VIDA en die hoofbedekking van 1 Korinthiërs 11

Wat is die verskil tussen gereformeerd wees en konserwatief/behoudend wees ?

Laasgenoemde wil net ‘n bepaalde orde ‘behou’ en/of anti-iets wees, teen iets wees, maar as jy vra waarvoor staan jy, waarheen is jy oppad, wat glo jy, pro-wat is jy, dan is daar nie veel antwoorde nie, of so iemand is bloot ‘teen die liberales en vrysinniges’.

Gereformeerd wees is semper reformanda, aanhou reformeer volgens die Woord deur die krag van die Gees.

Gereformeerd wees staan in die lig van Hand.17:11,

En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

Die hele lewe, beginnende met my eie lewe, maar ook my gesin, gemeente, kerkverband, gemeenskap, ens., word heeltyd getoets aan die Heilige Skrif: wat staan geskrywe ?

Gereformeerd wees laat hom nie afskrik deur allerlei etikette en valse aantuigings wat teen jou gemaak word nie (hetsy die ‘biblisisme’ etiket vanuit die liberale kamp, of die ‘amish’ etiket vanuit die behoudende kamp nie), maar soek die behae van die Here deur sy Woord (Ps.119).

Konserwatisme, ‘behoudend’ wees probeer baie lidmate manipuleer deur groepsdruk en menslike tradisies wat nagevolg word, die ‘ons-doen-dinge-so’ strategie.

Gereformeerd wees as sola Scriptura, is juis belydenis-georiënteerd in die ware sin van die woord, ‘n ware ‘ons’ volgens die Skrif, want die belydenis roep onsself as gereformeerdes op om die Skrif as ons hoogste gesag te handhaaf en nie:

“… die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9 [Ou Vert. Vers 10]). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10).”

Daarom wil gereformeerdes die volle raad van God hoor (Hand.20:27) vanuit die Skrif, en is daar nie ‘n gemanipuleerde agenda wat bepaal waaroor ‘ons’ nou moet preek, of waarop ‘ons’ nou moet fokus nie, bv. die omkeerstrategie.

In my plaaslike gemeente (GK Carletonville) is ek besig om deur 1 Korinthiërs te preek, en die afgelope Sondag het die Here se voorsienigheid ons gebring by 1 Kor.11:1-16, wat handel oor die hoofbedekking vir die vrou in die eredienste.   Die maklike maar verkeerde weg (2 Tim.4:3,4) is om dit te ignoreer en verby te gaan, want ons tye is mos ‘sensitief’ vir sulke dinge.

Daar is al baie geskryf, gepreek en besin oor hierdie onderwerp in die verlede, nie so veel in vandag se tye nie.  Hier onder plaas ek my preek oor die gedeelte. Een preek oor die saak kan nie reg laat geskied aan die Teks nie.  Ek het wel probeer om inleidend die saak aan te raak, met die hoop dat dit sal lei tot verdere sola Scriptura besinning, want ek sien onderliggend aan die hoofbedekking saak en die VIDA saak dieselfde wesentlike vraag:

Begrond Paulus die hoofbedekking/geen VIDA (1 Tim.2:11,12) op die kultuur (sosio-historiese) aspekte van sy tyd,  of op die skeppings/gesagsorde wat God daargestel het, wat ook vir die NT bedeling geld ?

Daar is ook ander belangrike vrae uit hierdie teks wat beantwoord moet word:

– wat behels ‘bid of profeteer’ in verse 4,5 ?

– beteken ‘bid of profeteer’ in v.5 dat die vrou dan maak preek en leer in die eredienste ?

– wat spesifiek is die ‘bedekking’: iets bo op die hare/hoof of die hare self ?

– waarna verwys die ‘natuur’ in v.14,15: gebruike en gewoontes, of die skeppingsorde, wat natuurlik is volgens die skepping ?

– ‘leringe’ en ‘gewoonte’ van v.2 en v.16, dui dit op iets wat van verbygaande aard is, op is dit apostoliese leer en gebruike wat geld vir die hele NT bedeling.  Dui die ‘gewoonte’ van v.16 op die ‘twisgierigheid’ of die ‘hoofbedekking’ ?

Hierdie is maar net ‘n paar vrae, en in my preek het ek nie naastenby by alles uitgekom soos ek wou nie.  Die tyd(sgees) het my ingehaal ! 😉

Daarom dat ek vir die ware gereformeerde Bybelondersoeker (Hand.17:11) die volgende paar artikels wil aanbeveel wat ek geraadpleeg het oor die saak, wat ek meen die saak die beste aanspreek (ek stem nie noodwendig met elke detail saam nie), asook ‘n oorsig gee van verskillende verklarings van hierdie gedeelte:

1. What is the Head Covering in 1 Cor 11:2-16 and Does it Apply to Us Today?, Daniel B. Wallace

Wallace gee die 4 mees algemene verklarings oor die hoofbedekking:

(1) This text has no applicability to us today. Paul is speaking about a ‘tradition’ that he has handed on. Hence, since this is not the tradition of the modern church, we hardly need to consider this text.

(2) The head covering is the hair. Hence, the applicability today is that women should wear (relatively) long hair.

(3) The head covering is a real head covering and the text is applicable today, in the same way as it was in Paul’s day. Within this view are two basic sub-views:

  • The head covering is to be worn by all women in the church service.
  • The head covering is to be worn by women in the church service only when praying or prophesying publicly.

(4) The head covering is a meaningful symbol in the ancient world that needs some sort of corresponding symbol today, but not necessarily a head covering. This also involves the same two sub-views as #3 above.

en verduidelik dan waarom a) verklaring 1 en 2 eksegeties onhoudbaar is, en b) waarom hy die laaste verklaring ondersteun. Dit is ‘n goeie inleidende oorsig oor die onderwerp.

2. 1 Korinthiërs 11:2-16: ‘n Hermeneuties-Eksegetiese Studie, GJ Van Wyk  

Hierdie is die beste studie waarvan ek bewus is in Afrikaans oor die onderwerp.  Dit is as werkstuk gedoen in 1980 onder leiding van prof. dr. L. Floor.  Hier is die studie se ‘konkluderende opmerkings’ (dr. Gerrie van Wyk is tans leraar van die GK Rustenburg, dit is met sy toestemming dat sy werkstuk hier geplaas word):

1. Die uitgangspunt van hierdie perikoop is geleë in vers 3. Dit handel oor die verhouding man en vrou binne die Goddelike gesagsorde.

2. Die getroude vrou staan onder die hoofskap van haar eie man.

3. Dit is nie sonder meer duidelik of die ongetroudes uitgesluit is van hierdie opdrag van die apostel Paulus nie.

4. Die hoofbedekking vervul ‘n baie belangrike funksie. Dit dien die verhouding man en vrou.

5. Die apostel Paulus maak melding van ‘n tweërlei bedekking nl, die hare as eerste bedekking en ‘n vreemde voorwerp op die kop, naas die hare, as tweede bedekking.

6. Dit gaan in hierdie perikoop om die innerlike aanvaarding van die hoofskap van die man, maar ook om ‘n uiterlike vergestalting, wat betuig dat die saak aanvaar word.

7. Hierdie uiterlike voorskrif (die tweede bedekking) is SLEGS van toepassing op die openbare erediens. Sowel binne die erediens as daarbuite geld die beginsel (vers 3) wat die verhouding tussen man en vrou reël.

8. By die verklaring van die Heilige Skrif moet steeds rekeninggehou word met die tydgerigtheid en universaliteit van die Godsopenbaring.

9. Die prediking van die apostel Paulus is nie tydgebonde nie, maar tydgerig. Dit sluit aan by die gewoontes en sedes van daardie tyd. Dit is in die eerste plek gerig tot die gemeente van Korinthe in haar besondere omstandighede.

10. Alhoewel Paulus aansluit by die gewoontes van sy tyd, neem hy dit nie net so oor nie. Hy gee daaraan ‘n eie unieke, christelike inhoud. Daarom kan die hoofbedekking as ‘n-eie christelike onderskeidingsteken beskou word.

11. Die prediking van die apostel is paradosis of oorlewering. Dit is die evangelie van jesus Christus: Daarom is dit ook universele prediking wat vandag nog gesagvol spreek: Dit reël ook die verhouding man en vrou ook in die twintigste eeu.

12. Die hoofbedekking mag nie buite rekening gelaat word in hierdie gedeelte nie. Die hoofbedekking is evangelie. Dit verkondig Christus en Hom as Middelaar, wat die oorspronklike verhouding tussen man en vrou herstel hét.

13. Die voorskrif rakende die hoofbedekking van die vrou en die regte verhouding tussen man en vrou is vandag nog van toepassing op die Kerk van Jesus Christus.

3. Headcoverings, MJ Marlowe

Hierdie is ‘n reeks artikels wat die sosio-historiese studies oor die saak deeglik beantwoord, onder andere standpunte soos ‘dit was alleen vroue prostitute en vroue slawe wat kort of geskeerde hare gedra het, en daarom het Paulus dit teen ‘n gebruik van sy tyd, en is die hoofbedekking nie vir die hele NT bedeling bedoel nie’.  Sien veral die volgende artikel van Marlowe wat ‘n deeglikse eksegetiese verklaring is van verse 1-16:

The Woman’s Headcovering

Die voetnotas alleen in hierdie artikel is goud werd.  In die nota’s weerlê hy egalitariese (pro-VIDA) verklaarders soos die bekende Thiselton en Fee wat hierdie gedeelte deur hul sosio-historiese brille bestudeer.  Meeste of al die vrae wat ek hierbo genoem het, word ook deeglik beantwoord vanuit die Skrif deur hierdie reeks van artikels.

Hier is my eie inleidende preek oor die onderwerp:  Die hoofbedekking – 1 Kor.11

REGSTELLING: in my preek noem ek dat die GKSA deur sy sinodes in die 1970’s/80’s besluit het die hoofbedekking is nie meer ‘n opdrag van die Here vir die kerk vandag nie. Dit is nie korrek nie, die GKSA het nooit ‘n amptelike besluit deur sy sinodes oor die saak geneem nie, en elke plaaslike kerk het en kan oor die saak handel soos hul oortuig is volgens die Skrif.  Hier is die korrekte bewoording soos ek dit ook hier onder in my geskrewe teks reggestel het:

“Ons eie kerkverband het nie enige besluite oor die saak geneem deur ons sinodes nie, maar hier van die einde van die 1970’s/begin 80’s het al minder vroue hoofbedekking begin dra, sodat dit vandag die uitsondering, en nie meer die reël is nie. “

Hier is my geskrewe teks met slegs die hoofpunte (let wel: die preek self en my aantekeninge hier onder stem nie noodwendig ooreen nie, in beide is daar meer of minder inligting):

Die hoofbedekking getuig van God se goeie skepping- en gesagsorde,

vir beide man en vrou 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Oor twee weke gaan ons weer nagmaal vier.

Ons kom sit aan die Here se tafel en ontvang die beker en brood.

Daardie twee tekens wys op Jesus se bloed en liggaam wat vir ons gegee is,

as betaling vir al ons sondes.

Ons weet dat dit die betekenis is van daardie twee tekens wat ons red,

nie die brood of wyn opsigself nie.

Tog, is die brood en wyn as tekens nié onbelangrik nié,

ons moet dit gebruik, want Christus het dit vir ons ingestel, Matt.26:17-30

(sien HK So.25-30; NGB art.32-35)

En dit is oorgelewer deur die apostels, vir die kerk deur alle eeue.

Nou geliefdes, nou kom ons vanoggend – voor die nagmaal deel (v.17-34)

by nog ‘n gebruik, handeling, ‘n onderskeidingsteken,

wat die Here aan sy kerk oorgelewer het, deur die apostels,

deur sy kerk, deur Paulus in die besonder hier in 1 Kor.11.

Naamlik die hoofbedekking vir die vrou in die eredienste.

En moenie meegesleur word dat hierdie soort saak onbelangrik is nie.

As dit onbelangrik was vir die gelowige, die kerk, sou dit nie daar gestaan het nie, sou die kerk nie vir 2000 jaar geleer het vroue moet ‘n hoofbedekking in die eredienste dra nie.

Dit was die gebruik van die kerk vir 2000 jaar, die vroeë kerk het dit geleer,

die Hervormers soos Luther, Calvyn, Knox het dit bevestig,

ons voorgeslagte het die saak onderhou tot en met die middel van die 20ste eeu.

Ons eie kerkverband het nie enige besluite oor die saak geneem deur ons sinodes nie, maar hier van die einde van die 1970’s/begin 80’s het al minder vroue hoofbedekking begin dra, sodat dit vandag die uitsondering, en nie meer die reël is nie.

Ek gee toe dat gelowiges wat Jesus liefhet en sy Woord respekteer,

oor hierdie gedeelte verskil, maar 1 Kor.11 is nie so moeilik om te verstaan nie.

Ons maak dit nog moeiliker, bloot vir die eenvoudige rede, dat dit die afgelope

30 jaar nie meer ‘n algemene gebruik in kerke, ook ons kerkverband is nie.

Dit is verder moeilik, omdat die vyandige feministiese beweging in die 20ste eeu

dit reggekry het om vrouens, goeie vrouens, maar ook mans te oortuig

dat die hoofbedekking is ‘neerhalend en/of onderdrukkend’,

en dat die vroue sogenaamd bevry moet word van hierdie gebruik.

Ander beweer weer, op grond van v.16 dat dit bloot ‘n ‘gewoonte’ of kultuur gebruik was

van die eerste eeu, en nie meer vir vandag geld nie.

Daar is ‘n paar beginsels wat geleer moet word wat vir alle tye geld,

maar die manier om dit te wys, het nou verander,

die hoofbedekking hoef nie meer gedra te word nie.

En nou geliefdes, wil ons vanuit die Skrif luister,

as kinders wat Hom wil gehoorsaam,

en ons wil twee dinge leer onder die tema:

Die hoofbedekking getuig van God se goeie skepping- en gesagsorde,

vir beide man en vrou 

1. wat leer die Skrif hier, en

2. is dit nog van toepassing vir vandag ?

Onthou wat ons gesing het in Ps.40:4 ?

Dit is en moet ons soeke wees, laat ons saam luister,

en dan moet ons vra: moet ons verander of nie ?

Maar moenie die Bybel by ons laat aanpas nie,

ons moet by die Bybel aanpas.

Kom ons gaan dan en luister na God se Woord.

In v.1 roep Paulus die gemeente op om Hom te volg,

maar alleen omdat Hy Christus volg.

Hy bedoel dit o.g.v. 1 Kor.9 en 10 (sien veral 9:24-27) , maar by implikasie ook:

Ons volg nie mense opsigself nie, maar Christus

En hoe weet ons watter mense om te volg ?

Hulle wat Christus volg volgens sy Woord en Gees.

Dit is waarop v.2 ons dan verder wys:

Paulus prys hul omdat hul die ‘leringe vashou’, daardie leringe

wat hy van die Here ontvang het, en wat hy ook nou aan hulle wil oorlewer.

In die boek 1 Kor. het ons nou al op vele plekke gehoor hoe hy

as apostel leringe en gebruike oorlewer aan die kerk om te onderhou,

sien bv. 7:17, 39; 11:16, 23, 15:3, ens.

So geliefdes, u moet ‘n predikant, ouderling, vader, ens volg,

nie omdat hy so oulik en vriendelik is nie (dit is ook goed maar nie die wese van sy roeping nie),

maar bo alles omdat hy in leer en lewe Jesus en sy Woord volg.

En nou kom Paulus, en wil hul nou leer aangaande die hoofbedding,

in die eredienste, hy wil hê hul moet, v.3 ‘weet’ van hierdie saak,

wat v.16, in al die gemeentes ‘n gewoonte, ‘n gebruik is.

Onthou, ‘n gewoonte/gebruik is nie opsigself verkeerd nie,

dit kan reg of verkeerd wees.

Soos daar oorleweringe van mense is wat nie goed is nie (sien bv. Matt.15:3ev),

so is daar oorleweringe van die Here wat goed is, die apostoliese leer,

wat ook oorgelewer word (sien bv. Rom.6;17; 2 Tess.2;15; 3:6).

Nou eerstens, wat was die lering wat Paulus die gemeente geleer het,

wat hy wou hê hul moet weet ?

Ons hoor dit in v.4,5 (lees)

– ‘n man moet nie bid of profeteer met ‘n bedekking op sy kop nie

– ‘n vrou moet wel met ‘n bedekking op haar kop bid of profeteer

Net in hierdie twee verse kom daar baie vrae na vore, o.a.:

– wat is dit om te bid en te profeteer, en

– mag ‘n vrou dan ook bid en profeteer in die gemeente ?

– wat is die bedekking waarvan hier gepraat word ?

Eerstens, wat die bid en profeteer nié kan beteken nie:

dit kan nie beteken dat ‘n vrou voorgaan in die ‘ampte’ van hetsy leraar,

en/of ouderling in die gemeente nie.

Dit sou 1 Kor.14:34 weerspreek, waar Paulus later skryf:

Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.

So ook sal dit 1 Tim.2:11,12 weerspreek:

11  Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.

12  Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.

Dit kan alleen volgens die konteks van die res van die Skrif 2 dinge beteken:

– dit is ‘n frase wat bloot wys op elke lidmaat se deelname aan die erediens gebeure, ongeag of hul self voorgaan in daardie handelinge of nie (sien die Statevertaling se verklarende nota hier), en/of

– die profeteer spesifiek dui op die eerste eeuse buitengewone profetiese goddelike gawe, wat beide mans en vrouens en kinders gehad het, sien 1 Kor.14:26 (Hand.21:9), wat wel plaasgevind het, maar ge-eindig het toe die kanon afgesluit is met die boek Openbaring.

Sien vers 13 wat dit bevestig, as daar dan net van gebed gepraat word, nie meer die profetiese gawe nie.

Onthou profetering was spesifieke eenmalige goddelike Openbaring wat sekere kinders van God gehad het, maar vandag nie meer daar is nie.

Na die apostels het ons nou die leeramp van ouderling (lerende en regerende ouderlinge, 1 Tim.5;17), waardeur onderrig en regering wat plaasvind, soos ons dit veral sien in die Pastorale Briewe (1 en 2 Tim, Titus).

Maar gebed het ons nog altyd, tot die laaste dag,

en daarom geld die voorskrifte wat hier gegee word,

ook vir die hele NT bedeling.

Tweedens, uit vers 3, wat is die hoofbedekking wat hier van gepraat word ?

As u mooi geluister het, het ek nog nie een keer die woorde hoed of kappie of sluier gebruik nie.

Ek het doelbewus die woord ‘hoofbedekking’ gebruik, of selfs net ‘bedekking’

Die oorspronklike woorde in v.4,5 en verder, gee nie ‘n positiewe beskrywing van wat hierdie ‘iets’ (v.4) op die hoof moet wees nie.

Dit beteken letterlik iets wat bo op die hoof is en/of van bo afhang van die hoof.

Daar is duidelikheid oor dat daar wel ‘iets’ moet wees (sien v.10),

maar die presiese aard, kleur, materiaal waaruit dit bestaan,

word nie eksplisiet gegee nie.

Dit sluit daarom juis hierdie verskillende moontlikhede in,

so dit kan ‘n sluier wees, ‘n kappie, ‘n hoed, maar solank daar

‘n vorm van bedekking is, ‘n ‘iets’ is.

En dit is dalk juis een van die argumente vir die handhawing van die

hoofbedekking vir vandag en die hele NT bedeling: dat hierdie openheid

juis deur die apostels, deur die Here so bepaal is, sodat die hoofbedekking

verskillende vorme kan aanneem deur die tye en eeue met verskillende tale en kulture.

En nou word vir die man gesê hy doen sy hoof oneer aan as hy wel

met ‘n bedekking in die erediens is, en

vir die vrou dat sy haar hoof oneer aan doen as sy nie ‘n hoofbedekking

op het nie, inteendeel, dit beteken dit is soos om glad nie hare op die hoof te hê nie,

skeer dit dan af.

So, dit is wat Paulus wil hê die gemeente in Kor en ons moet ‘weet’:

– man sonder, en vrou met ‘n bedekking wees in die eredienste.

Dit bring ons dan juis by die belangrikste saak:

Is dit bloot ‘n saak van daardie tyd en kultuur gewees, of is dit vir die hele NT bedeling ?

Waarop beroep Paulus hom, waarin begrond hy die saak van ‘n hoofbedekking  ?

Kom ek gebruik eers 2 ander voorbeelde:

– baie sê: slawerny was in die NT daar gewees, maar dit is later tog afgeskaf, so dit beteken,

– vrou nie in die ampte nie, was ook net vir ‘n tyd, moet nou afgeskaf word.

– maar die antwoord is: Paulus in die ‘vrou in die amp’ gedeeltes beroep hom op God se skeppingsordening (1 Tim.2:13; 1 Kor.14:34b), maar by slawerny kry ons glad nie sulke begronding nie.

So die vraag is: beroep Paulus hom hier op tydelike reëlings, of op gesag wat vir altyd geld in die NT bedeling.

Wel, as ek na die Teks kyk, dan sien ek:

Die begronding is in God se skeppingsorde, sy gesagsorde wat Hy daar vir die mens, vir die huwelik, gesin, gemeentes gestel het

Die fondamente van die hele gedeelte word in vers 3 gevind,

Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.

As mens dit reg verstaan, val alles wat volg in plek,

nie net vir hierdie saak nie, maar vir die verhouding tussen man en vrou ook,

en ons het dit so nodig om te hoor vandag.

Paulus wys op die gesagsorde wat die Here daar gestel het:

1. God is die hoof van Christus

2. Christus is die hoof van elke man (daar is verskil of dit alle mans is en of dit hier bedoel net getroude mans), ongeag of hul glo of nie, sien Matt.28:18; 1 Kor.15:27.

3. Die man is die hoof van die vrou

Dit word ook genoem die skeppingsorde.

Man en vrou is geskape gelyk in waarde en wese,

maar verskillend in gesagsrolle en gesags-uitoefening.

Die man moet die gesag uitoefen, die vrou moet volg,

in die gesin en gemeente.

En kyk nou mooi wat Paulus doen, baie belangrik

hy bou die gesagsverhouding tussen man en vrou

op die verhouding tussen die Vader en die Seun !

Die Seun is onderdanig, onderworpe aan die Vader in rol en taak (sien NGB art.8-10; HK So.8),

maar nie in waarde en wese nie, en Jesus het sy plek, roeping en taak in diensbaarheid dit omhels!

So is dit ook met die gelowige vrou en gelowige man,

elkeen in hul bepaalde rol en taak in sy Koninkryk en Kerk.

In verse 7-9 bevestig Paulus dit verder,

deur te sê Paulus dat die man die beeld en heerlikheid van God is,

en die vrou die heerlikheid van die man,

en daarmee bedoel Paulus dat die man aangestel is

om die gesag te be-oefen volgens sy skeppingsaard,

terwyl die vrou juis haar skeppingsdoel en plek omhels

deur haar unieke roeping van gesagsaanvaarding te omhels,

om die man by te staan, nie sy gesag te verwerp nie

Sy is die heerlikheid van die man deur haar plek en ropeing te aanvaar.

Vers 8 sluit aan by 1 Tim.2:13, God se bepaalde orde, eers die man, dan die vrou.

En vers 9 is die groot vyand van al die woman’s lib bewegings:

– die vrou geskape is nie vir haarself geskape nie,

om net haarself en eie belange te dien nie,

sy is daar ‘ter wille van die man’ !

Roeping !

Sy is geskape as die hulp van die man.

En, daarom, vers 10, daarom moet die vrou ‘n ‘aanduiding

van gesag’ op die hoof hê,

daardeur, daardie simboliek en die omhelsing daarvan,

dui op die dankbare gehoorsame aanvaarding van haar rol in die Here se Koninkryk,

Daardeur word erken dat Christus gekom het om daardie verhouding tussen man en vrou,

te herstel, nie te vernietig of te verruil vir die egalitariese ‘vennootskapsverhoudinge’ van ons tye nie.

Vroue erken daardeur God se wil, die goddelik verordende gesags beoefening deur hul mans.

Die ‘ter wille van die engele’ (v.10b) is daar onduidelikheid oor,

maar dit beteken heel waarskynlik:

Die engele wat tydens die gee van die skeppings- en gesagsorde daar was,

is heilig daaroor dat dit herstel en onderhou word in Christus.

Ons lees bv in Jes.6 dat die engele om die altaar erediens hou:

– heilig, heilig, heilig is die Here

en daarom is hul jaloers daarop dat God se skeppingsorde

gehandhaaf word, hul is ook hier in ons eredienste teenwoordig,

dit behaag hul nie, bedroef hul, dat God se orde omver gewerp word,

veral in die eredienste, as God se teken van gesagsaanvaarding en onderskeid

nie gehoorsaam word nie (sien die artikel hierbo van Marlowe oor hierdie saak).

Nou geliefdes, beteken dit die man kan maak wat hul wil, self goddeloos wees,

die vrou alleen word aangespreek hier in ons Teks vanoggend ?

Nee geliefdes, in v.11-13 waarsku Paulus juis teen so ‘n gesindheid.

Daarom dat hy begin in v.11 met die belangrike woorde ‘en tog’ ….

Hy wil ons mans ook wys op ons plek en rol in sy skeppingsorde,

Ons mans is nie beter as vrouens of slimmer of beter toegerus vir die taak nie,

dit is God se skeppingsorde wat ons take en onderskeie roepinge bepaal,

dit is sy Wil, nie ons mans wat ‘meerderwaardig’ is nie.

Daarom die sleutelwoorde van ‘in die Here’ (v.11) en ‘alles is uit God’, hoor u dit broeders ?

– man en vrou ‘in die Here’, moet God dien ‘in alles’,

– ons is afhanklik van mekaar in ons take in sy Koninkryk!

Hierdie is NIE ‘n manne wêreld of vrouewêreld nie,

dit is God se wêreld, dit is sy Koninkryk, dit is Sy Kerk !

Daarom ‘maar alles is uit God’ !

Hy is ons hoogste en finale gesag.

Toepassing:

– is die grootste rede vir die opkoms van die vyandige feminisme nie juis goddelose en onverantwoordelike mans wat nie ‘soos Christus’ (Ef.5:21-34), dien en lei nie ?

– Mans, ons moet dit nie vir ons vrouens maak, selfs onmoontlik maak om haar te onderwerp aan jou gesag in Christus wat jy moet uitoefen nie,

– moenie ‘n struikelblok wees in jou dogter se pad om haar aan God se skeppingsorde te onderwerp nie !

Heelp jou vrou en dogters om haar roeping te omhels, hoe ?

Kyk vers 1 !

Deur JOU roeping en taak te omhels in Christus:

“Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is

En dan, nadat hy hierdie skeppingsorde uiteengesit het,

noem hy nog 2 sake:

– v.13 wil hy daarop wys, dit is ‘n retoriese vraag, dat dit nie goed/betaamlik is, dit is nie gepas nie dat ‘n vrou in die erediens sonder ‘n hoofbedekking deelneem aan die erediens nie.

– en in v.14,15 wys hy dat selfs die natuur ‘n natuurlike bedekking vir die vrou gegee om haar unieke roeping en onderskeid van die man uit te wys,

daarom sal dit nie ‘n probleem wees om op haar natuurlike bedekking, nog ‘n bedekking, ‘n teken van gesag oor haar te plaas nie, sodat haar heerlikheid bedek word, en

al die eer aan God deur haar hoof, haar man, sal gaan in die eredienste.

– die woord ‘natuur’ verwys nie bloot na tradisies en gewoontes nie, of gebruike van die tyd nie, maar op wat natuurlik aanvaarbaar is soos ons geskep is, sien bv. Rom.1:26,27 waar ook genoem word dat dit onnatuurlik is as man en man, en vrou en vrou gemeenskap het met mekaar.

(dat v.14,15 se hare bedekking nie die hoof bedekking kan vervang nie, word bevestig as jy die hare in die bedekking se plek wil plaas by v.4,5. Dit sou die absurde betekenis dan hê dat: a) mans bles moet wees, kaal hoofde moet hê, om aan die eredienste deel te neem, en b) vrouens beveel word om hul hare af te sny … as hul nie hare op die kop/hoof het nie ?)

Ons moet ook nie kwaadwillig raak nie, wat is nou kort en wat is nou lank … wanneer is te ver ….

Daar is in ons tyd ‘n groot aanslag om manlikheid en vroulikheid te wil vernietig,

en dit behaag God nie.

Hy het man en vrou geskape, gelyk in waarde en wese, maar verskillend

in rol en taak … en ons moet dit respekteer en eerbiedig en erken en

onderwerp daaraan.

En een van die maniere is … die dra van die hoofbedekking deur vroue

in die eredienste.

‘n Ander manier is hoe ons haarstyle lyk, v.14,15 (ek kan mens ook byvoeg, ons kleredrag)

Beteken dit laastens geliefdes,

U predikant of kerkraad gaan dit nou op ons vrouens afdwing ?

Nee geliefdes, ons gaan nie.

Ons kerkverband het geen vaste bindende besluit oor die saak gemaak nie.

Ek sal graag wil hê gehoorsaamheid moet vanuit oortuiging kom,

in ‘n gees van omhelsing van ons roeping en take,

as mans en vroue,

‘n lewe van dankbaarheid, selfondersoek, veral oppad na die Here se tafel.

Wat wil die Here hê moet ons doen ?

Net soos ons misbruik kan maak van die tekens van brood en beker,

net so kan ons misbruik maak van die hoofbedekking (of enige ander tekens of kleredrag of haarstyle).

‘n Vrou kan ‘n hoofbedekking dra, maar haar hart en lewenswyse is nie daarin nie.

Dit beteken wel nie dit is of een of die ander nie, ons moet beide die saak en teken omhels.

dit moet albei wees: my hart vir die Here en my roeping as man of vrou,

en dan gebruik ek die tekens wat Hy gee,

om aan te wys dit is wat ek wil wees, ek wil daarin lewe.

Ek erken sy gesag, ek erken sy skeppingsordening en gesag,

ek ken sy wil vir my lewe.

Daarom is die laaste vers ook so belangrik, v.16

Vandag het ons dit andersom, die reël is geen hoofbedekking nie,

so ons wil nie twisgierig daaroor wees nie, nie verdeeldheid veroorsaak nie.

Daarom, die heel belangrikste, laat elkeen ondersoek:

– as man of vrou: omhels ek van harte my roeping en taak in sy kerk en koninkryk,

of probeer ek wyser as God wees deur self te besluit hoe om Hom te dien ?

Aanvaar ek die Here se gesag in dankbaarheid ?

Mag die HERE ons help, veral oppad na die nagmaalstafel,

om seker te maak dat ons in alles werklik, navolgers is van Christus ! (v.1)

Amen.


[1] Die Bybel: Ou Vertaling. 1996 (1 Co 14:34). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

[2] Die Bybel: Ou Vertaling. 1996 (1 Ti 2:11–12). Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

8 thoughts on “VIDA en die hoofbedekking van 1 Korinthiërs 11

Add yours

  1. Beste Slabbert
    Ek stem saam dat die vrou ‘n hoofbedekking behoort te he^ as sy bid of profeteer in die erediens, as teken daarvan dat sy haar aan die toesig van die ouderlinge onderwerp. Dit is m.i. die betekenis van die woorde in 1 Kor 11:5. Maar om die ‘bid of profeteer’ nie-geldend te verklaar vir vandag is vir my ‘n forsering van die teks. Baie van die eerste eeu se gawes funksioneer vandag nie of in verswakte vorm, maar dit beteken m.i. nie dat hulle nie meer MAG funksioneer nie. Ek weet jy verafsku Skrifkritiek, en daarom vestig ek jou aandag ook op hierdie vorm van ‘Gereformeerde’ Skrifkritiek.

    1. Hallo Neels, ons verskil hieroor soos ons al in die verlede gedoen het op die gksaforum. As ek reg verstaan, stem jy dan saam met die VIDA standpunt dat ‘n vrou vandag wel mag leer (profeteer?) in die eredienste, solank sy net ‘n hoofbedekking op het ? Jy verskil wel dat hul dit net deur spesiale oomblike mag/kan doen, nie in die ‘ampte’ van predikant/ouderling nie ? Help maar reg as ek jou verkeerd verstaan ?

      Ek glo daarenteen dat jou siening dan 1 Kor.14:34,35 en 1 Tim.2:11,12 weerspreek vir vandag (onthou, soos GW Knight uitwys, nie net die ‘amp’ by implikasie nie, nie maar die ‘handeling’ van lering en regering opsigself word verbied in laasgenoemde verse vir die res van die NT bedeling), en daarom moet die ‘bid en profeteer’ juis reg verstaan word soos o.a. die Statevertaling notas dit verduidelik of in die lig van o.a. 1 Kor.14:26 (die buitengewone eenmalige gawes) wat vandag nie voortgaan nie. As die gawe van profesie vandag voortgaan dan plaas dit ons op die spekulatiewe oop kanon/nuwe openbarings idees van vele charismatiese sektes. Na die apostels en die eerste eeuse buitengewone gawes, het ons nou die besondere ampte van ouderlinge (lerend en regerend) wat moet leer en regeer, nie meer profetiese openbarings nie.

  2. Beste Slabbert,

    Ek verwys na my standpunt wat ek onlangs oor die onderwerp op die GKSA Forum gehuldig het. Ek dink dit kan met vrug in die debat oor die saak dien.

    Calvyn wys in sy verklaring van die gedeelte dat daar twee beginsels grondliggend tot die hoofbedekking is. In die eerste plek dui dit daarop dat die vrou die skeppingsorde aanvaar, en in die tweede plek haar onderskei van wat toe in daardie tyd ‘n teken van losbandigheid sou voorstel, as die vrou sonder hoofbedekking in die openbaar verskyn.

    In aansluiting by art 25 NGB wat handel oor die afskaffing van die OT seremonies, maar waarvan die beginsel agter die seremonie altyd geldend is, lyk dit vir my logies dat die teken van selfs ‘n NT voorskrif nie noodwendig altyd geldend sou wees nie. Die beginsel agter die teken bly egter ewig geldend.

    Laat ek verduidelik. As ‘n vrou vandag sonder ‘n hoofbedekking in die openbaar verskyn, is dit glad nie waar dat sy nie die skeppings ordinansie misken of losbandig is nie. Aan die ander kant, as sy met ‘n hoed en netjiese rok gesien word sal die meerderheid dink sy is oppad na die staatspresident se onthaal toe.

    Daar is ander maniere wat ons vandag steeds kan waarneem dat vrouens steeds die skeppingsordinansie aanvaar, en dat sy nie losbandig is nie. Die hoofbedekking het gewoon nie meer daardie betekenis nie.

    Ek hoop dat hierdie siening die debat effens verder sal neem.
    Groete
    Gert Kruger

  3. Goed nagevorste artikel. Ek kon nie alles nie maar sal dit mettertyd graag wil doen. Lyk my dit wat Soren Kierkegaard geskryf het is ook hier van toepassing: “The matter is quite simple. The bible is very easy to understand. But we Christians are a bunch of scheming swindlers. We pretend to be unable to understand it because we know very well that the minute we understand, we are obliged to act accordingly”.

  4. Baie dankie Slabbert vir al die oplees werk en die blootstelling aan die bronne. Ons waardeer jou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: