Hy klop aan jou deur
deur ds. MJ Booyens
(Nota: Openbaring 3:20 word baiemaal verkeerdelik verstaan [en verdraai] om te sê dat die Here magteloos is om mense te red wie Hy liefhet en wil red, “want” – so word geredeneeer – “hulle wil nie die ‘deur van hul harte’ vir Jesus oopmaak nie”. Ek plaas ds. Booyens se verklaring hier om daardie verderflike “dwaling van Pelagius uit die hel” te bestry [sien die Dordtse Leerreëls hfst.2, verwerping 3]. Ds Booyens se verklaring handhaaf beide die Goddelike soewereiniteit en menslike plig/verantwoordelikheid. Sien ook die volgende artikel deur ds. Ph Snyman: Die Dordtse Leerreëls – bestry en bevestig)
Lees: Romeine 9:13-26
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” (Openb. 3:20)
Wonderlik is hierdie beeld wat die Here Jesus gebruik. Hy, die Here van die here, staan voor die deur by ons armsalige en hardhorende mensies. En Hy klop, ‘n mens kan byna sê: ewe verleë. Hy klop dat ons vir Hom moet oopmaak. Tot watter dieptes daal Hy nie, om ons te behou nie? Voordat ons egter te veel van hierdie uitspraak aflei, moet ons ‘n paar belangrike dinge in gedagte hou. Ons kan dit waarlik nie só voorstel asof die Here nie kan binnekom as ons nie wil oopmaak nie.
Paulus sê: “So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie maar van God wat barmhartig is.” (Rom. 9:16).
Hy skenk ons sy genade ondanks ons onwil, anders sou niemand gered kan word nie, Ons is immers dood in sonde en misdade. (Ef. 2:8). ‘n Dooie mens sal nimmer hoor dat Jesus klop nie. Hy wat hoor moet minstens ‘n oor hê om te hoor.
Die saak word duideliker as ons in gedagte hou dat Jesus hier praat met ‘n gemeente van Hom – die gemeente in Laodicéa. Hulle het wél vér afgewyk, maar Hy het hulle nog nie losgelaat nie. Juis daarom skryf Hy só dringend aan hulle en staan Hy by die deur en klop.
Hy roep hulle, sy eie gemeente, tot besinning. En dit is maar sy gewone manier om te handel met ‘n afgedwaalde – Hy roep tot bekering.
Hy klop aan die deur van die hart.
Hy dring aan dat ons moet oopmaak, maar Hy dwing ons nie. Ons is nie dooie stukke hout nie, maar verantwoordelike mense. Ons het buitendien alreeds die beginsel van die lewe uit Hom ontvang, omdat ons sy gemeente is.
Maar die Dordtse Leerreëls sê selfs: “Die oorsaak of skuld van die ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê stellig nie by God nie, maar by die mens.” Daarom sal elke mens, wat die Woord van God hoor en nie luister nie, deur sy eie skuld verlore gaan. Die een wat glo, weet egter: “Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo.” (Fil. 1:29).
Die Here Jesus sê dat Hy klop.
Hy sê verder: “as iemand my stem hoor.”
Hiermee sê Hy duidelik aan ons dat Hy in werklikheid klop deur sy stem – sy heilige Woord. Waar die evangelie verkondig word, is Jesus besig om te klop. En dan kan ons dit ook van die kant af bekyk: Die gewone geopenbaarde weg waarlangs die wedergeboorte en bekering en geloof in ons gewerk word, is die verkondiging van sy evangelie. En elkeen wat uitverkies is, luister. Moenie wag totdat die Here jou hart binnedring nie – luister en maak oop en jy vier fees saam met Hom!
“As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Hy hou maaltyd met ons en dit is ‘n fees. Ons het vrede met God in Hom en ons leef in die blydskap van die ewige lewe.
Loof Hom!
Prys sy heilige Naam!
Die Here klop deur sy Woord wat ons lees.
Hy klop wanneer ons in die kerk sit en luister na sy evangelie.
Hy klop egter ook in wat oor ons kom in ons lewe.
Hy klop in voorspoed en teëspoed.
Hy klop in gesondheid en siekte.
Hy klop in die geraas van die volke en die gebruis van die nasies.
Hy klop in die wêreldgeskiedenis.
Luister, en u sal sy stem hoor! En maak oop vir Hom. Gooi die poorte van u hart en lewe wyd oop! En Hy kom binne en u het rus en krag en vreugde – ondanks alles wat teen u is.
Bron: Kom Here Jesus – Die Openbaring aan Johannes – toegelig en toegepas in die vorm van ‘n Bybelse Dagboek
Dankie Slabbert. Dit is werklik tyd dat mense terugkom na die evangelie van God se soewereine genade!