Die Kerk – wat ons leer uit Handelinge 2:37-47
Deel 2: Die ware lidmate van die Kerk se lewe (Hand.2:42)
deur ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)
Ons het reeds in ons eerste artikel geleer hoe ‘n belangrike wegwyser Hand 2:37-47 is vir ons verstaan van die Kerk van ons Here Jesus en haar lewe. Ons het toe in ons eerste artikel, waarin ons gefokus het op Hand 2:37-41, meer geleer oor die ware lidmate van die Kerk van ons Here Jesus.
Ons kon leer dat ware lidmate van die kerk alleen hulle is wat regtig diep in die hart getref is met ons sondebesef (vers 37). Dis ook alleen hulle wat die goeie-nuus van bekering en verlossing gehoor het (vers 38-40) en dit toe aangeneem en tot bekering gekom het (vers 41), omdat Jesus Christus hulle by sy Kerk toegevoeg het en van hulle lidmate van sy Kerk gemaak het (vers 41, 47).
* * * * *
In hierdie tweede artikel, gaan ons stilstaan by Hand 2:42 en ons as ware lidmate van die Kerk se lewe. Want vers 42 sê: “En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.”
Die betekenis van volharding
Om te volhard beteken om sterk te wees, vas te staan en aan te hou, terwyl dit nie altyd maklik gaan nie.[1] En deur die eeue heen het dit nie altyd maklik gegaan met die kerk nie (vgl bv Joh. 15:19; Openb 12:17; NGB art 27). Maar die ware lidmate van die kerk hou aan om te volhard. Dis ‘n kenmerk van die ware lidmate van die kerk.
En dit kan ons doen, nie uit eie krag nie,[2] maar deur die kragtige bewarende werk van Christus deur sy Gees in sy kerk (Joh. 6:39; 10:28; Fil 1:6).[3] Ja, daarom kan ware lidmate van die kerk volhard.
* * * * *
Vier dinge waarin ons volhard
Vers 42 noem dan vier dinge waarin ware lidmate van die kerk volhard.
(a) hulle het volhard in die leer van die apostels
Die eerste is dat hulle volhard in die leer van die apostels. En die leer van die apostels was die ‘leer oor Jesus’.[4]
- Die leer oor die feit en die betekenis van sy lewe, sy sterwe, sy opstanding en sy hemelvaart.[5]
- Dit het gewys dat Jesus die vervulling is van die HERE se beloftes in die Ou Testament oor die komende Christus (Hand 2,3,7,13).
- Dit was die ‘leer’ dat Jesus gekom het om sy Kerk van hulle sondes te verlos (bv Hand 3:19-26; Mat 1:21), en dat ons deel kry aan hierdie verlossing uit genade alleen deur die geloof in Jesus Christus alleen (Rom 3:21-22).
- Dit was die leer oor die wil van Christus vir die manier waarop sy verloste kerk in die wêreld moet leef (Mat 28:19).
En net soos die ware lidmate van die Kerk in Jerusalem, volhard ware lidmate van die Kerk deur die eeue in die leer van die apostels. Daar sonder het die kerk geen fondament nie, het die kerk opgehou om waarlik kerk te wees, en die lidmate daarvan om ware lidmate van die kerk te wees (Efes 2:20)![6]
In sy kommentaar op vers 42 sê Calvyn: “Daarom, waar ook al die suiwer evangelie boodskap klink, waar mense volhard in die belydenis daarvan, waar hulle die aanhoor daarvan gereeld tot opbou beoefen, is die kerk sonder twyfel te vinde.” [7]
* * * * *
(b) hulle het volhard in die gemeenskap
Die tweede ding waarin die ware lidmate van die kerk volhard is in die ‘gemeenskap’. ‘Gemeenskap’ is om bymekaar te wees (Hand 2:44), om eensgesind en eenstemmig te wees. In die volharding in die gemeenskap begin ons al hoe meer dieselfde dink, glo en bely. Daar kom ware broederskap en liefde tussen mense wat eers van nature geneig was om mekaar te haat.[8]
En dit omdat Christus sy Heilige Gees gegee het vir elke ware lidmaat van die kerk (vers 38), sodat “ons almal ook deur een Gees gedoop is tot een liggaam … en ons almal van een Gees deurdronge is” (1Kor 12:13).
Daarom moet ons al hoe meer “hartlik (wees) teenoor mekaar met broederlike liefde” (Rom 12:10). Al hoe meer moet ons najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien (Rom 14:19). Ons moet mekaar aanneem, soos Christus ons ook aangeneem het (Rom 15:7), mekaar bemoedig, opbou (1Tes 5:11), vermaan (Heb 3:13) en vergewe (Kol 3:13).[9]
* * * * *
(c) hulle het volhard in die breking van die brood
Die derde ding waarin die ware lidmate van die kerk volhard is in die breking van die brood. In die kerk in Jerusalem (in daardie vroeë-tyd van die geskiedenis van die kerk van die NT) het brood-breking gebeur wanneer jy saam geëet het. Die pa of hoof van die huis sou gewoonlik, aan die begin van die ete, ‘n stuk brood gevat het, dit in stukke gebreek het, en dan sou hy die seën vra en die brood daarna uitdeel. En so sou die ete begin (vgl ook Mark 6:41).[10]
Om brood te breek is met ander woorde ook om saam te eet. Hierin het die lidmate in die kerk in Jerusalem volhard. Vers 46 sê dat hulle “van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet (het) …”
Dadelik sien ons ook iets van die praktyk van hulle volharding in die gemeenskap (vgl by (b)).[11] Ware lidmate van die kerk het hulle lewens vir mekaar oop gemaak. Hulle het saam geëet. Hulle huise het vir mekaar oopgestaan. Daar was gasvryheid, wat ook by ons moet wees (Rom 12:13; 1Tim 3:2; Heb 13:2; 1Pet 4:9).[12]
Die breking van die brood het egter ook die betekenis gehad van nagmaal-hou.[13] Ook hierin het die lidmate in Jerusalem se kerk volhard. Hulle het nie nagmale laat verbygaan nie. Hulle het daarin volhard.
En dis wat ware lidmate van die kerk doen! Ons volhard in die gebruik van die nagmaal. Met ‘n ware geloof smag ons daarna. Want ons weet dis die manier waarop die Heilige Gees ons geloof versterk (Heidelbergse Kategismus Sondag 25 v/a 65).
* * * * *
(d) hulle het volhard in die gebede
Die vierde ding waarin ware lidmate van die kerk volhard is in die gebede. So was dit in die kerk in Jerusalem. En soos ‘n refrein klink dit deur die res van die NT (bv Rom 12:12; Kol 4:2; 1Tes 5:17).
Is dit nie waar baie van ons probleme begin nie? Is dit nie omdat ons te min bid nie? En dis ‘n baie ernstige vraag, want ware lidmate van die kerk volhard in die gebed.
Christus het immers aan ons sy Gees gestuur – die Gees van genade en smekinge …” (Sag 12:10),[14] sodat ons kan:
– volhard in die gebed,
– sodat ons kan volhard in die leer van die apostels,
– in die gemeenskap,
– in die breking van die brood, en
– in die gebede.
Ja, sodat ons kan volhard om ware lidmate van die kerk te kan wees.
Volgende keer: deel 3 – Christus se werk deur sy Gees in en deur die Kerk (Hand.2:43-47)
* * * * *
προσκαρτεροῦντες (volhard) = praesens partisipium aktief mv (προσκαρτερέω) met die betekenis van ‘volhardende’– die praesens dui op ‘n handeling wat aanhou. Die ‘gelowige gemeente’ is voortdurend besig om te volhard (Jordaan GJC, 2004, Binnewerk van die Griekse taal, bl 38; Grosheide F W, 1942, Kommentaar op het Nieuwe Testament – De Handelingen der apostelen, vol 1 bl 93 – let ook op voetnoot 5; vgl ook Brown C, 1986, New International Dictionary of New Testament Theology vol 2 bl 764,767-768; Macarthur J, 1994, The Macarthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 80).
[2]
Dordtse Leerreëls 5:3
[3]
Heidelbergse kategismus Sondag 21 v/a 54; Reymond R, 1998, A new systematic theology of the Christian faith, bl 792
[4]
Vgl Brown C, 1986, New International Dictionary of New Testament Theology vol 3 bl 769-770.
[5]
Vgl Ladd G E, 1979, A New Testament theology, bl 329.
[6]
Vgl Calvyn J, 2003, Commentaries on the epistle of Paul to the Ephesians, bl 242
[7]
Vgl Calvyn J, 2003, Commentary of the Acts of the apostles bl 127
[8]
Vgl Brown C, 1986, New International Dictionary of New Testament Theology vol 1 bl 642
[9]
Vgl Macarthur J, 1994, The Macarthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 84
[10]
Vgl Kittel G, 1971, Theological Dictionary of the New Testament vol 3 bl 728 wys daarop dat die frase τῇ κλάσει τοῦ ἄρτου (met die breking van die brood) ten eerste wys op die aanvang van ‘n gesamentlike ete. Die hoof van die huis sou brood neem, dit in stukke breek, die seën vra, die brood uitdeel en dan sou almal saam begin eet.
[11]
Wanneer ek let op die ἀγάπη (agape – die liefdesmaal) leer ek dat dit ‘n gemeenskaps-en-liefdes-maal van die gelowige-gemeente was. Die klem het hier baie sterk gelê op die belewing van onderlinge liefde en gemeenskap (Brown, C, 1986, New International Dictionary of New Testament Theology vol 2 bl 547; Kittel G, 1971, Theological Dictionary of the New Testament vol 3 bl 728; vgl ook Macarthur J, 1994, The Macarthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 89).
[12]
Vgl Macarthur J, 1994, The Macarthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 89
[13]
Die frase τῇ κλάσει τοῦ ἄρτου (met die breking van die brood) staan egter ook nie los van ‘nagmaal’ nie. Dit leer ons uit vers 46 waar onderskeid gemaak word tussen breking van brood en die eet van voedsel. Ons leer dit ook uit Hand 20:7 waar die dissipels “op die eerste dag van die week … vergader het om brood te breek (συνηγμένων τῶν μαθητῶν κλάσαι ἄρτον)” en vanuit 1Kor 10:16 waar Paulus van die nagmaal praat as die breking van brood (Brown C, 1986, Theological Dictionary of the New Testament vol 3 bl 728,738; Grosheide F W, 1942, Kommentaar op het Nieuwe Testament – De Handelingen der apostelen, vol 1 bl 94).
[14]
Vgl a’Brakel, 1893, Het redelijke Godsdiens, vol 2 bl 376