Preek: Psalm 73 – Hoekom Here ?

                   Photo: Gustav Opperman - Graphics - After MalemaGustav Opperman fotografie

Lees: Psalm 73

Teks: 73: 16, 17  Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en op hulle einde gelet het.

Tema: Ons verkry die antwoord op die vraag na die voorspoed van die goddeloses slegs deur naby aan God te leef.

Psalms: 98:1,2; 98:3,4; 130:2,4;73:1,2; 73:11,12.

Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Daar is mense wie se pad deur die lewe baie maklik is;

so maklik soos ‘n warm mes deur botter sny,

kan ‘n mens sê.

 

Hulle pad is net afdraend.

Hulle kom waar hulle is,

deur te ski, deur te gly, deur te skaats.

Sukses is outomaties.

Hulle lewe soos die mense op die sigaret- en drankadvertensies,

fris en gesond, mooi afgerond.

Die lewe is een groot plesiersirkus,

een lang vier-by-vier vakansie.

 

Hulle kom weg met alles.

Dis hulle wat die trippel sewes op die dobbelmasjiene slaan.

Dis hulle wat met die mooiste meisies in die skool uitgaan.

Hulle kry hulle brood aan altwee kante gebotter.

Hulle sê: “God sorg vir die wat vir hulself sorg. Elke hond vir homself!”

 

Maar selfs die honde het meer genade as hulle …

Want ons lees nog hoe die honde Lasarus se swere gelek het,

terwyl die ryk man purper en fyn linne dra

en elke dag vrolik en weelderig lewe.

 

Hulle is vinnig met die mond,

vinnig met die antwoorde,

selde of ooit in die kerk.

Hulle maak nie van die kerk ‘n lêplek nie.

Die enigste ding van hulle wat na die hemel kyk,

is die DSTV-skottel.

 

En die onverstaanbaarste van alles is …

Dit gaan goed met hulle.

As jy maar weer sien,

het hulle weer in die botter geval.

 

Daarom skryf die Psalmdigter:

Ek het nagedink om dit te verstaan,

maar dit was moeite in my oë.

 

Asaf was ‘n sanger in die tabernakel

en hy ken hierdie makisaki-mense:

Daar is geen kwellings by hulle nie.

Hulle spreek uit die hoogte.

Altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom.

God en sy gebod is vir hulle ‘n belaglikheid.

Soos Bélsasar van ouds hou hulle partytjie met die tempelbekers.

U onthou vir Belsasar, die Babiloniese koning,

wat sorgeloos met die Here se heilige goed ‘n drinkparty gehou het?

 

Maar hoe kan dit wees, vra Asaf?

Sê Psalm 1 nie:

Welgeluksalig is die man

wat nie in die kring van die spotters sit nie?

Sê Psalm 1 nie:

Die goddelose mense is soos kaf

kaf wat die wind verstrooi

en alles wat die regverdige doen,

dit voer hy voorspoedig uit.

Dis wat die eerste Psalm sê.

Asaf het ook Deutronomium 28 geken.

Daar staan geskrywe:

Al hierdie seëninge sal oor jou kom

as jy luister na die stem van die HERE.

Geseënd sal jy wees in die stad,

en geseënd sal jy wees in die veld.

Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam

en die vrugte van jou land

en die vrug van jou vee,

die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.

Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel

Dis wat Deuteronomium 28 sê.

 

En dit kwel Asaf.

Ek het nagedink om dit te verstaan,

maar dit was moeite in my oë

Hy erken ronduit:

Ek was afgunstig

toe ek die voorspoed van die goddeloses sien.

 

Asaf maak die afleiding:

Dis nie die moeite werd

om op die Here se pad te loop nie.

Tevergeefs het hy sy hart rein gehou.

Buitendien is dit asof die Here hom nog elke dag nog pak gee.

Dis nie net dat hy geen voorspoed ervaar nie!

Hy word nog heeldag geslaan!

En sy tugtiging was daar elke môre.

Asaf voel nie geseënd nie.

 

Inteendeel, hy sou al lankal by die goddeloses aangesluit het …

Hy sou al lankal ook begin sê het:

“Elke hond vir homself …”,

maar iets weerhou hom.

Hy huiwer tog.

As ek gesê het,

so redeneer Asaf

As ek gesê het,

ek wil óók so spreek–

dan sou ek ontrou gewees het;

ontrou gewees het aan die geslag van u kinders.

Ek sou ontrou gewees het aan die verbond.

Ek sou ontrou gewees het aan my vaders in die verbond.

Hulle het my nie so geleer nie.

Ek kan ook nie so voor die kinders praat nie.

Dis ook nie hoe ek die kinders moet leer nie.

 

Nou bly Asaf stil.

Hy dink dit,

maar hy sê dit nie.

Hy hou sy bedenkinge vir homself.

 

Hoeveel van julle is daar nie, Broeders en Susters?

Julle dink ook so,

maar julle sê dit nie …

want dis nie hoe kerkmense praat nie.

 

Die goddeloses, hulle leef geseënd.

Maar ons, ons wat nog erns maak met die Here,

erns maak met die kerk …

Kyk hoe swaar kry ons!

Is dit nog die moeite werd

om die ouderlingswerk of diakenswerk te doen?

Wat kry ek daarvoor?

Stank vir dank!

 

Om ‘n diensbare suster te wees,

betaal my niks.

En as ek al die geld vat,

wat ek oor die jare vir die kerk gegee het,

as ek al daai geld vat,

kon ek al ‘n vet vakansie gaan hou het.

 

Daai of daai mense sien jy nooit in die kerk nie.

En kyk, hulle leef soos konings.

 

Ek gaan kerk toe, luister na die preke,

doen gebede, ontvang die sakramente, gee my bydrae …

Alles tevergeefs!

Al hierdie vroomheid, al hierdie engheid

om krampagtig vas te hou aan ‘n stel gebooie,

gebooie wat niemand meer aan glo nie …

Wat bring dit jou sak?

 

En as ek maar nog kon getuig van ‘n bietjie voorspoed …

Maar dis net beproewing op beproewing!

 

Toe het ek nagedink om dit te verstaan,

(skryf Asaf)

maar dit was moeite in my oë.

My hart was bitter gestemd.

Asaf het nog in die tabernakelkoor gesing …

maar met ‘n bitter hart:

Juig al wat leef juig voor die Heer

dien God met blydskap, gee hom eer …,

maar daar was geen blydskap op Asaf se gesig nie.

 

Asaf het gesit met ‘n bitter hart.

En dis juis van die hart dat die Spreukedigter sê:

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word,

want daaruit is die oorspronge van die lewe (Spr 4:23).

Jou hart kan hoe rein wees, Asaf,

maar as hy eers bitter is,

as hy eers afgunstig is …

 

As jy eers so besig raak om na binne te kyk,

dat jy vergeet om na bo te kyk,

dan kan jy maar nadink om dit te verstaan,

maar jy sal net moeite hê.

Hoe meer jy dink, hoe minder weet jy:

Toe was ék dom en ek het niks geweet nie;

ek was ‘n dier by U.

 

Hulle wat dink:

“Elke hond vir homself” …

Hulle word diere voor God …

Diere wat net kan dink aan vreet, veg en paar.

 

Ek het nagedink om dit te verstaan,

maar dit was moeite in my oë,

totdat …. totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het …

En hier het ons ‘n wending.

 

Die draaipunt in Asaf se denke kom

as hy in die heiligdom ingaan.

Wat sou dit beteken?

As Asaf maar meer gesê het,

maar hy sê niks meer nie, net dit:

Hy het by die heiligdom ingegaan.

 

Miskien sou dit vir Asaf nou gepas wees om te luister,

om te luister na die woorde van ‘n ander profeet.

Habakuk sê: Die HERE is in sy heilige tempel —

swyg voor Hom, o ganse aarde!

 

As jy die antwoord wil hê,

Asaf, moet jy dit buite jouself soek.

As jy die antwoord wil hê, Asaf,

het jy ‘n wyer uitsig nodig.

Gaan staan swygend in die heiligdom.

Nou moet jy soos Job sê:

Ek lê my hand op my mond.

Een maal het ek gespreek,

ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie (39:38).

 

Voel hoe God jou aan jou regterhand vat.

God lei jou deur sy raad.

Kyk … en Hy open jou geestesoog.

Vir jou is dit asof die voorhangsel reeds geskeur is.

God laat jou sien tot in die Allerheiligste.

Kyk, daar is die ark met God se wet daarin,

dit bevat God se wil.

Laat sy Gees jou Leermeester word.

Totdat dit gebeur, sal jy niks verstaan nie.

 

En kyk hier voor jou!

Hier waar die Lam op die altaar lê …

met die bloed wat stroom.

Kyk nou verby dit!

Kyk, daar staan drie kruise hier buite Jerusalem

en die bloed stroom.

Aan die voet van die middelste kruis,

die een wat tussen die twee rowers staan,

kyk, daar is die goddeloses besig om te dobbel.

 

Ja, en daar is die ander.

Hulle lag en spot:

“Waar is jou God nou ? Verlos jouself!”

Net soos die goddeloses van alle tye.

Daaroor het jy mos al gesing, Asaf?

Onthou jy nou: Psalm 22?

Honde het my omsingel;

‘n bende kwaaddoeners het my omring;

hulle het my hande en my voete deurgrawe.

Hulle verdeel my klere onder mekaar

en werp die lot oor my gewaad.

 

Nêrens was daar soveel goddeloosheid as dié dag op Golgotha nie.

Vir al Jesus se regverdigheid het Hy net veragting en vervolging ontvang.

Die goddeloses het bly leef.

Hy het Godverlate gesterf.

 

En dan  … nog meer onverstaanbaar … nog ‘n groter onregverdigheid:

Een van daardie goddeloses was dié dag saam met Hom in die paradys!

Een van daardie goddeloses, ‘n werklike misdadiger, langs hom gekruisig,

word daardie dag deur die Here Jesus salig verklaar.

Daarom Broeders en Susters,

moenie te haastig veroordeel nie.

Moenie te haastig wees om die goddeloses almal hel toe te wens nie!

Onthou, een van die goddeloses was dié dag saam met Hom in die paradys.

 

Noudat jy in die heiligdom is, Asaf, moet jy verder kyk.

Kyk nog verder en let op die einde van die ander goddeloses.

 

Kyk verder, Asaf, kyk tot ver in die toekoms.

Kyk tot by die boek Openbaring.

Sien die hemel geopend.

Daar is ‘n wit perd

en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig,

en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid (Op 19:11).

 

En ek het een engel sien staan

en hy het vir al die voëls gesê:

Kom hierheen tot die maaltyd van die grote God,

dat julle kan eet die vlees van konings

en die vlees van owerstes oor duisend

en die vlees van sterkes

en die vlees van perde en van die wat daarop sit,

en die vlees van almal,

vrymense sowel as slawe,

klein sowel as groot (Op 19:17,18).

 

Waarlik, antwoord Asaf, U laat hulle in puin val.

Hoe word hulle in ‘n oomblik ‘n voorwerp van verbasing,

in ‘n oomblik raak hulle tot niet deur verskrikkinge!

Koning Bélsasar sy vroue en sy hoofmanne het uit die tempelbekers gedrink.

Op dieselfde oomblik het daar vingers te voorskyn gekom.

Onthou u nog, Geliefdes?

Die vingers het op die muur van die paleis geskrywe ...

Mené, mené, tekél ufarsín.

So was dit geskrywe.

Toe het die gelaatskleur van die koning verander,

die gewrigte van sy heupe het losgeraak,

sy knieë het teen mekaar geslaan (Dan 5:6).

 

Koning Bélsasar is op die weegskaal geweeg,

geweeg en te lig bevind.

 

Die goddeloses verdwyn soos ‘n droom dié dag as God ingryp.

Op sy tyd bring God redding vir sommige goddeloses …

soos die rower aan die kruis,

maar op sy tyd voltrek God sy oordeel oor die goddeloses.

 

Asaf staan in die heiligdom.

Hy het die einde van die goddeloses gesien.

 

Maar daar is nog meer.

Hy is by die Here.

Die Here het sy regterhand gevat.

Sy voete het amper gestruikel.

Hy het amper op dieselfde gladde plekke as die goddeloses beland.

So hittete of hy het gegly,

maar die Here het hom by die regterhand gevat.

Die Here God is die rots van sy hart.

Nou het hy vastigheid.

 

Wat kan die gelowige meer begeer as die beskermende hand van God!

 

Wie het ek buiten U in die hemel?

Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.

God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid? (Ps 73:25,26)

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval,

ja, my erfenis is vir my mooi (Ps 16:6).

 

Soos Lasarus, veilig in die boesem van Abraham,

getroos met die hemelse heerlikheid.

En die ryk man?

Hy roep en sê:

Vader Abraham, wees my barmhartig!

Stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek,

dat hy my tong kan verkoel.

Ek ly smarte in hierdie vlam!

 

Nou is dit werklik elke hond vir homself.

 

Geliefdes, laat ons nie ook eendag soos van ‘n droom wakker word nie.

Luister en glo … die woorde van ons Here Jesus:

Salig is die wat rein van hart is,

want hulle …

hulle sal God sien! (Mat 5:8)

Soek God in sy heiligdom.

Kniel voor die altaar by die geslagte Lam.

Voel jou hand in sy hand.

Soek God in sy heiligdom …

Die antwoord lê by Hom.

 Amen.

One thought on “Preek: Psalm 73 – Hoekom Here ?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: