GKSA algemene sinode 2012 – eenheid in verdeeldheid

Ek plaas hier op my blog ‘n samevattende oorsig van die belangrikste sake van die algemene sinode in Januarie 2012.  Dit is geskryf deur Rob van der Kooy (GK Kandelaar), gepubliseer in die Kompas (tydskrif van die VGKSA), en word met albei se toestemming hier geplaas.  Ek het hier en daar ‘n opskrif tussen hakies bygevoeg om meer sake te onderskei wat van belang was op die sinode.

___________________________

Algemene sinode – ‘n oorsig

Eenheid in verdeeldheid

Die algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het  op 4 Januarie in Potchefstroom begin en binne agt dae ‘n agenda van 773 bladsye afgehandel. Die vergadering het verbasend goed verloop in die opsig dat daar geen skeiding van die weë van kerke was of gaan wees nie, en alle afgevaardigdes het op 13 Januarie min of meer positief huiswaarts gekeer, waarskynlik dankbaar dat dinge goed afgeloop het.

Tog was dit duidelik dat daar diepgaande verskille in die kerke is, dat ‘n aantal kerke hulle in die afgelope jare nie aan gesamentlike besluite gehou het nie, dat heelwat  leervryheid toegelaat word en dat almal besef dat iets drasties moet gebeur. Dit was duidelik dat daar ‘n gebrek aan eenheid in leer, diens en tug is.

Oor wat gedoen moet en kan word, moet deputate nou vir drie jaar ‘n studie maak sodat die volgende sinode die geskille dalk meer effektief kan aanspreek.

Vrou in die amp

Die diepgaande geskille het veral duidelik na vore gekom by die agt beswaarskrifte oor die vorige sinode se besluite oor die vrou in die amp. Een stel beswaarskrifte het gevra dat die besluite nietig verklaar moet word. Die vrou mag nie in die ampte dien nie, ook nie in die diakenamp nie. ‘n Ander stel beswaarskrifte het betoog dat die besluite nie ver genoeg gegaan het nie en dat daar geen Bybelse redes is waarom die vroulike geslag nie in al die ampte mag dien nie.

Die sinode besluit toe deur middel van ‘n buitengewone ordevoorstel om die beswaarskrifte nie te behandel nie. Want as die beswaarskrifte behandel word, sou dit die onderliggende problematiek rondom die geskille nie oplos nie, maar eerder verdiep. Grondliggende oorsake moet eers bepaal word en aandag kry, het die sinode besluit. Daarby moet deputate ‘n “omkeerstrategie” uitwerk om die kerk se missionêre roeping na te kom.

Deputate het dus opdrag gekry om die grondliggende oorsake te bepaal, om die beswaarskrifte te bestudeer en om die sinode te adviseer oor hoe eenheid en verskeidenheid in die kerke hul missionêre roeping kan dien. Ook moet die deputate probeer bepaal wanneer vryheid in verskeidenheid in ongehoorsaamheid aan die Woord oorgaan, wanneer besluite en optrede van ‘n kerk die gemeenakkoord in gedrang bring, wanneer kerklike besluite ‘n las op mense se gewetens plaas, en hoe die GKSA verlos kan word van ‘n verlammende persepsie van ‘n sterwende kerk en die persepsie verander kan word in ‘n helder beeld van ‘n kerk met ‘n missionêre roeping.

Intussen moet kerke in die volgende drie jaar tot die volgende sinode in liefde en begrip teenoor mekaar optree (Rom 14), nie ander gebruike invoer pleks van dit waaroor kerke ooreengekom het of wat tans in die kerke in gebruik is nie. Kerke moet fokus op ‘n omkeerstrategie en op hul missionêre roeping.

[Skrifbeskouing]

Vir almal is dit duidelik dat ‘n belangrike oorsaak van die geskille in verskillende sienings van die hermeneutiek lê – hoe die Bybel uitgelê moet word. Dit lei tot verskillende sienings oor die gesag van die Bybel of minstens van sekere Bybelgedeeltes. ‘n Mens kan maar sê dit is die openbaringshistoriese benadering teenoor die sosiohistoriese siening. Of om dit meer populêr te stel: diegene wat die Bybel wil uitlê volgens hoe die Bybel self voorskryf dit uitgelê moet word, teenoor diegene wat die Bybel meer as ‘n historiese boek sien wat in die lig van vandag se insigte en omstandighede uitgelê en toegepas moet word.

Om hierdie ver uiteenlopende sienings bymekaar te bring, is nog nooit êrens in die wêreld reggekry nie. Dit is eintlik ‘n teenstelling tussen hoe God gedien wil word, en oor die mens wat self ook seggenskap wil hê. Soos iemand opgemerk het: Miskien het dit tyd geword vir ‘n nuwe belydenis oor Bybeluitleg.

Daar is waarnemers wat aanvoer dat kerke nou vir drie jaar rustig met die verskille gaan saamleef en geen aandag daaraan gaan gee nie.  En oor drie jaar begin alles weer. Menslikerwys gesproke is hulle reg. Maar lidmate mag – moet – hoop en bid dat die Heilige Gees ons lei tot eenheid in die waarheid . En lidmate moet die deputate help met hul studie.

[Die vrye lied]

Hierdie verskille het in talle ander sake ook na vore gekom. Vir alle praktiese doeleindes het die sinode besluit dat die vrye lied nou ook toegelaat word, met die beperking dat sulke liedere eers deur die sinode goedgekeur moet word. Nadat die sinode ‘n aantal sulke liedere goedgekeur het (onder meer “Stille nag, heilige nag”), is ongelukkig eers daarna ‘n aantal goeie riglyne vir die keuring van sulke liedere goedgekeur (sien kassie hierby).

Predikantopleiding

‘n Potensieel gevaarlike besluit is geneem toe ‘n voorstel van die kuratore van die Teologiese Skool goedgekeur is waarvolgens studente wat op ander plekke as by die Teologiese Skool studeer, eers deur die professore van die skool geëksamineer  moet word voordat streeksinodes sulke voornemende predikante eksamineer. Die gevolg kan wees dat nie meer die kerke nie, maar die professore bepaal wie predikant mag word en wie nie.

In die afgelope paar jaar was daar verskeie inisiatiewe in die rigting van ander opleidings. Die laaste inisiatief waaraan die Vrye Gereformeerde Kerke ook deelgeneem het, het laat verlede jaar gesneuwel.

[Verhouding met die NG Kerk]

Dat daar verskeie professore is wat in ‘n sekere rigting dink en dinge wil stuur, het ook geblyk uit ‘n voorstel wat eers aan die begin van die sinode op die tafel gekom het, naamlik om bande met die NG Kerk nouer aan te haal. Daar was baie beswaar oor die manier waarop die voorstel op tafel gekom het. Die sinode het in kommissie gegaan en die voorstel verwerp, ondanks pogings van die professore om die afgevaardigdes tot ander insigte te bring.

Hoe van hulle dink (prof D du Plooy en K Coetzee by name) , het geblyk toe een van hulle daaroor in die openbaar standpunt ingeneem het (Beeld, 20 Januarie), waarby toe ‘n aantal kerke aansluit (Beeld, 25 Januarie).

[Omkeerstrategie]

In die lig van die steeds voortdurende daling in die getal lidmate van die GKSA, veral van dooplidmate, is besluit dat na ‘n omkeerstrategie gesoek moet word. Hierdie term is natuurlik ‘n moderne en wêreldse term. Soos een kommentator opgemerk het: “’n Omkeerstrategie is nie nodig nie, maar bekering!” ‘n Mens kan byvoeg: die enigste strategie, missie en visie wat die Here gee, is sy Woord. Ons moet gehoorsaam wees en die roeping en geleenthede wat Hy gee, uitleef.

Evolusionisme   

‘n Ander saak is die kwessie van evolusie. Hierdie saak kom elke keer op sinodes ter sprake sonder dat uitsluitsel gegee word. ‘n Mens wonder ook of ‘n sinode die plek daarvoor is. Is dit ‘n kerklike saak? Aan die een kant wel, want evolusionisme word deur baie mense – veral die sogenaamde wetenskaplikes en ongelowiges – gesien as die alternatief vir geloof. Aan die ander kant is dit ook ‘n wetenskaplike kwessie waar sinodes nie oor genoeg deskundigheid beskik nie.

Die vorige sinode het ‘n studiegroep onder leiding van professor Pieter Stoker aangestel en hulle het hul studie aan die sinode voorgelê. Die gevolgtrekking van die studiestuk is dat Genesis letterlik histories is. Maar dit beteken nie dat wetenskaplike waarnemings verwerp moet word nie. In die geval van botsings tussen geloof en wetenskap moet die gelowige egter kinderlik bely dat hy tans nie die kennis het om dit te verklaar nie.

Die studiegroep het daarmee sy werk voltooi en die sinode het dit aanvaar en met ’n groot meerderheid sy dank daaroor uitgespreek. Dit is nie bespreek nie en die presiese inhoud is vir die outeurs se eie verantwoordelikheid gelaat.

[Vertalingskwessie]

‘n Ander saak waarteen op sinode na sinode beswaar gemaak word, is die GKSA se aanvaarding van die Nuwe  (1983) Afrikaans Bybelvertaling. Ook nou was daar weer ‘n lywige beswaarskrif. Dit is duidelik dat die kerke nou nie verder oor hierdie saak wil handel nie; die beswaarskrif in onontvanklik verklaar. Uit en gedaan.

Aros

Die sinode het met dank kennis geneem van die Christelike Onderwysdeputate se verslag oor Aros. Dit het nogal ‘n bespreking afgegee, nie oor die meriete van Aros se vordering nie; daaroor was almal dankbaar, maar oor die vraag of die Potchefstroom-kampus van Noordwes-Universiteit ook vir sy Christelikheid bedank moet word. Sommige afvaardigdes is blykbaar steeds onder die indruk dat Potch steeds soos in die verlede Christelik is.

[Ekumeniese betrekkinge]

Ten slotte enkele opmerkings oor ekumeniese betrekkings:

  • Deputate het oor jare regtig hard probeer om samesprekings met die (swart) streeksinode Soutpansberg (‘n deel van die sogenaamde Venda-kerke) te voer om vas te stel wat hul probleme met die GKSA presies is en om met hulle daaroor te praat. Maar hulle kon dit weer, soos soveel kere in die verlede, nie regkry nie. Die sinode het nou besluit om die bande wat eintlik al lankal nie meer bestaan nie, formeel te breek.
  • Talle buitelandse afgevaardigdes het die sinode gewaarsku om nie die vrou in die amp toe te staan nie. Behalwe dat dit in talle kerke oorsee steeds ‘n twispunt is, het afgevaardigdes dit ook op Skriftuurlike gronde afgewys.

Slotsom

Dis is moeilik om ‘n algemene gevolgtrekking van die sinode te maak. Het dit die kerke nader aan Gods Woord en ook aan mekaar gebring? Of het die kerke verder uitmekaar beweeg? ‘n Baie belangrike pluspunt is dat die kerke eerlik en openlik saamgestem het dat daar diepliggende verskille is wat aangespreek moet word.

Moeilike besluite hieroor is uitgestel, maar ‘n mens kan nie stel dat valse leer geyk is nie. Daarmee bly die GKSA wel ‘n verdeelde en in verskeie opsigte ‘n dwalende kerkverband, maar daar is sekerlik ook baie gehoorsame kerke.

Kassie in artikel:

Riglyne vir liedere

Die sinode het twee bladsye se riglyne vir liedere wat in die kerk gesing mag word, goedgekeur. Dit is algemene riglyne soos ten opsigte van liturgiese bruikbaarheid, letterkundige en musikale gehalte en toepaslikheid.

  • Spesifieke liedere het spesifieke riglyne. In  die geval van Psalms en Skrifberymings moet die beyming Skrifgetrou wees en die aard van die Skrifgedeelte weerspieel. Liedere uit die Nuwe Testament moet die verskillende Godsname sover as moontlik behou.
  • Belydenisliedere moet op die Godsopenbaring en die belydenis daarvan as ‘n Skrifwaarheid (dogma) berus.
  • Skrifgetroue liedere moet die Bybelse inhoud suiwer en korrek weergee volgens die kerklike belydenis en die Bybel se openbaringshistoriese lyne, ‘n antwoord op God se openbaring. En waar ter sprake moet dit duidelik wees dat die Ou en die Nuwe Testament gelyklik die Woord van God is. Daar is wel onderskeid, maar ook ‘n eenheid vanuit die vervulling in Christus.

(Samevatting van bl 242 – 244 van die agenda van die sinode).

4 thoughts on “GKSA algemene sinode 2012 – eenheid in verdeeldheid

Add yours

  1. Slabbert, Hierdie plasing bied ‘n goeie oorsig aan mense wat die Sinode verrigtinge vanuit die pers moes aanskou. Behalwe natuurlik vir diegene wat op jou en ander internetverbindinge ietsie meer kon ervaar. Ek dink dis van groot waarde.
    Rondom die kwessie van die ou, die nuwe en die komende Afrikaanse Bybelvertaling wat DV. 2016 beskikbaar sal wees, is ek oortuig dat elkeen die werklike feite wat die verskille veroorsaak, objektief moet beoordeel. Op my blog hateer ek hierdie feite. Ek onderneem om enige verskil wat kommer veroorsaak, te ondersoek en eerlik al die feite wat beskikbaar is, op die tafel te sit. Mens kan net ‘n ingeligte besluit neem as jy die feite biddend en objektief evalueer. Ons het niks meer, maar ook niks minder nodig as dìt wat God laat neerskryf het nie. Die onvervalste Woord van God! Seën, Herman.

  2. Bouwe van der Eems skryf op die gksaforum met verwysing na bogenoemde artikel:

    Verlede jaar het die kuratore van die TSP ‘n mededeling aan die kerkverband versprei waarin uiteengesit word dat die professore aan die TSP die meerderheid van hulle inkomste van die NWU ontvang. Aangesien die NWU onder die beheer van die staat is, impliseer dit dat die professore aan die TSP die meerderheid van hulle inkomste van die staat ontvang.

    Die GKSA Forum het in Desember 2011 ‘n versoek tot nadere verklaring oor die situasie aan die kuratore gestuur. Tot dusver het ons nog geen antwoord ontvang nie. Die brief aan die kuratore is onder aan hierdie boodskap.

    In die nuutste uitgawe van Pro Regno word die volgende berig : “…`n voorstel van die kuratore van die Teologiese Skool goedgekeur is waarvolgens studente wat op ander plekke as by die Teologiese Skool studeer, eers deur die professore van die skool geëksamineer moet word voordat streeksinodes sulke voornemende predikante eksamineer. Die gevolg kan wees dat nie meer die kerke nie, maar die professore bepaal wie predikant mag word en wie nie.”

    In dieselfde uitgawe van Pro Regno word oor die volgende vermeld : “In die afgelope paar jaar was daar verskeie inisiatiewe in die rigting van ander opleidings. Die laaste inisiatief waaraan die Vrye Gereformeerde Kerke ook deelgeneem het, het laat verlede jaar gesneuwel.”

    Dit lyk dus asof daar ‘n tendens in die GKSA is om die opleiding van predikante volledig onder beheer van die staat te plaas. Dit laat mens wonder of sinode 2012 nie dalk die sterfjaar is vir gereformeerde kerke, op soortgelyke wyse as toe aanvaarding van die kerkorde van De Mist dit was nie.

  3. Kan ek dalk vra wie Prof. K Coetzee is? Ek weet van ‘n CFC Coetzee maar nie ‘n K Coetzee nie.

    1. Hallo Johan, ek dink hy verwys na CFC Coetzee, wat genoem word ‘Callie’, wat die skrywer seker spel as ‘Kallie’. Groete daar.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: