Sibosiso Bavuma (voor), Imanuel Bavuma, Nkosithande Mthewa, Jabulani Bavuma en Siphiwe Bavuma (agter van links na regs) bid gister in ’n tradisionele buitelugkerk vir die slagoffers van die bloedbad by Lonmin se Marikana-myn. Foto: Theana Breugem (Beeld)
(English edition: Bloodbath at Marikana Mine)
Hier volg 2 verklarings, eerstens die GKSA deputate verklaring, en ‘n eie verklaring wat daarop volg:
1. MEDIAVERKLARING OOR BLOEDBAD BY MARIKANA
Namens die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika spreek ons ons skok uit oor die geweld en lewensverlies tydens die arbeidsonrus by die Longminmyn by Marikana.
Die feit dat ‘n gewone arbeidsgeskil in ‘n bloedbad van so ‘n omvang kon ontaard, dui net weereens op die broosheid en gebrokenheid van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die politieke skikking wat in Suid-Afrika bereik is vrywaar ons land nie teen die vernietigende effèk wat maatskaplike-, klasse- en arbeidsgeskille op almal in ons land kan hê nie.
Daarom doen ons ‘n beroep op elke verantwoordelike rolspeler in die burgerlike samelewing, die korporatiewe sektor en die vakbondwese om verskille met verantwoordelikheid te hanteer en aan te spreek.
Ons doen ‘n beroep op die regering om daadwerklike leierskap aan die dag te lê deur nie net die sinlose geweld te besweer nie, maar om ook ‘n stabiliserende rol van kalmte en die versekering van veiligheid te vervul.
Ons doen ‘n beroep op Christene om verskille aan te spreek in die gesindheid van Jesus Christus. Op die wyse kan ons ‘n reuse verskil in die hartklop van die Suid-Afrikaanse samelewing maak.
Dit is verder ontstellend dat die tragiese gebeure deur iemand soos Julius Malema uitgebuit word om politieke punte te probeer herwin bo-oor die lyke van mede Suid-Afrikaners.
Namens die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika spreek ons ons innige meegevoel uit met die talle beseerdes en die families van hulle wat gesterf het.
Namens die Deputate Owerheid,
Ds. Cassie Aucamp (Voors.)
_________________________________________
2. Verklaring van verootmoediging voor Christus in sulke tragiese tye
In bogenoemde verklaring lees ons:
“Die feit dat `n gewone arbeidsgeskil in `n bloedbad van so `n omvang kon ontaard, dui net weereens op die broosheid en gebrokenheid van die Suid-Afrikaanse samelwing (sic). Die politieke skikking wat in Suid-Afrika bereik is vrywaar ons land nie teen die vernietigende effèk wat maatskaplike-, klasse- en arbeidsgeskille op almal in ons land kan hê nie.”
Ek sou graag bogenoemde sinne en verklaring soos volg formuleer oor hierdie saak:
Die feit dat `n gewone arbeidsgeskil in ‘n tragiese bloedbad van so `n omvang kon ontaard, dui net weereens op die sondigheid en opstandigheid van ons Suid-Afrikaanse samelewing wat sy rug ongelukkig op God en sy gebod gedraai het (Ps.2:1-3). Die Skrif (Jak.4:1-2) wys ons op die diepste krisis en nood van die mens: ons sondige harte, en nié ons ekonomiese of politieke geskille nie. Uit ons sondige harte vloei die ‘oorloë’ en ‘bloedbaddens’ van ons tye:
‘Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.’
In Jak.4:13-16 spreek die Woord ook die wellustige sondige hart van ons ‘menseregte-kultuur’ aan, wat mense mislei dat hul die ‘reg’ het op alles en kan ‘demand’ dat al hul begeertes aan voldoen moet word, ongeag of dit ‘n oortreding is van die vyfde gebod, en of dit God se wil is:
‘Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak — julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.’
Die politieke skikking wat in Suid-Afrika bereik is – waarin die Drie-enige God ongelukkig nie as die enigste ware God erken word nie, en sy goeie regverdige wette nie in die nuwe bedeling se wetgewing geken word nie – het ‘n verskriklike vernietigende effèk op ons pragtige land en al sy volke, ook en veral wat maatskaplike-, klasse- en arbeidsgeskille betref. Ons land en al sy mense lewe nou met die gevolge van ‘n land wat oorgegee is aan ‘n nie-Christelike humanistiese bedeling met al sy misdaad, onreg, bloedbaddens, morele verval en magsmisbruike, en ‘n owerheid wat nie reg en geregtigheid kan handhaaf nie.
Mag elkeen van ons wat hierdie oorgawe help beplan het (Kodesa en daarna), ongeag al die goeie bedoelinge en ander goeie dinge wat daar moontlik kon uitgevloei het, ons bekeer. Ons besef nou dat ons in ons strewe vir ‘n nie-rassige SA, ons nie saam met apartheid ook die Christelike geloof en tradisie van ons land vir al sy mense moes uitgegooi het nie.
Ons moes nie ons land en sy mense oorgegee het aan ‘n veelgodery staat, ‘n humanistiese grondwet, ‘n sosialistiese staatsekonomie, en nog minder aan ‘n regering wat geen vrees vir God en sy gebod het nie, en daarom nie sy onskuldigste burgers liefhet en beskerm nie (en dus ook nie hul ‘menseregte’ eerbiedig nie), naamlik die aborsie-moord kultuur wat in 1997 gewettig is.
En, aangesien daar sedert 1997 gemiddeld 85 000 aborsie bloedbaddens en slagtings per jaar plaasvind, beteken dit dat sedert die Marikana slagting (16 Aug, waarin 34 mense dood is), daar 230 bloedbaddens was per dag in aborsie-moord klinieke en hospitale, tot vandag dus ‘n totaal van 1150 mense vermoor in 5 dae. Dalk ‘wettiglik’ volgens die humanistiese grondwet, maar nie wettig en reg voor die Skepper van alle mense en die Wetgewer van alle mense nie (Ex.20:13). Hy sal eendag elke bloed wat onregverdig vergiet is regverdig oordeel (2 Kor.5:10), en van ons rekenskap eis wat dit goedgepraat, toegelaat en/of verdra het.
Die oorgawe aan ‘n nie-Christelike bedeling was en is alles verraad teenoor Christus en sy Woord, en liefdeloosheid teenoor ons naaste.
Ons roep ons onsself, alle burgers, en in die besonder alle leiers, insluitende politieke en ekonomiese leiers op om die Seun, Jesus Christus, te kus as die enigste God, Verlosser en Onderhouer van SA, en sy wette te eerbiedig waar dit tot die samelewing spreek, sodat Hy ons land en sy mense genadig mag wees in sy regverdige oordele (Ps.2:10-12).
Laat ons almal besef dat wat ons eie lewens, gesinne, gemeentes, gemeenskappe en land betref, die waarheid van Ps.127:1-3 vasstaan, vir altyd … soveel te meer vir al ons ‘politieke’ en ‘arbeidsgeskille’:
‘As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet — net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!’
Mag ons hemelse Vader die talle beseerdes en die families van hulle wat gesterf het naby wees, en hul die enigste hoop skenk – Jesus Christus wat die weg, die waarheid en die lewe is, en wat vir ons elkeen in hierdie wêreld troos maar ook oproep:
“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Joh.11:25,26)
Mag Hy ons genadig wees sodat ons sal terugkeer na die Koning van konings, en die Here van die here in ons ganse lewens, ook ons wat getuienis moet lewer teenoor die owerhede van die dag (1 Tim.6:13-16; 2 Tim.4:2).
Met hierdie verklaring wil ons ons voor die Here verootmoedig en dit biddend van Hom smeek, hoor ons Vader as ons tot U nader met ‘n diep ontsag. Ons dank die Here, vir hierdie gawes wat die Here aan jou toevertrou. ‘n Versoek Slabbert, dat ons hierdie verklaring in al die amptelike tale van ons land vertaal te kry, en op die beste moontlike wyse en waar moontlik in kerkverband maar ook oor kerkgrense, hierdie verklaring in harte in te dra. Groete CB Pretorius.
Sent from my iPhone
CB, jy of enigiemand anders is welkom om my verklaring verder te stuur, vertaal of nie vertaal nie. Goed gaan, S.
“Die oorgawe aan ‘n nie-Christelike bedeling was en is alles verraad teenoor Christus en sy Woord, en liefdeloosheid teenoor ons naaste” – BAIE dankie Slabbert, dat jy hiermee by die “wortel van die kwaad” uitkom. In die onderwys waar ek my al die jare my brood verdien het byvoorbeeld, is geen “fundamentele pedagogiek” meer nie, so die mislukking van die onderwys verbaas my nie.
Het God se Glorie ons land verlaat, soos dit die temple verlaat het in Esegiël se tyd, vanweë die mens se sonde? Ek glo so. Soos jy sê, ons sal ons voor God moet verootmoedig in sondebelydenis en gebed.
Slabbert, stem saam met jou weergawe! Groete, Johan