Die GKSA se algemene sinode het vandag begin. Die volgende moderamen is verkies:
Voorsitter: Ds Danie Snyman
Onder-voorsitter: Dr Douw Breed
Skriba: Ds Hendrik de Beer
Adjunk-skriba: Ds Leo van Schaik / Ds Abel Modise
U kan op volgende manier ingelig bly van die sinode se handelinge, besluite en gebeure:
1. Die Agenda kan op die GKSA se webblad gelees en gevolg word, in Afrikaans en Engels: http://www.gksa.org.za/
2. Op bogenoemde webblad sal ds. Hennie van Wyk, die webmeester van die GKSA se webblad u op hoogte hou wat tans behandel word, en wat afgehandel is. U kan ook via bogenoemde webblad inteken op die ‘gerefkerke’ poslys wat ook daaglikse inligting gaan deurgee oor die sinode.
3. Die wêreld sal u ook op hoogte hou van die gebeure by die sinode, via die Beeld se kerklike verslaggewer (Neels Jackson). Sien sy eerste artikel waar hy reeds besig is om die vure te stook en propaganda te versprei in een rigting:
Die GKSA moet praat oor dié twis
4. U kan ook hier op my blog daagliks kom inloer vir my menings oor die daaglikse gebeure en besluite. U kan net elke keer die ‘refresh’ knoppie druk en dan sal u my nuutste opmerkings lees. Let wel: ek gaan nie vir u die agenda lees of bestudeer nie, so as u belangstel in die gebeure, lees die agenda en sien die artikel indeling soos ek dit gaan gebruik, bv. 16.23 (1.7) verwys na die volgende saak in die Agenda (wat u by punt 1 hierbo) kan gaan lees:
1.7 Vir besluitneming: Aanbeveling
1.7.1 In die lig van die riglyne en besluite van Sinode 1997 (vgl 1.2 hierbo), besluit die Sinode dat die GKSA vir volle lidmaatskap by die SARK aansoek doen ten einde sy profetiese roeping insake sosiale ongeregtigheid uit te leef.
1.7.2 Die te benoeme Deputate moet vir sodanige lidmaatskap aansoek doen.
1.7.3 Die te benoeme Deputate moet aan die werksaamhede van die SARK deelneem via relevante insette en getuienis.
Of, om nog ‘n voorbeeld te gebruik: 16.15 (2) verwys na die volgende saak in die Agenda:
2. Sake waaroor besluit word
Die Sinode gee aan die Deputate Ekumenisteit Owerheidsake die mandaat om saam met ander godsdienste oor sake van gemeenskaplike belang getuienis te lewer, met dien verstande dat die unieke begronding van die Christelike etiek nie in gedrang kom nie en sodanige getuienis geskied binne die raamwerk van KO, art 49.
Of, laaste voorbeeld, 16.14 (2) verwys na die volgende in die Aanvullende Agenda:
2. Sake waaroor besluit word
2.1 Die Sinode gee aan die Deputate Ekumensiteit Owerheidsake die mandaat om die GKSA op die Raad te verteenwoordig.
2.2 Dat begroot word vir lidmaatskapgelde
U is meer as welkom om enige opmerkings of vrae onder aan elke dag se verslaggewing by die ‘comments’ afdeling te plaas. Ek antwoord graag waar dit moontlik is.
In antwoord op Jackson se propaganda (en dit blyk dat hy, volgens sy artikel ‘n spreekbuis is vir baie in die GKSA), dat die lied (aanbidding/erediens) en kerkregering (VIDA saak) nie sake is wat ‘regtig saak maak’ nie, net die volgende paar opmerkings:
1. NGB art.7 wys daarop dat die ‘hele wyse waarop God gedien wil word’ (en die ‘gedien’ wys primêr op aanbidding en erediens, dus die lied) in die Skrif volledig genoegsaam uiteengesit word. Dus, die lied maak regtig saak volgens ons belydenis wat gegrond is op Gods Woord. Sien ds. Wes Bredenhof se artikel oor NGB art.7 en aanbidding: “Die hele wyse waarop God gedien moet word” hier, onder die afdeling: ‘Kerk’: http://www.esra.za.org/
2. In HK Sondag 35 bely ons volgens die tweede gebod dat ons die Here alleen moet vereer soos Hy in sy Woord beveel en op geen ander manier nie, dus aanbidding (wat ons sing) maak saak, dit is ‘n belydenis-saak, nie ‘n onbelangrike middelmatige saak nie. Dieselfde geld vir wie in die besondere ampte mag dien, alleen wie die Here beveel, nl. godsvresende bekwame mans (1 Tim.3).
3. NGB artikel 27-35 gaan direk oor ware kerkregering (en dus die dienste) volgens God se beveel. In art.32 bely ons dat ons noukeurig moet bly by wat God deur Christus ingestel het en alles moet verwerp wat daarmee in stryd is (sien wat die kenmerke van die valse kerk is in art.29, o.a. ‘dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God’). Dus, wie in die besondere ampte mag dien (art.30: “ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee”), “maak regtig saak” vir ons ware kerkwees vandag.
4. As ons nie bly by Koning Jesus se bevele aangaande hoe ons Hom moet aanbid en dien deur kerkregering nie, waarom gaan ons dan enigsins na Hom luister oor enige ander aspek van die ‘evangelie’ of die ‘kern van kerkwees’ ?
Jesus Christus, die Verlosser én Koning van sy Kerk onder alle volke, vra daarom vir ons elkeen wat sy Naam bely en in sy Naam vergaderings hou en besluite vir sy Kerk wil neem:
“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk.6:46)
5. Vir die GEREFORMEERDE Kerke sal dit beter wees om Calvyn te volg in die besluit oor sake wat ‘regtig saak maak’ en nie saak maak nie:
“As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die Christelike geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee dele nie alleen die belangrikste plek beklee nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens is, naamlik, eerstens, ‘n kennis van die manier waarop God reg aanbid moet word, en, tweedens, die bron waarvandaan verlossing verkry word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos.”[1]
Dus, hoe die HERE gedien word, hetsy in aanbidding (bv. lied) of in (ere)diens (bv. kerkregering, VIDA) is wesentlike sake vir “die kern van kerkwees”, ten minste vir die Christen, en soveel te meer vir die gereformeerde Christen.
Skepping
VIDA
Vrou in die ampte
Vertalings
regulerende beginsel
tweede gebod
skrifkritiek
ens.
“The further the church is removed from Jesus and his charismatic apostles, the more complex its institutions become.” – Bruce Waltke
[1] Tracts relating to the Reformation by John Calvin, translated by Henry Beveridge, vol.I (Edinburgh: T&T Clark), p.116.
Baie dankie vir jou verslaggewing oor hierdie belangrike sinode. Ek sal dit graag volg. Ek stem saam dat die ware Kerk van Christus Hom moet volg en nie die humanisme wat so oor feitlik al die ander kerke in SA gespoel het met hul “menseregte” en “godsdiensregte” en “partementêre stoel” waardeur daar in elkgeval geen werklike invloed uitgeoefen word nie!
Seën
Herman.
Slabbert
Ek sal graag wil weet, wanneer julle daar kom, wat is die besluite oor die aanbevelings by 19.2 RAPPORT 2 – DEPUTATE CHRISTELIKE ONDERWYS – ONAFHANKLIKE SKOLE EN TUISONDERWYS 3. Aanbevelings. veral 3.4 en 3.9.
Asook 19.3 RAPPORT 3 – DEPUTATE CHRISTELIKE ONDERWYS –
VERWIKKELINGE IN DIE ONDERWYS Aanbeveling 3.1.
En asb jou kommentaar daarop.
Hoe gaan Kekrade getuienis lewer, gaan hulle ouers op die multigodsdiens benadering in die publieke skolesisteem wys en aanbeveel dat kinders na Christelike skole gestuur word? Gaan blootstelling aan multigodsdienstige onderwys beskou word as in stryd met die doopbelofte?
As die agenda van die sinode (307 bl.) vertroulik is en eers openbaar gemaak kan word op die sinode, is geen publieke bespreking en ontwikkeling van perspektiewe deur ouderlinge en lidmate moontlik nie.
Indien die aanvullende agenda (743 bl.) eers op die sinode beskikbaar gestel word, is deeglike voorbereiding deur afgevaardigdes nie moontlik nie.
Die afgevaardigdes by die sinode is almal ampdraers wat op grond van hulle wysheid en gawes toegelaat is tot die amp. Het enigiemand van hierdie ampsdraers beswaar aangeteken daarteen dat deeglike bespreking en voorbereiding vir die sinode nie moontlik is nie?
Bouwe, skuus, ek het nie die volle inligting gehad nie, sien weer my opmerking by 10h15 by 5 Januarie, hier is dit solank:
“10h30: Interessante waarneming: die Agenda wat vooraf beskikbaar was is 307 bladsye lank. Die Aanvullende agenda wat gister eers beskikbaar gestel is, is 773 bladsye lank. (byvoeging: die aanvullende agenda is vanaf bl. 308 tot 773, d.w.s. meer as die helfte van die oorspronklike agenda.”
Maar jou punt is nog steeds geldig. Die aanvullende agenda is meer as die helfte van die gewone agenda.
Martin, ek sal luister wat die argumente is, maar ek dink dit gaan weer iets wees soos: “ons moet ons kinders in die staatskole ‘toerus’ om teen die dwalinge te kan staan.”