Die Bybelse Evangelie: verloor deur Rome, herontdek deur die Reformasie
[Die notas van my lesing gelewer tydens die Reformasie 500 herdenking: 3-5 November 2017, Diamantvallei]
Lees: Rom.1:1-7; 4:1-12; Gal.1:6-12
Gebed
1 DIE BELANGRIKHEID VAN DIE ONDERWERP
– Galasiërs 1:8 waarsku ons: elkeen wat ‘n valse evangelie verkondig, laat hom ‘n vervloeking wees.
– Calvyn se aanhaling:
“As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die Christelike geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee dele nie alleen die belangrikste plek beklee nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens is, naamlik, eerstens, ‘n kennis van die manier waarop God reg aanbid moet word, en, tweedens, die bron waarvandaan verlossing verkry word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos.”[1]
[1] Tracts relating to the Reformation by John Calvin, translated by Henry Beveridge, vol.I (Edinburgh: T&T Clark), p.116.
– Luther se stelling 62: “Die ware skat van die Kerk is die heilige evangelie van die heerlikheid en genade van God.”
Dit is dus ‘n saak van lewe en dood, hoe ons gered word. Mense se sieleheil, en die eer van God is op die spel.
2 AGTERGROND VAN DIE LESING
E-pos gesprek in Okt 2016 en daarna vir so paar maande gehad met ‘n Rooms Katoliek oor die verskille tussen Rome en die Reformasie.
Die Rooms Katoliek skryf vir my:
“As jy die waarheid wou soek, die waarheid wat bevry, dan sal jy die volgende moet bewys:
- Wat die oorspronklike Bybelse evangelie was,
- Dat dit verlore gegaan het (by Rome). Dit moes verlore gegaan het om herontdek te word,
- Dat die evangelie wat die Hervormers geleer het, ooreenstem met die oorspronklike Bybelse evangelie.”
Hierdie is my poging om hierdie baie belangrike vrae te beantwoord, vanuit die apostel Paulus se brief aan die Romeine, met die hoop dat dit ons sal leer om nou en in die toekoms aan die ware bybelse Evangelie vas te hou en daaruit te lewe:
Deel 1. Die oorspronklike Bybelse evangelie
Stelling 1: Die oorsprong en bron van die Evangelie (Grieks: euangelion = goeie nuus) is God die Vader, die HERE self:
“Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God …” (1: 1b)
Die evangelie het nie sy oorsprong of bron in die mens self nie, nie in ‘n konsilie of sinode nie, nie in die Pous of heilige nie, die oorsprong is God self. In die woorde van Paulus in Gal.1:11, “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.”
Stelling 2: Die geskrewe openbaring van die Evangelie vind ons in die Heilige Skrifte (Gr. graphias hagiais)
“… wat Hy voorheen deur sy profete in die Heilige Skrif beloof het …” (1: 2a, sien ook 3: 21b)
Die evangelie is goeie nuus, nie nuwe nuus nie. Reg na die sondeval, Gen. 3:15 hoor ons reeds van die goeie nuus.
Stelling 3: Die inhoud van die Evangelie is God die Vader se Seun, Jesus Christus, ons Here in alles wat Hy is en al sy werke oftewel weldade
“Aangaande sy Seun, Jesus Christus, onse Here …” (1: 3a)
Stelling 4: Die krag of bevestiging van die Evangelie: God die Heilige Gees
“… en verklaar om die Seun van God te wees met krag volgens die Gees van heiligheid” (1: 4a)
Stelling 5: Die doel van die Evangelie: die redding van sondaars onder alle nasies tot die eer van Sy Naam
“Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” (1:16)
“… en dat die heidene God vir sy barmhartigheid kan verheerlik soos geskrywe is …” (15: 9)
Stelling 6: Die rede waarom ons die Evangelie benodig (goeie nuus), is as gevolg van die ‘slegte nuus’: sondeval, sonde (1:18-3: 20)
“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; … want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, “(3: 19,23)
Stelling 7: Die gevolge van die slegte nuus, van die sonde in die wêreld
7.1 God se regverdige toorn en oordeel uit die hemel oor alle mense, in tyd en vir ewigheid:
“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (1:18, 32; 2: 6,16)
1.7.2 Niemand kan of sal geregverdig of gered word van God se regverdige oordeel deur hul eie dade nie, dit wil sê deur enige werke wat goed of sleg is nie
“aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. .” (3:20)
Stelling 8: Die goeie nuus is daarom dat dit Christus se geregtigheid is, en dit alleen, wat red van God se regverdige oordeel, en ons ontvang die geregtigheid wat ons nodig het deur geloof, nie deur werke of enige dade of verdienste van ons kant nie.
“Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof …” (3:21-25)
Stelling 9: In opsomming: Ons is gered, ons is geregverdig uit genade deur die geloof, sonder die werke van die wet, dit wil sê sonder enige werk wat ‘n mens kan doen:
“Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (3:28)
Stelling 10: Die OT getuig reeds van redding deur geloof alleen sonder enige werke:
In Romeine 4: 1-12 wys Paulus uit die Skrif, die OT, dat mense in beide die OT en NT tye –
10.1 is gered (Jode en nie-Jode) nie deur werke nie, maar deur geloof,
10.2 dit is ook nie my werke wat saamwerk met God nie (sinergisme), maar God se daad van ‘toerekening’ (eng: imputation) as ‘n geskenk van Hom wat my red, ‘n gawe van God (monergisme):
Voorbeeld 1: Abraham (sien: Gen.15: 6)
1 Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry? 2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. 3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; ” (4: 1-4)
Voorbeeld 2: Dawid (sien Ps.32: 1,2)
“5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. 6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: 7 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. 8 Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” (4: 5-8)
Stelling 11: Toepassing deur Paulus vir sy tye (en ons tye) in die verhouding tussen geloof en werke, spesifiek die besnydenis:
“9 Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. 10 Hoe is dit dan toegereken toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene. 11 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; 12 en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was.” (4: 9-12)
Stelling 12: Die verhouding tussen geloof en werke:
Ons regverdiging deur genade deur geloof in Christus se geregtigheid, produseer dan goeie werke waarin ons in dankbaarheid leef deur geloof in die krag van die Gees.
“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (1:17)
“… en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was.” (4:12)
” Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (8: 1)
Paulus in Efesiërs 2: 8-10 wys ook op die vrug van regverdiging deur die geloof – wat ‘n geskenk is – nl. goeie werke wat in Christus voorberei is, 2:10).
8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
‘n Ware geloof sal en kan nie anders as om werke te lewer, en ‘n geloof wat nie goeie werke lewer nie, is glad nie ‘n ware geloof nie, dit is Jakobus se punt in Jakobus 2.
Jakobus se besorgdheid is nie regverdiging nie (Paulus se besorgdheid), maar heiligmaking wat voortspruit uit regverdiging as die bron. Christus is die wortel, en ons werke is die vrug om in Hom te wees, Joh.15: 1-5.
Opsommend:
12.1 Alle mense het gesondig en kan nie deur eie dade/werke regverdig word voor God nie (1: 18-3: 20)
12.2 Die Evangelie is Christus het gekom om die geregtigheid wat God eis, te vervul, na te kom, wat ons nodig het om gered te word en regverdig te wees voor God (3: 21-31)
12.3 Ons ontvang die geregtigheid (Christus en al sy weldade), ons is geregverdig deur God deur die geloof in Christus se werk in ons plek (4: 1-12), en die vrug daarvan is geloofswerke in dankbaarheid (Joh. 15:1-5; Ef.2:8-10; Jak. 2)
DEEL 2: Hierdie evangelie het verlore geraak by die Rooms-Katolieke Kerk, soos gesien in die Konsilie van Trent (1545-1563)
Bewys 1: Volgens Rome is ons redding nie uit genade alleen deur die geloof alleen nie
“CANON IX.- As enigiemand sê, dat deur die geloof alleen die onregverdige/omheilige (impious) geregverdig is; dat niks anders nodig is om saam te werk ten einde die genade van regverdiging te verkry nie en dat dit nie nodig is op enige wyse, dat hy voorberei en beskik word deur die beweging van sy eie wil nie; laat hom ‘n vervloeking wees. ” (= singergisme)
“KANON XXIV. As enigiemand sê dat die geregtigheid wat ontvang is, nie bewaar en ook toeneem deur goeie werke voor God nie; maar dat die genoemde werke bloot die vrugte en tekens van regverdiging is, maar nie ‘n oorsaak van die toename/vermeerdering daarvan (regverdiging) is nie; laat hom ‘n vervloeking wees. ” (regverdiging is ‘n proses, nie ‘n verklaring nie, by Rome)
(Konsilie van Trent, Kanons oor Motivering, 6de sessie, hoofstuk 16).
Sien ook hierdie video deur Bishop Robert Barron, wat sê: genade ja, maar nie genade alleen nie.
Bewys 2: Die ontvangs van die sakramente is nodig vir redding, en dus nie net vir die versterking van die geloof nie (http://catholicism.org/desire-justification-salvation.html).
Sessie 7, Kanon 4 van die Sakramente in die algemeen van die Besluit oor die Sakrament, Konsilie van Trent:
“KANON IV: As enigiemand sê dat die sakramente van die Nuwe Wet is nie nodig/noodsaaklik vir verlossing nie, maar is onnodig, en dat daarsonder of sonder die begeerte daarna, die mens van God deur die geloof alleen die genade van regverdigmaking van God verkry, alhoewel alles nie nodig is vir elkeen nie, laat hom ‘n vervloeking wees.”
Bespreking:
2.1 Die Rooms-Katolieke Kerk leer dat die sakrament van die doop nodig is vir die regverdiging oftewel redding, terwyl Paulus geleer het dat Abraham geglo het, geregverdig is, voordat hy die sakrament van die besnydenis ontvang het:
” 9 Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken.
10 Hoe is dit dan toegereken toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene.
11 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word. ” – Romeine 4: 9-11
Die gereformeerde siening van die sakramente word gevind in NGB art. 33-35, en HK Sondag 25-30. Ek haal aan uit Sondag 25, wat wys die sakramente beseël en bevestig die evangelie van redding aan ons, maar dit bewerk nie die geloof nie. Dus dit word ons nie ingegiet deur ‘n sakramentele proses wat plaasvind deur ons hele lewe nie. Met ander woorde: die sakramente wys en versterk die geloof, dit bewerk dit nie:
HK Sondag: 25 – VRAAG EN ANTWOORD: 66
Vraag: Wat is sakramente?
Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk1.
Skriffundering
- Genesis 17:11; Levitikus 6:25; Deuteronomium 30:6; Jesaja 6:6-7; Jesaja 54:9; Esegiël 20:12; Romeine 4:11; Hebreërs 9:7-9; Hebreërs 9:24
Sondag: 25 – VRAAG EN ANTWOORD:67
Vraag: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is1
Skriffundering
- Romeine 6:3; Galasiërs 3:27
2.2 Die Rooms-Katolieke Kerk leer dat iemand geregverdig word deur geloof en werke, dat Christus en ons geregtigheid, dws ons werke moet saamwerk met Christus se werke om uiteindelik gered te word, in teenstelling met wat die Skrif geleer het soos ons gesien het in Romeine 3 en 4 hierbo by deel 1.
2.3 Die RKK se leerstukke oor die regverdiging het nie verander nie, maar hul benadering het verander teenoor Protestante, van vervloeking na akkommodering, van vervolging na ekumunisiteit, van klem op doktrine, na klem op samewerking, ens. In die woorde van Leonardo De Chirico, by ‘n Ligonier konferensie, in sy lesing “Roman Catholicism Today“:
“Die Romeinse Kerk, terwyl dit nie staties is nie, en ook nie ‘n monolitiese werklikheid nie, verander nie regtig in sy fundamentele verpligtinge nie. Dit voeg nuwe lae en nuwe kleure by, dit verander hulle in terme van houding en toon, maar die kern, die hart van wat Rome voor staan, is nooit – het nooit verander nie. Dit brei homself uit, maar suiwer nie self nie. Dit omhels nuwe tendense en praktyke, maar verwerp nie onbybelse praktyke nie. Dit groei, maar dit hervorm homself nie volgens die evangelie standaarde nie. …
Ons het dus twee hoof uitdagings uit die hedendaagse Katolisisme. Een is die stryd oor woorde (wat hul herdefinieer). Katolisisme, in sy post-Vatikaan II-tyd, het probeer om die basiese Evangeliese Protestantse taal vas te vang, om dit te herdefinieer. Gebruik steeds dieselfde woorde, maar herdefinieer die betekenis daarvan beduidend. …
Neem byvoorbeeld die woord ‘regverdiging’. Na die 1999 “Joint Declaration on the Doctrine of Justification”, is die woord ge-herdefinieer, die tradisionele betekenis is verduister. Maar weer, in die huidige Katolisisme, wanneer hulle praat oor regverdiging, is daar geen toerekening nie. En die hele stelsel wat gebaseer is op die aflate en die vagevuur bly steeds ongeskonde, gebruik nog dieselfde woord, maar dit beteken ‘n heel ander ding.”
Sien ook: Is the Roman Catholic Church Now Committed to “Grace Alone”?
2.4 Roomse geleerdes erken self dat die wesentlike verskille oor regverdiging nog steeds daar is, soos dr. Michael Horton skryf:
Perhaps the clearest statement of caution against impatient announcements of success on this point has been offered by the principal theologian on the Roman Catholic side of ECT, Avery Cardinal Dulles. He begins by acknowledging the importance of the doctrine of justification as “a matter of eternal life or death.” “If it is not important,” he says, “nothing is.” 14 Yet the following are differences yet to be resolved:
1) Is justification the action of God alone, or do we who receive it cooperate by our response to God’s offer of grace?
2) Does God, when He justifies us, simply impute to us the merits of Christ, or does He transform us and make us intrinsically righteous?
3) Do we receive justification by faith alone, or only by a faith enlivened by love and fruitful in good works?
4) Is the reward of heavenly life a free gift of God to believers, or do they merit it by their faithfulness and good works? 15
For all the progress in mutual understanding represented by the Joint Declaration, says Dulles, at least for its part, Rome continues to affirm over against the Reformers the second answer to each of these questions. Dulles observes first that, according to the Council of Trent’s “Decree on Justification” (1547), “human cooperation is involved” in justification. “Secondly, it taught that justification consists in an inner renewal brought about by divine grace; thirdly, that justification does not take place by faith without hope, charity, and good works; and finally, that the justified, by performing good works, merit the reward of eternal life.” (Barrett, Matthew (2017-03-16). Reformation Theology: A Systematic Summary (Kindle Locations 370-385, p.22). Crossway. Kindle Edition.)
2.5 Die RKK leer dat ons regverdiging dus ‘n proses is, sinergisties is, en die Reformasie leer dat ons redding ‘n verklaring is, monergisties is. In eersgenoemde werk die mens saam in sy regverdiging, of is die regverdiging ‘n proses, in laasgenoemde word hulle wat glo regverdig verklaar op grond van Christus se verdienste, die mens ontvang die mens regverdiging deur die geloof. In die woorde van prof. Ludi Schulze (Geloof deur die Eeue, Pretoria: NGKB, 1990: 171 ev):
“Trente (beskou) die regverdiging as ‘n proses waarin die mens regverdig gemaak word. “Justification is a passing from the state in which man is born a son of the first Adam, to the state of grace and adoption as sons of God (see Rom. 8:15) through the second Adam, Jesus Christ, our Savior” (Denzinger, par. 796, aangehaal deur Lohse, p. 192-193).
Die proses van regverdiging begin met die roeping (wat sonder verdienste van die mens tot hom kom), wat effektief word deur die voorbereidende genade (“predisposing grace”). Hierdie genade werk op só ‘n manier dat dit die mens motiveer en hom help om hom te “bekeer” tot sy regverdiging. Die motivering en bekering vind plaas wanneer die mens met die genade instem en daarmee saamwerk. “The result is that, when God touches the heart of man with the illumination of the Holy Spirit, the man who accepts that inspiration certainly does something, since he could reject it; on the other hand, by this own free will, without God’s grace, he would not take one step towards justice in God’s sight” (Denzinger, par. 797, aangehaal deur Lohse, p. 193).
Die daadwerklike regverdiging lê aan die end van hierdie proses van vernuwing, en dit bestaan nie net uit die vergewing van sondes nie, maar terselfdertyd uit die heiliging en uit die vernuwing van die innerlike mens.
Die mens ontvang hierdie regverdiging deur die sakramente, wat genade in die mens ingiet en lei tot ‘n nuwe kwaliteit in die mens.”
Prof. Ludi Schulze se eie beoordeling van Trente se regverdigingsleer:
By die beoordeling van hierdie beslissing van Trente let ons op verskeie sake.
(i) Hierdie beslissing is ‘n kompromis tussen verskeie strominge binne die Roomse Kerk en staan presies in die middel tussen twee uiterstes: (a) om alles aan die genade van God toe te skryf; en (b) om die regverdiging aan menslike verdienste toe te skryf.
(ii) Hierdie omskrywing beperk die samewerking van die mens in sy regverdiging tot ‘n minimum: in wese is die mens alleen in staat om ôf die genade van God te aanvaar ôf om sy toestemming vir die genade te weier. Maar met hierdie minimum bly daar ‘n belangrike beslissing in die hande van die mens.
(iii) Met hierdie “middeweg” en beperking van die mens se aandeel in sy regverdiging het die konsilie die verskille tussen Luther en party verbete Pelagiane uit die laat Middeleeue aansienlik verminder.
(iv) Tog is daar nog belangriker verskille tussen Luther en die konsilie. Omdat die regverdiging aan die sakramente verbind word, verloor die genade sy karakter as Gods persoonlike bemoeienis met die mens. Genade word by Trente ‘n ding wat op homself bestaan, ‘n “iets” wat deur die sakramente in die mens ingegiet word. Die gevolg is dat die noodsaaklikheid van ‘n persoonlike geloof na die agtergrond verskuif. Die “verdingliking” van die genade se wortels lê reeds by die Kerkvaders (vgl. T. F. Torrance, The concept of grace in the Apostolic Fathers).
(v) Alhoewel Trente die regverdiging tipeer as ‘n oorgang van een status na ‘n ander, word die nuwe status eintlik besit van die mens. Dit word nog duideliker uitgestippel as daar later nie net van “status” gepraat word nie, maar van ‘n “nuwe kwaliteit” in die mens. Die objektiewe “ding”-karakter van die genade is onskeibaar verbonde met die nuwe (ontiese!) kwaliteit wat dit in die mens werk! Daarteen oor is die regverdiging vir Luther en die ander Hervormers geen proses nie maar ‘n uitspraak, ‘n juridiese oordeel van God; dit is imputatio, toerekening (vgl. ons belydenisskrifte) van die geregtigheid van Christus aan die sondaar.
(vi) Alhoewel die menslike samewerking (sinergisme) drasties ingekort is, is dit nie verwyder nie. Dit het ernstige gevolge vir die sekerheid van die heil, soos ons in die volgende punt (8.3) sal sien.
(vii) ‘n Ernstige beswaar wat teen Trente se uiteensetting van die regverdiging ingebring kan word, is die feit dat die konsilie net aandag gee aan hóé die regverdiging sielkundig verloop. “It does not concern itself with the theological question concerning the ultimate basis of man’s justification and of his certainty of salvation. The psychological description of the process of justification and the theological question concerning the foundation of grace and certainty are not the same” (Lohse, a.w., p. 194). Omdat Trente nie hierdie onderskeid gemaak het nie, maar die regverdiging verpsigologiseer het, kon hulle Luther se leer van die toerekening van Christus se geregtigheid, wat deur die geloof gegryp moes word, nie anders sien as ydele selfvertroue nie.
DEEL 3: Die Reformasie het die Evangelie van die OT en NT herontdek, soos gesien kan word in die gereformeerde belydenisskrifte
Ek haal aan uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (sien ook WCF articles 11 tot 16; HK Sondag 23, 24). Deur net die blote lees van hierdie geloofsartikels, sal gesien word die groot verskil met Rome se siening van regverdiging. Deel 1 se verklaring is dan ook die bybelse begronding vir deel 3, saam met die verduidelikings in hierdie genoemde artikels:
ARTIKEL 22: ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF
Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam1 om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry2.
Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid3.
Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is4.
Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie5, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het6, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
- Johannes 16:13-14; 1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 1:17-18; Efesiërs 3:16-17
- Johannes 14:6; Handelinge 4:12; Galasiërs 2:21
- Psalm 32:1; Matteus 1:21; Lukas 1:77; Handelinge 13:38-39; Romeine 8:1
- Romeine 3:28; Romeine 8:1; Romeine 8:33; Romeine 10:4-11; Galasiërs 2:16; Filippense 3:9
- 1 Korintiërs 4:7
- Jeremia 27:5; Matteus 20:28; Romeine 8:33; 1 Korintiërs 1:30-31; 2 Korintiërs 5:21; 1 Johannes 4:10; 1 Petrus 1:4-5
ARTIKEL 23: ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan1.
Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken. Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is2.
Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer3, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie4 maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen5.
Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo6; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie7.
Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons – helaas! – verteer moes word8.
En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” 9
- Psalm 32:1-2; Lukas 1:77; Romeine 4:6-7; Kolossense 1:13-14; 1 Johannes 2:1
- Psalm 32:1-2; Romeine 3:24; Romeine 4:2; Romeine 4:6; 2 Korintiërs 5:18-19; Efesiërs 2:8; 1 Timoteus 2:6
- Psalm 115:1; Openbaring 7:10-12
- 1 Korintiërs 4:4; 1 Korintiërs 4:7; Hebreërs 11:6-7; Jakobus 2:10
- Handelinge 4:12; Romeine 5:19; Hebreërs 10:20
- Romeine 4:23-25; Romeine 5:1
- Genesis 3:7; Jesaja 33:14; Sefanja 3:11; Hebreërs 4:16; Jakobus 2:10; 1 Johannes 4:17-19
- Deuteronomium 27:26; Psalm 130:3; Lukas 16:15; Efesiërs 3:12; Filippense 3:4-9
- Psalm 143:2
ARTIKEL 24: ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees1, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak2, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry3.
Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie4; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie5, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ‘n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat tot dade oorgaan, wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur God in sy Woord beveel het.
Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat ons goeie werke doen6.
Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is7.
Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie – wat sou ons tog kon verdien?
Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk8.
Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: “…wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie9,
maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie10.
En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp11.
Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie12.
- Handelinge 16:14; Romeine 10:17; 1 Korintiërs 12:3; 1 Tessalonisense 1:4-5
- Esegiël 36:26-27; Johannes 1:12-13; Johannes 3:5; Johannes 6:29; Handelinge 15:9; Efesiërs 2:4-6; Titus 3:5; 1 Petrus 1:23
- Johannes 5:24; Johannes 8:36; Romeine 6:4-6; 1 Johannes 3:9
- Galasiërs 5:22; Titus 2:12
- Johannes 15:5; Romeine 14:23; 1 Timoteus 1:5; 2 Timoteus 1:9; Titus 3:8; Hebreërs 11:4; Hebreërs 11:6
- Romeine 4:5; Galasiërs 5:6; 1 Tessalonisense 2:13
- Matteus 7:17
- Romeine 11:6; 1 Korintiërs 1:30-31; 1 Korintiërs 4:7; Efesiërs 2:10
- Lukas 17:10; Romeine 2:5-7; 1 Korintiërs 3:14; Filippense 2:13 ; 2 Johannes:8; Openbaring 2:23
- Romeine 7:20-24
- Jakobus 2:10
- Habakuk 2:4; Matteus 11:28; Romeine 10:11
Verduideliking
In die inleiding tot dr. RC Sproul se boek, Are we together? A Protestant analyzes Roman Catholicism (wat ek sterk aanbeveel aan Rooms Katolieke om te lees), skryf dr. Michael Horton as volg oor die wesentlike verskil tussen Rome en die Reformasie:
“Soos die Hervormers, weet hy (Sproul) dat die Middeleeuse kerk altyd bevestig het – en die amptelike Rooms-Katolieke leer vandag bevestig dit – die belangrikheid van genade, Christus, geloof en die Skrif. Dit was die sola (Latyn vir alleen) wat die Hervormers aangeheg het aan hierdie bevestigings wat die Hervorming veroorsaak het en steeds hierdie historiese liggame verdeel. “
Die Hervormers moes hierdie woord (sola) gebruik om te verduidelik wat die Skrif implisiet en eksplisiet leer teen die dwalling van verlossing deur geloof en werke. Rome probeer baie daarvan maak deur te sê “nêrens lees ons oor geloof alleen nie”, en dat Luther en die Hervormers “sola” in die Skrif ‘inlees’, veral by in Rom.3: 28 en Gal.2: 16,
“Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof (alleen by die Lutherse vertaling) sonder die werke van die wet.” (Rom.3: 28)
“… terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” (Gal.2: 16)
Maar dit is soos om te sê dat enigiemand wat in die Drie-enige God glo (ekumeniese belydenisse), lees ‘drie-enige” in die Skrif in. Nee, die woord self is dalk nie eksplisiet daar nie, maar die hele saak is daar, dit is implisiet in die Skrif, soos Martin Luther self dit verduidelik:
“Dit dra die sin van die teks oor. … Maar ek was nie afhanklik van of die aard van die tale alleen as ek die woord ‘alleen’ in Romeine 3 ingevoeg het nie. Die teks self, en die heilige Paulus se betekenis vereis dit dringend . Want in daardie gedeelte handel hy oor die hoofpunt van die Christelike leerstelling, naamlik dat ons geregverdig word deur geloof in Christus sonder enige werke van die wet.
Paulus sluit alle werke so volledig uit as om te sê dat die werke van die wet, alhoewel dit God se wet en woord is, nie ons regverdiging help nie. Deur Abraham as voorbeeld te gebruik, redeneer hy dat Abraham so sonder werk geregverdig was, dat selfs die hoogste werk wat deur God beveel is, bo alle ander, naamlik besnydenis, hom nie in sy regverdiging gehelp het nie.
Abraham was daarom eerder geregverdig sonder die besnydenis en sonder enige werke, maar deur die geloof, soos hy in hoofstuk 4 sê: “Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.” (v.2)
Dus, wanneer alle werke so heeltemal verwerp word – wat beteken dat geloof alleen regverdig – wie duidelik en eenvoudig oor hierdie verwerping van werke praat, moet sê: ‘Geloof alleen regverdig en nie werke nie.’ Die saak self en die aard van die taal vereis dit. ” (lees ook hierdie artikel: Kerke vind mekaar oor die regverdigingsleer, maar nie vir Luther en die Reformasie nie)
Dr. RC Sproul verduidelik ook die protestantse siening van die Regverdiging hier.
En as ons Rom.3: 28 en Gal.2: 16 lees in die konteks van die res van die Skrif, soos bv.:
“… 8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;” (Filp. 3: 8,9)
“… 4 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — 5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees 6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; 7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (Tit. 3: 4-7),
dan kan mens nie anders as om te eindig met ‘n erkenning dat die Reformatore die Evangelie-waarheid wat die Rooms-Katolieke Kerk verloor het, herontdek het nie:
– ons word uit genade alleen gered, (sola gratia)
– deur geloof alleen, (sola fide)
– alleen op grond van Christus se werk (solus Christus)
– volgens die Skrif alleen (sola Scriptura).
– tot eer van God alleen (soli Deo gloria),
Mag ons Here Jesus deur Sy Gees en Woord die oë van ons Rooms Katolieke vriende oopmaak om weer die Bybelse evangelie van Christus te hoor, die Evangelie volgens die Skrif alleen, “en “nie na die mens nie” (Gal. 1:11).
Mag ons wat sê dat ons Reformatore is, nasate van die reformatoriese geloof volgens die Skrif, en soos ons samevatted bely in ons belydenisskrifte, ook hierdie kosbare leerstul koester, aanhou reformeer volgens die Woord deur die krag van die Heilige Gees, ook vir ons nageslag.
Onthou opnuut wat op die spel is, in die woorde van die apostel Paulus:
1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte … – 1 Korinthiërs 15
Amen.
_______________________
Luister of lees gerus ook hierdie twee preke oor die verhouding ‘geloof en werke’:
Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 1)
Jak.2:14-26 Geloof alleen red maar die geloof wat red is nie alleen nie (deel 2)