‘n Kort oorsig van die geskiedenis van Christusverwagtings
in die Ou Testament
prof. HG (Gert) Krugera
a School of Chemistry, University of Kwa-Zulu-Natal, Durban 4001, South Africa.
Email: kruger@ukzn.ac.za
Hierdie artikel is die eerste van drie aflewerings waarin die botsende sienings van die Reformasie en die histories-kritiese metode ten op sigte van die Christusverwagtinge in die Ou Testament (Psalms) bespreek word. Die eerste deel behandel die geskiedenis oor die interpretasie van Christusvoorspellings en die tweede deel fokus op die twaalf uitleggingsbeginsels wat Calvyn gebruik het in sy beoordeling van die Messiaanse karakter van die Psalms. Noukeurige bestudering van hierdie studie sal lesers in staat stel om ‘n selfstandig deel te neem aan die huidige debat oor Christus (al dan nie) in die Psalms. Akademici uit die geledere van die Reformatoriese tradisie ondervind enorme druk van internasionale “liberaal wetenskaplike” kringe en joernale om die wese van die Gereformeerde[2] belydenis en die outoriteit van die Skrif oor die Messiaanse karakter van die Ou Testament (OT) te laat vaar. Hierdie druk blyk die direkte oorsaak te wees van ‘n sistematiese maar beslisde wegbeweeg van die Skrifverklaringsbeginsels van die Reformasie, selfs onder Gereformeerde akademici. ‘n Derde deel sal dan DV daarna geplaas word waarin die mate van die weglating van Christus uit die 2001 Psalmomdigting (Cloete omdigting) wetenskaplik bepaal word aan die hand van die twaalf beginsels wat Calvyn gebruik het.
Die artikels maak onderskeid tussen die begrippe interpretasie en uitlegging. Die terme “interpretasie” en “uitlegging” is gelaai met ‘n baie dieper verskil in betekenis as wat waarskynlik algemeen besef word. Vir die doel van hierdie artikel word die onderskeid tussen die begrippe in ‘n vereenvoudigde vorm gehandhaaf, naamlik met “uitlegging” word verstaan dat die Skrif se finale gesag/uitspraak oor die saak aanvaar word en by “interpretasie” word verstaan dat menslike subjektiwiteit betrokke is by die verklaring van die teks. Skrif”verklaring” word meesal neutraal gebruik. Geinteresseerde lesers word verwys na volledige besprekings van die onderwerp deur Greijdanus,[3] Stoker[4] asook Schulze[5]. Greijdanus verduidelik ook die volle betekenis van begrippe soos eksegese, hermeunitiek ens.
Opsomming
‘n Kort samevatting van die geskiedenis van Messiaanse interpretasie van die OT word verskaf. Post Reformatoriese aansprake op die “indirekte” betekenis van die teks en die sogenaamde betekenis van die boodskap vir die “eerste hoorders” word verskaf en geanaliseer. Daar word aangetoon dat hierdie spekulatiewe “norm” uiteindelik uitloop op ‘n totale ondermyning van die Messiaanse karakter van die OT. Daar word ook aangetoon dat die persepsie in die literatuur dat Reformatoriese uitlegging sogenaamd op dogma gebaseer is, nie korrek is nie. Drie fases kan in Calvyn se Skrifuitleggingsmetode onderskei word, naamlik eksegese, ordening van dogma en oordrag van die boodskap deur preke. Dogma-ontwikkeling het dus gevolg uit sy Skrifstudie en nie die omgekeerde nie. Gereformeerdes word wel gebind deur die belydenis, maar omdat dit Skrif gefundeer is behoort daar nie spanning te wees tussen die uitkoms van Skrifuitlegging en die kerklike dogma soos uiteengesit in die Belydenis nie. Veral nie as die hoogste gesag oor die betekenis van die teksvers, die Skrif self, is nie. Die publikasie van ‘n opponerende standpunt in die reformatoriese kringe is wel moontlik maar as gevolg van die moeite en tydsduur om die res van die kerverband daarvan te oortuig, is die proses onprakties veral vir teologiese akademici wat voordurent deur sekulêre universiteite gedruk word om hulle navorsingsuitsette te verhoog. Sodanige akademici probeer dan ‘n fyn eierdans uitvoer om ‘n skeptiese internasionale akademiese gemeenskap van hulle akademiese kredensiebriewe (vry van enige voorveronderstellings, dogma en Belydenis) te oortuig, terwyl hulle in kerkverband voorgee dat hulle nog steeds by die Gerformeerde waarheid staan.
Inleiding
Die verklaring van Christusprofessië in die OT bly aktueel en word tans weer op die spits gedryf. Die Nederlandse Geloofsbelydenis baseer die Christusvoorspellings in die OT op Genesis 3:15 (artikel 17), Jesaja 7:14 (artikel 17), Psalm 2 (artikel 10), Psalm 22, (artikel 21), Psalm 32 (artikel 22), Psalm 34 (artikel 26), Psalm 51 (artikel 22), Psalm 69 (artikel 21), Psalm 110 (artikels 21, 27) en Psalm 132 (artikel 18). Onlangse publikasies (ook uit gereformeerde kringe)[6] en sinodes[7] beweer dat hierdie teksverse nie na Christus verwys nie, of, hulle water die betekenis af tot ‘n “indirekte” Messiaanse voorspelling. William Whiston (1708-1724) het reeds argumenteer dat die oorspronklike letterlike betekenis van die vers die werklike boodskap van die teks weergee. Volgens Clements[8] het hierdie debat oor die Messiaanse karakter van die Ou Testament (OT) begin met die boek van Anthony Collons in 1727 waarin hy beweer het dat die Nuwe Testamentiese (NT) skrywers die OT aangepas het by hulle boodskap. Hierdie boodskap berus dan ook op ‘n sogenaamde allegoriese[9] verstaan van die Joodse geskrifte (die OT) in die tyd van die apostels. Collons hou vol dat slegs die oorspronklike letterlik betekenis van die vers die ware boodskap weergee. Ander outeurs verwys ook na die bydrae van Collons as die beslissende moment waar daar permanente verandering tov Skrifverklaringsmetodiek ingetree het.[10]
Thomas Sherlock het probeer om die skade wat Collons met sy boek veroorsaak het te bolwerk met sy publikasie “The Use and Intent of Prophesy” (London, 1732). Die liberale momentum bou egter op met Lowth (1710-78) wat Jesaja letterlik verklaar asook Herder (1744-1803) en Eichhorn (1752-1827) wat spoedig die tradisioneel Messiaanse verklarings in die OT verwerp.
Vervolgens vervang Robertson Smith (1882) en Kirkpatrick (1886-90) die Messiaanse verwagting in die OT met ‘n algemene hoopsgedagte. Die vloedgolf in akademiese kringe stoom so sterk voort dat Goodspeed’s in sy boek “Israels Messainic Hope to the Time of Jesus” (1900) die voormalige Christusverwagting reduseer tot ‘n poging om die ontwikkeling van die morele begrip onder die Israeliete in die geskiedenis na te vors en te beskryf.[11]
‘n Aksie later kom Edelkoort (1941) vanuit ‘n meer konserwatiewe agtergrond met ‘n “nuwe” beskouing in sy boek “De Christusverwachting in het Oude testament”, naamlik die sogenaamde “direkte” (eenduidige) en “indirekte” betekenis van teksverse in die OT.[12] ‘n Vers word as “indirek” Messiaans interpreteer as dit ooglopend na ‘n persoon of saak verwys wat in die tyd van die opskryf van die teks sou gegeld het. Byvoorbeeld, in Psalm 101:8 kan daar duidelik verstaan word dat die vers ook op Dawid dui. Calvyn verklaar egter die vers as Messiaans.[13] Longman (1988) vel die “doodsvonnis” oor die Messiaanse karakte van die OT en skryf dat daar geen “direkte” Christusvoorspellings in die OT voorkom nie.[14] Hy aanvaar dat Christus die hooffokus van die Bybel is, maar aangesien die eerste hoorders die boodskap in die OT op hulle eie letterlike situasie toegepas het, kan geen OT vers as Messiaans beskou word nie!
Psalm 110 is ‘n populêre geskilpunt in die hedendaagse debat oor die saak.[15] Paul haal verskeie mense aan wat oordeel dat die Psalm oor ‘n aardse koning handel en dat die Messiaanse verklaring eers in die NT bygesleep is.[16]
Hierna volg ‘n kort skets oor die geskiedenis van Skrifuitlegging/interpretasie. Die doel van die opsomming is om die leser op hoogte te bring met die verloop en verwikkelinge ten opsigte van die Messiaanse interpretasie van die OT en om aan te toon waar Calvyn gestaan het ten opsigte van die saak. Dit sal die leser instaat stel om die jongste debat oor die Messiaanse karakter van die OT (al dan nie) self te analiseer en te beoordeel. ‘n Gebalanseerde oorsig oor die onderwerp kan verkry word deur onder andere die volgende werke te bestudeer: Bray,[17] Greijdanus[18] Mckim[19] en Yarchin.[20]
Diep verskille het oor die eeue onder Christene ontwikkel oor die manier waarop die Skrif verstaan moet word. Dit blyk dat die diepste oorsaak daarvan toegeskryf kan word aan verskille oof die gesag van die Skrif. Drie hoofstrome kan hieroor onderskei word:[21]
- Die Bybel is ‘n versameling van menslike geskrifte wat deur die eeue heen hulle ondervindinge met God beskryf.
- Die Bybel is weergawe van mense waarmee God op verskillende maniere gekommunikeer het, en die Bybel beskryf wat hulle sou verstaan het.
- Die Bybel is die geinspireerde Woord van God wat met die hulp van mense opgeskryf is.
Die huidige spanning tussen die akademies/wetenskaplike metode om die Bybel te interpreteer (histories-kritiese interpretasie) en “dogma gebaseerde” verklaring[22] vloei waarskynlik voort vanaf die 3e en 4e eeu waartydens die Grieks-Romeinse skool onder Origen (185 – 254 A.D.) in Alexandra ‘n meer geestelike verstaan van die Skrif beoefen het. Hierteenoor het die Siriese groep onder Theodore van Mopsuestia (350 – 428 A.D.) in Antiogieë ‘n meer letterlike (historiese) verstaan van die teks toegepas.[23] Sedertdien het die loopgrawe verdiep en het daar drie skole ontwikkel in terme van Skrifverklaring:[24]
- “Liberale” of “wetenskaplike” teologie wat die Bybel sien as ‘n menslike dokument wat nie ‘n Goddelike openbaring bevat nie. Hierdie filosofie het uitgeloop op die Skrifkritiese navorsingsmetode wat gekenmerk word deur onstabiliteit[25] en ‘n onvermoë om ‘n universeel aanvaarde teologie tot stand te bring.
- Die tweede groep probeer om die Skrifkritiese metode van navorsing te versoen met die Christelik ortodokse[26] teologie. Sommige verklaarders van die vroegste kerk (Origen en sy aanhangers) dien as voorbeeld van hierdie groep.
- Ortodoks Christelike (“konservatiewe”) teologie soos beoefen is deur die Protestantse Hervormers en hulle navolgers. Hierdie groep verklaar die Skrif aan die hand van die kerklike dogma.[27] Hulle neem die konteks van die teksvers in ag maar dit speel slegs ‘n ondersteunende rol. Opponente van die groep beskou hulle as bevooroordeeld en pre-gedetermineerd omdat die uitslag van hulle verklaring reeds deur die bestaande dogma bepaal is
Oorsig van die geskiedenis van Bybelse interpretasie met spesifieke verwysing na die erosie van die Messiaanse karakter van die OT
Volgens die Gereformeerde standpunt probeer die Satan voordurend om die Messiaanse karakter van die OT, en die Bybel in geheel, te ondermyn. Hy het daarin geslaag om die meerderheid Jode te oortuig dat die verbond met God en die Wet op ‘n letterlike wyse verstaan moet word, sodat hulle die geestelike boodskap van hulle verlossing in Christus nie raak gesien het nie. Die Jode het begin glo dat hulle deur middel van ‘n pynlike nakom van honderde reëls (goeie werke) hulle saligheid kon verdien. Christus het die oë van die apostels en die vroeë kerk geopen om die Christusvoorspellings in die OT reg te verstaan en ook te begryp hoe Hy dit vervul het (kyk Lukas 24:25-27, 32, 44-46). Dit blyk dat die vroegste kerkvaders Justin Martyr (100 – 165 A.D.), Origen (185 – 254 A.D.), Tyconius (Laat 4e eeu) en Augustinus (354 – 430 A.D.) grootliks die Skrifuitleggingsmetode wat deur Christus en die apostels voorgehou is, nagevolg het.[28]
Die vroegste Joodse kommentare het ongeveer 400 B.C verskyn. Die antieke Griekse mitologie maak reeds van die 5e eeu B.C gebruik van ‘n allegoriese vertelstyl. Hierdie Grieks-Romeinse styl was reeds sterk gevestig toe die Joodse geskrifte (die OT) in die 2e eeu B.C. in Grieks vertaal is (die Septuaginta). Hierdie vertaling word deurgaans deur die apostels aangehaal. Yarchin het aangetoon dat alhoewel die spesifieke verklaringstyl van die Dooie See rolle (ontdek in 1947) nie allegories is nie, die basiese begronding daarvan tog ooreenstem met Alexandriese allegorie.[29] Philo (20 B.C. – 50 A.D.) het die Skrif (Torah) allegories verklaar, maar hy het ‘n balans gehandhaaf tussen die letterlike en geestelike betekenis van die teks. Hy het gewaarsku teen oormatige en geforseerde allegoriese interpretasie van die teks.[30] Die histories konteks van die OT is feitlik totaal deur Justin ignoreer in sy hantering van die Christusvoorspellings in die OT en die vervulling daarvan in die NT.[31] Origen het ‘n reuse bydrae gemaak tot die rykdom van die vroegste kerkargief ten opsigte sy uitgebreide philologiese[32] en historiese geskrifte oor die Bybel.[33] Athanasius (4e eeu) was die eerste Christelike eksegeet wat die kerklike dogma sentraal in sy hermeneutiese metode geplaas het.[34] Augustinus word as ‘n allegoriese verklaarder geklassifiseer alhoewel hy in die algemeen die letterlike betekenis (historiese betekenis soos deur die skrywer bedoel) van die teks in aanmerking geneem het. Alhoewel hy in teorie die allegoriese styl van interpretasie verwerp het, het hy geglo dat die Skrif ‘n allegoriese betekenis bevat, ongeag die oorspronklike bedoeling van die menslike outeur.[35] Augustinus vestig die beginsel in die Christelike kerk dat die Skrif verklaar moet word vanuit die duidelike tekste na die minder duidelike tekste. Hierdie beginsel word later tydens die Reformasie weer met groot vrug ingespan.[36] Min mense besef egter dat die beginsel reeds algemeen gebruik was (voor Augustinus) deur Joodse verklaarders soos Hillel en Sjammai.[37]
Volgens die Protestantse beskouing het Satan die kerk deur Rome infiltreer (5e eeu tot die reformasie) en daarin geslaag om die Woordverkondiging vir alle praktiese doeleindes uit die erediens te verwyder. Aangesien Latyn en Grieks gedurende die 8e en 9e eeu grootliks in onbruik geraak,[38] het die Bybel ontoeganklik geraak vir gewone Christene omdat die Bybel nog nie in ander tale vertaal was nie. Die Roomse kerk het stelselmatig die verlossing in Christus verplaas met verdienstelike goeie werke en voorspraak deur heiliges.[39]
Daarna is die tafel stelselmatig gedek vir die histories-kritiese metode van interpretasie, alhoewel die ontwikkeling daarvan nog lank sou neem. Peter Lombard (1100-60 A.D.) was die vader van die gedagte dat die outeur se oorspronklike bedoeling die sleutel tot die korrekte verstaan van die teks is. Sy werk Sententiae het spoedig die gesagvolle teologiese standaard geword vir die res van die middeleeue. Die 16e eeuse Hervormers se opleiding is ook grootliks op sy werke gebaseer en hy word beskou as die klassieke middeleeuse teologiese verteenwoordiger. Robert van Melun (1167 A.D.) het weer meer gekonsentreer op die teologiese vraagstukke van sy tyd. Dit het daartoe gelei dat die verklaring van die teks effens agterweë gelaat is en het aanleiding gegee tot die volgende ontwikkeling in teologiese interpretasie waar die algemene teologiese siening geskei is van die hermeunitiese proses en ook waar die hermeunitiek geskei is van die algemene teologiese siening (dogma).[40]
John Wycliffe (1329-84 C.E) word beskou as een van die môresterre van die Reformasie. Hy het baie sterk klem geplaas op die gesag van die Skrif teenoor die outoriteit van die kerk. Hy het in teenreaksie op die Roomse tradisie en die Pouslike gesag oor die betekenis van die Bybel oortuig geraak dat die letterlike betekenis van die teks die absolute waarheid oor die teks openbaar. Dit kom voor asof die allegoriese interpretasie deur die Roomse tradiese in die tyd “Goddelike” gesag verkry het. Dit het aanleiding gegee tot sy groot werk De Veritate Sacrae Scripturae (Oor die Waarheid van die Skrif) in 1378.[41] Dit is interressant dat Luther ook geworstel het tov die afdwaling en reeds vroeg in die Reformasie (1518-21 C.E) daarvan bevry is. In een van sy lesings oor die Psalms skryf hy die volgense:[42]
It was very difficult for me to break away from my habitual zeal for allegory. And yet I was aware that allegories were empty speculations and the froth, as it were, of the Holy Scriptures. It is the historical sense alone which supplies the true and sound doctrine.
Die verskil tussen die allegoriese interpretasie van Augustinus en die bevryding daarvan deur Calvyn (1509 – 1564 A.D.) word treffend deur Bray beskryf.[43] Hy haal Dodd (1935) aan wat ‘n studie gedoen het oor Calvyn se amper kru reaksie op Augustinues se allegoriese verklaring van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Volgens Bray het Calvyn ses hermeneutisie beginsels toegepas in sy Skrifuitleggingsproses:[44]
- Gelowiges het ‘n persoonlike ontmoeting met God wanneer hulle die Bybel lees en die Heilige Gees oortuig hulle van die waarheid in die teks.
- Die belangrikste kenmerk van ‘n goeie Bybelkommentaar is duidelikheid en bondigheid.
- Die outeur se bedoeling met die boodskap moet die uitlegger lei tot die korrekte verstaan van die teks. Daarvoor het hy die historiese konteks, die omstandighede wat destyds gegeld het, die ervaringskennis van die gehoor en die grammatiese vorm van die teks gebruik.
- Alhoewel Calvin die letterlike betekenis van die teks gebruik het met sy uitlegging, het hy dit nie slaafs gevolg nie.
- Christologiese Skrifuitlegging moet histories korrek wees maar ook in lyn wees met die algemeen aanvaarde teologiese siening (die algemene reël van die Christelike geloof).
- Hy het drie definitiewe fases toegepas met sy uitleggingsmetodiek, naamlik eksegese, dogma-ontwikkeling en prediking.
Greijdanus gee ‘n opsomming van omtrent 24 hermeneutiese beginsels wat tydens die Reformasie ontwikkel het. Vir belang van die studie is die volgende beginsels:[45]
- Die Skrif bevestig haar eie outoriteit (Dit word ook vervat in Inst. 1.7.5; NGB art. 3, 5 en 7).
- Om die Skrif te verstaan is dit noodsaaklik dat die uitlegger se oë en verstand deur die Heilige Gees verligword (Sien ook Inst. 3.2.34).
- Die hoogste regter oor Skrifuitlegging is die Skrif self.
- Die Skrif is volmaak en volkome (perfectio) en in alle opsigte duidelik genoeg (perspicuitas) sodat die beginsels van die geloof daaruit afgelei kan word. Die Skrif is noodsaaklik (neccessitas) en genoegsaam (sufficientia) om alles wat nodig is om te weet en te glo vir jou saligheid te kan verstaan. (Dit word ook later vervat in NGB, art. 7).
- Die uitlegging van die Skrif kan nie ‘n resultaat gee wat bots met die algemene reël van die Christelike geloof nie.
Yarchin beklemtoon Calvyn se soeke na die beste teks, sy waardering vir die grammatika van die teks, die styl van die oorspronklike taal en die historiese sowel as die letterlike betekenis van die teks.[46]
Dit is duidelik uit die studies deur Bray, Greijdanus en Yarchin dat Calvyn die balans tussen die letterlike/historiese en die geestelike betekenis van die teks herstel het. Sy Skrifuitlegging studies het hom in staat gestel om die beginsels vervat in die Belydenis en Gereformeerde dogma te bevestig en uit te brei. Hy het ‘n monumentale aandeel gehad aan die sistematisering van die Reformatoriese teologie (vergelyk sy Institusie van die Christelike Godsdiens) en hy het die eenheid tussen die OT en NT gehandhaaf.
Die ontwikkeling van die histories–grammatiese metode van interpretasie deur Franke (1663-1727 A.D.)[47] en Keil (1754-1818 A.D.)[48] het daarna gevolg. Ernesti (1707-81 A.D.[49] verleen stimulus aan die ontwikkeling van die histories-kritiese metode van interpretasie deur doelbewus (en so vêr as moontlik) die bestaande dogma te ignoreer met sy interpretasie van die Skrif. Spoedig daarna begin Bauer (1755-1806 A.D.) om die twee Testamente as aparte entiteite te behandel.[50] Die “Verligting” of “Aufklärung” dateer terug na omtrent 1648[51] en behels die “Age of reason” waarin die filosofie en die menslike brein die oorsprong van kennis word. Teologies tradisie en dogma word verwerp. Baie Britse, Nederlandse, Franse en Duitse teoloë het deelgeneem aan die debat en meegewerk om die akkuraatheid van die Skrif in terme van die geskiedenis en nuwe wetenskaplike ontdekkings te bevraagteken. Yarchin[52] lig Baruch Spinoza (1632-1677) uit as een van die leidende figure van hierdie fase. Spinoza verwerp alle Bybelverklarings wat op kerklike dogma geskoei is.
Skrifkritiek wat tydens die Reformasie bykans begrawe is, kom weer na die oppervlak en teoloë begin om die meganiese en letterlike inspirasie van die Bybel te verwerp.[53] Baie van hulle verwerp die Goddelike inspirasie van die Skrif geheel en al. Teen die einde van die 18e eeu word die opkoms van die neologiste[54] (J.S. Semler, J.G. Eichhorn and J.P. Gabler) in Duitsland gesien.[55] Die neologiste was “konserwatief” in vergelyking met die rationaliste, maar tog was hulle standpunte hoegenaamd nie versoenbaar met die van die “ortodokse” Protestante nie. Semler (1725-1791) ontken die Goddelike inspirasie van die Bybel en verklaar dat alhoewel die OT wel na Christus wys, dit beperk word tot ‘n aantal onbetwisbare verse.[56] Hy het ook aangedring dat die Skrif sonder enige dogmatiese voorveronderstellings geinterpreteer moet word. Nadat Eichhorn die snoeiskêr woes onder die Messiaanse karakter van die OT ingespan het, verklaar hy in 1793: “The last three decades have erased the Messiah from the Old Testament.”[57]
Die histories-kritiese metode van interpretasie het begin met die aandrang dat enige teksvers verstaan moet word in sy oorspronklike konteks,[58] en beslis nie onderinvloed van ‘n bevooroordeelde opvatting vanuit die kerklike dogma nie. Hierdie nadruk het spoedig oor die hele akademiese landskap gespoel en dit het spanning veroorsaak by konserwatiewe teoloë wat in die breë internasionale teologiese arena wil publiseer. Die spanning volg omdat hulle aan die een kant steeds vertroue by hulle onderskeie geloofsgemeenskappe moet inboesem deur hulle onderwerping aan die Christelike belydenis/dogma, terwyl hulle aan die ander kant ‘n skeptiese internasionale teologiese gemeenskap van hulle akademiese geloofwaardigheid moet oortuig, deur afstand te doen van enige vooroordele soos kerklike dogma of belydenis.[59] Dit is onnodig om uit te wys dat so ‘n situasie ondraaglik is en dat ware toedrag van sake waarskynlik na ‘n kortstondige ontkenning ontbloot sal word.
Met die tot standkoming van die histories-krities interpretasie het daar ‘n stelselmatige verwydering van teologiese tradisie en dogma uit die interpretasieproses plaasgevind.[60] Keil (1754-1818 A.D.) het ‘n groot rol gespeel by die ontstaan van die grammaties-historiese metode van interpretasie[61] Yarchin[62] identifiseer Strauss (1808-1874 A.D.) as ‘n leidende figuur wat die histories-kritiese benadering sterk propageer het. Momentum hiervoor het ook opgebou met die ontwikkeling van die wetenskap sedert die 17e eeu wat bevindinge gemaak het wat in stryd was met die algemene verstaan van die Skrif deur die destydse kerk. Die verhaal van Eden, die sondvloed, die maagdelike geboorte van Christus asook die opstanding is toenemend deur teologiese wetenskaplikes betwyfel en as nie-historiese gebeure beskou. Strauss lewer daarna ‘n vernietigende negatiewe uitspraak oor die historiese geloofwaardigheidvan die hele Bybel.[63]
Die volgende belangrike ontwikkeling in die veld van Bybelinterpretasie was die opkoms van die grammaties-historiese metode van interpretasie (Schleiermacher – 1768-1834 A.D. tot Schweitzer – 1875-1965 A.D.). Die historiese Jesus word nou begrawe onder verskillend lae van teologiese tradisie wat voortgespruit het uit drie hoofstrome in die tyd van die vroegste Christelike kerk (50 i–s 100 A.D.), naamlik die Palistynse Judaïsme, Judaïsme uit die geledere van die Jode in Diaspora en die Hellenistiese jong kerk. Die hoofles uit die tydperk van die grammaties-historiese interpretasie is dat suiwer neutrale en objektiewe wetenskaplike teologiese navorsing nie moontlik is nie. Elke metode van interpretasie of verklaring gaan van sekere teologiese voorveronderstellings uit, al word dit nie deur almal erken nie.[64]
Die liberaal-kritiese kringe het vervolgens baie veld gewen totdat argeologiese opgrawings groot bydraes gemaak het om die akkuraatheid en geloofwaardigheid van die Bybel te herstel Hierdie opgrawings het enorme geldelike steun uit konserwatiewe groepe in die VSA ontvang. W.F. Albright (1891-1971 A.D.) het ‘n groot rol in die navorsing gespeel.[65] Nietemin het die groot gros internasionale teologiese navorsers steeds die standpunt gesteun dat vry en oorspronklike akademiese navorsing oor die interpretasie van die Bybel ernstig gekortwiek word deur die beperking wat die Christelike belydenis op akademici plaas.[66] Die druk van neoliberale groepe het veroorsaak dat konserwatiewe kerklike strukture hulle greep op voormalige konserwatiewe universiteitsbastionne verloor het vanaf die 1920’s tot die 1970’s.[67]
Baie teologiese navorsers uit konserwatiewe kringe het serdert die sestiger jare ‘n “nuwe” hermeneutiese aanslag omhels waarin dit nodig is om die kultuur in die Bybelse tyd sorgvuldig te bestudeer aangesien dit van uiterste belang geag is om die boodskap soos die eerste hoorders dit sou verstaan het, te ontrafel.[68] Die jongste herlewing van die histories-wetenskaplike metode van interpretasie kan herlei word na die welbekende artikel van Krister Stendahl[69] waarin hy die belangrikheid van die oorspronklike betekenis van die teks benadruk (“what did the text mean”).[70] Interessant dat Bray hierdie metode van interpretasie sonder seremonie en met eenvoudige logika tot ‘n onbeduidende en onwetenskaplike oefening reduseer. Bray skryf “there is not much point in trying to work out what the response from the first hearers would have been, even on the doubtful assumption that there would have been only one such response. Careful study of the context in which the book was written can help us to understand it better, but it can never be the final criterion for interpretation.”
Juis daarom is hierdie metode van interpretasie in stryd met die die beginsels van die Reformasie, naamlik dat die hoogste gesag oor die korrekte verstaan van die Skrif, die Skrif self is. Verder is die Bybel duidelik en genoegsaam sodat gewone gelowiges die beginsels van ons geloof daaruit kan aflei. Laasgenoemde is in artikel 7 NGB verwoord. “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.”
Maier,[71] wat in breë as ‘n navorser uit die skool van die Reformasie beskou kan word, stel omonwonde dat hierdie histories-wetenskaplike interpretasiemetode daartoe lei dat “pouslike deskundiges” weereens die sleutel tot die “korrekte”verstaan van die Skrif gekaap het. Maier verdedig ook die reg van Reformatoriese teoloë om nuwe (opsienbarende) interprasies van die Skrif te toets aan die hand van die algemene Christelike standpunte soos vervat in die kerklike dogma.[72] Hy toon ook aan dat Skrifverklaring, sonder om gebonde te wees aan ‘n voorop ingestelde raamwerk, nie moontlik is nie.[73] Hierdie standpunt is reeds voorheen gemaak deur Greijdanus[74] en ook later deur Bray.[75] Yarchin[76] spandeer ‘n hele hoofstuk in sy boek aan “The Illusion of Objective Biblical Interpretation: Walter Wink (1935 – )”
Gevolgtrekking
‘n Studie van die geskiedenis van Bybelse interpretasie toon aan dat daar twee hoof oorsake is wat aanleiding gegee het tot die sistematiese erosie en uiteindelike ontkenning van die Messiaanse karakter van die OT. Eerstens het die kunsmatige skeiding van die OT en NT in teologiese skole (professors spesialiseer òf in studies oor OT òf in die NT) grootliks daartoe bygedra dat die eenheid van die Skrif en daarmee saam die Messiaanse karakter van die OT ondermyn is. Tweedens het teologiese wetenskaplikes die Gereformeerde dogma/belydenis waaraan nuwe teologiese interpretasies getoets moet word omseil en het hulle die nuwe afwyking met fyn voetwerk begin navolg omdat navolging van die belydenis hulle produktiwiteit in terme van verhoogde navorsingsuitsette ernstig kortwiek.
Die jongste metode van Bybelse interpetasie, naamlik om te onderskei tussen sogenaamde “direkte” en “indirekte” Messiaanse teksverse het die weg voorberei om Christusvoorspellings in die OT te degradeer en uiteindelik selfs tot miskenning van die Messiaanse karakter van bekende OT dele gelei.
“Moderne” aansprake dat die betekenis van die teks vir die eerste hoorders die sogenaamde sleutel tot die ware betekenis van die teks bevat, volg waarskynlik uit die werk van Peter Lombard (1100-60 A.D.) se Sententiae waarin hy groot klem op die oorspronklike betekenis van die teskvers geplaas het. Die gedagte is later deur die histories-kritiese metode van interpretasie (beginnende by Collons in 1727) verder gevoer met hulle aandrang dat enige teksvers verstaan moet word in sy oorspronklike konteks.[77] Daar is weer nuwe lewe in die gedagte geblaas met die bekende artikel van Krister Stendahl[78] in 1962 oor “what did the text mean.” Dit is dus kristalhelder dat die jonste aandrang, selfs uit gereformeerder kringe[79] (en sinodes),[80] op die betekenis van die teks vir die eerste hoorders uit die kraal van die histories-krities interpretasie ontleen is. Die gebruik van sulke bevoorregte inligting (oor presies wat die eerste hoorders dan sou verstaan het) is dan die afgelope paar dekades met groot vrug ingespan om onbestrede verwysings na Christus in onder andere Psalms 22 en 110 te verwater en selfs te ontken. Hierdie tensens is ‘n duidelike skuif weg van die Gereformeerde belydens (vergelyk NGB artikels 7, 21, 27). Aandrang en aansprake (op die betekenis van die teks vir die eerste hoorders) van histories-kritiese teoloë is ongeldig omdat die Skrif as hoogste regter oor die saak verplaas word met ‘n subjektiewe siening van die mens.
Aansprake van liberale teologiese wetenskaplikes dat die Reformatoriese Skrifuitlegging dogma gedrewe is, is nie korrek nie. Dit sou meer van pas wees om te stel dat die resultaat van die Gereformeerde Skrifverklaringsproses gemeet word aan die beginsels van die kerklike dogma soos vervat word in die Belydenis.[81] Reformatoriese teoloë word daarom uiteindelik tog gebind deur die Belydenis van die kerk. Maar aangesien die Belydenis op die beginsels uit die Skrif gebaseer is, is dit daarom hoogs onwaarskynlik dat Gereformeerde Skrifuitlegging tot ‘n ander resultaat sou kom wat sou bots met die algemene reel van ons geloof.
Die enigste weg vir Gereformeerde teoloë om ‘n nuwe opponerende teologiese siening ordelik te publiseer is om die kerkgemeenskap te oortuig dat die kerk se dogma verkeerd is, of dat dit verkeerd geïnterpreteer word, of dat dit gewysig moet word om die nuwe siening te akkomodeer. Dit is gewis nie ‘n maklike taak nie en kritici van die ortodoks Reformatoriese standpunt verdien erkenning daarvoor dat die “waghond” karakter van die Christelike Belydenis beslis as ‘n effektiewe muilband vir histories-kritiese teoloë dien. Nietemin breek prominente teoloë soos Maier[82] ‘n lansie vir die reg van Gereformeerdes om nuwe Bybelse interpretasie resultate te toets aan die hand van hulle kerklike Belydenis, omdat dit nou algemeen aanvaar word dat Skrifuitlegging sonder ‘n ooreengekome teologiese beginselraamwerk of voorveronderstelling nie moontlik is nie.[83]
As gevolg van toenemende druk deur akademiese instellings op akademici om hulle navorsingsuitsette te verhoog, word die Gereformeerde metode van Skrifuitlegging toenemend deur akademiese teoloë verwerp omdat dit as te eng en beperkend beskou word. Hulle brood en botter (bevordering) hang grootliks daarvan af dat hulle nuwe opspraakwekkende teorieë soos ‘n worsmasjien die lig moet laat sien. Dit is nie moontlik as jy deur die kerk se belydenis gekortwiek word nie. Die greep van die internasionale liberale teologiese wetenskaplikes is so sterk op internasionaal erkende teologiese joernale, dat Gereformeerde Skrifverklaarders enorme druk ervaar om die grondwese van die kerklike Belydenis, veral oor die outoriteit van die Woord van God, te misken. Hierdie faktore het grootliks daartoe bygedra dat die Messiaanse karakter van die OT vanuit akademiese kringe stelselmatig ondermyn is. Ongelukkig het dit ook oorgespoel na die res van die kerk (byvoorbeeld die Cloeteomdigting van die Psalms) soos in deel drie van die reeks artikels aangetoon sal word.
Die volgende deel van die artikel behandel die beginsels wat Calvyn gebruik het om die Messiaanse inhoud van ‘n teksvers te bepaal. Die volgende artikel sal ook daarop fokus om te bepaal of enige van die histories-kritiese interpretasie tegnieke wat in hierdie eerste artikel uitgewys is, hoegenaamd herlei kan word na Calvyn se geskrifte.
Bedankings
Groot dank aan wyle Prof. Ludi Schulze (Emeritus Professor in Dogmatiek en Dogmageskiedenis, Noord-Wes Universiteit, Potchefstroom, Suid Afrika) vir sy waardevolle insette met die skryf van die oorspronklike artikel.
[2] Die woord “Gereformeerd” word deurgaans indie algemene sin gebruik, naamlik sinoniem met die beginsels van die Reformasie. Die gebruik van die woord in hierdie artikel hou nie verband met die “Gereformeerde Kerk” nie.
[3] S. Greijdanus, Schriftbeginselen ter Schriftverklaring en Historisch Overzight over Theorieën en Wijzen van Schriftuitlegging (J. H. Kok n.v. Kampen, 1946): 6-20.
[4] H.G. Stoker, ‘Uitlegging of Interpretasie’ Koers, 1935: 27-33.
[5] L.F. Schulze, Mag ons die Bybel interpreteer? Die Kerkblad, 23 September 1998:14-15.
[6] P.A. Verhoef, ‘Calvyn oor Messiasverwagtinge in die Ou Testament’, Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 1990: 112-117.; H.F. van Rooy, ‘Die Nuwe Psalmomdigting: Is die Messias weggelaat?’ HTS 60(3), 2004: 755-767.
[7] Sinode Acta 1991, Bl 107-8 en bl 120-1; 48ste Nasionale Sinode Acta 2003:642,643 Art. 21.1 F, tesame met Bylae A, p. 657.
[8] R.E. Clements, ‘Messianic Prophesy or Messianic History’, Horizons in Biblical Theology, 1, 1979: 87-114.
[9] Allegoriese interpretasie veronderstel dat die skrywer iets anders bedoel het as wat letterlik daar staan. In die geval van die Bybel soudit ‘n geestelike betekenis veronderstel.
[10] W.C. (jr.) Kaiser, The Messiah in the Old Testament (Grand Rapids, MI: Zondervan, 1995): 13-14.; G. Bray, Biblical Interpretation. Past & Present. (Downers Grove, Illinois, Intervarsity Press, 1996): 231.
[11] Clements, Messianic: 88-90.
[12] A.H. Edelkoort, De Christusverwachting in het Oude testament” (H. Veenman & Zonen, Wageningen, 1941).
[13] Calvin, Commentaries on Psalm 102:8: 255-256.
[14] T. Longman III, How to read the Psalms. (Downers Grove, IL: InterVarsity, 1988): 65.
[15] D.M. Hay, Glory at the right hand. Psalm 110 in Early Christianity (SBL MS 18, Nashville: Abingdon, 1973).; B C Davis, ‘Is Psalm 110 a Messianic Psalm?’ Bibliotheca Sacra, 157, 2000: 160-173.; H.F. van Rooy, ‘Die Nuwe Psalmomdigting: Is die Messias weggelaat?’ HTS 60(3), 2004: 755-767.
[16] M.J. Paul, ‘The order of Melchizedek (P 110:4 and Heb 7:3)’ Westminster Theological Journal 49, 1987: 195-211.
[17] Bray, Biblical.
[18] Greijdanus, Schriftbeginselen.
[19] D. K. Mckim (ed), Historical Handbook of Major Biblical Interpreters, (Intervarsity Press, 1998).
[20] W. Yarchin, History of Biblical Interpretation. A Reader. (Peabody, Massachusetts, Hendrickson Publishers Inc., 2004).
[21] Bray, Biblical: 19-20.
[22] Bray (1996, p84-9) stel dat die Gereformeerde metode van Skrifverklaring dogmagedrewe is. Hierdie stelling word later in hierdie studie bespreek en afgewys.
[23] Bray, Biblical: 84-89.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 159-172.; Yarchin, History: 76-82.
[24] Bray, Biblical: 21-24, 105, 139, 223, 244, 258, 355, 446, 464, 584-8.
[25] Akademici kom daagliks navore met nuwe opspraakwekkende teorieë wat vir’n kort tydjie in die mode is en dan weer afgeskiet word deur ‘n nuwe opspraakwekkende teorie.
[26] Die term “Christelik ortodoks” soos deur Bray gebruik kom grootliks ooreen met die Reformatoriese tradisie.
[27] Hierdie standpunt sal later in die artikel evalueer word.
[28] Greijdanus, Schriftbeginselen: 156 – 177.; Yarchin, History: 62.
[29] Yarchin, History: XIV.
[30] Greijdanus, Schriftbeginselen: 146, 150-153.; Yarchin, History: 27.
[31] Yarchin, History: 32.
[32] Philologie beskou beide die vorm en betekenis van ‘n taalkundige uitdrukking. Dit kombineer dus taalkundige en literêre studies om die betekenis van ‘n uitdrukking te bepaal.
[33] Greijdanus, Schriftbeginselen: 165-6.; Yarchin, History: 41-50.
[34] Bray, Biblical: 105.
[35] Bray, Biblical: 92.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 173-7.; Yarchin, History: 62.
[36] Yarchin, History: 67.
[37] Greijdanus, Schriftbeginselen: 148.
[38] Bray, Biblical: 129-138.
[39] Heidelbergse Kategismus, Sondag 11.
[40] Bray, Biblical: 139.
[41] Bray, Biblical: 143.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 181-182.
[42] Bray, Biblical: 198.
[43] Bray, Biblical: 493-494.
[44] Bray, Biblical: 201-202
[45] Greijdanus, Schriftbeginselen: 183-188.
[46] Yarchin, History: 184-194.
[47] Bray, Biblical: 241-242.
[48] Bray, Biblical: 247.
[49] Bray, Biblical: 244; Greijdanus, Schriftbeginselen: 199-200; D. K. Mckim (ed), Historical Handbook of Major Biblical Interpreters, (Intervarsity Press, 1998): 316-317.
[50] Bray, Biblical: 248.; D. K. Mckim (ed), Historical Handbook of Major Biblical Interpreters, (Intervarsity Press, 1998): 1998, 268.
[51] Bray, Biblical: 225; Yarchin, History: 195-217.
[52] Yarchin, History: 195-207.
[53] Bray, Biblical: 253-254.
[54] Semler was considered to be the father of the German rationalism, also called the neologism.
[55] Bray, Biblical: 257-259.; D. K. Mckim (ed), Historical Handbook of Major Biblical Interpreters, (Intervarsity Press, 1998): 355-359.
[56] Bray, Biblical: 257.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 200-202.
[57] W. C. Kaiser (jr), The Messiah in the Old Testament. (Grand Rapids, Micchigan, Zondervan Publishing House, 1996):19.
[58] Bray, Biblical: 221.
[59] Bray, Biblical: 223.
[60] Volgens die tradisie van die Reformasie is die sleutel tot Skrifuitlegging die Skrif self. Die resultate van die uitleggingsproses behoort dus ooreen te stem met die Belydenisskrifte uit die Reformasie, aangesien dit op die Skrif self gebaseer is. Akademici uit die Skrifkritiese agtergrond beskou die gebondenheid aan ‘n Belydenis as beperkend en dwingend. Omdat akademiese teoloë aandring op “neutral” en “objektiewe” interpretasie van die Bybel, word onderwerping aan die belydenis toenemend gesystap, geignoreer of verwerp. Die hoof verskil tussen die Gereformeerde Skrifuitlegging en die van die histories-kritiese aanhangers word teruggespoor na die outoriteit van die Bybel.
[61] Bray, Biblical: 247.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 204-206.
[62] Yarchin, History: 218-235.
[63] Greijdanus, Schriftbeginselen: 210-212.; Yarchin, History: 219.
[64] Bray, Biblical: 321-375.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 206-9.
[65] Bray, Biblical: 276, 376, 380, 390-407.; Yarchin, History: 260-275.
[66] Bray, Biblical: 355.
[67] Bray, Biblical: 376-379.
[68] Bray, Biblical: 488-490.
[69] W.C. (jr.) Kaiser, The Messiah in the Old Testament (Grand Rapids, MI: Zondervan, 1995): 13-14.
[70] M.Silva, Foundations of Contempory Interpretation. Six Volumes in one. (Zondevan Publishing House, Grand Rapids, Michigan, 1996): 30.
[71] G.M. Maier (Biblische Hermeneutik, translated by R.W. Yarbrough), Biblical Hermeneutics. (Crossway Books. Wheaton Illinois, 1994): 67.
[72] Maier, Biblical: 83.
[73] Maier, Biblical: 45+
[74] Greijdanus, Schriftbeginselen: 206-9.
[75] Bray, Biblical: 321-375.
[76] Yarchin, History: 351–360.
[77] Bray, Biblical: 221.
[78] K. Stendahl, ‘Biblical Theology’, Contempory, IDB 1, 1962: 418-32.
[79] Van Rooy 2004:755, Kerkblad Apr 2004:18-19, Mei 2004:25-27.
[80] Sinode Acta 1991, Bl 107-8 en bl 120-1; 48ste Nasionale Sinode Acta 2003:642,643 Art. 21.1 F, tesame met Bylae A, p. 657.
[81] Greijdanus, Schriftbeginselen: 141-143.
[82] Maier, Biblical: 83.
[83] Bray, Biblical: 321-375.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 206-209.; Yarchin, History: 351–360.
Leave a Reply