevolg hiervan was dat daar sedert die laaste helfte van die vorige eeu ‘n meer betroubare grondteks saamgestel kon word. Ons eie Bybelvertalers het vir die 1983-Vertaling ‘n grondteks wat in 1975 saamgestel is gebruik, naamlik die derde uitgawe van die grondteks van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe.” (Kerkblad, Augustus 2005, p.15)

Die gelowige, wat God aanbid, vir Jesus lief het, soek nie sy Woord ‘min of meer’ nie, of ‘minder betroubaar’ nie ?  Met hierdie aanhaling word gesê die OAV is ‘minder’ betroubaar, terwyl die NAV ‘meer betroubaar’ is. Waarmee het die gelowige dan te doen as hy sy OAV lees ?  ‘n Minder ‘suiwere’ woord van God ?

Maar, selfs oor die NAV moet daar dan ook twyfel wees, daarom die twyfelagtige voorwoord in die NAV: “… met die resultate van wetenskaplike ondersoek, maar wat so getrou as moontlik aan die grondteks bly …”

Dit beteken dat die Woord van God nooit vas is nie, maar aanhou verander (evolueer?), soos ‘die wetenskaplike ondersoek’ al hoe meer ‘sekerheid’ vir ons gaan kry deur nader te kom aan die ‘oorspronklike’, want die ontdekking van ‘ouer manuskripte’, wat as ‘beter’ manuskripte beskou en verklaar word, beteken vanselfsprekend:

1. twyfel oor of die ou manuskripte van die verlede wel betroubare afskrifte van God se Woord is/was, en

2. twyfel of ons ooit ‘n werklik betroubare grondteks van God se woord sal hê ?

Dit lyk my die uiteinde van die moderne tekskritiek is, geen sekerheid oor die verlede of hede nie, en dat die kerk en die gelowige afhanklik is van die wetenskaplike ondersoek om sekerheid te skep of hopelik te ontdek.  Tekskritiese positivisme ?

2. ‘n Tweede probleem, is, die teologiese vraag: het God in sy voorsienigheid ‘n ander woord gegee, nou skielik vanaf die einde van die 19de eeu ?  Voor die 19de eeu het God se Woord bv. ook Mark.16:9-20 en Joh.8:1-11 ingesluit, maar na die 19de eeu is dit nie meer Woord van God nie, want die ‘beter’ manuskripte bevat dit nie ?

Die redenering dat die ‘verskille’ (omtrent 15% van die NT teks) nie oor wesentlike sake gaan nie, word goed bedoel, maar antwoord nie die vraag oor wat is nou God se Woord en wat is nie, want dalk ontdek ons oor ‘n paar manuskripte wat nog nader is aan die ‘oorspronklike’ (en dus ‘betroubaarder’ en ‘beter’ is), wat dalk nie die opstanding van Christus bevat nie.  Wat dan ?

Verder, as u redeneer: ja, maar God het ook in sy voorsienigheid vir ons nou ‘beter’ manuskripte gegee, wat nie sekere gedeeltes bevat nie, dan is my kanonvraag: as God in sy voorsienigheid ons nou ‘n vyfde Evangelie gee, of nog ‘n brief van Paulus, gaan ons dit insluit in die kanon, en dan ‘n kanon met 67 boeke hê … want God gee ons mos nou ‘in sy voorsienigheid’ nog ‘n boek ?

Nee, ek glo die eerlike gelowige weg uit hierdie krisis waarin tekskritiek-kanon-grondteks vraag vasgevang is, is om te bely dat God het sy Woord aan ons gegee en getrou bewaar nie net in die aantal boeke wat Hy vir ons deur sy Gees gegee het nie, maar ook in die betroubare manuskripte wat Hy reeds deur die eeue van die begin af vir ons laat bewaar het.   Dit waarvan ons by implikasie bely in ons kanon en gesag artikel van NGB artikel 4 en 5:

“Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg[4] … “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.” – NGB artikel 5

Daarom kan daar nie deur die geskiedenis nuwer grondtekste of manuskripte kom wat vorige manuskripte, wat die kerk deur die eeu as Woord van God gehad het, weerspreek of korrigeer in terme van omvang nie.  Daar kannie ‘beter’, d.w.s. ‘n ‘meer betroubare’ Skrif wees nie, wat die grondteks betref nie.  Anders is ons kanon ‘n geknakte riet, en nie ‘n betroubare maatstok nie, wat nie vas en seker is met die doel “om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig” nie.

Ja, natuurlik kan ons ander manuskripte deur die eeue ontdek, wat ons dan kan vergelyk met die manuskripte wat ons reeds het deur die eeue, en dan kan ons in ‘n voetnota vermeld dat die nuwer manuskripte het nie hierdie of daardie verse nie of het ‘n vers by (a.g.v. bv. moontlike oorskryffoute, nie al die tekste gehad om oor te skryf nie, nie klaar oorgeskryf nie, dittografie, spelfoute, onsekerheid, dwalinge in of uitskryf, ens.)  In die Engelse wêreld kry ons hierdie gebruik by die New King James Version vertaling.

Ek wil my nie inlaat oor al die sogenaamde samesweringsteorië en ander idees waarom daar nou skielik nuwe manuskripte ontdek is nie, of oor die karakter of bedoelinge van voorstaanders vir die ouer of nuwer manuskripte nie.  Dit is baie spekulatief en verdelend van aard, en na my mening nie finaal bepalend vir hierdie saak nie. Allerlei histories-ideologiese argumentekanna beide kante toe sny. Ek glo ons moet bloot die sake broederlik bespreek en nie mense se bedoelinge en motiewe bevraagteken na beide kante toe nie.

Daarom moet ons erns maak met die verhouding “grondteks-kanon-manuskripte en God se Voorsienigheid” deur die geskiedenis.

4. Samevattend

1. ons glo dat God in sy voorsienigheid vir ons 66 boeke gegee het, wat die kerk deur sy Gees ontvang het in die geskiedenis.

Implikasie: daar sal nie deur die geskiedenis ‘n 67ste boek wees om by die kanon te voeg nie.

2. ons glo dat God in sy Voorsienigheid reeds deur die eeue betroubare manuskripte gegee het van die oorspronklike. Ons soek nie nog ‘beter’ of die ‘beste manuskripte’ nie, ons het dit reeds deur die eeue ontvang.

Implikasie: daar sal nie deur die geskiedenis vir ons manuskripte gegee word wat die voriges verbeter in die sin dat dit sekere dele weglaat of byvoeg nie.

3. Tekskritiek en vertalingsimplikasie:  die ouer manuskripte wat die kerke deur die eeue gehad het is die grondteks wat gebruik behoort te word vir vertalings (ook die nuwer vertaling wat nou aan gewerk word deur die Bybelgenootskap), terwyl daar wel in voetnotas bloot vermeld kan word dat manuskripte wat later ontdek is, wel hierdie of daardie vers in het of nie in het nie, sonder om ‘n waarde-oordeel of uitspraak oor die vaste kanon/manuskripte te maak, in navolging van wat ons bely in NGB artikel 2-7.

Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. – Jesaja 40:8


[1] Artikels 1-3 geskryf deur ds. S Le Cornu (GK Careltonville).

[2] Lesing gelewer voor die Gereformeerde Susters, Eikenhof, 11 September 1985 (Ds. Kruger was emeritus-predikant van die GKSA. Hy is oorlede  in Januarie 2006).

[3] Ek sou die OAV ook en juis aanbeveel vir nie-amptelike byeenkomste soos Bybelstudie, katkisasie, huislike gebruik, ens. Die gebruiksnut van die NAV kan gevind word in die vergelyking daarvan met ander betroubare vertalings in bogenoemde nie-amptelike byeenkomste, om dit as ‘n bykomende ‘verklaring’ te gebruik – S. Le Cornu.  


Responses

  1. […] Wat die komende die “2016 vertaling” betref, lyk dinge ook nie te goed nie. Sien die volgende artikel: Die 2016-vertaling, ‘n enkele paar kritiese opmerkings, hier. […]

  2. […] Probleme met die NAV en BAD […]

  3. Beste Slabbert
    Ek het soveel waardering vir die erns waarmee jy hierdie uitgebreide plasing oor die 1983-Vertaling hanteer het. Jou erns oor die presiese woorde van dit wat God vir ons laat opteken het, deel ek volledig met jou. Maar Slabbert, het jy kennis van hoe die grondteks ontstaan het wat gebruik is vir die 1933-Vertaling? Op watter gronde verhef mens die 6 laat manuskripte wat toevallig in 1516 in Basel beskikbaar was toe Desiderius Erasmus haastig ‘n Griekse teks saamgestel het, tot “beste” manuskripte. Is jy bewus dat Erasmus ‘n deel uit Openbaring uit die Vulgaat in Grieks terugvertaal het en selfs ‘n “Griekse” woord geskep het wat nie eens in die Griekse taal bestaan nie? Hierdie Katoliek se teks wat hy self hoeveel keer verander het vir opvolg publikasies, het die basis geword van baie ou vertalings omdat ‘n gedrukte teks maklik bekombaar is. Slabbert, die Griekse teks van die United Bible Societies neem meer as 6500 Griekse manuskripte en meer as 19000 manuskripte van Antieke Vertalings asook duisende aanhalings van die vroeë Kerkvaders in ag in die samestelling van hul teks. Ons Bybelvertalers is nie onverantwoordelike mense nie en hulle is ook nie mense wat ongeër maar net op eie keuse ‘n teks kies nie. Ek nooi jou en al jou lesers uit om ‘n bietjie op my blog by http://www.bybelverskille.wordpress.com te gaan kyk. Daar gee ek die feite wat die verskille tussen die twee vertalings veroorsaak. Mag Rom.10:2 nooit van ons waar wees betreffende die egte Woord van God nie.
    Ek het soveel waardering vir jou, en ek het die Here lief. Op die ou end moet dit in al ons woorde en werke gaan om die EER VAN GOD.

    Seën

    Herman.

  4. Herman, ons moet seker onthou dat alle feite ook ge-interpreteerde feite is vanuit sekere voorveronderstellings. Daarom my sterk pleitdooi vir God se voorsienigheid in die hele debat. Ek glo van harte dat die kerk deur die eeue nog altyd God se Woord het, en dat latere ontdekkings (wat ook nog in die toekoms kan plaasvind) dit nie kan weerspreek nie, en daarom meen ek latere ontdekkings moet in die voetnotas weerspieël word sonder om in die ‘beter vs slegter lesing’ te verval, en dus nie die teks verander nie.

    Laat ek so vra: as ons nog ‘n brief van Paulus ontdek, sal jy meen die kanon moet nou 67 boeke word ?

    Dankie vir jou antwoord.

    ns. is jy bekend met die werke van Van Bruggen, Burgon, Hills, Letis en in SA Erasmus, en wat is jou mening daaroor ?

    Hoe bepaal ons tussen jou ‘feite’ en hulle ‘feite’ ?

    Ek sal soos ek meer kans kry gaan lees daar op jou blog, dankie vir die verwysing.

  5. Herman, stem jy saam met hierdie belydenis:

    “(Westminster Confession chapter 1, 8):

    “The Old Testament in Hebrew (which was the native Language of the People of God of old), and the New Testament in Greek (which at the time of writing of it was most generally known to the Nations), being immediately, inspired by God, and by his singular Care and Providence kept pure in all Ages, are therefore authentical: so as in all Controversies of Religion, the Church is finally to appeal into them.”

    Gaan lees gerus dr. J. van Bruggen se ‘The Ancient Text of the New Testament’, hier:

    http://bit.ly/xX9BOd

    Sal graag jou mening daaroor wil hoor.

  6. Herman, jy skryf:

    “Die eerste lesers, kopieerders asook vertalers van die geskrifte waaruit Nuwe Testament bestaan, het hierdie geskrifte aanvanklik nie as woord van God gesien nie. Vir hulle was slegs die Ou Testament die woord van God, en veral die Griekse vertaling wat hulle algemeen gebruik het, bekend as die Septuagint (LXX). Die kanon van die Ou Testament was op daardie stadium ook nog nie afgesluit nie. Wat vandag as die Nuwe Testament aanvaar word, het hulle gesien as geskrifte van die apostels en ander gelowiges wat die Christelike geloof verduidelik. Vir hulle was slegs die Ou Testament “woord van God”.

    Herman, die ‘eerste lesers’ het Petrus se woorde gelees in sy 2de brief:

    “2 Pe. 3:15-16 15 En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16 net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.”

    Petrus, apostel van Christus (1 Pe.1:1; 2 Pe.2:1), ge-inspireer deur die Heilige Gees (2 Pe.1:19-21), plaas Paulus se briewe op dieselfde vlak as die ‘ander Skrifte’, d.w.s. die OT.

    Dus, OT en Paulus se briewe (en by implikasie die res van die NT) = reeds erken en bekend as die ‘Skrifte’ met die skrywe van Petrus se brief (omtrent 65 AD), die latere kerkvaders het die kanon ‘erken’, nie ‘vasgestel’ nie … net soos enige bybelvertaler en tekskritici die kanon behoort te erken, nie ‘vas te stel’ nie.

    Of is 2 Pe.3:15,16 ‘n later invoeging deur daardie slegte ‘Katoliek Erasmus’ (smiley) ?

    Jy skryf ook: “Die kanon van die Ou Testament was op daardie stadium ook nog nie afgesluit nie.”

    Behalwe die ‘ander Skrifte’ hier bo, ook: wat het Christus dan bedoel met woorde soos:

    “Ek het nie gekom om die wet of die profete te ontbind nie …” (Matt.5:17)

    “Die wet van Moses en die profete en die psalms …” (Luk.24:44)

    En Judas 3: “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”

    Herman, ek is van mening ons moet ook nie so seker wees (ywerig wees volgens Rom.10:2?) oor en vir die moderne tekskritiek se ‘feite’ oor die Bybel nie (of ons blind staar aan die wetenskaplike ‘vermoeë’ van tekskritiek nie, soos dit ongelukkig klink in jou skrywe: ‘moet dit moontlik wees om sonder twyfel die oorspronklike bewoording van die outografieë van die Nuwe Testamentiese geskrifte vas te stel’), en ons dan dalk begin vergeet van die onfeilbare feite ‘in’ die Bybel nie, en ons dalk ook vergeet dat ons ‘het’ die Bybel, nie ons soek hom nog en moet hom nog vasstel nie.

    1 Petrus 1:25 is ons troos, nie net vanaf die laat 19de eeu toe die ‘moderne tekskritiek en wetenskap ontstaan het nie, maar deur alle eeue af, van Adam en Eva, deur die eeue, deur die Reformasie, tot vandag en ‘tot in ewigheid’.

    Sterkte en groete.

  7. Beste Slabbert,
    Ek wil graag enkele opmerkings maak.
    Oor die Kanon. (soos ek dit verstaan)
    Deur die eeue het geskrifte ontstaan waarvan baie God se ingrype en handel met die mens bevat, tot vandag toe. In die OT tyd is sommige van hierdie geskrifte gereeld in die Tempel en Sinagoges gelees terwyl ander wel daar bewaar is en bestudeer is, maar omdat dit nie as genoegsaam gesaghebbend beskou was nie, of verdraaide feite en/of verdigsels bevat het, was dit nie as bepalend vir die geestelike lewe van die gelowiges deur die “kerk” aanvaar nie. Teen ongeveer 200 n.C. het die Joodse kerkleiers tot ‘n besluit gekom oor watter van daardie geskrifte as rigtingewend sal wees en watter nie, en daarmee ook besluit dat geen verdere geskrifte tot die groep bygevoeg sal word nie. So het hulle die Kanon vir hulle gebruik bepaal. Natuurlik is die voorsienigheid van God by hierdie proses inbegrepe en bepalend.
    Natuurlik was die Heilige Gees by die skryf van die NT geskrifte betrokke en is die inspraak van die Heilige Gees nie net erken nie, maar ook bely. Die geskrifte was nog in proses om geskryf te word. Toe Petrus hier na Paulus se briewe verwys het, was nog nie een van die Evangelies of Openbaring geskryf nie. In dieselfde tyd het daar sekerlik ook baie ander briewe en geskrifte ontstaan waarvan, deur God se Voorsieningheid, baie verlore gegaan het, en ander deur die Kerkleiers eenkant toe geskuif is. Dit is later die apokriewe genoem. Ek aanvaar nie dat die Here op ‘n dag vir Paulus (of enige ander NT-skrywer) gesê het: “kom sit nou hier en skryf die volgende aan die of daardie gemeente” nie. Net in Openbaring kry ons ‘n opdrag om te skryf. Ek glo dat Paulus tot God gebid het en iets soos die volgende gevra het: “Here, daar in moeilikheid in Korinthe. Help my deur U Heilige Gees om aan hulle duidelike rigting te gee en U wil aan hulle bekend te maak.” En dan het hy die “Skrifte” wat hy gehad het, bestudeer. (Moontlik ‘n afskrif van die Psalms en Jesaja en enkele van die Pentateug, maar waarskynlik nie die hele OT soos ons dit ken nie.) En daarna het hy onder leiding van die Heilige Gees geskryf. Johannes skryf ook in sy tweede brief dat hy nie die volle Wil van God skriftelik bekend gemaak het nie: “Alhoewel ek baie het om aan julle te skrywe, wou ek dit nie met papier en ink doen nie, maar ek hoop om na julle te kom en van mond tot mond te spreek…” (Vs.12) (Papier het natuurlik toe nog nie bestaan nie. Johannes praat van ‘n blad of bladsy. Reeds die OAV vertaal nie oral letterlik nie, maar soms eerder die begreip!)
    Omdat daar baie geskrifte in daardie tyd ontstaan het, moes die Kerk se leiers besluit watter van hierdie geskrifte bepalend vir die geestelike lewe is, en watter nie. Dit is ‘n proses wat geleidelik gebeur het, en wat eers amptelike begronding gekry het by die Sinode van Hippo in 393 n.C.
    Dit is ook interessant dat selfs Luther bv. nie Openbaring wou aanvaar het nie, en dat die verskillende kerke nie almal dieselfde kanon aanvaar nie. Kanon is ‘n kerklike begrip en onder leiding van die Heilige Gees kerklik bepaal. Ons protestante se kanon verskil van andere s’n. Ek glo ook nie dat, indien ons vandag ‘n verlore brief van Paulus of wie ookal sou ontdek, ons dit noodwendig sou byvoeg tot ons kanon nie. In die kanon is genoeg vervat sodat ons die volle wil van God kan weet en die verlossing kan verkondig. Johannes sê immers : “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (21:25) Hy skryf in sy eerste brief: “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (5:13) Niks meer is nodig nie. As hy in vs.20 sê: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken…” glo ek dat ons ook ons verstand moet gebruik om die foute en veranderinge wat deur die eeue ontstaan het, te identifiseer en die moed moet hê om dit uit ons Bybels te verwyder of reg te stel.

    Oor die bepaling van ‘n bronteks, die volgende:
    Met die oordra van die Bybelse geskrifte het daar foute, byvoegings en weglatings ontstaan. Sommige sonder dat die kopieerder daarvan bewus was, maar ander doelbewus. Hierdie beskou ek nie as onder leiding van die Heilige Gees nie, maar as menselike foute en selfs sondige inmenging met die ware Woord van God. Daarom behoort dit reggestel te word na die oorspronklike Woord van God tot die beste van ons vermoë. Natuurlik is enige verandering weer oorgedra na die volgende afskrif wat daarvan gemaak is. Toe Erasmus die teks vir die eerste gedrukte Griekse teks voorberei het, het hy gebruik wat hy in Basel kon kry. Blykbaar drie tekste van die Evangelies, twee van Paulus en die ander briewe, en net een van Openbaring, sonder die laaste bladsy. Daarom het hy self sy eie terugvertaling in Grieks vanuit die Vulgaat gemaak. Hy en sy drukker Frobenius was sakemanne wat die geleentheid om geld te maak, raakgesien en benut het. Reeds met sy eerste publikasie was daar baie teoloë en Bybelkenners wat uitgewys het dat sy publikasie talle foute bevat het. Maar soos dit in ons wêreld gaan, het baie ander drukkers ook op die wa gespring en ook geld gemaak uit die druk van Griekse tekste. Hulle het die maklikste weg gevolg deur Erasmus se teks te druk en nie manuskripte na te vors om so ‘n beter teks te probeer bepaal nie. Mens moet ook besef dat manuskripte oor die wêreld heen versprei was, en hoe sou iemand in daardie tyd toegang tot baie manuskripte kon kry om die beste te bepaal? Veral die oueres wat as kosbaarheid deeglik bewaar en toegesluit was. (Vandag is dit moontlik deur die moderne tegnologie wat ek glo ons moet gebruik.)
    Ek glo dat dit onverantwoordelik is om enige spesifieke manuskrip as “kanon” en dus as onfeilbaar te verklaar. Nie die kosbare Sinaitikus wat eers in 1859 aan Europa bekendgestel is nie, of die Vatikanus wat vir soveel jare in die Vatikaan bewaar is nie, en ook nie die manuskripte wat Erasmus in Basel van ‘n paar vriende geleen het nie.
    Daarom behoort die ernstige Bybelvertaler alle manuskripte te bestudeer en ooglopende foute en/of verdraaiïngs uitskakel. Hiermee help die teks van die UBS baie. Hulle druk al die verskille onder aan die bladsy. Hierdie kennis oor die oorsake vir verskille is wat ek probeer beskikbaarstel op my blog.
    Die Woord van God is te kosbaar en die verantwoordelikheid te groot dat ons maar net ‘n weergawe tot “kanon” mag verklaar net omdat ons daaraan gewoond geraak het nie. Ook nie omdat dit vir 500 van die 2000 jaar algemeen gebruik was nie! As ons bewyse het dat ‘n verandering 500 of 1500 jaar na die skryf van die NT ontstaan het, mag ons dit nie maar gelate aanvaar net omdat ons vir 80 jaar daaraan gewoond geraak het in die OAV nie.
    Slabbert, besit jy ‘n UBS-teks? Indien nie, skaf een aan en sien self waarvan ek praat. Ek het een bls. ter illustrasie geplaas by http://bybelverskille.wordpress.com/2011/05/30/26-die-beoordeling-van-variasies/

    Seën
    Herman.

  8. Slabbert, vergewe as ek nog iets hier byvoeg, maar ek moet iets sê oor Ds. LS Kruger se stuk.

    Oor Markus 1:4 die volgende:

    Die Sinode van Oos-Transvaal maak in hierdie beswaar ‘n ernstige verwarringsfout. Daar moet duidelik onderskei word tussen die “doop van Johannes” en die “Christelike doop”. Johannes het mense wat reeds binne die verbond was (deur die besnydenis) opgeroep tot bekering (terugkeer) met belydenis van sonde, en het dan die teken van die Johannese doop ontvang as bevestiging van vergifnis van sonde, asook ‘n verbintenis tot ‘n bekeerde lewe. Dit is nie die Christelike doop nie!
    Die Verbondsdoop het juis in die plek van die besnydenis gekom as teken van die inlywing in die Abrahamitiese verbond met God. As ons hierdie onderskeid duidelik het, sal ons besef dat die dwaling van Armenius nie in Mark1:4 ter sprake kom nie.
    Ek vertrou die Sinode van Oos-Transvaal het reeds hierdie probleem opgelos.

    Oor die Onse Vader
    Ds. Kruger sê: “In Matt.6:13 eindig die Onse Vader met: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Die NAV laat hierdie woorde weg. Die vertalers oordeel dat dit ‘n valse byvoeging by die woorde van Christus was. Daarmee verklaar hulle dat die Kerk van die vroegste eeue af misgetas het en trek hulle ‘n streep deur o.a. ‘n gedeelte van die Heidelbergse Kategismus en die bestaande Formuliergebede.”

    Hierop reageer ek as volg:
    Oor hierdie doksologie aan die einde van die Ons Vader-gebed bestaan daar baie en ingrypende vrae.
    Indien Jesus self aangedui het dat ‘n gebed met hierdie spesifieke doksologie afgesluit moes word, waarom het Lukas dit nie ingesluit nie?
    Van Jesus het ons die volledige gebed in Joh.17:1-26. Waarom het Hy self nie hierdie gebed so afgesluit nie?
    Waarom het Paulus nie een van sy gebede so afgesluit nie? (Ef.1:15-23; Ef.3:14-21;)
    Buiten vir die Washington Manuskrip (±450 n.C.), ‘n saamgestelde manuskrip van onseker oorsprong, kom hierdie doksologie eers ná 700 n.C. in Griekse Manuskrip voor. (Ek het ‘n volledige tabel van manuskripte by http://bybelverskille.wordpress.com/2011/06/13/einde-van-die-ons-vader-gebed/ beskikbaar)
    Dit is opvallend dat die doksologie nie net in manuskripte van die Aleksandrynse tekstipe ontbreek nie, maar ook ontbreek in kodeks Besae (Westers) (±450 n.C.) en minuskel familie 1 (Sesareaans) (±1150-1350 n.C.).
    Nie minder as 11 Kerkvaders (20-700 n.C.) haal die gebed aan sonder die doksologie, terwyl slegs Chrysostomus (±450 n.C.) dit wel aanhaal.
    Maar: Tatianus die Siriër (±150) het dit ingesluit in sy saamgestelde Evangelie-verhaal, die Diatessaron waarin hy na wense byvoegings en weglatings gedoen het. Dit kom ook voor in ‘n voorskrifboek oor die Christelike geloof, ‘n soort “katkisasieboek”, die Didache uit dieselfde tyd. Enige een van hierdie twee dokumente kan moontlik die oorsprong van hierdie doksologie wees.
    “…die Kerk van die vroegste eeue af misgetas…” Hierdie is nie ‘n ligetieme afleiding nie. As die Kerk leiding gegee het oor wat ‘n sinvolle afsluiting vir gebede sou wees, beteken dit nie dat dit noodwendig ‘n aanhaling sou wees nie. Ons katkisasieboeke is op die Bybel gebaseer, maar elke woord daarin is nie ‘n aanhaling uit die Bybel nie.
    “…trek hulle ‘n streep deur o.a. ‘n gedeelte van die Heidelbergse Kategismus en die bestaande Formuliergebede…” Hier is ook ‘n foutiewe sirkel-redinasie. (Bybel →ons dokument. Maar ons dokument ≠ bewys vir Bybel nie!) Ons dokumente word saamgestel en gebou op wat ons aanvaar as die Woord van God. As dit blyk dat ons dokument gebou is op ‘n vers wat deur iemand in die Woord “aangepas” is, mag ons nie die Woord ondergeskik stel aan ons afgeleide dokumente nie. “Sola Scritura” beteken nie: “Alleen die Woord in die vorm waarin iemand dit vir ons aangepas het, en soos ons dit verkies nie”, maar “alleen soos God dit self gegee het”. En dit is die uitdaging vir die Bybelvertaler en manuskrip-navorser. Om op legitieme, wetenskaplik aanvaarbare en nugtere wyse alles tot sy beskikking in te span om enige veranderings in Woord van God te identifiseer. Dan moet hy byvoegings, hoe mooi of dierbaar ookal verwerp, en byvoeg wat wie ookal daaruit verwyder het. En ons het genoeg manuskripte, deur al die eeue versprei om die oorspronklike outografieë van die NT met 99% sekerheid vas te stel. As Jesus nie hierdie slot voorgeskryf het nie, durf ons nie een of ander Roomse priester se woorde in Jesus se mond lê nie!

    “Oor die weglating van Skriftelike historisiteit” stem ek saam.
    Hierdie is ‘n baie ligitieme argument. In 1983 kon mens ‘n redelike huis koop vir R100 000! Die kulturele en figuurlike ondertone gaan ook heeltemal verlore, soos Ds. Kruger tereg aandui. Ek spreek die wens uit dat die 2016-vertaling eerder ‘n aanduiding in die kantlyn sal gee i.p.v. in die teks self.
    Ek onderneem om hierdie aangeleentheid aan die Bybelvertalers deur te gee.

    Seën,
    Herman.

  9. “En dit is die uitdaging vir die Bybelvertaler en manuskrip-navorser. Om op legitieme, wetenskaplik aanvaarbare en nugtere wyse alles tot sy beskikking in te span om enige veranderings in Woord van God te identifiseer. ”

    En dit sal nogal help as die moderne ‘onfeilbare teks’, genoem die UBS/NA teks nie die vertrekpunt is vir enige tekskritiek nie, wat dit ongelukkig is al word dit hoe ontken deur iemand wat meen ‘hy werk net met die feite’, en verder, daarom moet ‘n mens enige uitsprake van ‘beter tekste’ en ‘ons het nou genoeg getuienis’ ens ens met ‘n sak sout inneem. Derdens, sien ‘n mens die afkraak van die MT en TR juis met die gogga (Rome) maak vir baba (Protestante) bang – argumente, so asof ons wat bly by die oorgelewerde teks bloot ‘mense’ volg … maar die moderne tekskritici geleerders is die ‘neutrale nugtere objektiewe geleerdes’ wat nie foute maak nie en vir ons die Woord gaan herstel. Lyk meer vir my die hedendaagse bybel genootskap geleerdes (los van die kerk?) meen ons moet eerder hulle volg en vertrou, as die kerk deur die eeue wat die MT/TR bewaar het ?

    As ek sien wat uit bybelgenootskap kom en die meeste (nie almal nie) vertalers en verklaarders se kommentare (sien bv Bybel en Praktyk, Bybellenium, moderne boeke, ens.) is ek baie besorg wat uit die nuwe Bybelvertaling (2016) gaan kom. Sal dit seker as nog ‘n bron kan gebruik, maar of dit betroubaar gaan wees gaan tyd net leer.

    Hier is ‘n goeie bangmaak argument:

    “As Jesus nie hierdie slot voorgeskryf het nie, durf ons nie een of ander Roomse priester se woorde in Jesus se mond lê nie!”

    Ironies genoeg het die Latynse Vulgaat, die Roomse Bybel juis nie die einde van Matt.6;13 in nie, so dit is nie nog ‘n ‘Roomse samesweerdery’ nie. 😉

    • Beste Slabbert
      Jy sê: “…as die moderne ‘onfeilbare teks’, genoem die UBS/NA teks nie die vertrekpunt is vir enige tekskritiek nie…”
      Mens moet die verskil tussen die TR en die UBS-teks verstaan.
      Die TR is gebaseer op Erasmus se 1516 gedrukte Griekse teks: “Erasmus used manuscripts No.1: Gospels (XII), No.1: Revelation (XII), No.2: Gospels, Acts, and Epistles of Paul (XII), No.4: Acts and Epistles of Paul (XV), No.7: Epistles of Paul (XI) and No.817: Gospels (XV).” Dit beteken dat Erasmus slegs drie manuskripte op die Evangelies in ag geneem het, drie op die Briewe en net een op Openbaring. Erasmus gee geen motivering vir sy keuse van bewoording nie. Hy self het honderde veranderinge in sy eie teks aangebring, weereens sonder vermelding van enige rede daarvoor, behalwe vir sy eie twyfel wat hy uitgespreek het oor sy invoeging van die uitbreiding op 1Joh.5:7-8.
      Vanaf 1633 met Elzevier se tweede druk van Erasmus se teks staan dit bekend as die Textus Teceptus. Hoewel hierdie teks met meer as 2000 kere van die Standaard Teks van die Grieks Ortodokse Kerk afwyk, word dit so oorgedra as ‘n “fait accomplu”. Finish en klaar!
      Die UBS-teks maak ‘n voorstel vir ‘n teks. Dan gee hulle ‘n evaluering van hoe grondig hulle hul voorstel beskou. Dan gee die manuskrip-bewyse vir hul keuse. Daarby gee hulle al die variasies op die teks met elk se manuskripbewyse. Die vertaler maak sy eie besluit.
      Die verskil is dat by die TR jy een finale teks het waarvan jy geen begronding het van hoe of waarom dit so saamgestel is nie, behalwe vir die een waaroor twyfel uitgespreek is.
      By die UBS-teks het jy die magdom van Griekse manuskripte, asook die derduisende manuskripte van antieke vertalings deur die eeue, asook die aanhalings van die ou Kerkvaders, almal georden voor jou uitgesprei! Daar is geen vergelyking nie!
      Die TR was doodeenvoudig blindelings vir eeue gevolg omdat dit gerieflik in gedrukte vorm beskikbaar was, of soos Totius-hulle ‘n ander motief gehad het waaroor hulle dit gebruik het.
      Jy praat van “…die hedendaagse bybel genootskap geleerdes (los van die kerk?)…” Ek dank God vir ‘n span werklik “geleerdes” uit verskeie denominasies, eerder as net één katolieke kenner van Latyn wa ‘n Griekse teks haastig saamgestel het om so na moontlik aan die Vulgaat te wees!
      Wat die 2016-Bybel betref: Ek en jy en enigeen kan ons gemotiveerde voorstel deurstuur. (Anders as Erasmus waarvan niemand geweet het nie totdat die “baba gebore was”.) Hierdie manne is manne van integriteit wat werklik na voorstelle kyk. Ek weet want ek het dit al gedoen, en stuur ook Ds. Kruger se motivering vir die behoud van historiese mate en gewigte ens. deur soos ek belowe het.
      Ten slotte: Jy wys my op my fout: “Ironies genoeg het die Latynse Vulgaat, die Roomse Bybel juis nie die einde van Matt.6;13 in nie, so dit is nie nog ‘n ‘Roomse samesweerdery’ nie. ”
      Dankie man, ek vra om verskoning! My eie voorstel vir die oorsprong van hierdie byvoeging tot die “Onse Vader” is Tatianus die Siriër, of die “Didache”. Dus eerder ‘n “Siriese of Griekse priester”! 😉
      Seën,
      Herman.

  10. […] God se voorsienigheid, die kanon en die grondteks […]

  11. Geen vertaling gaan foutloos wees in die sin dat mense wat dit lees iets lees wat nie die bedoeling van die vertalers was nie. Ek is moeg vir die “nit pickers”. Vir wie werk julle – wie betaal julle salarisse? Sê my dit eers voordat ek julle ernstig opneem. Ek gee nie om watter vertaling mense lees nie. My prioriteit is om mense wel te kry om Bybels te bestudeer. Ek glo die Heilige Gees is mans genoeg om die taak aan Hom opgelê te volbring.

    Die oorspronklike grondtekste is nog steeds daar vir mense om te gaan lees, debatteer ens. Ek is onafhanklik en niemand betaal my een enkele sent vir my voltydse geloofswerk nie. Ek behoort aan geen mensgemaakte instelling of denominasie nie. Ek lees en sien niks deur ‘n bril nie. Ek is ‘n lid van die liggaam van Christus – punt. Julle gestry en gesukkel oor doktrine, teologie ens. red geen siele nie. God is in beheer en sal sy Woord beskerm – so simplisties is die waarheid.

    Die kritiek oor die sogenaamde Messiaanse weglating is snert. Die Ou Testament is nie so geskryf nie en dit is beklemtoning nie in die oorspronklike teks nie. Die Messiaanse profesie in die Ou Testament is ooglopend sonder dat dit aksentueer hoef te word. Dit is kommentaar of verklarend en hoort in elk geval nie in die Bybel nie en was nie in die oorspronklike teks nie.

    Maar nou ja – julle moet seker julle salarisse verdien! Oor die akademiese hantering van gondtekste kan daar 365 dae per week en 25 uur per dag debatteer word. Ek het al die bydraes gelees en dit is insiggewend – niks meer nie. Ek is net verwonderd oor die hoeveelheid tyd, middele en arbeid wat hieraan spandeer word.

    Net finale opmerking: hoeveel individue het julle almal – een tot een – die laaste 12 maande tot Christus, die evangelie en Bybelstudie gelei? Hoeveel tyd, middele en arbeid het julle daaraan spandeer? Dit is wat vir Christus saak maak. Dit is die oordeelsvraag wat julle sal moet antwoord!

    Shalom

    Gerhard Potgieter

    • Is Jesus en Paulus ook skuldig aan ‘nit picking’ in Matt.5:18,19 en Gal.3:16 ?

      Hierdie blog is ‘n individu s’n wat op sy eie onkostes onderhou word, daar is geen salaris verdien daaraan betrokke nie. Enigeiemand is welkom om saam te gesels in die comments afdeling.

      Jy is welkom om saam te gesels, maar dit sal help om jou self-regverdigende frustrasies so bietjie te demper, en goeie argumente aan te voer oor jou oortuigings, in plaas van ‘n verbale veroordelende tantrums te gooi.

  12. Goed kom ons kyk nie die antwoord op my kommentaar.

    Gal 3:16? Jy mis my. Die aanhaling van Mat is gepas. Dit is juis die punt. Om Christus in te “vertaal” in die Ou Testament is om te karring met God se Woord soos oorspronklik deur die Heilige Gees aan die skrywers oorgedra.

    Ons kan nie verskil daaroor nie en enige poging om terug te keer na die oorspronklike teks moet ondersteun word gegewe Mat 5:18,19. Ons kan nie die tradisies van denominasies wat hulle kommentaar in die Ou Testament “invertaal” het ondersteun nie. Voetnotas is die verste wat ‘n vertaler kan gaan om profetiese woorde oor Christus te aksentueer in die Ou Testament. Indien iemand nie saam stem nie word Mat 5 sowel as vele ander skrifte misken. Geen akademiese debat is nodig nie. Die eenvoudigste mens kan die waarheid daarvan sien.

    Tweedens. Kom ons kyk verby die blog. Die feit is dat die persone wat die meeste van hierdie bydraes geskryf het in diens staan van instellings wat die vorige paragraaf se waarheid misken omdat dit die uitgangspunt van die instellings is wat hulle finansiële toekoms verseker – ten minste subjektief. Kom ons draai nie doekies om daaroor nie. Kom ons herken naakte waarheid – regte waarheid – en erken dat die wegspringpunt van baie van die argumente gewortel is in foutiewe teologie. Weereens soos die vorige paragraaf bevestig. Ons kan nie deur ‘n bril hierna kyk nie – veral nie ‘n historiese bril van tradisie nie.

    Dan verder word my vraag gesystap maar kom ons vra die vraag deur die mond van Christus Han 1:8. En Paulus Efes 3:6. En Petrus 1 Pet 4:6. Die evangelie is die kern van die Bybel. Dit is die hoofopdrag van Christus en ook van die Heilige Gees deur die apostels soos die Nuwe Testament onomwonde verklaar. Ek vra dus waar is die evangelie? Waar is die daaglikse uitreiking na die verlorenes? Kom ons oorweeg nie eers evangelisasie oor kultuur, taal en ras grense nie. Wat is die bydraers se getuienis ten opsigte van hulle eie evangelisasie roeping?

    Ek sien pragtige uitleg en diep en wonderlike gesprekke hier oor alles behalwe die belangrikste oorweging in enige gelowige se lewe. Kom ons bring die argument straatvlak toe. Jesus gaan die volgende vraag vra – wees verseker daarvan – hoeveel mense het jy saamgebring? Die vraag oor hoeveel puik verwoorde teologiese artikels en argumente ons gebesig het is verder af op die lys……heelwat verder…..nee, nog verder.

    Om terug te kom na die oorspronklike kern feit. Om gesprek te voer oor Messiaanse profetiese skrifte en enige vertaling wat die oorspronklike verander om iets te wees wat anders is as presies die oorspronklike, is nie vir debat nie. Die uitlig van Messiaanse rigtingwysers in die Ou Testament is die werk van prediking waar dit nie ooglopend is nie. Dit is nie die werk van vertalers om dit “in te vertaal” of nie.

    Nadat hierdie grondbeginsel aanvaar is kan ons kyk na ander moontlik foute en dit sou sinvol wees en ook ons plig wees.

    Terloops die volgende voor my laaste opmerkings. My enigste belydenis is die hele Woord van God. Die Vader is my enigste gesag en heerser, my enigste verlosser Jesus Christus en my enigste leidsman die Heilige Gees. My hooftaak is om deur die evangelie van Christus verlore siele te bereik. Dit alles tot eer van Vader, Seun en Gees. Kategismes, formuliere en belydenisse van mense laat my koud omdat dit gekleur en besmet is met mense se idees, tradisies en so kan ons aangaan.

    Net laastens – die kritiek is geldig en getrou an die Woord. Of enige iemand dit verwerp of nie is tussen daardie individu en God maar om in opstand te kom daaroor sal nou nie help nie want die waarheid daarvan kan nie weerlê word nie. Lees miskien mooi ‘n tweede maal deur en vra waar die Woord van God in die bogenoemde argumente misken word. My hoop is dat oë sal oopgaan en passie, oorborrelende passie, vir die evangelie en verlore siele sal posvat en soos ‘n veldbrand versprei. Ek sien eerlikwaar nie eers ‘n kersie brand nie. Bewys my verkeerd en ek juig saam! Open 3:2-3, 3:15-17.

    • Gerhard, ek het Matt.5:18,19 en Gal.3:16 genoem, om daardeur te wys dat Jesus en Paulus detail as belangrik beskou, oor elke woord wat uit God se mond kom (sien ook Matt.4:4 en 2 Tim.3:16). Die ‘jota en titteltjie’ (Matt.5;18) is die kleinste letter en leestekens in die Hebreeus, en vir Jesus is dit belangrik. So moet ons ook besorgd wees oor elke letter en woord van God en hoe dit vertaal word, korrek en nie ‘n verdraaiing of parafrase nie.

      Dit is die lewende Woord van God waardeur mense gered word, daarom moet ons daaroor besorgd wees en dit suiwer bewaar, sien 1 Pe.1:24,25.

      Paulus beredeneer in Gal.3:16 dat Christus, ‘die Christus’ wat ons moet verkondig, dat Hy spesifiek in die OT, spesifiek Gen.12:3; 13;15; 17:8 ens. reeds verkondig is, dus reeds in die OT teks gestaan het, dus reeds Messiaans is. So dit is belangrik dat ons vertalings dit ook reflekteer. Die NT skrywers ‘maak’ nie die OT Messiaans nie, ons moet dit ook nie probeer maak nie, dit is reeds so van die begin af, ons moet dit bloot erken in ons vertalings, berymings, prediking ens.

      Ook die feit dat Paulus ‘saad’ noem en nie ‘sade’ nie, d.w.s. enkelvoud vs meervoud in die oorspronklike taal, wys dat detail baie saak maak, dit maak ‘n verskil tussen die regte en verkeerde lees van die OT, asook verhouding OT – NT.

      As dit ‘sade’ was, dan het dit nie op Christus gewys nie, maar ‘saad’ wys op ‘n spesifieke Individu, ‘n Persoon, Jesus Christus wat sou kom, wat reeds van die begin af daar is (Gen.1:1-3; 3:15), nie later ‘bygevoeg’ is nie.

      Jou ywer is dus goed bedoel, maar heeltemal misplaas. Die feit dat ‘n mens ywerig is om die evangelie elke dag te verkondig, verskoon nie dat ‘n mens onsuiwer omgaan met die Teks waaruit ons Christus verkondig nie, of onverskillig mag wees oor enige vertaling nie. Nie net die boodskap nie maar elke woord is ge-inspireer en van God (2 Tim.3:16)

      Net so min as wat ons denominasies se idees mag in vertaal in ons Bybels, net so min mag individuele yweraars se idees ons onverskillig maak oor die suiwerheid van ons vertalings.

      Dit is nie ‘n of – of kwessie nie, maar en – en: ons moet sorg vir suiwer vertalings én om die evangelie suiwer te verkondig, tydig en ontydig. Dit is wat Paulis vir Timoteus leer in beide 2 Tim.2:15 en 4:1,2.

      Ja, verkondig die Evangelie met passie orals en altyd, maar maak baie seker dat dit in lyn is met die gesonde woorde van Jesus self, 1 Tim.6:3-5. Sien ook die beginsel van Gal.1:9

      Jy maak ook valse teenstellings tussen evangelisasie en ander Koninkrykswerk. Sentraal in ons roeping is die verkondiging van die Evangelie, maar dit stop nie daar nie, ons moet ook leer, onderrig, huwelike opbou, katkisasie, gesinne opbou, gemeentes opbou, in die samelewing hard werk, ons beroepe beoefen, ja alles wat ons doen tot eer van God, groot én klein dinge, 1 Kor.10:31.

      Hoe mense gered word se doel is: die eer van God in alles, ons word gered om dankbaar te lewe in heiligmaking. Die finale doel is nie die redding nie maar die eer van God.

      Die suster wat bv haar kinders by die huis die evangelie bring, haar man onderdanig is in Christus, haar dogters van 1 Tim.2:15 leer, haar huis versorg, ens., is net so veel besig met die Here se roeping, as die deeltydse of voltydse sendeling, evangelis of predikant.

      Dit is dalk vir jou ‘n skok, maar jou ywerige evangelisasie werk is nie meer heilig as die weduwee wat 2 oortjies in die skatkis gegooi het ter wille van die onderhouding van die tempeldiens/erediens nie (Mark.12:41-44). Sy doen dit juis sodat die Evangelie verkondig sal word. Elkeen dra by met hul besondere gawes en kragte in sy koninkryk.

      Die Here sal donkies en klippe gebruik vir sy werk, as Hy dit verkies, ons is maar bloot instrumente.

      Die yweraars wat rondloop en roem op hulle ‘siele wen’ en ek het vandag soveel mense van Jesus vertel en gered ens (dus tellings hou) …. laat my meer dink aan die Fariseers se ywer om gesien en gehoor te word (bid op hoeke, voorste ry gaan sit, ens), as om die Here nederig te dien daar waar jy geroep word met jou spesifieke gawes, en die resultate in die Here se hand te los.

      Jesus noem ook iewers van jou linkerhand moet nie weet wat jou regterhand doen nie. Geld dit nie ook vir ons evangelisasie verkondiging nie ?

      Wie van ons kan ooit sê dat ons genoeg die evangelie verkondig ? Ons moet dit tydig en ontydig doen waar die Here ons roep, party voltyds, ander deeltyds, party deur kerke, ander weer in die alledaagse lewe, ens. Weereens ‘n en-en situasie, solank die ware Evangelie net verkondig word !

      Jy maak ook valse aantuigings oor die inhoud van die blog, gaan kyk maar gerus in die ‘categories’ hoeveel verskillende onderwerpe word aangeraak, nie net vertalingskwessies nie, maar ook oor sending, evangelisasie, preke, woordoordenkings, gemeente opbou, ens.

      Sien ook die onlangse plasing van:

      https://proregno.com/2012/11/14/kelkiewyn-jg-5-nr-3-wie-se-julle-is-jesus-2/

      asook:

      https://proregno.com/2011/06/09/maar-julle-wie-se-julle-is-ek-jesus-christus/

  13. […] [19] https://proregno.com/2011/07/27/probleme-met-die-nuwe-afrikaanse-vertaling-1983-2016/ […]

  14. […] [21]    https://proregno.com/2011/07/27/probleme-met-die-nuwe-afrikaanse-vertaling-1983-2016/ […]

  15. […] Probleme met die 1983 en komende 2016 vertaling […]

  16. […] [21]    https://proregno.com/2011/07/27/probleme-met-die-nuwe-afrikaanse-vertaling-1983-2016/ […]

  17. […] leesmateriaal in Afrikaans beskikbaar. Dit is net jammer dat die vertalers gekies het vir die onbetroubare NAV (1983-vertaling), en nie die betroubare OAV (1933/53-vertaling) in die reeks […]

  18. […] Probleme met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983 & 2016) […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: