My klerekas openbaar waarvoor ek my skaam

cartoon-west-vs-east

“Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” – Op.16:15

Hoe het die tye nie verander nie ?

Dit word veral gesien in ons kleredrag en in die dinge waarvoor ons ons skaam, of nie skaam nie.  Dinge wat ons nou oor lag, wat in die verlede ons oor besorg was.

Gister in die Beeld was daar ‘n baie insiggewende artikel oor die bestaan van die moderne ‘Bikini’ swemdrag, wat dit alles mooi illustreer.  Hier is ‘n uittreksel:

” ’n Franse ingenieur, Louis Réard, het die moderne bikini in 1946 ontwerp. Sy ontwerp moes ’n opskudding veroorsaak en daarom was ’n naam vir die skrapse kledingstuk van die uiterste belang. Toe, so word vertel, voorsien die Amerikaanse weermag hom van ’n naam nadat hulle kernbomme in die Bikini-atol, eilandjies in die Stille Oseaan, laat ontplof het.

Réard het dié naam gekies omdat hy gedink het dit sou ewe skokkend as die atoombom wees. En so het die piepklein bikini ’n reuse-ontploffing in die modewêreld veroorsaak. ’n Bikini-oorlog in die kleine het gevolg toe ’n ander Fransman, Jacques Heim, ’n tweestuk ontwerp het wat hy die “atome” en die “wêreld se kleinste swempak” genoem het. Réard het teruggekap dat sý bikini “kleiner as die wêreld se kleinste baaipak” is. ’n Mens kan nie van ’n behoorlike bikini praat as jy dit nie deur ’n trouring kan trek nie, het hy laat weet.

Réard het egter met ’n probleem gesit. Geen Paryse model was bereid om in sy opspraakwekkende nommertjie op die loopplank te paradeer nie. Toe huur hy maar ene Micheline Bernardini – ’n kaaldanseres van die Casino de Paris – om die deurtrekker-bikini met koerantdrukwerk daarop in 1946 op die loopplank te vertoon.”

Die treffende van hierdie artikel, is die laaste deel.  Toe die bikini bekendgestel is, was dit ‘n groot skok, selfs vir die ‘liberales en ongelowiges’ van daardie tyd, en, kon hul nie ‘n model vind om daarin te paradeer nie, en moes toe ‘n kaaldanseres kry as die skouponie.

En vandag ?

Vandag is jy snaaks as jy nie ‘n bikini wil dra nie, of enigsins enige vrae daaroor vra.

Vandag is daar allerlei ‘Christelike tydskrifte’ wat ‘Christelike vroue’ sal laat afneem in hul bikinis sonder enige skaamte.

Wat die wêreld nie wou doen 70 jaar terug nie, is die ‘in ding’ vandag, nie net in die wêreld nie, maar ook onder mense wat Christus bely.

Baie ‘Christelike dogters’ sal onder aanmoediging van hul ‘Christelike ouers’ en dalk selfs ‘Christelike predikante en gemeentes’ aangemoedig word om hul ‘gawes’ (bates?) ten toon te stel in die modelwêreld en skoonheidskompetisies, wat nie net die bikini insluit nie, maar ander kleredrag wat naaktheid in die openbaar bevorder.

Die afwesigheid van skaamte, openbaar ons tye en kultuur se verwerping van die sondeval en die gevolge daarvan.  Dit ontken ons skaamte oor sonde en ons ongeregtigheid.

Dit ontken in sy wese die Evangelie, wat juis gekom het om ons te beklee, te bedek met die bloed van Christus en ons lewens hoe langer hoe meer te verander (Tit.2:11-15).

Baie sal nou weer antwoord ‘dit gaan nie oor ons kleredrag nie, dit gaan oor my hartjie of ek in Jesus glo … ‘

Maar dit is ‘n valse evangelie wat jy dan aan glo, ‘n valse evangelie wat ‘n valse teenstelling maak tussen gees en liggaam, kontra 1 Kor.6:12-20.

Ja, ons word gered deur Christus alleen, Hy is die enigste grond van ons saligheid.

Ja, ons word nie gered deur wie ons is, hoe ons lyk of wat ons aantrek nie (dank God!), maar, ‘n baie belangrike ‘maar’ … Christus alleen behels dat my hele lewe nou hoe langer hoe meer geheilig word deur sy Gees en Woord.

Dit bely ons baie duidelik in NGB artikel 24 oor die goeie werke as vrug van ons verlossing in Christus alleen, en HK v/a 64 wat wys die gelowige kan nie anders as om werke van dankbaarheid te produseer nie.  Sien ook DL hoofstuk 5.

As Jesus waarlik in my lewe kom, dan verander dit alles in my lewe, my denke, woorde, dade … ook my kleredrag, alles tot eer van God.

So lyk iemand se lewe voor Christus in sy lewe kom:

“En toe Hy aan wal uitklim, kom ‘n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ‘n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ‘n huis gewoon nie, maar in die grafte.  …” Luk.8:27

En dan kom Jesus in sy lewe: ….

“En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ‘n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? ….” (v.28)

… en alles begin sommer dadelik te verander, dit verander nie net sy lewe vir die ewigheid nie, maar ook hier op aarde, ook sy kleredrag:

“En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.  Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.” (v.34,35)

By die voete van Jesus … gekleed

Uit verlossing volg/vloei verandering, bekering, dade, werke.

Christus is ons regverdiging én heiligmaking (1 Kor.1:30,31)

My kleredrag, my taal, my optrede openbaar my geloof …. of ongeloof.

Die tragedie is, dat ons ons nie meer skaam vir openbare naaktheid en perversiteit nie, vir sonde en ongeregtigheid nie … maar daardeur verdwyn ‘skaamte’ nie, dit word vervang deur ons vir iets ander te skaam:

– ons skaam ons vir die Evangelie,

– ons skaam ons vir sy Woord,

– ons skaam ons vir die Jesus Christus van die Bybel,

– ons skaam ons vir sy goeie wette.

– ons skaam ons vir ons kerke en belydenis.

Nee, ek gaan nie vir u voorskryf hoe u kleredrag moet lyk nie.

Laat die Isebels van hierdie wêreld nou maar weer kom met hul gespot en ligsinnigheid en valse aanklagtes van ‘wettiesheid’ en ‘bekromptheid’ deur ons ‘calviniste’, maar die ware gelowige, die ware kind van God vra biddend:

Here, hoe eer ek U in my kleredrag ?

Hoe versier ek myself tot lof van U Naam ?

Hoe is ek pragtig aantreklik sonder om uitlokkend en ‘n struikelblok te wees vir my naaste, veral mans ?

Hoe versier ek die Evangelie van Christus met my kleredrag ?

Hoe is ek dankbaar teenoor U as ek klere gaan koop ?

Die ware gelowige, ‘n goeie vader en goeie moeder leer hulself en hul kinders:

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles (dus my klerekas) tot verheerliking van God.” – 1 Kor.10:31

Ek het reeds geskryf oor hierdie onderwerp, en gaan nie alles herhaal nie, sien asb hier:

Kleredrag (sien veral die boekie van prof. Paul de Bruyn oor kleredrag wat baie behulpsaam is)

Laat ek hier net kortliks noem:

1. Kleredrag is gegee vir beskerming (2 Tim.4:13)

2. Kleredrag is gegee vir versiering , ons mag dit geniet, dit kan gebruik of misbruik word (Esg.16:11-15; Jes.3:16-23; 1 Tim.2:9)

3. Kleredrag moet onderskeidend wees vir die geslagte (Deut.22:5)

4. Kleredrag moet kuis en behoorlik wees (Spr.5:16,17; 1 Tim.2:9; Tit.2:5)

5. Die belangrikste ‘kleredrag’ om aan te trek, waarsonder 1 – 4 nie gaan ‘pas’ nie: Romeine 13:14

Wat wys jou kleredrag, waarvoor skaam jy jou ?

17 thoughts on “My klerekas openbaar waarvoor ek my skaam

Add yours

  1. Ek moes ‘n bietie lag oor hierdie sin:
    “…‘n baie insiggewende artikel oor die bestaan van die moderne ‘Bikini’ swemdrag, wat dit alles mooi illustreer.”
    Ek is seker dit was sommer baie mooi geillustreer. 😀

    Ek het niks teen mooi vroue nie, moet ek eerlik sê.
    En teen te min kleredrag is ek nie omdat ek teologies daarvan oortuig is nie, maar heel eenvoudig omdat ek dink dit is swak smaak.

    Om eerlik te wees dink ek die gebruik van Bybeltekse om so ‘n banale onderwerp te bespreek is belaglik en ‘n belediging aan die Heilige Skrif.

    1. Andre, die Skrif spreek hom uit oor kleredrag, jy kan daarmee verskil en dalk jou ‘persoonlike mening’ of ‘smaak’ die hoogste gesag maak van jou besluite, maar dit neem nie weg dat die Skrif uitsprake daaroor maak nie, waarvan 2 baie duidelik is: Dt.22:5 en 1 Tim.2:9. Verskil met die eksegese of toepassing van daardie verse vir vandag, maar moenie hermeneuties gesproke belaglike uitsprake maak soos dat die Skrif nie daaroor iets sê nie. In jou ontkenning dat die Skrif ook spreek tot kleredrag is jy eintlik besig om die Skrif te beledig, dink maar weer oor jou gnostiese (die gees is belangrik, die liggaam nie)uitspraak. 😉

    2. En ja, stem saam, die Here het vroue mooi gemaak, ons het nie ‘n problem daarmee nie. Sara se skoonheid word genoem, Hooglied besing dit, ens. Die Here soek ‘n pragtige bruid, so skoonheid is opsigself natuurlik nie verkeerd nie, dit is wat ons daarmee maak wat die vraag is. En dan geld Spr.11:22 as waarskuwing en wys Spr.31:30 waar die wese van ware skoonheid lê. Daarom, baie belangrik, die vraag moet nie beantwoord word deur ‘smaak’ en ‘voorkeure’ nie, maar wat die Skrif openbaar wat is reg en verkeerd, goed en sleg, wys en onwys, ens., ons wandel deur geloof, nie aanskouing nie.

  2. EK stem heeltemal saam met jou. Ek wil net die groot leemte aanvul. Jy laat die eensydige gedagte dat net vroue verleiers is. Sommige mans kan ook maar na hul klerekaste kyk. Ek praat van die klein swembroekies(speedos) en deurtrekkers wat mans mee in die openbaar verskyn met kaal bolywe. Ook hul klein “help my sterk lyk hempies”. Soos met vroue, kan enige kleding stuk, wat jou seksualiteit beklemtoon, verleidelik wees. Enige nou passende broeke en kort, kortbroekies, ook die sogenaamde oefenbroekies met die splete langs die kante. ens. As dit nie so was nie, hoekom sou hul dit dra? Kyk maar na die advertensies waar manlike modelle gebruik word vir allerlei goed. Dankie vir jou onderwerp! (wel nou nie so gereeld soos vroue nie ) Groetnis Christina

    1. Christina, dankie vir jou bydrae. Dit is reg, dit geld natuurlik ook vir mans, so sal die gebod van Christus in Matt.5:27-30 veral vir mans geld, maar in beginsel ook vir vrouens. Dit is egter ook so dat mans meer uiterlik aangetrokke is tot die teenoorgestelde geslag, as andersom, terwyl vrouens weer meer emosioneel aangetrokke is. Daarom sukkel ons mans meer met die oë en met pornografie en vrouens met soapies/romantisisme (emosionele pornografie?)

  3. Ek dink hierdie artikel vind sy motivering eerder in die lees van die Beeld as die lees van die Bybel.
    Nietemin, wat ‘n interesante onderwerp! Daar is so baie om te sê:

    Ek hou van die idee dat sepies (bv. Days of our Lives en Santababra) en boeke van bv. Jodi Picoult, Nicholas Sparks, Meave Binchy ens. pornografie vir vrou is. In pornografie vir die mans draai die vroue se bestaan om die man en wat hy wil hê en in pornografie vir vroue draai die mans se bestaan om die vrou en wat sy wil hê. Natuurlik word dit alles meer kompleks want daar is ook mans wat sepies kyk en anders om.

    Die spotprent wat in die artikel gebruik word is ook baie interesant;
    ‘n botsing van kulture. Om dieselfde idee van die spotprent ‘n bietjie nader aan ons te bring kan jy jouself voorstel: ‘n Zulu vrou in ‘n voortrekker kappie en ‘n toplose voortrekker tannie. Die Zulu vrou sê: “Nou is jy ook ‘n Afrikaner” en die voortrekker tannie sê: “Nou is jy ook ‘n Christen.”

  4. Ek is dit heeltemal eens.Daar is nog ‘n ander aspek wat ek wil aanraak. As ons deur ‘n hooggeplaaste uitgenooi word vir ete of amptelike geleentheid word vir jou voorgeskryf dat jou kleredrag formeel moet wees. Nou kom ons Heer en Meester en nooi ons om aan Sy Tafel te kom aansit die die Maaltyd van alle maaltye te kom geniet. Oor die jare heen was ons kleredrag in die gemeentelike vergaderings kuis, netjies, onbesproke. En wat trek ons vandag aan? Ek hoef dit nie te beskryf nie, Ons kan net Sondae rondom ons kyk. Dan wonder mens, wat dink ons van die Almagtige God. Stel ons as belydende gelowiges werklik die Eer van God eerste in ons lewe? Mal. 1 v 6 – ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? En ja, dit geld vir mans en vroue. In ons kerke het dit ingesluip die dag toe mans jare gelede toegelaat was om met safari pakke eers die kerkraadsvergaderings en later die eredienste by te woon. Kwansuis omdat dit te warm was om ‘n pak aan te trek. ‘n Omkeerstrategie? Nee onvoorwaardelike algehele bekering soos God dit aan Salomo bekend maak in II Kron 7 v 13 en 14.

  5. Dankie Slabbert. Dogtertjies word vandag al van kleins af geleer deur die klere wat die Pop bedryf aan hulle bemark om alles reg te kry met hul lywe. Dogtertjies van 8 en 10 jaar se klere het prente op met buuste wat doer staan. Waarvoor moet ‘n dogtertjie van daai ouderdom al geleer word dis wat aandag trek.

    Ek het self twee dogtertjies van 8 en 10. As ons vir hulle gaan klere koop by Woolworths dan moet jy mooi kyk wat jy vir hulle koop.

  6. Ek sê dit nou vir ‘n 3rde en ‘n laaste keer: Dit spyt my dat die Heilige Skrif grondtoe geruk word vir hierdie onderwerp.
    Maar aangesien ons dit nou reeds gedoen het, hier is nog aanhalings vir oorweging:

    “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”

    “EN die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp. En Jesus het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.”

    Julle Afrikaanse oumense!! Bestraf julle vir julle hoogmoed! Julle vertrap elke komende generasie en dan kerm julle dat die kerke leeg is! Hou tog op om ons koppe van ons lywe af te kla en leef vir ons die voorbeeld. Die Here is nie gebind aan julle idees nie, Die Here is tydloos, Hy is daar toe mans rokke gedra het, Hy is daar toe mans baarde gedra het, Hy is daar toe predekers klokke en wierook gedra het, Hy is daar, meestal kaal aan ‘n kruis.

    1. Andre, jou ‘jeugdige’ arrogansie hier op my blog begin al meer ‘n probleem raak. ‘n Vorige keer het dit ook plaasgevind met ‘n ouer gelowige wat jy nie behandel het volgens wat die Here ons leer in 1 Tim.5:1 nie. Jy het nog niks bygedra waarom die Skrif volgens jou niks leer oor kleredrag nie. Jy haal verse buite konteks aan en lees ook nie wat ek bv geskryf het nie. Ek stel dit baie duidelik dat kleredrag ons nie red nie, dat dit Christus alleen is, maar kleredrag is deel van die vrug van ons verlossing, ons heiligmaking. As ek met ‘n prostituut of jongmeisie sou gesels wat half kaal aangetrek is, sal ek natuurlik eerstens en sentraal oor die evangelie praat, maar later dan ook dat as ons dan glo in Christus, begin ons hele lewe verander, o.a. ook ons kleredrag.

      Dit klink asof jy net Jesus as Verlosser wil bely, maar nie as Koning van jou hele lewe en dus jou klerekas en modes nie. En, as jy daarop roem dat jy gereformeerd wil wees, is so siening totaal onbybels en ongereformeerd, want ons glo nie ‘n halwe verlosser of halwe koning nie. HK v/a 114 (ons strewe om in dankbaarheid te lewe volgens al sy gebooie, nie net die wat ek kies of by my lewe aanpas nie)

      Ek herhaal, jy het nog glad nie uit die Skrif aangetoon dat kleredrag glad nie saakmaak vir die Here nie. En ek vra weer, hou op om my en ander gelowiges se woorde te verdraai, lees mooi wat ons skryf, hou op valse etikette skep en ons probeer opplak.

      As jy aanhou daarmee gaan ek jou moet verwyder van my blog.

      1. Liewe genugtig jou hoef nie elke keer persoonlik te word net omdat iemand nie saam stem nie. Ek het probleme met hierdie artikel en gesprek. As dit ‘n probleem is dat ek nie saamstem nie, is dit beter om my te blok, want ek sal altyd sê as ek nie saamstem nie, selfs al word ek dan gnosties of arogant genoem. Verag dan liewer my jonkheid en blok my.

        1.Ek hou nie daarvan as die Bybel so reaksionêr ingespan word nie. Die Bybel het ‘n boodskap onafhanklik van wat vandag in die Beeld of die Rapport staan.
        2. As die Christene in julle kerke soos hoere aantrek dan is die probleem tog veel dieper as bloot dat hulle nie weet wat in die Bybel staan nie.
        “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
        Dalk is die probleem eerder dat heiligmaking en vernuwing onder julle nie plaas vind nie.

      2. Andre, die problem is juis, jy ‘verskil’ nie net nie, maar kla aan en veroordeel juis hulle wat met jou modesieninge verskil. Skep asem, en gaan lees rustig die ‘debat’ soos hy ontvou het tot dusver, en vra jou eerlik af of veral jou tweedelaaste boodskap hier bloot maar net ‘verskil’ is.

        Wat jou reaksie aanklaag betref, dit is eintlik lagwekkend dat jy so iets noem. Die gelowiges, die kerk van Christus word geroep om beide te doen, om – in jou woorde reaksioner te wees maar ook aksioner te wees, d.w.s. om op te bou en af te breek. Lees maar weer die boek Prediker, veral hoofstuk 3, lees Jer.1 hoe Jeremia moet opbou en afbreek, uitruk en plant.

        Ons moet pro-aktief die evangelie en Woord verkondig, maar ook die leuens en dwalinge gevange neem en afbreek en vernietig. Sien bv. 2 Kor.10:3-6. Ons moet bemoedig en vertroos en vermaan en berispe, sien 2 Tim.4:1-5. En so kan ons aangaan.

        Sodra iemand begin hammer op ‘moenie so negatief wees nie, of moenie so reaksioner wees nie,’ dan se hy eintlik: God se Woord, sy bevele moet my nie vertel wat om te doen en nie te doen nie, ek sal net ‘positief’ wees …. eintlik my eie baas wees met ‘n jesus wat my dien.

        Die wet/bevele van die Here red ons nie, maar dit is ons tugmeester na Christus wat ons alleen red. En hoekom word ons kwaad vir die tugmeester ? Omdat dit ons aanklae as ons oortree en sy wet verag. Jou hewige reaksie ontbloot ongelukkig laasgenoemde.

        Oor sonde onder ons, natuurlik is ons altyd saam in die stryd teen onheiligheid en gebrek aan toegewyding aan die Here. Ek skryf nie hierdie dinge omdat ek ge-arriveer het of reeds in die hemele is nie, inteendeel ! Saam met alle gelowiges wat erns maak met ons liefde vir Jesus en ons naaste is ons gebroke as ons in woord, daad en/of gedagte sy goeie gebooie oortree. Nes Dawid kan enige gelowige struikel, soos Paulus is ons die grootste van sondaars (1 Tim.1:15).

        Maar dit alles gese, verander dit nie die Here se goeie wet vir ons lewens nie, dat Hy ons roep tot kuisheid in ons hele lewe, ook wat ons kleredrag betref. Dit lyk dus vir my daar is ‘n deel van jou lewe en denke wat jy opnuut oor moet besin. Ja, ons is vry in Christus, maar vry om nou in dankbaarheid Hom te dien deur Gees en Woord. Die gelowige het ‘n behae om die Here te eer, ook in kleredrag.

        Laastens, hoe verstaan jy Rom.13:14 van toepassing op kleredrag ?

      3. Elke dag trek ek ‘n broek en ‘n hemp aan. Meer as dit het hierdie onderwerp nie regtig iets met my te doen nie.
        Ek moes nooit hier komentaar gelewer het nie, jammer daaroor.

Leave a Reply to christinalouw Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: