“This (inerrancy/foutloosheid) is not a mere “modern” position. As we have seen, it is the position of Scripture itself. Augustine in the fifth century declared, “None of these (scriptural) authors has erred in any respect of writing.’ Infallibility is affirmed in the Westminster Confession of Faith, Chapter 1 and in the Belgic Confession, Article 7. .. Infallible” is a stronger term than “inerrant.” “Inerrant” means there are no errors; “infallible” means there can be no errors.” – John M. Frame
In die gereformeerde belydenis vind ons die volgende bevestiging van die leer van die onfeilbaarheid/foutloosheid van die Bybel:
“Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.” (NGB art.4)
“En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deu 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9 [Ou Vert. Vers 10]). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10).” (NGB artikel 7)
“Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?
Antwoord: ‘n Ware geloof is … ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar ….” (HK Sondag 7)
Om enige misverstand en misbruik van die terme op te klaar, plaas ek in aansluiting by my vorige skrywe, Onfeilbaarheid en Foutloosheid, weer hier die Chicago Verklaring aangaande Bybelse Foutloosheid:
Die Chicago Verklaring
aangaande
Bybelse Foutloosheid*
1. Voorwoord
1.1 Die gesag van die Bybel is ‘n sleutelsaak vir die Christelike Kerk in hierdie en alle tye. Diegene wat geloof in Jesus Christus as Here en Verlosser bely word geroep om die werklikheid van hulle dissipelskap te toon deur God se geskrewe Woord nederig en gelowig te gehoorsaam. Om in geloof of in gedrag van die Skrif af te dwaal is ontrouheid teenoor ons Meester. Herkenning van die totale waarheid en betroubaarheid van die Heilige Skrif is wesentlik vir ‘n volle begrip en genoegsame belydenis van die gesag daarvan.
1.2 Die volgende Verklaring bevestig opnuut hierdie foutloosheid van die Skrif, maak ons verstaan daaroor duidelik, en waarsku teen die ontkenning daarvan. Ons is oortuig daarvan dat om dít te ontken daaraan gelyk is om die getuienis van Jesus Christus en die Heilige Gees ter syde te stel, en om daardie onderwerping aan die aansprake van God se eie Woord, wat die ware Christelike geloof kenmerk, te weier. Ons sien dit as ons tydige plig om hierdie saak te bevestig ten aansien van die huidige afval van die waarheid aangaande foutloosheid onder ons mede-Christene, en misverstand van hierdie leer in die wêreld oor die algemeen.
1.3 Hierdie Verklaring bestaan uit drie dele: ‘n Opsommende Stelling, Artikels van Bevestiging en Ontkenning, en ‘n meegaande Uiteensetting*. Dit was deur die loop van ‘n driedaagse konsultasie in Chicago voorberei. Diegene wat die Opsommende Verklaring en die Artikels onderteken het wens om hul eie oortuiging oor die foutloosheid van die Skrif te bevestig en om mekaar en alle Christene tot groeiende waardering van en begrip vir hierdie leer aan te moedig en op te roep. Ons erken die perke van ‘n dokument wat oor ‘n kort, intensiewe konferensie voorberei was en stel nie voor dat aan hierdie Verklaring die gewig van ‘n belydenisskrif toegeskryf word nie. Tog verbly ons ons in die verdieping van ons oortuigings deur ons gesamentlike besprekings, en ons bid dat die Verklaring wat ons onderteken het, tot die verheerliking van ons God, onderweg na ‘n nuwe reformasie van die Kerk in haar geloof, lewe, en opdrag gebruik mag word.
1.4 Ons bied hierdie Verklaring in ‘n gees van nederigheid en liefde aan, en nie van twis nie, wat ons deur God se genade onderneem om in enige toekomstige gesprek wat hieruit mag voortvloei, te handhaaf. Ons erken blymoedig dat talle wat die foutloosheid van die Skrif ontken die konsekwensies van hierdie ontkenning nie in die res van hul geloof en gedrag vertoon nie, en ons is bewus dat ons wat hierdie leer bely, dit in lewe dikwels ontken deur nie daarin te slaag om ons gedagtes en dade, ons tradisies en gewoontes in ware onderwerping aan die goddelike Woord te bring nie.
1.5 Ons nooi respons op hierdie verklaring van enigeen uit wat rede sien om hierdie bevestigings oor die Skrif, in die lig van die Skrif self, onder wie se onfeilbare gesag ons in ons gesprek staan, te wysig. Vir die getuienis wat ons lewer maak ons op geen persoonlike onfeilbaarheid aanspraak nie, en vir enige hulp wat ons in staat stel om hierdie getuienis van God se Woord te bekragtig, sal ons dankbaar wees.
2. ‘n Kort Verklaring
2.1 God, wat Self Waarheid is en slegs waarheid spreek, het die Heilige Skrif geïnspireer om Homself daardeur aan ‘n verlore mensdom deur Jesus Christus as Skepper en Here, Verlosser en Regter te openbaar. Die Heilige Skrif is God se getuienis aangaande Homself.
2.2 Die Heilige Skrif, God se eie Woord, deur mense wat deur sy Gees voorberei is en onder sy toesig staan geskryf was, het onfeilbare goddelike gesag in alle sake wat dit aanraak: in alles wat dit bevestig moet dit as God se onderwysing geglo word; in alles wat die eis, moet dit as God se bevel gehoorsaam word; in alles wat dit belowe moet dit as God se waarborg omhels word.
2.3 Die Heilige Gees, die Skrif se goddelike Outeur, waarmerk dit vir ons deur sy innerlike getuienis sowel as om ons verstand te open ten einde die betekenis daarvan te verstaan.
2.4 Dit is geheel en verbaal Godgegewe, die Skrif is in al sy onderwysing sonder fout of gebrek, nie minder in wat dit aangaande God se skeppingsdade, die gebeure van die wêreldgeskiedenis, en sy eie literêre oorsprong stel nie, as in sy getuienis van God se reddende genade in individuele lewens.
2.5 Die gesag van die Skrif word onvermydelik belemmer indien hierdie totaal goddelike foutloosheid op enige wyse beperk of verontagsaam word, òf relatief tot ‘n waarheidsbeskouing, wat met dié van die Bybel in stryd is, gemaak word; en sodanige afval bring ernstige verlies vir beide die individu en die Kerk mee.
3. Artikels van Bevestiging en Ontkenning
Artikel 1
3.1 Ons bevestig dat die Heilige Skrifte as die gesaghebbende Woord van God ontvang moet word.
Ons ontken dat die Skrifte hul gesag van die Kerk, tradisie, of enige ander menslike bron ontvang.
Artikel 2
3.2 Ons bevestig dat die Skrifte die hoogste geskrewe norm is waardeur God gewetens bind, en dat die gesag van die Kerk aan die van die Skrif onderwerp is.
Ons ontken dat Kerklike geskrifte, vergaderings, of verklarings enige groter of gelykwaardige gesag met die gesag van die Bybel het.
Artikel 3
3.3 Ons bevestig dat die geskrewe Woord in sy geheel openbaring is wat deur God gegee is.
Ons ontken dat die Bybel bloot ‘n getuienis van openbaring is, of slegs openbaring in ontmoeting word, of vir sy geldigheid van die respons van mense afhanklik is.
Artikel 4
3.4 Ons bevestig dat God, wat die mensdom na sy beeld geskape het, taal as ‘n openbaringsmiddel gebruik het.
Ons ontken dat menslike taal so deur ons kreatuurlikheid beperk is dat dit as ‘n middel vir goddelike openbaring ongenoegsaam is. Ons ontken verder dat die verderf van die menslike kultuur en taal deur die sonde God se inspirasie werk verongeluk het.
Artikel 5
3.5 Ons bevestig dat God se openbaring in die Heilige Skrifte progressief was.
Ons ontken dat latere openbaring, wat vroeëre openbaring mag vervul, dít ooit korrigeer of weerspreek. Ons ontken verder dat enige normatiewe openbaring sedert die voltooiing van die Nuwe Testamentiese geskrifte gegee is.
Artikel 6
3.6 Ons bevestig dat die geheel van die Skrif en al die dele daarvan, tot by die juiste woorde van die oorspronklike, deur goddelike inspirasie ingegee was.
Ons ontken dat die inspirasie van die Skrif van die geheel, sonder die dele òf van sommige dele, maar nie die geheel nie, reg bevestig kan word.
Artikel 7
3.7 Ons bevestig dat inspirasie die werk was waarin God met sy Gees deur menslike skrywers sy Woord aan ons gegee het. Die oorsprong van die Skrif is goddelik. Die modus van goddelike inspirasie bly grootliks ‘n misterie.
Ons ontken dat inspirasie tot menslike insig òf tot hoër bewussynstoestande van enige aard verskraal kan word.
Artikel 8
3.8 Ons bevestig dat God in sy inspirasie werk die onderskeidende persoonlikhede en literêre style van die skrywers wat Hy gekies en voorberei het, gebruik het.
Ons ontken dat God hierdie skrywers se persoonlikhede ter syde gestel het deur te veroorsaak dat hulle die juiste woorde gebruik het wat Hy gekies het.
Artikel 9
3.9 Ons bevestig dat inspirasie, hoewel dit nie alwetendheid oordra nie, wel ware en betroubare uitinge, oor alle sake waaroor die Bybel outeurs beweeg was om te skryf en te praat, gewaarborg het.
Ons ontken dat die eindigheid of verdorwenheid van hierdie skrywers, deur noodsaak of andersins, vertekening of valsheid in God se Woord ingebring het.
Artikel 10
3.10 Ons bevestig dat inspirasie, streng gesproke, slegs op die outografiese teks van die Skrifte van toepassing is, wat in die voorbeskikking van God uit beskikbare manuskripte met hoë akkuraatheid vasgestel kan word. Ons bevestig verder dat kopieë en vertalings van die Skrif die Woord van God is in soverre dít die oorspronklike getrou voorstel.
Ons ontken dat enige essensiële element van die Christelike geloof geaffekteer word deur die afwesigheid van die outografieë. Ons ontken verder dat hierdie afwesigheid die aanspraak van Bybelse foutloosheid òf ongeldig òf irrelevant maak.
Artikel 11
3.11 Ons bevestig dat die Skrif, wat deur goddelike inspirasie ingegee was, onfeilbaar is, sodat dit vêr daarvan is om ons te mislei, maar waar en betroubaar is in al die sake wat dit aanspreek.
Ons ontken dat dit vir die Bybel moontlik is om in sy verklarings terselfdertyd onfeilbaar en foutief te wees. Onfeilbaarheid en foutloosheid mag onderskei maar nie geskei word nie.
Artikel 12
3.12 Ons bevestig dat die Skrif in geheel foutloos is, vry van alle valsheid, bedrog, of bedrieglikheid.
Ons ontken dat die Bybelse onfeilbaarheid en foutloosheid tot geestelike, religieuse, of verlossingstemas beperk is, (en) aansprake in die velde van geskiedenis en wetenskap uitsluit. Ons ontken verder dat wetenskaplike hipoteses oor die aarde se geskiedenis na behore gebruik mag word om die onderwysing van die Skrif oor die skepping en die vloed op te hef.
Artikel 13
3.13 Ons bevestig die gepastheid om foutloosheid as ‘n teologiese term, met verwysing na die volledige waaragtigheid van die Skrif, te gebruik.
Ons ontken dat dit toepaslik is om die Skrif volgens standaarde van waarheid en dwaling, wat tot die gebruik en doel daarvan vreemd is, te evalueer. Ons ontken verder dat foutloosheid deur Bybelse gebeure soos: ‘n gebrek aan hedendaagse tegniese presisie; onreëlmatighede van taalleer of spelling; waarnemingsbeskrywings van die natuur; die rapporteer van valshede; die gebruik van hiperbole en geronde getalle; die tematiese rangskikking van stof; verskeie seleksies van stof in parallelle weergawes; òf die gebruik van vrye aanhalings, negeer word.
Artikel 14
3.14 Ons bevestig die eenheid en interne ooreenstemming van die Skrif.
Ons ontken dat beweerde foute en verskille wat nog nie opgelos is nie die waarheidsaansprake van die Bybel vernietig.
Artikel 15
3.15 Ons bevestig dat die foutloosheidsleer in die Bybel se onderwysing oor inspirasie gegrond is.
Ons ontken dat Jesus se leer oor die Skrif, deur beroepe op akkommodasie òf ten aansien van enige natuurlike beperking van sy menslikheid, verwerp mag word.
Artikel 16
3.16 Ons bevestig dat die foutloosheidsleer integraal tot die Kerk se geloof deur die geskiedenis was.
Ons ontken dat foutloosheid ‘n leer is wat deur die Skolastiese Protestantisme uitgevind was òf ‘n reaksionêre posisie is wat in respons op negatiewe hoër kritiek gepostuleer was.
Artikel 17
3.17 Ons bevestig dat die Heilige Gees oor die Skrifte getuig, en gelowiges van die waaragtigheid van God se geskrewe Woord verseker.
Ons ontken dat hierdie getuienis van die Heilige Gees in isolasie van òf teen die Skrif werksaam is.
Artikel 18
3.18 Ons bevestig dat die teks van die Skrif deur grammaties-historiese eksegese geïnterpreteer moet word, met inagneming van die literêre vorme en middels, en dat die Skrif die Skrif moet uitlê.
Ons ontken die wettigheid van enige behandeling van die teks of die soeke na die bron daaragter, wat lei tot: die relativering; onthistorisering; òf die onderwysing daarvan buite rekening laat; óf die aansprake op outeurskap daarvan verwerp.
Artikel 19
3.19 Ons bevestig dat ‘n belydenis van die volle gesag, onfeilbaarheid, en foutloosheid van die Skrif lewensnoodsaaklik vir ‘n gesonde verstaan van die geheel van die Christelike geloof is. Ons bevestig verder dat so ‘n belydenis tot toenemende gelykvormigheid aan die beeld van Christus behoort te lei.
Ons ontken dat só ‘n belydenis vir saligheid noodsaaklik is. Nietemin, ontken ons verder dat foutloosheid, sonder ernstige gevolge vir beide die individu en die Kerk, verwerp kan word.*
* Vertaal deur Hein Satlegger, lidmaat van die Gereformeerde Kerk Belville. Die engelse teks van hierdie verklaring is hier beskikbaar:
The Chicago Statement of Biblical Inerrancy
Sien ook die volgende artikels oor onfeilbaarheid en foutloosheid:
Verduideliking van Chicago verklaring
“Ons erken blymoedig dat talle wat die foutloosheid van die Skrif ontken die konsekwensies van hierdie ontkenning nie in die res van hul geloof en gedrag vertoon nie…”
Ek vind dit `groot` van die skrywers om hierdie feit te erken. Is dit nie iets merkwaardig nie en is dit nie iets waaroor meer nagedink kan word nie?