Die rol van vroue in die kerk
– Mag vroue leer en regeer oor mans in die kerk van Christus? –
deur dr. George W. Knight, III
[Met die toestemming van die skrywer vertaal vanuit die oorspronklike artikel, The Role of Women in the Church, deur Shaun en Marita Green (met dank) en verder verwerk deur Slabbert Le Cornu. Die onder-opskrif en sekere subopskrifte is bygevoeg. Dr. George W. Knight III is ereprofessor in Nuwe Testament by die Greenville Presbyterian Theological Seminary. B.D. Westminster Theological Seminary, 1956; Th.M Westminster Theological Seminary, 1957; Th.D. Free University of Amsterdam, 1968.]
Agtergrond van die artikel
Voor die 2009 algemene sinode van die GKSA, het ek dr. Knight se artikel, Should women be elected to the office of deacon? in Afrikaans vertaal. Daardie artikel is hier beskikbaar:
Kan vroue tot die amp van diakens verkies word ?
Nou stel Pro Regno ook die artikel hier onder van dr. Knight beskikbaar, en kan die twee artikels saamgelees word, aangesien die huidige artikel fokus op die lerende (predikant)- en regerende ouderlingsamp.
GKSA Sinode 2012 (4-13 Januarie) gaan weer 5 beswaarskrifte (volgens my kennis) aanhoor ten gunste van die vrou in die ampte van predikant en ouderling, en slegs een beswaarskrif teen die vrou in die diakenamp. Dit beteken dat van die nege streeksinodes, daar ten minste drie streeksinodes is wat vrou in die amp voorstaan.
“Die bediening van sowel die doop as die nagmaal is trouens deel van die kerklike bedieningsamp. En Christus het die opdrag om te doop trouens nog aan vrouens nog aan mense na willekeur gegee, maar Hy het hierdie opdrag aan diegene wat Hy as apostels aangestel het, gegee … Gevolglik word daar in die geval van doopbediening deur ’n vrou baie swaarder gesondig terwyl die reël wat deur Christus gegee is, openlik daardeur geskend word. Ons weet immers dat dit sonde is om dit wat God saamgevoeg het, uitmekaar te skeur.” – Johannes Calvyn
“Die genoegsaamheid van die Skrif om hierdie probleme op te los word duidelik wanneer ‘n mens waarneem dat Paulus al die vrae en probleme oplos deur op die Woord van God beroep te maak as die finale gesag vir gelowiges se geloof en optrede. … Om te ontken dat Paulus vroue verbied om onderrig te gee en gesag uit te oefen in die kerk, is om beide die duidelikheid en die genoegsaamheid van God se Woord te ontken.” – George W. Knight (d.w.s. ‘n verwerping van NGB art.7)
________________________
Die saak van die rol van die vrou in die kerk val onder die beginsels van kerkregering en die genoegsaamheid van die Skrif.
Die vraag wat ons moet beantwoord is:
“Beteken ons vernuwing in Christus, dat ons ‘nie meer man en vrou’ is nie, maar ons ‘almal een in Christus Jesus’ is met betrekking tot ons redding (Gal 3:28), dat daar nie meer manlike hoofskap en leierskap in die kerk, of in die huwelik en die gesin is nie?”
In beide Korinthe en Efese was daar ‘n paar wat besig was om te argumenteer en om te probeer optree volgens ‘n positiewe antwoord op hierdie vraag. 1 Korinthiërs 14 wys vir ons verskeie groepe wat daarop aanspraak maak dat die volheid en die openbaring van die Gees hulle magtig om in ander tale sonder ‘n uitlegger te spreek, en gelyktydig te profeteer.
Aangesien die ander items in die hoofstuk betrekking het op die werk van die Gees, daarom kan ons aanvaar dat vroue se aandrang op die deelname aan die lering van die kerk betrekking het op dieselfde of ‘n soortgelyke beroep op die Gees se gawes. Paulus se reaksie is dat God se karakter een van vrede is, nie wanorde nie” (vers 33), dus moet “alles welvoeglik en ordelik geskied” (vers 40).
Paulus argumenteer in effek dat die Korinthiërs verkeerdelik aanspraak maak op die Gees se werk om hul optrede te regverdig, want sulke gedrag is in stryd met God se natuur en gevolglik wat Hy van hulle vereis. Die praat in tale (tale wat voorheen onbekend aan die sprekers was; hierdie vermoë wat slegs gegee was totdat die kanon van die Skrif voltooi was) moet vergesel word met uitlegging aan die gemeente sodat hulle sal verstaan en bemoedig sal word, en profetering moet ordelik en tot opbou geskied. Die orde wat deur God vir mans en vroue ingestel is, moet nie omgekeer word nie, asof die verlossing Sy skeppingsorde tot nul en geen waarde gemaak het nie. Die genoegsaamheid van die Skrif om hierdie probleme op te los word duidelik wanneer ‘n mens waarneem dat Paulus al die vrae en probleme oplos deur op die Woord van God beroep te maak as die finale gesag vir gelowiges se geloof en optrede.
Ek besef dat ek in die aanbieding van hierdie materiaal dalk te veel mag veronderstel, daarom sal ek begin deur te min te veronderstel. Voordat verskeie Nuwe Testament gedeeltes wat handel oor ons onderwerp ondersoek en vergelyk word, sal ons die Bybelse agtergrond ondersoek sodat ons die basis vir die leerstellings kan sien wat vir ons deur Christus en Sy Apostels gegee is. Omdat die Skrif algenoegsaam is moet ons onsself daaraan onderwerp, ongeag dat dit in stryd is met die voorkeure van ons eie dag.
Die skepping
Ons soeke begin in Genesis 1:27, waar die skeppingsverhaal sê dat God Adam en Eva, manlik en vroulik, na Sy eie beeld geskape het. Hulle was wesentlik gelyk geskape, as heilige draers van God se beeld voor die sondeval, daarna as sondaars wat gelyk verlossing nodig het, en soos ons lees in Galasiërs 3:28, geestelik gelyke ontvangers is van God se redding. Petrus praat duidelik van hierdie laaste punt wat leer dat die vrou ‘n erfgenaam van die lewe as genadegawe saam met haar man is, of ‘n mede-erfgenaam van die genade van die lewe is (I Petrus 5:7). Niks in die Apostels se lering dui aan dat mans intrinsiek beter as vroue is nie, nie in die huwelik of die lewe van die kerk nie.
Inteendeel, elkeen moet hulself aan die Here onderwerp en elkeen se verwantskap en verhouding teenoor mekaar moet wees soos God dit verordineer het. As gevolg van hulle wesenlike gelykheid, doen Paulus en Petrus ‘n beroep op vroue om hulself vrywillig te onderwerp aan hul mans as die liefdevolle hoofde van hulle families. Mans is nie geroep om te vereis dat hulle vroue onderdanig aan hulle moet wees nie, maar moet eerder self aan God onderdanig wees, en hul vroue en gesinne welwillend, liefdevol en teer in die liefde van die Here lei (I Petrus 3:7; Efesiërs 5:23-33). Mans moet nie hard of bitter wees nie. (Kolossense 3:19).
Hoekom is dit dat die twee reuse figure in die Nuwe Testament, Petrus en Paulus, byna identiese woorde gebruik wanneer hulle oor die huwelik skryf? Hoekom beskryf hulle die man se plek as een van leierskap of hoofskap? Die antwoord lê in hul wete dat God in Sy skeppingsdade self bepaal het wie in die huwelik en in die kerk sal lei. Paulus stel hierdie beginsel in drie Skrifdele.
Die Apostels se Leer
i. 1 Korinthiërs 11
Die eerste van die drie vername gedeeltes wat ons moet ondersoek en met die ander moet vergelyk is 1 Korinthiërs 11:3-5, 7-12:
“Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan;… Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele. En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.”
Paulus gee in hierdie gedeelte die redes, almal gebaseer op die Skepper se plan, vir vroue onderdanigheid aan hul mans. Eerstens, die man is op grond van die skepping, die beeld van God en weerspieël Sy heerlikheid, terwyl die vrou die heerlikheid van die man weerspieël (alhoewel sy ook in die beeld van God geskape is, soos Genesis openbaar); tweedens is die vrou uit die man geskape om haar man se helper te wees terwyl hy werk om God se mandaat te gehoorsaam.
Die klein woord “want” wat doel aandui (vers 9) is van groot belang; dit dui daarop dat die vrou geskape is ter wille van of vir die voordeel van die man. Die man is veronderstel om die hoof van sy vrou en familie te wees omdat God se prioriteit dit aanwys deurdat Hy die man eerste geskep het. Ons Here Jesus het dieselfde oproep tot die skeppingsorde gemaak toe Hy die heersende leringe oor die huwelik en egskeiding reggestel het (Matthéüs 19:8). Die onderdanigheid van ‘n vrou aan haar man – laat ons dit nie mis nie – is geleer ten spyte van die feit dat die Apostels skryf na die verlossende werk van Christus vir beide mans en vroue plaasgevind het.
Die ander belangrike argument wat Paulus in hierdie gedeelte gebruik, is gebaseer op die verhouding tussen die Vader en die Seun: “God die hoof van Christus”. Gevolglik vind ons dat Jesus tydens sy aardse bediening woorde tot hierdie in effek herhaal, “Ek het nie gekom om my eie wil te doen nie. Ek het nie gekom om my eie woorde te spreek nie. Ek het gekom om die wil van Hom wat My gestuur het te doen en te sê wat Hy my gegee het om te sê”. Het daardie rol Christus se Seunskap verminder? Het dit Sy volle Godheid as die Vleesgewordende afgebreek? Was dit ‘n rede vir oneer of skande? Die antwoord is: beslis nie. Maar God, in die openbaring van hierdie verhouding tussen die Vader en die Seun, het aan ons vir alle tye gesê, “Ek eis dat julle as mans en vroue in verhouding staan soos ons ook as Vader en Seun in verhouding staan. Ek vereis nie van ieder van julle, mans of vroue, iets wat ons as Vader en Seun in ons verhouding nie self sigbaar maak nie.” Hieruit sien ons dat beide die orde wat in die skepping vasgestel is, en die vrywillige onderwerping van die Seun, die voorbeeld stel vir hoe mans en vroue in verhouding binne die huwelik moet staan.
ii. 1 Timótheüs 2
Paulus volg ‘n soortgelyke lyn van redenasie in 1 Timótheüs 2:11-14, waar hy met die vraag handel of vroue kan leer of gesag oor mans in die kerk het:
“Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”
Hier sê Paulus kategories dat op die terrein van die kerk en geestelike sake vroue nie mag leer of gesag oor mans uitoefen nie.
Hoekom leer hy dit?
Want “Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”
Hier doen Paulus ‘n beroep op die skeppingsverhaal as die basis waarom in die kerk vroue verbied word om te leer of gesag oor mans uit te oefen. Dus, die een wat hierdie hoofskap van die man in die kerk omkeer is op die glybaan wat lei tot die omkeer van die hoofskap van die man in die huwelik, en andersom. Beide hoofskappe is gebou op dieselfde uitgangspunt, dieselfde waarheid, dieselfde gedeelte, hulle staan of val saam.
Ons moet ook kennis neem dat hierdie gedeelte in 1 Timótheüs opdragte bevat wat baie mense vandag, selfs onder die evangeliesgesindes, onnodig of beledigend beskou, dit wil sê, dat ‘n vrou in stilte en in alle onderdanigheid moet leer, en in die kerk haar stil moet hou. Hoewel ‘n vrou moet leer, waarsku Paulus haar teen die rationalisering soos studente dikwels doen: “Ek is in staat om dieselfde dinge wat ons geleer word uit te druk. Om die waarheid te sê, ek kan selfs die instrukteur se aanbieding verskerp deur die regte vrae te vra of verdere gevolge voor te stel.” ‘n Leraar ontvang partykeer “vrae” wat nie vrae is nie, maar versoeke vir gelyke tyd en meer. ‘n Vrou moet in stilte en in onderdanigheid aan die gesag van die leraar, leer.
Let daarop dat hierdie gedeelte nie sê, “Ek laat die vrou nie toe om georden te word nie.” Dit sê nie, “Ek laat die vrou nie toe om ‘n biskop of ‘n ouderling te wees nie.” Paulus ken hierdie woorde en kon hulle gebruik het. Met die woorde “onderrig” en “te heers” verbied Paulus die aktiwiteit, nie net die amp nie. As ons kies om ‘n vrou toe te laat om enige kerklike byeenkoms te onderrig, hetsy amptelik of nie-amptelik, dan oortree ons direk die verbod van die apostel Paulus wanneer hy sê “Ek laat nie toe dat die vrou ‘n man onderrig nie” dit wil sê, om mans in geestelike sake binne die kerk te onderrig. Ons moet vashou aan hierdie gedagte: Paulus is besig om die aktiwiteit te verwerp, nie net die amp nie. Dit sal die kern van die bespreking in die lewe van ons kerk wees. Moet egter nie verkeerd verstaan wat ek sê nie. Diegene wat sê dat ‘n vrou nie georden moet word nie is heeltemal korrek. Paulus se woorde het ‘n direkte toepassing op daardie gebied, maar daar moet nie van hierdie gedeelte gesê word dat slegs verordinering verbied word nie, terwyl ‘n vrou toegelaat word om al die ander dinge te kan doen.
iii. 1 Korinthiërs 14
Ons finale teks wat in ag geneem moet word is 1 Korinthiërs 14, veral verse 33-36.
“Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.”
In hierdie konteks blyk dit duidelik dat Paulus nie die gebruik van die woord “spreek” in die breë sin van normale gesprek insluit nie, maar as die ekwivalent van “onderrig”. Dit is redelik om aan te neem dat Paulus “om te spreek” gekies het, want om te spreek (praat) is die gemeenskaplike element aan al die verskynsels wat in hoofstuk 14 behandel word: ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging van die waarheid van God in die erediens. Paul gekorrigeer hul wyse van die gebruik van hierdie sake (behalwe psalms, waarop hy geen kommentaar lewer nie, omdat dit behoorlik gebruik was) in volgorde, en begin met die laaste. Sommige terme word verskillend vertaal (onderrig/lering/woord van instruksie/profesie/openbaring), maar al die gawes moet op ‘n ordelike wyse vir die stigting, troos en bemoediging van die kerk gebruik word. Alhoewel die apostel verskeie individue toelaat om aan die erediens deel te neem, laat hy nie toe dat vroue spreek nie.
Deur middel van die hermeneutiese beginsel, dat die Skrif sy eie verklaarder is, sal ons hierdie gedeelte met 1 Timoteus 2:12 vergelyk, wat ons voorheen oorweeg het. Beide gedeeltes is soortgelyk in inhoud sowel as in Paulus se gebruik van die terme “onderdanig” en “stil”, so dit is logies om af te lei dat sy woorde dat vroue nie toegelaat is om te praat nie, korreleer of gelykstaande is aan sy woorde dat vroue nie toegelaat word om onderrig te gee nie. Die 1 Korintiërs gedeelte het nie nodig om te spesifiseer dat ‘n vrou nie ‘n man mag onderrig nie omdat die konteks van die probleme wat bespreek word die gemeente is wat uit beide mans en vrouens bestaan.
Samevatting
In al drie die gedeeltes wat deur Paulus geskryf is en wat ons oorweeg het, doen hy beroep op die wet (die skeppingsverhaal soos in Genesis geopenbaar) as die basis om vroue te verbied om te spreek, te onderrig, of gesag uit te oefen oor ‘n man. Behalwe dat sy nie toegelaat word om hierdie dinge te doen nie, is ‘n vrou ook verbied om vrae te vra terwyl lering ontvang word, aangesien haar praat in die saamvergaderende gemeente ‘n skande is, ‘n omkering van die orde wat in die skepping vasgestel is. Inteendeel, Paulus wys haar daarop om haar man, die hoof van die gesin, te vra.
Voordat ons sommige besware oorweeg teen die Apostels se lering oor vroue, laat ons kennis neem wat hulle nie verbied nie, met betrekking tot vroue se rol in aanbidding en onderrig in die algemeen:
– Vroue kan in die familie of die private aanbidding bid, en mag byvoorbeeld, in korporatiewe gebed, gelei deur manne tydens gemeentelike aanbidding, deelneem (Handelinge 1:12-14). [1]:
– Volwasse vroue word daarop gewys om jonger vroue aan te moedig om hulle mans en kinders lief te hê, om ingetoë en kuis te wees, huislik, goed, en onderdaning aan hul eie mans te wees, sodat die woord van God nie belaster word nie (Titus 2 :3-5).
– Moeders moet hul kinders leer, hul mans help om hulle “in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Efesiërs 6:4).
– Verder, vroue, soos ander gelowiges, is opdrag gegee om te getuig van Christus se opstanding en dus die Evangelie self aan te bied. (Matthéüs 28:7, 9-10).
– Privaat, kan ‘n vrou met haar man, leerstellige waarhede aan ‘n man verduidelik, soos wat Priscilla en Aquila vir Apollos na hul huis genooi het en aan “hom noukeuriger die weg van God uitgelê” het (Handelinge 18:26).
[Oor die roeping van die vrou oor die algemeen in die koninkryk van God, sien my artikel: Die vrou in God se Koninkryk, drie standpunte -slc]
Verklarings wat die Leer van die Apostels probeer ontduik
Selfs al het die kerk vir die grootste deel van sy geskiedenis die Apostels se leer oor die rol van vroue in die kerk verstaan en hul daaraan onderwerp, het daar onlangs ten minste drie minder-as- Skriftuurlike posisies (‘three less-than-Scriptural positions’), elkeen met sy eie verklaring, ontwikkel.
i. Verwerping van Paulus se gesag
Aanhangers van die eerste groep sê dat Paulus verkeerd is in die gedeeltes wat ons aangehaal het, en dat sy ou Joodse denkwyse hiermee ontbloot word. Dit is duidelik dat hierdie posisie direk die genoegsaamheid van die Skrif ontken, sowel as die inspirasie, onfeilbaarheid en gesag.
ii. “Kultureel gebonde”
‘n Tweede groep beweer dat die onderrig suiwer en eenvoudig kultureel is, wat slegs van toepassing was vir die eerste eeu en die Grieks-Romeinse situasie. [2] Hulle bevorder hulle argument deur te sê dat ander woorde van Paulus, byvoorbeeld Galásiërs 3:28, ‘n meer basiese waarheid gee, dat daar geen verskil is tussen mans en vroue nie. Beide die eerste en tweede groepe loop hul vas teen Paulus te bewering dat sy woorde die gebod van God is (1 Korintiërs 14:37), en dat die manier waarop God man en vrou gemaak het die hoofskap en leierskap funksie bepaal (1 Korintiërs 14 : 34; 11:8-9, 1 Timoteus 2:13).
Ons moet daarop let dat die tweede posisie soms ondersteun word deur die argument dat as vroue mag profeteer, is hulle ook in staat om te leer en te preek. Hierdie beroep op die verskynsel van profesie moet aangespreek moet, omdat profete net na apostels en voor leraars of predikante in Paulus se lys in 1 Korintiërs 12:28 geplaas word. Nog meer problematies is dat Paulus ‘n vrou verbied om in die gemeente te spreek of te leer, eerder dat sy stil moet wees, soos ons vroeër gesien het. Om te verhoed dat Paulus nie van teenstrydigheid beskuldig kan word nie, moet ons erken dat hy, onder die inspirasie van die Heilige Gees, ‘n onderskeid maak tussen die twee aktiwiteite sonder om ‘n verduideliking vir die klaarblyklike uitsondering tot sy verbod te gee. Hy aanvaar die een (profesie), selfs terwyl die ander verbied word (onderrig). Onderworpe aan God se Woord, moet ons Paulus se onderskeid aanvaar, of ons dit kan verstaan al dan nie.
Tog, is daar verskeie faktore wat kan bydra tot die oplossing van hierdie oënskynlike teenstrydigheid. Eerstens, profesie is die verskaffing van ‘n direkte openbaring van God, maar die een wat gekies is om’ n gesaghebbende openbaring oor te dra word nie daardeur gesag toegeken nie. Hy is bloot ‘n instrument of orgaan vir God se openbaring, soos Bileam se donkie (Númeri 22:28), hy dra nie sy eie idees oor nie, en selfs wanneer hy dink hy doen so (soos in die geval van die hoëpriester in Johannes 11:49-52), het sy woorde ‘n ander betekenis as sy voornemens, en word dit deur God gebruik om waarheid oor te dra aan Sy mense
(Ander Gereformeerde kommentators sien nie Paulus se aanvaarding van profesie deur ‘n vrou as ‘n uitsondering op sy duidelike en ongekwalifiseerde stelling “Laat julle vroue hou stil wees in die kerke” nie. Byvoorbeeld, Charles Hodge verduidelik, “Die apostel homself aanvaar in 11:05 dat vroue die gawe van profesie ontvang en oefen. Dit is dus slegs die openbare uitoefening van die gawe wat verbode is. “) [Vir Hodge se verklaring, sien die volgende artikel: Feminism and Women in the Church – slc]
Terwyl ‘n profeet nie gesag van sy eie uitoefen terwyl hy profeteer nie, het ‘n leraar of ‘n prediker in kontras gesag, en oefen dit uit terwyl hy God se woord verduidelik, dit vir sy mense toepas, hulle versterk en hulle vermaan tot getrouheid. Dus, Paulus is ondubbelsinnig in sy verbod op vroue se onderrig of die uitoefening van enige gesag oor die mans in die kerk.
iii. “Beperkte vryheid”
‘n Derde groep probeer Paulus se verbod te vermy deur te sê dat sy lering bedoel is om vroue slegs van die geordende dienste van lerende- en regerende ouderlinge uit te sluit. Sonder die “slegs” is hierdie stelling sekerlik waar, want die onderrig en die uitoefening van gesag kom tot sy hoogste uitdrukking in dié geordende dienste. Maar, om so die verklaring en toepassing van Paulus se onderrig te beperk, is om te misluk in die omgaan met sy eksplisiete taal en die konteks van sy verbiedinge en opdragte. Hy sê nie, wat hy kon gesê het, dat ‘n vrou nie moet verorden word nie, maar eerder, hy verbied ‘n vrou om gesag uit te oefen oor die mans in die kerk.
Sommige wat Paulus se onderrig in die derde manier interpreteer, het ook voorgestel dat hy in 1 Korintiërs 14 net bedoel dat vroue nie die profete in die gemeente oordeel nie. Hierdie begrip, vernuwend soos dit is, is op geen manier wat geïmpliseer word in die konteks nie: niks word gesê oor die beoordeling van die profete in die hele hoofstuk nie. Verder hou dit nie rekening met die baie ooreenkomste tussen 1 Timoteus 2:11ev en die 1 Kor gedeelte nie: beide beveel stilte en verbied ‘n vrou om te spreek of te leer, want sy mag nie gesag uitoefen oor ‘n man nie. Aangesien die vorige gedeelte korrek verstaan word as ‘n verbod op die vrou om onderrig te gee in die kerk, kan ons nie sien dat die laaste gedeelte ander besorgdhede behandel nie.
Verder, Paulus se bevel teen ‘n vrou om te spreek of om ‘n vraag te vra, sowel as sy opdrag dat “as hulle wil navraag doen oor iets [‘n onsydige onbepaalde voornaamwoord wat hier ook beteken “enige iets “], hulle hul eie mans by die huis moet vra”, is so breed sodat dit teenstrydig is met die “profeet-oordeel” interpretasie.
Ten spyte van al die bewyse tot die teendeel, het diegene wat die betekenis van Paulus se onderrig wil beperk, die gesegde geskep, ” ‘n Vrou kan enigiets doen wat ‘n nie-geordende man kan doen.” Die wat hierdie beginsel volg, meen ‘n uitsondering moet gemaak word, om vroue toe te laat om te spreek en te lei in aanbidding, indien daar nie geordende mans teenwoordig is nie en sy is die mees begaafde persoon in die byeenkoms is.
Ander beweer dat ‘n vrou mans in ‘n studie van die Bybel kan onderrig in Sondagskool of elders, met of sonder ‘n manlike voorganger, omdat sulke aktiwiteite nie beperk is tot geordende mans nie. Soos ons reeds herhaaldelik waargeneem het, die probleme met hierdie sienings is dat hulle toelaat presies wat Paulus verbied het, dit wil sê, dat ‘n vrou ‘n man of die gemeente leer, en verder, hulle ignoreer sy vereiste van stilte en onderdanigheid. Om te ontken dat Paulus vroue verbied om onderrig te gee en gesag uit te oefen in die kerk is, om beide die duidelikheid en die genoegsaamheid van God se Woord te ontken.
iv. “Die gawes argument”
Onlangs het ‘n ander kontingent wat wens om Paulus se verbiedinge te omseil, ‘n beroep op 1 Petrus 4:10-11 gedoen, mendende dat hierdie gedeelte nuttig is om perspektief te gee op die rol van vroue in die kerk. Die gedeelte lui soos volg:
“Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”
Die argument gaan voort op die volgende manier: Petrus spreek die hele kerk en elke individu aan (vgl.” elkeen ” in vers 10), die manlike Griekse woord wat weergegee word deur “iemand” in vers 11 en gevolg word deur “hy” is ‘n geslag inklusiewe vorm (in die OAV vertaal as ‘iemand’ en in die NAV as ‘hy’ –slc). Dus aan beide mans en vroue het God óf ‘n “om te spreek” gawe of ‘n “bediening” gawe geskenk en hulle moet hierdie gawes uitoefen soos Petrus aandui. Hierdie siening lyk geloofwaardig, maar omdat ons die Skrif gebruik om die Skrif te verklaar, en die Skrif homself nie weerspreek nie, moet hierdie gedeelte vergelyk word met die Bybel se onderrig elders. Terwyl dit waar is dat vroue, soos manne, die ontvangers van God se gawes is, mag daardie gawes alleen gebruik word op die manier wat Hy toelaat.
Byvoorbeeld, ‘n vrou wat die gawe van onderrig ontvang het, kan vroue wat jonger in jare is of in die geloof, sowel as kinders leer. Hierdie gedeelte kan egter nie gebruik word om Paulus se baie duidelike leringe elders ongedaan te maak nie, so ook nie Petrus s’n nie. Om dit te doen sou wees om die implikasies afgelei (in hierdie geval, verkeerdelik) van een skrifgedeelte te gebruik om die duidelike en spesifieke onderrig elders te omseil, die omkeer van ‘n hermeneutiese beginsel.
Nadat ons kortliks gekyk het na alternatiewe sienings van ons onderwerp, laat ons weer terugkeer na die beginsels in die gedeeltes wat ons ondersoek het, terwyl ons moet onthou dat die Bybel ons enigste en voldoende gids is op hierdie gebied, soos op al die ander gebiede:
1. Ons het gesien in die skeppingsgebeure dat die Here bepaal het dat die man die hoof van die vrou sal wees, wie uit die mens gemaak is om sy heerlikheid en helper te wees.
2. Paulus baseer sy leer op die orde van die skepping en die voorbeeld van die Seun wat Hom aan sy Vader se hoofskap vrywillig onderwerp.
3. Op grond daarvan vereis Paulus dat ‘n vrou vrywillig haar onderwerp aan haar man se leierskap, haar in stilte laat leer in die kerk, en om enige vrae of kommentaar oor wat sy geleer het na haar eie man, by die huis, te neem.
4. Hy laat nie toe dat ‘n vrou spreek, leer, bevraagteken, of gesag uitoefen in die kerk nie.
Konklusie
Ons wat glo en bely dat die Skrif genoegsaam (voldoende) is vir die inrigting van die hele lewe, het die beste toegelaat dat die Skrif se duidelike taal ons harte en gedagtes vasvang. Die Skrif bevry ons van die intimiderende mag van hierdie korrupte wêreld en sy kultuur, en bring ons om elke gedagte, doel en aksie aan die soewereine, geopenbaarde wil van ons Here te onderwerp, vir Sy eer en heerlikheid. [3]
Voetnotas
1. In die apostoliese era was vroue ook toegelaat om te profeteer (1 Kor 11:5, 13-16, Handelinge 21:8-9). Maar hierdie geskenk, wat vir die opbou van die kerk was, soos die spreek in tale, het opgehou toe die kanon van die Skrif voltooi is. Vir ‘n deeglike behandeling van hierdie onderwerp, sien my boek, Prophecy in the New Testament (Dallas, TX: Presbyterian Heritage Publications, 1988).
2. Die standpunt dat vroue in enige en al die dienste in die kerk georden moet word, dat vroue in die huwelik nie onder die hoofskap van hul mans is nie, en dat die Pauliniese-gedeeltes kultureel relatief is, word aangehang en bevorder deur ‘n organisasie in die VSA wat hulleself, Christians for Biblical Equality, noem.
3. The Council on Biblical Manhood and Womanhood is ‘n vereniging en organisasie wat verbind is aan die historiese lering van die Bybel soos uiteengesit in hierdie artikel. Hulle publiseer ‘n tydskrif, beveel literatuur aan op hierdie gebied, en het ‘n groot volume met baie hoofstukke gepubliseer, Recovering Biblical Manhood and Womanhood: A Response to Evangelical Feminism (Wheaton, IL: Crossway Books, 1991). Die vereniging verwelkom intekenaars en bydraes, en kan gekontak word by die administratiewe kantoor: PO Box 7337, Liberty, IL 60.048, of (847) 573-8210, of http://www.cbmw.org.
Slabbert,
Ek het gewaag om my stuiwer in die arm man se beurs te gooi oor die VIDA-vraagstuk in my antwoord op Yf Veldhuizen se vraag op my blog te gee by http://bybelverskille.wordpress.com/2012/01/31/50-vrou-in-die-amp/ Sal graag jou kommentaar wil hoor.