1. Die Here vervang menslike leierskap met Goddelike leierskap
deur ds. G Opperman (GK Matlabas)
Lees Jes 3:1-12; 9:1-7
Teksverse:
Jes 3:1a Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water.
Jes 9:6 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer.
Feesgangers, broers en susters in ons Here Jesus Christus
Op ‘n stadium in die geskiedenis voor die slag van Bloedrivier het dit met die Trekkers baie swaar gegaan …
Dit was dae van verslaentheid,
van bedruktheid,
dae van vrees
wat gevolg het op die moord op Retief,
die aanvalle op die trekkerlaers
en die rampspoedige slag van Italeni …
Die heidendom was aan die wenkant …
en die Trekkers wat hulle moes teenstaan was aan die vlugkant,
“die Vlugkommando” … so was hulle later genoem …
En skielik … skielik was daar nie meer leiers nie
Retief was dood, Uys was dood, Maritz was dood,
Potgieter het teruggetrek hoëveld toe …
Die Voortrekkers was op daardie stadium moedeloos en leierloos …
Ja, as ons vandag ons voorgangers in die geloof gedenk,
dan moet ons toegee:
daar was ‘n tyd toe daar onder die Trekkervolk skaars enige voorgangers was …
En as ons vandag die HERE se verlossingsdade in die geskiedenis gedenk,
dan moet ons Hom veral dank
dat Hy in die najaar van 1838 die regte manne op die regte tyd gegee het …
die regte leierskap in die volk se uur van benoudheid …
Mag Hy dit vandag weer aan ons gee,
want, u sal met my saamstem:
As daar nou één kenmerk is van die omstandighede waarin ons vandag leef,
dan is dit leierloosheid.
Maak ‘n lys van Afrikanerleiers op die huidige oomblik:
geestelike leiers, kulturele leiers, poltieke leiers om nie eens van miltêre leiers te praat nie …
U sal geen groot leier vind nie …
Dis ook die tema van een van die gewildste liedjies
wat op die oomblik deur ons mense geluister word.
Ek verwys na die lied van ‘n ene Bok van Blerk:
“De la Rey, De La Rey,
sal jy die boere kom lei?”
Ja, het ons maar weer ‘n leier gehad …
Dan is dit geen wonder dat so baie mense –
so baie seuns en dogters die land verlaat nie …
Dan is dit asof hierdie kontinent sy naam gestand doen,
die naam wat van vanaf die vroegste tye daaraan gegee is …
Donker Afrika,
Afrika sonder lig,
sonder leiding,
leierloos …
Op kerklike terrein soek u tevergeefs na sterk leiding.
Daar is ‘n gesagskrisis in die kerk.
Daar is ‘n probleem met die jeug.
Sinodes word bang om standpunt in te neem.
Teologiese professore weerspreek die Bybelse leer openlik
en niemand kan of wil hulle vasvat nie …
Die grootste Afrikaanse kerk lyk my onseker of verskynsels soos Sodomie nog sonde is …
Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval;
want hulle tong en hulle dade is teen die HERE
om sy oë, vol heerlikheid, te trotseer.
en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom,
sonder om iets weg te steek.
Daar is ‘n gebrek aan leiers …
Donker Afrika,
sonder lig,
sonder leiding,
leierloos …
En tog, Broers en Susters,
Tog, as ons Jesaja so lees dan sien ons dat die Here wel aan ons ‘n Leier gegee het …
‘n Lig wat helder skyn … ook in donker Afrika …
Vir ons is ‘n Seun gebore !, sê ons teksgedeelte.
Endersyds sien ons dat die Here elke stut, elke steunpilaar, elke leier uit die samelewing verwyder … totdat vroue en kinders en manlike wyfies die volk later regeer.
Andersyds gee Hy ‘n Seun,
‘n Seun wat sal heers tot in ewigheid…
Die Here vervang menslike leierskap met Goddelike leierskap.
Merkwaardige gebeure …
Ons kan dit miskien vergelyk met die tyd van die Rigters,
‘n tyd toe die Here telkens vir die volk in hulle nood ‘n leier voorsien het
ten spyte van die volk se ongehoorsaamheid,
ten spyte daarvan dat elkeen gedoen het soos reg was in sy eie oë …
Hierdie trou, hierdie ywer van die Here word nog duideliker bevestig in Koning Dawid se tyd:
Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan;
jou troon sal altyd voortbestaan
Dit was die Here se belofte aan Dawid én sy nageslag.
Hier aan die begin van die Jesaja-professie kry ons te doen met drie leiers …
drie leiers van die nageslag van Dawid …
drie konings uit die huis van Dawid:
Ussia, Jotam, en Agas.
Ussia het aanvanklik gedoen wat reg was in die oë van die Here,
maar hy het hoogmoedig geword,
soos koning Saul wou hy self ook priester wees,
self die reukoffer op die altaar aan die brand steek …
self besluit hoe die Here gedien moet word …
sodat die Here hom met melaatsheid getref het … (2 Ko. 15:5; 2 Kr. 26:16–22).
Die eiewillige godsdiens van Ussia …
Sy seun, Jotam, het ook gedoen wat reg was in die oë van die Here …
behalwe hy het nie die hoogtes afgeskaf nie … (2Kon 15:35).
Die volk het nog steeds by die heilige boomstamme
by die pilare van die songod hulle offers gebring …
Die eiewillige Godsdiens van Jotam …
Sy seun, Agas, het op sy beurt gladnie gedoen wat reg in die oë van die Here was nie.
Hierdie koning uit die huis van Dawid het sy eie seun aan die afgode geoffer.
As dit van hom afgehang het, sou hy self die Here se belofte aan Dawid tot niet maak …
sou hy self die koningsgeslag tot ‘n einde bring …
Die afgodery van Agas …
Intussen word die wêreldtoneel deur die Assiriërs oorheers …
Die koning van Juda het drie keuses gehad:
Eerstens hy kon saam met die Arameërs en die noordelike tien stamme ‘n bondgenootskap teen die Assiriërs vorm …
Tweedens, kon hy hom en sy volk aan die Assiriërs onderwerp …
Derdens, kon koning Agas op die Here vertrou soos die profeet Jesaja hom gevra het …
Moenie bang wees nie, het Jesaja gesê (Jes 7).
Kyk die Here gee vir jou ‘n teken:
‘n Maagd sal geboorte gee en sy sal die kind Immanuel noem …
Immanuel: God met ons.
God is met ons, Agas, vertrou net …
Maar Agas het nie vertrou nie ….
Die leier, Agas, het sy tweede keuse uitgeoefen …
Agas het eerder die Here se tempel gaan beroof om die Assiriërs se guns te wen …
die Here se silwer en goud geneem om die heidene om te koop … (2 Ko. 16:7).
Sy gesonde verstand het vir hom gesê:
Die Assiriërs is die sterkste.
Jy moet hulle guns wen …
En so het die verbondsvolk gekies om die slawe van die duiwel se kinders te word …
Drie konings uit die huis van Dawid.
Drie konings uit die huis van die belofte:
Ussia, Jotam, en Agas.
Die ander vooraanstaandes van die volk het nie veel beter gevaar nie …
U kan gerus self vergewis van die eerste 10 hoofstukke in die Jesaja-professie.
O My volk, jou leiers is verleiers (Jes 3:12),
so het ons gelees
Jou vorste is opstandelinge en hulle het omkoopgeskenke lief …(1:23).
Wee hulle wat helde is … om wyn te drink! (5:22)
Die Here gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk (3:14).
Die Here gaan die kop en die stert afsny:
die oudste en die aansienlike, die is die kop,
die profeet wat leuens profeteer, die is die stert (9:13,14).
Die Here gaan hulle afsny!
Daarvan het ons meer gelees in ons eerste Skrifgedeelte.
Die Here gaan elke stut en steunpilaar verwyder:
Die politieke leiers, die militêre leiers, die tegnologiese leiers, die kerkleiers, die konsultante, die New Age gurus …
Die Here gaan elke stut en steunpilaar verwyder …
Die Here gaan seuns julle vorste maak
moedswilliges gaan oor julle heers …
Die Steve Hofmeyers, die Koos Kombuise en Nataniëls van hierdie wêreld …
hulle gaan die helde wees …
Snuiter popsterre gaan die kitaar slaan …
letterlik en figuurlik.
En julle kinders gaan hulle volg …
Julle kinders gaan soos hulle lyk …
As die volk nie goddelike gesag wil hê nie,
sal hulle ‘n ander soort gesag ervaar:
kindergesag …
vrouegesag …
die gesag van die manlike wyfies …
Assiriese gesag.
Ook in die ouerhuis sal die vader se gesag wegval.
Ook nie een van die seuns sal verantwoordelikheid wil aanvaar nie.
Moet ma nou maar die verbondsgesin regeer?
Moet ma nou maar geestelike verantwoordelikheid aanvaar?
Ja, sy moet …
Neem haar weg langs die wieg.
Sy is nie meer moeder van die volk nie.
Neem haar weg langs die wieg
en maak haar ‘n vrouderling.
Maak haar ‘n predikant, ‘n leraar …
My volk het kinders as regeerders, vrouens as heersers …(3:12).
Ballingskap volg weens ‘n gebrek aan kennis, sê Jesaja in 5:13.
Kennis van die Here …
Kennis van die Here se wet …
Kennis van die Here se vereistes vir goddelike leierskap …
Ballingskap, slawerny, duisternis …
Here, het U dan U belofte vergeet …
Wat het van U verbondstrou geword?
Het U dan vergeet dat Dawid se huis vir ewig sal regeer?
Waar is ons leierskap nou?
Het U van Immanuel – God met ons – vergeet?
Ballingskap, slawerny, duisternis …
En dan lees ons hierdie woorde in Jesaja 9:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien,
oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn …
Hoe verklaar ons dit?
Hoe kan daar lig wees vir ‘n volk met soveel sondes?
Die eerste twaalf hoofstukke van Jesaja maak nie sin nie, feesgangers …
Hoe kan daar lig wees vir ‘n volk wat doelbewus gekies het om in die donker te wees?
Hoe kan daar ‘n Redder wees vir die wat doelbewus gekies het om buite redding te wees?
Hoe kan daar leierskap wees vir diegene wat alle goddelike gesag laat vaar het?
En tog, so staan dit daar.
Ons dien ‘n merkwaardige God, Broers en Susters …
Daar staan geskrywe:
Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers …
Nie ‘n opstandige seun soos diegene waarvan ons in Jes 3 gelees het nie …
Nie ‘n onverantwoordelike kind nie …
Nee, hierdie is ‘n Heerser soos geen heerser nog ooit was nie …
‘n Koning soos geen koning nog was nie …
‘n Koning met name soos geen koning in Israel nog ooit gehad het nie …
Wonderbare Raadsman.
Magtige God.
Ewige Vader.
Vredevors.
Wonderbare Raadsman,
want niemand anders was by toe sy Vader die hemel en die aarde geskape het nie …
Hierdie Kind is Magtige God …
Daarom sal hierdie Kind ook nie in die skaduwee van die Songod se kersfeesboom gevind word nie …
Hierdie Seun sal ook nie op die speelgrond saam met Harry Potter en die ander towenaars gevind word nie …
Nee, elke aardse mag, elke duiwelse mag sal aan Hom onderwerp word …
Teenoor die aardse vaders wat so dikwels hulle plig versaak …
om te sorg en te versorg,
om geestelike leiding te gee,
teenoor hierdie vaders is Hy Ewige Vader …
Ewige Vader en Vredevors …
Vredevors, want Hy sal die vrede afdwing …
Hy beëindig die Assiriese onderdrukking.
Hy beëindig die Babiloniese ballingskap.
Hy breek die sondekettings van die volk.
As geen leier vrede kan bring nie,
Hy sal vrede bring …
Trouens, sonder Hom is daar geen vrede moontlik nie,
nie tussen mens en mens nie …
nie tussen God en mens nie …
En sy koninkryk sal uitgebrei word.
Sy volk sal meer word.
Met hierdie Leier, feesgangers, stuur ons nie af op ‘n krimpende koninkryk en ‘n kwynende kerk nie …
Dis nie wat ons Skrifgedeelte sê nie.
Onder hierdie Leier brei die koninkryk uit,
word die volk meer.
U het die nasie vermenigvuldig,
so het ons gelees.
‘n Heerser soos geen heerser nog ooit was nie …
In Mat 4 vanaf vers 13 lees ons weer van hierdie Seun.
Toe hierdie Seun ‘n volwasse man word,
het Hy sy ouerhuis in Nasaret verlaat.
Hy het gaan woon in Kapernaum aan die see in die gebied van Sebulon en Naftali …
sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet …
Hy het sy koninkryk begin verkondig.
Kom, sê Hy vir die vissermanne,
Ek sal julle vissers van mense maak.
“Kom, julle sal leiers wees …”
Aan hierdie Seun is gegee alle mag op hemel en op aarde.
En Hy dra sy gesag op aan sy Apostels:
maak dissipels, doop hulle, leer hulle … (Mat 28:16).
Soos die Seun sy lig in die pik stik donker laat skyn het,
so moet julle skyn in hierdie wêreld …
te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil 2).
Wees leiers.
Lei met goddelike gesag.
Vaders, voed julle kinders op in die tug en vermaning van die Here … (Ef 6:4).
Manne, julle moet in staat wees om julle vroue te kan lei …
in die woonhuis …
so ook die kerkhuis,
(Die twee kan nie van mekaar geskei word nie. Lees maar weer 1 Tim 3.)
Die ouer vroue moet die jonger vroue leer,
skryf die apostel Paulus (Titus 2:3).
Wees toesighouers onder die kudde,
skryf die apostel Petrus aan die ouderlinge.
Wees toesighouers volgens die voorbeeld van die Opperherder (1Pet 5).
Bid vir leierskap, bid sodat daar goeie leiding sal wees …
Feesgenote,
Daar is Afrikaners wat hierdie land al opgegee het.
Daar is baie Christene wat die wêreld al opgegee het.
Hulle sê:
hierdie land is vrot, laat dit nog vrotter word.
Hierdie wêreld is vrot, laat dit nog vrotter word.
Maar as die God wat ons dien,
nie sy volk en die wêreld opgegee het in Jesaja se tyd nie …
Hy het hulle nie opgegee nie.
Hy het vir hulle ‘n Seun gegee …
Hy het hulle menslike leierskap vervang met Goddelike leierskap …
As dit is wat hierdie God vir ons gedoen het …
As hierdie God nié sy volk en die wêreld opgegee het nie …
As hierdie God nié sy volk by Bloedrivier oorgegee het nie,
dan het ons ook geen verlof om dit te doen nie …
dan moet ons in sy Naam goddelike leierskap beoefen …
in ons huise …
in die verbondsgemeenskap …
in die geledere van die geloftevolk …
in die samelewing …
ook hier in donker Afrika …
Vir ons … is ‘n Seun gebore,
aan ons … is ‘n Seun gegee;
Hy sal heers …
Amen.
2. Om die Here se liefde en genade reg te ken, moet ons sy reg en geregtigheid ken
deur ds. S Le Cornu (GK Carletonville)
Lees: Miga 1
Die preek is hier beskikbaar: Audio Video
(nota: hierdie spesifieke preek is gelewer by die GK Bet-el in Pretoria, op 16 Desember 2012)
Leave a Reply