Skrifverklaring: 1 Tim.2:11,12 en 1 Kor.11:5 – weerspreek dit mekaar ?
deur ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)
In 1Tim 2:8 is Paulus besig om Christus se orde vir sy kerk ‘op elke plek’ verder te reël. Dit nadat hy in vers 1-6 gefokus het op die kerk se gebede. Ja, die kerk van Christus moet altyd ‘n biddende kerk wees. Dis baie belangrik. Daarom noem Paulus dit ook heel eerste, wanneer hy in 1Tim 2-3 reëls neerlê vir die lewe, orde en regering vir die kerk van Christus ‘op elke plek’.
Wanneer Paulus egter in 1Tim 2:8 kom, sê hy: “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.”
Waar Paulus in vers 1-6 gereël het dat die kerk gebede moet doen (vers 1), vir wie ons die gebede moet doen (vers 1-2), waarvoor ons dit moet doen (vers 2-4) en die groot rede waarom ons gebede moet doen (vers 5-6), kom reël Paulus nou in vers 8, onder andere, wie in die kerk se erediens-byeenkomste die gebede moet doen – “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid …”
Die Griekse woord wat Paulus gebruik vir manne is ‘n woord wat onderskeid maak. Dis ‘n woord wat sê: die manne, en nie die vroue nie, moet bid in die plaaslike kerk se erediens-byeenkoms.[1]
Wanneer ons egter Skrif met Skrif vergelyk, kom ons op 1Kor 11:5 af, waar Paulus praat van vrouens wat “bid of profeteer”. Hierdie bid of profeteer kon ook in die kerk se eredienste plaasgevind het.[2] Die voorwaarde wat Paulus egter stel in 1Kor 11:5vv vir die vroue se bid en profeteer in die eredienste, is dat sy “haar hoof bedek” (‘n spesifieke saak waarop ons nie nou verder in gaan nie).
Die vraag is egter nou: Hoe moet ons hierdie twee uitsprake van Paulus verstaan? Vanuit 1Kor 11:5 lyk dit tog of dit in orde is dat vroue ook kan bid in die eredienste van die kerk. Kom ons egter by 1Tim 2:8 wil Paulus “dat die manne op elke plek moet bid”.
In die res van hierdie artikel gaan ons meer hieroor leer, om dan uiteindelik ook so by ‘n antwoord op ons vraag te kom.
1Tim 2:8 … en die manne wat moet bid.
Om Paulus se opdrag in 1Tim 2:8 dat die manne moet bid, reg te verstaan, is dit baie belangrik om in gedagte te hou dat Paulus sê “dat die manne op elke plek moet bid.”
Die woorde op elke plek skitter vol van God se genade en trou. Want deur sy profeet het God eenmaal in Mal 1:11 gesê: “… van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en op elke plek word tot eer van my Naam (die ware Godsdiens en erediens beoefen[3]) …” En dit het gebeur! Dit gebeur vandag nog oor die wêreld heen. Op elke plek is daar kerke waar God in die heilige erediens geëer word.
Dit alles gebeur omdat Paulus in 1Tim 2:4 leer dat God wil dat al sy uitverkorenes uit alle volke, gered word. En sy wil voer God almagtig onkeerbaar uit deur sy Seun, van wie God deur sy profeet Jesaja in Jes 49:6 gesê het: “Dit is te gering dat U … sou … op … rig die stamme van Jakob … Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.” Sodat daar kerke kan wees op elke plek, deur die eeue heen, waar God se verloste uitverkorenes uit al die volke tot eer van God in erediens saamkom en gebede kan doen, as dankbaarheidsoffers vir die HERE (Openb 8:3-4; Sondag 45 v/a 116).
Hierdie gebede in die erediens, so reël Paulus nou in 1Tim 2:8, moet gedoen word deur die manne. Maar waarom nou juis die manne? Wel, om die antwoord op hierdie vraag te kry, moet ons onthou dat Paulus wil “dat die manne op elke plek moet bid …” En nou het ons geleer dat die woorde, op elke plek, jubel oor Christus se verlossingswerk sodat daar ‘n kerk kan wees op elke plek wat ‘erediens’ hou tot eer van God.
Doen ons egter verder Skrif met Skrif vergelyking leer ons uit Efes 2:10, dat die kerk op elke plek geskape is, in en deur Jesus se verlossingswerk aan die kruis. Efes 2:15 noem ons Christus se nuut geskepte mensdom.[4]
Wat egter nou belangrik is om in gedagte te hou, is dat Christus by die ‘skepping’ van sy verloste kerk nie sy eerste skepping van Gen 1-2 vernietig het nie. Nee!! Nooit gee Christus die werke van sy hande prys nie.
Inteendeel, Christus verlos en heilig sy skepping uit die mag van die sonde, die dood en die duiwel, sodat God se skeppingsdoel uiteindelik ook verwesenlik kan word in en deur Christus, en sigbaar kan word in die kerk, as Christus se verloste mensdom.[5]
Daarom sien ons dat in die kerk, veral in die erediens,[6] “die man die hoof van die vrou” is (1Kor 11:3), soos God dit wou gehad het nog voor die sondeval (Gen 2:18-24). Daarom dan ook dat die manne in die kerk, ook in die erediens en gebed, moet leiding neem.[7]
1Kor 11:5 … en die vroue wat bid of profeteer.
Maar nou hoor ons in 1Kor 11:5 van vroue “wat bid of profeteer …” Hoe moet ons dit nou verstaan?
(a) Die betekenis van of by ‘bid of profeteer’
Ons moet begin deur te sê dat die voegwoord of by bid of profeteer hierdie twee aksies saamvoeg. ‘Of’ is tog ‘n voegwoord. Tegelyk moet ons egter ook sê dat die voegwoord of twee verskillende aksies saamvoeg.[8] Bid en profeteer in 1Kor 11:5 gaan dus saam. Maar dis nie aksies wat dieselfde is nie.
(b) Die betekenis van profeteer
Verder moet ons ook sê dat profeteer in 1Kor 11:5, net soos in die OT, die direkte werk van die Heilige Gees in die vroue is wat profeteer, sodat hulle God se direkte openbaring aan die kerk bekend kon maak.[9]
Profeteer is dus heel anders as ‘leer’ of ‘preek’.[10] ‘Leer’ of ‘preek’ geskied vanuit God se klaar geopenbaarde (of geprofeteerde woord). Dit hou in dat daar uit God se Woord gelees word, en dat God se Woord verklaar en toegepas word (vgl 1Tim 4:13).
(c) Die wonder dat vroue ook profeteer
Dat vroue ook profeteer, soos ons hoor in 1Kor 11:5, is een van die wonders van die nuwe bedeling van die Nuwe Testament. Deur sy profeet Joël het die HERE immers in Joël 2:28 geprofeteer dat Hy in die laaste dae “my Gees sal uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer …” (vgl Hand 2:14-17). Van die vervulling van hierdie profesie lees ons in Hand 2:1-13.[11]
(d) Bid gaan saam met profeteer
Soos reeds gesê, staan die profesie en die gawe van profesie nie los van bid nie. In profesie hoor ons die spreke van God. In gebed kry ons die antwoord van die mens. En by profete gaan hierdie twee – bid en profeteer – baie maal hand aan hand.
In Amos 7:1-6 kry ons ‘n mooi voorbeeld hiervan:[12]
(Profesie)
1 Dit het die Here HERE my laat sien—kyk, Hy het sprinkane geformeer toe die na-gras begin uitspruit het; en kyk, dit was die na-gras nadat die snysels van die koning af was. 2 En toe hulle al die gewasse van die land afgeëet het, sê ek:
(Gebed)
Here HERE, vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
(Profesie)
3 Toe het die HERE berou gekry oor hierdie saak. Dit sal nie gebeur nie, het die HERE gesê. 4 Dit het die Here HERE my laat sien—kyk, die Here HERE roep om ‘n regstryd te voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer en sou die akkerland verteer het.
(Gebed)
5 Toe sê ek: Here HERE, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
(Profesie)
6 Die HERE het berou gekry oor hierdie saak. Dit sal ook nie gebeur nie, het die Here HERE gesê.
Wanneer Paulus dus in 1Kor 11:5 van vroue praat wat bid of profeteer het ons te doen met die tipiese optrede van ‘n profeet, by wie gebed en profesie saamgaan.
(e) Vroue wat bid en profeteer en die manne wat leiding moet neem
Wat nou baie belangrik is van 1Kor 11, en dan veral 1Kor 11:2-16, waarvan 1Kor 11:5 deel uitmaak, is dat Paulus dit juis hier het oor die skepping en herskeppingswerklikheid dat “dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou …”[13]
Daarom dan ook dat Paulus reël dat vrouens hulle hoofde moes bedek om daardeur blyke te gee dat hulle hul mans se hoofskap aanvaar (1Kor 11:5-16).
Sonder om hier spesifiek in te gaan op die betekenis van die vrou se hoofbedekking, is dit belangrik dat ons moet raaksien, dat vroue, al het hulle onder direkte inspirasie van die Heilige Gees geprofeteer en gepaardgaande daarmee gebid, tog steeds die man se hoofskap en leiding, ook in die erediens, moes aanvaar.[14]
So sien ons dan dat die orde-reël van 1Tim 2:8, nl dat die manne die leiding moet neem in die kerk se erediens en gebede, nie deur 1Kor 11:5 weerspreek word nie. Nee! Hier is nie sprake van weerspreking nie. Ons moet eerder praat van aanvulling van die reël.
Die reël is dat manne die leiding moet neem – ook in die erediens en gebed. Dit blyk uit 1Kor 11:2-16 en uit 1Tim 2:8vv. Hierdie reël sluit egter nie uit nie, dat vroue onder direkte inspirasie van die Heilige Gees die gawe van profesie en gepaardgaande gebede ook in die erediens kan beoefen. Hierin moet sy egter altyd blyke gee daarvan dat sy die manne se leiding en hoofskap aanvaar.
Die funksie van profesie in die NT
Voordat ons hierdie artikel afsluit, moet ons net eers iets sê oor die funksie van profesie in die NT en hoe dit die vroue ‘wat bid en profeteer’ raak. Soos reeds gesê is profesie, ook in die NT, openbaring vanaf God of Christus deur die werking van die Heilige Gees.
In die NT het hierdie profesie die funksie gehad, om die ware en volle betekenis van die verlossingswerk van Christus aan die kerk te gee (vgl bv Efes 3:5).[15] En aan hierdie profetiese werk het vrouens ten volle deel gehad. Ja, ook hulle was instrumente in die hand van Christus om aan sy kerk die volle betekenis van sy verlossingswerk te ontsluit.
Ons kan egter nie meer leer oor die funksie van profesie in die NT sonder om ook deeglik kennis te neem van Efes 2:20 nie. Hier sê Paulus dat die kerk “gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.”
Die woord fondament in Efes 2:20 is baie belangrik. Dit sê vir ons dat die profesie van die profete nie vir altyd kon aanhou nie. Daar moes ‘n tyd kom dat die vaste vorm van ‘n fondament aanneem. Immers, ‘n fondament is tog nie iets wat die hele tyd groter of meer word nie.[16]
Daarom het daar ook ‘n tyd gekom dat profesie in die kerk verbygegaan het, omdat die openbaring van God vol geword het en die fondament sy vaste vorm ontvang het (NGB art 3-7).[17] Dit is daarom ook opvallend dat Paulus in sy laaste briewe, nl 1-2 Timoteus en Titus, nie meer melding maak van profesie in die kerk nie.[18] Waarop egter wel besonderse klem geplaas word, is die ‘leer’ wat oorgelewer is en nou bewaar en verkondig moet word (1Tim 4:6-16; 2Tim 1:13; 2:1-2; 3:10-4:5; Tit 1:9; 2:1).[19]
Dat die tyd gekom het dat profesie verbygegaan het, sê dus vir ons dat daar nie nou meer profesie, van mans of van vrouens, in die kerk se eredienste kan plaasvind nie.[20] Die volle Goddelike betekenis van die verlossingswerk van Christus het ons immers nou in die opskrif-gestelde Woord van God. En hierdie Woord – hierdie Openbaring, hierdie profesie – moet nou kragtig verkondig en geleer word en daarvolgens moet geleef word.
Vroue se rol in die kerk?
Indien vroue, net soos mans, nie meer profeteer met die gepaargaande gebede nie, wat is daar dan wat vroue in die kerk kan doen? Is dit hulle lot om nou passiewe swyg-sames te wees? Nee, beslis nie! 1Tim 2:9-10 en 11-15, waarby ons nog in die prediking gaan kom het veel te sê oor die rol van vroue in die kerk.
En lees ons deur die NT ontmoet ons ‘n hele klomp vroue wat vir die HERE gewerk het en diensbaar was aan hulle naaste. Dink maar net aan …
- · Tabita, van wie ons hoor in Hand 9:36. “Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.” Vir weduwees het sy klere gemaak (Hand 9:39).
- · In Rom 16:1-2 ontmoet ons vir Febe “wat ‘n dienares is van die gemeente in Kenchréë.” Sy was vir “baie ‘n beskermster en ook vir Paulus.”
- · In Rom 16:12 hoor ons van “Triféna en Trifósa, vroue wat in die Here arbei” en “Pérsis, die geliefde vrou, wat baie in die Here gearbei het.”
- · En in 1Tim 5:10 hoor ons van vroue wat uitgeblink het in goeie werke soos kinders grootmaak, gasvryheid, om die voete van die heiliges te was en om verdruktes te help.
Daar is ook heelwat mooi boeke geskryf wat handel oor die rol van die Christen vrou. Een van hulle, wat gerus gelees kan word, is Womanly dominion (more than a gentle and quiet spirit) deur Mark Chanski. Nog ‘n baie oulike boek is die een van Martha Peace, ‘The Excellent Wife’.
[1] New International Dictionary of New Testament Theology vol 2 bl 563; Knight se 1Tim kommm bl 128; Wallace, Greek grammer beyond basics bl 229 voetnoot 43.
[2] Vgl Pop, De prediking van het NT – 1Kor, bl 230; Grosheide se 1Kor komm bl 290-291; Carson, Showing the Spirit, bl 130-140; Handelinge van die eerste algemene sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 2009 en volgende dae, bl 633
[3] In Mal 1:11 staan daar “reukwerk gebring en ‘n rein offer”. Hieroor sê die Statevertaling se kantaantekeninge: “reukwerk toegebracht: Dat is, men zal Mij den rechten godsdienst bewijzen; versta, den innerlijke offeranden, die door de ceremoniën van het Oude Testament, welke hier genoemd staan, afgebeeld werden. Verg. Zach. 14:16,20.”
[4] Vgl Bruce se Efes komm bl 290,299-300; Reformation study Bible bl 1704.
[5] Vgl Pop, de prediking van het NT – 1Kor, bl 228.
[6] Ridderbos, Paulus, bl 538 wys daarop dat die in-Christus-nuut-herstelde-mensdom veral manifesteer in die kerk se erediens-byeenkomste.
[7] Vgl Knight se 1Tim komm bl 128; Macarthur se 1Tim komm bl 74.
[8] Vgl Wallace, Greek grammer beyond basics bl 658, 669.
[9] Vgl Pop, De prediking van het NT – 1Kor, bl 230,278; Robertson, The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 1-21; Ridderbos, Paulus, bl 504.
[10] Vgl Robertson, The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 20.
[11] In Hand 21:9 hoor ons ook van Filippus, een van die sewe diakens van Hand 6. Hy het vier dogters gehad “wat die profetiese gawe besit het.”
[12] Vgl ook Jer 10:1-10,22-23; 14:1-9,10-13,14-22. So is dit ook in die NT – Luk 2:36-37; Hand 13:1-2; 1Tes 5:17-20 (Theological Dictionary of the New Testament een vol uitgawe bl 963; Theological Dictionary of the New Testament vol 2 bl 798, vol 6 bl 852).
[13] Vgl ook 1Kor 11:7-9; Pop, de prediking van het NT, 1Kor, bl 228-229, 233-235; Grosheide se 1Kor komm bl 289; Handelinge van die 48ste nasionale sinode te Potchefstroom op 6 Januarie en volgende dae, bl 579.
[14] Vgl Plek van die Vrou in die Kerk, bylae by die Rapport in die Aanvullende Agenda, Nasionale sinode 1988, bl 47-48,56; Handelinge van die 48ste nasionale sinode te Potchefstroom op 6 Januarie en volgende dae, bl 579.
[15]Hier moet ons ingedagte hoe dat die NT soos ons dit ken, geleidelik onder inspirasie van die Heilige Gees ontstaan het. Daarom dat profesie die funksie gehad het om die volle betekenis van Christus se verlossingswerk bekend te maak aan die kerke (vgl Robertson, The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 77; Ladd, A NT theology, bl 535; Korrespondensie met Prof Jorrie Jordaan [Vrae aan Prof Jorrie.docx en Antwoorde vanaf Prof Jorrie.docx]).
[16] Vgl Coetzee, The Canon of the NT, bl 45.
[17] Vgl Robertson, The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 68; Coetzee, The Canon of the NT, bl 45; Ladd, A NT theology, bl 536.
[18] 1Tim 1:18 en 4:14 waar melding gemaak word van profesie verwys terug na die tyd toe Timoteus deur handoplegging in sy ‘amp’ bevestig is (The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 75).
[19] Vgl The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 76; Korrespondensie met Prof Jorrie Jordaan (Vrae aan Prof Jorrie.docx en Antwoorde vanaf Prof Jorrie.docx).
[20] Vgl The Final Word, a Biblical response to the case for tongues & prophecy today, bl 20.
Leave a Reply