GK Bet-el selfstandigwording
deur Francois van Deventer, ‘n ouderling van die GK Bet-el
“Toe die HERE die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!” Ps 126:1-3
Dit is hoe die lidmate van GK Bet-el gevoel het op 2 Desember 2012 toe vriende, familie, mede gelowiges, predikante en lidmate byeengekom het om die finale stap af te handel met die instelling van GK Bet-el as ‘n selfstandige gemeente.
Hierdie dag is in vele opsigte ‘n unieke gebeurtenis.
In die eerste plek is dit uniek aangesien dit in die praktyk wys dat die kerke binne die GKSA ‘n gemeente die ruimte gun om hulle keuse uit te oefen, binne die vryheid wat Artikels 67 en 69 van die kerkorde bied. Ons as GK Bet-el wil die HERE slegs vereer soos wat Hy in sy Woord beveel (HK So 35 en NGB Art 7).
Uit hierdie belydenis is dit vir ons duidelik dat die Psalms en die Sabbat van die Nuwe Testament waarin ons Christus se opstanding vier, volkome genoegsaam is onderskeidelik as kerklied en feesdag van die HERE. Derhalwe sing ons slegs die Psalms tydens die erediens en vier ons nie die Christelike feesdae nie. Ons veroordeel nie ander gemeentes waar die feesdae gevier word en Skrifberymings gesing word nie maar laat dit self na omdat ons van mening is dat dit die veiliger weg is. Ons is egter van mening dat die vrye lied nie geskik is vir die gebruik in erediens nie.
Hierdie gebeurtenis is ook uniek in die opsig dat dit ‘n oorwinning was vir die beginsel van die Gereformeerde Presbiteriale Kerkregering. Dit was ‘n heuglike dag op die gesamentlike klassisvergadering van 16 Oktober 2012 toe die een predikant na die ander opgestaan het om die beginsel van die Presbiteriale Kerkregering te verdedig.
Dit is ook uniek in die opsig dat daar kerke uit twee verskillende klasses betrokke was en dat ‘n gesamentlike klassisvergadering gehou is om oor GK Bet-el se kompleetwording te besin. Sommige afgevaardigdes moes meer as 250km ry om hierdie vergadering by te woon.
Daar is by ons groot dankbaarheid vir die geduld wat die verskillende kerke met ons saak gehad het. As ons terug dink dan was daar slegs die afgelope jaar 5 klassisvergaderings en talle ander kerklike vergaderings. Ons gemeente het nou ‘n nuwe fase betree waarin die klem val op ons roeping in die bydrae om God se Koninkryk uit te bou.
Die volgende Skrifgedeeltes gee vir ons in leiding daarin:
* Ps 78: Ons sal aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.
* Hand 5: En hulle het nie opgehou om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.
* 2 Kor 2: Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe.
* Mat 28: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
* Hand 2: En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.
* Ef 4:12-13: om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God.
Dit is ons gebed dat ons band met die GKSA tot heil sal wees van die GK Bet-el, maar ook die ander kerke wat deel vorm van die GKSA.
Die GK Bet-el se besonderhede is soos volg:
Adres: 31ste Laan 415, Villeria, Pretoria
Web: www.gkBetEl.wordpress.com
ePos: gkBetEl@gmail.com
Tel: 012-3614266
Eredienstye: 11:45 en 19:00
Lees: 1 Sam 13:1-7;16-14:23
Tema: Die HERE kan deur min werk.
Teks 1 Sam 14:6 Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.
Psalms: 118:1,12; 118:13,14; 66:7,8; 68:1,2; 68:9,12
Geliefdes in ons Koning en ons Aanvoerder, die Here Jesus Christus,
As ons na die Here se weermag in die land kyk,
as ons na die gereformeerde kerke in die land kyk,
kan ons nie anders om moedeloos te raak nie.
Op elke terrein is ons besig om terug te val …
Ons skole het ons aan die humaniste afgegee.
Ons kinders word nou groot op ‘n dieet van menseregte en evolusionisme.
Ons het toegekyk,
hoe die Christelike Hoër Onderwys (die CHO) van die PU afgekap word.
Professore en predikante van baie gereformeerde kerke bewe voor die gestewelde feministe
wat besig is
om na die gereformeerde kansels op te marsjeer…
Professore en predikante van baie gereformeerde kerke buig voor die evolusiegeloof …
Die GKSA se gemeentes ontbind teen ‘n tempo van drie per jaar …
Die sinode wil graag die situasie omkeer,
die sinode roep die kerkverband op tot ‘n Omkeerstrategie,
maar om hierdie strategie uit te voer,
is daar geen toegeruste jeug nie …
is daar nie ‘n opkomende jeug nie …
Onder ons die gereformeerde kerke in Suid Afrika se embleem staan die woorde:
Die poorte van hel sal dit nie oorweldig nie.
Die poorte van die hel sal nooit die kerk van die Here Jesus oorweldig nie …
Ons weet dit … en ons glo dit …
maar daar is baie lande in die wêreld
waar daar nie meer gereformeerde kerke is nie …
baie lande waar die kerk opgehou het om te bestaan …
en dit maak ‘n mens bevrees
vir ons kerk…
in hierdie land …
En dit sal sekerlik ook baie mense sinies maak
oor die ontstaan van hierdie nuwe gemeente in hierdie tyd …
Vir wat nog ‘n klein ou gemeentetjie in ‘n tyd
waar soveel gemeentes hulle deure moet sluit?
So het ons hulle al ook hoor sê …
Daarom is Jonatan se woorde vir die Gereformeerde Kerk Bet-El vandag bedoel …
Dis vir u bedoel
om u aan te moedig …
Dis vir hierdie gemeente bedoel
om u tot die stryd op te wek …
Jonatan sê aan sy wapendraer:
Kom, kom ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes;
miskien sal die HERE vir ons optree,
want by die HERE is daar geen verhindering nie,
geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.
Die Here kan verlos.
Hy kan deur baie verlos,
maar Hy kan ook deur min verlos.
In ons Skrifgedeelte lyk die posisie van volk benard.
Die vyand was sterk,
baie sterk …
En die Filistyne het bymekaargekom
om teen Israel te veg:
drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers
soos die sand wat op die seestrand is in menigte;
en hulle het opgetrek
en hulle het laer opgeslaan
Dit het ons vroeg in hoofstuk 13 gelees.
Broeders en Susters, jonge broeders en jonge susters,
Net so is die slagordes vandag ook teen die kerk opgestel.
Ons het te doen met ‘n goed toegeruste, ‘n goed bewapende vyand …
en hulle is baie …
Hierteenoor is die ware gelowiges pateties min …
Op ‘n stadium kon Saul meer as dertigduisend man monster (1 Sam 11:8).
Aan die begin van ons Skrifgedeelte is daar slegs drieduisend oor.
Later, so lees ons, is daar nog minder …
baie minder …
Daar is maar net seshonderd man oor
net seshonderd om die hele Israel te verdedig.
Die volk was in die noute gedruk.
Die volk het weggekruip in die spelonke
en in die doringbosse
en in die rotse en in die grotte
en in die kuile.
Is die kerk vandag nie ook besig om weg te kruip nie?
Om so onsigbaar as moontlik te wees nie?
Om stil te bly?
Veilig agter ons veiligheidsheinings en alarmstelsels …
veilig in ons sitkamers met die gordyne toe …
onopgemerk daar iewers saam in die bondel …
Die kerk is dalk bang
om homself gehaat te maak,
net soos dit met Israel gebeur het …
Die kerk laat ‘n mens dink aan die vier apies
Sy hoor geen kwaad nie,
Sy sien geen kwaad nie,
Sy spreek geen kwaad nie
en sy doen geen kwaad …
Intussen trek die roofkommando’s uit die laer van die Filistyne …
(so het ons gelees),
dan die een afdeling
dan die ander afdeling,
dan die volgende afdeling.
Hulle onderneem strooptogte,
strooptogte in die hart van Israel in …
Soos die afdelings van die magte van die duisternis vandag maai onder die kerke …
Hulle roof en stroop …
skynbaar met hartelus …
Hulle stroop deur die seksuele losbandigheid …
Hulle het in baie gevalle ons vroue en dogters van hulle kuisheid beroof.
Hulle bedwelm ons lidmate met hulle eindelose sport en vermaak.
Daar is roofkommando van wêreldgelykvormigheid.
Die een dwaling volg op die ander …
Die Filistyne is heeltemal in staat om dit te doen,
want,
(so het ons gelees)
hulle het ook totale beheer oor die wapentuig.
Daar was geen smid in die hele land van Israel te vinde nie,
want die Filistyne het gesê:
Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak.
Die vyand beheer die tegnologie.
Die vyand beheer die media.
Die vyand beheer die onderwys …
Net Saul en Jonatan onder die Israeliete het ordentlike wapens.
‘n Hopelose desperate situasie …
Dis dan geen wonder
dat Saul niks anders kon doen
as om die belangrikste passe en toegange tot die land te probeer beset nie;
niks anders as om te probeer om in stand te hou nie;
as om in stand te hou,
dit wat nog van die verbondsvolk oorgebly het …
Van ‘n volskaalse aanval op die vyand was daar geen sprake nie.
En Saul het gesit op die grens van Gíbea
onder die granaatboom wat by Migron staan;
en die manskappe by hom was omtrent ses honderd man.
‘n Hopelose desperate situasie …
Dis onder hierdie omstandighede
dat Jonatan uit die kamp verdwyn.
Jonatan onderneem ‘n roekelose missie
sonder magtiging,
sonder onder om behoorlik na te dink …
‘n vermetele onderneming,
sonder oorleg …
So wil dit vir ons lyk.
Hy en sy wapendraer.
(As ons na die Hebreeuse teks kyk,
maak ons die afleiding dat hierdie wapendraer ‘n seun moes gewees het,
‘n jong penkop.)
Jonatan en die penkop is op ‘n roekelose missie,
‘n vermetele onderneming …
En tog …
en tog sien ons die Gees van die HERE hier aan die werk …
Jonatan en sy wapendraer is nie so alleen
as wat dit vir ons lyk nie.
Miskien werk Jonatan met ‘n teks
wat sy pa al lankal vergeet het.
Dalk werk Jonatan met die beloftes van die HERE
waarin sy pa nie werklik meer in glo nie.
Kom, kom ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes,
sê Jonatan vir die seun.
Kom, hulle is heidene.
Hulle dra nie die teken van die verbond nie.
Hulle is nie onder die beskerming van die Verbondsgod nie.
Kom ons vat die onbesnedenes aan.
Miskien sal die HERE vir ons optree …
As die HERE wil,
dan sal Hy vir ons optree.
Hoekom sal die HERE vir hulle optree, Broeders en Susters?
Hoekom?
Want die HERE het sy steun aan Saul en die Israeliete belowe!
Saul sal die HERE se volk verlos uit die hand van die Filistyne.
Ons lees dit in hoofstuk 9 vers 16.
Miskien daarom sal die HERE vir hulle optree …
Miskien sal Hy optree,
want die land van die Filistyne is aan Israel belowe …
(Dit lees ons in Josua 13).
Miskien sal die HERE vir hulle optree
want die HERE sal aan sy volk reg verskaf,
en Hy sal medelyde hê met sy knegte
as Hy sien dat hulle vashouplek weg is
en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.
(Dit staan in Deuteronomium 32.)
Buitendien … buitendien …
by die HERE is daar geen verhindering om deur baie
of deur min te verlos nie …
Ja, inderdaad,
Psalm 147 sê mos:
Die HERE het geen welbehae in die krag van die perd,
geen welgevalle in die bene van die man nie.
Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees,
in die wat op sy goedertierenheid hoop.
Jonatan tree op,
sonder die toestemming van sy weifelende vader onder die granaatboom.
Saul en sy bewende seshonderd hoef nie hiervan te weet nie.
Jonatan en sy wapendraer sal die een krans af
en die ander krans op …
op en af verby die spitsrotse Boses en Sene …
Volgens die hebreeus beteken die een se naam glibberig …
die ander beteken doringagtig …
Jonatan en die penkop bestyg die gladde en doringagtige steiltes.
Hulle doen dit in die Naam van die HERE.
Hulle doen dit nie sonder die HERE se woord nie.
Hulle doen dit ook nie sonder die HERE se beloftes nie.
Hulle doen dit ook nie sonder ‘n teken van die HERE nie.
Soos die rigter Gideon van ouds soek Jonatan ook ‘n teken.
Nou weet ons
dat beide Gideon en Jonatan in ‘n tyd van die onvoltooide openbaring geleef het
voor die tyd dat die gelowiges die hele Bybel gehad het.
Nie soos ons vandag die hele Woord van God het
om ons lewens daarvolgens te rig nie.
Ons hoef dus nie meer vandag meer tekens te soek nie.
Hoe dit ookal sy …
Jonatan en sy wapendraer soek hulle aanwysings van die HERE.
En daarom kan ons sê,
dat die gees wat hulle dryf …
dis nie ‘n gees van waaghalsigheid of roekeloosheid nie,
maar dis die HERE se Gees.
Dis die Gees van die HERE,
wat Jonatan in staat stel om die wagpos te verower …
om twintig man buite aksie te stel …
Dis ook die Gees van die HERE,
wat toe ‘n skrik in die vyand se laer bring …
‘n skrik van God noem ons Skrifgedeelte dit.
Dit word ‘n rumoer in die vyand se kamp,
‘n rumoer wat altyddeur groter word …
die swaard van die een was teen die ander …
‘n baie groot verwarring …
Die Filistynse roofkommando word toe ‘n vlugkommando …
Nie deur krag of deur geweld nie,
lees ons in Sagaria 4:6,
Nie deur krag of deur geweld nie,
maar deur my Gees,
sê die HERE van die leërskare.
Ons stry vandag nog steeds ‘n stryd,
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
nie teen vlees en bloed,
sê die apostel Paulus aan die Efesiërs,
maar teen die owerhede,
teen die magte,
teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu,
teen die bose geeste in die lug (Ef. 6:12 ev.)
Daarom, neem die volle wapenrusting van God op,
Staan dan vas,
julle lendene met die waarheid omgord,
neem die skild van die geloof op …
En neem aan die helm van verlossing en …?
En … die swaard van die Gees …
Dit is die woord van God.
Aan die Korintiërs skryf hy weer:
die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie,
maar kragtig deur God
kragtig om vestings neer te werp,
terwyl ons planne verbreek
en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God,
en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus … (2 Kor. 10:4).
Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes …
So spoor die HERE u vandag aan …
die HERE wil hê
dat julle dit sal waag …
dat julle dit in sy Naam sal waag …
Waag dit soos Petrus en Johannes dit voor die Joodse Raad gewaag het …
Waag dit soos Paulus en Silas dit in die hart van die Romeinse ryk gewaag het …
U sal nie noodwendig van die kerkleiers leiding ontvang nie …
die dae dat u net op die dominees en die professore kan staatmaak,
dis verby …
Baie van ons dominees sit onder die granaatbome …
Ek is jammer om dit te sê …
Mag die HERE gee
dat daar weer ‘n nuwe geslag gereformeerdes na vore sal kom …
nie met die vrugtelose vernuwing
wat baie kerke op die oomblik najaag nie …
In baie gevalle is die soort vernuwing eerder die dood in die pot …
Mag die HERE gee,
dat daar weer ‘n nuwe geslag Jonatan’s en hulle wapendraers na vore sal kom.
Manne en vroue jonk van gees …
Ons leef mos nou in die bedeling van die Heilige Gees.
Ons lees dit in Handelinge twee:
God se Gees is uitgestort op alle vlees,
Mag ons seuns en ons dogters begin profeteer!
so het Petrus dit op die Pinksterdag gesê …
Mag ons seuns en ons dogters op hulle beurt dit waag
om weer kinders te begin kry …
Mag hulle dit waag
om daardie kinders sonder enige kompromie Christelike onderwys te gee.
Mag hulle dit waag
om self die Bybel te begin bestudeer.
Mag hulle dit waag
om weer die vaandel van die gereformeerde belydenis hoog te hys.
Mag hulle dit waag
om hulle rug te draai op wêreldgelykvormigheid …
om die swaard van die Woord te trek op die onvrugbare werke van duisternis in ons midde.
Mag hulle dit waag
om daardie werke in die Naam van ons Aanvoerder Jesus Christus te bestraf.
Mag hulle dit waag,
al is hulle miskien net een of twee …
Mag hulle dit waag
om uit die gate en spelonke te voorskyn te tree …
Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes;
miskien sal die HERE vir ons optree,
want by die HERE is daar geen verhindering
geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.
Amen.