DIE UITBEELDING VAN JESUS CHRISTUS
deur ds. Hannes Noëth
(Gereformeerde Kerk Kimberley)
Mag Jesus Christus as mens uitgebeeld word? Ons word so dikwels met hierdie vraag gekonfronteer. Aan die een kant die duidelikheid van die tweede gebod waarmee ons van moederskoot af al onderrig is: ons mag God nie afbeeld nie. Aan die ander kant die aktuele uitroep van opregte gelowiges wat bely en getuig hoe hulle deur films en prentmateriaal die evangelie van Jesus Christus verkondig. Mag ons Hom as mens uitbeeld?
Tog interessantheid dat daar oor die uitbeeld van God as Drie-enige God baie min gesprek is. Amper ‘n vanselfsprekende taboe. Ook heeltemal tereg, want God is te onbegryplik, te almagtig, te groot vir ons verstand – in Sy wese (NGB artikel 1) sal ons hom nooit kan uitbeeld nie.
Wanneer dit egter oor sy mensheid gaan dan word die vraag meer aktueel: mag ek Jesus Christus uitbeeld?
- · Sommige onderwysers en skoolhoofde gebruik uitbeeldings graag by skole vir openinge en godsdiensonderrig.
- · Sommige kerke gebruik uitbeeldings in passiespele en toneelstukke.
- · Sommige kunstenaars gebruik uitbeeldings in die weergee van hulle kunswerke.
- · Sommige regisseurs gebruik uitbeeldings in die maak en verspreiding van films.
- · Sommige sendingwerkers gebruik die uitbeeldings op die sendingveld.
- · Sommige gelowige gesinne gebruik kinderbybels met hulle verbondskinders waarin Jesus uitgebeeld word.
‘n Praktiese voorbeeld van die uitbeelding van Jesus Christus: Op 25 Februarie 2004 word ‘n film vrygestel wat die wêreld aan die gons het. Die film is getiteld: “The Passion of Christ.” Aangesien die onderwerp van die film, die lyding en sterwe van Jesus Christus is, het menige Christen leiers, kerke en belydende Christene die film baie lof toegeswaai. Hierdie film word deur resesente beskou as die beste ooit in die uitbeelding van die lyding van Jesus Christus. Die film word lof toegesing as ‘n godsdienstige-geestelike ervaring. In slegs die openingsnaweek van die film word die uitgawes van R170 miljoen ge-in en kry die regisseur, Mel Gibson, sy geld terug. Terwyl hierdie film baie lof ontvang, sidder ander gelowiges oor die oortreding van die tweede gebod en God wat uitgebeeld word.
Mag ons Jesus Christus as mens uitbeeld?
Die antwoord op hierdie vraag word gewoonlik van drie kante af beantwoord:
– Ja ek mag, ter wille van die evangelie en die verspreiding van die verlossingsboodskap is enige wyse geoorloof.
– Nee, ek mag glad nie, want God verbied alle uitbeeldings in die tweede gebod.
– Dan is daar ook die meer gematigde standpunt wat sê dat dit soms geoorloof is.
Maar wat sê die Woord? As Gereformeerdes soek ons altyd die antwoord in die Woord alleen (Sola Scriptura).
Die apostel Paulus skryf vanuit die tronk aan die Filippense (Fil. 1:12-26). Hy skryf sy blydskapsbrief. ‘n Brief waarin hy juig oor die evangelie. Al sit hy in boeie, die verlossingswerk van God is so groot dat hy nie anders kan as om te juig nie. In vers 18 skryf hy dan ook dat op allerhande wyses word Christus verkondig en dit is vir hom belangrik. Ons moet egter waak daarteen om te dink dat Paulus dit goedpraat om pragmaties te werk en te dink. God kan soms met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan. Dit weet ons, want God is Almagtig. Dit is nie te betwyfel nie. En mens hoor soms sulke getuienisse. Van mense wat aangegryp is deur ‘n film of ‘n uitbeelding wat hulle nuuskierig gemaak het. Tog is dit duidelik dat dit nooit enigsins die reël kan wees of kon wees nie, want daar is ‘n ander, belangrike kant van die saak, naamlik die Tweede Gebod in Eksodus 20:4. God se gebod vir sy kerk – jy mag nie afbeeldings van God maak nie.
Hierdie kant van die saak word gerieflikheidshalwe deur die massas, ook die massas in die Christendom geïgnoreer. Dit mag nie. In ons Heidelbergse kategismus word die tweede gebod verklaar deur te sê dat “God nie afgebeeld mag word nie, of op ‘n ander wyse vereer mag word as wat Hy in sy Woord beveel nie.”
Hy mag dus glad nie uitgebeeld word nie, want Jesus Christus is ook God. En God kan ons nie uitbeeld nie. Daarom in gehoorsaamheid aan die tweede gebod en in lyn met ons belydenis (Heidelbergse Kategismus, Sondag 35) beeld ons God op geen enkele manier uit nie. Ook nie die mensheid van Jesus Christus nie.
Die kernargument wat dikwels gebruik word ten gunste van die uitbeelding van Jesus Christus is om te sê maar Christus was tog ‘n mens en hy het geloof binne ‘n bepaalde konteks, binne ‘n bepaalde tydstip. Daarom dat baie kerke (o.a. die Rooms Katolieke kerk) die gebruik het om Jesus na sy mensheid uit te beeld. So het die Rooms Katolieke kerk geleer dat uitbeeldings gebruik kan word vir waar mense die Woord nie verstaan nie. Dit klink amper soos ‘n moderne siening wat dikwels in die sendingveld gehoor word. Beeld Jesus uit vir hulle wat die Woord nie kan verstaan nie. Ons moet onthou dat hierdie een van die groot redes was hoekom die hervorming plaasgevind nie. Die kerk moes terug reformeer na die Woord.
Dit is wel so dat sy dissipels saam met Hom geloop en gewandel het en hom elke dag na sy mensheid gesien het. Tog het God dit so beskik dat nêrens aan ons geopenbaar is dat hulle op enige wyse homself, selfs na sy kruisiging afgebeeld het nie. Die tyd van sy menswording was ook op so ‘n stadium in die wêreldgeskiedenis dat sy mensbeeld nie vasgelê is deur foto’s, video’s en so meer nie. God wil nie dat ons aan ‘n mensheid-beeld van Jesus vashou nie. Hy wil vereer word soos Hy in sy Woord aan ons openbaar. Ons het nie af- of uitbeeldings nodig om hom te preek of te openbaar nie.
Ons het nie uitbeeldings van Jesus Christus nodig nie, want
- · die Skrif is verstaanbaar vir almal,
- · die Skrif is genoegsaam vir almal,
- · die Skrif (en die Gees van God) het nie hulpmiddels nodig om Jesus meer verstaanbaar te maak nie.
Die gebruik van die heidene om van hulle afgode beelde te maak, mag nie oorgedra word na die kerk waar ons vir die wêreld moet wys hoe lyk ons God nie.
Laat ons dan in die uitbeelding van Jesus na sy mensheid enkele sake ingedagte hou:
- · Niemand weet hoe Christus gelyk het nie. Alle uitbeeldings van Christus is dus niks anders as subjektiewe voorstellings en fantasie van betrokke kunstenaars.
- · Niemand kan Jesus ooit na sy Godheid uitbeeld nie. Om Hom net na sy mensheid uit te beeld maak nie sin nie. Dit is ‘n eensydig uitbeelding van Christus dus. (Selfs die mees bloederige, walglike, miskien realistiese uitbeelding van sy lyding is maar gering, ek kan nie reg laat geskied aan sy lyding nie. Dit beeld immers maar sy fisiese lyding uit en kan die hart van sy lyding, die feit dat Hy van Sy Vader verlaat was, nie uitbeeld nie.) Hoe beeld ‘n mens die toorn van God oor die sonde werklik uit?
- · Meestal word die mens Jesus net uitgebeeld in sy vernedering en kom daar min tereg van sy verhoging, sy opstanding, sy hemelvaart, die bestyging van sy heerskappy.
Saamgevat kan ons dus sê daar is niemand van ons wat kan sê dat God nie ‘n uitbeelding van Jesus sou kon gebruik in sy Raadsplan nie. Natuurlik kan Hy.
Maar die Skrif leer ons om Jesus nie uit te beeld nie. Laat ons versigtig wees om ander vorme as die Woord van God te soek om Christus te verkondig. Laat ons in gehoorsaamheid aan die tweede gebod geen afbeelding van Hom maak nie. Ook Jesus Christus moet ons na sy mensheid nie uitbeeld nie, glad nie, Hy is veel MEER as net ‘n mens wat in ‘n beeld vasgelê kan word.
Ons het die uitbeelding van Jesus Christus nie nodig nie. Die Woord is genoeg. Ons bely so mooi en duidelik dat “ons nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beeld nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig” (Heidelbergse Kategismus antwoord 98).
Leave a Reply