VAN GODSDIENSVRYHEID NA GODSDIENSGELYKHEID IN SKOLE ?

Wie gaan ouers en beheerliggame meer vrees – God of die mense ?
En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. – Hand. 4:18-20
Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. – Hand. 5:29
Die uitspraak van die hof oor godsdiens in skole is gedoen, lees meer daaroor hier, ook die verskillende maniere hoe hierdie uitspraak tans beoordeel word:
Ek gaan elke geloofseksklusiewe skool aanvat (sien heel onder die inhoud van hierdie artikel oor Ogod se doelwit met hierdie saak)
TKR Verklaring oor Uitsprak in Godsdiens-in-Skole Hofsaak (sien die verklaring heel onder aan die hierdie artikel)
In die Beeld/Netwerk 24 artikel word daar gestel deur ‘n verteenwoordiger van Solidariteit (wat die besluit verwelkom):
“Beheerliggame behou steeds die reg en bevoegdheid om die etos en geloofspraktyke van ‘n betrokke skool te bepaal, mits dit voldoen aan die riglyne wat in die Skolewet vervat is”
“Beheerliggame kan geloofspraktyke van die skool bepaal” …
Maar dan:
“… mits dit voldoen aan die riglyne wat in die skolewet vervat is” ?
Hierdie hofuitspraak gaan dalk nog getoets word aan die land se grondwet in ‘n appélsaak, maar vir nou wil ek vra:
Mis ek dalk iets: beteken hierdie hofuitspraak dan nou nie duidelik juis dat dit die regering van die dag is, en nie die ouers/beheerliggame nie, wat die geloofspraktyke finaal gaan en moet bepaal?
Dit is lyk my hoe die OGOD-yweraar dit verstaan, soos die opskrif dit hierbo stel: “Ek gaan elke geloofseksklusiewe skool aanvat”
Soos E. Mhlanga van die departement van basiese onderwys ook sê na die hofuitspraak, in die skole:
- moet godsdienste of geloof op ‘gelykwaardige basis beoefen word’, en
- opvoeding moet plaasvind ‘oor’ godsdiens, en nie onderrig ‘in’ godsdiens nie,
Let op daardie baie belangrike woorde ‘oor’ en ‘in’, wat beteken:
Die kinders moet geleer word daar is nie net een ware godsdiens nie, Joh.14:6 en Hand.4:12 is nie waar of van toepassing vir skole nie. Hulle moet ‘oor’ godsdienste leer, soos hul oor verskillende tale en kulture leer, sonder ‘n waardeoordeel en geloofs- en lewensbeskoulike beoordeling.
Basies wat skole by implikasie moet leer – ten minste in die praktyk – is die gelykheid van godsdienste, dit is gelykheid van al die afgode aan die enigste ware Drie-enige God, wat Hom in en deur die Bybel, die Woord van God, eksklusief openbaar. Een of ander vorm van humanistiese godsdiens sal nou vervang wat nog oor is van die Christelike geloof.
RJ Rushdoony, seker die beste christelike opvoedkundige filosoof van die 20ste eeu in die VSA, skryf:
“The dictionary definition of education describes it as “the impartation or acquisition of knowledge, skill, or discipline of character.” The function of education is thus to school persons in the ultimate values of a culture. This is inescapably a religious task.
Education has always been a religious function of society and closely linked to its religion. When a state takes over the responsibilities for education from the church or from Christian parents, the state has not thereby disowned all religions but simply disestablished Christianity in favor of its own statist religion,usually a form of humanism. An excellent means of analyzing the religion of any culture is to study its concept of education.”
Die ‘oor’ godsdienste leer in skole hofuitspraak, in plaas van ‘in’ een godsdiens leer en daarvolgens alle godsdienste beoordeel, is niks anders as wat Rushdoony hier noem nie: die staat wat die Christelike godsdiens verruil het vir ‘n ander godsdiens, naamlik ‘n humanistiese staatistiese godsdiens waarin alle godsdienste gelyk is … behalwe die humanistiese staatsgodsdiens wat dit alles beoordeel en veroordeel.
Die volgende waarheid, Godsopenbaring, mag nie meer ‘eksklusief’ geleer word nie (ja, ek weet, dit was en word tans nie eers baiemaal konsekwent geleer in die praktyk van meeste skole nie, maar nou is daar verval, nl.’n verdere verbod op die ‘eksklusiewe’ christelike geloof):
Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. … Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde. – Spr.1:7-9
Kinders moet orals die vrees van die HERE geleer word, dat daar een Here is van beide redding en wetenskap, van tyd en ewigheid, wat alles gemaak het:
Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. – Deut.6:4-9
En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here. – Ef.6:4
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. – Joh.14:6
En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. – Hand.4:12
En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. …. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. – Hand.17:16,17,30,31
… hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. – Hand.20:20-21
En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering. – Hand.28:30,31
Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus (Ef. 4:20-21)
… aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. – Kol.1:27-29
Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. – 2 Tim.3:14-17
Alle opvoeding en onderwys van ons kinders – van alle mense – moet deur Christus en sy Woord deur die krag van die Gees bepaal word, by ons huise en ons kerk, maar ook daar waar hul in die skole is, daar op die markpleine van ons tye. Die Bybel is dan ook die norm en standaard om alle gelowe, kennis, onderwys en wetenskap te toets en te belig, want sonder Christus kan ons nie spel, skryf en teken nie (In U lig sien ons die lig, Ps.36:10).
Wat op die spel is met hierdie hofuitspraak is nié wat die burgerlike regering van hierdie land doen – reg of verkeerd – nie, en nog gaan doen nie, die Here sal hul regverdig oordeel (2 Kor.5:10).
Die groot vraag is wat gelowiges gaan doen in antwoord op hierdie hofuitspraak en die tydsgees daaragter ? Ja, wat gaan gelowige ouers doen, wat gaan beheerliggame doen wat die Christelike godsdiens (nog?) bely – hoe krom en skeef dit ook baiemaal al was in die verlede.
Die vraag aan ons almal en ook almal betrokke met ons kinders se onderrig en opvoeding op elke terrein van lewe en denke, is en bly:
Het julle My lief … met julle hele hart, met julle hele siel, en met al julle verstand ? (Matt.22:37-40)
Dit is die vraag ook in Junie 2017 en wat gaan volg, veral nou na hierdie hofuitspraak.
Dit is in die besonder die vraag in die jaar van die herdenking van die Reformasie, 500 jaar gelede. Die wese van die Reformasie het nie gegaan oor genade, geloof, die Skrif, Christus of God se eer nie.
Nee, dit het gegaan oor:
– Christus alleen
– genade alleen
– geloof alleen
– die Skrif alleen, en
– God se eer alleen.
Is die Here alleen die ware God, die Skepper van hemel en aarde, nie net die enigste Verlosser in Christus van die mensdom nie, maar ook die enigste Koning van die ganse kosmos, die enigste Koning van al ons opvoeding, wetenskap en onderrig, orals op elke plek ?
In die woorde van Abraham Kuyper: behoort elke duimbreedte van die ganse skepping aan Christus alleen, tot God se eer alleen (Rom.11:33-36) ? (Sien Totius en Stoker se artikels hier onder.)
Die wêreld sê, die hofuitspraak sê: leer van Christus, leer van die Bybel, maar nie as die enigste waarheid, enigste weg en enigste lewe wat na die enigste Vader lei vir alle mense en volke nie.
Die enigste opsie vir ware gelowiges – sou hierdie uitspraak dan bly en uitgevoer word – is om aan te hou Christus as die enigste weg, waarheid en lewe te bely en te leer, en sy Woord alleen as die waarheid, norm en standaard vir alle woorde en denke, ook die opvoeding en onderwys, te bely en te leer.
En waar daar wel van ander gelowe se geskiedenis en idees geleer word, wat myns insiens nie ‘n probleem is nie, moet dit duidelik beoordeel en geweeg word aan die woorde van 2 Tim.3:14-17, dus volgens God se Woord. Dit is altyd goed om ons ongelowige bure en vriende goed te leer ken en te verstaan, sodat ons met groter liefde en passie met hulle die Evangelie van Christus kan deel, asook die wonder van sy Woord as die lig op ons pad vir ons totale lewe.
Gelowige ouers, onderwysers en beheerliggame behoort, en moet dus aanhou die kinders te leer van Jesus Christus as die enigste weg, waarheid en lewe, en sy onfeilbare Woord waardeur Hy deur sy Gees spreek tot almal.
DIT is ware liefde vir die Here,
ware liefde vir die kinders,
en ware liefde vir die waarheid,
dit is ware opvoedkunde, onderwys en onderrig vir nou en die toekoms.
Ons moet daarom ook nie met hierdie hofuitspraak ons Here Jesus se waarskuwende woorde vergeet nie, wat natuurlik vir alle mense geld, maar veral vir gelowiges, op elke plek, of dit nou in die huis, in die kerk, in die skool of op die sportveld of waar ookal is:
En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. – Matt.18:4-6
Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele. – Matt.8:36-38
Ja, wat help dit ons handhaaf al die goeie akademiese standaarde in ons skole, maar dit is sonder Christus, sonder sy Woord wat aan alles sin en rigting gee? (sien die artikel hier onder: Pa, begrawe my op die rugbyveld)
Gaan ons ouers en beheerliggame hul skaam vir Christus en sy Woord, kom ons bid en hoop nie so nie.
Moet ook nie die Woord verdraai om by die ‘nuwe omstandighede’ aan te pas nie. Hou net aan doen wat die Here vra, in die huis, in die kerk, by die skole en orals, en los die resultate in sy hande (HK Sondag 9 en 10).
Ouers en beheerliggame moet daarom bo-alles gehoorsaam wees teenoor God. En as hul nie daardie prys van moontlike vervolging wil betaal in die staatskole nie, moet baie meer
privaatskole en of
tuisskole begin word,
dink ook aan die doopbelofte, vir die gereformeerde ouers. Maar ons mag nie aan Mammon of die Keiser meer gehoorsaam wees as aan die Here wat ons duidelik beveel om ons kinders in die vrese van die Here orals op te voed en te onderrig nie (Hand.12-20; 5:28-42).
Mag die Here deur hierdie hofuitspraak groter hartgrondige deurgronde reformasie gee van ons huwelike, gesinne en skole, en ons roeping in hierdie land (sien Totius se artikel hier onder, Roeping en Toekoms).
Kom ons onthou die woorde van ons Here Jesus, en wat die vroeë kerk gedoen het met die bedreigings van die tipe
OGOD’s yweraars van hul tyd – wat Jesus
alleen, en die Woord
alleen, wou stil maak:
Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het. – Matt.5:10-12
En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het:
Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. (Ps.2)
Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. – Hand.4
________________________
Sien ook die volgende artikels en boeke:
“Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou. Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is. Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”
“Maar waarom is dit in Afrika so treurig gesteld met die skool? Wel, omdat ons ons roeping nie voel, besef en daarvolgens handel nie. Hoe Remonstrants tree ons op! Soos gesê, het die Remonstrant ‘n vrye keuse, die Gereformeerde ewenwel ‘n deur God bepaalde roeping. Ons wil vry bly. Nou sê die een dan ook: Die tyd is daar nog nie voor ryp nie; iemand anders: Afrika is nie Holland nie; en nog ‘n ander een: Ons mense verstaan die saak nog nie, ens. Goed, maar dan is daar ook nie ‘n roeping nie. God roep nie as die tyd nie ryp is nie. God roep nie in Afrika as dit in Holland moet wees nie.
God laat ‘n sinode nie bepalinge aangaande vry onderwys opstel en aanneem as ons niks daarvan verstaan nie. Hoe min ons dan ook ons roeping opvolg, ook selfs waar ons dit sonder opoffering kan doen, blyk aaruit dat deur ons Kerk in Transvaal nie eens geprotesteer is teen die aanvaarding van die wet wat ons intussen veroordeel nie!”
The Christian School represents a break with humanistic education, but, too often in leaving the state school, the Christian educator has carried the state’s humanism with him.
A curriculum is not neutral: it is either a course in humanism or training in a God-centered faith and life. The liberal arts curriculum means literally that course which trains students in the arts of freedom. This raises the key question: is freedom in and of man or Christ? The Christian art of freedom, that is, the Christian liberal arts curriculum, is emphatically not the same as the humanistic one. It is urgently necessary for Christian educators to rethink the meaning and nature of the curriculum.
It should be clear then that whether history, science, mathematics, grammar, literature, ecology, civic duty, or law, every aspect of curriculum must be reconstructed along Biblical lines. The overall objective is for Christian families to prepare and equip themselves for service in the Kingdom of God, and this cannot be done without a rethinking of the philosophy of the Christian curriculum. In this study, Rousas John Rushdoony develops the philosophy of the Christian curriculum. It is the pioneering study in this field, and it is important reading for all Christian educators.
Lees gerus enige boeke van Rushdoony oor opvoeding en onderwys, waarin hy die reformasie van alle vorme van ouer onderwys, beide skool- en tuisonderwys bepleit:
__________________________
Ek gaan nou my bes doen om elke liewe skool wat ’n uitsluitlik Christelike etos het, aan te vat.”
So sê Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), oor die hooggeregshof in Johannesburg se beslissing dat een geloof by openbare skole nie bo ’n ander geloof bevorder mag word nie.
Die uitspraak is “fantastiese” nuus, sê Pietersen.
“Dit was ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie mag identifiseer met een spesifieke geloof nie. Dit is nou amptelik onwettig verklaar. Ons sal nou sorg dat elke skool die wet reg toepas,” sê Pietersen.
Ogod wou hê die hooggeregshof moes die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn se godsdiensbeleid ongrondwetlik verklaar.
Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê skoolbeheerliggame sal nou die skole se beleid moet hersien en in ooreenstemming met die Grondwet, die Skolewet en die departement se beleid oor geloof moet bring indien dit nie reeds so is nie.
Mhlanga sê die uitspraak verbied nie gelowe by skole nie en onderstreep die huidige beleid oor geloof by skole.
Mhlanga het beklemtoon dat geloof net by skole op ’n gelykwaardige basis beoefen moet word en dat die bywoning daarvan vrywillig moet wees.
“Die doel is nie om godsdienstige praktyke in skole te belet nie. Dit gaan oor die beskerming van kinders en om te benadruk dat skole deel behoort te wees van opvoeding oor godsdiens eerder as onderrig in godsdiens. ’n Skool behoort nie een godsdiens bo ’n ander te bevorder nie,” sê Mhlanga.
Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het in ’n verklaring gesê: “Hierdie uitspraak is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van skeiding tussen kerk en staat nie. Dit is eerder die bekragtiging van die Suid-Afrikaanse Grondwet se klem op verdraagsaamheid en diversiteit.”
Die Cause for Justice (CFJ), wat as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat is tot die saak, het in ’n verklaring gesê die hof het bevind Suid-Afrika is nie ’n sekulêre staat nie.
“Volgens ons het die hof se beslissing die plek van godsdiens in die openbaar bevestig, spesifiek in openbare skole, terwyl dit vereis skole nie hulself bemark op ’n wyse wat minderhede kan uitsluit nie.”
Die vakbondbeweging Solidariteit het die uitspraak verwelkom.
“Beheerliggame behou steeds die reg en bevoegdheid om die etos en geloofspraktyke van ‘n betrokke skool te bepaal, mits dit voldoen aan die riglyne wat in die Skolewet vervat is,” het Juran van den Heever, woordvoerder van Solidariteit, in ’n verklaring gesê.
__________________________
28 Junie 2017
VERKLARING OOR UITSPRAAK IN GODSDIENS-IN-SKOLE HOFSAAK
TKR Briefhoof (BO)
Die Tussenkerklike Raad is dankbaar oor die uitspraak wat regter Van der
Linde gelewer het oor die hofaansoek teen godsdiens in openbare skole. Na
wat ons verneem is slegs twee van 77 aansoeke van die klaers toegestaan.
(Dat openbare skole hulle nie mag bemark as ‘n skool met ‘n spesifieke
godsdienstige inslag nie en dat daar nie teen leerders van
minderheidsgodsdiensgroepe gediskrimineer mag word nie. )
Die belangrike van die uitspraak is dat die hof die plek van godsdiens in
die openbare lewe, spesifiek openbare skole, erken het. Dit bevestig
weereens die standpunt wat die TKR nog altyd handhaaf, naamlik dat die
Suid-Afrikaanse grondwet nie ‘n sekulêre grondwet is nie, maar een wat
pluraliteit sonder diskriminasie erken.
Ons is veral verheug daaroor dat die uitspraak duidelik die aansoek dat
leerinhoud sonder enige godsdienstige begronding aangebied moet word,
afgewys het. Ons mag inderdaad in die skole ‘n wêreldbeskouing handhaaf wat
hierdie wêreld nie sien as ‘n toevalligheid nie, maar as God se wêreld. Ons
mag en moet die geheime van die wetenskap en die fisika en die fisiologie
sien as ‘n klein, klein kykie in die handewerk van die grote en ewige God.
Die hof se beslissing impliseer duidelik dat sogenaamde neutraliteit nie
werklik neutraal is nie, maar ‘n keuse vir ‘n sekulêre, God-lose opsie.
Christus se woorde in Mattheus 12: Wie nie vir My is nie, is teen My, is
inderdaad hier van toepassing.
Die TKR wil in die lig van die uitspraak twee appélle tot ons lidmate rig.
· Die eerste is dat ons altyd sal onthou dat godsdiensonderrig van
ons kinders primêr die taak van die ouer is, en dat die skool se bevoegdheid
inderdaad gedelegeerde ouerbevoegdheid is.
· Ten tweede moet hierdie uitspraak, te midde van die vloed van
negatiewe dinge wat in ons land gebeur in terme van staatskaping en
korrupsie en misdaad, ons oë ook open vir die seëninge wat ons nog uit die
hand van die Here in hierdie land ontvang, nie die minste nie dat ons Hom
met vryheid mag dien en aanbid, selfs in die openbaar. Ons mag die negatiewe
dinge nie miskyk nie, maar ons mag ook nie daarteen vaskyk nie.
Baie dankie.
Cassie Aucamp
Ds Cassie Aucamp
Voorsitter: Deputate Ekumenies
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
Sel: +27 82 377 1112
Gustav Claassen
Dr Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Tel: +27 (12) 342 0092
Sel: +27 82 856 1943
WC van Wyk handtekening
Dr Wouter van Wyk
Sekretaris: Kommunikasie
Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
Tel: +27 (12) 322 8885
Sel: +27 82 339 2332
E-pos: <mailto:wouter@nhk.co.za> wouter@nhk.co.za
Like this:
Like Loading...
Related
Slabbert, ek dink tog daar is iets wat weer in die kerke moet terugkom en dit is meer intense katkisasie ook deur die week. Toe ek op skool was het ons aansienlik meer in katkisasie gedek as wat, so lyk my, dit nou die geval is. Nie dat meer noodwendig beter is nie. Maar is dit nie so dat mettertyd die sport en ander sg. kultuuraktiwiteite by skole baie belangriker geword het as die geloofsonderrig nie? Ek is geensins anti-sport nie maar ons moet maar eerlik wees dat oor die algemeen geloofsonderrig so te sê heel onder op die lysie is van dinge wat gedoen moet word. Beteken dit nie dan maar dat baie van ons nie werklik so ernstig oor geloofsonderrig is soos wat dit voorgegee wil word nie. So hoor ek vanoggend oor die radio dat ‘n “goeie” Afrikaner vrou sê, dat almal maar dieselfde god aanbid en dat dit verskillende gelowe maar net verskillende paaie na dieselfde plek is.
Goed gestel Johan, sien spesifiek daardie artikel van Johannes de Koning wat hierdie saak sterk aanspreek: Pa, begrawe my op die rugbyveld. Ekself glo ook daar is plek vir sport en die liggaam te oefen, maar dit moet nie my hele lewe bepaal nie.
Die meer katkisasie is goed, en daarmee moet saamgaan juis die reformasie van die hele lewe. Ons geloof self, die Here en sy Woord self – en nie skool en/of kerklike aktiwiteite nie, moet ons agendas bepaal. Dan sal elke saak in ons lewe sy regmatige plek kry, so ook sport, kultuur, kuns, ens.
Baie dankie vir hierdie nugtere perspektief op so ontsettend belangrike saak.