“Die GKSA” – van Vryheid tot Gevangenisskap

DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA

Van Vryheid

in Gebondenheid aan die Woord

Tot Gevangenskap

in Menslike Strukturalisme

Dr P E van der Dussen

Pretoria, Augustus 2014

Wagter, hoe ver is dit in die nag?

Wagter, hoe ver in die nag?

Die wagter sê: Die môre kom,

en ook die nag.

Wil julle vra, vra; keer terug, kom. 

– Jesaja 21:11,12

VOORWOORD

Wanneer iemand ‘n dokter raadpleeg kan die dokter niks vir of aan hom doen voordat hy die pasiënt deeglik ondersoek het nie, nie behandeling voorskryf voor hy die aard van die ongesteldheid vasgestel het nie. Sinode-2012 van “die GKSA” het besluit dat ‘n kommissie die onenigheid in “die GKSA” moet ontleed en ‘n omkeerstrategie aan die beoogde sinode in Januarie 2015 moet voorlê.

Daarmee is die voorgewénde skyn van een-van-hart-en-een-van-sin in “die GKSA” oopgebreek. Hoewel die besluit a-kerklik van aard is, erken dit die dekadelange smeuling in “GKSA”-geledere. Gebeure sedert Januarie 2012 bevestig dat dié erkenning noodsaaklik geword het teneinde die toenemend verlammende uitwerking van die onenigheid teen te werk.

Die besluit van 2012 bring “die GKSA” voor die keuse: puranda, of reformanda. Dit was ‘n ontvlugtingsbesluit wat die beoogde vergadering van getrapte afgevaardigdes van streeksinodes in Januarie 2015 voor ‘n dilemma gaan plaas. Let daarop dat géén gemeente regstreeks seggenskap in die saak sal hê nie, tensy die verslag ruimskoots vooruit aan elke Gemeente vir oorweging gestuur word. Gestruktureerde sinodokrasie is ‘n simptoom van die toestand in “die GKSA”.

Om die verslag van kennisname en bespreking deur elke Kerkraad en Gemeente te weerhou, sal die optrede van en sedert 2012 nutteloos maak en die onenigheid vererger. Ook sal die vergadering die kommissieverslag heel eerste en baie breedvoerig moet hanteer en tot besluit(e) moet kom teneinde geloofwaardigheid te verseker oor hierdie en trouens elke ander besluit. Om die oorsaak of oorsake van die toestand in hierdie artikel te behandel sal voorbarig wees. Dit sal die taak van die beplande vergadering in Januarie 2012 wees.

Waarom word “die GKSA” tussen aanhalingstekens geplaas? Die strukturalistiese denke van die twintigste eeu het die vrymaking van die Gereformeerdes in 1859 sodanig ondergrawe dat vandag se lede van Gereformeerde Gemeentes na dieselfde sinodokrasie teruggevoer is wat die Hervormde Kerk van destyds beoefen het. Volgens die Presbiteriale Kerkregeringstelsel het vergaderings van meerdere gemeentes géén regstatus nie, nie Kerkregtelik en nie Staatsregtelik nie, en bestaan dus nie werklik nie.

SAMEVATTING

Op 11 Januarie 1859 verklaar vyftien ondertekenaars in ‘n brief aan die Algemeene Kerkvergadering der Nederduitsch Hervormde Kerk in de Zuid Afrikaansche Republiek: Ondergeteekenden, zich bezwaard gevoelende over u genomen besluit van heden morgen, omtrent de aangeboden hulp uit Nederlands Kerk,….. verklaren door dezen vrijwillig, dat zij van nu af treden uit uwe kerkelijke gemeenschap en wenschen te bestaan als eene Vrije Gereformeerde Kerk, overeenkomstig de leer, tucht en dienst der vaderen….

In Januarie 2015 sal die streeksinodes in “die GKSA” ouderlinge en predikante en ouderlinge na ‘n nasionale sinode afvaardig volgens die stelsel van getrapte verteenwoordiging van Gemeentes. Die getrapte afgevaardigdes sal daarom as die deputate, die afgevaardigdes, die verteenwoordigers van Gemeentes in die ressort van hulle streeksinode, in sinodale vergadering byeenkom. Sal hulle die sendende Gemeentes vooraf raadpleeg, veral oor die verslag oor ‘n omkeerstrategie? Sal hulle aan die Gemeentes wat hulle verteenwoordig kom verslag doen? Dit is die aangewese, sinvolle, eerbare Presbiteriale weg van die Dordtse Kerkorde. Dit stel die eis aan die vergadering om die verslag oor ‘n omkeerstrategie eerste en uitvoerig in behandeling te neem.

Wat is die wese van die Ware Kerk? Die Ware Kerk moet heilig wees soos God heilig is, ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie, nie net op hierdie lewe gerig nie, maar eskatologies gerig om Gods volk wakende en die lampe brandende hou, wagtend op die Bruidegom, met die taak om in onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Koning Jesus Christus ín die wêreld Sy Koninkryk sigbaar te maak en te bevorder.

Die woord Kerk kom nie in die Bybel voor nie, wel gemeente. Kerk het met verloop van tyd ‘n institusionalistiese gevoelswaarde en betekenis gekry wat in strukturalisme en organisasionalisme ontaard het, in wese sentrale beheer. Dié denke sluit by sosiale én Kommunisties-Sosialistiese denke aan wat op die mensgerigte begrip gemeenskaplik berus, behorende tot ‘n gemeenskap of kommune.

Kerklik kom dit in sinodokratiese kollegialisme tot uiting. “Die GKSA” het apostaties oor die laaste dekades ‘n sinodokratiese rigting ingeslaan en van die Skriftuurlik-Presbiteriale kerkregeringstelsel wegbeweeg. In eie geledere word gemaklik Kerkgenootskaplik gedink dat meerdere vergaderings aan Gemeentes en hulle lede mag voorskryf. Dit veroorsaak verwarring en eiesinnige optrede en open die weg na apostaties-maatskaplik-politieke besluite en optrede wat die selfstandige Gemeentes bind.

Dr Abram Kuyper het twee weë vir die Ware Kerk onderskei. Herstel is moontlik solank onsuiwerheid, impuritas, geld. Geen kerk is ooit volmaak-suiwer nie omdat geen mens goed is nie. Teen onsuiwerheid kán en móét gestry word: semper puranda – deurlopend suiwerend. Daarteenoor staan de-formering (afbreek van die vorm) wat ge-reformeerdheid (voltooide herbou) aantas en apostatiese verbastering van kerk met wêreld meebring. Daarvoor sien Kuyper net een oplossing: Re-formering, her-formering, terug-formering, semper reformandadeurlopend re-formerend.

Dr. PE van der Dussen

(pevddussen@outlook.com)

__________________________________

U kan die volledige artikel hier aflaai:

A4 formaat: Van Vryheid tot Gevangenskap

A5 formaat: Van Vryheid tot Gevangenskap

Ek plaas hier ‘n uittreksel:

Reformasie teenoor Transformasie – Sosiopolitiese betrokkenheid – glybaan na Apostase

Die GKSA op pad na apostase[1]

Spoelstra[2] praat van huidige wêreldwye verrotting in gereformeerde geloof en godsdiens in bepaalde kringe en verklaar: Die GKSA het stilswyend gebreek met Skrif- en histories gegronde belydenis. Die kerk word toenemend as ‘n menslike, ‘n sosiologiese, ‘n samelewingsinstelling gesien. Waar die kerk op ʼn outentieke wyse bestaan, is haar blote bestaan ʼn kritiek op die samelewing. Versoening, genade en hoop is sake waarom dit in die kerk gaan, maar wat nie in die samelewing gevind word nie. Die Kerk is ʼn unieke gemeenskap – ʼn skepping van God. Die kerk moet konteks-sensitief wees. Op kerklike wyse moet die volgende sake hanteer word: misdaad, armoede, werkloosheid, HIV, rassisme, korrupsie, regstellende aksie, ekologiese versteurings, ens.[3]

Die lys kan uitgebrei word. Die sake is almal mensgerig en ‘n uitdrukking van humanisme wat téénoor die verlossingsleer in die Belydenis staan. Hoedanig die GKSA as Kerkverband reeds in hierdie rigting beweeg het, blyk uit Sinode-2003 se opdrag aan die Deputate vir Korrespondensie met Sentrale, Provinsiale en Munisipale Owerhede.[4] Vyf voorbeelde van sosio-politieke betrokkenheid word uit die Handelinge voorgehou.

Voorbeeld 1: Geweldsmisdaad

Die Deputate kry opdrag om alle rolspelers – die kerk, die samelewing en die owerheid (nasionaal, provinsiaal en munisipaal) – van die omvang van die geweldsprobleem te laat kennis neem en met mekaar in gesprek laat tree om gesamentlik te besin oor hoe die probleem van geweld die beste aangespreek kan word. Die Deputate moes namens die GKSA en dus namens elke Kerkraad as koördineerder oor die wesenlike ampstaak van elke owerheid optree soos dit in Rom 13 uiteengesit word. ‘n Owerheid is ‘n dienaar van God, die mense ten goede. Want ‘n owerheid dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen te straf.[5] Doen hy dit nie, versaak hy sy ampstaak en is hy nie ‘n dienaar van God nie. Nie die kerk (of enige ander sogenaamde rolspeler) het die opdrag en reg om hierdie taak te verrig nie.

Die misdaadtoestand is so ver gevorder dat ‘n toenemende neiging sigbaar is dat mense die reg in eie hande neem omdat die regime nie deur middel van die polisie en ander dienste die misdaadtoestand kan of wil beheer nie. Misdadigers van die ergste graad loop vry rond en amnestie word aan geweldsmisdadigers verleen. Romeine 13 omskryf ‘n owerheid se taak eenduidig as die gebruik van die swaard om die kwaaddoeners te straf en die burgery te beskerm. Doen hy dit nie, tree hy in die sin van Art 36 NGB in stryd met die Woord van God op. Deur hierdie eenduidige taak nie uit te voer nie verbeur ‘n regime die aanspraak op owerheidskap en het die burgery geen keuse as om hom ooreenkomstig Art 36 NGB ongehoorsaam te wees nie. Sekerlik lê dit op die weg van die Kerk om hieromtrent leiding te gee sodat dit op ordelike wyse geskied onder leiding van sogenaamde volksmagistrate of burgerlike beheerders en nie in anargie oorgaan nie. Dit is egter nie die Kerk se taak om regstreeks by die misdaadtoestand betrokke te raak nie.

Teenoor ‘n regime het die Kerk die roeping om hulle tot bekering op te roep, nie om hulle te help beplan of voor te skryf hoe hulle die saak moet aanpak nie. In die heersende omstandighede sluit dit in dat die Kerk die regime onomwonde voor die werklikheid stel dat hy geen aanspraak op erkenning as owerheid het solank hy nie die eenduidige taak in Rom 13 uitvoer nie.

Beskeidenheid is nie ‘n kenmerk van die opdrag nie. Afgesien van die beginselstellingname hierbo is die kerk nie bevoeg of in staat om die opdrag te kan uitvoer nie. Die kerk beskik nóg oor die kundigheid nóg oor die mannekrag nóg oor die organisasie om misdaad te bestry. Verder kan die GKSA as Kerkverband onmoontlik nie alle standpunte oor die saak onder die lidmate tot praktiese toepassing bring nie.

Voorbeeld 2: Armoede en werkverskaffing

Aan die Deputate is verder opgedra om saam met reeds bestaande instellings en organisasies advies te gee aangaande hulpverlening ten opsigte van die armoedevraagstuk, veral met betrekking tot projekte vir werkverskaffing – projekte wat arm mense begelei na volhoubare inkomstes, verder om getuienis te laat hoor teenoor enige sisteem en skema, van wie ook al, wat mense verarm en uitbuit.

Dit is die priesterlike ampstaak van die ware Kerk om in die nakoming van die diakonale amp aan almal goed te doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.[6] Dit is die profetiese ampstaak van die ware Kerk om die nakoming van die Vierde Gebod te verkondig, naamlik dat elkeen ses dae van die week móét werk. Dit is die koninklike ampstaak van die ware Kerk om teen die agtergrond van Gen 3:17-19 te verkondig dat wie nie wil werk nie, ook nie moet eet nie.[7]

Dit beteken nie dat die ware Kerk onverskillig mag staan teenoor diegene wat wil werk maar wat in die ekonomiese stelsel nie ‘n betrekking vind, nie in diens geneem word nie. Inteendeel is dit deel van die diakonale amp om sulke mense in nood by te staan en behulpsaam te wees in die soeke na ‘n betrekking.

Dit lê egter nie op die weg van die kerk om by projekte vir werkverskaffing betrokke te raak nie. Die kerk is ook nie bevoeg of in staat om dit te doen nie. Werkverskaffing is ‘n misleidende politieke slagkreet. Geen mens begin ‘n onderneming met werkverskaffing as doelwit nie. Die doelwit met ‘n onderneming is om by wyse van wins ‘n inkomste vir die ondernemer te verkry. Om daardie doel te bereik is dit meestal nodig om ander mense in diens te neem. Werkgeleenthede ontstaan, kom voort uit die winsdoelwit van die ondernemer, nie uit ‘n doelwit om werk aan mense te verskaf nie. Dit is ‘n totaal irrasionele manier van dink. ‘n Ekonomiese stelsel wat hierop berus sal gou ineenstort.

Voorbeeld 3: Betrokkenheid by wetgewing

‘n Wye opdrag is dat die Deputate wetgewing voortdurend moet monitor en voorgestelde wetgewing bestudeer en in die lig van die Skrif, Belydenis, Kerkorde, Sinodebesluite en Gereformeerde etiek op die mees effektiewe manier daarop kommentaar te lewer. Dit val op dat Sinodebesluite en Gereformeerde etiek by die drie grondslae van die ware Kerk, naamlik Skrif, Belydenis en Kerkorde gevoeg word. Die indruk word gewek dat sekere Sinodebesluite nie met Skrif, Belydenis en Kerkorde versoenbaar is nie. Dit geld ook vir Gereformeerde etiek. Die status van ‘n sinodale vergadering word bo die presbiteriale Kerkregeerstelsel verhef. Dit voer die Kerkverband gevaarlik nader aan die valse kerk wat in Art 29 NGB beskryf word as ‘n kerk wat aan homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God en hom aan die juk van Christus nie onderwerp nie.

Die Deputate Owerhede het aansluitend die volgende voorstel aan Sinode-2006 voorgelê:[8] Die Sinode dra dit aan die te benoeme Deputate Owerheid op om op grond van die Gereformeerde Belydenis ‘n grondige beoordeling van die grondwetlik-demokratiese staatsbestel waarbinne die RSA tans staan, te maak en dit aan die Part Sinodes, Klassisse en gemeentes voor te lê as riglyn vir gesprekke met die regering van die dag en ander owerheidsinstansies. Drie voorbehoude word gestel: Dit moenie ‘n evaluering van die regime se beleid wees nie; dit moenie die gebrekkige daarstelling van ‘n egte grondwetlike demokrasie beoordeel nie, en die verslag moenie voorgee om volledig te wees nie aangesien dit vanuit ‘n baie spesifieke hoek benader word. Die doel wat hierdie beoordeling wél moet dien, is om in die lig van ons Belydenis, te oordeel hoe die kerk sy taak as dienaar van God binne ‘n grondwetlike demokrasie kan volvoer. Terselfdertyd moet vasgestel word hoe en of Artikel 36 NGB, volgens sy huidige formulering, uitvoerbaar is binne die staatkundige realiteit waarin ons onsself bevind.[9] In 1994 is ‘n grondwetlike demokrasie (regstaat) in Suid-Afrika gevestig wat ‘n verskuiwing in die verhouding tussen die owerheid en kerke gebring het. Sedert 1994 het dit duidelik geword dat die tradisionele werkswyse wat deur die GKSA gevolg is om getuienis teenoor die owerheid te lewer hersien moet word.Terselfdertyd het NGB Art 36 binne ‘n historiese konteks ontstaan waarin die teokrasie[10] as staatsvorm gehandhaaf is. Die werklikheid is egter dat ons situasie radikaal verskil van die situasie waarbinne die NGB ontstaan het. Dit is daarom noodsaaklik om aandag te skenk aan die hermeneutiese vraagstuk: Hoe lewer ons getuienis binne ‘n nuwe staatkundige opset? Hoe kom ons tot ‘n verantwoorde lees van die Belydenisskrifte waarin die verskil in historiese konteks ernstig opgeneem word, maar waarin ons steeds poog om ernstig te luister na wat vir ons gesê word? Hierdie beskouing is ‘n voorsetting van die nuwe hermeneutiek wat op die sosio-historiese Skrifuitleg gegrond is.

Sinode-2006 het die voorstel nie goedgekeur nie. Die beredenering toon egter die gedagtegang van die Deputate Owerhede dat minstens Art 36 NGB hersien moet word. Soos in Hoofstuk 3 getoon word, mag dit slegs geskied as aangetoon kan word dat dit nie met die Woord van God ooreenstem nie. Die Deputate vra egter wysiging van Art 36 NGB op grond van politieke en ideologiese oorwegings. D’Assonville[11] sê hieroor: Die beleid van die staat mag nooit die belydenis van die kerk, dat die Bybel die gesagvolle Woord van God is, vervang nie. (Skrywer se beklemtoning.) Weereens kom die valse kerk in die gesigsveld.

Dit is duidelik dat die Deputate Owerheid ‘n eiesoortige siening van hulle taak het wat nie met die profetiese taak van die ware Kerk ooreenstem om te alle tye op Skriftuurlike wyse uit die Woord van God te getuig nie en is daarin deur Sinode-2003 en Sinode-2006 gesteun. Die Kerk mag nie sy seile na die wind van nuwe staatkundige opsette span nie. Hy moet op vaste grond sy ampstaak uitvoer, dan sal daar geen tweedrag ontstaan nie en sal die eenheid in die Kerke en die krag van die profetiese getuienis onskendbaar bly. Of die owerhede na die getuienis van die Kerk luister is nie vir die uitvoering van dié ampstaak tersake nie.

Die opdragte van Sinode-2003 is deur Sinode-2006 verder gevoer met die besluite om by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aan te sluit en by die Parlementêre Lessenaar van die Nederduits Gereformeerde Kerk in te skakel.[12] Verder beweeg die Konvent van Reformatoriese Kerke, waarin die GKSA ‘n leidende rol speel, ook op die sosio-politieke terrein. Sinode-2006 het besonderlik die GKSA-kerkverband tot deelname aan en ondersteuning van die politieke beleid van die regime verbind.

Voorbeeld 4: Die grondhervormingsprogram

Die Deputate het ‘n bykomende opdrag gekry om by die sogenaamde grondhervormingsprogram van die ANC-SAKP-regime betrokke te raak.[13] Die bewoording van die voorstel van Suidelike Partikuliere Sinode laat geen twyfel dat hulle die program steun nie, en Sinode-2006 het met sy besluit elke Gereformeerde Kerkraad binne die GKSA daaraan gebind. So word aan die ANC-SAKP-regime te kenne gegee dat elke lidmaat van ‘n Gereformeerde Kerk die grondhervormingsprogram onderskryf. Daarmee knieval Sinode-2006 namens die GKSA voor die Kommunisties gedrewe politieke program van die ANC-SAKP en verlaag die GKSA sodoende tot ‘n politieke lakei. Dit is ‘n groot tree op die weg van apostase.

Voorbeeld 5: Die GKSA en die Northwest University

‘n Laaste saak wat op die apostatiese benadering in die GKSA wys verskyn in §4.4 van die Ooreenkoms tussen die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika[14] en die Northwest University: Die Universiteit onderneem om saam met die Senaat van die Teologiese Skool die studie van teologiese studente waar te neem ooreenkomstig die reformatoriese teologie, soos byvoorbeeld vergestalt in die navorsingseenheid van die Fakulteit Teologie, naamlik Die Reformatoriese Teologie en die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing. Die reformatoriese teologie (let wel: nie die Gereformeerde teologie nie) waarin die teologiese studente opgelei word, word binne die raamwerk van die sosio-politiek geplaas. So word toekomstige predikante van die GKSA in die weë van social gospel opgelei.[15]

Die Kerk se roeping

Die bostaande vyftal sake lê almal op die weg van owerhede met bepaalde politieke programme binne ‘n regeerstelsel of regime. Sodra die Kerk hom hiermee begin bemoei, begeef hy hom op die politieke terrein volgens die heersende partypolitieke ideologieë en bepaaldelik die ideologiese grondslag van die regering-van-die-dag. Die ANC-SAKP-regime in Suid-Afrika se ideologiese inslag is Kommunisties en hy bring dit in die praktyk en voer dit as beleid uit. Dit is nie die Kerk se taak om enigsins aan hierdie beleidsuitvoering mee te werk nie. Inteendeel is dit die Kerk se taak om uit die Woord die wesenlike sondigheid van die Kommunistiese ideologie te verkondig, en te verkondig dat die Here HERE dit nie onbepaald sal verdra nie.

Sake op die horisontale terrein hoort nie op die weg van die Kerk nie. Die Kerk is nie ‘n wêreldlike mensgemaakte instelling of organisasie nie en mag nie take op hom neem wat nie tot hom hoort en hom nie toekom nie. Die ware Kerk is deur God Self ingestel en het die taak om die Evangelie te verkondig deur middel van drie dienste: Woordbediening (die profetiese), ordening en tug (die koninklike), en barmhartigheid (die priesterlike amp). Dat die Kerk die lewensomstandighede van lidmate en die omstandighede in die wêreld daarbuite toelig en aanraak, spreek vanself.[16] Hy mag egter nie daarin vasval en in sy doen en late bemoeisiek wees en ‘n humanistiese gees van liefdadigheid bo die Evangelie van verlossing stel nie. Soos Paulus waarsku:[17] As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

D’Assonville[18] plaas politieke bemoeienis van die kerk in eskatologiese verband wanneer hy na die groot hoer in Openbaring 17 verwys: Sy was ‘n spesifieke persoon of instansie wat met die politieke leiers van die wêreld owerspel gepleeg het. Ons moet onthou dat ons hier met ‘n visioen te doen het. Die boodskap word deur ‘n visioen wat Johannes gesien het vandag aan die kerk deurgegee. En nou weet ons: As die kerk of sinodes (tydelike vergaderings wat besluite neem), haar met die politiek begin bemoei en politieke sake op hulle tafel neem of insette vir die landspolitiek begin maak, waar dit nie meer oor God se Woord gaan nie – dan begin die kerk op die pad van owerspel met die staat beweeg. Pasop, terugkeer word al hoe moeiliker! Nooit is die kerk se bestaan van ‘n politieke party of ‘n politieke ideologie afhanklik nie. Die beleid van die staat mag nooit die belydenis van die kerk, dat die Bybel die gesagvolle Woord van God is, vervang nie. (Skrywer se beklemtoning.)

Greijdanus[19] voer in sy verklaring van Openbaring 18 die saak verder. Vers 4 meld dat Johannes ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, My volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Dat dit ‘n stem uit die hemel is wat die opdrag aan My volk gee, laat blyk dat dit die Here Self is wat spreek, wat Sy volk, die ware Kerk, waarsku en hulle wil beskerm: As hulle gemeenskap met die sondes van Babilon beoefen, verwerf hulle ook die plae oor Babilon. Die oproep om uit haar uit te gaan, beteken nie noodwendig dat hulle dit na die liggaam moet doen nie. Dit is ‘n geestelike oproep om hulle van Babilon se invloed te bevry. Die gelowige is in maar nie van hierdie wêreld nie. Sy getuienis moet voortgaan en na die hele wêreld uitgaan.[20] Hy moet hom egter in hierdie wêreld afsonder van die mense wat van die wêreld is.[21] ‘n Kerk wat hom nie van Babilon losmaak nie en selfs met Babilon saamwerk, al is dit met die verskoning dat die Woord orals gehoor moet word, is ongehoorsaam aan die Here en ontrou aan sy aard en roeping.

Volgens Van Oene[22] het (gereformeerde) Kerke in die algemene sin in Art 28 KO ooreengekom dat die gewoonte van ontroue of apostate kerke om met openbare verklarings en optredes of deur rewolusionêre groeperinge te steun in allerlei politieke sake in te meng, in stryd is met die kerk en onversoenbaar met die gedragswyse wat ooreenkomstig die Woord van God behoorlik is. Inderdaad meen hy dat daar ‘n tyd kan kom dat ons dankbaar sal wees oor die insluiting van hierdie artikel in ons Kerkorde omdat dit tot seën en voordeel sal wees dat ons kan toon dat die Gereformeerde Kerke wesenlik van daardie religieuse liggame verskil wat aan die ware aard van die kerk ontrou geword en tot politieke en sosiale organisasies onder die dekmantel van die kerk gedegenereer het. Die implikasie is duidelik: Ware Kerke moet apostate of ontroue kerke tug deur van hulle af te skei.

In die woordgebruik van Van Oene het die GKSA as Kerkverband ver op die pad van apostase gevorder en bevind hy hom reeds op die glybaan van ontroue kerk wat eienskappe van die valse kerk openbaar. Dit word gevaarlik. Soos d’Assonville aantoon word terugkeer al hoe moeiliker.

Afgesien van die bostaande beginselstelling moet gestel word dat geen kerk of kerkverband oor die vakkundige of materiële of ander nodige vermoëns beskik om aan die uitvoering van sosio-politieke sake mee te werk nie. Hy mag hom ook nie daaroor uitspreek nie, behalwe wanneer dit blyk dat dit in stryd met die Skrif is,[23] en dan net oor die Skriftuurlike beoordeling. Die ware Kerk sal hom op Skrifgronde van ‘n saak losmaak en sy lidmate daartoe opvorder, terwyl hy duidelike getuienis teenoor die betrokke owerhede uitspreek om hulle van hulle sondige weg te bekeer. Dit is die weg wat Daniël en sy drie vriende gevolg het. Dit is die weg wat Johannes die Doper gevolg het. Dit is die weg wat Petrus en Johannes gevolg het. Dit is die weg wat Paulus gevolg het. Dit is die weg wat Luther, Calvyn en De Brès gevolg het. Daar is geen ander weg wat die ware Kerk ooit kan volg nie, nie nou nie, nie in die toekoms nie, nie aan die einde van die dae wanneer die ware Kerk uit Babilon moet uitgaan nie.[24]

Luther en Calvyn het onverskrokke op duidelike Skrifgronde hulle teen die valse leer in die Roomse Kerk verset. Die Kerk het vandag die taak om hom selfs sterker en duideliker teen die heersende antichristelike ideologie te verset. Wat die owerhede betref, beteken voorbidding nie dankgebede en goedpratery en blindelingse onderskrywing nie. Die Kerk het die taak om die owerhede op hulle roeping ooreenkomstig Art 36 NGB en Rom 13 te wys, hulle aan te spreek en om hulle bekering te bid indien hulle daardie roeping nie nakom nie. Die Kerk mag en moet misstande vanuit die Woord aan owerhede uitwys, veral as die owerhede ongelowig en dus onkundig is. Die Kerk mag hom egter nie op die terrein van die owerheid begewe nie.

[1]   Die HAT noem apostas(i)e geloofsversaking, en ‘n apostaat noem hy ‘n verloënaar van die geloof. Om ‘n kerk as apostaat te bestempel is geen geringe saak nie. Kyk V E d’Assonville sr: Die Koms van Christus en die Antichris, Marnix, 2006, bls 73. Daar teken hy die kerk se bemoeienis met poltieke vraagstukke as owerspel met die owerhede.

[2]   Die Kerkpad, Mei 2006, bls 7-9.

[3]   Teologie/Theology te/at Kovsies, 25-jarige Feesuitgawe, September 2005, Inleidingsartikel. Bekombaar by www.google.com.

[4]   Handelinge-2006, bls 170-171. Volgende aanhalings kom ook hieruit.

[5]   Rom 13:4.

[6]   Gal 6:10.

[7]   2 Thess 3:10.

[8]   Handelinge-2006, bls 175-176 § 3.3.

[9]   Handelinge-2006, bls 176 § 3.3.4 en 3.4.

[10] Daar was in die 16e en 17e eeu geen sprake van teokrasie nie. Die Roomse Kerk het die Heilige Romeinse Ryk gedurende die Middeleeue totstandgebring en in die Renaissancetyd gehandhaaf deur seggenskap oor die aanstelling van die konings van onder meer Frankryk en Spanje te behou. Daarteenoor het die Hervormers hulle hiervan losgemaak, soos die brief van Guido de Brès aan die Franse koning duidelik maak. In Nederland, waar die Gereformeerde leer die sterkste tot uiting gekom het, is die kerklike heerskappy uitdruklik beëindig en het Dordt in Art 36 NGB en Art 28 KO die saak bo alle twyfel gestel.

[11] V E d’Assonville sr, bls 73.

[12] Hierdie besluite word in Hoofstuk 5 uitvoerig behandel.

[13] Handelinge-2006, bls 831-834.

[14] Verteenwoordig deur die Kuratorium wat oor die opleiding van predikante vir die GKSA toesig moet hou.

[15] ‘n Uitgebreide Beswaarskrif van P van der Kooi teen die invoering van dialektiese teologie is aan Sinode-2006 voorgelê maar op tegniese gronde nie ter tafel geneem nie.

[16] Joh 17:14vv.

[17] I Kor 15:19.

[18] V E d’Assonville sr, bls 73.

[19] Bls 267 saam met sy kommentaar oor Opb 18 as geheel, bls 264vv.

[20] Joh 17:9-19.

[21] I Kor 5:9-11.

[22] Kyk voetnoot 50.

[23] Art 36 NGB.

[24] Openb 18:4.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: