Posted by: proregno | March 22, 2012

Die Messiaanse karakter van die Psalms: Skrifuitlegging beginsels van Calvyn (deel 2)

Die Messiaanse karakter van die Psalms: Skrifuitlegging beginsels van Calvyn

prof. HG Kruger – kruger@ukzn.ac.za

[PDF formaat: Skrifuitlegging beginsels van Calvyn]

Opsomming

Hierdie aflewering is die tweede in ‘n reeks van drie waarin die teenoorgestelde standpunte van die Reformatoriese skrifuitlegging[1] en die histories-kritiese metode van interpretasie gestel en evalueer word (deel 1 kan hier gelees word – slc).  Hierdie artikel fokus meer spesifiek op Calvyn se verklaring van die Psalms waaruit twaalf beginsels wat hy gebruik het om ‘n teksvers as Messiaans te klassifiseer, afgelei is.  Volgens Calvyn se verklaring van die Psalms is daar ongeveer 65 Psalms en 200 Psalmverse wat na Christus en sy Koninkryk heenwys.  Die twaalf beginsels word bespreek en toepaslike voorbeelde uit Calvyn se kommentare word verskaf om die beginsels te verduidelik.  Hierdie beginsels kan met groot vrug deur gewone Christene ingespan word om ‘n praktiese begrip te verkry oor die betekenis van die Messiaanse karakter van die Psalms, soos vertolk in die tyd van die Reformasie.  Interessant dat Calvyn nie altyd saamstem met die kommentare van ander teoloë nie.  Die tendens om teksverse as “direk” of “indirek” Messiaans te klassifiseer is nie in Calvyn se verklarings van die Psalms waargeneem nie.  Hy het wel die balans herstel tussen die geestelike en letterlike (ook historiese) betekenis van die teks.  Calvyn verklaar sommige Psalmverse as eenduidig Messiaans en sluit daarmee ‘n historiese betekenis uit.  Ander verse bevat volgens hom beide ‘n Messiaanse en historiese betekenis.  Die element van die sogenaamde “eerste hoorders” is nie in Calvyn se verklarings waargeneem nie.  Dit is duidelik dat die konteks en die betekenis van die taal ‘n groot rol speel in Calvyn se verklarings van die Psalms.  Alhoewel hy nie die reg van Christus en die apostels betwyfel om sommige Psalms op Christus toe te pas nie, laat hy hom nie altyd beinvloed om die Psalm op grond van die NT betekenis, as Messiaans te verklaar nie, juis omdat hy die letterlike betekenis van die vers in sy konteks swaarder laat weeg.

Inleiding 

Die eerste aflewering van die studie het ‘n bondige bespreking oor die geskiedenis van Bybelse interpretasie verskaf, met spesifieke fokus op die Messiaanse karakter van die OT.  Vyf belangrike sake is uitgewys en sal spesiale aandag geniet in hierdie opvolg artikel:

  1. Daar is aangetoon dat die beskuldiging dat die reformatore (Calvyn) dogma gedrewe Bybelverklaring beoefen[2] nie gegrond is nie.  Daar is ook aangetoon dat Calvyn juis dogma uitgebrei het nadat hy Skrifuitlegging gedoen en kommentare opgestel het.
  2. Sedert Augustinus is die suiwer Skrifuitlegging wat Christus en die Apostels toegepas het geleidelik verdring deur ‘n allegoriese verklaringsmetode.[3]  Calvyn het grootskaalse suiwering van die allegoriese verklarings teweeg gebring deur die balans te herstel tussen die letterlik/historiese betekenis van die teks en die geestelike betekenis daarvan.
  3. Aangesien Calvyn groot klem gelê het op die letterlike en historiese betekenis van die teks,[4] sal bepaal word of die intepretasiemetode uit die histories-kritiese kringe oor die sogenaamde ”eerste hoorders[5] hoegenaamd in Calvyn se kommentare waargeneem kan word.
  4. Die jongste metode van Bybelse interpetasie, naamlik om te onderskei tussen sogenaamde “direkte” en “indirekte” Messiaanse teksverse het die weg voorberei om Christusvoorspellings in die OT te degradeer en uiteindelik selfs tot miskenning van die Messiaanse karakter van bekende OT dele te lei.[6]  Die vraag sal gestel word of die eerste beginsel van hierdie afdwaling in enige vorm hoegenaamd herlei kan word na Calvyn se kommentare.
  5. Ten slotte is aangetoon dat die stelselmatige wegbeweeg van die Messiaanse karakter van die OT[7] ‘n duidelike wegbeweeg van die Gereformeerde belydenis, soos artikels 7, 21, 27 van die NGB, is.

‘n Oorspronklike studie van die beginsels wat Calvyn in sy Psalmkommentare gebruik het om die Messiaanse karakter van die Psalms te bepaal

(Geliewe asb daarop te let dat die Psalm nommering van sommige van die 1933 Afrikaanse Bybelvertaling effens verskil van die King James version wat gebruik is in die weergawe van Calvyn se Psalmkommentare wat gebruik is in die studie.  In die studiestuk verwys alle Psalmverwysings na die die King James version.)

Die werkswyse wat gevolg is het behels dat al die Messiaanse verwysings in Calvyn se Psalmkommentare[8] opgesom en geanaliseer is.  Hierdie studiemateriaal kan verkry word van die outeur.[9]  Twaalf breë Messiaanse beginsels kan onderskei word en word hierna verduidelik.  Baie van die Messiaanse Psalmverwysings behels meer as een van die beginsels.  Hierdie beginsels sal vervolgens afsonderlik gestel word met verteenwoordigende Psalmverse asook opsommings van Calvyn se kommentaar ter verduideliking.

  1. Calvyn oorweeg die agtergrond van die teksvers tov die res van die Psalm, die Psalms in geheel asook vergelykende dele in die res van die Bybel.  Waar Calvyn ‘n ooreenkoms sien tussen die vers en die gebruik van dieselfde (of soortgelyke) betekenis in ‘n ander deel van die Skrif waar dit op Christus of sy Ryk toegepas word, verklaar hy normaalweg die vers as Messiaans.  Die volgende verwysings is hierop van toepassing:  Psalms 2:6; 8:6,7; 22:18, 22; 51:7; 68:31; 72:6; 78:23-25; 98:4; 102:25-27; 103:6-8; 106:31; 109:3; 110:4; 110:7; 117:1; 118:22; 118:26; 122:2; 132:17; 133.

Twee voorbeelde van Calvyn se kommentaar op die Psalms om die beginsel te illustreer:

Psalm 2:6 – Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.

Calvyn het die teksvers op Christus toegepas.[10]  Al is Dawid ook gesalf op die berg Sion en is sy koninkryk gekoppel aan die tempel in Sion, wys Calvyn daarop dat die vers eerder na Christus verwys.  Hy doen dit nav die betekenis van die vers in konteks met die res van die Bybel, naamlik dat die teenwoordigheid van God onder sy volk deurgaans in die Psalms verteenwoordig word deur die ark, die wet, die tabernakel/tempel/Sion en Jerusalem (sien die 5e beginsel hierna).  God se teenwoordigheid onder sy volk word vervul in Christus, daarom verwys al die simbole eintlik na Christus.

Psalm 72:1  o God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning. 

Dawid bedoel hiermee nie sy direkte afstammeling nie, maar hy verwys na God se belofte in Psalm 132:11.[11]  Sulke stabiliteit is immers nooit gevind by enige van Dawid se opvolgers nie, totdat Christus natuurlik die vers vervul het.[12]

2. Calvyn gebruik die beginsel om Skrif met Skrif te vergelyk, ingeslote al twee Testamente.  Voorbeelde hiervan is: Psalms 2:7; 5:9; 8:2,5,6; 16:10; 22:1; 22:6; 22:18 (22:19 in 1933 Afr. Bybel); 28:9; 31:5; 34:20; 35:19; 41:9; 47:5; 68:18; 69:9; 69:21; 72:1; 78:2; 78:23-25; 89:26-29; 89:51; 91:11-12; 102:25-27; 109:6; 110:1,2; 110:4; 116:10; 117:1; 118:22; 118:26; 122:2; 132:17; Ps 149:1.

Twee voorbeelde uit Calvyn se verklarings van die Psalms om dit te illustreer::

Psalm 22:19  Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.

Die Evangelis haal hierdie vers woordeliks aan[13] en dit is met goeie rede.  Hy wil ons met sekerheid leer dat hierdie Psalm deur die Gees van profesie Christus aan ons openbaar het.  Ons hemelse Vader wou ons hiermee leer dat sy Seun hierdie dinge wat in Dawid afgeskadu was, sigbaar sou kom vervul.  Wanneer Matteus (Matteus 8:16-17)[14] vertel van die verlamdes, blindes en siekes wat genees is deur Christus, dan toon hy aan dat dit gedoen is “sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.”  Die profeet Jesaja het natuurlik die Seun van God as ‘n geestelike geneesheer aan ons voorgehou.[15]

Psalm 117:1  LOOF die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!

Calvyn pas die vers op die koninkryk van Christus toe wat oor die hele wêreld sou versprei deur God se genade.  Hy verwys natuurlik na Romeine 15:11[16] waar Paulus hierdie Psalm aanhaal om aan te toon dat die OT reeds voorspel het dat Christus se ryk onder al die heidennasies sal versprei.

3. God gebruik Dawid en sy aardse koninkryk om die koms van Christus se Koninkryk vooraf te skadu.  Toepaslike Psalmsverwysings is: Psalms 2:2; 18:37-39; 20:1 (20:2 in die 1933 Afr. Bybel); 21:7,8; 21:11; 21:13; 22:14-16,19: 22:21; 28:9; 45:2,6,8; 45:9-10, 13, 16-17; 78:70; 85:10-13; 89:18, 25; 101:8; 132:10; 132:17.

Voorbeelde hiervan uit Calvyn se Psalmverklarings is:

Psalm 20:2 – Mag die HERE u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die God van Jakob u beskerm!

Volgens Calvyn is baie kommentators van mening dat Dawid hier vir ‘n spesifieke geval gebid het waar die volk deur een van hulle vyande bedreig is.  Calvyn verskil hiervan en verklaar die vers Messiaans omdat dit figuurlik dui op die baie meer uitnemende en ewige Koninryk van Christus.  Aangesien Christus ons Koning ook ‘n ewige Priester is wat nooit ophou om vir ons by God in te tree nie, spoor die Heilige Gees die kerk van alle tye aan om te bid vir die behoud van die gelowiges teen die aanvalle van die Satan.[17]

Psalm 101:8  Elke môre sal ek al die goddelose van die land vernietig, om al die werkers van ongeregtigheid uit die stad van die HERE uit te roei.

Dawid het ten volle besef dat God hom aangestel het as hoof oor Israel sowel as die kerk van die tyd.  Daarom moes hy optree teen die wat God se wet oortree het.  Ons weet egter ook dat Dawid se ryk ‘n flou skadu van Christus en sy Koninkryk was.  Hierdie vers het daarom ook bettrekking op Christus wat oor die hele wêreld regeer en optree as Regter wat alle mense tot verantwoording sal roep.[18] 4

4. Waar daar na Dawid is God se gesalfde verwys word, verklaar Calvyn die vers meesal as Messiaans.  Voorbeelde hiervan is:  Psalms 2:2; 2:6; 18:50; 84:9; 89:51; 132:10; 132:17.

Toepaslike voorbeelde uit Calvyn se verklarings van die Psalms:

Psalm 84:9  HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.  o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.

Dawid dui in hierdie en voorafgaande verse aan dat hy nie waardig is om die volkome betekenis van sy salwing te vervul nie (Calvyn verwys hier na 1 Samuel 16:12[19]).  Dawid sien homself as onwaardig en smeek dat God hom sal herstel tot ‘n aanvaarbare toestand.  Hy glo dat dit moontlik is op grond van God se belofte met sy salwing waarmee hy tot ‘n tipe van Christus gemaak is, daarom verwag hy God se seën in die verband.  Ons word dus deur die vers geleer dat ons met God versoen word deur die toedoen van Christus in wie se teenwoordigheid al die donker wolke van ons sonde soos mis voor die son verdwyn.[20]

Psalm 132:10  Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.

Die Psalmdigter (Salomo) bid hier tot God.  Die gebed, in kort, beteken dat God in herinnering aan sy belofte genade sal bewys aan Dawid se nageslag.  Alhoewel hierdie gebed van toepassing is op al die konings na Dawid, weet die volk dat die oorspronklike belofte aan Dawid as persoon gemaak is deur God se verbond met Dawid.  Die kerk word deur die figuurlike betekenis van die teks geleer dat Christus as tussenganger vir ons sal intree by God.  Omdat Hy toe nog nie in vlees verskyn het nie, en Hy homself ook nog nie in die Allerheiligste deel van die tempel geoffer het nie, gee God aan die volk ‘n figuurlike beeld van Christus as tussenganger wat hulle sal versterk in hulle smekinge.  Die kerk (waarby die OT gelowiges ingesluit is) weet dat Christus se ryk begin het by Dawid en vervul is deur Homself.  Hulle het geweet dat Christus in Dawid afgeskadu was as God se Gesalfde wat nog sou kom.[21]

5. Calvyn sien die tabernakel/tempel as die simboolvan God se teenwoordigheid onder sy volk.  Dieselfde verband word gehandhaaf vir die ark/wet/verbond.  Die tabernakel was oppad na Sion/Jerusalem, waar dit oorgaan in die ewige tempel van God en simbool is van God se teenwoordigheid by sy kinders.  Calvyn pas die simbole dan dikwels toe op Christus, omdat Hy vlees geword het en onder ons kom woon het.  Christus het die wet en die verbond in ons plek vervul sodat ons die ewige lewe (Zion/Salem/Jerusalem) kan beërf.  Voorbeelde waar Calvyn hierdie simbole in die Psalms op Christus toepas: Psalms 2:6; 14:7; 19:7, 8; 20:3; 24:7-10; 28:2; 40:6-8; 47:5 48:1-2, 8; 50:1-2; 51:18; 68:16; 69:35-36; 76:2; 87:2; 102:21-22; 111:9; 122: 2; 132:12-14; 134:3; 147:2.  Calvyn verklaar ook God se voetstoel as God se teenwoordigheid by ons deur die tempel/Christus.  Kyk Psalm 99:5; 132:7.

‘n Voorbeeld uit Calvyn se verklarings van die Psalms:

Psalm 14:7  Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As die HERE die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.  

Sion is die simbool van die ark, die verbond en God se wet.  Saam word dit die simbool van God se teenwoordigheid onder sy kinders.  Die slawerny onder die wet moet in ‘n geestelike sin verstaan word waar die kerk as geheel deur die bose magte bedreig word.  Die bevryding van die heerskappy word vervul in Christus in Sion.[22]

6. Die ewigdurende karakter (geslag tot geslag) van die troon/ryk/saad van Dawid word dikwels op Christus toegepas.  Voorbeelde hiervan in: Psalms 18:50 (18:51 in die 1933 Afr. Bybel); 21:3-4; 22:30-31; 28:9; 45:17-18; 61:6-7; 69:35-36; 72:1; 72:5; 72:17; 78:69; 89:4; 111:9; 132:11-12.

‘n Toepaslike voorbeeld vanuit Calvyn se kommentare is:

Psalm 18:51  Hy wat die verlossinge van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.

Volgens Calvyn verwys die word “saad” na ‘n enkele afstammeling van Dawid, naamlik na Christus (met verwysing na 2 Samuel 7:12[23]).  Die belofte in die Psalm verwys nie na Dawid se nageslag in die algemeen nie, maar in die besonder na Christus.[24]

7. Wanneer die psalmdigter praat van die koning se koninkryk wat sal uitbrei om ander nasies te omspan, pas Calvyn die vers dikwels toe op die koninkryk van Christus.  Dieselfde beginsel geld wanneer God deur die vreemde nasies oor die wêreld heen geprys word.  Verteenwoordigende voorbeelde: Psalms 2:8; 8:6; 18:43-44, 49; 22:26; 22:31; 47:203 (47:3-4 in die 1933 Afr. Bybel); 47:8; 57:9; 65:2; 66:1; 67:2; 72:8; 72:10-11; 82:8; 86:9; 87:4-5; 96:3; 96:7-10; 97:6-7; 98:2-4; 102:21-22.

‘n Toepaslike voorbeeld vanuit Calvyn se kommentare is:

Psalm 47:3-4  Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ’n groot Koning oor die hele aarde.  Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete.

Christus is die groot en gedugte Koning.[25]  Net soos Dawid die nasies rondom Israel onderwerp het met die mag van sy swaard, so sal Christus deur die mag van die swaard van sy Woord op ‘n geestelike wyse sy koninkryk uitsprei onder al die heidennasies.[26]

8. Waar die psalmdigter verwys na die lewe na die dood of waar God ons siele sal bewaar van die ewige dood, pas Calvyn die vers meesal toe op Christus.  Dieselfde geld vir God se beloftes oor die ewige lewe wat dikwels ook Kanaän/Sion/Jerusalem genoem word.  Kyk die volgende voorbeelde waar die beginsel uit Calvyn se kommentare op die Psalms uitgelig word:  Psalms 16:10; 22:26; 48:14; 49:15; 51:7 (51:9 in die 1933 Afr. Bybel); 86:13; 05:11; 122:2.

‘n Voorbeeld is:

Psalm 51:9  Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.

Die wasproses met hisop dui op die figuurlike reiniging van ons boosheid waarmee ons die ewige guns van God ontvang.  Dit is die Goddelike werk van die Heilige Gees om ons inwendig te reinig deur die geestelike besprenkeling met die bloed van Christus.[27]

9. Verwysing na die uitvoering van God se oordeel teenoor die goddelose nasies word meesal deur Calvyn as Messiaans verklaar.  Voorbeelde is:  Psalms 18:37-39; 21:8-10; 101:8; 110:5-6; 149:7-9.  God se ystersepter word ook deur Calvyn hiermee geassosieer.  Calvyn  haal Genesis 49:10 en Jesaja 63:2 aan in sy verklaring van Psalms 2:9 and 149:8 waar die ystersepter van God vermeld word.

‘n Voorbeeld uit Calvyn se Psalmkommentare is:

Psalm 149:7-9  om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke;  om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;  om ’n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ’n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!

Die outeur verwys hier na die wraak en oordeel van die Messias wat voltrek word deur sy volk.  Alhoewel die Makabeërs vir ‘n tyd lank kragtig vertoon het en die buurnasies tydelik in toom gehou het, verwys hierdie Psalm en Haggai 2:9[28] na die volgelinge van ‘n ander en meer voortreflike Tempel.  Hierdie situasie sal slegs moontlik wees met die koms van Christus.  Jakob het dieselfde voorspelling gemaak in Genesis 49:10.[29]  Die vraag is hoe die beeld van Christus versoen kan word met die barmhartige redder in Matteus 12:20[30]?  Die antwoord is voor die hand liggend aangesien Hy sagmoedig is teenoor sy volgelinge maar Hy is ook gewapen met ‘n ystersepter waarmee Hy diegene wat rebelleer verwoes.  Elders word Christus beskryf as met bloed bevlek (Jesaja 63:2)[31] nadat hy sy vyande aan alle kante verslaan en vertrap het sonder dat Hy moeg word.[32]

10. As God of die koning om verlossing en genade gesmeek word, en wanneer God genade betoon deur nie sy kinders te straf nie, dan pas Calvyn dikwels die Psalmvers op Christus toe.  Voorbeelde hiervan is: Psalms 20:9; 37:33; 79:9.

‘n Voorbeeld uit Calvyn se Psalmkommentare is:

Psalm 79:9  Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.

Die woord wat hier vir “versoening” gebruik word beteken om te reinig of te herstel en word gebruik in terme van offers.  As ons daarom verlang om God se genade te verkry moet ons Chirstus se dood gedenk; want “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (met verwysing na Hebreërs 9:22)”.[33]

11. Calvyn beskou die offers en spysoffers (die bloed van diere) van Israel op ‘n geestelike vlak omdat dit na Christus heenwys.  Voorbeelde:  Psalms 20:3; 22:26; 40:6-8 (40:7-9 in die Afr. Bybel); 51:16; 69:30-31; 119:108.

‘n Voorbeeld uit Calvyn se Psalmkommentare is:

Psalm 40:7-9  U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.  Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe.   Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande. 

Die vier offers wat hier genoem word stel die hele wet voor.  Die Psalmdigter verkondig dat God nie uiterlike gehoorsaamheid aan die wet van ons verwag nie, maar Hy verwag ‘n diepgrondige geestelike ingesteldheid by ons wat gewortel is in die verlossing van Christus.   God bewerk die verlossing in Christus by die waarvan die naam geskryf is in Sy boek.  Hy verwys na Hebreërs 10:5-14[34] waar die apostel dieselfde saak noem.  Volgens Calvyn is dit duidelik dat die apostel die Septuaginta aanhaal, wat meer bedoel as wat Dawid oorspronklik met die gedeelte wou sê.  Die apostel kan dit egter doen omdat die offer in vers 7 wel ook op Christus dui.[35]

12. As die digter verwys na weelde, majesteit en oorvloed van kos, geregtigheid en vrede, dan pas Calvyn die vers dikwels toe op die koningkryk van Christus.  Voorbeelde is:  Psalms 72:6-7; 72:15-16; 85:10-13; 133.

‘n Verteenwoordigende voorbeeld is:

Psalm 133:1-3  Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!   Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere.   Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!

Ons word een in Christus en daarom sing die psalmdigter oor die harmonie tussen die gemeente.  God se seëning word op ons uitgestort vanaf ons Hoëpriester en Hoof, Jesus Christus.[36]

Is Calvyn daaraan skuldig dat hy dogma gebruik het om sy verklarings van die Psalms te beïnvloed?

Bray en ander beweer dat die Reformatoriese Skrifuitlegging gebaseer is op kerklike dogma.[37]  Die vraag is of dit van Calvyn se Skrifuitlegging gesê kan word?  Dit is duidelik dat beginsels 5, 8, en 11 herken kan word as deel van die Protestantse[38] dogma.  Meeste van die 12 beginsels wat afgelei is uit sy Psalmverklarings vorm ook deel van sy bespreking van die Christelike geloof in die Institusie wat eers later (na sy Psalmverklarings) in sy leeftyd verskyn het.  Dit is dus duidelik dat die sistematisering van die Christelike Godsdiens, wat die hart van die Reformatriese dogma bevat, gevolg het uit sy Skrifuitlegging, en nie andersom nie.  Volgens die Gereformeerde beskouing moet die sleutel tot die korrekte verstaan van die Skrif in die Skrif self gevind word.  Die resultaat van die skrifuitleggingsproses behoort daarom in ooreenstemming met die Gereformeerde dogma, soos uiteengesit in die Belydenisskrifte, te wees; juis omdat die Belydenis op die Skrif gebaseer is.  Die bewering dat Gereformeerde teoloë (soos Calvyn) dogma gebruik het om die uitkoms van hulle Skrifuitlegging te bepaal, is daarom nie korrek nie.  Bray stel self dat Calvyn sy eksegese toegepas het op dogmavorming, en nie die omgekeerde nie.[39]  Geen getuienis is in hierdie studie gevind waar Calvyn dogma gebruik het om sy Skrifuitlegging te stuur nie.

Tot watter mate is Calvyn beïnvloed deur die betekenis van die vers vir die eerste hoorders of deur die betekenis van die vers in die Nuwe Testament

Dit is duidelik uit Calvyn se verklarings van die Psalms dat hy die letterlike verstaan van die teks as baie belangrik geag het.  Geen aanduidings is gevind dat Calvyn die saak van die sg. eerste hoorders beklemtoon het in sy Skrifverklarings nie.

Calvyn volg nie die Nuwe Testamentiese (NT) gebruik van die vers slaafs na in sy verklaring van die vers in die OT nie.  Voorbeelde waar hy verskil met die NT gebruik van die Psalms is: Psalms 8:5-6; 31:5; 34:20; 35:19 (69:4); 40:6-8; 78:23-25; 102:26-28; 105:4 (‘n lys van Psalms wat deur die Nuwe Testament aangehaal word, met die NT verwysings word later verskaf).  In meeste van die ander gevalle waar die NT eksplisiet ‘n OT vers op Christus toepas, aanvaar Calvyn dit so.

In die lig van die bespreking van die geskiedenis van Bybelinterpretasie en na bestudering van Calvyn se verklarings van die Psalms, kan daar tot die slotsom gekom word dat as die letterlike betekenis van ‘n vers Calvyn duidelik is en daar ook nie uit die konteks van die vers in die Psalm duidelik afgelei word dat die vers na nie Christus heenwys nie, dan was Calvyn huiwerig om die NT betekenis van die vers in die teks in te lees.   Die twaalf beginsels wat Calvyn toegepas het in sy verklaring van die Psalms wys dat hy wetenskaplik[40] omgegaan het met Skrifuitleg van Messiaanse verse.  As ‘n betrokke vers in die NT aangehaal is om na Christus te verwys, maar sonder dat die konteks van die vers in die OT dit steun, dan het Calvyn erken dat die NT skrywer die teks “geleen” het of dat dit by “wyse van akkommodasie” op Christus toegepas is.

‘n Voorbeeld hiervan is sy kommentaar op Psalm 8:6 (aangehaal in 1 Korinthiers 15:27) waar hy stel dat die NT die Psalmvers aanhaal “by wyse van akkommodasie”.[41]  In ‘n aantal gevalle verwys Calvyn glad nie na die NT gebruik van die Psalms nie (kyk sy kommentare van Psalms 34:20; 35:19; 69:4; 102:26-28; 105:4).  Calvyn het sy kommentare oor die Psalms laat in sy leeftyd geskryf (Franse weergawe ~1563 A.D.) wat aansienlik later is as sy kommentare op die NT; hy was dus deeglik bewus van die gebruik en verwysing van die Pslams in die NT toe hy sy verklaring van die Psalms geskryf het.

In sy verklaring van Psalm 31:6 verskil Calvyn ook van die verklaring van vorige Skrifverklaarders.  Alhoewel ‘n aantal Skrifverklaarders reeds in Calvyn se tyd aangetoon het dat Christus die vers aan die kruis aangehaal het (kyk Lukas 23:46),[42] verskil hy dat Dawid by die skryf van die Psalm daarmee Christus in die oog gehad het.  Volgens Calvyn het Dawid sy siel aan God toevertrou tydens sy stryd om oorlewing onder uiterste gevaar aan die hand van sy vyande.  As Dawid soveel sterkte geput het uit God se verlossing van tydelike gevaar, sou dit sondig en ondankbaar van ons wees as ons nie onoorwinlike krag teen enige aanslag van Satan put uit die verlossing deur die bloed van Christus nie.[43]  In sy verklaring van Lukas 23:46 verwys Calvyn na Psalm 31:6, naamlik dat alhoewel Dawid sekerlik sy siel aan God toevertou het na sy dood, hy beslis hier (Psalm 31:6) sy siel aan God toevertrou het tydens sy stryd om oorlewing teen die vyand.  Hy stel dat Christus die woorde van die Psalm geleen het omdat die Psalm van toepassing was op sy situasie aan die kruis.[44]

Calvyn pas nie Psalm 35:19 op Christus toe nie[45] ten spyte daarvan dat Christus later verduidelik dat die vers deur Hom vervul is (Johannes 15:25).  In sy verklaring van Johannes 15:25[46] stel hy wel dat Christus die Psalmvers (Psalm 35:19) op homself van toepassing gemaak het.[47]  In meeste van die ander gevalle waar die NT ‘n Pslamvers op Christus toepas, aanvaar Calvyn die toepassing; ‘n lys van sodanige Psalmverse word verskaf:

Psalm 2:1-2, see Handelinge 4:25-26.

Psalm 2:7, see Handelinge 13:33, Hebreërs 1:5 en Hebreërs 5:5.

Psalm 8:2, see Matteus 21:16.

Psalm 8:6, see 1 Korintiërs 15:27.

Psalm 16:10, see Handelinge 2:31 en Handelinge 13:35.

Psalm 18:49, see Romeine 15:9.

Psalm 22:1, see Matteus 27:19 en Markus 15:34.

Psalm 22:18, see Johannes 19:24.

Psalm 22:22, see Hebreërs 2:12.

Psalm 41:9, see Johannes 13:18.

Psalm 45:6, see Hebreërs 1:8-9.

Psalm 68:16, see Effesiërs 4:8.

Psalm 69:9, see Johannes 12:17.

Psalm 69:21, see Johannes 19:28-29.

Psalm 78:2, see Matteus 13:35.

Psalm 78:24, see Johannes 6:31-32.

Psalm 91:11-12, see Matteus 4:6 en Luke 4:10-11.

Psalm 110:1, see Matteus 22:43-44 en Lukas 20:41-43, Handelinge 2:34-35, Hebreërs 1:13.

Psalm 110:4, see Hebreërs 5:6, Hebreërs 7:17 en 21.

Psalm 117:1, see Romeine 15:11.

Psalm 118:22-23, Matteus 21:42 en Lukas 20:17, Handelinge 4:11, 1 Petrus 2:7.

Psalm 118:26, see Matteus 21:9, Markus 11:9-10, Lukas 19:38, Johannes 12:31, Matteus 23:39, Lukas 13:35.

Dit kom dus voor dat die waarneming van Bray en andere dat Calvyn die balans tussen die letterlike en die geestelike betekenis van tekste in die Bybel herstel het, korrek is.  Waar Christus en die Apostels ‘n Psalm in die NT as Messiaans uitwys, erken Calvyn hulle reg om dit so te doen, maar hy gebruik nie noodwendig die inligting om sy uitlegging van die Psalmvers in sy Ou Testamentiese konteks te beinvloed nie (kyk Calvyn se kommentare oor Psalms 8:5-6, 31:5; 34:20; 35:19; 40:6-8; 69:4; 78:23-25; 102:26-28; 105:4).

Dit is belangrik om daarop te let dat Calvyn geleer het dat Christus in die OT gespreek het.  God spreek deur Christus as Middelaar (in sommige gevalle as die Engel van God) met die profete.[48]  Die antieke professieë is deur Christus dikteer (kyk sy verklaring[49] van 1 Petrus 1:11[50]).  Calvyn het nie kommentare geskryf oor Samuel (2 Samuel 23:2)[51] nie, maar hy skryf in sy verklaring van ten minste twee Psalms dat die Heilige Gees Dawid se tong gedryf het.[52]  Dieselfde verklaring word gebied oor die professieë in die OT by sy uitleg van 2 Petrus 1:21.[53]  Die afleiding kan gemaak word dat waar Calvyn aandui dat Christus of die Apostels ‘n Psalmvers geleen het, hy werklik geglo het dat die betrokke vers in sy OT konteks nie ‘n geestelike profesie oor Christus bevat het nie.  Pucket kom grootliks tot dieselfde gevolgtrekking is sy boek “Historical Handbook of Major Biblical Interpreters”, naamlik dat:[54]

Calvin could not imagine sober historical interpretation of the Old Testament operating apart from the context provided by the New Testament writings.  Calvin conceded that the New Testament writers sometimes appeared to twist the Old Testament to meanings that were foreign to the original writers’ intention.  ….. In other places he believed that the New Testament writers’ seemingly forced use of the Old Testament was intended to be an interpretation.  In such cases he allowed the New Testament to guide him in his view of what the Old Testament writer must have understood and intended.

Calvyn het ook dikwels verskil met die verklarings van Augustinus (kyk Psalms 2:7; 69:5; 88:4-6; 99:5; 118:22) asook met ander kommentare van sy tyd (kyk Psalms 8:5; 20:1; 21:9; 31:5; 72 Inleiding; 72:10; 75:3; 82:8).

‘n Mens kan daarom aflei dat Calvyn ‘n onafhanklike styl van Skrifuitlegging gehad het, waarin hy die Skrif as die hoogste regter gehandhaaf het (kyk beginsels 1 en 2) terwyl hy sterk nadruk op die ooglopende letterlike betekenis van die teks geplaas het.  Hy was beslis nie skuldig daaraan dat hy subjektiewe en “bevoorregte” inligting oor wat dalk deur die eerste hoorders van die Psalms verstaan sou word, as deurslaggewend vir die regte verstaan van die teks geneem het nie.  Hy is ook nie blindweg beinvloed deur die outoriteit van die NT om aangehaalde Psalmverse as Messiaans te verklaar nie.  Hy het nietemin die reg van Christus en die apostels aanvaar om sodanige Psalmverse op Christus toe te pas.  Die ooglopende rede hiervoor is omdat Calvyn die outoriteit van die Bybel as God se geinspireerde Woord aanvaar het.[55]

Die vlak van gesofistikeerdheid wat Calvyn toegepas het met sy Skrifuitlegging weerlê enige bewering dat Calvyn aan ‘n allegoriese interpretasie van die Skrif skuldig sou wees, die getuienis dui juis daarop dat hy die tradisie van allegoriese Skrifverklaring grootliks gesuiwer het.

Kan die interpretasiemetode van die “eerste hoorders” en “direk/indirek” Messiaans herlei word na Calvyn?

Die huidige mode in bepaling van die Messiaanse karakter van die OT en Psalms, ook in Gereformeerde kringe[56] (en sinodes!),[57] behels ‘n sogenaamde onderskeid tussen “direkte of indirekte” Messiaanse professieë.  Daarvolgens sou sommige verse duidelik en alleenlik Messiaans wees teenoor ander verse wat onduidelik of sekondêr na Christus sou verwys.  In praktyk by laasgenoemde geval word enige letterlike of histories betekenis van die vers vir die “eerste hoorders” gebruik om die Messiaanse karakter[58] van die vers te degradeer tot ‘n sogenaamde “indirekte” professie oor Christus.  Die onbedekte verwydering van Christus uit die OT deur die neologiste soos Eichhorn en Semler (einde van die 18e eeu) is sekerlik deur Gereformeerde kringe verwerp.  Die meer subtiele benadering van Edelkoort[59] (direk of indirek Messiaans) en Krister Stendahl[60] (die sogenaamde betekenis vir die eerste hoorders) het egter amper ongemerk daarin geslaag om die erosie van die Messiaanse karakter van die OT stil-stil te laat voortgaan.  Dit het waarskynlik daartoe bygedra tot die persepsie in hedendaagse literatuur dat Calvyn Genesis 3:15 indirek-Messiaans sou verklaar.[61]  Hierdie sistematies aanslag op die Messiaanse karakter van die OT het waarskynlik daartoe bygedra dat ‘n uitnemende teolooog soos Bray, verklaar dat Calvyn “resisted the temptation to read Christological meanings into even such ‘obvious’ passages as Genesis 3:15.[62]  Die vroegste oorsprong van hierdie gedagte kan egter teruggespoor word na ‘n konflik wat ontstaan het tussen ‘n volgeling van Luther (Aegidius Hunnius – 1530-1603) en ‘n student van Calvyn (David Pareus – 1548-1622) oor die Messiaanse karakter van die vers.  Soos hierna aangetoon, het Calvyn inderdaad die allegoriese verklaring van hierdie vers verwerp, teenoor Luther wat dit aanvaar het.[63]   Die logiese vraag om te beantwoord is tot watter mate is Calvyn daaraan skuldig om die OT (veral Gen 3:15) en die Psalms as direk of sogenaamd indirek Messiaans te verklaar?

‘n Noukeurige bestudering van Calvyn se verklaring van Genesis 3:15 openbaar die volgende:  Calvyn verskil met ander kommentare (ingesluit die van die Roomse kerk) dat die “saad” van Eva na sou Christus wys met die spesifieke woordgebruik (letterlike betekenis).  Hy gebruik ‘n taalkundige argument om aan te toon dat die “saad” in die algemeen na Eva se nageslag verwys.  Die eindelose stryd tussen die mens en Satan en die onvermoë van die mens dui daarop dat die oorwinning van Genesis 3:15 slegs in Christus moontlik sou wees.  Calvyn verwys dan na Paulus (Galasiërs 3:16[64]) wat ons heenlei van die “saad” van Abraham na Christus.   Calvyn beskryf dan die stryd wat elke gelowige in Christus sal ervaar en die oorwinning wat slegs moontlik is deur die eenheid tussen die liggaam en die Hoof, naamlik Jesus Christus.[65]

Dit is daarom duidelik dat Calvyn die balans tussen die letterlike en geestelik betekenis[66] van Genesis 3:15 vir ons herstel het.  As gevolg van die sonde is alle mense uitgelewer aan ‘n vurige stryd met Satan wat graag die ganse menslike geslag in die verderf wil laat stort.  Calvyn stel dat “because one stronger than he (Satan – GK) has descended from heaven, who will subdue him, hence it comes to pass that, in the same manner, the whole Church of God, under its Head, will gloriously exult over him.[67]

‘n Objektiewe analise van Calvyn se verklaring van Genesis 3:15 dui daarop dat die Messiaanse karakter van die verse een honderd persent gehandhaaf word.  In die lig van die bespreking van die geskiedenis van Bybelse interpretasie, is dit duidelik dat Calvyn die allegoriese verklaring dat die woord “saad” gelykstaande aan Christus is, reggestel het.  Vir meer inligting oor die verklaring van Genesis 3:15 verwys na Martin[68], Schurb[69], Collins[70] en Alexander[71].

‘n Groter uitdaging is Calvyn se verklaring van Jesaja 7:14.  Hy gebuik taalkundige, kronologiese en prakties logiese argumente om aan te toon waarom hy met ander kommentare van sy tyd verskil oor die korrekte verstaan van die vers.  Ander kommentatore het beweer (en beweer steeds) dat die kind in Jesaja se tyd gebore sou word (bv. Hiskía of Jesaja self se seun) en sou heenwys na Christus.  Calvyn stel egter dat die naam Immanuel onteenseglik na Christus wys: “(The name Emmanuel – GK) was unquestionably bestowed on Christ on account of the actual fact; for the only-begotten Son of God clothed himself with our flesh, and united himself to us by partaking of our nature.  He is, therefore, called God with us, or united to us; which cannot apply to a man who is not God.[72]  Calvyn rig dan ook ‘n uitdaging aan Skrifinterpreteerders wat hiervan verskil om aan te toon wie anders in die tyd gebore is wat op die naam kon aanspraak maak; hy noem dat daardie geskiedenis goed opgeteken is en dit duidelik is dat so ‘n persoon nie in die tyd van Jesaja gebore is nie.[73]  Moderne teoloë erken dan ook, dat as die vers na ‘n geskiedkundige persoon in Jesaja se tyd sou wys, daaroor slegs gespekuleer kan word omdat so ‘n persoon se identiteit nie aan ons bekend is nie.[74]

‘n Mens kan dalk die vraag stel of die term “direk” Messiaans nie van toepassing kan wees op Calvyn se uitlegging van Jesaja 7:14 nie, aangesien hy aanvoer dat die vers uitsluitlik op Christus van toepassing is.  Dit sou egter wetenskaplik meer korrek te wees om die terme “letterlik historiese” en “geestelike/Goddelike” betekenis van die vers te gebruik om Calvyn se styl van Skrifuitlegging te beskryf.  ‘n Analise van Calvyn se Psalmverklarings dui daarop dat daar volgens hom geen spanning bestaan tussen die dubbele betekenis van ‘n vers nie.  In baie gevalle waar die letterlik histories betekenis duidelik uitstaan, sal Calvyn steeds nie die geestelik/Messiaanse betekenis van die vers uitsluit nie.   Daar is egter voorbeelde, soos by Jesaja 7:14, waar hy die leterlik/histories betekenis uitsluit en dit uitsluitlik Messiaans verklaar.  Dit is nie vreemd aan die Gereformeerde teologie nie aangesien God sekere einskappe het wat nie oordraagbaar na mense is nie.[75]

Nog ‘n voorbeeld van verse wat ‘n dubbele betekenis bevat is waar ‘n historiese persoon of saak Christus afskadu.  Hierdie geval is redelik volledig bespreek onder beginsels 3, 4, 5, 11 en 12 wat deur Calvyn gebruik is by sy Messiaanse Skrifuitlegging.

Hierdie dubbelle betekenis van ‘n vers is aanwesig by die volgende van Calvyn se Psalmverklarings.  Let daarop dat oorvleueling van die beginsels by vele van die verse voorkom:

(a) Afskadu van Christus: Psalms 2:2, 9; 5:9-10; 14:7; 18:37-39, 43; 20:3; 21:2, 7-9, 13-15, 27-31; 24:7-10; 40:6-8; 41:10; 45:1-2, 13; 47:2-3; 48:1-2; 51:7, 9; 66:13-15; 68:16, 18; 69:35-36; 76:2; 78: 69-70; 79:9; 87:2, 4-5; 89:24; 97:6-8; 101:8; 109:3; 110:1-2; 111:9; 118:12, 26; 119:108; 122:2; 132:7, 11-14, 17 en 147:2.

(b) Beide ‘n letterlik historiese en ‘n geestelik Messiaanse betekenis: Psalms 2:6, 8; 8:6; 16:10; 18:44; 21:3-4, 8, 10-11, 13; 22:1, 6, 14-15, 21, 26; 24:7-10; 28:2; 31:5; 34:20; 33:37; 41:9; 45:6, 8; 47:5; 48:8, 14; 50:1-2; 51:18; 61:6-7; 68:31; 69:23, 30-31; 72:5-8; 84:8; 85:10-13; 86:13; 87:2; 89:4, 18; 91:11-12; 102:21-22; 103:6-8; 105:11; 109:6-8; 110:3; 116:10; 132:10; 133:1-3 en 134:3.

(c) Grootliks ‘n letterlik histories betekenis: Psalms 8:5; 13:5; 35:19; 69:5; (75:3); 78:23-25; 82:8; 88:4-6; 105:5 en 114:8.

(d) Grootliks ‘n geestelik Messiaanse betekenis: Psalms 2:7, 12; 8:2; 18:49-50; 19:4, 7-8; 20:1, 9; 22:16, 18, 22; 33:6; 45:9-10, 16-17; 47:8, 49:15; 51:7, 16; 65:2; 66:1; 67:2; 68:31; 69:9, 21; 72:1, 10-11; 78:2; 86:9, 26-29, 51; 92:12-14; 96:3, 7-10; 98:2-4; 102:23-27; 106:31; 110:4-6, 7; 117:1; 130; 132:13-14 en 149:7-9.

Gevolgtrekking

Dit is duidelik dat Calvyn ‘n logies rasionele en sistematiese uitleggingstyl gebruik het vir sy Psalmkommentare.  Hy het twaalf breë beginsels gebruik om te bepaal of ‘n teksvers Messiaans is.  Hy het die balans tussen die letterlik histories en geestelik Messiaanse betekenis van baie teksverse herstel en het baie van die Psalms gesuiwer van allegoriese interpretasies oorgelewer van die vroeë Kerk.

Moderne aandrang op die belang van die betekenis van die vers vir die “eerste hoorders” en die gebruik van sodanige “bevoorregte” informasie om die Messiaanse karakter van duidelike voorbeelde soos Psalms 22 en 110 te verwater (self in die GKSA!)[76],[77] of te ontken is ‘n skerp skuif weg van die Gereformeerde belydenis.  Die “outoriteit” van die bron van hierdie subjektiewe betekenis vir die “eerste hoorders” word bevraagteken omdat die “kennis” behoort tot ‘n klein groepie elite akademici wat hulle uitsprake tot vlak onder die hierargie van die Pous verhef.  Gereformeerdes verwerp ook hierdie metode van interpretasie op grond van die beginsel dat die Skrif self die hoogste regter moet wees oor die betekenis van die Woord.[78]  Die resultaat van die uitleggingsproses moet daarom in lyn met die totale boodskap van die Skrif wees, omdat die belydenis uit die Skrif afgelei is.

Aansprake in moderne literatuur dat die Reformatoriese Skrifuitlegging (waarby Calvyn ingesluit word) dogma gedrewe sou wees is daarom nie juis nie.  ‘n Hele paar van die twaalf beginsels van Calvyn het gestalte gevind in die Gereformeerde belydenis en dit sou beter wees om te stel dat Calvyn sy Psalmkommentare vanuit die adem van die algemene Christelike reël van die geloof of dogma produseer het.[79]  Anders gestel, hy het geglo dat die resultaat van die uitleggingsproses aan die hand van die algemene reël van ons geloof gemeet moet word.[80]  Gereformeerdes word immers uiteindelik deur die belydenis gebind.  Prominente moderne teoloë verdedig die reg van Christelike groeperings om volgens ‘n ooreengekome voorveronderstelling Skrifverklaring te beoefen.[81]

Gereformeerde teoloeë ervaar enorme druk van “liberaal wetenskaplike” kringe om die wese van hulle Christelike belydenis te versaak, veral ten opsigte van die outoriteit van die Heilige Skrif.  Hierdie verskynsel is waarskynlik die direkte oorsaak van die geleidelike maar sistematiese wegbeweeg van die beginsels van die Gereformeerde Skrifuitlegging van die OT.  Die aandrang op die betekenis van die sogenaamde “eerste hoorders” en die verskynsel van ‘n sogenaamd “indirekte” Messiaanse betekenis word huidiglik handig ingespan om die Messiaanse karakter van die OT en die Psalms stil-stil te degradeer en self te elimineer.  Groeiende druk van akademiese instellings op teoloë om hulle navorsingsuitsette gedurig te verhoog het waarskynlik ook bygedra tot die skep van hierdie wolf in skaapwagtersklere (vgl Matteus 7:15) .

Deel drie van hierdie studie sal DV in die nabye toekoms verskyn waarin die mate van die weglating van Christus uit die 2001 Psalmomdigting (Cloete omdigting) wetenskaplik bepaal word aan die hand van die twaalf uitleggingsbeginsels wat Calvyn gebruik het.

Bedanking

Hartlike dank aan wyle Prof. Ludi Schulze (Emeritus Professor in Dogmatiek en Dogmageskiedenis, Noord-Wes Universiteit, Potchefstroom) vir sy waardevolle insette met die bereiding van die studiestuk.

[PDF formaat: Skrifuitlegging beginsels van Calvyn]


[1]  Met die term “uitlegging” word bedoel dat die Skrif die hoogste gesag het om uitspraak oor die betekenis van ‘n teksvers te bepaal, terwyl die term “interpretasies” gebruik word om ‘n subjektiewe menslike aspek tov die van verstaan van die teksvers te impliseer.  “Verklaring” word meesal as ‘n neutrale woord gebruik.  Verwys na die eerste aflewering van die reeks artikels vir ‘n bespreking en verwysings oor die onderwerp.

[2] G. Bray, Biblical Interpretation. Past & Present. (Downers Grove, Illinois, Intervarsity Press, 1996): 105, 221, 257.; W. Yarchin, History of Biblical Interpretation A Reader. (Peabody, Massachusetts, Hendrickson Publishers Inc., 2004): 195-207.; S. Greijdanus, Schriftbeginselen ter Schriftverklaring en Historisch Overzight over Theorieën en Wijzen van Schriftuitlegging (J. H. Kok n.v. Kampen, 1946): 200-202.; G.M. Maier (Biblische Hermeneutik, translated by R.W. Yarbrough), Biblical Hermeneutics. (Crossway Books. Wheaton Illinois, 1994): 83.

[3] G. Bray, Biblical: 92.; S. Greijdanus, Schriftbeginselen: 173-177.; W. Yarchin, History: 62.

[4] Yarchin, History: 184-194.

[5] G. Bray, Biblical: 221, 231, 488-490.; K. Stendahl, ‘Biblical Theology’, Contempory, IDB 1, 1962: 418-32.; M.Silva, Foundations of Contempory Interpretation. Six Volumes in one. (Zondevan Publishing House, Grand Rapids, Michigan, 1996): 30. W.C. (jr.) Kaiser, The Messiah in the Old Testament (Grand Rapids, MI: Zondervan, 1995): 13-14.

[6] A.H. Edelkoort, De Christusverwachting in het Oude testament” (H. Veenman & Zonen, Wageningen, 1941).; T. Longman III, How to read the Psalms. (Downers Grove, IL: InterVarsity, 1988): 65.; D.M. Hay, Glory at the right hand. Psalm 110 in Early Christianity (SBL MS 18, Nashville: Abingdon, 1973).; B C Davis, ‘Is Psalm 110 a Messianic Psalm?’ Bibliotheca Sacra, 157, 2000: 160-173.; M.J. Paul, ‘The order of Melchizedek (P 110:4 and Heb 7:3)’ Westminster Theological Journal 49, 1987: 195-211.

[7] W.C. (jr.) Kaiser, Messiah: 19.

[8] J. Calvin, Alle verwysing uit Ages software, version 1.0, 1998.

[9] Rig asseblief ‘n versoek per epos aan Gert Kruger by kruger@ukzn.ac.za.

[10] J. Calvin, Commentaries on Psalm 2:6: 51

[11] Psalm 132:11 “Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.”

[12] J. Calvin, Commentaries on Psalm 72:1: 1027

[13] Verwys na Johannes 19:24  “En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees – sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen.

[14] Matteus 8:16-17  En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak,  sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.”

[15] J. Calvin, Commentaries on Psalm 22:18: 358.

[16] Romeine 15:11 “en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke.”

[17] J. Calvin, Commentaries on Psalm 20:1: 322-323.

[18] J. Calvin, Commentaries on Psalm 102:8: 255-256.

[19] 1 Samuel 16:12 “Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die HERE sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.”

[20] J. Calvin, Commentaries on Psalm 84:8-9: 67-68.

[21] J. Calvin, Commentaries on Psalm 132:10: 707.

[22] J. Calvin, Commentaries on Psalm 14:7: 209-210.

[23] 2 Samuel 7:12  “As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.”

[24] J. Calvin, Commentaries on Ps 18:50-51: 297-298.

[25] J. Calvin, Commentaries on Psalm 47:2: 731-732.

[26] J. Calvin, Commentaries on Ps 47:3: 732-733.

[27] J. Calvin, Commentaries on Psalm 51:7: 803, 806.

[28] Haggai 2:9 “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare.”

[29] Genesis 49:10 “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”

[30] Matteus 12:20 “ ’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ’n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.”

[31] Jesaja 63:2 “Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?”

[32] J. Calvin, Commentaries on Psalm 149:7-9: 842-844.

[33] J. Calvin, Commentaries on Psalm 79:9: 10-11.

[34] Hebreërs 10:4-14 – 4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.  5 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei.  6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie.  7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God.  8 Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie – wat volgens die wet geoffer word – 9 het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.  10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.  11 En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; 12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete.  14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

[35] J. Calvin, Commentaries on Psalm 40:8: 641-642.

[36] J. Calvin, Commentaries on Psalm 133: 715-717.

[37] Bray, Biblical: 84-9 stel dat die Gereformeerde metode van Skrifverklaring dogmagedrewe is.  Hierdie stelling word later in hierdie studie bespreek en afgewys.

[38] Verwys na die NGB en die Dordse Leerreëls.

[39] G. Bray, Biblical: 201-202.

[40] Die term “wetenskaplik” word hier in ‘n breë sin gebruik, naamlik dat hy ‘n rasionele en sistematiese metode gebruik het om die betekenis van ‘n teksvers af te lei.  Let daarop dat die aanhangers van die histories-kritiese metode van interpretasie ‘n ander definisie gebruik, naamlik waar hulle beweer dat geen voorveronderstelling of dogma in hulle interpretasie van die Skrif gebruik word nie.

[41] J. Calvin, Commentaries on Psalm 8:5: 7, 126.

[42] Lukas 23:46  “En Jesus het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.”

[43] J. Calvin, Commentaries on Psalm 31:5: 469.

[44] J. Calvin, Commentaries on Harmony of the Gospels, Vol 3, Lukas 23:46: 249.

[45] J. Calvin, Commentaries on Psalm 35:19, (Ages software, version 1.0, 1998): 548-549.

[46] Johannes 15:25  “Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.

[47] J. Calvin, Commentaries on Johannes 15:35: 524.

[48] J. Calvin, Institutes of the Christian Religion 1:13.10; Commentaries on Exodus 14:9.

[49] J. Calvin, Commentaries on 1 Peter 1:11: 32-33.

[50] 1 Peter 1:11 “Searching what, or what manner of time the Spirit of Christ which was in them did signify, when it testified beforehand the sufferings of Christ, and the glory that should follow.”

[51] 2 Samuel 23:2 “The Spirit of the LORD spake by me, and his word was in my tongue.

[52] J. Calvin, Commentaries on Psalm 8:1 and Psalm 51:14: 119, 810.

[53] J. Calvin, Commentaries on 2 Peter 1:21: 25-6.

[54] D. K. Mckim (ed), Historical Handbook of Major Biblical Interpreters, (Intervarsity Press, 1998): 178.

[55] J. Calvin, Institutes: 1.6.

[56] Van Rooy 2004:755, Kerkblad Apr 2004:18-19, Mei 2004:25-27

[57] Sinode Acta 1991, Bl 107-8 en bl 120-1; 48ste Nasionale Sinode Acta 2003:642,643 Art. 21.1 F, tesame met Bylae A, p. 657.

[58] Reference is made here to verses that are/were considered to be Messianic in the Reformed tradition.

[59] A.H. Edelkoort, Christusverwachting.

[60] W.C. (jr.) Kaiser, Messiah: 13-14.

[61] Verhoef 1990:113.

[62] G. Bray, Biblical: 203.

[63] K. Schurb, ‘Sixteenth-Century Lutheren-Calvinist Conflict on the Protevangelium’ Concordia Theological Quarterly, 54(1), 1990: 25-48.

[64] Galatians 3:16 “Now to Abraham and his seed were the promises made. He saith not, And to seeds, as of many; but as of one, And to thy seed, which is Christ.”

[65] J. Calvin, Commentaries on Genesis 3:15: 99-102.

[66] Calvyn se siening oor die geestelike betekenis van die OT is vervat in Inst 2:10.23, p213-215.

[67] J. Calvin, Commentaries on Genesis 3:15: 102.

[68] R.A.Martin, ‘The Earliest Messianic Interpretation of Genesis 3:15’ Journal of Biblical Literature, 84 (4), 1965: 425-427.

[69] K. Schurb, Sixteenth-Century: 25-48.

[70] J. Collins, ‘A Syntactical Note (Genesis 3:15): Is the womans seed singular or plural?’ Tyndale Bulletin, 48.1, 1997: 139-148.

[71] T.D. Alexander, ‘Further Observations on the Term “Seed” in Genesis.’ Tyndale Bulletin, 48.2, 1997: 363-367.

[72] J. Calvin, Commentaries on Isaiah 7:14: 215.

[73] J. Calvin, Commentaries on Isaiah 7:14: 211.

[74] N.J. Oswalt, The book of Isaiah.  Chapters 1-39. The New International Commentary on the Old Testament. (Eerdmans : Grand Rapids, Michigan, 1986): 212-213.

[75] NGB, Art 14.

[76] Van Rooy 2004:755, Kerkblad Apr 2004:18-19, Mei 2004:25-27

[77] Sinode Acta 1991, Bl 107-8 en bl 120-1; 48ste Nasionale Sinode Acta 2003:642,643 Art. 21.1 F, tesame met Bylae A, p. 657.

[78] Greijdanus, Schriftbeginselen: 125-127.

[79] Bray, Biblical: 201-202.

[80] Greijdanus, Schriftbeginselen: 141-143.

[81] Bray, Biblical: 321-375.; Greijdanus, Schriftbeginselen: 206-209.; Yarchin, History: 351–360.


Responses

  1. BAIE dankie, ek stel geweldig belang hierin en jou in-diepte navorsing word innig waardeer! Henrietta

    • Henrietta, dit is prof. Gert Kruger se goeie navorsing, nie myne nie. Sy epos adres is in die begin van die artikel as jy hom wil kontak.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: