Preek: Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 2)

Monergism.com

Lees: Genesis 15:1-6; 22:1-14; Matt.7:16-21; Jakobus 2:14-26

Teksgedeelte: Jak.2:18-26

Tema: Geloof alleen red, maar die geloof wat red is nie alleen nie (dit dra vrug)

Prediker: S. Le Cornu

Die preek (asook voriges in die Jakobus-reeks, en ander preke) kan hier geluister/afgelaai word:

Jak.2:14-26 (2015-05-10 – deel 2)

Die notas van die preek (nie presies dieselfde as preekteks nie):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

In die jaar 1535 in België, is die engelse kerkhervormer, William Tyndale,

gevange geneem en voor ´n Rooms Katolieke regsbank gebring,

op die aanklag van kettery.

Die aanklagtes, verwoord deur die Rooms katolieke biskop was as volg:

Tyndale, jy leer dat:

– die heiliges of moeder Maria nie vir ons intree nie, en ons hulle ook nie moet aanroep nie,

– dat die mens se siel nie deur menslike tradisies gebind kan word nie,

– dat die geloof alleen regverdig, om te glo in die vergifnis van sondes en die genade in die evangelie te omhels, is genoegsaam vir verlossing

Tyndale, wat is hierop jou antwoord ?

Sy antwoord:

“Met ‘n skoon gewete voor God en die mense,

bely ek dat ek niks geleer het teen die eenvoudige betekenis

van die Heilige Skrif nie, en daarop, en daarop alleen staan ek.

Ja, ek glo in geloof wat alleen regverdig, en nie werke nie, want

(so verduidelik Tyndale die verhouding tussen geloof en werke, waaroor ons teksgedeelte gaan)

die vrugte wat aan ‘n boom groei, maak nie ‘n boom goed of kwaad nie,

maar dit wys net – toon aan – of dit ‘n goeie of ‘n slegte boom is.

Werke maak nie ‘n mens goed of sleg nie,

werke maak dit net duidelik vir ander mense,

dat die een wat die werke doen, goed of sleg is.

‘n Mens word geregverdig voor God deur die geloof alleen,

en die werke se doel is om daardie regverdiging

bekend te maak, openbaar te maak voor mense.

DIT (regverdiging deur die geloof alleen sonder die werke) – leer Paulus, as hy skryf (Ef.2:8,9):

8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

 En daarvoor het Tyndale, vir hierdie bybelse waarhede, veral redding deur geloof alleen, gesterwe aan ‘n brandstapel.

(Sien God´s Outlaw: The Story of William Tyndale)

Besef ons vandag nog die erns van hierdie saak,

om die verhouding tussen geloof en werke reg te verstaan.

Soos ons vorige week daarop gewys het, en wat ons weer hier gehoor

het uit Tyndale se mond, die aanhaling van Ef.2:9, dit gaan daaroor

– dat geen mens sal roem op sy eie werke nie,

dit gaan alles oor die eer van God in ons redding !

Maar, soos Tyndale ook daarop gewys het,

soos vrugte iets wys van of die boom (of dit goed of sleg is),

so wys/toon/openbaar ons werke wel of ons in die geloof is of nie,

of ons waarlik geregverdig is deur die geloof in Christus.

Daarom, om ons tema te herhaal vir hierdie Skrifgedeelte,

Geloof alleen red, 

maar die geloof wat red is nie alleen nie

Ons het die vorige keer gelet op v.14-17,

– die dooie geloof, die valse geloof, die skyngeloof wat Jakobus veroordeel (die ‘dié [soort] geloof, wat genoem word inv.14)

– wat deur die gebrek aan werke wys dat dit, v.17, ‘sigself dood is’

– dit is hierdie valse geloof, eintlik geen geloof, wat ‘n mens nie kan red nie, v.14.

Hierdie valse geloof maak net ‘n valse belydenis, ‘sê’ net, maar dra nie vrug nie, beloof net, maar gee nie,sien v.15,16.

Vandag, gaan ons dan verder let op verse 18-26,

  1. die regte verhouding tussen geloof en werke, v.18,19
  2. die getuienis van die regte verhouding tussen geloof en werke, v.20-26
  1. Die regte verhouding tussen geloof en werke, v.18,19

Nadat Jakobus in v.14-17 gewys het ‘n leë belydenis sonder dade,

dat daardie valse geloof nie kan red nie, want dit is dood,

gaan hy denkbeeldig in gesprek met hom waarna hy verwys in vers 14-17, die nietige mens van vers 20.

Hy is die een wie se geloof dood is en dus eintlik geen geloof het nie.

Hy spreek hom oor twee sake aan,

  1. dat geloof en werke saamgaan, v.18, en
  2. sarkastiese wyse dat sy valse geloof niks beter is as die duiwels se geloof nie, v.19

Die nietige mens maak dan die stelling, van die eerste deel van v.18,

“Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke”

(die oorspronlike taal het nie aanhalingstekens nie, maar uit die konteks word dit afgelei, die eerste sin na ‘iemand sê’, is van die nietige mens, en wat daarna volg is Jakobus se antwoord.)

Hier is die wese van die probleem, wat Jakobus, al reeds begin

aanspreek het daar in 1:22; 1:27; 2:1 en verder, naamlik

iemand wat beweer:

– hy is ‘n gelowige,

– het die Woord waarlik ontvang,

– maar hy is nie ‘n ‘dader’ van die Woord nie (1:22),

so iemand probeer geloof en werke los  maak van mekaar.

Asof die een (werke) nie volg/groei uit die ander (geloof) nie.

Ja, dit moet duidelik onderskei word (soos Paulus doen in Romeine  en Galasiërs, sien bv. Rom.3:28 en 3:31; Ef.2:8,9 en Ef.2:10), maar dit maak nie geskei word nie.

Die een (werke), groei noodwendig of volg noodwendig uit die ander (geloof), as die gawe van God.

Die nietige mens van v.14-17 meen dus hier dat sommige kan ‘n geloof hê wat nie in werke oorgaan nie,

en dan is daar ander wat weer net werke kan doen, sonder die geloof.

In vandag se aanslag kry mens die volgende valse teenstellings soos hierdie een:

– een gelowige is besorg oor die ware leer, en ander is weer net met dienswerk, dade besig.

– een is besorg oor die belydenis, nader oor die lewe.

Dit is ‘n valse teenstelling is, want dit gaan oor albei sake,

elkeen in sy regte plek en verhouding.

Jakobus antwoord dan met die woorde van vers 18b en verder:

Hy spreek die onmoontlikheid aan van, dat ons as mense,

geloof nie anders kan sien as deur die werke, die vrug nie

(dit wat Christus op wys in Matt.7:16-21, sien veral vers 21):

“Toon my jou geloof uit die werke, en ek sal jou uit my werke,

my geloof toon

Twee sleutelwoorde wat ons hier moet raaksien,

– “uit” is dieselfde woord in die oorspronklike taal by v.20 as ‘sonder’ vertaal word

– “toon” x2 (aanwys, bewys, demonstreer, openbaar)

Weet nie hoekom OAV dit as ‘uit’ in v.18 vertaal het nie, maar ‘sonder’ is in die konteks van v.18 duideliker, want Jakobus stel ‘n kontras.

Hy is dus sarkasties, ‘nietige mens’ jy kan nie sonder werke vir ons toon (aanwys, bewys, demonstreer, openbaar), dat jy werklik glo nie, 18b.

Maar my werke, die ware gelowige se werke sal getuig, sal my geloof toon (uitwys, bewys, demonstreer, openbaar).

Soos vrugte demonstreer/wys/(aan)toon watter soort boom dit is,

so toon die vrug (werke) of iemand kind van God is (sien Jesus se w.

Jakobus antwoord die nietige mens verder, ook op ‘n sarkastiese wyse, in v.19:

Die nietige mens ‘glo, sê’ (onthou dit is nou die ‘glo’ van v.14-17, nie ware geloof nie), dat God een is, die Shema van Deut.6:4, die wese van die OT belydenis, en dit is goed, dit is waar dat God een is,

maar die duiwels glo dit ook, hul weet ook dat God een is,

hulle kan nie sy bestaan ontken nie, hulle weet van Hom,

is (haatlik) alte bewus van Hom,

maar hul geloof is natuurlik geen ware geloof wat oorgaan in diens, dank, ware kennis en vertroue in die Here tot sy eer nie,

Hul ‘geloof’ dra geen ware vrug van ‘n ware geloof nie.

En in vers 19:c is dalk ook ‘n sarkasme te sien:

Die ‘geloof’ van die duiwels, het wel ‘vrug’, al is dit ‘n slegte vrug,

naamlik hul sidder (dit is nie eerbied of heilige vrees nie, maar angs, bangheid, veragting).

So, nietige mens, hoe durf jy sê jy het ‘n ware geloof wat geen vrug/werke het nie,

selfs die duiwels die valse geloof, wete en bewustheid van God,

getuig teen jou, hulle ‘slegte werke’ getuig teen jou valse idee,

van “geloof het nie werke nie, dra nie vrug nie”!

En om hierdie saak tuis te bring, word die nietige mens, die valse gelowige opgeroep, uitgenooi (“Maar wil jy weet” –  wil jy sien, wil jy leer, wil jy bewyse hê) om die regte verhouding tussen geloof en werke, raak te ‘sien’ vanuit die OT geskrif, van twee OT figure te leer dat geloof sonder werke dood is, v.20.

Die twee figure wys/toon uit hul werke, dat hul geloof, ware geloof is wat vrug dra, doen, gee, handel, gehoorsaam, dien, ens.

– v.20-24 Abrahamis uit sy werke geregverdig, dus dit het aangetoon dat hy deur die geloof geregverdig is, en

v.25,26 Ragab, die hoer, se werke wat aantoon dat sy deur die geloof geregverdig is, dit het vrug gedra in werke

Dit sien ons in die tweede plek.

2. Die getuienis van die OT oor die regte verhouding tussen geloof en werke, v.20-26

Eerstens, die getuienis van Abraham.

Abraham, ons vader, seker die mees gerespekteerde figuur uit die OT word as voorbeeld gebruik.

Hy is uit sy werke geregverdig.

Watter spesifieke werk, watter daad van Abraham spesifiek ?

Toe hy Isak, sy seun geoffer het, dit het ons gelees daar in Gen.22.

Die HERE het Abraham, sy vriend, v.23, getoets, beproef, wat ons gelees het daar in Gen.22, vers 1.

Die HERE gee Abraham die opdrag om sy seun te offer.

En wat ‘sien’ (v.22,24) ons van Abraham, toe die woord van die HERE tot hom kom ?

Het hy net bloot ingestem tot die Woord, en daar het dit gestop ?

Is die nietige mens reg dat ‘n gelowige net ‘geloof’ het en nie ‘werke’ nie?

Kyk wat lees ons van Abraham, v.3 en verder:

Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ‘n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.”

Abraham het gedoen, gehandel, klaargemaak, sy hand uitgesteek om sy seun te slag, v.10.

Sy geloof het dus in dade oorgegaan.

En as die Here hom keer om Isak te slag, met die woorde, v.12,

Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. 

Dan sien ons daarin die getuienis van sy geloof “nou weet Ek dat jy God vrees …”

Die feit dat Abraham gedoen het, gehoorsaam het, sy seun gegee het (kontra die valse dooie nietige geloof van v.15,16 wat nie ‘gee’ nie), het Abraham geregverdig.

Maar wat is hierdie ‘regverdig’ in vers 22 en verder ?

Beteken dit,

  1. a) Abraham het toe eers in Gen.22 ‘n gelowige geword, en
  2. b) dat dit sy gehoorsaamheid was wat hom gered het, dat hy dus deur die werke gered word,

kontra wat ons laasweek in Rom.3,4 en Gal.4 gehoor het (Rom.4:1-5),

dat mens geregverdig word deur die geloof alleen en nie deur die werke van die wet nie?

Nee, geliefdes, die hele konteks van hierdie vers, nl. v.14 tot 20,

asook spesiek v.22,23 wys op die antwoord.

(Onthou ons 3 beginsels van Skrifverlaring:

– God weerspreek Homself nie, daarom weerspreek Paulus en Jakobus mekaar nie, ons moet Skrif met Skrif vergelyk

– Ons moet kyk watter spesifiek saak ‘n skrywer aanspreek. Paulus oor die regverdigingsgrond van ons redding voor God, nl. Christus alleen wat ons deur die geloof ontvang. Jakobus fokus op die vrug van daardie geloof, werke wat dit sal openbaar, hoe langer hoe meer.

– Kyk hoe woorde verskillend gebruik word (0ns het dit reeds verlede week gesien oor die woord ‘glo/geloof’ (v.14-19).

En nou ook, hier by vers 21-24, kyk hoe gebruik Jakobus dan die woord ‘geregverdig’.

In die Skrif sien ons hierdie twee aspekte,

– ‘n juridiese aspek van regverdiging, ‘n regsterm wat wys op die feit dat ‘n mens vrygespreek word, gereken word as regverdig, as in ‘n regte verhouding tot God, op grond van Christus se werke (sien ook NGB art.23).  Dit wat daar in vers 23 staan … gereken (passief, dit gebeur met jou, op jou rekening geplaas). Sien Rom.4:6-8 as voorbeeld.

– maar daar is ook ‘n demonstratiewe getuigende aspek van die woord ‘geregverdig’, dit beteken om iets of ‘n saak te wys/openbaar/bewys.

In die Skrif hoor ons bv. in Luk.10:29, van die wetgeleerde,

“Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?”

Dus, die wetgeleerde wou bewys/aantoon/demonstreer dat hy al God se gebooie hou.

Ons doen dit ook, ons wil iets regverdig, bewys, aantoon.

Nog ‘n voorbeeld:

“En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.”

En dit is hoe Jakobus met die term geregverdig omgaan,

hy verwys na Abraham, om vir die nietige mens te sê:

Kyk hoe toon (v.18) Abraham uit sy werke sy geloof.

Sy werke van Gen.22 getuig dat Hy waarlik glo,

dat geloof vrug dra in werke.

Sy werke regverdig die uitspraak dat Abraham vriend van God is,

wat waarlik glo.

Ja, het die Here nie geweet dat Abraham sy kind is nie, dat hy waarlik glo nie ?

Natuurlik weet God alles, dit (“om te weet” “om te sien” dat sy werke getuig van sy geloof, v.20,22,24) is vir ons opgeteken (1 Kor.10:11),

Daarom vers 20, en weer in vers 22 en v.24 “sien jy”, verstaan jy nou,

sien jy nou dat vir ons as mense,

ons uit iemand se werke sy geloof kan sien.

Die geloof het saamgewerk (v.22), nl. geloof “begelei” (prof Floor, Jakobus: Brief van een broeder, Kok, Kampen, 1998) die werke, sodat die geloof volkome word, sy doel bereik.

Die vrug van ‘n ware geloof is werke wat geopenbaar word,

dit is wat Jakobus op wys in vers 22.

Reeds in 1:5 het ons gelees dat die lydsaamheid tot volkomenheid moet kom, dus sy doel bereik.

In 2:22 word ons geleer dat die wortel/saad, die geloof sal vrug dra, tot sy doel om goeie werke te doen, sien weer Ef.2:10.

En, as daar nog enige twyfel is, dat iemand sal dink om Jakobus teen Paulus te wil afspeel, of beweer dat dit Abraham se werke is wat hom gered het, sy werke wat bygevoeg moes word by Christus se werke om gered te word, met die gebeure in Gen.22, kom Jakobus en skryf v.23,

En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.”

Wat leer Jakobus hier wat ons moet ‘weet’ (v.21), wat ons moet ‘sien’ (v.20,22,24) ?

Die sleutel is die eerste sin … “En die Skrif is vervul wat sê …”

Hy sê v.22 se gebeure, dit is nou Gen.22 se gehoorsaamheidsdade, werke van Abraham, is die vrug van die ware geloof, die geregtigheid wat Abraham reeds ontvang het, vir hom ‘(toe)gereken’ is (passief), deur sy geloof in God se beloftes, in God se Woord (Gen.15:4,5).

Onthou, Gen.15 se gebeure waar Abraham deur die geloof geregtigheid ontvang het (Rom.4) , was 30 jaar voor die gebeure van Gen.22.

Hoor u dit ?

Jakobus sê:

Die geloof wat Abraham ontvang het, waarvan die inhoud Christus is en al sy werke (as vervulling van die nageslag/saad wat sou kom om ons te red, Gal.3:16,29), het, v.22, volkome geword, dit het die geloof getoon/aangewys/gedemonstreer “uit die werke” (v.22) van Abraham, dit is sy gehoorsaamheid, sy werke, sy dade van Gen.22.

Sy werke regverdig, getuig van, bewys, vervul die werklikheid en waarheid van Gen.15!

Abraham is uit genade, deur die geloof in Christus vriend van God (v.23).

Omdat Abraham vriend van God was, in die regte verhouding tot God gestaan het, deur die geloof, daarom het sy werke gevolg, het hy sy seun Isak geoffer, sy geloof was nie alleen nie, dit het vrug gedra in en deur Christus.

Daarom is Jakobus se konklusie, die volgende woorde, vir die nietige mens, vir al sy aanhoorders, vir ons ook vandag:

SIEN julle, verstaan julle, dat die mens geregverdig word uit die werke, v.24, dus jou werke wat wys, openbaar, aantoon dat jy kind van God is, waarlik glo,

en nie “alleen deur die geloof” nie,

EN DAN BELANGRIK, verwys die “alleen deur die geloof” van v.24 nié

– na die alleen deur die geloof (sola fide) van Gen.15 nie, en

– nié na die alleen deur die geloof (sola fide) van Rom.3 en  nie4, en

– nie die alleen deur die geloof (sola fide)van Gal.2 en 3 nie , en

– nie die alleen deur die geloof  (sola fide) van Filp.3 nie, ens.

MAAR dit verwys na die valse, dooie, nietige valse geloof van v.14-17,

die nietige mens se valse ‘geloof alleen’ sonder die vrug of werke is, die dooie geloof, die tipe ‘geloof’ wat “tog nie red nie” (v.14c).

So geliefdes, Paulus (Rom.3:28) en Jakobus (2:23) leer uitdruklik en duidelike:

– deur die ware geloof alleen word ons geregverdig voor God

op grond van Christus se werke alleen,

en dan uit ons werke as vrug en gevolg van Christus se werke,

word ons uit die werke regverdig, m.a.w.

dat ons waarlik glo, die geloof het, vriende van God is.

Dit dui Jakobus, tweedens ook aan in die geval met Ragab, die hoer.

Sy is ‘net so’ geregverdig uit die werke, net so !

Abraham die gerespekteerde, maar ook Ragab, die hoer.

Sy het in die Here geglo, sy het die Here bely, en haar werke het dit aangetoon, gewys, daarom dat sy as vrug van die geloof “die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het” (v.25).

Albei se geloof getuig van werke, geloof wat in dade oorgaan.

Niemand van ons mag beweer, ek glo maar net en doen nie,

nee alle gelowiges, natuurlik in verskillende grade,

soms 10 voudig, dan 50 voudig, of meer,

moet doen in dankbaarheid.

En dan laastens, herhalend, beklemtonend, samevattend (in lyn met v.14,17,20,24), skryf Jakobus:

“Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Soos …. die liggaam sonder gees dood is,

so is geloof sonder werke dood.

Die twee word duidelike onderskei,

maar die mens – wat tydelik van gees en liggaam geskei word by die dood, is en gaan in die hiernamaals gees én liggaam wees, onskeibaar, onlosmaaklik verbonde aan mekaar.

So ook geloof en werke.

Nou geliefdes, ons vat saam.

Onthou, ons wil geloof en werke reg verstaan,

omdat ons gered word nie net om reg te lewe nie,

maar ook reg te glo, alles tot eer van God (1 Kor.10:31).

Daarom moet ek heeltyd leer, bid en besin of ek die Skrif, die Evangelie, my geloof, my redding reg verstaan, sodat ek nie die Here se eer aantas nie. Dit is veral Paulus se fokus.

Maar so ook my lewe,

Waarvan getuig my lewe, is dit sê en doen ?

Sien ek goeie vrugte in my lewe, groei ek daarin ?

Word my geloof geregverdig (aangetoon) deur en uit my dade ?

Laat ons opnuut goeie bybelse selfondersoek doen (2 Pe.1:10)

Dit wat ons leer hier in Jak.2:14-26 (en by implikasie in verhouding tot ander Skrifgedeeltes soos Rom.3,4 en Gal.2 en 3), word goed saamgevat en bely in NGB artikel 24 (beklemtonings bygevoeg):

ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ‘n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien?

Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: “…wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk 17:10).

Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp.

Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie. 

Daarom, laat ons vashou aan die Skrif, wat ons leer:

Ons word geregverdige uit genade van God

deur die geloof in Christus alleen,

sonder die werke van die wet,

maar dit is ‘n geloof wat nooit alleen is nie,

want dit het as vrug dankbaarheidswerke tot Sy eer.

Laat ons aan hierdie wonderlike genadige troos vashou in leer én lewe, tot die einde toe, soos Tyndale ook daarvan getuig het (Ef.2:8-10),

“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Amen.

4 thoughts on “Preek: Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 2)

Add yours

  1. Is verbaas dat hier geen kommentaar is. Hierdie is n baie belangrike punt wat Slabbert maak. Daar is n baie goeie boek oor hierdie onderwerp nl: Studies on saving faith. A.W.Pink

  2. Hierdie preke lewer ‘n belangrike bydrae tot die apologetiek. Hulle wys hoe ‘n oeenskynlike teenstrydigheid in die Woord, versoen kan word deur studie van die Skrif self. Die ongelowige en die twyfelaar kan nie langer daarop staat maak dat hy met hierdie “teenstrydigheid” die Skrif se geloofwaardigheid onder verdenking bring nie. Dis belangrik dat gelowiges hierdie hantering van die Skrif verstaan en self in hul Bybelstudie aanwend.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: