Posted by: proregno | June 14, 2013

HGS – reeks: hoofstuk 3 Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

– hfst.1: Man en vrou het Hy hulle geskape 

– hfst.2: Die Here bring die vrou na haar man 

Hoofstuk 3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

“Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Gen. 2:24).

Eenheid

Die eenheid tussen man en vrou is die innigste eenheid wat daar tussen mense op aarde kan bestaan. Hulle is een vlees of een liggaam. God het hulle so gemaak dat hulle waarlik een kon wees en mekaar so aanvul dat hulle in hul eenheid hulle menswees eers reg kan uitlewe.

Die liggaamlike eenheid beteken ook geestelike eenheid – in alle opsigte is hulle een:

– in die liefde vir God en hulle diens aan Hom;

– in hulle liefde vir mekaar en hulle medemense;

– in hulle heerskappy oor die skepping en die bewaking daarvan teen die bose aanslae van die duiwel.

Oral en altyd tree hulle as die twee-eenheid op. Daarom moes daar nog iets bygevoeg word by die instelling van die huwelik.

Met die byvoeging moet ook ‘n verlating plaasvind, naamlik die verlating van die ouers. Adam kon dit nie byvoeg nie, want hy het geen ouers gehad om te verlaat nie. Dit word ook nie gesê dat God self hieromtrent nou persoonlik aan die woord is nie. Ons kan dus wel aanneem dat Moses, die skrywer van die boek Genesis, nou kommentaar lewer met die oog op die lesers van sy tyd. Hy maak, na die instelling van die huwelik deur God self, ‘n afleiding vir sy tyd en alle tye.

Die waarheid geld ook vir ons:

“Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle twee sal een vlees wees.”

Wonder van kinderseën

Uit hulle liefdeseenheid ontvang man en vrou ‘n ekstra gawe of toegif – die kinderseën. En dit is wonderlik om die nuwe liggaampie in jou hande te hou en aan jou hart te druk. “Dit is myne!” klink dit met innigheid en vreugde uit die hart en oor die lippe. Die wonder van ouerskap is iets wat ‘n mens moet ondervind om enigsins te weet wat dit inhou.

Maar die kleinding groei op. Hy leer om te kruip en eindelik loop hy op waggelbeentjies. Hy begin met brabbeltaal en netnou gesels hy gesellig met pappie en mammie. En dan begin hy al meer en meer los word van die sorg en afhanklikheid van sy ouers. Gelukkig is die pa wat hom nie ‘n afhanklike kind wil hou nie. En geseënd is die ma wat haar kind nie aan haar rokspante vasknoop nie. Hulle moet opgroei en selfstandig word – sodat hulle hulself kan help. Hulle moet, dogters en seuns, gebalanseerde mense word, wat ook uiteindelik ‘n hulp kan wees wat by iemand anders pas. So wil God dit immers hê.

Band met ouers

En nou is en bly dit maar ‘n moeilike karwei vir vader en moeder om hulle seun of dogter los te laat. Hulle wil so graag vashou – die kinders wat uit hulle eie lende en liggaam kom. En dit kan ook maklik gebeur dat ‘n man nog so vasgeknoop is aan vader of moeder, dat hy wel trou, maar in dieselfde of groter mate aan pa of ma vashou. Vanselfsprekend kan dit ook met die vrou gebeur dat sy haar nie kan losmaak van die bande met haar ouers en haar man aankleef nie.

Dit gaan nie hier om die liefdesband tussen ouers en kinders en kleinkinders nie. In die gelukkige en normale gesin is en bly dit ‘n vreugdevolle band. Eerbied en liefde vir jou ouers, al is jy getroud, hou ‘n ryke seën in. Liefde en sorg oor jou getroude kinders en jou kleinkinders is ‘n vanselfsprekende eis vir elke Christen. Psalm 128, die lied oor die geluk van die man wat die Here vrees, hou ook dit in:

“… gelukkig is jy . . .”

“Jou vrou is soos ‘n vrugbare “Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. en dat jy jou ‘kleinkinders’ mag aanskou.”

Daar is ook ‘n bepaalde saamlewe van ouers en getroude kinders met hulle gesinne, wat God welgevallig is. Dit dra veel by tot harmonie ook binne die getroude lewe van die kinders.

Gevaarlike bande

Maar daar is die een groot gevaar, wat Moses ken. En hy sê dit onder inspirasie van die Heilige Gees:

“Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef.”

Hier, in die intieme omgang en innige band tussen man en vrou, mag vader en moeder geen beletsel wees nie. Hulle mag nie indring in die verhouding tussen man en vrou nie, al geld dit hulle eie kind. Dit is soms ‘n baie moeilike eis beide vir ouers en getroude kinders, veral omdat ons liefhet, maar ook omdat ons sondaars is. Bemoeisieke ouers het al baie huwelike verongeluk.

Maar ook die man of vrou wat te veel verkleefd is aan hulle ouers en onvolwasse kinders bly, moes ook al hulle tol betaal – tot eie skande en skade. God het geweet – al lank voordat sielkundiges en huweliksvoorligters dit uitgevind het.


Responses

  1. […] – hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan […]

  2. […] – hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan […]

  3. […] – hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan […]

  4. […] – hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: