Woordverkondiging – Daniël 6

Daniel 6:1-29

Fokus: vers 1-25

 Net soos in Babilon … is God ook in die ryk van die Meders-en-Perse besig … om sy Koninkryk te laat kom.

deur ds. AJ (Cobus) Rosssouw (GK Daspoort)

Inleiding

Geliefdes … voor-verlede-week … by Dan 5

was ons getuies van Babilon se val … deur God se oordeel.

‘n Oordeel wat Gods volk bevry het.

Bewys[1]

Want met die vernietiging

van die Babiloniese-wêreld-ryk deur die Meders-en-Perse

was 70 jaar van Babiloniese wêreld-oorheersing verby.

En dit het veroorsaak

dat Jerusalem en die Tempel weer herbou kon word.[2]

***************

Maar … nou in Dan 6

lees ons nie van ‘n nuwe-vrye-Jerusalem

met die Messias uit die geslag van Dawid op die troon nie.

Nee! Vers 1 vertel van “Daríus, die Meder,

(wat) twee en sestig jaar oud was toe hy die koningskap ontvang het.”

En vers 29 vertel van Daniël

wat geleef het “onder die regering van Daríus

en onder die regering van Kores, die Pers.”

Verduidelik

En dit alles sê

dat God se koninkryk nog nie in sy volheid gekom het nie.

Nee, koning Kores was die maghebber

van die volgende magtige wêreld-ryk na die Babiloniërs.

Opmerking

En Darius … wat dalk ‘n ander naam was vir Kores

of dalk ‘n onder-koning onder koning Kores

was op die troon in Babel.[3]

En Daniël … ‘n ou-man van in sy tagtigs

was saam met baie ander van God se volk

steeds nie terug in Kanaän nie.[4]

**************

Toepassing

Maar beteken dit nou

dat God se almagtige Konings-Heerskappy

waaroor ons al so baie in Daniël geleer het

eintlik nie ‘n werklikheid is nie?

Beteken dit dat die kerk nou maar eenmaal vasgevang sit

in ‘n nimmer-eindigende geskiedenis

van die een magtige wêreld-ryk op die nader?

Nee! … geliefdes … Nooit.

Bewys

Want in Dan 2 … toe Nebukadneser nog geleef het

het God mos in ‘n droom aan Nebukadneser ‘n beeld gewys

wat vier wêreld-ryke uitgebeeld het.[5]

Die eerste een was die Babiloniese-wêreld-ryk.

Die tweede een was die wêreld-ryk van die Meders-en-Perse.

Die wêreld-ryk aan bewind in Dan 6.

Maar nou is die wonder

dat God deur Daniël … in Dan 2:44  gewys het

dat terwyl die een wêreld-ryk op die ander kom en gaan …

God aan die werk is … om almagtig, oorwinnend, en verlossend

sy koninkryk te laat kom.[6]

Iets wat ‘n skitterende werklikheid word in die koms van Christus.

En in sy wederkoms

wanneer Christus die magte van die Antichris en Satan vir ewig vernietig.

En die volheid van die koninkryk van God laat kom.

En al is ons nou … nog nie daar nie;

en al was Daniël … in Dan 6 … ook nog nie daar nie

beteken dit beslis nie dat God nie aan die werk is nie.

Nee … allermins.

Dit is wat ons vandag gaan leer hier in Dan 6

by ons laaste preek uit die geskiedenis-deel van Daniël.

Ja … ons gaan raaksien dat

net soos in Babilon …

God ook in die ryk van die Meders-en-Perse besig is …

om sy Koninkryk te laat kom.

En hierdie werklikheid openbaar God

in die verlossing van Daniël uit die leeukuil.

Maar om daar te kom moet ons eers stil staan by:

  • Daniël se lewe
  • Die aanslag daarop
  • En Daniël se volharding daarin
  • En dan gaan ons kom by Daniël se verlossing.

1. So … ons begin by Daniël se lewe.

Vers 2-11 vertel veral daarvan.

Vers 2-5 vertel byvoorbeeld

van koning Darius se goeie regering

  • waarin Daniël ‘n minister was
  • waarin Daniël getrou gedien het
  • en opgang gemaak het.

Maar nou is dit veral vers 6 en 11

wat aandag moet trek.

Want hier skitter Deut 30:6 … waar Moses geprofeteer het …

oor die HERE se werk in sy ballingskap-volk.[7]

Want in Deut 30:6 sê Moses:

“En die HERE jou God sal jou hart besny

Esegiël 36 sê die HERE sal vir sy volk ‘n nuwe hart gee.[8]

En in Joh. 3 praat Jesus van die wedergeboorte.[9]]

om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel …”

En presies dit sien ons in vers 6 en 11.

Bewys

Want vers 6 vertel van Daniël se lewe van ‘Godsdiens’.

Of sy lewe van diens aan God volgens God se wet.[10]

En hoekom lewe Daniël so?

Wel,  omdat God Daniël se ou-verdorwe hart

wat geneig was om te haat,[11]

“besny het om die HERE … lief te hê …” 

Verduidelik

En as jy God lief het … dan kan dit nie meer anders nie:

Dan leef jy ‘n lewe van Godsdiens volgens God se wet.

“Want dit is die liefde tot God,

dat ons sy gebooie bewaar …” sê 1Joh 5:3.

***************

By vers 11

hoor ons van Daniël se lewe van gebed.

Gedagtestruktuur

Nou … vers 11 hoor ons

van die aanslag op Daniël se lewe,

waaroor ons netnou sal leer.

En hierdie aanslag was in die vorm van wetgewing … so sê vers 8

wat bepaal “dat elkeen wat gedurende dertig dae

‘n versoek rig aan enige god of mens

behalwe aan (koning Darius) in die leeukuil gegooi sal word.”

En dan sê vers 11 dat “net toe Daniël verneem

dat die bevelskrif geskrywe was,

hy in sy huis gegaan het …

en hy het … gebid … voor sy God,

net soos hy tevore gedoen het.”

En nou is diit veral die laaste deel van vers 11

wat vertel van Daniël se lewe van gebed.

Verduidelik

Want Daniël het nie net gaan bid

omdat hy benoud was oor hierdie nuwe wet nie.

Nee! vers 11 sê Daniël het gaan bid

net soos hy tevore gedoen het.

So … gebed was deel van Daniël se lewe.[12]

En hoekom?

Wel … omdat God Daniël se ou-verdorwe hart

wat geneig was om te haat … besny het … om Hom lief te hê.

Verduidelik

Maar liefde vir God

gaan altyd saam met vertroue op God.[13]

En uit ons vertrou bid ons,[14]

met smeekgebede en dankgebede en lofprysinge.[15]

Dit kan nie anders nie.[16]

**************

Saamgevat

So dis Daniël se lewe … geliefdes.

  • Dis ‘n lewe van liefde vir die HERE.

Daarom is dit ook ‘n lewe van Godsdiens

volgens die HERE se wet.

  • En dis ‘n lewe van vertroue op die HERE.

Daarom is Daniël se lewe ook ‘n lewe van gebed.

Het ons nie ‘n goeie God nie!

Is sy verlossingswerk in die lewe van Daniël nie wonderlik nie!

**************

Toepassing

Maar nou moet ons tog hier nog ‘n baie belangrike ding raak sien.

En dit is dat wanneer die HERE ons harte kom besny

om Hom lief te hê … en op Hom alleen te vertrou

dan haat die sondige-wêreld ons.

Bewys

Jesus praat ook daaroor as Hy in Joh. 15:19 vir sy dissipels sê:

“As julle van die wêreld was,

sou die wêreld sy eiendom liefhê.

Maar omdat julle nie van die wêreld is nie,

maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het,

daarom haat die wêreld julle.”

2. En juis daarom was daar ‘n aanslag teen Daniël.

Ons tweede punt.

Van hierdie aanslag vertel vers 5-10.

Dit het begin met Daniël

wat uitgestyg het bo die ander ministers en landsbestuurders

sodat koning Darius “van plan was

om hom oor die hele koninkryk aan te stel.”

So vertel vers 4.

Iets wat hulle ontsettend jaloers op Daniël gemaak het.[17]

Vers 5 vertel hoe hierdie jaloesie aaklig gemanifesteer het

toe die ministers en landbestuurders een of ander fout

in Daniël se regeringswerk gesoek het

om hom mee te kelder.

Maar toe werk dit nie.

Want Daniël leef ‘n lewe van liefde.

Daarom was hy getrou in sy werk vir koning Darius,

vertel vers 5 se laaste gedeelte.

**************

Dit was toedat die ministers en die landbestuurders

onder mekaar begin praat het

en in vers 6 gesê het:

“Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ‘n aanklag vind nie,

tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.

Of in sy diens aan God soos God beveel.

En toe vind hulle dit … in die hart … in die kern … in die wese …

van Daniël se Godsdiens.

****************

En wat was daardie wese van Daniël se Godsdiens?

Wel … vers 11 vertel daarvan.

Vers 11 wat sê

dat Daniël “in sy bo-kamer vensters gehad

wat oop was in die rigting van Jerusalem.”

En dat Daniël gebid het in die rigting van Jerusalem.[18]

Verduidelik

En nou dit hierdie feit

dat Daniël bid in die rigting van Jerusalem

wat ons uitbring by die wese van die ware Godsdiens.

Want as Daniël bid in die rigting van Jerusalem

bid hy ook in die rigting van die Tempel.[19]

En die Tempel was die simbool

van die HERE se teenwoordigheid by sy OT-kerk.[20]

Maar tegelyk was die Tempel

met sy offerdiens ook ‘n simbool van Christus …

  • deur wie ons tot die enigste ware God kan gaan;
  • deur wie die enigste ware God … ons Vader word …

en ons sy geliefde kinders;

  • deur Wie ons die enigste Ware God in liefde kan dien.[21]

Ja … die Tempel met sy offerdiens

was ‘n afskaduwing van Joh. 14:6 waar Christus sê:

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe;

niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”[22] 

Gevolgtrekking

En nou was dit die wonderlike belewing en uitlewing

van hierdie hart van ons Godsdiens waarmee Daniël besig was

as hy daar in sy huis in die rigting van die Tempel gebid het.

As OT-gelowige was hy besig

om deur Christus … afgeskadu in die Tempel … na die Vader te gaan.

En as kind van God “Alle geestelike en liggaamlike behoeftes” [23]

van Hom af te smeek en Hom daarvoor te dank.

************

Maar … nou was dit ook op hierdie wese van ons ware Godsdiens

dat die jaloerse ministers en landsbestuurders gekonsentreer het

toe hulle besluit het om in Daniël se Godsdiens ‘n rede te soek

om hom aan te kla, soos vers 6 vertel.

Daarom dat hulle in vers 7 na koning Darius toe is.

En in vers 8 hulle bose plan voor die koning gelê het

wat ingehou het dat “die koning ‘n verordening moet uitvaardig

en ‘n verbod bekragtig dat elkeen

wat gedurende dertig dae ‘n versoek rig

(of dit biddend afsmeek van[24]) … enige god of mens  

behalwe … (die koning) in die leeukuil gegooi sal word.”

****************

En hierdie wetgewing het reguit ingegaan

teen die ware Godsdiens.

Ons moet heel eerste sê

dat hierdie wetgewing nie Daniël verbied het

om die HERE te aanbid en te dien nie.

Dit het net mooi niemand in die hele wêreld-ryk

van die Meders-en-Perse verbied

om hulle eie god te aanbid en te dien nie.

Verduidelik

Hoekom nie?

Wel … omdat daar godsdiensvryheid in die wêreld-ryk

van die Meders-en-Perse was.

Esra 1 vertel dan hoe Kores die OT-kerk toegelaat het

om terug te keer na Juda

om die Tempel van die HERE weer te herbou

en daar die HERE se erediens weer in te stel.[25]

So … hierdie wetgewing het nie vir Daniël verbied

om die HERE te aanbid nie.

***************

Maar hoe het dit dan ingegaan teen die ware Godsdiens?

Verduidelik

Wel … deur Daniël te verbied om deur Christus

wat vir Daniël afgeskadu was in die Tempel …

tot God in gebed te gaan en God te dien.

Want dis wat hierdie wet beteken het … as dit verbied het

dat “ ‘n versoek (ge)rig (mag word) aan enige god of mens

behalwe aan (die koning) …”

Want die Meders-en-Perse het hulle koning gesien

as ‘n verteenwoordiger van alle mense se gode.

  • In hulle koning het alle gode gelyk geword.
  • Hy was vir jou die weg en die waarheid

jou middelaar … deur wie jy tot jou god gaan.

  • Hy was die een wat dit vir jou moontlik gemaak het
  • om jou god te dien.[26]

****************

Gevolgtrekking

So … sien u die Sataniese-aard van hierdie wetgewing?

  • Dit is ‘n wet wat sê:

In Darius is alle gode gelyk. Jahwe is nes die ander.

  • Dit is ‘n wet wat sê:

Die middelaar na God toe gee die mens.

En nie God self nie!

Toepassing

Ja … dit is die aanslag teen Daniël.

Maar ook teen alle kinders van God deur die eeue

op allerhande verskillende maniere.

Dis ‘n aanslag wat ons God en sy Christus wil laat verloën.

Voorbeelde

  • Dit was die aanslag teen die kerk in Pergamus

“in die dae waarin Antipas (Christus se) getroue getuie … gedood is.”

Ja … met sy wrede vervolging wou Satan hê

dat die kerk van Pergamus Christus moes verloën.

So vertel Openb 2:13.

  • Dit is die aanslag van die valse-Rooms-Katolieke kerk … as hulle leer

dat ons deur sogenaamde heilige-mense tot God moet bid.

En nie alleen deur Christus nie.[27]

  • Dit is die aanslag vandag

as kerke saam met ander vals-gelowe saamwerk

aan die uitbou van menseregte-wetgewing.

Opmerking

En dis iets wat gebeur … hier in ons land.

En die GKSA neem daaraan deel.[28]

Want … ja … saam met die Moslems en die Jode

kan ons daarop aandring

dat ‘n verpleegster die reg het

om te weier om aborsies te doen

en dat werkers die reg het

om hulle Godsdienstige dae te vier.[29]

Maar dan het ons ook in die proses

al het ons dit goed bedoel

die enigste God se wet gelyk gestel

aan die Moslems en die Jode se god en hulle wet.

En ons het ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus,

gelyk gestel aan Mohammed, die profeet van die Moslems.[30]

***************

Ja, die jaloerse ministers en landsbestuurders se aanslag teen Daniël,

was ‘n aanslag met voorgestelde wetgewing

wat reguit ingegaan het teen die wese van die ware-Godsdiens.

So kon ons leer uit vers 7-8.

*************

Vers 9 vertel

dat die jaloerse ministers en landsbestuurders

ook wou hê dat hierde wet

“volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik (sou wees).”

Verduidelik

So hierdie wet moes werklik nie kon verander nie.

En toe? Wel vers 10 sê:

“Daarop [maw na die ministers en landsbestuurders se voorlegging

oor die voorgestelde wetgewing[31]]

het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.”

Verduidelik

Sommer so maklik.

Geen teëstribbeling van die kant van Darius nie.

Miskien was dit omdat hierdie wet heeltemal by sy heidense idees

dat die koning die verteenwoordiger van die gode is

ingepas het.[32]

***************

En nou is die vraag:

Gaan Daniël die HERE verloën vir 30 dae

en ‘n rustige ou-dag beleef?

Of gaan Daniël volhard in die ware Godsdiens?

Om dan uiteindelik ‘n verskriklike onrustige ou-dag te beleef

en dalk ‘n leeukuil-dood te sterf?

 

3. Hierdie vrae bring ons by ons derde punt

waar dit gaan oor Daniël se volharding.

En Daniël het volhard … geliefdes.

Daniël het die HERE en sy Christus nie gelos nie.

Bewys

Vers 11 vertel daarvan … as dit sê:

“En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was,

het hy in sy huis gegaan;

en hy het in sy bo-kamer vensters gehad

wat oop was in die rigting van Jerusalem,

en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval

en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God,

net soos hy tevore gedoen het.”

En Daniël het volhard tot die einde.

Want vers 17 sê:

“Toe het die koning bevel gegee,

en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi.”

*************

Gevolgtrekking

So … Daniël het die ware God en sy Christus nie gelos nie

al sou dit sy dood beteken.

Ja … Daniël het volhard.

En dis so belangrik … om so te volhard.

Want in Dan 12:12 praat die HERE[33] met Daniël

en dan sê die HERE:

Welgeluksalig is hy wat bly verwag …”

Verduidelik[34]

En dan is hierdie bly verwag dieselfde

as om te volhard soos Daniël

al beteken dit dat jy wreedaardig dood gemaak kan word.

Want dis alleen hulle wat volhard wat welgeluksalig is.

Kan u sien waarom dit so belangrik is

om soos Daniël te volhard.

Skrif met Skrif

Jesus leer dit ook as Hy in Mark 13:13 sê:

“En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam.

Maar wie volhard tot die einde toe,

hy sal gered word.” [35]

Verduidelik

En dan is dit nie ons daad van volhard wat ons red nie.

So asof ons met volharding ons eie verlossers word nie.

Nee … Dis Christus wat red.

Hy is altyd ons Enigste Verlosser.

Hy is altyd die enigste Weg en die Waarheid na die Vader toe.[36]

Daarom dat Daniël bly volhard het in die ware Godsdiens;

bly volhard het om in die rigting van die Tempel te bid

wat vir hom op Christus gewys het.

Want sonder Christus is hy nie by die ware God …

en die ewige lewe nie.

Daarom dat ook ons moet volhard agter Christus aan.

Want sonder Christus is ons verlore.

Want Hy is die Enigste weg na God toe.

****************

Maar hoe?

  • as jy bang word?
  • as hulle jou dreig met die leeukuil?

Wel … geliefdes … deur te maak soos Daniël

wat nie net volhard het in die ware Godsdiens nie

maar ook volhard het in gebed.

Verduidelik

Want dis hoe Daniël kon volhard in die ware Godsdiens.

En dis hoe kinders van God deur die eeue volhard het.

Ons volhard nie uit ons eie krag nie!

Ons volhard op ons knieë.

As ons ons eie sondigheid en swakheid besef.

En dan neersak op ons knieë en smekend belydend bid:

‘HERE, red my om te volhard!’[37]

***************

Troos

En weet u:

As ons so volhard in die gebed … kan ons weet:

Ek is een van God se uitverkore kinders …

in wie Hy kom werk … deur sy “Gees van gebed” [38]

sodat ek kan bid.[39]

Ja … dan kan ek weet:

Die belofte van Ps 37:24 is ook vir my … waar Dawid sê:

“As (ek) val, dan stort (ek) nie neer nie;

want die HERE ondersteun (my) hand.”

 

4. En dan? … Dan kan ons ook van verlossing hoor.

En die koninkryk wat kom.

Dis wat met Daniël gebeur het.

God het Daniël verlos.

En dis ons vierde punt.

Ja … God het vir Daniël uit die leeukuil verlos.

En net hier sien ons ook hoe God

terwyl die Meders-en-Perse die wêreld regeer

sy onvernietigbare koninkryk laat kom.

Vers 19 begin daarvan vertel.

Dis nou na vers 17 toe Daniël … teen die aand se kant

in die leeukuil gegooi is.

En koning Darius die leeukuil in vers 18 verseël het

sodat Daniël geen kans gehad het om uit te kom nie.

Nou … na hierdie gebeure … vertel vers 19 ons

dat Darius se nag nie soos gewoonlik verloop het nie.

Hy’t nie geëet nie … sy vrouens moes nie naby hom kom nie.

Hy’t ook nie geslaap nie.[40]

En lees ons vers 20

dan is dit asof Darius die volgende oggend

net nie gou genoeg by die leeukuil  kan kom nie.[41]

Vers 21 vertel dat Darius … by die leeukuil

met ‘n droewige stem na Daniël geroep en gesê het:

“Daniël, kneg van die lewende God,

was jou God … in staat om jou van die leeus te verlos?”

Verduidelik

En nou wys vers 19-21 ons twee dinge.

A. Die een is dat koning Darius van Daniël gehou het.

Daniël het immers sy koninkryk sommer baie goed regeer.

Vers 4-5 vertel daarvan.[42]

En Darius het natuurlik nie besef

met watter bose plan die ministers

en die landsbestuurders besig was nie.

B. Die tweede ding … is koning Darius se onmag.

Hy is hierdie magtige koning.

Hy glo dat hy die gode verteenwoordig.

Maar hy kan nie sy eie wet verander

om Daniël se lewe te red nie.

Hy is ‘n slagoffer van sy eie mens-uit-gedinkte strukture en wette

wat op die ou-einde lewensvernietigend is.[43]

************

En weet u: … Nou is dit binne in hierdie haglike situasie

  • van wetgewing wat die ware Godsdiens verag
  • van Daniël wat deur hierdie wetgewing vervolg word
  • en van wêreldmagte  wat in hulle eie sisteme verstrengel raak

sonder om ware hoop en lewe te gee …

dat God ons wys … hoe Hy almagtig verlossend aan die werk is.

En hoe die ewige koninkryk lyk … wat Hy laat kom.

En God wys dit as Daniël … vanuit die leeukuil … in vers 22-23

met koning Darius praat en sê:

“Mag die koning vir ewig lewe!

My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit,

sodat hulle my geen leed aangedoen het nie …”

Openbaringshistories[44]

En net hier … met Daniël tussen rustige leeus

skitter die dagbreek-strale

van God se ewige Koninkryk … sy vrede-ryk … wat Christus bring.

Want daar in die kuil vol leeus

Gaan dit soos in God se ryk van ewige-vrede

soos Jes 11:6-8 ons daarvan vertel

waar “die wolf by die lam wei,

en die luiperd gaan lê by die bokkie,

en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee (is) bymekaar,

en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.”

En Daniël sal by die leeus oornag …

soos Adam eens in die paradys.

*************

Gevolgtrekking

Sien u die wonderlike Evangelie

wat die HERE verkondig met Daniël in die leeukuil?

  • Ja … die HERE wys ons sy mag

wat net almagtig baie groter is as Darius sin …

al heers hy met die ryk van die Meders-en-Perse oor die hele wêreld.

  • Die HERE wys ons sy almag

wat triomfeer oor wette wat sy ware Godsdiens verag.

  • Die HERE wys ons sy almag

waarmee Hy sy Koninkryk laat kom van lewe-en-vrede.

Terwyl Darius onmagtig moet toekyk

hoe die dood oor hom heers.

*************

Slot

En dis wat ons in die eerste 6 hoofstukke van Daniël leer … geliefdes.

  • God is soewerein-almagtig.

Sy heerskappy is ewig en onstuitbaar.

  • En daarby laat God sy ewige koninkryk

van lewe-en-vrede oorwinnend … verlossend … en met oordeel kom.

Dit terwyl wêreldheersers dink hulle is onoorwinlik.

En weet u:

Daniël … en elkeen …

  • wat leef soos Daniël met liefde vir die HERE

en vertroue alleen op die HERE

wat die HERE uit genade alleen in ons lewens kom gee het;

  • en dan volhard in die ware Godsdiens

nie uit ons eie nie … maar omdat die HERE ons laat bid

kan weet:

Die HERE sal ons bewaar.

Ja … Hy sal ons siel bewaar.

En ons laat ingaan in sy vrede-ryk …

al dreig die vyand met die dood.

Bewys

Paulus praat daaroor

as hy aan die einde van sy lewe die doodsvonnis in die gesig staar

wat uiteindelik ook voltrek is.

Maar steeds kan hy dan sê:

“die Here sal my verlos van elke bose werk

en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.”

****************

En die ander? … Wat in haat geleef het …

en die kerk vervolg het?

Wel … vers 25 vertel van hulle

as dit ons wys op die uiteinde

van die jaloerse ministers en landsbestuurders

wat toe “in die leeukuil gegooi (is);

en … nog nie die bodem van die kuil bereik (het) nie

of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.”

En dit het gebeur want dis “reg by God”

leer Paulus in 2 Tess. 1:6-8

“om aan die wat (ons) verdruk, verdrukking te vergelde,

en aan (ons) wat verdruk word, verligting te gee …”

in sy vrede-ryk wat die HERE almagtig laat kom …

Amen.


[1] Vgl Dan 5.docx

[2] Esra 1:1-3 en 2Kron 36:22-23 vertel daarvan.

[3] Die moontlikheid bestaan dat ek die ו by במלכות דריושׁ ובמלכות כורשׁ פרסיא kan verstaan as epeksegeties (BHNG bl 245). במלכות דריושׁ ובמלכות כורשׁ פרסיא het dan die betekenis van ‘in die koninkryk van Darius, naamlik die koninkryk van Kores die Pers’. So beskou is Darius en Kores dan die selfde persoon (vgl ook Harman se Dan komm bl 126; Fyall se Danm komm bl 14-15). Nog ‘n voorbeeld hiervan kry ek in 2Kron 5:26 – ויער אלהי ישׂראל את־רוח פול מלך־אשׁור ואת־רוח תלגת פלנסר מלך אשׁור, wat dan die betekenis het van ‘Daarom het die God van Israel die gees van Pul, die koning van Assirië, naamlik die gees van Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, aangewakker’ (vgl Harman se Dan komm bl 126). Motivering om die ו by במלכות דריושׁ ובמלכות כורשׁ פרסיא so te verstaan: Wel, so kan mens ‘n sinsdeel soos hierdie verstaan in die lig van Dan 1:21, 10:3, en Jes 45:1; 2Kron 36:22-23; Esra 1:1-3; Jer 25:12 wat sê dat Kores die Pers die eerste koning van die Perse was en die een wat die Babiloniese-wêreld-ryk verslaan het (vgl ook Fyall se Dan komm bl 14). הצלח het die betekenis van ‘hy was voorspoedig’ (Holladay bl 418). מלכות kan hierdie betekenisse hê van ‘koninkryk/ koningskap/ regering’ (Holladay bl 411). Wanneer ek nie bg beredenering by sintaksis volg nie en soos bv Young se Dan komm  bl 139, 299 die ו as kopula verstaan, dan het מלכות hier die betekenis van koningskap of regering omdat die ryk van die Meders en Perse een ryk was. In lyn met Young se Dan komm bl 299 verstaan ek dan Darius as iemand wat vir hom in Babel regeer het en as koning aangespreek is.

[4] Vgl Ester; Vgl ook Chritekijke Ensoklopedie vol 2 bl 403 oor die Disaspora-Jode.

[5] Vgl Dan 2,30-49.docx

[6] Vgl Ferguson se Dan komm bl 57-58

[7] Vgl Waltke, An OT theology, bl 495

[8] Vgl Waltke, An OT theology, bl 495

[9] Vgl Du Toit, Openbaringsgeskiedenis van die OT bl 257

[10] בדת אלהה (6c) het die letterlike betekenis van ‘in wet van die God van hom’ (vgl ook die State vertaling en KJV), wat dan Daniël se manier van lewe en diens aan die HERE bepaal en gereguleer het. So beskou het בדת אלהה dan die betekenis van ‘in sy Godsdiens soos bepaal deur God se Woord’ (Holladay bl 403; Young se Dan komm bl 133; Lane se dan komm bl 140).

[11] Sondag 2-4

[12] כל־קבל די (11d) lei hier ‘n redegewende-sin in (Holladay bl 419; K&D se Dan komm bl 213). מן־קדמת דנה (11d)= bw byעבד, en het die betekenis van ‘te vore’(Holladay bl 419). Vertaling: ‘omdat hy dit te vore gedoen het.’ Dus, Daniël het net dood eenvoudig voortgegaan met sy gebruik van die verlede. Hy was dus ongehoorsaam aan die koning se wet. 11d se מן־קדמת דנה sê egter ook vir my wat kenmerkend was van Daniël se lewe.

[13] Vgl NIDOTTE vol 1 bl 285-286

[14] Rom 10:14; vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, vol 3 hoofstuk 20, par 1.

[15] ומצלא (11c) = pael part van צלא, en het die betekenis van ‘en bid’ (Holladay bl 418). Wanneer hierdie gebed gedoen word קדם אלהה dan het dit gewoonlik die betekenis van ‘n smeekbede … ‘n Gebed waarin gevra word (NIDOTTE vol 4 bl 1061). Vanuit vers 12 blyk dit ook dat Daniël met so ‘n smeekbede besig was. ומודא (11c) = ו + hafel part van ידא (Holladay bl 407), en het die betekenis van ‘loof, prys en dank’ (TWOT vol 2 bl 1029).

[16] Vgl NIDOTTE vol 4 bl 1065; Calvyn se Dan komm bl 359.

[17] Vgl Calvyn se Dan komm bl 353; Fyall se Dan komm bl 86; Harman se Dan komm bl 129

[18] Vgl 1Kon 8:46-48; K&D se Dan komm bl 213; NIDOTTE vol 2 bl 1080, vol 3 bl 904, vol 4 bl 1061; Van Genderen se KV op 1Kon vol 1 bl 168.

[19] Vgl Van Genderen se KV op 1Kon vol 1 bl 168.

[20] Daarom dat die HERE eens vir Moses … in Eks 25:8 … gesê het: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.”

[21] 1Joh 1:14; 2:19-22; Kol 2:9; Vgl Vos, Biblical theology bl 154-155; Waltke, An OT thology bl 741-742; Rushdoony se Dan komm bl 43.

[22] Dit was ‘n afskaduwing van Heb 7:25 wat praat van Christus wat “volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”

[23] Sondag 45 v/a 118

[24] יבעה בעו (8b) het die betekenis van ‘hy rig ‘n versoek/ bid om guns te ontvang/ genade te ontvang’ terwyl jy totaal afhanklik is van die een vir wie jy vra. Vanuit vers 12 – waar Daniël se vyande hom vang – blyk dit ook dat dit hier gaan om bid/vra/verwag van guns en genade (Holladay bl 400; TWOT vol 2 bl 995-996; K&D se Dan komm bl 210).

[25] Vgl K&D se Dan komm bl 211.

[26] Vgl Young se Dan komm bl 133-134.

[27] NGB art 26; Vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, vol 3 hoofstuk 20 par 21-27.

[29] Vgl SUID-AFRIKAANSE HANDVES VAN GODSDIENSREGTE EN -VRYHEDE (Soos onderskryf op 21 Oktober 2010).pdf (http://rapidlibrary.com/files/handves-vir-godsdiensregte-vorderingsverslag-doc_ulcxybxqwyi89on.html )

[30] Vgl Gardner se Openb komm bl 183

[31] כל־קבל דנה het die betekenis van ‘gevolglik’ (Holladay bl 419), en lei hier ‘n sin in wat vir my sê wat gebeur het na die setraps en die hoofde met die koning gespreek het en die beplande wetgewing bekend gemaak het.Die LXX vertaal met τότε, wat die betekenis het van ‘toe’ (L&S bl 711).

[32] Vgl Young se dan komm bl 134; K&D se Dan komm bl 211-212

[33] Dan 12:7 sê dis die Man met Wit Linne klere wat met Daniël praat. Vanuit Dan 10:5-6 leer ons dat dit die HERE is. Openb 1:12-15 wys ons dat dit niemand anders is nie as ons HERE Jesus (vgl Fyall se Dan komm bl 153-154).

[34] Vgl Young se Dan komm bl 264; Harman se Dan komm bl 309; Fyall se Dan komm bl 192.

[35] Vgl Young se Dan komm bl 264

[36] Joh. 14:6

[37] Sondag 52 v/a 127; DL 5:2; Vgl Reymond, A new systematic theology of the Christian faith bl 973; Wiliamson, The Heidelberg Catechism, bl 231

[38] Vgl DL 5:2; Sag 12:10

[39] Vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, boek 3 hfdt 20 par 1; Van der Waal, Dordtse leerreëls verdor nie, bl 108-109; Reformation study Bible bl 1626

[40] Vgl Young se Dan komm bl 137; Ferguson se Dan komm bl 129

[41] Vers 20 wys my dat die koning omtrent nie kon wag om by die leeukuil uit te kom nie … ‘met dagbreek’ … ‘terwyl hy hom haas’ (vgl Fyall se Dan komm bl 90).  בשׁפרפרא en בנגהא (20a) wat albei die betekenis het van ‘met/in dagbreek (Holladay bl 413,424) beklemtoon dat die koning baie vroeg opgestaan het … net toe dit begin lig word. Dit wys op sy angstigheid om by Daniël te kom (Harman se Dan komm bl 144).

[42] Vgl Harman se Dan komm bl 141; עציב (21a) het die betekenis van ‘… van hartseer/jammerte’ (Holladay bl 417). Darius se hart was vol kommer, vol gedagtes wat hom seermaak (NIDOTTE vol 3 bl 482).

[43] Vgl Young se Dan komm bl 136; Harman se dan komm bl 142; Fyall se Dan komm bl 88-89; Rushdoony se Dan komm bl 43.

[44] Vgl Ferguson se Dan komm bl 129

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: