Twee preke: 1. Klein Koninkryk wonderwerke 2. Wat doen die kerk van Christus met al die bedreiginge ?

TWEE PREKE

Ons kerke leef in ‘n tyd waar groot klem geplaas word op ‘sukses’ en ‘getalle’ en ‘groei’ en dat ons allerlei groot planne gemaak moet word om die kerk te ‘red’ in ons tye.

Dit kan so maklik gebeur dat ons dan nie die Here se hand meer raaksien in die ‘kleiner dinge’ in sy gemeentes nie, of die ‘ordinary means of growth‘ nie meer as genoegsaam beskou nie.  So asof as die kerk nie heeltyd die ‘voorblad’ haal nie, gaan daar daarom ‘niks aan’ nie.

Daarom plaas ek hierdie twee preke om sake in perspektief te plaas, sodat ons opnuut besef dat dit die Here is wat sy Kerk versamel, opbou en bewaar, op sy tyd en op sy manier, deur sy Woord en Gees (HK v/a 54):

1. Lukas13:10-21,   Klein Koninkryk wonderwerke                              

 Lees: Jes 24:1-25:9; Luk 13:10-21

Tema: Klein koninkrykwonderwerke.

Teks: Luk 13:18 Hoedanig is die koninkryk van God?

Psalms: 118:7,8; 118:10,11; 97:1,4; 68:15,16; 118:12,14.

Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

 

­­Geliefdes in ons Koning en ons Aanvoerder, die Here Jesus Christus,

Baie besoekers is teleurgesteld as hulle ‘n Gereformeerde erediens bygewoon het,

maar nie net hulle nie,

ook lidmate van hierdie gemeente het al vir my gesê:

Hier gaan niks aan nie.

By hierdie gemeente gaan daar niks aan nie.

 

Hulle kom nog kerk toe.

Hulle voel hulle behoort hier te wees.

Dis iets wat ons al die jare op die Sondag doen,

maar eintlik … maar eintlik gaan hier nie iets aan nie.

 

Selfs die predikant kan so dink.

Sondag na Sondag verkondig hy die koms van die koninkryk van God,

die mees radikale gebeurtenis …

nie net in die wêreld se geskiedenis nie,

maar in die geskiedenis van die ganse heelal.

Sondag na Sondag is dit sy boodskap,

maar eintlik gebeur hier niks.

 

Dit laat mens dink, nê?

Dit laat mens vra:

Maar hoedanig is die Koninkryk van God?

Hoe lyk die heerskappy van God dan?

 

Ons Skrifgedeelte beskryf ‘n normale Sabbatdag êrens op ‘n onbepaalde plek in Palestina.

Jesus was besig

om in een van die sinagoges te leer.

Hier in ons teks is geen aanduiding van wat Jesus geleer het nie,

maar ons ons het genoeg aanduiding in die res van Lukas se Evangelie

om te kan sê

wat die hooftema in sy preke was;

genoeg aanduiding dat ons seker kan kan wees

dat dit ook hier die geval was.

 

Jesus het die koninkryk van God verkondig.

Dit was deurgans die tema van sy prediking.

Dit was immers die doel van sy koms aarde toe.

Hier reg aan die begin van Lukas se geskiedenis sê Jesus

Hy moet aan die stede van Israel die evangelie van die koninkryk van God bring (4:43).

 

Net daarna hoor ons in die Bergrede:

Salig is julle, armes,

want aan julle behoort die koninkryk van God (6:20).

Ja, uitermate gelukkig is diegene wat hulle ellende aanvoel.

Hulle is die erfgename van God se koninkryk.

 

En dan aan die begin van hoofstuk agt lees ons:

Hy het die een stad en dorp ná die ander deurgereis

en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig (8:1).

 

Dit was die groot tema van Christus se prediking:

Die koninkryk van God.

 

Wat het die Here daarmee bedoel:

Die koninkryk van God?

 

Ons kan begin om dit te verduidelik

deur ‘n volgende vraag te vra:

Wie is die regmatige koning van hierdie wêreld?

Wie het die reg

om gehoorsaamheid te eis?

Wie het die reg

om geëer te word?

Wie praat werklik met gesag?

 

Net Een.

Net Een het daardie reg.

Dis God.

 

Die grootste deel van die heelal … die skepping … erken daardie reg.

Die hemel is so ‘n gebied

waar God onbestrede regeer.

Daar is niemand daar wat sy gesag uitdaag nie.

Alles daar gebeur volgens sy wil.

Almal daar het God lief

en omdat die engele en die hemelwesens God lief het,

is daar perfekte vrede en harmonie.

 

Maar ons weet dat daar ook ander skepsels was en is,

skepsels wat in opstand teen God gekom het:

Hulle is die rebelle-engele met die duiwel, die Satan, as aanvoerder.

En almal van ons weet

dat hy net op een plek nog mag het.

Dis hier op aarde.

Ons Belydenis sê

dat hierdie rebelle-engele nie net vyande van God is nie,

maar dat hulle soos moordenaars op die kerk loer (NGB Art 12).

 

Oral waar die duiwel heers, is daar ellende.

Hy is die tiran van alle tiranne,

die wreedste diktator van alle diktators.

 

Hy is die oorsaak van alles

wat in hierdie wêreld verkeerd en lelik is.

Alle korrupsie, bedrog, haat, siekte en ook die dood kan aan hom toegeskryf word.

 

Deur hom bedryf die mensdom afgodery.

Deur hom sal die volke en nasies voor enigiets neerbuig –

son, sterre, geld, seks, sport, buddhas.

Hulle buig neer voor ikone en pouse … enige-iets, enigiemand,

behalwe God …

 

Maar u weet, Geliefdes,

God het nie hierdie aarde opgegee nie.

Ons hoor dit mos, Sondagsabbat na Sondagsabbat:

Hy laat vaar nie die werke van sy hande nie.

 

In die Ou Testament was daar een volk

deur wie Hy hoop lewendig gehou het.

Die volk Israel.

Die HERE het die mensom se hoop lewendig gehou

deur boodskappers na daardie volk te stuur.

En daardie boodskappers het God se hoop verkondig.

 

Laat Psalme oprys uit die stof –

dis God wat uitgetrek het!

Hy ry, bekleed met eer en mag,

hoog deur die hemel van sy krag.

 

“Die regmatige koning kom!”,

was hulle boodskap.

“Die regmatige koning sal alles weer terugneem.

Hy sal die Satan se regime afbreek.

Hy sal die paradys weer aarde toe bring.

Voortaan sal die ganse heelal net een koning ken:

Die HERE van die leërskare.”

 

God heers as hoogste HEER

die aarde moet Hom eer.

Beskaamd word alle siel

wat voor die beelde kniel.

Hoog bo hul sit die HEER;

Hy is God en niemand meer (Ps. 97).

 

“Daar is ‘n groot katastrofe aan die kom, kinders van Israel!”

So lui die Evangelie uit die Ou Testament.

“Die ware HERE gaan hierdie wêreld omkeer!

Daar kom ‘n ontsettende aardramp!”

 

Hoe het ons saam uit Jesaja 24 gelees?

Die Here maak die aarde leeg

en verwoes dit,

en Hy keer sy oppervlakte om.

Die aarde word geheel en al verbreek.

Die maan sal rooi word van skaamte

en die son sal skaam wees

Met ander woorde:

‘n Goddelike duisternis kom oor hierdie wêreld.

Alle opstandige demoniese magte word van hierdie aarde weggevee.

Die hoogstes van die mense, die pouse en ikone versmag.

 

Ja, daar bly min mense oor.

 

Die gelowiges, die arme verdrukte gelowiges,

hulle sal bly wees, uitermate bly wees.

Hulle jubel, vanweë die majesteit van die HERE.

 

In hoofstuk 25 vind ons nog rede vir die gelowiges se blydskap.

Die HERE berei vir hulle ‘n feesmaal vir hulle,

‘n koninklike feesmaal

‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn,

van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.

 

Ja, daar sal meer as genoeg rede wees om fees te vier.

Alle hartseer is dan verby.

Alle siekte en ellende iets van die verlede.

Kan u uself dit voorstel?

Alle dokters en begrafnisondernemers is dan werkloos,

want die HERE vernietig die dood self … vir ewig.

En die Here HERE self sal die trane van sy kinders se gesigte afvee.

 

Dis die koms van God se koninkryk, soos God se boodskappers dit verkondig het …

 

En dan, honderde jare later, êrens in ‘n sinagoge, Galilea staan die Here Jesus op

en Hy kondig aan:

God se inval in hierdie wêreld het nou begin!

Die dag van bevryding het gekom!

God se koninkryk, God se heerskappy het aangebreek.

 

Dis sy boodskap

en Hy reis deur die land en Hy preek

die een Sabbat na die ander:

God se koninkryk, God se heerskappy het aangebreek!

 

Ook hier in Lukas 13, is dit sy deurlopende boodskap.

In daardie erediens was daar was ‘n vrou,

só het ons gelees

‘n vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het.

Sy was inmekaargetrek.

Sy was glad nie in staat om regop te kom nie.

 

Een verdrukte misrabele gelowige

wat die vloek van hierdie gevalle mensdom

duidelik aan haar liggaam gevoel het.

 

En Jesus het sy hande op hierdie vrou gelê,

en onmiddellik het sy regop gestaan.

 

Jesus preek die dag weer oor die mees ontsettende gebeurtenis

wat hierdie wêreld getref het,

die ingrypendste verandering wat op hande is,

en … Hy genees een dame,

een dame wat krom geloop het!

 

Dis al.

 

Nou moet u erken:

In vergelyking met dit wat die Ou Testament aangaande God heerskappy voorspel het,

is dit maar min.

In vergelyking met dit wat die Psalms en Jesaja voorspel het,

is hierdie genesing nie besonder indrukwekkend nie.

Die aarde is geheel en al aan die wankel,

die fondamente van die aarde bewe,

die dood sal vir ewig vernietig word,

alle kwaad en gevolge van die kwaad sal van die hele aarde weggeneem word

En hier in Lukas13 voor al die mense

wat opgedaag het vir hierdie boodskap,

loop een ou tannie wat krom was,

nou regop.

 

Dis al!

 

Die owerste van die sinagoge was nie beïndruk nie.

Die owerste van die sinagoge val nie in aanbidding voor Jesus neer nie.

Nee, hy vervies hom vir hierdie Geneesheer.

Hy vervies hom vir die tannie.

Daar is ses dae waarop ‘n mens behoort te werk, sê hy.

As jy die werk van ‘n dokter doen,

doen dit asseblief op daardie dae

en jy, as jy ‘n dokter nodig het,

gaan soek vir jou ‘n dokter op daardie ses dae.

Vandag is die Here se Sabbatdag.

 

En dan lees ons:

Die hele skare was bly oor al die heerlike dinge

wat deur Hom gebeur het.

Die skare was bly,

maar ook … hulle het nie in aanbidding voor sy voete neergeval nie.

In hoofstuk 11 som die Here Jesus die skare se gesindheid op:

Hierdie geslag is boos;

dit soek na ‘n teken (Luk 11:29).

 

Die skare volg die Here Jesus, waar Hy ook mag gaan,

nie noodwendig omdat hulle die Evangelie van die koninkryk hoor nie,

maar omdat hulle ‘n lus vir sensasie het.

 

Net soos die bose geslag, waaronder ons leef, wil hulle vermaak word.

 

In hierdie geval was die skare tevrede met die wonderwerk.

Hulle het gedink dit was oulik.

Ons kan ons voorstel

dat, as dit in ons tyd gebeur het,

hulle huistoe gegaan het

en hulle Facebook-status opgedateer het met uitdrukkings soos:

“amazing” “awesome” of “cool”.

 

En as ons die Evangelies verder lees,

sien ons hoe die prediking rondom die koninkryk van God geintensifiseer het …

maar ook hoe die wonderwerke afgeneem het,

sien ons ook hoe die skare se getalle gekrimp het.

 

Hierdie geslag is boos.

Hulle soek tekens en wonders.

Hulle soek nie die Evangelie van die koninkryk van God nie.

 

Hoedanig is die koninkryk van God?

Hoe lyk God se heerskappy in hierdie wêreld?

 

Dit begin klein.

Dit eindig groot.

 

Dis soos ‘n mosterdsaad,

‘n klein saadjie, so groot soos ‘n speldkop,

maar dit groei tot ‘n groot boom.

In Palestina het daardie boom soms ‘n hoogte van drie of vier meter gehaal.

Groot genoeg vir die voëls van die hemel om nes te maak in sy takke.

 

Die koninkryk van God kom soos daardie klein bietjie gis

wat uiteindelik ‘n hele baksel uiteindelik deursuur.

 

Wie verag die dag van kleine dinge,

vra die profeet Sagaria? (4:10)

As jy eendag die groot en ontsagwekkende heerlikeid van God se heerskappy wil ervaar,

moenie die dag van klein dinge verag nie.

 

Uit die hele skare in ons Skrifgedeelte was daar na die Sabbatdag een ou tannie

wat nie meer kromgetrek geloop het nie.

Net een.

Een tannie wat nie meer die vernedering moet verduur van iemand

wat elke dag, dag vir dag van haar lewe, na die grond afgebuig word nie.

Iemand wat nou die Verlosser in die oë kan kyk.

Een wat bevry was van die Satan se band.

 

Die wonderwerk het nie almal beïndruk nie.

Die wonderwerk was nou eintlik niks

om oor huistoe te skryf nie,

maar dit was tog ‘n aanduiding van God se bo-natuurlike mag.

Dit was tog ‘n aanduiding van God se liefdevolle mag

om sy kinders te verlos.

Dit was tog ‘n pand, ‘n waarborg, van dit wat eendag gaan kom:

Nuwe lewe …

‘n herskepping …

‘n totale algehele herskepping.

Dit was tog ‘n demonstrasie van God se genade vir verlore mense.

 

Een klein koninkryk wonderwerk.

Éen klein mosterdsaadjie.

 

Broeders en Susters,

sien ook die klein koninkryk-wonderwerke rondom u raak?

Of woon u die eredienste hier by,

maar daar gaan eintlik nie iets aan nie?

 

Ek sal vir u ‘n paar klein koninkrykwonderwerke noem,

wat ek al ervaar het.

Na katkisasie kom een van die klein kinders by haar moeder

en vra dat sy haar moet leer bid.

‘n Klein koninkrykwonder!

Een van die lidmate stuur vir my ‘n SMS na ‘n huisbesoek:

“Dankie dominee, vir die woorde uit die Bybel vanaand.

Ja, dis net ek en my Here

en dis so heerlik!”

Nog ‘n klein koninkrykwonder.

Een van die lidmate wat jare lank al aan nikotien verslaaf was,

laat my weet:

Dominee, ek is nou bevry!

‘n Bejaarde lidmaat wat nou weens ouderdom en siekte die dood in die gesig staar,

bely die teenwoordigheid en die krag en ondersteuning van God in hierdie uiterste beproewing.

 

Klein koninkryk wonderwerke.

Eintlik is daar nog baie meer

en hulle word elke dag nog meer …

te veel eintlik om te probeer opnoem,

as ons só daaroor dink.

 

Hierdie gemeente, hierdie kerkgebou, getuig van jare en jare se wonderwerke.

Dit het ontstaan en is opgebou deur wonderwerke.

 

Almal klein mosterdsaadjies,

heeltemaal te klein en onbelangrik

om die nuusblaaie te haal;

miskien glad nie die moeite werd

om met die wêreld op jou Facebook-status te deel nie.

 

Maar Geliefdes,

hierdie is nie maar net nog ‘n erediens nie.

Hierdie is die dag deur God verkore,

die feesdag aan Hom toegewy,

Dit is die dag van grote dinge,

die glorieteken van sy mag.

 Laat ons, met Psalms uit vreug gebore,

ons in die God van heil verbly.

Amen.

 

2.  Hand.4:24-31 (HK Sondag 9 en 10), Wat doen die kerk van Christus met al die bedreiginge ?

Lees Hand.3 en 4

HK Sondag 9 en 10

Teks: Hand.4:24-31

Prediker: ds. Slabbert Le Cornu (GK Carletonville)

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus, 

Wat maak die gelowige as allerlei aanslae jou en jou gesin se lewe in hierdie aardse jammerdal bedreig ?

Of dit nou – in die woorde van ons belydenis, Sondag 10, siekte, swaarkry, onvrugbare jare, armoede, die dood, of wat ookal is ?

Wat maak die ware kerk van Christus as allerlei bedreiginge oor ons kerkwees kom?

Wanneer daar al meer ge-eis word om:

– nie die hele Woord van God te verkondig nie,

– om nie die ware Evangelie van Christus te verkondig nie,

– om nie mense op te roep tot ware bekering en geloof,

– om net volgens sommige, en nie al sy gebooie in dankbaarheid te lewe ?

Want, as die kerk aanhou die waarheid tydig en ontydig verkondig,

vat ek my goed en ek loop, ek is weg … hoor ons die dreigemente …

Ja, wat doen die gelowige, die kerk van Christus midde al die bedreiginge en dreigemente in hierdie lewe ?

 

Die antwoord hoor ons vanoggend in die Skrif uit Hand.4, soos ons die HK behandel volgens Sondag 9 en 10, spesifiek vers 24,

En toe hulle [die kerk van Christus] dit hoor [d.i. al die dreigemente], het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

 Die gelowige, die kerk van Christus, sal daarom midde tye van bedreiginge en dreigemente, aanhou bely:

Die Here is ons Skepper,

wat in alles voorsien,

midde hierdie lewe met al sy aanslae

Ons let op twee sake,

1. die bedreiginge wat die kerk van Christus se stem wil stil maak, en

2. wat die kerk van Christus, wat die gelowige se antwoord daarop moet wees.

 

Eerstens, die bedreiginge teen die gelowiges, die kerk van Christus

Ons teksvers begin met die woorde, “en toe hulle dit hoor”

Wat gelowiges gehoor het, die kerk wat daar saam was,

was alles wat Petrus en Johannes vir hul vertel het van die afgelope

2 dae se gebeure daar in Jerusalem.

Onthou,

– die Heilige Gees is met Pinkster uitgestort,

– Petrus het sy Pinksterpreek gelewer,

– en deur die Gees van God het 3000 mense tot bekering gekom,

– hul geloof in Christus Jesus bely en is hullegedoop.

 

So het die eerste gemeente in Jerusalem ontstaan,

met die opdrag van die Here om die Evangelie van Christus

orals te laat verkondig, mense op te roep om hul te bekeer,

En te glo in Christus as enigste Verlosser en Koning.

Daarvan lees ons meer in Hand.2 ….

 

In Hand.3 is Petrus en Johannes besig om hierdie opdrag uit te voer,

Hulle gaan na die tempel, en daar genees hul ’n man wat kreupel gebore is,

In die Naam van Christus.

Die wonderwerk trek baie aandag, die volk is verwonderd en kom luister

Na Petrus se wonderpreek, waarin hy die hele volk oproep

Tot geloof en bekering in Jesus Christus, 3:19,26.

Baie kom tot geloof, maar nie almal is bly daaroor nie.

Die vyande van Christus, die skrifgeleerdes, owerstes, priesters,

laat Petrus en Johannes in gevangenis neem, omrede,  v.2 (lees)

En dan volg al die dreigemente,

Die leiers van die volk beraadslaag saam teen die kerk van Christus

En hul dreig vir Petrus en Johannes om nie die Evangelie verder te verkondig nie,

Ons lees dit daar in vers 17, 18 en 21 (lees)

 

Onderliggend aan hierdie dreigemente, is natuurlik die Satan en al sy bose magte, wat nie:

– kon keer dat die Christus gebore word nie,

– Dat Hy vir al ons sondes gesterf het nie,

– dat Hy opgestaan het uit die dode, en

– opgevaar het na die hemel (soos Petrus gepreek het op Pinksterdag, Hand.2).

En nou is sy poging, daar in die eerste eeu, maar ook in elke eeu tot vandag,

ook in die 21ste eeu, ook in ons land, in hierdie stad en gemeenskap

DAT DIE WARE EVANGELIE VAN CHRISTUS EN SY VOLLE IMPLIKASIES NIE VERKONDIG WORD NIE.

En beide die valse staat en die valse kerk word gebruik om die ware Evangelie,

Die hele Woord van God te onderdruk,

Baiemaal op subtiele wyses, want so slinks is die Satan en sy magte

En nog erger,

Kyk wie is dit wat hier spesifiek die kerk vervolg, bedreig ….

Dit is die mede volksgenote, die godsdienstige leiers,

Die groot kerkleiers van die dag wat saamsweer teen die Here en sy Gesalfde,

Teen die Gesalfde en sy kerk om haar stem te probeer stilmaak !

 

Dit is wat ons dan ook hoor daar in verse 25-27, ‘n aanhaling uit Psalm 2,

wat ons gesing het, dit is nie net die heidene nie, maar ook die valse kerk

“owerstes” en volke van Israel het teen die Evangelie opgestaan

En dit is die aanslag deur die eeue, vandag nog dalk meer subtiel …

 

En geliefdes, let mooi daarop, want u sal dalk vra en dink

Maar … ons kan moes vir almal nog orals vertel van Jesus en dat Hy vir ons sondes gesterwe het ….

niemand keer ons nie, ons het vryheid !

Nie te vinnig nie,

Want kyk wat is die Evangelie wat Petrus hier verkondig, die diepe inhoud:

a. ja, verlossing alleen deur Christus, v.12 … maar dan ook

verlos tot wat ? Antwoord:

b. ‘n lewe van bekering en ’n lewe van heiligmaking,

ons lees dit in 2:38 …. 3:19 … 3:26 … 4:2 … 4:18 … (lees)

 

Daarteenoor, hoor u dit vandag nog, baie ….

Ons soek ’n Evangelie verkondiging, Woordverkondiging

Wat my sondige lewe en afvallige leringe goedpraat

Die kerk moet my sonde van hoerery, egbreek, ontrou,

gay lewenswyse, ens. aanvaar en selfs goedpraat

Moenie van my verwag om op te hou die swartes te haat nie,

Julle moet my bitterheid oor die verlede goedpraat of ten minste akkomodeer

My leuens en oneerlikheid en diefstal akkomodeer …

En daarom ook die ‘dreigemente’ van ons tyd …

As die kerk nie aanpas by ons jeug se begeertes nie, dan is ons uit

As die kerk nie my sonde van onwettige egskeiding en hertrou aanvaar nie, is ek uit

As ek nie soetsappige kort prekies kan hoor wat net die helfte so lank is

As my daaglikse soapie wat ek met groot aandag en ontsag volg nie,

… dan is ek uit

Die kerk moet ook aanpas by die feministiese tydsgees en bv. vrou in die besondere ampte aanvaar ….

aangesien ons ‘n ampskrisis beleef ….

En ons dreig met getalle en finansies …. kom ons kyk hoe julle gaan

voortbestaan sonder geld en bydraes en getalle …

Ons sal die aanddiens van ontslae raak, en met die oggenddiens oor,

As die oggenddiens ook te lank raak, sal ons hom ook begin ‘boikot’ …

na ander kerke oorloop.

 

En hierdie bose satanisties-misleide aanvalle geliefdes, is niks nuuts nie,

Dit is baie tragies dat selfs baie gelowiges in hul onkunde val daarvoor.

Want hierdie soort bedreiginge het die kerk nog altyd getref, ook in die eerste eeue

Daarom lees ons dan juis die woorde van vers 32-36 in Hand.4 en verder in die boek ….

Die ware evangelie het groot opofferings in besittings en aansien gevra, en selfs hul lewens gekos.

Die eerste eeuse gelowiges moes mekaar bystaan omdat hul verdryf is deur ander, weens die Evangelie,

weens Christus en wat Hy vra.

 

En wat het die kerk gedoen met al hierdie bedreiginge ?

Dit sien ons in die tweede plek:

 

2) Tweedens, die ware kerk van Christus se antwoorde op al die bedreiginge

So wat doen die ware kerk dan as hul lewens, as hul gedreig word hul besittings kan wegval,

hul huise weggevat, hul geld en aansien (traktemente en pensioenfonds?)

Dat hulle nie meer deel is van die groot godsdientige bewegings van hul tyd nie,

nie meer deel gaan wees van die groot meerderheid kerke in hul afvalligheid nie ?

 

Wat doen die ware gelowige met sy gesin en gemeente ?

 

Die antwoord geliefdes hoor ons in die 2de deel van vers 24, en wat volg,

En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê:

Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het,

 

Die ware kerk bely eendragtig (d.i. met een stem, eenparigheid, eensgesindheid, saamstaan en saamdink)

wat ons hier in Sondag 9 en 10 bely as gereformeerde gelowiges, as gereformeerde kerke …

Ek glo, ons glo in God die Vader, die Almagtige , die Skepper van die hemel en die aarde ….”

 

Net in daardie woorde, daardie belydenis alleen is die oorwinning van die gelowige,

van die kerk Christus reeds verborge,

teenoor die Satan, my eie sonde, en die wêreld se aanslae midde hierdie jammerdal !

In hierdie woorde van v.24 bely die kerk

1. “Here, U is die God” (oorspronklike taal word ‘U’ beklemtoon, dus al die fokus op die Here, nie ‘ons’ nie)

Die woord ‘Here’ is gewoonlik afkomstig van ‘kurios’ in die Grieks wat aandui op die Here se verbondsnaam in die NT, en/of (afhangende van konteks) – dat Hy Koning/Meester is.

Hier in v.24 word die woord ‘despota’ gebruik, despoot,

en dit wil sterk beklemtoon die absolute heerskappy van die Here,

Sy groot almagtige soewereiniteit, Meesterskap oor alles en dat Hy alles in sy Hand hou en bepaal !

Dit wat ons presies bely daar in Sondag 9, van die HK (lees) !

Maar nie net het God alles geskape nie, dit beteken ook dat Hy alles regeer en bepaal,

dit bely die ware kerk ons ook in verse 28, lees

Ja, ook die verwerping van Christus,

dit wat nou met Petrus en Johannes en die kerk gebeur (vervolging en dreigemente),

Ja, OOK WAT MET U EN MY AS SY KERK VANDAG GEBEUR IN ONS LAND EN ONS STAD

DIE LEWE MET SIEKTE EN SWAARKRY, VOOR EN TEESPOED, GOEIE éN SLEGTE TYE

Dit is alles bepaal en in die hand van die Here !

Dit is ons groot troos !

Kyk hoe bely ons dit daar in antw. 27 van die Kategismus …. (lees)

So geliefdes, die kerk van Christus antwoord nié die dreigemente

van my eie sonde, wêreld en Satan, deur:

– die Woord van God aan te pas by ons sondige begeertes en planne nie,

– of deur angsbevange te raak,

– of die geloof te kompromeer nie.

Wat moet die gelowiges en die kerk dan konkreet doen midde ons tye ?

Die antwoord hoor ons daar in v.29 -31 (lees)  ….

Ons moet alle dreigemente voor Hom neerlê, dat Hy ons voorspraak sal wees, die regverdige Regter,

wat alles raaksien en regverdig beoordeel.

En bid vir die Heilige Gees vir die vrymoedigheid om sy Woord,

sy hele Woord te verkondig, tydig en ontydig, kyk vir Petrus verse 13 en 19, sy vrymoedigheid !  (lees)

Petrus het vrymoedigheid gehad, omdat hy bekeerd was en vol van die Gees was

Geliefdes,

die Evangelie bring ware genesing, ware bekering en omkeer van die lewe (v.30) !

Daarom dat die leiers verwonderd was, v.13 omdat Petrus so omgekeer het,

ware omkering = ware bekering en terugkeer na die hele raad van God (Hand.20:27).

En wat is die sleutel van Petrus se ommekeer … bekering ?,

wat is die sleutel van ware kerkwees in alle tye ?

Ons lees die antwoord in v.13, die laaste woorde: dat “hulle … metgeselle van Jesus” was ….

Daar is dit, daar staan letterlik ‘om (met Hom) te wees’, om tyd te spandeer saam met Christus !

Is jy ‘n ware metgesel van Jesus, deur sy Gees en Woord ?

Spandeer jy tyd met Christus, deur self Bybel te lees, saam huisgodsdiens/bybelstudie te hou,

die eredienste op te soek, die ware kerk van Christus op te soek (NGB artikel 28).

 

Want, as ‘metgesel van Jesus’ is,

dan kan al die dreigemente en aanslae maar kom,

kan my geld, besittings, kerkgebou, finansies, mooi toekoms, weggevat word, maar my geloof,

die ewige lewe, vrede met God,

Christus, KAN NOOIT VAN MY WEGGENEEM WORD NIE.

Dan, as jy Christus het, kan jy van harte, saam jou gesin, saam jou gemeente, hoe groot of klein, glo en vertrou (v/a 28 HK):

Dat ons in alle teëspoed geduldig, en in voorspoed dankbaar is

en in alles wat nog oor ons kan kom,

‘n vaste vertroue stel op ons getroue God en Vader,

dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie,

aangesien alle skepsels (ook die valse kerk en valse staat)

só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie.

WANT, U IS DIE GOD WAT DIE HEMEL EN DIE AARDE EN DIE SEE EN ALLES WAT DAARIN IS GEMAAK HET.

Hy sal in alles voorsien … wat nodig is.

Amen.

One thought on “Twee preke: 1. Klein Koninkryk wonderwerke 2. Wat doen die kerk van Christus met al die bedreiginge ?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: