Die Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans NT – verdere opmerkings

IBGA

Agtergrond van hierdie skrywe:

Die Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans NT – enkele opmerkings

Ek het saam met Cobus Rossouw laasjaar ‘n artikel geskryf om die besorgdheid aan te toon oor sekere vertalingskeuses in die komende nuwe ‘Direkte Vertaling’ wat die Bybelgenootskap beplan. Dit gaan spesifiek oor hierdie verse, ek gee eers die OAV en dan die BDV se weergawe:

OAV (1933/53 vertaling) Galatians 3:7, 11 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. … En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

BDV (Bybel: ‘n direkte vertaling): Gal.3:7,8,11: So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham. 8 En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” … 11   En dat niemand op grond van die wet voor God vrygespreek word nie,* is duidelik, want: “Wie vrygespreek is op grond van geloof, sal lewe.”

Die volledige artikel kan hier gelees word, wat eksegetiese en konfessionele probleme met frases soos ‘op geloof staatmaak’ en ‘op grond van geloof’ uitwys:

BDV proefvertaling: deur/uit die geloof, of, op grond van die geloof ?

In hierdie artikel het ek ook ook gewys op die problematiek van gelyksoortige frases van die NAV (1983-vertaling) in  Rom.1:17:

“OAV: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

NAV: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ ”

NIV: “or in the gospel a righteousness from God is revealed, a righteousness that is by faith from first to last, {17 Or is from faith to faith} just as it is written: ‘The righteous will live by faith.’ ”

Grieks: ek pisteos eis pistin = (vanuit, van, deur) geloof (in, na, tot, toe, vir, tussen) geloof: dus geen ‘omdat’ hulle glo nie.  In vers 17 word aangehaal uit Hab.2:4, waar die OAV lees: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”; en die NAV: “maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.”  Met die voorsetsel ‘deur’ word gewys op die middel/manier waardeur ‘n mens geregverdig word en in die nuwe lewe bly. Met die voorsetsel ‘omdat’ word gewys die rede/begronding waarom iemand regverdig verklaar word.”

Om daarby te voeg, sien ook volgende belydenis aangaande ‘deur die geloof’, NGB artikel 22:

“Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is. Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind.” En in HK, v&a 21 word Rom.1:17 as Skrifbewys gegee vir die laaste sin wat as volg lei: “’n Ware geloof is … ’n vaste vertroue, wat die Heilige Gees deur die Evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie maar ook aan my uit louter genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid, geskenk het.”

Dit is by hierdie ‘geskenk het’ wat Rom.1:17 as Skrifbewys dien.  Nie ‘omdat’ ons glo nie, maar ‘deur’ die geloof ontvang ons al sy weldade (die ‘geskenk’), en uit die geloof in daardie geskenk lewe ons dan in dankbaarheid.  Met hierdie (baie) slegte (nuwe) vertaling (‘omdat hulle glo’) word die hartklop van die Reformasie in navolging van die Skrif aangetas, nl. dat ons gered word uit genade deur die geloof sonder enige werke.

Terug by die IBGA.

Verblydend is dit om te sien dat die IBGA se ‘Direkte Vertaling’ weergawe van hierdie vers ‘n groot verbetering is op die NAV en eintlik ‘n terugkeer na die korrekte vertaling is, soos o.a. die OAV hierdie frase deurgee.

Ek gee weer die verskillende lesings soos ek in die vorige artikel gedoen het, en voeg dan by: v. OAV en vi. die ESV, sodat u dit as leser kan vergelyk:

a. Romeine 1:17

“OAV: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

i. Grieks: ek pisteos eis pistin kathos, gegraptai: ho de dikaios ek pisteos dzesetai

ii. Woord-vir-woord-vertaling: uit-geloof-met(die oog op)-geloof, soos dit geskryf is: die-en-geregverdige-uit-geloof-hy sal lewe.

iii. NAV: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ ”

iv. DV (IBGA): uit die geloof met die oog op geloof, soos dit geskryf is: “En hy wat uit die geloof geregverdig is, sal lewe.”

v. OAV: “… uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

vi. ESV: “… from faith for faith, as it is written, “The righteous shall live by faith.”

2. Galasiërs 3:7,11

“Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. … En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.” (OAV)

BDV (Bybel: ‘n direkte vertaling): Gal.3:7,8,11: So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham.  … 11   En dat niemand op grond van die wet voor God vrygespreek word nie,* is duidelik, want: “Wie vrygespreek is op grond van geloof, sal lewe.”

i. Grieks: hoti hoi ek pisteos, houtoi huioi eisin Abraam … hoti de dikaios ek pisteos dzesetai

ii. Woord-vir-woord-vertaling: dat-die-uit-geloof-hierdie-kinders-hulle is-van Abraham … omdat-die-geregverdig-deur-geloof-hy sal leef.

iii. NAV: “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is … hy wat deur God vrygespreek is omday hy glo, sal lewe”

iv. DV (IBGA): Julle sien dan dat dié wat glo kinders van Abraham is … Hy wat deur die geloof geregverdig is, sal lewe.

v. OAV: “die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. … want die regverdige sal uit die geloof lewe.”

vi. ESV: “Know then that it is those of faith who are the sons of Abraham. … for ‘The righteous shall live by faith.’ “

Hoekom so baie vertalings ?

Dit is een van die voordele van enige interlinear, dat ‘n mens dan die verskillende vertalings kan vergelyk, en dan ten minste sien hoe vêr of hoe naby ‘n vertaling probeer bly aan die oorspronklike woorde.

Hoe meer ek die IBGA en ander interlinears vergelyk, hoe meer sien ek dat die NAV eintlik nie ‘n vertaling is nie, maar meer ‘n parafrase en/of verklaring/kommentaar.  In sekere gevalle word daar ver afgewyk van die oorspronklike en word meer woorde gebruik as wat nodig is, wat nie in lyn is met die gereformeerde verbale inspirasiebeskouing van die Heilige Skrif nie.

Daarteenoor het ‘n mens opnuut waardering vir die getrouheid en betroubaarheid van die OAV, as ‘n mens sien hoe hierdie vertaling so getrou as moontlik, woord-vir-woord, so naby as moontlik aan elke oorspronklike woord probeer bly en oorvertaal in ons moedertaal. Onderliggend daaraan is die Skrifbeskouing wat ons bely in NGB artikel 2 tot 7.

Ek twyfel vir geen oomblik dat ‘n vertaling verbeter kan word en dat woordeskat kan verander, maar dan moet nuwe vertalings werklik ‘n verbetering wees, en nie net bloot nog ‘n vertaling terwille van net nog ‘n vertaling nie.

Daarom huidiglik, is die OAV (1933/53 vertaling) die Afrikaanse leser se mees betroubare en getroue vertaling ‘oorgesit uit die oorspronklike tale’ in Afrikaans, om te gebruik.  Die NAV, die Boodskap, IRBA, NLV, ens., kan gebruik word as verklarings en kommentare, en dan nie noodwendig as ‘goeies’ nie, daar moet met ‘n onderskeidende gees gelees word, Hand.17:11; 2 Tim.2:15.

Een van die wesentlike redes waarom ‘n nuwe vertaling nodig was, volgens die NAV voorstanders hier vanaf die 60-erjare in die vorige eeu, is dat die OAV sogenaamd ‘onverstaanbaar’ geraak het.  Die OAV se vertaalmetode (letterlik-konkordant) moes vervang word deur die ‘dinamies ekwivalente’ vertalingmetode (‘ons fokus op die boodskap, nie woorde nie’), om die Bybel sogenaamd ‘meer verstaanbaar’ te maak, wat ons toe gekry het met die 1983 vertaling.

En wat is die ironie ?

Dat daar skielik nou weer ‘n ‘behoefte’ ontstaan het, maar hierdie keer weer vir ‘n ‘letterlike’ vertaling, nl. ‘n ‘direkte vertaling’, wat basies die moderne naam vir ‘n ‘direkte vertaling’ is.

Nou wat het skielik nou verander ?  Hoekom nou skielik weer ‘n letterlike direkte vertaling ?

Dit is nie asof ons mense se taalkennis en omgangstaal verbeter het nie, inteendeel.

Hoekom was letterlike vertalings bv vir die Engelse (KJV) en die Nederlandse (SV) volk vir so lank genoegsaam en verstaanbaar ?

Wat het skielik in die 20ste eeu en daarna so baie verander dat vertalings so vinnig en maklik ‘onverstaanbaar’ raak en vervang moet word, elke jaar amper so baie as wat Zuma met nog vrouens trou ?

Is dit dalk sodat bybelgenootskappe kan voortbestaan en fondse elke keer ingesamel kan word deur net nog en nog en nog vertalings uit te gee wat ‘beter’ gaan wees as die voorganger ?

Dit laat ‘n mens net opnuut wonder.

En ja, wie weet, as die DV vertaling gaan uitkom in 2016 of daarna, en die kerkvolk net begin gewoond raak aan die DV … dan volgens die ‘geleerdes en teoloë’ gaan die DV weer ‘onverstaanbaar’ raak en dan onstaan daar skielik weer ‘n ‘behoefte’ vir …. ‘n dinamies ekwivalente vertaling ….. ?

Nog ‘n interlinear

In die vorige skrywe, het ek die NKJV Interlinear aanbeveel gebaseer op die Meerderheidsteks, sien daar vir meer inligting.

Nog ‘n interlinear wat veral in al sy tegniese en studie opsies, baie beter is as die IBGA, is die Mounce interlinear:

Zondervan Greek and English Interlinear New Testament (NASB/NIV) By William D. Mounce, Robert H. Mounce

The Zondervan Greek and English Interlinear New Testament

Hierdie interlinear is gebaseer op ‘n kombinasie van 4 verskillende Griekse teksuitgawes (UBS, TNIV, NET Bible, TR), en soos die NKJV interlinear erken dit variante lesings in die voetnotas.  Dit kan in verskillende vertaling-uitgawes bestel word bv. KJV/NIV of NASB/NIV.

Vir die voorwoord (wat die ekstra opsies van hierdie interlinear bo andere verduidelik), tegniese aspekte van die gebruik van Griekse teksuitgawes, en ‘n voorbeeld van hoe hierdie interlinear lyk:

Mounce Interlinear

Die interlinear bevat ook die ontleding (‘parsing’) van elke woord, asook die Strong numerings (sien die voorbeeld hierbo).

Agter in die interlinear is ook Mounce se volledige ‘Complete Expository Dictionary of OT and NT Words’

Hier is ander bronne van Mounce:

Teknia.com

Vir iemand wat reeds die tale bietjie gestudeer het en ten minste ‘n leeskennis het van die tale, en graag hul woordeskat wil opbou deur bloot die Hebreeus en Grieks te lees, sien die volgende bron:

A Reader’s Hebrew and Greek Bible

‘n Aanlyn Reader is hier beskikbaar:

Aanlyn Reader

One thought on “Die Interliniêre Bybel: Grieks-Afrikaans NT – verdere opmerkings

Add yours

  1. Slabbert en Kobus, dankie vir die handige artikeltjie … ek gebruik hom graag

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: