1. ‘n Stukkie heidendom in die kerk: die afskaffing van Kersfees te Straatsburg (1524), dr. W. van’t Spijker
2. Oor die feesdae: Jacobus Koelman, Marinus de Feijter
1. ‘n Stukkie heidendom in die kerk
Die afskaffing van Kersfees te Straatsburg (1524)
dr. W. van’t Spijker
(Martin Bucer, 1491-1551)
[Met erkenning geneem en vertaal uit die Christelijke Gereformeerde Kerk van Nederland (‘n korresponderende kerk van die GKSA), se tydskrif ‘De Wekker’, 88ste jg., no.9. Dr. Van’t Spijker is emeritus-professor van die teologiese skool van die CGKN. Hierdie artikel het die eerste keer in die Esra Verslag verskyn, nr.54: 2003]
Oor die oorsprong van die Christelike kersfees bestaan daar tot vandag toe geen volkome sekerheid nie. Dit is heel waarskynlik dat die kerk in die 3de eeu begin het met die herdenking van Christus se geboorte. Die vasstelling van die datum is gebaseer op ‘n histories-teologiese oorweging, nl. dat die aankondiging van die geboorte plaasgevind het op 25 Maart, die datum wat algemeen beskou word as die dag van die skepping. Uit hierdie gedagte volg dat geboorte dan 9 maande later op 25 Desember plaasgevind het. Dit is nie onmoontlik dat die vasstelling van die datum eers agterna gedoen is, nl. nadat die kerk oorgegaan het tot die viering van kersfees. Die laaste sal dan neerkom op ‘n verchristeliking van die romeinse viering van die dag van die lig.
Op 25 Desember het die winterson in Europa weer begin om in krag toe te neem. Hierdie verskynsel het aanleiding gegee tot ‘n heidense fees. Toe Konstantyn die romeinse ryk gekersten het, is hierdie sonfees herdoop tot die kersfees. Christus is die son van die geregtigheid. In Hom het die lig aangegaan. Daarom het die kerk hierdie fees herdoop. Soos dit dikwels gebeur, skep die verchristeliking van die sonfees heelwat probleme. Saam met hierdie fees het ontsettend baie heidendom in die kerk ingedring. Deur die eeue het hierdie heidendom uitgegroei tot vlakke wat vir die reformatore onaanvaarbaar was. Daarom het die reformasie in baie plekke voorlopig die einde van kersfees beteken. In die jaar 1524 het die mense in Straatsburg die kersfees en ook ander kerklike feesdae afgeskaf. In ‘n uitvoerige verantwoording het Martin Bucer van hierdie besluit rekenskap gegee. Dit is nuttig om hieruit ‘n paar dinge mee te deel.
Die titel van die boek lui: Grond en oorsake van die veranderinge in die gemeente van Christus deur en op grond van die Woord van God wat in Straatsburg onderneem is. Die geskrif is interessant, omdat dit ‘n beeld gee van die kerklike situasie in Straatsburg aan die begin van die reformasie. Dit blyk dat Straatsburg in eie weg ingeslaan het tussen die van Wittenberg en Zürich. Hierdie weg het sou later die gereformeerde tradisie word.
Veral twee motiewe het ‘n rol gespeel by die afskaffing van feesdae. Die eerste hang saam met die afwysing van enige vorm van bygelowigheid. Die tweede motief is eties van aard: dit raak verwording van die lewe in wellustigheid wat in hand gewerk word deur ledigheid. Met ‘n beroep op Paulus (Gal. 4:9-11) betoog Bucer dat ‘n Christen nie meer gebonde is aan die onderhouding van allerhande besondere dae nie. Christus het ons bevry van hierdie uiterlike insettinge. Daarom kom die vryheid wat Christus vir ons verdien het in gevaar wanneer ons die dien van God verbind aan die onderhouding van allerhande feesdae. Die Roomse kerk het ‘n groot aantal dae afgesonder ter nagedagtenis aan allerlei heiliges. Diegene wat op hierdie dae gewerk het is gestraf deur middel van die ban.
Die radikale afwysing van hierdie feesdae hang saam met die gedagte dat ons alleen deur die geloof in Christus gered word. Mens kan sê dat die grondmotief van die reformasie by hierdie saak in geding is. Alleen deur die geloof in Christus word ons gered, en nie deur die inagneming van allerhande uiterlike voorskrifte soos feesdae nie.
Daarby word nog ‘n beroep op die Skrif gedoen. Wanneer die hele lewe van die gemeente volgens die Bybel ingerig moet word, is dit duidelik dat feesdae moet wyk. Daar is geen woord van God wat ons oproep om feesdae te hou nie. Daarom moet ons hulle afskaf.[1]
(The Church of the Penitent Magdalens‘ steeple [in Strasbourg] behind timber-framed houses extant since the time of Martin Bucer – Wikipedia)
Wellig kan dit – so betoog Bucer – dit nie alles op een slag gebeur nie. Die mense het vervreemd geraak van die evangelie. Maar wanneer ‘n gemeente die evangelie lang en gereeld gehoor het, sal hulle daarin kan slaag om die feesdae volgens God se Woord af te skaf. Die feesdae is in stryd met die Woord van God deur die kerk ingestel [in stryd met NGB art. 32]. Daarom kan hulle nie heilsaam wees nie “Want wat goed en heilsaam is staan duidelik en oorvloedig in die Skrif.”
Hiernaas gebruik Bucer ook ‘n ekonomiese argument. As iemand deur te werk sy inkomste moet verdien om daardeur sy vrou en kinders te onderhou, dan skep feesdae vir hom ‘n probleem, aangesien hy op hierdie feesdae nie kan werk nie. Ook Luther gebruik hierdie argument in die konteks : Die land sal vir armoede bewaar word as die mense nie deur allerhande feesdae gedwing word om niks te doen nie. Beide Luther en Bucer gebruik die ekonomiese argument teen feesdae. Hulle doen dit egter op ‘n heel ander wyse as in hierdie tyd van werkstyd verkorting. Maar veral by Bucer hang dit saam met die grondmotief van sy teologie wat die heil van die naaste soek.
Die etiese argumente word versterk wanneer Bucer sy vinger lê op die misbruik waartoe die groot hoeveelheid feesdae aanleiding gegee het in Straatburg: “Dit is duidelik soos daglig en onweerlegbaar, dat op die feesdae alles wat goed is vernietig word en allerlei boosheid geplant word. Uit die bose en giftige vrugte kan ons aflei dat dit wat geplant is nie van die Vader is nie maar van die vyand van alles wat goed is, die duiwel. [g’n wonder dat vader kersfees rooi klere aan het nie!] Om God ons beveel het om al hierdie dinge uit te roei, het ons met ywer daarop gewys dat die Christene alle dae gelyk moet ag, maar op elke dag God te vier, d.w.s. Hom laat werk en ons aan Sy wil onderwerp.
Die vraag is of op hierdie wyse nie ook die Sondag afgeskaf behoort te word nie. Bucer beantwoord hierdie vraag deur te verwys na die wet van waarvolgens ons ses dae moet werk en een dag moet rus. En omdat alle dae gelyk is, kan niemand beswaar hê, om die dag wat al so lank is die Christendom as rusdag gebruik word te onderhou nie. Mens moet hierdie dag daarom in besonder gebruik om as gemeente God te dien deur in Woord, Sakramente en gebed te oefen.
Kan mens egter nie uit vrye liefde tot God, naas die Sondag ook nie die kersfees, die dag van die besnydenis van Christus, drie konings ens. vier nie? Hierop antwoord Bucer dat mens elke dag hierdie seëninge moet oordink Bowendien het die gildes reeds hulle vakansiedae. Wie nou kersfees en nuwejaar wil vir, stel die een dag bo die ander, en werk die bygeloof en die sonde van weelde oordaad aan eet en drink in die hand.
Op grond hiervan het Straatsburg oorgegaan tot die afskaffing van kersfees. Dit is motiewe wat met die hart van die leer van die reformasie saamhang. In Desember 1532 het in ‘n magistraatsvergadering die vraag opgekom of hulle kersfees tog nie as ‘n oeroue Christelike fees moet invoer nie. Dit het nie geslaag nie. Eers in 1537 word die kersfees weer vir die eerste keer gevier. ‘n Groot deel van die bevolking het egter nie hiermee saamgestem nie, en het gewoon aangegaan met hulle werk. Was dit die beter deel van ‘n sondige stad?
Die feit is egter dit nie die kerk is nie , maar die owerheid wat aandring op kersfeesviering. So was dit in Straatsburg en ook in Nederland. Die owerheid het die kerke gevra om iets te doen sodat die volk hierdie dae nie in ledigheid sou deurbring nie. Om te keer dat die volk hierdie dae sou deurbring in ledigheid, het die staat aangedring daarop dat daar kerspreke gehou moet word. Hier en daar het magistrate selfs tekste voorgeskryf. Die kerke het, soos op vele ander punte, ook hier die wil van die owerheid gevolg. Miskien het ook daardeur ’n stukkie heidendom in die kerk agtergebly, of is die roomse gedagte lewendig gehou, die gedagte van dat kersfeesviering – soms in die middernagtelike uur – veel meer bied as ‘n gewone preek op Sondag. Om die rede kan die reformasie van kersfees ook vandag nog nodig wees.
“Kerklike Feesdae”: Jacobus Koelman
deur M. de Feijter
(Jacobus Koelman, 1632-1695)
[Wat hier volg is ’n vertaling, deur M. De Feijter, uit JACOBUS KOELMAN : Eene kerkhistorische studie(1901), doktorale proefskrif deur dr. A.F. Krull. Die proefskrif is in 1972 herdruk deur die uitgewer Ton Bolland, Amsterdam, Nederland. Marinus is lidmaat van die Vrygemaakte Gereformeerde Kerk Maranatha-Pretoria, en is werksaam as ‘n rekenaar-hoërskool onderwyser. Die artikel het die eerste keer verskyn in die Esra Verslag nr.54: 2003. Krull se boek kan hier afgelaai word.]
Jacobus Koelman (1632-1695) : ’n kort lewensbeskrywing
Gebore in Utrecht, Nederland, het hy aan die Universiteit aldaar gepromoveer, eers in die filosofie, en later onder Voetius, Essenius en Hoornbeeck in die teologie. Hy dien die Nederlandse regering vir 5 jaar as ambassade-predikant te Denemarke en later Brussel, en word dan beroep te Sluis in Vlaandere (Zeeland). Hierdie deel van Nederland het destyds (1662) nog nie die Dordtse Kerkorde aanvaar nie, en die kerke in Seeland was (volgens die kerkorde van 1591) in ’n hoë mate aan die burgerlike owerhede onderworpe. Koelman was nougeset in leer en lewe – sommiges reken hom onder die piëtiste. Die verknegting van die kerk aan die owerheid (dikwels met gepaardgaande laksheid in die tugbediening) kon hy nie met die Skrif strook nie.
Die stryd tussen leraar en magistraat in Sluis het egter in erns ontbrand na aanleiding van Koelman se standpunt oor die Kerklike Formuliere en die Kerklike Feesdae. Koelman se standpunt oor die feesdae word in die vertaalde stuk hier onder weergegee. Wat die Kerklike Formuliere betref : Koelman se mening was dat dit aanleiding gee tot sleurgang en geestelike doodsheid, veral die Formulier-gebede. Die owerheid (magistraat), van sy kant, wou natuurlik die ortodoksie beskerm, en het derhalwe die gebruik van die formuliere en die formuliergebede aanbeveel. Vroeg in 1673, tydens ’n doopbediening, gebruik Koelman, pleks van die Doopsformulier, ’n vrye toespraak (hoewel geheel in ooreenstemming met die doopsformulier). Hierdie gebeurtenis is die aanleiding daartoe dat hy, na baie struwelinge, in 1675 geskors word. Op die keper beskou was hierdie skorsing eintlik slegs geldig in provinsies en streke wat die ou kerkorde van 1591 onderhou het (die sogenaamde Generaliteitslande, wat die Staten-Generaal uitsluit).
Volgens die Dordtse kerkorde kon dit kwalik as ’n regmatige skorsing beskou word. Koelman se besware is nie werklik kerklik behandel nie, en die regspersoon wat die skorsing voltrek het, was nie die kerkraad nie, maar die burgerlike owerheid (die magistraat). Op 7 Junie 1675 word Koelman deur ’n groot menigte, en onder baie trane, uit die stad Sluis uitgelei. Vir 13 jaar het hy onbevange vir hulle die Woord gepreek, vir die reg van die kerk gestry, saam met sy vrou siekes in die angsjaar van die pes (1666) besoek, en talle lidmate tot reformasie in hul persoonlike en kerklike lewe gelei.
En so begin Koelman dan swerwe. Oral waar hy kom, begin hy met konventikels (sê maar huiskerke). Dit maak hom nie juis bemind by sy (amps)-kollega’s nie. In 1676 kom hy in Amsterdam aan, waar hy vir 15 jaar “diskoerse” en katkisasie hou, drie of vier aande per week, en soms ook Sondagaande. Van die kerklike en burgerlike owerhede ondervind hy by tye teenstand, ander kere weer verdraagsaamheid. Hy word na Duitsland en Amerika beroep, maar volg hierdie beroepe nie op nie. In 1691 word hy ten slotte ook verblyf in Amsterdam ontsê.
Die laaste paar jaar van sy lewe bring hy deur in sy geboortestad, Utrecht, waar sy “huiskerk-oefeninge” geduld is. Gedurende sy lewe het hy heelwat godsdienstige boeke vertaal, veral van Engelse en Skotse oorsprong. Verder het hy hom beywer om heelwat ketterye te bestry, onder andere dié van ds. Balthasar Bekker, Jean de Labadie en Cartesius. Die verhouding tussen hom en sy leermeester Voetius het goed gebly, hoewel laasgenoemde hom mettertyd van Koelman se “ekstremisme” gedistansieer het. Die Christelijke Encyclopaedie (eerste uitgawe), waaraan hierdie opsomming vir ’n groot deel ontleen is, meld dat Koelman se optrede nie heeltemal vry is van independentisme nie, maar dat hy hom in sy ballingskap waardig gedra het. Die invloed wat van hom uitgegaan het (independentisme en ballingskap en al!) was baie groot. In 1695 is hy op 63-jarige ouderdom oorlede.
Hier volg nou die vertaalde gedeelte oor die kerklike feesdae (p. 249-256) uit die proefskrif van dr. Krull :
Behalwe vir die gebruik (misbruik) van gebedsformuliere (en ander formuliere) was daar nog ’n ander “onkruid van pouslike afgodery” wat uitgeroei moes word, naamlik die gebruik om kerklike feesdae te vier. Koelman roer hierdie onderwerp aan in ’n preek oor Galasiërs 4 : 9-11 wat hy op die tweede Kersdag van die jaar 1672 gehou het. Sy boekie Reformatie noodig omtrent de Feestdagen is ’n uitbreiding van die preek. Hy begin met ’n vraag : “Waarom tog, gemeente, is ons vandag in sulke groot getalle hier vergader?” Sy (eie verwytende) antwoord is dat dit nie toe te skryf is aan hulle heilbegerigheid of liefde vir Gods huis nie – as dit so was sou hulle immers elke week in dieselfde groot getalle verskyn het. Waaraan is dit dan wél toe te skryf? “Sal ek dit vir u sê? Dis u liefde vir die feesdae wat u tans in so ’n menigte en so ryklik uitgedos bymekaar bring”. En na sy mening moes hy hierteen protesteer. Het Israel ooit in vrede en geluk gelewe terwyl die offerrook opgaan op die hoogtes, op die altare van afgode? Nou ja, dieselfde pouslik-afgodiese “hoogtes” en hoogtye kom nou onder hulle voor, naamlik die Feesdae, waarvan sommiges met toewyding (devotelijk), en ander vanweë suiwer genots-oorwegings (vleeschelijk) gevier word. Of ontken hulle dat die Vas-aande, die Kermisse, die Sint Maarten-, Sint Nicolaas- en Drie-Konings-aande regte Bacchus-feeste is?
Daarom, die hoogtes moet afgeskaf en die tempel van Jehowa herbou word, dit wil sê, die Feesdae moet begrawe en afgeskaf, en die dag van die Here weer in ere herstel word. Dít is die dag wat die Here self ingestel het : dít is die dag wat onderhou moet word. Dit mag nie in die skadu gestel word deur half heidense en half-Joodse feesdae nie – die blote versinsels (inzettingen) van mense. Die opbloei en groei van die gemeente word veel meer gedien deur die gereëlde samekoms op die Sabbat, ’n oase in die woestyn, as deur die onderhouding van allerhande ander dae met verwaarlosing van die dag van die Here. Dit behoort vir die gemeente tog duidelik te wees dat juis die “koopdag van edele pêrels” geheel en al onder hulle verwaarloos word?
Kom ons kyk nou watter pyle daar in sy koker was ter bestryding van die feesdae. Die mees radikale argument sou wees, indien hy kon bewys dat God die feesdae afgeskaf het as behoorende bij de Joodsche kindertucht. Nou ja, dit is presies wat hy in die preek doen. Dit kan immers maklik afgelei word uit sy preekteks (Gal. 4 : 9-11), asook uit Rom. 14 : 5-6 en Kol. 2 : 15-17. Koelman noem dan ’n teen argument, naamlik dat die apostel Paulus slegs die Joodse feesdae wat op Joodse wyse gevier word, afwys. Hy toon dan aan dat so ’n uitleg van sy preekteks nie opgaan nie. Die apostel keur immers die onderhouding van die dae af op grond van die feit dat die feesdae behoort het tot die swakke en armoedige eerste beginsels, wat by die kinderdae van die kerk behoort het terwyl sy nog onder toesig en voogdyskap gestaan het.
Om terug te keer tot daardie beginsels, is om die vryheid in Christus te verruil vir die ou juk van diensbaarheid. Hy haal dan sy leermeester Voetius aan, wat na aanleiding van Rom.14 geleer het dat God die (Ou-Testamentiese) feesdae nie handhaaf nie, ook nie op ’n “ander manier” en/of “met ’n ander doel” nie, want anders kon Christene immers rustig aangaan met allerhande ou gebruike soos wywater, lampe, wierook, en dergelike, mits mens verklaar dat ons nou ’n ander (“Nuwe Testamentiese” ! – vert.) betekenis daaraan heg. Net soos die apostel (by Christene) die onderskeid tussen die verskillende voedsels afkeur en veroordeel, so veroordeel hy ook die onderhouding van dae en tye.
’n Tweede argument teen die Feesdae was, dat hulle van resente datum (onlangse oorsprong) was. Dat die dae in die tye van die apostels, of van die apostoliese kerk, nie bekend was nie, is baie duidelik uit die kerkgeskiedenis, en dit word ook erken deur die pousgesindes. Die kerk het hierdie maagdelike reinheid nie lank bewaar nie. Mettertyd het die heidendom en die Jodendom hulle triomfe behaal op Christelike bodem. Van eersgenoemdes is die Kersfees oorgeneem, van laasgenoemdes die Paas- en Pinksterfees. Maar die apostels self het nooit van Christelike feesdae gespreek nie, selfs daarteen geskryf, hoewel hulle ter wille van die swakheid van die Jode die Joodse feesdae enigsins onderhou het tot tyd en wyl die dae van die skaduwees en die seremonies behoorlik begrawe sou wees (Hebr. 8 – vert.).
Volgens Voetius mag ons aan genoemde Feeste geensins katolisiteit (algemeenheid – vert.), oudheid en suksessie (voortdurende onderhouding – vert.) toeskryf nie. ’n Mens kan dan omtrent enige bygeloof of dwaling uit die verlede as katoliek (algemeen) bestempel, en dit sou al te ongerymd wees. Koelman self het geskrywe dat “ek derhalwe oortuig is dat elkeen onder ons ’n afkeer moet hê van die verdere onderhouding van die genoemde feesdae, gesien hulle verkeerde oorsprong. Ek skaam my dat hierdie dinge onder ons Gereformeerdes nog so lank geduld is; die heidene neem geen enkele Christelike rusdag van ons oor nie, maar ons neem wel hul smerige feesdae, na geringe wysigings, oor”.
Bogenoemde was nie die enigste redes waarom Koelman die onderhouding van die feesdae afgekeur het nie. Hy het selfs so ver gegaan om hul ontstaan toe te skryf aan die “nuuskierigheid” van die mense. Daar is baie, skryf hy, wat meen dat die feesdae maar ’n baie middelmatige saak is. Ek stem nie daarmee saam nie, maar veronderstel dat dit wél ’n middelmatige saak is : dan moet ons hulle so gou as moontlik afskaf. ’n Gelowige moet hom van misbruike en besmetlikhede onthou, veral as so-iets as middelmatige saak bestempel word. Neem as voorbeeld koning Hiskia : toe die volk offerrook vir die koperslang laat opgaan, het hy het die koperslang laat vernietig.
Dis nogal die koperslang wat Moses op Gods bevel tot verlossing van die volk in die woestyn laat maak het. Verder, skryf Koelman, het die Here in Sy besondere voorsienigheid die spesifieke dae waarop Christus gebore, besny, gely en opgestaan het, vir ons verberg. Is dit dan nie ongepaste nuuskierigheid van mense wanner hulle die sluier waarmee God die datums verberg het, tog nog probeer oplig nie? Volgens Voetius kom dit voor asof die Here dieselfde met die feesdae gedoen het as met die begrafnis van Moses en ook met die vernietiging van die tempel (in 70 n.C. – vert.). Niemand kon dit tot dusver weer opbou nie, hoewel die Jode dit destyds probeer het tydens die bewind van keiser Julianus (die afvallige). Maar God wou dit nie toelaat nie – die tempel en die seremoniële wet moet begrawe bly. En die gevolgtrekking waartoe Koelman gekom het, was dat waar die Here self ons weerhou van hierdie dae, ons die onderhouding daarvan moet staak.
Vervolgens : indien iemand die mening toegedaan is, dat feite (deesdae genaamd “heils”feite – vert.) soos die geboorte, opstanding en dies meer van Christus van soveel belang is, dat mens darem jaarliks ’n dag daarvoor moet afsonder, dan antwoord Koelman : “ongetwyfeld is God se dade in Christus groot, maar dit is juis daarvoor dat die Here die weeklikse rusdag ingestel het” sodat ons die heilsfeite met dank sou lofsing en gedenk. Indien iemand dan nog van mening is, dat daardie een dag nie voldoende is nie, en dan nog ’n paar spesiale dae vir die feestelike gedagtenis van Gods genade-wonders begeer, dan dwaal so-iemand.
Mens behoort die feite immers elke Sondag te herdenk, en as dit dan nie genoeg is nie, dan moet jy dit elke dag herdenk! Die laaste ding wat moet gebeur, is dat ’n mens (slegs) één dag per jaar daarvoor vasstel. Dit kom dan voor asof ’n mens dit slegs op die één dag doen, en tewens asof mense (die kerk) die bevoegdheid het om “heilige dae” in te stel. Iemand het eendag aan Pous Alexander III gevra of die kerk te Rome dan nie die Fees van die Heilige Drie-eenheid vier nie, waarop die pous baie korrek geantwoord het dat “ die Roomse Kerk nie die gebruik het om op enige spesiale dag so ’n fees te vier nie, terwyl die lofpsalm Ere sy aan God die Vader, die Seun en die Heilige Gees daagliks weerklink”. En bedink mooi wat ’n mens doen, as jy die rusdag as onvoldoende beskou : mens beskuldig God se eie instelling dan as onvoldoende. Meer nog : mens beskuldig die Heilige Skrif van ongenoegsaamheid (onvolkomenheid). Ten slotte: soos Jerobeam stel ’n mens eiehandig ’n nuwe dag in.
Maar, rys die vraag by sy teëstanders, “wat dink u dan van die bid- dank- en vasdae, of wat van jaarlikse gedenkdae soos die 12e Junie in Sluis (Koelman se gemeente)?” Indien die algemeen erkende Christelike feesdae nie geoorloof is nie, dan val al die genoemde dae sekerlik ook onder sy oordeel? In teendeel, sê Koelman, tussen genoemde twee tipes feesdae, kan mens nie ’n parallel trek nie. Die Christelike feesdae maak aanspraak op die predikaat “heilig”, terwyl die ander dae ’n buitengewone karakter het. Neem nou die dank- of vasdae. Ek vind hulle voortreflik.
God bring ons daartoe deur harde lewens-ervaring, of deur sy liefdesroep. Hy wat nie na dié stem luister nie, en nie na die huis van gebed opgaan nie, sou op sondige wyse versuim. Maar, en dit is waar dinge skeef loop (let op), genoemde dae moet buitengewone dae bly, nie jaarlikse instellings word nie. Die Sinode van Westminster het dit baie korrek uitgedruk : “Die Skrif gebied geen dag in die evangelie as heilig nie, as alleen maar die dag van die Here, wat die Christelike Sabbat is. Die feesdae, algemeen bekend as heilige dae (“holy days” > holidays –vert.) het geen grondslag in die Woord van God nie, en moet voortaan nie onderhou word nie. Dit is egter wel geoorloof, en soms nodig, om ’n dag of ’n paar dae af te sonder vir openbare danksegging of voorbede, al na gelang God die lotgevalle van sy volk so bestuur, dat daar (van tyd tot tyd) oorsaak en geleentheid vir sulke dae is”.
Ter opsomming : Koelman is volkome instemmend met sulke dae soos wat die Westminster Sinode bepaal, mits sulke dae nie as heilige dae beskou word nie, of met (Rooms sentimentele) devotie (toewyding) gevier word, en in die besonder niemand meen dat die kerk nou maar vir die volgende 100 jaar ’n (jaarlikse) dank- of biddag kan instel nie. Iemand wat dit uit die oog verloor gee voor dat die pouslike feesdae glad nie so ongerymd is nie. Op die manier kan ’n gevaarlike leer die kerk binne sluip.
Helaas, laasgenoemde het reeds te lang die kerk van Christus te lande (Nederland) binnegedring. Eertyds was dit nodig om vyande-van-buite te bestry : Sociniane, Menniste, pousgesindes en geesdrywers. Tans (1672!) moet mens aanskou hoe die hoogleraars van eie Gereformeerde akademies ’n nuwe leer oor die 4e gebod in die jeug “inprop”, en die land word met ’n vloedgolf giftige boeke oorstroom. Manne soos Heidanus, Coccejus en Burmannus ondermyn die moraliteit van die sabbatsgebod. Hulle het immers geleer dat die 4e gebod slegs vir die Jode gegee was, en dat die onderskeid tussen dae, voedsel en plekke in die Nuwe Testament heeltemal opgehef is, en dat die onderhouding van die Sabbat slegs geskied ter wille van godsdienstige oorwegings, nie ter wille van die onderhouding van goddelike gebod nie.
En die volk het hulself geestelik dood gedrink aan die giftige waters van hierdie leer, versprei deur die geleerdes en vermaardes in die land. Kort voor lank het die Dag van die Here alle wyding en heiligheid verloor, en (merk Koelman op) dit is juis die voorstanders van die nuwe leer wat so ’n groot voorliefde vir die Feesdae het.
Maar as dit die toestand is, dan is hy immers verplig om standpunt in te neem teen die onskriftuurlike feesdae. Die gebruik van formulier-gebede in die kerk lei tot die insluimering (selfs uitban) van God se gebedsgawes. Net so het die feesdae die Dag van die Here byna verlaag tot die rang van ’n gewone werkdag. As ’n mens die skepe op die Sabbat wél deur die sluise laat, maar op die eerste Fees(Kers)dag die sluise sluit, dan is voorgenoemde beskuldiging immers waar? Hoe kan mens nou Geestelike lewe in die gemeente verwag as die “markdag van die siel” só verwaarloos word? Geen wonder dat hierdie standpunt Koelman se “Karthago delenda” geword het nie.
As ons nou alles saamvat, dan kan ons sê dat ’n verskeidenheid oorwegings daartoe gelei het dat Koelman die stryd teen die feesdae aangebind het. Eerstens het hy rekening gehou met die feit dat die kerk die Roomse moederskoot maar betreklik kort gelede verlaat het – dus is dit geen wonder dat hy hom beywer het om die ou pouslike suurdeeg uit te suiwer nie. En die Feesdae was immers deel van die brug terug na Rome? Daarby wou hy die Sabbat in rang en in eerbiedwaardigheid volgens die Woord van God herstel sien. Sal die leraars, vra hy, ooit met vrug op die heiligheid van die Here se dag kan aandring, alvorens die volk gespeen is van die feesdae nie? En ten slotte, sou Gods seën weer op die kerk kan rus, en die vroeëre wasdom herstel word, tensy die huidige breuk herstel word? Elkeen wat teen Gods gebod ingaan, keer die swaard teen homself !
[1] Sien NGB artikels 7, 32; HK vr&antw.91, 96.
Hi Slabbert
Thanks for this. Do you have a link to the English article , I would really like to understand all of this?
Hallo Marc, these articles are only available in Dutch and Afrikaans, sorry. Jy moet maar die hemelse taal leer ! 😉
ps. You can google and see what you can find in English on the topic.