“Ten slotte kan hier ook nog gewys word op die opvallende dat vroeër die kerklike standpunt in sake die stemreg van vroue bepalend was ten opsigte van die stemreg van vroue op politieke gebied, terwyl nou volgens die rapport (en die VIDA voorstaanders vandag – slc) die gangbare beskouing ten opsigte van die stemreg van vroue op politieke gebied bepalend moet wees vir die toekenning daarvan in die kerk.” – GKSA Sinode 1958
“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” – Jesus Christus, Matt.5:13
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” – Paulus, Rom.12:2
Inleidend
Die achilleshiel van baie anti-VIDA (vrou-in-die-amp) voorstaanders, wat ek noem ‘samelewingsfeministe’, is dat hul die leiding en regeringsrol volgens die Woord wat God in die skeppingsordening (Gen.1-2) aan die man toegeskryf het, wil beperk tot die gesin en gemeentelewe.
Die redenasie van die samelewingsfeministe is gewoonlik: die vrou kan orals regeer en lei, ook oor mans in die samelewing en maatskappy … behalwe in die gesin en die kerkbanke. Helen Zille se heerskappy is dus reg solank sy nie ‘n predikant of ouderling wil wees nie. As ‘n vrou so een of twee kinders kan kry, kan sy die res van haar lewe toewy aan haar ‘professionele loopbaan’. Om die gewete te sus word gewoonlik bygevoeg dat sy laasgenoemde moet doen sonder om haar ‘gesin en gemeente’ af te skeep …
Kerklike (evangeliese) feministe (VIDA voorstaanders) gaan bietjie verdere: hul glo weer die vrou moet in die huwelik nie oor haar man regeer nie, maar in die kerk en samelewing kan sy oor mans regeer na willekeur, d.w.s. vroue predikante, ouderlinge en diakens is reg, die profesionele vrou word aangemoedig ‘saam met haar gesins- en kerklike take’, met Hillary Clinton en Helen Zille wat goeie voorbeelde stel van ‘die suksesvolle vrou’.
Verder kry ‘n mens ook radikale feminisme wat glo geslag maak glad nie saak op enige terrein van die lewe nie, hul verwerp God se skeppingsordeninge vir die hele lewe, die vrou kan orals en oor alle mans regeer na willekeur. Omtrent alles is welkom … behalwe natuurlik die bybelse model.
Daarteenoor leer die Bybel dat God se skeppingsordening van die verskillende rolle en take vir man en vrou vir die hele lewe geld. Ja, vroue moet alleen aan hul eie mans onderdanig wees (Ef.5:22; Tit.2:5), maar dit beteken nie hul mag regeer en heers oor mans in die samelewing en maatskappy nie, want
… ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. – 1 Kor.11:3
Paulus se begronding om vroue onderrig en regering oor die man te verbied in die huwelik en gemeente, is juis geleë in die skeppingsordening wat vir die totale lewe geld en albei geslagte geld (1 Kor.14:34; 1 Tim.2:13). Die sondeval wys op die vrou wat buite haar skeppingsordelike rol onafhanklik wou regeer en in stryd is met die goddelike orde wat die Here daargestel het (Gen.3; 1 Tim.2:14,15). Juis wanneer die vrou haar skeppingsaard en rol verlaat deur oor die man te wil heers op watter terrein ookal, begin die ellende en sien ons die hartseer gevolge, deur die geskiedenis en vandag nog (Gen.3:16), vir gesin, gemeente en die samelewing.
Van vroue stemreg in die samelewing tot vroue stemreg in die kerk
In die geskiedenis kom dit juis tot uiting in die verhouding van vroue stemreg in die samelewing en vroue stemreg in die kerk. As die eerste toegegee word, behoort die tweede te volg, daarom dat daar al meer druk is in die oorblywende kerkverbande wat nog nie vrou in die amp het nie, om ook VIDA toe te staan, want as die vrou orals mag regeer … hoekom nie ook en juis in die kerk nie ?
Ook in die GKSA het die geskiedenis van hierdie debat hom afgespeel: eers die druk van vroue stemreg in die samelewing om die kerk, dan vroue stemreg in die kerk (1988 GKSA sinode), en nou staan ons aan die vooraand van die toelating van vroue tot alle besondere ampte in die GKSA (Agenda, GKSA Sinode, Januarie 2012).
Ek het hier onder ‘n paar lyne uitgewys van hoe hierdie deformasie geleidelik plaasgevind het, van die vorige geslagte wat nog vasgehou het aan die Skrif, God se skeppingsordening vir man en vrou, tot vandag se ‘geslag’ wat meen … ‘geslag’ (d.i. God se skeppingsordening vir man en vrou) maak nie meer saak nie, is nie bepalend vir ons kerkregering en kerkwees nie.
Twee sake staan veral uit as u ondergenoemde lees:
1. die Skrif se stem word deur die dekades al stiller en stiller (‘onduideliker’ en ‘onduideliker’), en
2. die mens se samelewing-situasie (tydsgees) bepaal al meer wat die kerk gaan doen en nie doen nie (sien die aanhaling heelbo). Die wêreld bepaal die kerk se agenda, en nie die kerk (God se Woord) verander die wêreld ten goede nie (sien Matt.5 en Rom.12 hierbo)
Nota: die beklemtonings is bygevoeg
1. In 1917 skryf Totius in die Het Kerkblad teen vrouestemreg in die kerk: laasgenoemde meen hy gaan uit van die mens ‘as individu, as mens naas mens, as enkeling sonder meer’, en sê dan:
“Dit doen die Woord van God nie. Dit reken met families, met huisgesinne, met hulle saamgebondenheid in die hoof van die gesin. As die huisvader handel, dan handel hy én vir homself én vir sy huis. ‘n Verkiesing van kerkraadslede moet dan eintlik ook gesinsgewys geskied. Deur sy stem gee die huisvader te kenne hoe sy hele gesin daaroor dink. Liewer sou ons dus hervorming in hierdie rigting voorstaan in plaas van verdere houvas te gee aan die dryfkrag van die individualisme.” (Versamelde Werke, 1977, deel III, bl.195)
2. In die Handelinge van GKSA se sinode in 1920 (bl.81,82), kry ons die volgende ‘Advies insake vroue-stemreg’ (spesifiek ten opsigte van die maatskappy):
“Die uitoefening van stemreg is ‘n regeeraksie en kom as sodanig aan die man as hoof van die gesin toe (1 Tim.2:12, 1 Kor.11:3, Tit.2:5), en nie aan die vrou nie, wat blykens die skeppingsverhaal die man tot ‘n hulp bygestel is (Gen.2:18). … Die beweging vir vroue-stemreg vloei nie voort uit die beginsele van Gods Woord nie, wat uitgaan van die organiese verband waarin God die mensheid geskape het en waaruit sowel die staatkundige as kerklike saamlewe opgebou word. Die huisgesin, die vername sel of kiem waarvan die skepping uitgaan, is vir die drywers van vroue-stemreg nie die beginpunt nie, maar wel die individue of enkele persoon. Hierdie individualisme vat die mens nie in sy organiese skeppings-verband nie, maar as losse persoonlikheid, met ‘n vrye wil, los en onafhanklik van alle goddelike bestel.
As sodanig tree die vrou dan nie op volgens haar skeppingsordinansies nie, maar as persoon naas en in gelyke posisie met die man. Dis die leer van die Franse Rewolusie, wat die mensheid nie erken in sy organiese opbou nie, maar as ‘n klompie losse eenlinge. Daarom is hul ten opsigte van die staatkunde ‘n losse hoop kiesers toevallig op ‘n stuk grond saamgegaar.” (M Postma, D. Rumpff, JD Du Toit)
3. In die Handleiding by die Kerkorde van Kruger, Du Plessis, Spoelstra’s (1966, bl.140) lees ons nog:
“Alleen die belydende manslidmate is stemgeregtig. Aangaande die vraagstuk van vrouestemreg, het die kerk nog altyd ‘n afkerige houding ingeneem. So het die Algemene Sinode, 1930, aan Nederland laat weet dat die saak van stemreg vir susters in die gemeente nog nie in Suid-Afrika aan die orde is nie. Die Sinode van 1958, (art.109) het hom oor vrouestemreg uitgespreek na aanleiding van ‘n rapport van die ekumeniese sinode dat die motiveringe van die stemreg van vrouelidmate in die kerk sodanig is dat dit ook hulle verkiesbaarheid impliseer, en het bloot kennis geneem van die aangeleentheid.
Op grond van die Skrif, 1 Kor.14:34 en 1 Tim.2:12, is dit vroue in die gemeente egter nie geoorloof om te leer of te regeer nie, en om te stem, is ‘n daad van regering en sou meebring dat hulle ook in die ampte verkies mag word.”
Tydens die Sinode van 1958 waarna hierbo vermeld word, is dit treffend om te sien hoe die GES (Gereformeerde Ekumeniese Sinode) rapport se argumente vir vroue stemreg ooreenstem met die hedendaagse voorstaanders van VIDA in die kerk. In antwoord op die GES het die deputate onder leiding van prof. WJ Snyman o.a. die volgende belangrike uitsprake gemaak wat vandag nog steeds geld in die huidige debat oor VIDA (Handelinge van Sinode 1958, art.109 en 110, bl.289-295):
“As hier sprake is van alle regte en verpligtinge, word hiermee die beginsel neergelê nie alleen van die stemreg vir vrouelidmate nie maar ook van hulle verkiesbaarheid tot alle ampte.”
“As die voorskrifte van Paulus in 1 Kor.14 en 1 Tim.2 beperk moet word tot die getroude vrou, soos in die rapport en die uitsprake sonder meer gekonstateer word, beteken dit dat vir die ongetroude vrou nie alleen die kiesreg nie maar ook die verkiesbaarheid tot die leer- en regeeramp, waarop 1 Kor.14:34 vgl. en 1 Tim.2:9 vlg. blykbaar betrekking het, oopstaan. Hier moet egter daarop gewys word dat Paulus hierdie voorskrifte herlei tot die skepping en dus ‘n skeppingsordinansie wat betrekking het op die verhouding van man en vrou in die algemeen, toepas op die huweliksverhouding (vgl. ook 1 Tim.2:8 en 9 vgl., wat nie tot die getroud man of vrou beperk kan word nie), sodat dit allermins vasstaan – wat hier (GES se rapport – slc) as vanselfsprekend aangeneem word – dat hierdie voorskrifte van Paulus beperk moet word tot die getroude vrou.”
“As kiesreg op een lyn gestel word met sekere gebruike en gewoontes in Paulus se dae, dan sit daarin opgeslote dat al was dit in Paulus se tyd verbied, die geldigheid van so verbod nie juis vir ons tyd hoef vas te staan met sy ander opvattings van wat juis en passend is ten opsigte van die verhouding van man en vrou in die huwelik nie. En, as dit dan met die kiesreg die geval sou wees, waarom dan nie met die verkiesbaarheid ook van die getroude vrou nie ? Dit bring by die vraag of hiermee nie al te groot nadruk gelê word op die gebruike en gewoontes van die tyd nie (profetiese woorde van die sosio-historiese metode wat die VIDA debat ‘n paar dekades later sou begin oorheers, en op die vooraand staan van hul grootste oorwinning ? – slc)
“Ten slotte kan hier ook nog gewys word op die opvallende dat vroeër die kerklike standpunt in sake die stemreg van vroue bepalende was ten opsigte van die stemreg van vroue op politieke gebied, terwyl nou volgens die rapport (en die VIDA voorstaanders vandag – slc) die gangbare beskouing ten opsigte van die stemreg van vroue op politieke gebied bepalend moet wees vir die toekenning daarvan in die kerk.” (WJ Snyman, S. Du Toit, WJ van der Merwe)
4. prof GPL vd Linde in sy ‘Die Kerkorde’ (1983):
“Hier word uitgegaan van die gedagte dat die kiesreg in die gemeente by die belydende manslidmate wat nie onder sensuur is nie, berus.”
5. By sinode 1988 kom die wesentlike verandering, die studiedeputate insake die plek van die vrou in die kerk (deel 1: vrouestemreg) onder leiding van prof. A le R. Du Plooy stel hul rapport (Handelinge 1988, bl.502-507). Daar is geen weerlegging van die spesifieke Skrifverwysings soos in nr.1-3 hierbo nie, ook nie die stelling van Kruger e.a. hierbo dat “die kerk nog altyd ‘n afkerige houding ingeneem” teen vrouestemreg nie.
Die rapport vermeld baie insiggewend, en wys daarmee die modern-historiese wortel van die huidige VIDA debatte:
“In die tydperk na die Reformasie tot by die Franse Revolusie het hierin ‘n kentering gebring en tot gevolg gehad dat die gereformeerde kerke hulle moes verantwoord oor die stemreg van vroue in die kerk al dan nie.”
Daar word genoem dat in die 19de en 20ste eeu daar verskil van mening was oor of kiesreg ‘n regeerdaad is of nie, maar daar word nie ingegaan op die saak nie, d.w.s. die rapport bespreek en beantwoord nie hierdie belangrike wesentlike vraag nie (ignoreer dit bloot?).
Nr.1 tot 4 hierbo het aangevoer dat stemreg neerkom op ‘n regeerdaad met verwysing na God se skeppingsordinansie en ander Skrifgedeeltes, maar hierdie rapport antwoord nie daardie vraag nie. Daar word bloot geredeneer omdat die vrou ook ‘n volwaardige lid is van die liggaam van Christus, “daarom behoort vroue en mans mee te werk by die verkiesing van die besondere dienste.”
As dit die argument is, kan ‘n mens dus ook redeneer dat omdat kinders volwaardig deel is van Christus se kerk (HK v/a 74) … daarom mag hul ook verkies word in die besondere ampte ? Of, soos Sinode 1958 daarop gewys het, kan nou geredeneer word dat omdat die vrou ook ‘n volwaardige lid is van die liggaam van Christus, “daarom behoort vroue en mans verkies te word tot die besondere ampte” ? Van God skeppingsordelike onderskeiding tussen man en vrou, wat alle verhoudings raak, en dus verskillende take veronderstel vir man en vrou, dus ook vir en in die gemeente, word nie gehoor nie.
Samevattend: die rapport se aanbeveling word goedgekeur sonder die deeglike inagneming van God se skeppingsordinansie en ander spesifiek tersaaklike Skrifgedeeltes (o.a. 1 Kor.11:3; 14:34; 1 Tim.2:11-15, ens.).
Hartseer genoeg, is laasgenoemde optrede al meer kenmerkend van die afgelope dekades se kerklike vergaderings: sekere sake word aanvaar, nie omdat die Skrif oortuig en daartoe oproep nie, maar omdat die tydsgees dit verlang (2 Tim.4:3,4), en die kerk sekere sogenaamd ‘modern en relevant’ moet bly.
6. Visser se Kerkorde in Praktyk (2006) vermeld bloot dat alle manlike en vroulike belydende lidmate wat nie onder sensuur is nie, aan die verkiesing van ampsdraers kan deelneem, sonder om die saak verder te bespreek.
7. Spoelstra in sy Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering gaan ook nie in op die saak nie, vermeld net dat die belangrikste die approbasie proses is en nie verkies nie.
Slot
Uit bogenoemde uiteensetting blyk dit dat die samelewing (die Franse Rewolusie, en vandag die demokratiese individualisties mensregte-kultuur, die SA grondwet, die nuwe voorgestelde godsdiensregte wet, populêre media, feministiese kultuur, ens.) bepalend is wat die kerk moet doen, en nie meer die Heilige Skrif alleen nie (Hand.17:11). Die kerk as sout vir die samelewing het laf geword en word tans vetrap en misbruik deur die wêreld se agendas (sien Matt.5:13). Die kerk se denke word nie vernuwe deur die Woord nie, maar deur die tydsgees (contra Rom.12:2)
Nie net die kerk vandag se ampsbeskouing nie, maar ook ons skeppingsordeninge-beskouing, Skrifbeskouing asook roepingsbeskouing is in ‘n hewige krisis.
Die samelewingsfeministe met hul middeweg-strategie gaan die VIDA voorstaanders nie keer nie, omdat hul doelbewus of nie-doelbewus, kundig of onkundig, juis die fondament – God se skeppingsordening vir man en vrou, vir die ganse lewe/samelewing (Gen.1 en 2) – verlaat het, daarom dat die fondamente van gesin en kerk ook nou verbrokkel (Ps.11:3).
Die hedendaagse VIDA krisis is net ‘n (verdere) slegte gevolg daarvan.
Mag die Here sy kinders, sy ware kerk teruglei na ‘n biddende Heilige Gees vervulde bestudering, besinning en toepassing van God se Woord, spesifiek sy skeppingsordeninge in ons lewens, gesinne, gemeentes en gemeenskappe, want dan alleen is daar hoop vir ons gesinne, gemeentes en samelewing:
“As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” – Ps.127:1
Sien ook hierdie artikel: Die vrou in God se Koninkryk – drie standpunte
Is die hele gesprek oor stemreg van vroue nie futiel nie, aangesien die praktyk om ampsdraers deur middel van stemming aan te wys nie in die Bybel voorkom nie? As dit ‘n onbybelse praktyk is om ambdraers deur stemming aan te wys, wat maak dit saak of vroue daaraan deelneem of nie. Die hele praktyk van stemming moet afgeskaf word, nie slegs die deelname van vroue aan die stemming nie.
Bouwe, in Hand.1:26 lees ons dat daar deur die lot verkies is, maar daarna bloot dat daar op een of ander manier leiers ‘gekies’ is deur die gemeente, sien bv. 6:5; 14:23; 15:22,25. Daar word nie spesifieke detail gegee presies op watter manier hul verkies is nie. So as daar dan verkies word, is dit wel ‘n belangrike vraag wie mag verkies, omdat om te kies nog altyd verstaan is as regeermag, en nou gekoppel is aan die vraag wie ook in die besondere ampte mag staan.
Ek is oop vir ander maniere van ampsdraers verkies wat in lyn met die Skrif is, en hoor graag wat jy voorstel hoe ampsdraers verkies/aangewys word ?
Ekself is tevrede op hierdie stadium as:
1. kerkraad vra vir name
2. toets name aan die Skrif (Pastorale briewe)
3. hou name ter approbasie voor aan die gemeente
4. waarna bevestiging plaasvind