Posted by: proregno | December 5, 2011

Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner ? – deel 3

 

Ds. LS (Louis) Kruger se boek is hier volledig beskikbaar:

Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk ?

Hier volg nou ‘n paar aanhalings uit ds. Kruger se boek onder verskillende temas ingedeel. Die bladsynommers in hakies na die aanhalings is van die derde gedrukte uitgawe wat ek het (die oorspronklike bladsynommers kan u in die teks van die elektroniese weergawe vind). Lees asb. deel een en deel twee van hierdie reeks as agtergrond van deel 3, veral die volgende opmerking:

“Hierdie boek, ongeag sy ouderdom en sake wat dalk vandag nie meer relevant is nie, is ‘n profetiese getuienis teenoor al ons kerke, die GKSA kerke (veral) ingesluit.”

Hier volg twintig aanhalings uit die boek (met my eie opmerkings hier en daar na elke aanhaling):

1. Wat is die kerk ?

“Voordat ons kan spreek oor “kerk” moet ons vooraf eers presies weet wat ‘n kerk is. Die woord “kerk” kon van die Griekse “kuriake” en beteken: “wat aan die Here behoort”, ‘n Kerk is dus nie maar net ‘n vereniging of genootskap waaraan u na willekeur kan behoort of bedank al na gelang van u eie smaak nie, maar omdat dit die liggaam van Christus is (Ef. 1:22, 23) dring die Heilige Gees ons daartoe, en as deelgenoot aan die liggaam van Christus behoort ons aan die kerk met liggaam, met siel, met al ons kragte, met ons verstand.

En volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 28, is iedereen skuldig om hom by die ware kerk te voeg. Art 29 gee daarop aan ons die kenmerke van die ware kerk: (1) Die suiwere prediking van die Woord, (2) die suiwere bediening van die Sakramente, (3) die toepassing van die tug.

Waar een van hierdie drie kenmerke ontbreek, mis daardie kerk iets van kerk te wees van Jesus Christus.” [8]

Opmerking: vandag het ons ‘n krisis in kerkbeskouing, soos mense of heeltemal kerklos raak of lidmaat bly van kerke wat die ware leer verlaat het.  Elke gereformeerde lidmaat, veral elke vader van sy huis moet opnuut NGB art.27-32 bestudeer en vra: ondersteun ek met my lidmaatskap en bydraes die ware leer en ware kerk of die valse leer en valse kerk ?

2. Die praktiese uitlewing van die leer van die kerk

” ‘n Naam tel egter nie alles nie. Dit is die leer van ‘n kerk wat sy wese en die egtheid van sy naam bepaal. Die leer van die kerk.

‘n Kerk word geken deur sy besondere belydenisskrifte, en dan nie net wat betref die belydenisskrifte op papier nie maar ook deur die houding van die kerk teenoor daardie belydenis­skrifte en bo alles die praktiese uitlewing daarvan.

Om ‘n voorbeeld te noem: Dit help niks vir die sinode van ‘n kerk om te sê dat hy byvoorbeeld die Drie Formuliere van Eenheid aanvaar en sy predikante aanvaar dit nie ten volle nie. Dit help ook niks om elke dag op die hoeke van die strate uit te roep dat jou leer Gereformeerd is maar in die praktyk van die lewe word die essensiële leerstukke van daardie belydenis, soos byvoorbeeld die predestinasieleer en die verbondsgedagte verwerp, die prediking in die kerk as Woordverkondiging word verwater tot ‘n storieboek; die sakramente word willekeurig, en in stede van Gods Verbondsgedagte te verkondig, word daar verval in sektariese bekeringsveldtogte wat maak asof geen Verbond en geen Verbondsgenade is nie.” [16,17]

Opmerking: Glo ons nog werklik van harte wat ons bely en leef ons dit uit in woord, daad en gedagte? Onthou ook die ‘vergete’ kenmerk van ‘n ware kerk soos ons dit bely in NGB art.29, naamlik:

“Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.”

Is persoonlike- en gesinsheiligmaking ‘n kenmerk vandag van ons gereformeerdes, ‘behoudendes’, ‘konserwatiewes’, ‘fundamentaliste’ of wat ook al ons onsself of deur ander genoem word ?  Soos een gereformeerde predikant dit stel: wat is ons verhouding met Christus, ook ons wat (tereg) besorg is met die evolusie, vrou-in-die-amp en belharbevrydingsteologie dwalinge ? 

3. Oor Karl Barth

“Volgens Barth is die Bybel “‘n menslike boek en geen orgaan van God se direkte mededelinge nie”. As hy spreek dat die Bybel die Woord van God is in soverre God dit sy Woord laat word bedoel hy dat die Bybel slegs Gods Woord word op daardie oomblik dat God ingryp, en die Bybel word Gods Woord elke keer deur ‘n nuwe daad van God. Die Bybel is dit nie.

Hiervolgens is die Bybel ‘n gewone menslike boek. Wanneer God nou iets aan die mens wil meedeel, maak Hy wel gebruik van die Bybel. In soverre is die Bybel nou die Woord van God. Maar dat God deurgaans in die Bybel spreek of dat alles in die Bybel as Woord en Openbaring van God beskou moet word, is volgens Barth nie waar nie.

Hy wil nie hê dat ons die Bybel as die Openbaring van God mag beskou nie. Wel het God in die verlede die Bybel tot Woord van God gemaak toe Hy deur middel van hierdie menslike geskrif iets aan iemand te sê gehad het, en sê Barth, ons kan maar net hoop dat Hy dit weer in die toekoms wil doen.

In stryd met ons Geloofbelydenis, art. 3, verkondig hy dat die Kerk ter wille van ‘n valse sekerheid ‘n wêreldse gedagte oor die Bybel gekoester het, naamlik dat die Bybel geïnspireer sou wees deur die Heilige Gees!

Nog meer, die Bybel self is vir hom nie die openbaring van God nie, maar die Bybel is enkel en alleen ‘n suiwere menslike woord van die openbaring.” [74]

4. Die skepping en sondeval

“Die verhaal van die skepping soos die Skrif dit kortliks aan ons weergee, is vir Barth nie ‘n historiese werklikheid nie. Dit kan, volgens hom, slegs in die vorm van ‘n suiwere sage tot ons kom.

DUS: Moses lieg as hy spreek hoe die skepping geskied het, en die woorde van Genesis hoofstuk 1 en 2 is volgens Barth maar net ‘n volksteorie. Ons hoef dit nie te glo nie!

So is daar ander dinge wat vir hom geen historiese betekenis het nie, byvoorbeeld of die verbondshoof, Abraham, werklik geleef het of nie. Presies dieselfde geld vir die historisiteit van Jesus.

Genoeg vir u wat die Woord van God as waarheid nou, om te weet waarom u Gereformeerd is!

Gen. 1:31 gee aan Barth nie ‘n beskrywing van die wêreld voor die val nie maar van ‘n wêreld in sondeloosheid. Dit beskryf die hedendaagse wêreld, want volgens Barth is daar geen plek vir die historiese sondeval nie!

Wanneer Barth en sy dissipels spreek van “sondeval” be­doel hulle nie dit wat die Bybel leer nie, maar “sondeval” is vir hulle ‘n bo-historiese gebeurtenis, iets wat eintlik ‘n gebeure is in die wese van God.

“Ons is,” so skryf prof. dr. Van Niftrik, professor in die Nederlandse Herv. Kerk, “uit ons oorsprong in God uitgeval”. Voeg nou hierby hulle leer wat inhou dat om skepsel te wees beteken om sondaar te wees, dan word die oorsprong van die sonde nie meer aan Satan nie maar aan God self toegeskryf!

Duidelik genoeg dat Barth en sy volgelinge die historiese sondeval soos die Bybel dit aan ons beskrywe, loën.

So gaan hulle in hierdie leerstuk ook in teen die Skrif en die Belydenis. In hierdie verband noem ons net Rom. 5:12: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het ….”, met verdere verwysing na verse 15, 17, 18 en 19a.

Vergelyk verder Heidelbergse Kategismus vraag 7; “Waar kom die verdorwe aard van die mens dan vandaan?”

“Antwoord: Uit die val en ongehoorsaamheid van. ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die Paradys, waar ons natuur so verderwe is, dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.”

Ons as Gereformeerdes glo in die werklikheid van die sonde­val, omdat ons nie die Satan as ‘n bondgenoot het nie, en daar­om het ons die vurige behoefte aan Gods genade in Jesus Chris­tus.” [75,76]

Opmerking:  Ongeag dat Barth ‘n sterk kritiek uitgespreek het teen die liberale en moderne teologie, is sy teologie en veral Skrifbeskouing juis die brug na die liberale en moderne teologie.  Sien ook die volgende skrywe om te sien hoe die GKSA teoloog, prof. Nico Vorster, hom op Barth beroep vir sy siening dat Gen.1-3 ‘sage’ (en nie geskiedenis) is nie, asook hoe Barth se beskouing van Genesis 1 tot 3 in stryd is met die Skrif: Skepping en erfsonde – ‘n paar opmerking in antwoord op dr. Nico Vorster se artikel: Die teologies-polemiese gerigtheid van Genesis 1-3: implikasies vir die gereformeerde leer oor die erfsonde. Sien ook: Genesis en teologie: ‘n Antwoord op Nico Vorster se siening van Genesis 1-3 as polemiese teologie, deur dr. HG Stoker

5. Die Persoon en werk van Jesus Christus

“Jesus Christus is dus maar net ‘n openbaringsvorm van God en nie die Persoon van die Seun van God nie.

Die sterwe van hierdie Jesus Christus is vir Barth nie ‘n noodsaaklikheid vanweë ons skuld en ons sondes, om daardeur die verlossing te bewerkstellig nie (vergelyk Heid. Kat. vr. 37), maar, sê hy, uit vrye wil het God Homself oorgegee aan die dood.

Hierdie leerstelling dat God vry is om die dood self te sterf, is lynreg in stryd met die geloofsbelydenis van Athanasius en Sondag 6 van die Heid. Kategismus, waar dit daarom gaan dat die doel van die dood van Jesus Christus was om die las van die ewige toorn van God te dra. En buitendien is die loon van die sonde die dood (Gen. 2:17, Rom. 5:12). As God dus self uit vrye wil gesterf het, hou dit in dat God Homself onder die mag van die sonde gestel het! Dan is Satan daarin bó God verhef! Barth leer verder dat Jesus Christus (soos hy Hom sien) wel ‘n kloof oorbrug het dog nié die sondekloof tussen God en ons nie, maar dit is by hom enkel en alleen die kloof tussen tyd en ewigheid.

Die werk van Christus op aarde, so leer hy, sowel as al die heilsdade van God op aarde is nie histories te verstaan nie. Hierdie opeenvolging van menslike en tydelike gebeurtenisse wat die Skrif beskryf, is maar net uitbloeisels van die oergeskiedenis en is dus histories onhistories, Hieronder noem hy die optrede van Abraham, Moses, die profete en selfs van Jesus!

Sonder om al hierdie dinge nader te weerlê, begryp u waarom ons as Gereformeerde Kerk nie die dwaalleerlinge van Barth kan verkondig nie, want daardeur sal ons nie alleen die Belydenis geweld aandoen nie, nee, nog meer: hierin word die waarheid van die Heilige Skrif verkrag en die werklikheid van ons verlossing in Jesus Christus as ons Middelaar geloën.” [78,79]

6. Die prediking van die Woord

” ‘n Preek is Woordverkondiging. Daarmee is alles gesê Woordverkondiging val uiteen in twee dele: Skrifverklaring en Skriftoepassing. In Esegiël vind ons die treffende voorbeelde van hoe ‘n ware dienskneg van die HERE moet preek: So sê die Here HERE!

Dit is alles wat ‘n preek tot ‘n preek maak. Die inleiding van ‘n preek moet wees: So sê die Here HERE Die inhoud van ‘n preek moet wees: So sê die Here HERE. Die toepassing van ‘n preek moet wees: So sê die Here HERE.

En so ook die slot van ‘n preek.

Die prediker is slegs die mondstuk van God by Sy volk. Die bediening van die Woord geskied in opdrag van Christus en is geen stigtelike toesprakie nie. …

Hierdie storievertellery grond in swak eksegetiese ondersoek as gevolg waarvan die heerlike Skrifwaarhede nie tot uiting kom nie. So ‘n “storiepreek” het dan ook gewoonlik niks te doen met die teks waaraan dit “opgehang” word nie, en van Skrif-verkondiging is daar haas geen sprake nie. Wie die Skrif werklik verkondig, het geen tyd en behoefte aan stories nie.

Net soos storievertellery ‘n uitvloeisel is van swak Skrif-ondersoek, kry ons ook ketterse gedagtes wat vrylik van die kansels af verkondig word. As Gereformeerdes is ons nie tevrede om in die kerk te luister na wat ‘n vrome suster of ‘n ou vader of iemand op straat vir die predikant vertel het nie, maar in die kerk wil ons luister na die stem van ons Verbondsgod. Die verskil tussen die eredienste van die Gereformeerde Kerk en van sommige ander kerke is dat die Gereformeerde Kerk se erediens ‘n amptelike ontmoeting is van die gemeente met hulle God en die roepstem van die Skrif tot hulle, terwyl waar dit stories is, dit hoogstens ‘n stigtelike samekoms is.

Maar net soos die storievertellery ‘n uitvloeisel is van swak Skrifondersoek, kry ons ook wanpraktyke en selfs ketterse ge­dagtes in die kerke.” [92-94]

Opmerking: Woordverkondiging is Explicatio et Applicatio verbi Dei! (die verklaring én toepassing van die Woord van God), sien meer daaroor hier: Heilshistoriese en eksemplariese prediking

7. ‘Spesiale Sondae’ en die Skrif

In die verklaring van die tweede gebod deur die Heidelbergse Kategismus, vraag 96, lees ons: “Dat God op geen ander manier vereer mag word as wat Hy in Sy Woord beveel” het nie.

God eis nie alleen van ons dat ons Hom moet vereer nie, maar Hy wys ons in die Woord ook aan hoe ons Hom moet ver­eer. In die diens van die Here word sake nie aan ons smaak en ons willekeur oorgelaat nie.

Laat ons luister na die stem van die Skrif:

(i) In Jesaja 1:13-16 spreek die Here dat Hy moeg is vir hulle NUWE feeste. Hy haat dit. Al die self ingestelde soorte sabatte en feeste is vir Hom ‘n gruwel.

Die Skrif leer ons hier dat die Here alle eiegeregtige godsdiens verwerp.

Waar in die Heilige Skrif kry ons nou die aanduidings dat ons “Moedersondae” of “Polisiesondae” of “Padmakersondae’ moet hou?

Is dit deur God ingestelde feeste of selfingesteldes?

(ii) Nadab en Elihu het vreemde vuur voor die aangesig van die Here gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. En as gevolg daarvan is hulle verteer deur die oordeel van die Here (Lev. 10: 2).

Kan die voorstanders van al die “spesiale” Sondae ons maar net ‘n enkel aanduiding uit die Skrif gee waar die Here hulle dit beveel het?

Kan “Lentesondae” en “Wintersondae” en “Verpleegstersondae” of “Grondbewarings­sondae” hulle oorsprong in die Bybel vind?

Het God dit beveel, of is dit vreemde, selfingestelde offervure voor die aangesig van die Here?

(iii) Vir die eiesinnige Saul het Samuel gesê: “God eis gehoorsaamheid en nie offerande nie”.

In die erediens eis God dus gehoorsaamheid aan Sy Woord en nie menslike instellings nie!

So spreek Samuel dan ook: “Wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Sam. 15: 23). Ek herhaal: Eiesinnigheid is afgodery en beeldediens!

Is daar afgodery en beeldediens in ons eredienste?

U sê miskien: Nee!

Ek stel dit vragenderwys:

Is “spesiale’ Sondae nie ‘n eiesinnige instelling en in die oë van die Here dalk AFGODERY en BEELDE­DIENS nie?

(iv) Op al hierdie dinge het Jesus die seël geplaas toe Hy gesê het: “Tevergeefs vereer julle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matth. 15: 19).

Tevergeefs!

Die grondtendens van die “spesiale” Sonde setel in mensebehae en menseverering. Of, om die woorde van Samuel te gebruik: Dit is afgodery en beeldediens!

Onder die dekmantel van godsdiens kry ons hier ‘n stuk humanisme, ‘n stuk mensaanbidding!

In hierdie “spesiale” dienste stel die Kerk die mens in die plek van God.” [104-105]

8. Die eenheid van die gemeente

“Volgens die eis van God moet elke erediens daarin bestaan dat die Woord van God aan die gemeente van Jesus Christus gebring word. En die gemeente bestaan in sy eenheid uit ‘n groot verskeidenheid: moeders en polisie en dokters en ouers en kinders en handearbeiders, ens. Almal is maar net lidmate van die een liggaam.

So stel Ef. 6:1-9 dan ook aan ons dat die gemeente bestaan uit kinders en ouers en vrymanne en slawe.

Die hele Heilige Skrif lê sterk klem op die eenheid van die gemeente.

Teen die bedoeling van die Skrif in verskeur die “spesiale” eredienste die eenheid van die liggaam van Jesus Christus in ‘n klomp Klein groepies wat berus op ‘n menslik selfingestelde en willekeurige indeling!

Ook dit is ‘n groot beswaar teen “spesiale” Sondae!

Alle “spesiale” dienste is in wese niks anders nie as ‘n stukkie humanistiese menseverering buite die Skrif om!

Pragtig is daarom die besluit van die Gereformeerde Kerk, nl. dat ons as Gereformeerde Kerk geen “spesiale” Sondae ken volgens Gods Woord nie.

As die vraag dus weer eens gestel mag word: Is “spesiale” Sondae Skriftuurlik? kan ons uit die Woord van God net een antwoord gee:

DIT IS MENSLIKE INSTELLINGS BUITE DIE WOORD VAN GOD OM! Of om die woorde van Samuel te gebruik: Dit is afgodery en beeldediens!”

Opmerking: sien Ursinus se verklaring van die tweede gebod oor aanbidding.

9. Die nagmaal: beker of kelkies ?

“Waar die kelkies in gebruik is, spreek dit in die eerste plek van gebrek aan gemeenskap. Daarop het ons breedvoerig in die voorafgaande gewys, en daarmee is ‘n groot deel van die be­tekenis van die Heilige Nagmaal daarmee heen. Tweedens spreek dit van liefdeloosheid. Die een wil nie saam met die ander drink nie. Wie uit kelkies drink, gee daarmee te kenne. Ek beskou myself beter as ander! Kelkies is dus ‘n openbaring van eiegeregtige trotsheid en verwaandheid. Die egte liefde ontbreek vir mekaar. En daarmee is die siel uit die sfeer van die werklike betekenis van die Heilige Nagmaal geruk. Ten derde is die kelkies ‘n daarstelling van menslike eiegeregtigheid …. of sou God dit nie bedoel het as bindend toe Hy die Pasga en die Nagmaal ingestel het nie? En op hierdie punt spreek die Skrif: “Tevergeefs vereer julle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matth. 15: 19).

As Gereformeerdes wil ons liewer art. 35 van ons Nederlandse Geloofsbelydenis, wat vir ons iets werkliks is, uitleef: “Deur die gebruik van hierdie Heilige Sakrament word ons beweeg tot vurige liefde jeens God en ons naaste. Daarom verwerp ons alle bymengsels en verwerplike vindinge wat mense by die Sa­krament byvoeg en daartoe vermeng, as ontheiliginge daar­van ….

Die kelkies is nie alleen ‘n miskenning van die hele Nagmaalsformulier nie, maar dit is ook teenstrydig met die Geloofsbelydenis, wat die kelkie-drinkers wel op papier aanvaar!

Benewens die feit dat die kelkies spreek van gebrek aan gemeenskap en simbool is van liefdeloosheid, spreek dit ook van ongeloof.” [120,121]

10. Tug – die derde kenmerk van ‘n ware kerk – in die Gereformeerde Kerk (onthou, geskryf in die 1950’s)

“Die tug is noodsaaklik; dit is die vervulling van die Skrifopdrag. Ons dink hier aan Matth. 18: 17, waar die Here beveel dat diegene wat nie wil luister na die vermaninge nie, vir ons moet wees soos ‘n tollenaar en heiden. Deurgaans in die Heilige Skrif vind ons immers die opdrag om die sonde uit eie boesem te weer, hetsy persoonlik, hetsy gemeentelik. So word in Openbaring 2: 14, 15 die klag van God oor die gemeente in Pergamus opgeteken dat hulle sondige mense in eie boesem toegelaat het en dit beskou God as ‘n onbekeerde toestand in die gemeente. Dit vind ons ook in Openbaring 2: 20 in die brief aan Thiatire.

Dit is die bevel van God dat die kerk op aarde moet streef om die mense wat volhard in die sonde, te weer uit die boesem van die gemeente van Jesus Christus.

Ons noem dit kerklike tug of sensuur.

En, ‘n gemeente wat dit nie doen nie, staan aangekla as onbekeerd!” [123]

Wat die Gereformeerde Kerk betref, het die geblyk dat een uit elke 200 lidmate onder een of ander trap van kerklike tug geplaas is, en volgens die jongste statistieke is dit een uit elke 50 lidmate.

Hoewel die ander kerke ook nog in hulle formuliersboeke die Formulier vir die afsnyding of Christelike ban het, word dit by hulle geheel en al nie meer gebruik nie.

Tog vind ons dat die afsnyding volgens die formulier in die kring van die Gereformeerde Kerk nie onbekend is nie.

Volgens die genoemde opname het dit geblyk dat gedurende die afgelope paar jaar 27 mense volgens die Formulier van die Christelike Ban van die Kerk afgesny is.

Uit ‘n 30-tal gemeentes is daar 1953, 223 mense onder die kerklike tug geplaas. Hiervan het slegs 55 die Kerk bedank.

Van die kant van die ander Kerke word dikwels beweer: Wat help dit om iemand onder tug te plaas? Hy bedank tog maar net die kerk! Hierdie redenasie is eerstens gerig op die eer van die kerk en nie op die eer van God nie, en tweedens is dit ook onjuis. Min mense bedank die kerk. En as iemand die kerk bedank as gevolg daarvan, het hy of sy per slot van sake dit nog nooit ernstig bedoel met hulle godsdiens nie en is hulle ‘n dooie verlieg as lidmate van die kerk. Hulle heengaan is dus wins!” [131]

“Indien ‘n kerkraad huiwer om sensuur toe te pas uit vrees dat hulle daardeur lidmate sal verloor, dan is

(i)   daardie Kerkraad geen ware Raad van Christus se Kerk nie,

(ii)  en daardie lidmaat was nog nooit waaragtige Christen nie. Dan is dit beter vir die Kerk van Christus dat hy heengaan, want nie die aantal nie maar die opregte Christenskap tel. Die werklike Christen aanvaar die tug as middel uit Gods Hand tot sy behoudenis.

(c)  In die kring van die Geref. Kerk strek die tug ook oor die leer wat ‘n persoon verkondig, en nie alleen oor sy lewe nie. Die suiwerheid van die leer word in die kring van sowel al vier die Gefedereerde N.G. Kerke as in die Herv. Kerk haas nie meer as aan tug onderworpe beskou nie.

En juis daarom wil ons Gereformeerd wees, omdat leersuiwerheid en die opregtheid van Christen te wees vir ons van groter waarde is as aardse grootheid.” [132,133]

11. Die presbiteriale kerkregeringstelsel (die Gereformeerde Kerk of Kerke ?)

“Kortliks kan hierdie stelsel soos volg saamgevat word:

a.  Die plaaslike gemeente is selfstandig en is ‘n openbaring van die liggaam van Christus.

b.  In die Nuwe Testament word die woord “ekklesia”, wat vertaal word met “kerk” of “gemeente”, altyd gebruik óf vir die plaaslike kerk óf vir die een heilige, algemene Christelike kerk maar nooit in die sin van enkel samevatting van ‘n aantal gemeentes in dieselfde geloofsverband nie. Om dus te spreek van “die Kerk van Transvaal” of “die Kerk van Kaapland” of die “Kerk van Suid-Afrika” is Skriftuurlik onjuis. Daarom spreek die Gereformeerdes nie van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika nie maar van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Nog meer korrek is om te spreek van die Ge­reformeerde Kerke (meervoud, beklemtoning bygevoeg – slc) in Suid-Afrika.

c.  Daar bestaan drie ampte: predikant, ouderling en diaken, en hierdie drie ampte is gelyk. Elkeen dek net ‘n verskillende aspek van die geheiligde lewe.

d.  Alleen die gesag van Jesus Christus word erken en nie menslike instelling nie.

Wat betref die gesag van die meerdere vergaderinge in die presbiteriale kerkregering, is die uitgangspunt weer eens die kerkraad. Alleen die kerkraad is deur Christus daargestel, en daarom beskik alleenlik die kerkraad oor juridiese mag. Die gesag werk nou van onder na bo en nie van bo na onder nie. Omdat die kerkraad met gesag beklee is, daarom ook die meer­dere vergadering waarop die kerkraad met volmag verteen­woordig is. Die plaaslike kerkraad erken die gesag van die meerdere vergadering alleen in sake wat nie op die kerkraad afgehandel kan word nie, d.w.s. sake wat al die gemeentes raak. Tweedens dien opgemerk te word dat al sou die kerkraad die gesag van die meerdere vergadering aanvaar, dan is dit nog geen juridiese gesag nie, want dit besit geen meerdere ver­gadering nie. Die gesag van die meerdere vergadering is slegs sedelik-geestelik. Alleen die kerkraad is met juridiese gesag beklee, wel omdat hulle dit uit die hand van Christus ontvang het.

‘n Meerdere vergadering het geen heersende nie maar alleen ‘n dienende gesag.” [134, 135]

Opmerking: sien hier ‘n paar artikels oor kerkregering

12. Wie mag tug toepas ?

“Ook die prosedure in die toepassing van die kerklike tug bepaal of ‘n kerk presbiteriaal of kollegialisties is.

Volgens die Goddelike opdrag (Matth. 18:15-17) is dit enkel en alleen die bevoegdheid van ‘n kerkraad om tug te kan toepas. Dit kan ook nie anders nie, want volgens die bevel van Christus het alleenlik die plaaslike gemeente sodanige regterlike mag.

So is dit dan ook in die Gereformeerde kringe. Al sou die advies van die klassis ingeroep word, nogtans is dit net die kerkraad wat tug toepas.

Volgens die kollegialistiese stelsel kan die meerdere vergadering ook tug toepas. Hierdie prosedure is onskriftuurlik, want die meerdere vergaderinge het geen sodanige mag uit die Skrif ontvang nie.” [136]

13. Psalms vs Gesange

“Samevattend kan ons dit dus soos volg stel:

(a)      Ons eerste beswaar teen die meeste van die Gesange is dat dit suiwer menslike liedere is, en as Gereformeerdes glo ons dat slegs die Woord van God tuis hoort in die erediens. Dit het nie ‘n Goddelike oorsprong soos die Psalms nie.

(b)      Ons tweede beswaar is dat van die Gesange vreemde stempels dra, soos bv. van die Liberalisme, Rooms-Katolisisme en Remonstrantisme, en dus nie suiwer Skriftuurlik is nie. Om dit dan instemmend te sing beteken om jou met ‘n dwaalleer te vereenselwig.

(c)      Die derde beswaar is dat dit strydig is met die Skrif en die egte Gereformeerde leer, want ons glo dat in die erediens alleen die geopenbaarde Woord van God gebruik mag word. En volgens Openb. 22: 18 mag ons nie daarby voeg nie. Wie nou ‘n vrye lied wil inbring, gee daarmee te kenne dat ons die Skrifliedere as onvoldoende beskou en daarby wil aanvul. Nie alleen sondig ons daarmee teen die “Woord van God nie maar ook teen God self deurdat ons daarmee te kenne wil gee dat die Psalms wat God in Sy Heilige Skrif daargestel het, onvoldoende is. As Gereformeerdes volstaan ons met die Skriftuurlike lied, en ons besluit hierdie gedeelte met die woorde van wyle prof. dr. J. D. du Toit wat hy uitgespreek het tydens die viering van “Van Riebeeck-dag te Potchefstroom in 1952:

“Het u al ooit probeer om die hele inhoud van die Psalmboek voor u gees te laat verbygaan—die boek met sy hemelhoogtes wat met sy hallelujas reik tot in die hoogste hemele! — die boek met sy skriklike dieptes waar die afgrond roep tot die afgrond — die boek met sy vertes, sy oneindige wydtes, sy omspanning van die ganse Bybel van Genesis tot Openbaring?

“En het u hierdie boek al as ‘n Goddelike kunsstuk beskou?

“Wat kan daarnaas gestel word? Niks!”

En dan stel die hooggeagte professor dit so:

“Psalmsing is die hemelvaart van die siel. Dit is die hand wat uitgestrek word na die verborge skat van God in Jesus Christus! Psalmsing is godsdiens. Dit is die durfdaad van die geloof, die arm wat uitgestrek bly bo die stormwaters van. die lewe.

“Maar hierin kulmineer alles: Psalmsing is die aansteek van die wierook van ons siele waarin ons teëgeur die lieflike reuk van die more van die ewigheid”.

Ons voorsate het naas die Drie Formuliere van Eenheid ook met die Psalmboek voet aan wal gesit in Suid-Afrika.

As Gereformeerdes handhaaf ons, deur Gods genade, nog steeds daardie suiwere en heerlike Skriftuurlike leer!” [151, 152]

14. Koorsange in die erediens
“As ons nou daarop let wat ‘n erediens in werklikheid is, blyk die oorbodigheid van die koorsang op onweerlegbare wyse. ‘n Erediens is die ontmoeting van God met sy volk. Hier vind ons ‘n wisselwerking.

In die gebed antwoord die gemeente by monde van hulle leraar, maar in die Psalmgesang antwoord die gemeente uit hulle hart tot God.

Waar kom die koorsang nou in?

Kan dit profeties staan soos die skriflesing en preek?

Nee!

Kan dit die priesterlike werking van liefdadigheid vervul?

Nee!

Kan dit die koningsantwoord van die gemeente aan God wees?

Nee!

Koorsang is dus iets buite die waaragtige erediens om.

Daarom verwerp ons Gereformeerdes dit, en ons volg die weg waarin die hele gemeente hulle Psalmgesang voor die aangesig van die Almagtige hemelwaarts stuur. Dit is die hemelvaart van hulle siele.

Ons kan nie anders nie as om die koorsange te tipeer as ‘n menslike aanplaksel wat die heiligheid van die erediens versteur en maak tot ‘n kunsverhaal en wat die godsdienstige in die loflied van die gemeente vermenslik tot iets suiwer esteties.

“Indien die kerk oordeel dat die uitdrukking van die gods­dienstige gevoel hoofsaak is, dan word daar na geen skone stem gevra nie maar na die gemeente. Die gemeente sing, en niemand of niks mag in die plek van die gemeente gestel word nie. Ja, selfs mag geen koor UIT die gemeente toegelaat word nie, daar die koorgesang die orde versteur en die gemeente luister in plaas van self te sing”, verklaar dr. A. Kuyper.” [160]

15. Die toesig van die ouderlinge

“Hulle moet toesig hou oor die gemeente. Daarvoor is gereelde huisbesoek nodig. En alleen as dit geskied, kan hulle werklik toesig hou.

Hulle moet toesien dat die sakramente nie verontheilig word nie. In die kring van die Gereformeerde Kerk is dit die gebruik dat elke ouderling voor elke Nagmaal (en daarna ook) elke huisgesin moet besoek en op die censura morum-vergadering rapport indien oor sy wyk. Sodoende alleen kan oor die gemeente toesig gehou word. En as middel tot bekering moet die ouderlinge die tug handhaaf.

Waar die tug dus nagelaat word, mis daardie ouderlinge en kerkraad hulle roeping!

Hulle moet ook toesig hou oor die Sakramente dat dit nie ontheilig word nie. Kan hulle toesig hou as die gemeente in die banke Nagmaal gebruik? Onmoontlik!

Kan hulle toesig hou as hulle nie huisbesoek doen sodat hulle elke huisgesin geestelik leer ken en die tug toepas waar nodig is nie?

Ook nie!

Ook vind ons dat enige persoon in beide die Ned. Herv. Kerk en die N.G. Kerke tot hulle Nagmaalsviering kan toetree as hulle self daartoe vrymoedigheid het. Sodoende word die volle verantwoordelikheid van die skouers van die ouderlinge afgehaal en op die Nagmaalganger alleen geplaas.

Reg genoeg, dit is die verantwoordelikheid van die Nagmaalganger ook, maar daardeur mis die ouderling tewens ook hulle roeping om toesighouers te wees! Daardeur word die instandhouding van die ouderlingsamp haas onnodig!

‘n Derde aspek van die ouderlingswerk in die gemeente is om te let op die leer wat die lidmate voorstaan.

In hierdie verband dink ons aan al die dwaalleringe soos die A.E.B., Jeug vir Christus-Beweging, ens., wat vrylik in die geledere van die N.G. Kerke toegelaat word.

Erger nog: Ons dink aan die Vrymesselary wat magtige afmetings in hierdie Kerk aanneem. As ons daarby bedink dat die Vrymesselary die kentekens van die antikris dra, besef u watter geweldige magte vry passaat in hierdie Kerk het.

Die volgende aspek van die werk van ouderlinge is om te let op die leer van die predikant en te sorg dat geen vreemde leer toegelaat word nie.

Indien u nou die gedeelte oor “Die kenmerke van die ware Kerk” weer deurlees, kan u u eie konklusie trek.” [161]

16. Ekumeniese lidmaatskap

“DIE sprake dat die drie Hollandse susterkerke een moet word, is op almal se tong. Dit is ‘n mooi gedagte. So het prof. dr. A. B. du Preez onder andere ook ‘n artikel die lig laat sien waarin beweer word dat die bestaan van die verskillende kerke ‘n sonde is.

Ek sal dit ook tipeer as sonde, maar die vraag kom net op: Wat is sonde daarin? Is dit nie omdat daar nie meer ag gegee is op die Skriftuurlike waarhede nie?

As Afrikaanse kerke KAN ons een word, maar dan net op een voorwaarde: Elke kerk moet homself weer spieël in die Woord van God en konformeer met die Heilige Skrif. Alleen dan is dit moontlik. En dit bly ‘n gekoesterde ideaal.

Vanweë sowel gebrek aan kennis van die eie kerke waaraan baie van die afsonderlike lidmate behoort, as gebrek aan kennis van wat elke kerk presies wil, skyn dit asof ons nader en nader aan hierdie ideaal kom. In werklikheid is ons besig om verder en verder van mekaar weg te dryf. En die skeuring is nie alleen besig om groter te word tussen die Geref. Kerk en andere nie maar ook in hulle eie geledere self.

Die Nederlands Hervormde Kerk het naas die uiters vrysinnige rigting nog altyd ook ‘n sterk ortodokse rigting wat bekend staan as die “Gereformeerde Bond”.

In eie geledere word die kloof al groter en groter. In hierdie verband wys ons net op ‘n uitspraak van prof. Haitjema, professor in die Nederlands Hervormde Kerk. Hy spreek van die “Gereformeerde Bond” as ‘n “sekte-tipe”. Die modemisme beskou dus die ou Skriftuurlike waarhede as sektaries, en dit van mense in eie boesem!

Ook in die kring van die N.G. Kerke is ‘n skeiding merkbaar. Naas die opkomende Gereformeerde neiging in die geledere van hierdie Kerke (wat inderdaad nog maar ‘n minderheid is) bestaan daar die reeds genoemde afwykende rigtings en hierdie twee teenoormekaarstaande rigtings sal nie vir ‘n opbeperkte tyd onder een kerkverband kan bly voortbestaan nie.

Maar nie net wat die lidmate en predikante van die N.G. Kerke betref is daar ‘n skerp onderskeiding nie; ook tussen die verskillende Kerke van hierdie groep. So dink ons byvoorbeeld daaraan dat die Ned. Geref. Kerk van Transvaal sowel as die N.G. Kerk van Kaapland kant gekies het vir die Wêreldraad van Kerke (W.R.), terwyl die N.G. Kerk van Natal en die O.V.S. tot dusver dit nie gedoen het nie. En hier word die groot onderskeid openbaar.

Met die ekumeniese lidmaatskap openbaar ‘n kerk presies in watter rigting sy teologie en religieuse lewe ontwikkel.” [165, 166]

17. Die Wêreldraad van Kerke
“a. Die grondtema van die WR. tydens die afgelope vergadering te Evaston in 1954 was: “Christus die Hoop van die wêreld”.

Dit klink pragtig!

Maar watter “Christus” word hier bedoel? Die Christus van die Skrifte? Beslis nie!

Die Bybel spreek deurgaans van valse Christusse!

En hierdie Christus van die WR. is seer sekerlik nie die Christus van die Skrifte nie!

Laat ons nou hierdie terme nader bespreek:

(1)  Die term “Christus die Hoop van die wêreld” word nêrens in die Skrif genoem nie. Alleenlik spreek die Skrif in hierdie verband van “Christus, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1: 27).

Dat die WR. met “Christus” iets heeltemal aards bedoel, kom uit in die tema: die Bybelse woorde “van die heerlikheid” word omgeskep tot “van die wêreld”.

Wie oor Christus as die Hoop spreek, moet Hom sien in die lig van Sy opstanding, en dan is die uitdrukking “Christus, die hoop van die heerlikheid”, soos dit in die Bybel self te vinde is, die enigste juiste.

(2)  Ons sê: Wie oor Christus as die Hoop spreek, moet Hom sien in die lig van Sy opstanding. Aanvaar die WR. Sy opstanding?

Nee!

In 1953 het die voormanne van die WR. te Luknow in Indië byeengekom om die tema van die besprekinge van die WR. wat in 1954 vergader het, te bespreek. Na lang bespreking het hulle die keuse laat val op “Christus die Hoop van die wêreld”. Sommige wou dat daarby gevoeg moes word: “die gekruisigde en opgestane Here”, laasgenoemde is egter nie goedgekeur nie. Oor die kruisiging was daar nie veel verskil nie, maar wat die opstanding betref kon daar geen eenstemmigheid bereik word nie!

(3)  Die beste bewys dat die WR. NIE die Christus van die Skrifte bedoel as hulle spreek van “Christus” nie, word be­vestig deur ds. C.B. Brink in Die Kerkbode van 6 Oktober 1954: “Die basis van die Wêreldraad van Kerke word só gestel: Dit is ‘n gemeenskap van Kerke wat die Here Jesus Christus aanneem as God en Saligmaker. Daar was ‘n poging van die Noorweegse Kerke om die basis uitgebrei te kry deur die toevoeging van die woorde. ‘volgens die Skrifte’ “. En die gevolg? Op beswaar van die Grieks-Ortodokse Kerk en ander afgevaardigdes IS DIT NIE TOEGEVOEG NIE!

b. Die vraag kom nou: Wat is nou die houding van ons Susterkerk in hierdie verband?

In Die Kerkbode van 6 Oktober 1954, bl. 426, sê ds. C.B. Brink: “Die hooftema van die vergadering van die WR. is: Christus die Hoop van die wêreld. In die bespreking van hierdie  onderwerp het die diepgaande verskille tussen die Kerke aan die lig getree”.

In die verslag in Die Kerkbode van 20 Oktober 1948, skryf prof. G.B.A. Gerdener: “Miskien sou die woorde ‘volgens die Heilige Skrif’ ‘n objektiewe norm vir elkeen se verklaring verskaf en meer vastheid gee”. Maar dit is nie aanvaar nie.

Hieruit blyk dat elkeen sy eie verklaring gehad het oor Christus en dat die konsekwente weiering bestaan om die Christus van die Skrifte, ons waaragtige Christus, te aanvaar.

En ten spyte hiervan probeer prof. dr. E. P. Groenewald om te bewys dat die Skrif die grondslag van die formule van die WR. vorm. En in Die Kerkbode van 29 April 1953 verklaar hy: “Die besware rondom die grondslag het vir ‘n aansienlike deel verval, ander besware bestaan nog, maar hoef geen verhindering te wees nie”.

Hoewel die Heilige Skrif nie ten volle aanvaar word nie, is dit volgens die Ned. Geref. Kerke geen verhindering nie!

As Gereformeerdes daarteenoor kan ons nie met ander mense saamwerk wat weier om die Christus, die opgestane Seun van God, te aanvaar nie.” [168-170]

18. Die WRK en Barth

“Oor hom het ons reeds breedvoeriger gehandel. Hy is een van die prominente leiers in die WR. … Dr. D. Hedegard van Swede beweer: “Die teologie van Karl Barth ondergrawe die grondslae van die christelike geloof, omdat die historisiteit van die heilsfeite om die inhoud van die geloof nie as noodsaaklik voorgehou word nie.” Sy slotsom is dan ook “dat Karl Barth nie ‘n Hervormer is nie, maar ‘n verwoester van die Christelike geloof genoem moet word” [172, 177, 178]

19. Die doel van die WRK

“Die doel van. die WR, is dus ‘n eenheid van kerke, een super-wêreldkerk, waarin alle grense tussen suiwer en onsuiwer, tus­sen ortodokse en liberalisme, tussen godsdiens en die wêreld verval het! Dus die tempel van die antichris!

d. Op die reeds genoemde konferensie te Lund is die ideaal van die WR. gestel as een groot wêreldkerk, ‘n eenheid in geloof en kerkorde. Die eenheid is die eis, die groot ideaal. En omdat hulle so ywerig werk om Rome oor te haal en omdat die eis van Rome is: eenheid onder die Rooms-Katolieke Kerk, sal dit ons nie verbaas indien hierdie kerklike eenheid onder Rome sal geskied net sodra Rome tot die WR. toetree nie.

Die groot strewe van die WR. is valse ekumenisiteit, wat heenvoer na ‘n totalitêre superkerk. So word dit inderdaad ook al deur die V.V.O. beskou. Die Kerke van die wêreld is by die V.V.O. verteenwoordig in die WR.

So werk die WR. saam om die moontlikheid vir die koms van die Antichris daar te stel.

En hoe staan ons broeders in die Ned. Geref. Kerke in besonder en die ander kerke in die algemeen nou daarteenoor?

Hoewel hulle probeer ontken dat dit ‘n geloofsgemeenskap is, dui alles daarop dat die WR. dit wel is. Hulle beoefen dus ‘n geloofsgemeenskap buite die Bybel om.

Dat die eenheid van die kerke die doel van die WR. is, word ook goedkeurend bevestig deur ds. C. B. Brink: “Dit is nie die doel van die WR. om die eenheid van kerke te ‘bewerk’ nie, maar liewers om die omstandighede te skep waarin die mure van skeiding sal verkrummel en verdwyn”.

En daarmee verklaar hy dat die Ned. Geref. Kerke geen beswaar het om die mure van skeiding wat deur sy belydenis daargestel is in die Geloofsbelydenis, te verkrummel en te laat verdwyn nie, sodat ook sy Kerk een kan wees met die Groot Wêreldkerk, waarin hulle en hul eendersdenkendes saam met Chao, Hromadka, Kehru, Peter Dagadu, Oxnam, Van Dusen en andere kan aansit in geloofseenheid!

En hiermee het u dan ook die volle doel van hierdie geskrif. Dit is ‘n poging om die skeiding te handhaaf, om die mure van ons Belydenisse te versterk, om die grense wat daargestel is, te handhaaf.

Daar wag ‘n groot en geweldige taak op die Gereformeerde Kerk.

Ons roeping is om weer eens duidelike rigting aan te dui in Suid-Afrika, om die wêreldgelykvormigheid te weerstaan, om die suiwerheid van die Belydenis in die waarheid van die Woord van God nog helderder en duideliker uit te dra!” [180, 181]

Opmerking: ook die GKSA het ekumeniese bande met ‘n kerkverband wat volle bande het met die WRK, en by die sinode in 2009 was die stem vir lidmaatskap van die WRK net-net afgeweer. Sien hierdie artikel: Die WCRC, CRCNA en die GKSA

20. Apologie

“In hierdie geskrif het ek die name van verskillende welbekende Suid-Afrikaanse leiers op die kerklike terrein genoem. Uit wat hulle gesê en geskryf het, het ek ook verskillende konklusies getrek.

Indien een van hulle van gevoele is dat hulle persoonlik benadeel is in hierdie konklusies dan wil ek van hierdie geleentheid gebruik maak om my onvoorwaardelike apologie hulle aan te bied.

Dit is geensins die bedoeling om enige persoon as sodanig enige skade aan te doen nie. Inteendeel, vir baie van die persone wie se name hier genoem is koester ek die hoogste agting. Dit handel hier egter oor die rigting in die teologie wat voorgestaan word en die name word maar net genoem as segsmanne van die spesifieke rigting.

Volledige boek hier beskikbaar:

Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk ?


Responses

  1. BAIE dankie, werklik interessant, veral die dele oor Barth , die Wêreld Raad van Kerke en ook Barth se bande met die WR.

  2. […] Sal die regte seuns van Luther opstaan ? Quo Vadis, Gereformeerde Afrikaner ? – deel 3 […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: