Die Kerk – wat ons leer uit Handelinge 2:37-47
Deel 1: Die ware lidmate van die Kerk
deur ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)
Die kerk van Jesus Christus is God se nuwe verloste mensdom (bv Efes 2:10; 2Kor 5:17).[1] Maar hoe lyk die lewe van God se nuwe verloste mense? Anders gestel: Hoe lyk die lewe van die kerk? Of nog anders gestel: Waarheen moet ons terugkeer of reformeer, as ons praat oor die reformasie van die kerk?
Die antwoord op hierdie vrae sal natuurlik altyd alleen uit die Heilige Skrif kom. Maar in die Heilige Skrifte is Hand 2:37-47 ‘n belangrike ‘wegwyser’. In sy verklaring van Hand 2:42 sê Calvyn die volgende oor hierdie gedeelte: “Soek ons dan die ware kerk van Christus? Die beeltenis daarvan word hier vir ons lewendig afgeskilder en voorgestel.” [2]
Daarom is dit so belangrik dat ons goed en gehoorsaam sal luister na die HERE se leer oor sy kerk soos ons dit vind in Hand 2:37-47.
Die boek Handelinge[3]
Maar vooraf net eers kortliks iets oor die boek Handelinge. Lukas is die outeur van Handelinge, wat ‘n voortsetting, of ‘n vervolg is, op die Evangelie, wat hy beskryf het (Luk 1:1-4; Hand 1:1-3). In die ‘Lukas-Evangelie’ het Lukas die wonderlike geskiedenis vertel van die koms van die Messias, Jesus Christus, die Seun van God, in die volheid van die tyd. Dis Hy oor wie die Profete geprofeteer het. Ja, dis Hy wat die Koninkryk van God laat kom en sy kerk verlos om deel te hê daaraan.
In die boek Handelinge vertel Lukas hoe Jesus Christus, na sy hemelvaart, vanaf die regterhand van sy Vader, deur die Heilige Gees, die koninkryk, nie net in Israel laat deurbreek nie, maar ook oor die res van die wêreld. Daarvoor gebruik Jesus sy apostels wat Hy daartoe toegerus het deur die Heilige Gees en in die wêreld instuur om die Evangelie van die koms van die Koninkryk van God te verkondig (Hand 1:8).
‘n Baie belangrike gebeurtenis waarvan Lukas ook vertel, is dat daar waar die apostels die Evangelie verkondig en mense uit alle tale, stamme en volke oproep om in Jesus Christus te glo, die kerk van die Nuwe Testament ontstaan (vgl bv Hand 8:1; 9:31; 13:1; 15:41). En dit alles begin in Hand 2:37-47. (Lees gerus deur Hand 1-2).
Die gedagtegang van Hand 2:37-47
In Hand 2:37-47 leer ons drie baie belangrike dinge oor die kerk van die Nuwe Testament. In hierdie eerste artikel in ‘n reeks van drie gaan ons dan stil staan by Hand 2:37-41. In hierdie verse gaan ons leer wie die ware lidmate van die kerk is.
In die ander twee artikels gaan ons dan stilstaan by Hand 2:42 waar dit gaan oor die lewe van die Kerk, en Hand 2:43-47 waar dit gaan oor Christus se werk deur sy Gees in en deur die Kerk.
Kom ons val daarom nou weg met Hand 2:37-41 waar dit gaan oor die ware lidmate van die Kerk.
Die ware lidmate van die Kerk
(a) Die ware lidmate van die Kerk is hulle wat diep in die hart getref is
Vers 37 vertel daarvan: “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref …” Maar wie is hierdie hulle? En wat is die dit wat hulle gehoor het?
Wel, vanuit Hand 2 leer ons dat die hulle die verbaasdes (vers 11) en die spotters (vers 13) was, wat op Pinksterdag die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 1:8; 2:1-13) gesien en beleef het. Dis ook hulle wat Petrus se kragtige preek – die dit van vers 37 – uit Joël 2 (Hand 2:16-21), Ps 16 (Hand 2:22-32) en Ps 110 (Hand 2:33-36), gehoor het.
Hierdie preek het Petrus afgesluit met die ontsaglike belangrike woorde van Hand 2:36, waar hy sê: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het (die Koning van God se Koninkryk), hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”
* * * * *
Nou, “Toe hulle dit hoor (met ander woorde: Toe die verbaasdes (vers 11) en die spotters (vers 13) hierdie preek van Petrus (vers 14-36) hoor is hulle diep in die hart getref …” En wanneer jy diep in die hart getref word, is jy bang, beangs, hartseer. Jy het berou.[4]
Maar hoekom? Wel, op daardie oomblik, toe Petrus uit die OT verkondig het wie Jesus werklik is, het Petrus se toehoorders besef:
- dat hulle skuldige moordenaars van die almagtige en lewende Here en Christus was (Ps 16:8-11, Hand 2:22-32);
- dat hulle vyande geword het van die Een wat heers te midde van sy vyande, aan die regterhand van God die Vader, tot hulle almal vernietig sal wees (Ps 110:1-2, Hand 2:33-36);
- en dat hulle daarom onder die oordeel van Christus staan.[5]
Daarom … “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref …”
* * * * *
Net so moet Petrus se preek ons ook diep in die hart tref. Want dieselfde sondige natuur wat in hulle was, is ook in ons.[6] Van nature is ons geneig om God en ons naaste te haat. En Jesus is altwee. Hy is God en ons naaste.[7]
Ja, as die natuurlike-ek by die kruisiging was, sou ek saam met die Jode al hoe harder geskreeu het: Kruisig Hom! Want dis hoe ons van nature is: haters van God en ons naaste. Daarom is ons van nature skuldige moordenaars van die almagtige lewende Here en Christus. Van nature staan ons onder sy oordeel.
Dit moet ons in die hart tref, bang en hartseer maak. Dit moet ons in ware berou met die woorde van vers 37 laat uitroep: “Wat moet ons doen?”
Maar net hier is daar goeie-nuus. Wanneer Jesus Christus van verdorwe-sondaars ware lidmate van sy kerk maak, dan wek Hy deur sy Gees, die Gees van genade en smekinge (Sag 12:10), ‘n bangheid vir sy oordeel, en ‘n ware berou oor ons sonde, in ons op.
* * * * *
(b) Die ware lidmate van die kerk is die wat die goeie-nuus van verlossing hoor
Ja, die ware lidmate van die kerk is alleen die wat diep in die hart getref word.[8] Maar ook die wat vers 38-40 se goeie-nuus van verlossing hoor. Hierdie goeie-nuus bestaan uit drie opdragte en ‘n belofte.
Die eerste opdrag (vers 38)
“Bekeer julle” So klink Petrus se eerste opdrag. Die Griekse woord waarmee Petrus praat, sê eintlik: ‘Bekeer julle nou dadelik!’ [9]
En laat ons tog gehoorsaam wees en bekeer, want Ps 2:12 vertel van Jesus Christus se toorn wat gou kan ontvlam.
En om te bekeer beteken dat ons regtig jammer moet wees, dat ons God vertoorn met ons sonde van haat (of liefdeloosheid).[10] En dan moet ons deur die geloof in gebed na God toe gaan en Hom om vergifnis vra.[11]
En dit kan ons verseker doen want Jesus is nie net ‘Here’ nie (Ps 110:1-2; Hand 2:36). Nee, Hy is ook Ps 110:4 se ewige ‘Hoëpriester’. Die Een “wat … met die enige offer van sy liggaam verlos …”[12] En nou “volkome (kan) red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb 7:25).
Daarom: “Bekeer julle!”
* * * * *
Die tweede opdrag (vers 40)
Saam met vers 38 se opdrag om te bekeer, gaan ook die opdrag van vers 40: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” Dit beteken dat ons die HERE moet bid om ons te verlos van ons ou-sondige-lewe en ons ou-sondige-vriendekring.[13]
En dis so belangrik: Ons kan nie sê ons is bekeer, maar dan leef ons nog soos altyd in ons ou-lewe saam met ons ou vriende wat volhard op die breë-pad hel toe nie. Nee nooit! Bekering is wonderlik, want so kom ons by Jesus, deur Wie ons vergiffenis uit genade alleen ontvang (Luk 24:47). Maar bekering is ook altyd radikaal lewensvernuwend.
* * * * *
Die derde opdrag (vers 38)
Saam met die opdrag van bekering en lewensvernuwing, kom daar ook ‘n derde opdrag. Vers 38 vertel daarvan: “en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes …”
By al die wonderlikhede wat hier geopenbaar word gaan ons nie nou stil staan nie.[14] Wat ons egter wel moet raaksien, is die wonderlike boodskap en waarborg van die doop vir elkeen wat waarlik bekeer.
Vir bekeerdes (gelowiges in Jesus) wys en waarborg ons doop vir ons dat ons sondes vergeef is. Ja, die doop-water wat uitwendige vuilheid afwas, wys op Christus wat sy volk se sondes met sy bloed weg was (Openb 1:5). En juis daarom – omdat ons doop sondevergifnis wys en waarborg – wys en waarborg ons doop ook dat die HERE ‘n nuwe en ewige genadeverbond met ons opgerig het (Jer 31:34).[15]
Die belofte (vers 38)
By Petrus se drie opdragte kom daar ook ‘n belofte. Vers 38 sê: “en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”[16] Vir elkeen wat waarlik bekeer, sê hierdie belofte: Die Heilige Gees is nou by jou.[17]
Dit sê vir my: Jesus se woorde in Joh. 14:18 is waar, ook vir my: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie …” Deur sy Gees is Jesus Christus Emmanuel, God met ons (vgl ook Mat 28:20).[18]
* * * * *
(c) Die ware lidmate neem die goeie-nuus van verlossing met blydskap aan.
Ja, die ware lidmate van die kerk is alleen die wat diep in die hart getref is (vers 37). Dis hulle wat die goeie-nuus van vers 38-40 kon hoor. Vers 41 vertel dat hulle dit ook met blydskap aangeneem het.
En om hierdie boodskap aan te neem beteken:[19]
- jy glo wat Petrus sê oor bekering,
- jy glo sy leer oor die doop,
- en jy glo die belofte van die Heilige Gees as gawe vir elkeen wat bekeer.
En dan bekeer jy. Dis wat dit beteken om Petrus se goeie-nuus boodskap aan te neem.
* * * * *
En dan sê vers 41 dat hulle wat Petrus se woord aangeneem het “toegebring is.” Vers 47 sê vir ons dat hulle “by die gemeente (of die kerk) gevoeg (is).” Ja, hulle, en niemand anders nie, het toe ware lidmate van die kerk geword.
En nou kom daar ‘n belangrike selfondersoek vraag vir elkeen van ons: Is u ‘n ware lidmaat van die kerk? Is ek en u al regtig diep in die hart getref? Het ons al die goeie-nuus van verlossing aangeneem en tot bekering gekom? Of is ons maar net name op ‘n lidmaatregister?
Onthou alleen hulle wat “diep in die hart getref” word (vers 37), wat die goeie-nuus hoor (vers 38-40) en dit met blydskap aanneem (vers 41), is ware lidmate van die kerk. En dan’s jy lidmaat omdat jy toegevoeg is tot die kerk. Vers 47 sê: dis die Here (Jesus Christus) wat dit gedoen het.
Daarom wanneer ons ware lidmate is, laat ons die Here dank! Want dis Hy wat ons diep in die hart getref het. Dis Hy wat ons met Petrus se Woord geroep het. Dis Hy wat in ons die ware geloof en bekering gewerk het. Dis Hy wat ons lidmate van die kerk gemaak het.[20]
Volgende keer: Deel 2 – Die ware lidmate van die Kerk se lewe (Hand.2:42)
__________________________
[1]
Vgl Sproul R C, 2005, Reformation study Bible, bl 1704
[2]
Vgl Calvyn J, 2003, Commentary of the Acts of the apostles vol 1, bl 127.
[3]
Vgl Sproul R C, 2005, Reformation study Bible, bl 1704, bl 1556-1557; Geldenhuys J N, 1959, Bybel met verklarende aantekeninge, vol 3 bl 318-319
[4]
Vgl Grosheide F W, 1942, Kommentaar op het Nieuwe Testament – De Handelingen der apostelen, vol 1 bl 86; Baljon J M S, 1908, Grieksch Theologisch woordenboek, bl 503
[5]
Vgl MacArthur J, 1994, The MacArthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 71-72; Grosheide F W, 1942, Kommentaar op het Nieuwe Testament – De Handelingen der apostelen, vol 1 bl 86.
[6]
Vgl Geldenhuys J N, 1959, Bybel met verklarende aantekeninge, vol 3 bl 319
[7]
Heidelbergse Kategismus Sondag 2-3 en Sondag 14
[8]
Heidelbergse Kategismus Sondag 1.
[9]
Μετανοήσατε (metanoeesate) – Die aoristus imperatief aktief 2de pers meervoud – dui op punktuele handeling (Jordaan G J C, 2004, Binnewerk van die Griekse taal, bl 10). Daar moet dus nou op die moment bekeer word. Nie eers bietjie uitstel nie. Nou! Net-nou is dalk te laat want Christus kan enige oomblik in sy wraak kom (Mat 24:44).
[10]
Heidelbergse Kategismus Sondag 33 v/a 89; Joël 2:12-13
[11]
Joël 2:13; Luk 24:47; Hand 3:19; vgl ook Bock D L, 2007, Acts – Baker exegetical commentary on the New Testament bl 142
[12]
Heidelbergse Kategismus Sondag 12
[13]
Hand 2:21; Vgl Bock D L, 2007, Acts – Baker exegetical commentary on the New Testament bl 146; Grosheide F W, 1942, Kommentaar op het Nieuwe Testament – De Handelingen der apostelen, vol 1 bl 92; Macarthur J, 1994, The Macarthur New Testament commentaries – Acts 1-12, bl 76.
[14]
Hier word baie wonderlike en diep dinge vir ons geopenbaar. Ons staan bv hier by die baie belangrike verband tussen grootdoop en kinderdoop (Floor, 1983, Die heilige doop in die Nuwe Testament, bl 33 vv). Hierby gaan ons egter nie nou stil staan nie.
[15]
Vgl Floor, 1983, Die heilige doop in die Nuwe Testament, bl 36
[16]
Wat ‘n wonder! En nou gaan ons nog nie eers in op dit wat in vers 39 geopenbaar word nie, naamlik dat die belofte van die Heilige Gees ook vir ons kinders is.
[17]
Vgl Reymond R, 1998, A New Systematic Theology of the Christian Faith, bl 826
[18]
Heidelbergse Kategismus Sondag 18 v/a 47.
[19]
Hand 2:44; Vgl Brown C, 1986, New International Dictionary of New Testament Theology vol 3 bl 744. 746; Bock D L, 2007, Acts – Baker exegetical commentary on the New Testament bl 147
[20]
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 54