In die tye van materialisme en omkeerstrategieë is dit goed om die volgende twee Skrifoordenkings te lees, om opnuut te besin of ons as Christene soos Lot en Egipte dink, of soos Abraham en Moses se ouers, in die aanvaarding of verwerping van die kinderseën ?
1. Imago Dei and the Population Debate, E. Calvin Beisner
“If I were to point to one thing that most saddens me about the propensity among many today—including many devout and honest Christians—to fear population growth and its impact on resources and the environment, it would be that in this fear they think more like Lot than like Abram. They focus on the material world rather than on the infinite faithfulness and goodness of God, and their choices—like Lot’s—reflect their belief that the present state of the world sets the boundaries of human expectations. In this fear they do not, like Abram, focus on the promises of God and His perfect faithfulness and power to fulfill them. To them I would say with Paul—recognizing that he used the language in a different context—”Set your minds on things above, not on earthly things” (Colossians 3:2).”
Lees die volledige oordenking hier.
2. Jógebed se kindjie was vir haar kosbaar en mooi, ds. MJ Booyens
“En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek” (Ex. 2:2).
Geen toekoms – geen kinders
Die kindjie moes eintlik nie gebore word nie.
Dit het Jógebed en haar man, Amram, immers goed geweet. Buite sluip die soldate van Farao rond en hulle soek in Israel alle babaseuntjies om hulle in die Nyl vir die krokodille te voer.
Hulle het ook geweet dat hulle volk, Israel, in Egipte ‘n slawevolk geword het . . .
Amram sou elke aand terugkeer huis toe met deurgewerkte en vereëlte hande. Moontlik sou ook sy rug nog rou wees van die sweepslae van die Egiptiese slawedrywers. Ag, die Here, die God van Abraham, Isak en Jakob, hulle voorvaders, het sy volk in Egipte vergeet en verlaat.
Wat het van God se belofte geword?
“Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak … Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou . . . Ek sal aan jou nageslag die land … die hele land Kanaän as ‘n ewige besitting gee . . . Ek sal vir hulle ‘n God wees” (Gen. 17:6-8).
Nee, my vrou!
Vrugbaar is hulle wel, maar hulle woon as slawe in ‘n vreemde land – die “slawehuis van Egipte.” En die verdrukking word al harder en die kindermoord al wreder.
Nee Jógebed, my liewe vrou, liewer nie meer kinders nie. Tye is te donker. Word die kindertjies nie vermoor deur die bloeddorstige Farao nie? Wag daar nie vir hulle maar net dit wat ons nou ondervind nie – en miskien nog baie erger. Hulle sal verslaaf en verdruk en gemartel word tot in die aarde toe . . . Laat ons tog oppas dat daar nie ‘n kind gebore mag word nie.
Hulle glo in God se beloftes
Nee, Amram en Jógebed het nie so gedink nie. Hulle het immers nie in die twintigste eeu met sy “verligte” idees geleef nie. Hulle het nog in hulle eenvoud geglo in God en sy beloftes. Hulle het geglo dat kindertjies ‘n gawe uit die hand van die Here is.
Hulle het selfs geglo dat God ‘n doel het met die verdrukking in Egipte en die wreedaardige kindermoord. En daarom leef hulle saam as man en vrou, soos dit normaalweg hoort en soos God dit normaalweg wil hê. Hulle harte is kinderlik en afhanklik gerig op God en sy beloftes – ook die belofte van die kinderseën en die verbondseën.
So word sy volk gebou. So word kinders vir sy koninkryk gebore.
So word die getal van die uitverkorenes vol. Gelukkig is daar, ten spyte van lewenskoste en bevolkingsontploffing en kommunistiese bedreiging, nog mense wat glo soos Amram en Jógebed geglo het. Hulle weet dat God kinders gee en hulle nie verniet gee nie.
Geen kind word verniet gebore nie en geen kind is in die oë van God oortollig nie.
Hy is mooi
En Jógebed druk die pasgebore seuntjie aan haar moederhart. En die klein outjie het geweet dat hy ‘n moeder het – wat haar kind liefhet. Sy bekyk haar kindjie soos elke moeder die nuwe “wondertjie” bekyk. En sy sien dat hy mooi is.
Watter ware moeder is daar vir wie haar pasgebore baba nie mooi is nie, al is hy dalk vir andere skreeulelik?
En tog sou hierdie uitdrukking in die Bybel meer beteken as dat Jogebed se baba net maar mooi was, soos alle ander babas vir hulle mammies mooi is. Ons kan haar gedagte moontlik so vertolk:
Sy het gelowig gesien en daarom geweet dat God iets besonders in vooruitsig het vir die seuntjie.
Sy sou nie kon weet wat die toekoms vir haar seuntjie inhou nie, maar sy het geweet dat God wel weet en oor hom sal waak en die goeie oor hom beskik. In elk geval was hy vir haar so kosbaar dat sy moeite gedoen het om hom teen die moordaanslae van Farao te beskerm.
Ons kan ook daarvan seker wees dat Amram en Jogebed in die dae baie en dringend gebid het. En dat sy uiteindelik haar kindjie in ‘n biesiebootjie met pik bestryk, aan die Nyl met sy krokodille en al prysgee, is ‘n geloofsdaad by uitnemendheid. Sy het geglo dat God se hand oor die seuntjie is, omdat sy hom uit die hand van dieselfde God ontvang het. Daarom gee sy hom nie prys aan die Nyl nie, maar gee hom oor in die hande van haar hemelse Vader.
Hy kan beter na hom kyk as sy bloedeie moeder.
Glo die Here waak oor hom
En haar geloof is nie beskaam nie.
Die kindjie raak selfs nie los van God toe hy in die heidense paleis van Farao, tussen die genot van die sonde, opgroei nie.
En dieselfde seuntjie is later die bekende Moses wat sy volk, deur God se genade, uit Egipteland uitlei.
God is getrou.
Toe Israel swoeg in slawebande beskik Hy dat ‘n moeder geboorte gee aan ‘n seuntjie. Ondanks moordlustige soldate en honger krokodille beskerm Hy die seuntjie omdat Hy hom beskik het as die “verlosser” van sy volk uit die slawehuis.
Gawe uit die hand van die Here
Salig is die man en vrou wat kindertjies verwek en ontvang as gawes uit die hand van die Here. Geen kindjie te veel word gebore nie en geen kindjie word verniet gebore nie. Selfs die swakkes en die sieklikes, hulle wat min verstand het en gebrekkig is, word nie tevergeefs gebore nie.
Van ‘n blindgeborene sê Jesus in Johannes 9 : “. . . die werke van God moet in hom openbaar word.”
Wie weet watter werke van God volbring moet word selfs in die “ongewenste” kindjie, wat “per ongeluk” gebore word?
Wees dan nie ongelowig nie, maar gelowig. God beskik beter as wat ons kan bereken.
Hy sorg beter vir tien kinders as wat ons vir een of twee kan sorg.
Dit is ‘n bekende feit dat kinders uit ‘n groot gesin – selfs met baie ontberinge grootgemaak – in die algemeen beter opgevoed en beter aangepas is as die uit klein gesinne.
“Verstandig” in ons oë kan “ongelowig” in die oë van God beteken.
Vanselfsprekend is daar ook gelowige ouers wat maar te dankbaar sou wees om meer kinders te hê, maar die voorreg nie smaak nie, omdat die Here ook dit so beskik.
(Nota: sien verdere artikels oor die onderwerp hier: Kinders)
Wat is oorbevolking en is daar werklik so ‘n probleem? Kan ons boere in die voedselvraag van die wêreldbevolking voorsien sonder om kossoorte geneties te manipuleer?
Mevrou, om net ‘n gevoel te kry van wat oorbevolking beteken wil ek graag hierdie uiterste voorstelling doen.
Al 7 Biljoen mense op die aarde kan in die Vrystaat ingepas word met elkeen ‘n kamer van 4,3 m x 4,3 m, of in Suid Afrika met elkeen ‘n huisie van 13 m x 13 m, mans, vrouens en kinders. Of as ons ‘n gemiddelde huishouding van 4 mense gebruik (uiters konserwatief) sou elke gesin een hektaar in die SADC gebied kan he.
Daar word daagliks meer kos vermors as wat die huidige tekort aan kos is (wereldwyd).
Daar is nie ‘n praktiese beperking tov bevolking nie, maar ‘n selfgeskape sosio-ekonomiese beperking. As ek die Ds Booyens se artikel hierbo lees, is hierdie selfgeskape sosio-ekonomiese beperking teenstrydig met dit wat God van ons vra.
Ons hoef nie so bekommerd te wees oor oorbevolking nie, as oor die magte van hierdie wereld.