Prk Jes 52 (Nagmaal) Hier is Ek GK Matlabas 2013 05 26
ds Gustav Opperman
Lees Jes 52:1-6
Teks: Jes 52:6 Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek!
Tema: Hier is Ek, sê die Here
Psalms: 122:1; 122:2; 130:1,2; 130:3,4; 23:3; 116; 103:1,2
Broers en Susters,
Die nagmaal is ‘n feesmaal.
Die tafel van die Here is ‘n feestafel.
Die gelowige gemeente is die bruid by die bruilof,
aangetrek in sierlike wit klere.
Hier staan ons almal uit die kerkbanke op, oud en jonk,
sommige sterk in die geloof, ander swak in die geloof.
Hier staan ons op uit die kerkbanke en ons loop die Bruidegom tegemoet.
Kyk, Hy staan hier voor u.
U het sy Naam leer ken.
Dis Hy wat hier voor U staan:
Hy sê: Hier is Ek!
Ontwaak, ontwaak o Jerusalem, o Heilige stad, sê ons Skrifgedeelte.
Word wakker, word wakker, gemeente van die Here,
sê die HERE vir ons vandag.
Julle wat so lank as wat die mens kan onthou, in ballingskap was.
Julle wat jare lank al swaarkry in ‘n vreemde land.
Julle wat die siter en harpe aan die bome langs die riviere van Babel opgehang het,
en daar geween het, want julle kon nie die lied van die Here daar sing nie …
Ja, as jy met kettings vasgemaak is, dan stik jy in die woorde van die lofpsalms.
As jou mond aangepak is van die stof ,
dan wil die woorde nie vorm nie …
So is dit vandag nog as die lewe druk,
dan sukkel ons om ‘n loflied te sing.
Juig al wat leef, juig voor die Heer …
Dit wil maar net nie uit kom nie.
Vêr van die huis,
vêr van die Here,
maak die woorde ‘n knop in my keel.
Daarom word die siter en die harpe liewers aan die bome gehang.
Hang die siters en die harpe ook aan die bome rondom u, Geliefdes.
Voel u ook meermale dat u nie die lofpsalms kan sing nie?
Voel u ook meermale vêr, baie vêr van die Here?
Nou, sê die Here,
vandag, hier in die gemeente, sê die Here Jesus deur sy profeet Jesaja:
“Word wakker, staan op!”
Beklee jou met sterkte.
Trek die krag van God aan soos jy ‘n baadjie sal aantrek …
die krag van Sy beloftes;
die krag van Sy oorwinning.
Maak God se genadewoorde jou eie,
so eie aan jou soos ‘n baadjie aan jou lyf.
Daarin lê jou sterkte.
En dit vra sterkte in die geloof, Broeders en Susters,
om te glo dat God van die puinhoop van ons lewens ‘n pragtige huis kan bou,
dat God ‘n heiligdom uit ‘n ashoop kan maak
en dat geen onbesnede of onreine meer in Jerusalem sal kom nie.
Ja, Broers en Susters, dis deel van God se wonderlike verlossingsplan met ons.
Hy soek geen onbesnedes en geen onreines in ons geledere nie …
Hy verlos nie net sy bruidskerk nie,
maar Hy sit haar ook die pad van heiligmaking …
Skud jou los uit die stof, staan op!
Kom na die nagmaaltafel
en sien Wie daar op jou wag, o dogter van Jerusalem.
Kyk, die Here roep u na sy nagmaalstafel.
U ken miskien die kettings van die sonde.
Die goeie wat u wil doen,
dit doen u nie.
Die kwaad wat wat u nie wil doen nie,
dit doen u.
U het al by meer as geleentheid uitgeroep,
soos Paulus:
Ek, ellendige mens!
Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
U ken miskien die donker put van depressie,
vêr van die Here se genade …
U ken dalk die bande en die strikke van die dood
waarvan ons in Psalm 116 sing.
U ken dit al vir jare al …
Slapelose nagte,
nagte van rondrol,
nagte van van twyfel en kommer.
Kom almal wat vermoeid en belas is,
hoor ons die Here Jesus sê
en deur Jesaja sê dieselfde Here:
Kom maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!
Kyk die Here het klaar die kettings gebreek.
Jy moet net ontwaak.
Jy moet net opstaan.
Jy moet net die bande en kettings afhaal,
hulle is klaar los, haal hulle net af.
Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer!
Kom sit neer aan die nagmaalstafel.
Dis ‘n troon wat u aangebied word.
Elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.
Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word (Luk 14:11),
lees ons in die Evangelies.
Vir Babel sê die Here in Jes 47:1
Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel!
Sit op die grond sonder troon.
Vir ons, vir Jerusalem, sê die Here:
Skud jou los uit die stof, staan op en sit neer.
Ek plaas jou op ‘n troon,
hier aan die nagmaaltafel.
Vir niks is julle verkoop aan Babilon
julle sal ook sonder geld gelos word.
Die Babiloners het julle verniet verkry,
maar hulle het ook nie waardeeer wat hulle gehad het nie.
Hulle het dit nie waardeer
om ‘n volk in hulle midde te hê wat die Here ken nie.
Hulle het geen waardering daarvoor gehad nie.
Nee, die Here se Naam was eerder deur hulle gelaster,
gedurigdeur die hele dag gelaster …
Daarom vat die Here terug wat syne is,
sonder om die Babiloniërs te betaal.
Uit die slawerny van Egipte,
uit die ballingskap van Assirië en Babilon,
uit elke onderdukkende omstandigheid sal die Here sy volk verlos.
Hy sal nie sy bruidskerk maar net aan haar lot oorlaat nie,
want Hy is die God
wat nie die werke van sy hande laat vaar nie.
Ook die onderdukkende omstandighede wat daar in ons lewens mag wees:
wêreldomstandighede, landsomstandighede, werksomstandighede;
die onderdrukking in die vorm van regstellende aksie en transformasie;
die teneerdrukkende omstandighede van ‘n samelewing
wat besig is om in ‘n moeras van chaos weg te sink;
onderdukkingende geestestoestande of selfs gesinstoestande,
waar mense binne dieselfde gesin of huwelik mekaar manipuleer en uitbuit.
Ook die die onderdrukking van ons eie sonde toestand,
ons eie verslawings en obsessies en depressies.
Elke vorm van onderdrukking.
Die HERE gaan ons nie maar net aan ons lot oorlaat nie.
Hy het dit nie in die verlede gedoen nie
en Hy sal dit ook nie in die toekoms doen nie.
Daarvan verseker die brood en die wyn ons aan die nagmaaltafel.
En u moet dit tog onthou, Broeders en Susters,
wanneer u vandag as verlostes aan die nagmaaltafel sit.
U skuld die duiwel en die wêreld niks,
net soos die HERE hulle niks skuld nie.
Die uitverkorenes van God het nog altyd net aan Hom behoort!
Babilon wil nie Here se Naam ken nie.
Die wêreld wil nie sy Naam ken ken nie.
Hulle wil die HERE se Naam laster.
Maar sy volk sal sy Naam leer ken.
Ken … die Hebreeuse woord: jada.
Dis nie ken in die opsig van “weet van” nie.
Dis nie die oppervlakige ken van “ek het al iewers gehoor van nie”.
Dis die intieme ken soos die kennis wat daar tussen ‘n man en ‘n vrou is.
Dis die ‘n deurleefde ken,
dis die ken van ervaring.
Dis die “ken” van die verlate eensame weduwee
wat opgewek is uit haar mismoedigheid …
Ontwaak, Ontwaak, o Jerusalem, my bruid, beklee jou met sterkte!
Dis die ken van iemand wat uit die stof opgetel is
en op die koningin se troon neergesit is.
Hoe wonderlik om U leer te ken, HERE van die leerskare!
U te leer ken
so soos U U aan Moses openbaar het.
Ek is wat ek is,
het U daardie dag aan Moses gesê
toe U aan hom by die brandende bos verskyn het.
Ek is die HERE wat die volk uit Egipteland gaan bevry.
Hier is Ek, het ons vandag in Jesaja 52 gelees.
Ek is die HERE wat Jerusalem uit die stof optel.
Hier is Ek,
sê die Here Jesus in die Nuwe Testament in de Evangelie volgens Lukus.
Hy sê hierdie woorde in die sinagoge van Kapernaum.
En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig
en toe die Here Jesus die boek oopmaak,
kry Hy die plek waar geskrywe is:
Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.
Hy het My gestuur
om die wat verbryseld van hart is, te genees;
om aan gevangenes vrylating te verkondig;
om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur;
om die aangename jaar van die Here aan te kondig.
Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het,
het Hy gaan sit.
Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.
Toe begin Hy hulle toespreek:
Vandag, sê Hy,
is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.
Die HERE Jesus bied Homself aan sy volk aan.
Hier is Ek, sê Hy.
Hier is Ek,
sê die HERE vandag vir ons by die nagmaaltafel.
Hier leer ons Hom ken,
intiem ken as die God van bevryding;
as die God wat sondaars optel uit die stof.
Hier leer ons Hom ken as Immanuel,
God met ons.
Ek, ellendige mens!
Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!
Amen.
Leave a Reply