Ons het as gesin gister op oujaarsdag saam goeie vriende en mede-geloofsgenote gekuier.
Ons kon saam kuier en besin oor die lewe in die lig van Christus,
ons kon saam speel (boeresport: die kinders, ek was maar lui!) en sing en vrolik wees,
van Psalms tot lekker volksliedjies saamgesing,
die nuwejaar in.
(Trevor en Elsa Smith se plaas net buite Fochville)
Dankie Here vir 2012, én dankie reeds vir 2013.
Hier is my ‘nuwejaarspreek’ wat ek afgelope Sondag gelewer het:
Ons moet elke dag lewe in die lig van Christus se koms, ook in 2013
Teksverse: Matt.24:36-46.
Wat ek egter in die besonder met julle wil deel, hier reg aan die begin van die nuwejaar,
is die konkrete tragiese hartverskeurende werklikheid van die sonde en die hartseer gevolge daarvan.
Ja, reg hier aan die begin van 2013.
Een van die eerste eposse wat ek oopgemaak het vanoggend, is die volgende artikel, van ‘n oorsese blog waarop ek ingeteken is (van die PCA kerke in die VSA):
Ek ken die gelowiges betrokke in hierdie tragiese gebeurtenis nie persoonlik nie.
Ek stem in sekere uitsprake nie saam met die skrywer nie.
Maar dit is juis die punt wat ek wil maak vandag: sien die saak self raak en huil saam oor die sonde en gevolge daarvan in hierdie gebrokke wêreld, hierdie aardse jammerdal (HK Sondag 1).
Hier was ‘n vrou wat klaarblyklik getrou die Here gedien het.
Hier is ‘n vrou wat ‘n predikant se vrou was.
Sy was bemind in die gemeente,
en dan eindig alles so aan die einde van die jaar …. so tragies en sinneloos, ook vir haar geliefdes ?
So asof sy net-net nie oor die wenpaal kon kom om 2013 aan te pak nie ?
Was daar net te veel sorges en bekommernisse en hartseer wat haar tot hierdie sondige daad gedryf het ?
Dit het my opnuut laat besef: die lewe is kort, eintlik baie kort (lees gerus weer Prediker 12).
Elke jaar vlieg die lewe net vinniger verby … my hare word minder …
JOU lewe is kort, my lewe is kort. Ons lewens is kort.
Ken ons werklik mekaar se diepste hartsorges en bekommernisse ?
Ken jy werklik jou man of vrou, kinders, familie, mede-lidmate en vriende se diepste bekommernisse en hartseer ?
Doen ons moeite om mekaar regtig te help en te dien, konkreet in die lewe ?
En bo alles, ken ons Hom werklik van harte (Joh.17:3) wat elke dag sê en ons uitnooi:
28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig. – Matt.11
Kyk ook wat skryf Paulus in 1 Thess.2:8,
“Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.”
Paulus deel nie net ‘die evangelie van God’ met sy medegelowiges nie, maar ook sy ‘eie lewe’.
Hy getuig op verskillende plekke van sy eie worstelinge, swakhede en sondes (Hand.9,22; Rom.7; 2 Kor.12; Filp.3).
Is ons dalk so beangs wat ‘ander’ van my gaan dink as hul weet ek het soveel worstelinge en sondes waarmee ek nog stry?
Dat ek mos glo in die ware leer maar tog so worstel en sukkel met die ware … lewe ?
Dat ons gesin lief is vir die Woord, die eredienste getrou bywoon, maar tog in ons onderlinge verhoudinge mekaar nie dien, verdra en opbou nie ?
Natuurlik is daar baie worstelinge wat nie nodig is om orals uit te basuin nie, maar juis vertroulik saam met ‘n mede-gelowige biddend te hanteer.
Maar die kernpunt is: weet en help ons om mekaar se laste te dra (Gal.6:1,2) ?
Het Harriet Deison se geliefdes geweet, gevra na haar sorge ?
Ja, en ek, ons predikante is ook skuldig daaraan, miskien die meeste …
Hoe min deel ons nie met medegelowiges nie.
Hoe tragies as broeders mekaar nie meer kan vertrou nie ?
Maar weet ons gemeentes en medegelowiges dat ons ‘saam’ hul in die goeie stryd is ?
Die beste boek wat ek gelees in 2012, het ek eers aan die einde van die jaar in Desember gelees (eintlik ‘geluister’).
Ek beveel dit baie sterk aan vir elke predikant, elke ampsdraer, kerkrade om aandagtig te lees/luister en daaroor te besin en te bid ter wille van Christus se kerk:
Die boek kan by Augustine Bookroom bestel word, hier afgelaai word, Monergism, of hier om geluister te word: ChristianAudio.com Sien ook Crossway Books vir ‘n kort video inleiding op die boek deur die skrywer. Die boek kan ook gebruik word vir bybelstudie en bespreking: Leiersgids
In essensie kom die boek se boodskap hierop neer:
Ons kan so besig wees om aan ander die Evangelie te verkondig
en die goeie stryd te stry vir die waarheid,
so besig te wees in die Koninkryk
dat ons vergeet om dit heel eerste aan onsself te verkondig.
Iets wat Louis Malherbe eenvoudiger gesê het:
“ons kan so besig raak met die dinge van die Here,
dat ons die Here van die dinge vergeet.”
Daarom wil ek ook aan u as die leser, nie net die Evangelie verkondig nie, maar ook my lewe.
Hoe die Here my gebring het waar ek vandag is.
Waarom ek die littekens aan my gesig dra.
Waarom ek so sterk klem plaas dat die ware leer bewaar en verkondig word, ongeag dat ekself nog so baie worstel om daadwerklik uit te leef wat ek moet en wil verkondig.
Waarom die Here se genade so groot oor my en ons is, ondanks 1 Tim.1:15 !
Nee, ek het nog glad nie ge-arriveer nie, ek is saam met u in die goeie stryd (Titus 2:11-14):
11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
Dit is lewenslange stryd, 24-ure van elke dag, 7dae ‘n week.
Die goeie stryd teen die wêreld, die Satan en veral die oorblyfsels van die eie sondige natuur gaan voort tot die laaste dag, tot ons wedloop volbring is (2 Tim.4:6-8).
Die goeie stryd van 2012, sal ook in 2013 voortduur.
Maar ja, die lewe is net te kort om nie te gesels oor die belangrikste vraag van die lewe nie:
“Wie sê jy/julle is die Christus? (Matt.16:13-15)
[Vir ‘n goeie samevattende antwoord, sien: Maar julle, wie sê julle is Ek ?]
Wat glo en weet jy aangaande Christus, want dit bepaal jou hele lewe (Joh.8:36; 14:6; 15:5) ?
Daarom deel ek ook vir eerste keer hier my eie lewensgetuienis.
Tydens my teologiese studies (2002-2006) moes ons vir ‘n eksamen ‘n pastorale geval van poging tot selfmoord ‘hanteer’.
Ek het besluit om die eksamen te doen in die vorm van ‘n verhaal, ‘beradingsgesprek’ deur middel van ‘n verhaal.
Mag dit vir u iets beteken, waar u dalk al so moedeloos en hopeloos gevoel het,
dat u u eie lewe al wou neem,
dalk ook hier aan die begin van 2013 reeds te ‘bemoeid en te belas’, ja, moeg is.
Of dalk is daar iemand vir wie u dit kan aanstuur, wat dit nodig het.
Moenie wag nie, deel u lewe met ander, soek iemand wat u kan vertrou – wat Jesus en sy Woord liefhet – en praat u hart en sorges uit in die lig van sy genade en ontferming wat ons hoor in Rom.5 :
6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. 7 Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe 8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
U kan daarom met my ook gesels, enige tyd, onthou, ek is as mede-begenadigde sondaar saam u in die stryd.
Hier is my getuienis, alles net genade. Omdat dit redelik lank is stel ek dit beskikbaar in PDF formaat:
Dankie, Slabbert, vir hierdie…
Soms het mens net ‘n “Adam” nodig, maar hulle is skaars, yl gesaai.