“Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” – Op.16:15
Hoe het die tye nie verander nie ?
Dit word veral gesien in ons kleredrag en in die dinge waarvoor ons ons skaam, of nie skaam nie. Dinge wat ons nou oor lag, wat in die verlede ons oor besorg was.
Gister in die Beeld was daar ‘n baie insiggewende artikel oor die bestaan van die moderne ‘Bikini’ swemdrag, wat dit alles mooi illustreer. Hier is ‘n uittreksel:
” ’n Franse ingenieur, Louis Réard, het die moderne bikini in 1946 ontwerp. Sy ontwerp moes ’n opskudding veroorsaak en daarom was ’n naam vir die skrapse kledingstuk van die uiterste belang. Toe, so word vertel, voorsien die Amerikaanse weermag hom van ’n naam nadat hulle kernbomme in die Bikini-atol, eilandjies in die Stille Oseaan, laat ontplof het.
Réard het dié naam gekies omdat hy gedink het dit sou ewe skokkend as die atoombom wees. En so het die piepklein bikini ’n reuse-ontploffing in die modewêreld veroorsaak. ’n Bikini-oorlog in die kleine het gevolg toe ’n ander Fransman, Jacques Heim, ’n tweestuk ontwerp het wat hy die “atome” en die “wêreld se kleinste swempak” genoem het. Réard het teruggekap dat sý bikini “kleiner as die wêreld se kleinste baaipak” is. ’n Mens kan nie van ’n behoorlike bikini praat as jy dit nie deur ’n trouring kan trek nie, het hy laat weet.
Réard het egter met ’n probleem gesit. Geen Paryse model was bereid om in sy opspraakwekkende nommertjie op die loopplank te paradeer nie. Toe huur hy maar ene Micheline Bernardini – ’n kaaldanseres van die Casino de Paris – om die deurtrekker-bikini met koerantdrukwerk daarop in 1946 op die loopplank te vertoon.”
Die treffende van hierdie artikel, is die laaste deel. Toe die bikini bekendgestel is, was dit ‘n groot skok, selfs vir die ‘liberales en ongelowiges’ van daardie tyd, en, kon hul nie ‘n model vind om daarin te paradeer nie, en moes toe ‘n kaaldanseres kry as die skouponie.
En vandag ?
Vandag is jy snaaks as jy nie ‘n bikini wil dra nie, of enigsins enige vrae daaroor vra.
Vandag is daar allerlei ‘Christelike tydskrifte’ wat ‘Christelike vroue’ sal laat afneem in hul bikinis sonder enige skaamte.
Wat die wêreld nie wou doen 70 jaar terug nie, is die ‘in ding’ vandag, nie net in die wêreld nie, maar ook onder mense wat Christus bely.
Baie ‘Christelike dogters’ sal onder aanmoediging van hul ‘Christelike ouers’ en dalk selfs ‘Christelike predikante en gemeentes’ aangemoedig word om hul ‘gawes’ (bates?) ten toon te stel in die modelwêreld en skoonheidskompetisies, wat nie net die bikini insluit nie, maar ander kleredrag wat naaktheid in die openbaar bevorder.
Die afwesigheid van skaamte, openbaar ons tye en kultuur se verwerping van die sondeval en die gevolge daarvan. Dit ontken ons skaamte oor sonde en ons ongeregtigheid.
Dit ontken in sy wese die Evangelie, wat juis gekom het om ons te beklee, te bedek met die bloed van Christus en ons lewens hoe langer hoe meer te verander (Tit.2:11-15).
Baie sal nou weer antwoord ‘dit gaan nie oor ons kleredrag nie, dit gaan oor my hartjie of ek in Jesus glo … ‘
Maar dit is ‘n valse evangelie wat jy dan aan glo, ‘n valse evangelie wat ‘n valse teenstelling maak tussen gees en liggaam, kontra 1 Kor.6:12-20.
Ja, ons word gered deur Christus alleen, Hy is die enigste grond van ons saligheid.
Ja, ons word nie gered deur wie ons is, hoe ons lyk of wat ons aantrek nie (dank God!), maar, ‘n baie belangrike ‘maar’ … Christus alleen behels dat my hele lewe nou hoe langer hoe meer geheilig word deur sy Gees en Woord.
Dit bely ons baie duidelik in NGB artikel 24 oor die goeie werke as vrug van ons verlossing in Christus alleen, en HK v/a 64 wat wys die gelowige kan nie anders as om werke van dankbaarheid te produseer nie. Sien ook DL hoofstuk 5.
As Jesus waarlik in my lewe kom, dan verander dit alles in my lewe, my denke, woorde, dade … ook my kleredrag, alles tot eer van God.
So lyk iemand se lewe voor Christus in sy lewe kom:
“En toe Hy aan wal uitklim, kom ‘n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ‘n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ‘n huis gewoon nie, maar in die grafte. …” Luk.8:27
En dan kom Jesus in sy lewe: ….
“En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ‘n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? ….” (v.28)
… en alles begin sommer dadelik te verander, dit verander nie net sy lewe vir die ewigheid nie, maar ook hier op aarde, ook sy kleredrag:
“En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel. Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.” (v.34,35)
By die voete van Jesus … gekleed
Uit verlossing volg/vloei verandering, bekering, dade, werke.
Christus is ons regverdiging én heiligmaking (1 Kor.1:30,31)
My kleredrag, my taal, my optrede openbaar my geloof …. of ongeloof.
Die tragedie is, dat ons ons nie meer skaam vir openbare naaktheid en perversiteit nie, vir sonde en ongeregtigheid nie … maar daardeur verdwyn ‘skaamte’ nie, dit word vervang deur ons vir iets ander te skaam:
– ons skaam ons vir die Evangelie,
– ons skaam ons vir sy Woord,
– ons skaam ons vir die Jesus Christus van die Bybel,
– ons skaam ons vir sy goeie wette.
– ons skaam ons vir ons kerke en belydenis.
Nee, ek gaan nie vir u voorskryf hoe u kleredrag moet lyk nie.
Laat die Isebels van hierdie wêreld nou maar weer kom met hul gespot en ligsinnigheid en valse aanklagtes van ‘wettiesheid’ en ‘bekromptheid’ deur ons ‘calviniste’, maar die ware gelowige, die ware kind van God vra biddend:
Here, hoe eer ek U in my kleredrag ?
Hoe versier ek myself tot lof van U Naam ?
Hoe is ek pragtig aantreklik sonder om uitlokkend en ‘n struikelblok te wees vir my naaste, veral mans ?
Hoe versier ek die Evangelie van Christus met my kleredrag ?
Hoe is ek dankbaar teenoor U as ek klere gaan koop ?
Die ware gelowige, ‘n goeie vader en goeie moeder leer hulself en hul kinders:
“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles (dus my klerekas) tot verheerliking van God.” – 1 Kor.10:31
Ek het reeds geskryf oor hierdie onderwerp, en gaan nie alles herhaal nie, sien asb hier:
Kleredrag (sien veral die boekie van prof. Paul de Bruyn oor kleredrag wat baie behulpsaam is)
Laat ek hier net kortliks noem:
1. Kleredrag is gegee vir beskerming (2 Tim.4:13)
2. Kleredrag is gegee vir versiering , ons mag dit geniet, dit kan gebruik of misbruik word (Esg.16:11-15; Jes.3:16-23; 1 Tim.2:9)
3. Kleredrag moet onderskeidend wees vir die geslagte (Deut.22:5)
4. Kleredrag moet kuis en behoorlik wees (Spr.5:16,17; 1 Tim.2:9; Tit.2:5)
5. Die belangrikste ‘kleredrag’ om aan te trek, waarsonder 1 – 4 nie gaan ‘pas’ nie: Romeine 13:14
Wat wys jou kleredrag, waarvoor skaam jy jou ?







Leave a Reply