Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner ? – deel 1

20??

Deur die Here se voorsienigheid, is die gereformeerde geloof en kerk met die Nederlandse verversingstasie in 1652 aan die suidpunt van Afrika geplant.  Met die Statenvertaling, Psalmboek en a’Brakel se Redelijke Godsdienst is die Afrikanervolk gevoed en gevorm, een volk en een kerk.  In die woorde van prof.dr. HG Stoker, “Die Calvinisme is die wortel van ons volksbestaan“, dit is ‘n historiese feit, of mense nou daarvan hou of nie (dit sou eers in die 2de helfte van die 20ste helfte radikaal verander soos meer Afrikaners oorgegaan het na baptistiese en ander nie-gereformeerde kerktradisies).

In die middel van die 19de eeu het die een Gereformeerde Kerk vir die Afrikaner radikaal verander (nadat die Verligtingsdenke van Europa uiteindelik in die Kaap geland het en beide kerk en staat/volk beïnvloed het), en het die Afrikaner hom na ‘n paar dekades erg verdeeld gevind in beide kerk en staat, wat gelei het tot wat later bekend sou staan as die ‘drie susterskerke’ (vir my siening oor hierdie kerkstryd en verloop van gebeure in die 19de eeu tot en met 2004 spesifiek in en oor die GKSA, sien my artikel by: ‘n Gereformeerde perspektief op die geskiedenis en huidige ontwikkelinge  in die GKSA (tot en met 2004).  In die 1980’s sou daar nog ‘n ‘stiefsuster’ bykom as ‘n moontlike geestelike tuiste vir die Afrikaner (Die Afrikaanse Protestantse Kerk), asook ‘n (baie) klein groepie Afrikaners wat na die vrou in die amp in die NGK toegelaat is, die Vrygemaakte Gereformeerde Kerke gaan opsoek het as ‘n geestelike tuiste (‘n klein kerkverband met ‘n sterk nederlandse agtergrond wat sedert die 1950’s hier gevestig het vanweë die immigrasie van Nederlandse burgers na SA).

Al vyf hierdie kerkverbande het die Drie Formuliere van Enigheid as hul belydenisgrondslag, maar in leer, diens en tug asook kerklike belewing is daar groot verskille en daarom dat volgens my kennis nie een van hierdie kerkverbande naby versoening en eenwording is nie.

Die gereformeerde Afrikaner, in navolging van NGB art.27-32 moet biddend worstel waar hy en sy gesin hom in hierdie kerklike krisistye moet voeg, ook opnuut vra of die plaaslike kerk en plaaslike kerke saam (kerkverband as uiting van die eenheid van die Christelike kerk wat ons bely) waaraan ons behoort nog kerke van Christus is en wil bly.  Party se mening is bloot, jy bly in die kerk van jou geboorte en volk, ongeag hoe liberaal en afvallig daardie kerke en/of kerkverband raak.  Ander wil weer vir die kleinste rede/ongelukkigheid gemeenskap opgee en van een gemeente tot ‘n ander, en/of een kerkverband na ‘n ander spring soos die gety/behoeftes draai (in Engels praat hul van ‘church hopping’).

Ek is nie so bekend met huidige verwikkelinge in die AP Kerk of VGK nie, daarom sal ek nie verder daaroor kommentaar lewer nie. Die feit dat laasgenoemde nooit werklik ‘verinheems’ het nie (en ook nie daaraan glo nie, ten minste nie vir die Afrikanervolk nie, maar wel vir ander volke hier aan die suidpunt van Afrika), en ook nie werklik ‘n diepgaande begrip het vir die gereformeerde Afrikaner se roepingsbewustheid in terme van kerk én volk nie (daar is ongelukkig ‘n eensydige beklemtoning van alleen ‘n kerklike roeping in kontras met die volksroeping, iets van ‘n genade wat die kultuur opeet, en nie soos Bavinck dit sal stel: die genade heilig die natuur, en vernietig dit nie), en sal dit na my mening nooit ‘n geestelike tuiste vir die gereformeerde Afrikaner word nie, behalwe in enkele gevalle.

Wat die tradisionele susterskerke betref, is daar in elkeen van hierdie 3 kerkverbande ‘besorgde groepe’ oor verskillende redes/sake.  Hier volg nou ‘n oor-vereenvoudiging aangesien daar baie ander sake en detail ter sprake is, maar ek noem die 3 sake ter wille van gesprek soos ek dit beleef:

1. NGK – skepping vs evolusie debat (sien http://www.glodiebybel.co.za/ groep)

(Hier moet ook bygenoem word die onlangse aanvaarding van die Belhar belydenis by hul algemene Sinode in Oktober 2011, sien hier.)

2. NHK – die apartheidsdebatte (sien die http://www.steedshervormers.co.za/ groep)

(‘n Wesentlike saak wat ook in die NGK en NHK woed, veral vanaf 2000 toe die ‘Jesus Seminar’ ongeloofsteologie die kerke getref het [en die ‘Nuwe Hervorming tot gevolg gehad het[, is oor ons belydenis aangaande Jesus Christus (volkome God én volkome mens, of slegs mens?; letterlike vs simboliese opstanding, ens. Sien: Skrifkritiek en Opgestaan).

3. GKSA – die vrou in die ampte debatte (sien my blog hier: vrou in die ampte). Na 30 jaar [?] kom hierdie debatte nog steeds nie tot ruste nie (die GKSA se sinode in Januarie 2012 gaan weer oor ‘n klomp beswaarskrifte ten gunste van VIDA moet oordeel, hoe lank die damwal gaan hou, sal ons moet sien.  En, wie weet, na die streeksinodes wat hierdie week plaasvind, gaan die aanry van beswaarskrifte na die Sinodesaal dalk so lyk:

(hier moet ook bygevoeg word dat die debat oor skepping vs evolusie meer op die voorgrond begin tree, veral nadat ‘n professor van die kerkverband ‘n ruk gelede ‘n artikel geskryf het wat die historisiteit van Gen.1-3 bevraagteken, sien hier).

Die beste van apologete van elkeen van hierdie besorgde groepe sal vanselfsprekend erken dat daar onderling oor vele sake verskille met mekaar is, selfs binne elke groep onderling.

Hier is my beoordeling: die besorgde groepe in die NGK en NHK is blykbaar lankal verby die VIDA debat, dit wil voorkom asof hul meen dit is maar ‘n ‘middelmatige saak’ en dat daar ‘nou’ belangriker strydpunte is (bv. skepping vs evolusie; die akkomodering van die Jesus Seminar/Nuwe Hervorming-‘teologie’, Belhar, homoseksualisme, ens.).

My vraag/opmerkings is dan:

1. gaan ons maar aanhou die doelpale verskuif, waar gaan dit eindig ?

2. onderliggend aan al drie sake: skepping vs evolusie, Jesus Seminar/Nuwe Hervorming en VIDA (asook bv. die aanvaarding van homoseksualisme), is Skrifbeskouing, en met Skrifbeskouing bedoel ek die gesag, genoegsaamheid, duidelikheid en onfeilbaarheid van die Heilige Skrif soos ons saam bely in NGB artikel 2-7.

Om dit heel konkreet aan my besorgde broers en susters in die ander kerkverbande te stel:

Hoekom is bv. Gen.1:1 en Ex.20:11 ‘duidelik’ en moet ons onvoorwaardelik daarvoor buig, maar 1 Tim.2:11,12 is nie meer so ‘duidelik’ nie ?  As ons die een mag ongehoorsaam wees deur VIDA in ons kerke toe te laat, hoekom nou nie ook ‘n ‘simboliese sosio-historiese verklaring’ van Gen.1 tot 3 ook toelaat ter wille van ‘belangriker sake’ en ‘eenheid’ nie ?

Om dit nog duideliker te stel: dit is die onderlinge verkeerde (barthiaanse, skrifkritiese en sosio-historiese) Skrifbeskouing wat in die 70’s in die NHK en in die 80’s in die NGK die vrou in die ampte toegelaat het, wat nou die res van die dwalings inbring, o.a. evolusie, belhar bevrydingsteologie, homoseksualisme, ens.  … en waarheen my kerkverband ook oppad is, as daar nie dringende bekering en reformasie kom nie.

Soos met die herstigting van die Gereformeerde Kerke in 1859 was die onderliggende wesentlike saak, Skrifgesag en Skrifbeskouing,wat tot uiting gekom in die aanbiddingkwessie, wat sing ons tot God’s eer, die Psalms.

So is dit ook met sake soos skepping vs evolusie, VIDA, die verhouding tussen kerk en kultuur, ens.: wat is die onderlinge Skrifbeskouing van hierdie sake, wat is bv die Skrifbeskouing wat die Belhar belydenis kan aanvaar, dit is die wesentlike saak waaroor besin moet word.

Ongeag dan die huidige verskille tussen besorgde lidmate van die ‘drie susterskerke’, is daar tog hoop, aangesien ek meen daar twee wesentlike sake is wat hierdie besorgde groepe (hopelik) reeds saambind, naamlik:

1. die belydenis dat Jesus Christus waarlik God en mens is, volkome God en volkome mens (soos in die drie ekumeniese belydenisskrifte verwoord word), en, dat Christus die enigste weg, waarheid en lewe is (Joh.14:6), die enigste ware Verlosser en Koning van alle volke (en dus dat die mens gered word uit genade, deur die geloof alleen sonder enige werke, Ef.2:8-10), soos ons bely in die Drie Formuliere van Enigheid.

2. Dat die Bybel die onfeilbare ewige Woord van God is wat die finale standaard en gesag is van leer en lewe (soos ons bely in NGB 2-7, HK v/a 21).

Ek glo, hoop en vertrou dat op hierdie basis, besorgde gelowiges met mekaar in gesprek kan tree oor dit wat hul saambind, maar ook wat histories en prinsipieël mekaar skei om nie saam om een Nagmaaltafel te sit nie.

Mag ons Here Jesus, die enigste Hoof en Koning van sy kerk, almal saambring wat bymekaar hoort (al vyf die bogenoemde kerkverbande wat dieselfde belydenis deel) op grond van die Heilige Skrif soos ons dit glo en bely volgens die gereformeerde belydenis.

In deel 2 gaan ek ‘n ou boek bespreek en aanbeveel om ons verder te help met die besinning oor die gereformeerde Afrikaner se kerkwees in die 21ste eeu.  Soos een teoloog dit gestel het: die wat die verlede bestudeer stel belang in die toekoms (RJ Rushdoony), en daarom is dit nodig om die kerkgeskiedenis te bestudeer vir vandag en die toekoms van môre.  Hierdie boek, ongeag sy ouderdom en sake wat dalk vandag nie meer relevant is nie, is ‘n profetiese getuienis teenoor al ons kerke, die GKSA (veral) ingesluit.

“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” – Jer.6:16

Hier is solank die skrywer en boek se naam as u dit wil begin lees:

Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk ?, deur ds. LS Kruger

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.” – HG Stoker (beklemtoning bygevoeg).

Deel 2:  Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: