Opmerkings oor die “NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 6: Romeine 1:17, ‘Deur/uit’ die geloof of ‘op grond van’ die geloof?)

Product Details

Deel 6: Romeine 1:17

Die ‘NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling’ (afkorting: DV) se vertaling van Rom.1:17 is as volg:

“Want daarin word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Wie op grond van geloof geregverdig word, sal leef.”

[nota: my opmerkings is gebaseer op die eerste 2014 uitgawe van die DV. Sien gerus die verskillende proefvertalings van die DV hier, aangesien daar aanpassings gemaak word: Direkte Vertaling: proefvertalings.]

Die 1933/53 vertaling (OAV) is as volg:

“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

Die 1983 vertaling (NAV) is as volg:

“In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Ons bely:

HK, 61.  Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is? Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).  (a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.

Dit gaan oor die vertaling van die Griekse woorde ek pisteuos wat so verskillend hierbo vertaal word, sien al die beklemtoonde gedeeltes in die verse hierbo (vergelyk dit ook met al die verskillende ander vertalings in Engels, ens.).

Met die hulp van ds. Cobus Rossouw, het ek reeds in die volgende artikel ‘n paar opmerkings gemaak oor die vertaling van hierdie gedeelte in beide die NAV en die beplande Direkte Vertaling, soos dieselfde frase ook in Galasiërs 3:7,8,11 gevind word:

Deur/uit die geloof of op grond van die geloof ?

OAV (1933/53 vertaling) Galatians 3:7, 11 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. … En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

BDV (Bybel: ‘n direkte vertaling): Gal.3:7,8,11: So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham. 8 En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” … 11   En dat niemand op grond van die wet voor God vrygespreek word nie,* is duidelik, want: “Wie vrygespreek is op grond van geloof, sal lewe.”

Lees asb. eers hierdie genoemde artikel, wat die belangrikheid en begronding van hierdie saak verwoord.

By hierdie artikel voeg ek dan die volgende twee opmerkings by, spesifiek met verwysing na Romeine 1:17: :

1. Die Direkte Vertaling wil ‘n meer brontaal georiënteerde (dus letterlike) vertaling wees, maar in hul vertaling van ek pisteuos, ook by Rom.1:17, gaan hul baie vry om met die teks, hul parafraseer eintlik meer.  Ja, ons stem saam met die goeie bedoeling, nl. wat ‘beteken’ die teks, maar dit moet nie ten koste wees van die beste en mees akkurate vertaling daarvan uit die grondteks nie, veral nie met ‘n brontaal georiënteerde fokus nie. Is dit nie juis die plek van voetnotas, kommentare, preke, katkisasie onderrig ens. om die teks verder te verduidelik nie ?

2. Sien hierdie verklaring van prof. Willie Jonker, in sy kommentaar op die boek Romeine, by hfst.1:16,17.  Die klem wat hy plaas op die aard van die geloof, en die plek van geloof in ons redding bevestig op nuut dat dit die beste en veiligste is om te bly by die vertaling van ‘uit/deur’ die geloof, en nie ‘op grond van’ of ‘omdat’ ek/ons glo nie, wat soveel misverstand kan veroorsaak. Dit is veral nodig met die herdenking van die Reformasie volgende jaar, 500 jaar later, dat ons redding is en was altyd: uit genade, deur/uit die geloof, sonder die werke, alles tot eer van God in Christus, sien Efesiërs 2:8-10.

Hier volg prof Jonker se verklaring, sien veral vers 17 (beklemtonings bygevoeg):

16 Dat Paulus nog nie in Rome was nie, is nie daaraan te wyte dat hy hom oor die evangelie skaam voor die mense van die groot en beroemde stad nie. Immers, die evangelie wat hy verkondig, is juis ’n krag tot redding.

Oral waar dit verkondig word, is Gods krag teenwoordig om mense te red. Die prediking van die evangelie is ’n dinamiese gebeurtenis waardeur mense bevry word van die skuld en die mag, die oordeel oor en die vloek van die sonde. Dit is die evangelie vir alle mense sonder onderskeid, of hulle Jode of Grieke is. As Paulus sê dat dit in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood geld, dink hy aan die weg wat God in die geskiedenis met die mense gegaan het: Hy het die Jode uitgekies as die volk van die verbond wat eerste in die heil gedeel het en uit wie die Christus gebore is. Die heil in Christus is eerste aan die Jode geopenbaar en ook Paulus het in sy prediking eerste na die Jode gegaan (vgl. Hd 13:46). Maar dit was nooit die bedoeling om die res van die wêreld (die nie-Jode of Grieke) verby te gaan nie.

Die redding is wel uit die Jode (Jh 4:22), maar dit is daar vir alle mense. Paulus sal in hfst. 9–11 uitvoerig hierop ingaan. Die evangelie is werklik daar vir elkeen. Die elkeen word egter gekwalifiseer deur die woorde: wat glo. Met die woord glo val daar weer ’n begrip van beslissende betekenis in Paulus se verkondiging (naas die begrip genade, vgl. vs 5). Die evangelie blyk immers nie vir alle mense daadwerklik ’n krag tot redding te wees nie, maar slegs vir dié wat glo. Die universaliteit van die verlossing wat in die begrippe Jood en nie-Jood uitgedruk word, word nader begrens deur die woorde: elkeen wat glo. Die verlossing kan alleen deur die geloof ontvang word. Die feit dat Paulus die geloof hier ter sprake bring, bring vanself ’n wending in sy betoog mee. Dit is asof sy hele brief op hierdie punt op ’n skarnier draai. Dit open die weg vir die uiteensetting van die weg van verlossing in die volgende hoofstukke as ’n verlossing uit genade en deur die geloof alleen, sonder die werke van die wet. Daarom word vs 16–17 ook dikwels as die tema van die hele brief beskou.

17 Reeds in hierdie vers verduidelik Paulus nader waarom die evangelie ’n krag van God tot redding is. Dit is die geval omdat die evangelie openbaar dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.

Om gered te word, moet ’n mens in die gerig van God vrygespreek word. Dit het die Jode goed geweet. Hulle het egter gemeen dat ’n mens deur die wet en al die voorskrifte daarvan te onderhou, ’n graad van geregtigheid kan bereik wat jou voor die gerig van God as regverdig kan laat kwalifiseer, sodat jy dan op grond daarvan vrygespreek kan word. Dit sou dan ’n vryspraak op grond van jou eie verdienste of van jou eie inherente kwaliteite wees. Paulus sê egter dat dit totaal onmoontlik is.

In die volgende hoofstukke verduidelik hy dit in besonderhede (vgl. veral hfst. 3–4). Die evangelie wat hy preek, is juis dat dit in Christus geopenbaar is dat ’n mens sonder verdienste gered word, enkel en alleen omdat God jou in sy gerig ter wille van die verdienste van Christus vryspreek en regverdig verklaar. Maar dan moet ’n mens dit glo.

Geloof is die enigste wyse waarop ’n mens deel kan ontvang aan die vryspraak in Gods gerig, omdat jy daardeur jou plek in Christus inneem en deur sy geregtigheid en heiligheid toegedek word. Dit gaan in die vryspraak op grond van die versoeningswerk van Christus dus nie om die verdienste van die mens nie, maar enkel en alleen, of anders uitgedruk: van voor tot agter, uitsluitend om die geloof. Daarvoor beroep Paulus homself op Hab 2:4.

Vir die leser van die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel sal dit baie moeilik wees om hierdie verwysing van Paulus te verstaan, omdat ’n vergelyking van hierdie vers in sy huidige vertaling met Hab 2:4 in die NAV so ver verskil. Die verskil hang daarmee saam dat dieselfde woord in Hebreeus vir geloof en getrouheid gebruik word. Die Joodse lesers van Hab 2:4 het dit so verstaan dat ’n mens wat deur sy onderhouding van die wet getrou bly, sal lewe. Blykbaar sluit die NAV se weergawe van Hab 2:4 daarby aan. Maar Paulus verstaan Hab 2:4 anders. Hy lees daarin dat die mens wat op God vertrou, sal lewe. Dit bevestig vir hom die waarheid dat ’n mens slegs langs die weg van vertroue op God, dit is: die weg van die geloof, die ware lewe deelagtig kan word.

Geloof is vir Paulus die vertroue op Gods genade alleen, die vertroue waardeur die mens hom- of haarself volledig verlaat op Gods evangelie dat Christus vir al ons sondes betaal het. Geloof is nie ’n prestasie van die mens nie. Dis vertroue op Christus alleen. Die wyse waarop hierdie vers in die NAV vertaal word, laat hierdie karakter van die geloof nie genoegsaam na vore kom nie. Die formulering dat God mense van hulle sonde vryspreek “enkel en alleen omdat hulle glo” asook die woorde “elkeen wat vrygespreek is omdat hy glo” kan die indruk wek dat die geloof die grond vir God se vryspraak is, terwyl Paulus bedoel dat die versoening in Christus en nie die geloof nie, die grond van die vryspraak is. Die geloof is die weg waarlangs die vryspraak ontvang word. Dit sou beter gewees het as die vertaling hier ook soos elders die woord deurdat gebruik het: enkel en alleen deurdat hy glo (vgl. 4:9, 11, 22–23 en 5:1). Jonker, W. D. (1998). Die brief aan die Romeine (Ro 1:16–17). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

En ongelukkig, veroorsaak die Direkte Vertaling se ‘op grond van’ geloof net soveel en dalk nog meer misverstand as die NAV se ‘omdat hul glo’.

Ons moet daarom bly by die klassieke vertaling van ‘uit/deur’ die geloof, soos ons dit ook bely (sien die verduideliking daarvan in bovermelde artikel):

NGB atikel 22 – Ons regverdiging deur die geloof 

Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry. Ps. 51:8; Ef. 1:17,18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal. 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20,28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3,5,9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24,27; Filip. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.

HK 60.  Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart (j) aanneem.

    (a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18. 

HK 61.  Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?

Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).

    (a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.

Laaste opmerking: die Direkte Vertaling se vertaalkeuse van dieselfde frase (ek pisteuos) by ander plekke in die boek Romeine:

Romeine 3:26, 30; 9:30; 10:6 = ‘deur die geloof’

Romeine 4:16; 5:1; 9:32 = ‘op grond van die geloof’


Ander dele in die reeks van vertaling opmerkings oor die DV is hier beskikbaar: Direkte vertaling opmerkings

2 thoughts on “Opmerkings oor die “NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 6: Romeine 1:17, ‘Deur/uit’ die geloof of ‘op grond van’ die geloof?)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: