DIE HERE BLY GETROU
Lees: Romeine 8:28-9:24; 11:1-7
Teksgedeelte: Romeine 9:1-8
Die preek kan hier geluister word: Die Here bly getrou (2015-06-21)
6 Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. 7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Dit is nie die ontrou van mense nie, niks wat die mens doen, goed of sleg, nie … MAAR ….
die almagtige genadige soewereine verbondstrou van die Here,
wat die Here se kerk versamel, bewaar en instand hou tot in ewigheid.
Dank God daarvoor !, soos Rom.9:16 dit stel,
so hang ons redding nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God alleen wat barmhartig is !
Ons leer dit vandag uit ons teksgedeelte hier in Romeine 9, spesifiek verse 1-8.
Ons tema is, v.6,
Die Here bly getrou aan sy verbondsbelofte vir sy kinders,
ongeag baie se sondige ongeloof en ontrou.
Ons let op twee sake:
- Paulus se hartseer en droefheid oor die afvalligheid van sy stamgenote na die vlees, v.1-5
- Die sekerheid en troos oor die Here se verbondstrou aan die ware Israel, v.6 en verder
1. Paulus se hartseer en droefheid oor die afvalligheid van sy stamgenote na die vlees, v.1-5
Na die vreugdevolle, troosvolle, oorwinnende woorde van Romeine 8:28-39,
vind ons skielik groot droefheid, ’n onophoudelike smart by die apostel Paulus,
in verse 1 tot 5 van Romeine 9.
’n Totale kontras, van ’n hoogtepunt (die vaste sekere verlossing in Christus van elke uitverkorene), na ’n laagtepunt.
Hierdie droefheid/hartseer en smart by Paulus is so groot belangrike saak,
dat hy die saak begin aanspreek, in vers 1 met ’n selfopgelegde eed,
– dat wat hy nou gaan spreek is die ‘waarheid in Christus’,
– en, dat die Heilige Gees getuig saam met sy gewete daaroor.
Wat is dit wat Paulus so diep bedroef en hartseer gemaak het ?
Dit is dat sy stamgenote na die vlees, sy volk,
die geregtigheid wat deur die geloof in Christus verwerp het.
Die inhoud waaroor Paulus geskryf het in hfst.1-8, wat saamgevat kan word in die woorde van Rom.1:16,
16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.
Ja, die Joodse volk het die evangelie van Christus verwerp,
Hulle het geskree ‘Kruisig Hom’, ons wil Hom nie as Koning hê nie, weg met Hom.
En Paulus het dit ook aan sy eie lewe gevoel, as hy die evangelie aan hul verkondig het,
hoe die volk hom en die Evangelie verag, verwerp het, hom vervolg het.
Hulle die beloftewoord van God verwerp, en so verlore gegaan.
Deur Christus te verwerp het hulle nie, Rom.9:30 en 31, die ‘geregtigheid wat uit die geloof is’ verkry nie, … en in plaas daarvan het hulle hulself probeer red deur hul eie werke, hul eie geregtigheid op te hef, omdat hulle gedink het hul sondig nie.
En wat dit nou soveel erger maak, is wat Paulus daar beskryf in verse 4 en 5:
Israel, die volk van die Here, sy stamgenote het soveel verbondsvoorregte ontvang,
In v.4,5 word 8 van daardie voorregte, seëninge genoem en opgesom, wat geld vir die OT bedeling, maar ook vir sy stamgenote en tyd, “hulle is”:
– “Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort”, wat verwys na die Here wat hul uitverkies het om sy volk te wees, wat hul verlos het uit Egipte, om sy kind, sy volk te wees in heilige dankbaarheid …
– aan hulle het die “heerlikheid behoort”, die Here se heilige genadige teenwoordigheid, deur die ark, tabernakel en later die tempel … God met ons …
– aan hulle behoort die “verbonde”, wat wys op die verskillende verbondsfases of sluitinge van die een genadeverbond, (Abraham, Sinai, Dawid), wat in wese saamgevat word in Gen.17:7, En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
– aan hulle behoort die ‘wetgewing’, die wette van die Here deur Moses gegee het.
– die “erediens”, wat dui op die seremoniële diens.
– “die beloftes” van redding en verlossing wat regdeur die OT bedien is, en ook nou daar in Paulus se tyd.
– die “aartsvaders” Abraham, Isak en Jakob.
en dan, die hoogtepunt en inhoud en doel van al hierdie verbondsvoorregte:
– uit Israel is “die Christus na die vlees”, “Hy wat oor alles is, God self, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” … dus Christus is die middelpunt van die verbond waarvan die OT heeltyd getuig het.
So, is ook aan Paulus se volksgenote na die vlees, van die begin af hierdie Evangelie-belofte verkondig, is Christus as die inhoud en belofte verkondig, die genadeverbond bedien
… en tog … en tog …
is daar in Paulus se tyd soveel wat Christus,
die Here se verbondsbeloftes verwerp het !?
En daarom is Paulus dubbel bedroef, sy smart is so erg deur hierdie
afvalligheid en verval van sy stamgenote na die vlees,
en die verskriklike gevolge wat dit het vir hulle,
dat hy in vers 3 ‘wens’ dat hy tog maar in die plek van sy volksgenote vervloek mag wees, die straf in hul plek dra.
Nee … natuurlik glo Paulus nie dat hy wel die sondes van sy volk kan dra nie,
dit sal totaal in stryd wees met alles wat hy glo en geskryf en gepreek het, ook in stryd met wat hy nou net daar in 8:32-34 skryf:
– Christus alleen is vir ons oorgee, is wat ons regverdig maak, wat vir ons gesterf het, wat vir ons sondes intree !
Sy woorde is ‘n spreekwyse wat sy passie liefde en omgee vir sy verlore volksgenote uitdruk, dit wys op die diepte van sy ‘onophoudelike smart’.
Hoor hoe sê hy dit ook in Rom.10:1,
“Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.”
Hierin sien ons die hart van Paulus, soos Moses ook in sy dae gedoen het vir sy volk wat in afgodery verval het, Ex.32:32: 31 En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!
Nou geliefde mede-gelowiges, stamgenote na die vlees van die Afrikanervolk waarvan ons ‘n deel is deur die Here se voorsienigheid ….
hierdie woorde moet ons ook tot stilstand ruk, tot bekering en verootmoediging …
– is daar nog by ons smart en droefheid oor ons kerkvolk wat so afdwaal ?
– maar ook ons volk na afstamming wat daarop geroem het dat ons die evangelie ontvang het en na die suidpunt van Afrika gebring het,
– ons wat ook danksy die genade van die Here sy Woord en beloftes ontvang het, vir eeue lank in ons land ?
– ons land en stede en dorpe wat so vol kerktorings is ?
maar ons sien so min die goeie vrug daarvan vandag,
– ons sien al meer ‘n land en volk wat sy rug draai op die Here
– ons sien meer kerke wat wegdwaal van die Here se Woord
– ons sien valse profete selfs binne kerke opstaan en juis verloën
wat daar staan in v.5 – Christus is volkome mens, maar ook volkome God
– ons sien al meer van ons volksgenote wat afdwaal van die kerk, minder eredienste bywoon, losbandig lewe, nog groter toename in egskeidings, die lastering van Sy Naam, die Here se dag wat onteer word, gesinverbrokkeling,
– ‘n Afrikanervolk wat eens ‘n kerkvolk was, waarin al meer nou uiterlik ‘n heidenvolk begin word, waar al meer begin roem word in ongeloof, wêreldse wysheid, wat God en sy gebod nie nodig het nie.
Is daar by dit alles droefheid en smart by ons, dalk ook meer persoonlik,
as ek sien en beleef hoe dalk van my eie kinders, vriende, familie al meer
afdwaal van die Here en sy Woord en sy beloftes ?
Wat die doop as teken van die genadeverbond ontvang het, maar Hom verwerp waarop die doop wys ?
Nie Christus waarlik ken en omhels wat jare, dekades lank verkondig is nie.
– Is daar by ons droefheid en smart as die kerke leeg loop ? …
En dan nou, saam met die droefheid, kom dan die volgende vraag na vore, soos in Paulus se tyd:
Maar as die Here dan ook vir ons deur die verbond beloof het,
om vir ons en ons kinders ‘n God te wees, met alle goeie dinge te versorg,
“alles genadiglik te skenk” (8:32),
hoekom sien ons dan nie die geloof by almal nie ?
Hoekom soveel ongeloof ?
Beteken dit, en dit is die vraag wat v.6a nou impliseer:
Het die woord van God verval ?
Die woord ‘verval’ dui op = leweloos geword; kragteloos; doelloos, vergaan.
Die ‘woord van God’ wys spesifiek op sy verbondsbelofte (Gen.17:7), sy reddingsbelofte in Christus (8:31-9:5), om vir ewig ons Vader te wees, en ons sy kinders in Christus.
So die feit dat soveel van Paulus se stamgenote Christus, en dus die Here se belofte, sy Woord verwerp het, beteken dit nou die Here se belofte van redding is kragteloos, dit hou nie meer stand nie, word nie vervul nie, in die woorde van prof JC Coetzee, “dat God tot leuenaar gemaak” is? (sien ‘Uitverkiesing en Verbond’ volgens Romeine 9-11)
Want Hy as almagtige God kon toe nie doen wat Hy beloof het nie, vir ewig ‘n Vader wees deur elkeen te red aan wie Hy verlossing beloof het deur sy genadeverbond ?
Dit is ‘n vraag wat ons dan ook dalk vra, in ons tyd ?
As so min mense nog wil volhard in die ware geloof,
so baie hul doop verwerp, Christus verwerp, sy kerk verwerp,
beteken dit dat die Here se beloftewoord van redding vandag nie meer
geld, ook vir ons hier in SA, in ons kerke nie ?
Die antwoord hoor ons in die tweede plek, uit verse 6b-8 spesifiek.
2. Die sekerheid en troos oor die Here se verbondstrou aan die ware Israel, v.6 en verder
Paulus, deur die Gees antwoord baie duidelik hier en Rom.11:1,2: NEE
Die Here se genadeverbond, sy woord van belofte van redding het en sal nooit
maar nooit verval nie, d.w.s. gekeer kan word dat dit nie plaasvind nie.
Dit sal sy eindddoel bereik.
Die Here het belowe, en bly getrou daaraan om Abraham en sy nageslag se God te wees in ewigheid.
Daarom dat hy sê: Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie.
Die here se woord van redding deur die Skrifte sal nie gestop word nie.
Maar, hoekom gaan soveel dan nog verlore van Paulus se volksgenote na die vlees?
En dan antwoord Paulus hierdie diepe vraag in Rom.9:6b tot 8.
WANT hulle (Israeliete, v.4) is nie almal Israel wat uit Israel is nie
Nie almal wat vleeslik afstam van Israel is die ware Israel nie,
nie aan almal, kop-vir-kop is die onweerstaanbare soewereine lewenskeppende belofte van Gen.17:7 beloof nie.
Alles wat beloof is deur v.4, sentraal Christus self, behoort
alleen aan hulle wat werklik Israel is,
nie aan almal wat bloot ‘uit’ Israel is na vleeslike afstamming nie.
DIE BELOFTE BEHOORT REDDEND AAN HULLE WAT GOD UITVERKIES HET, SOOS HY IN DIE RES VAN DIE HOOFSTUK GAAN VERDUIDELIK.
Greijdanus stel dit as volg:
“… en vervolgens aan te wijzen, dat Israels toestand niet doet zien, dat Gods beloftewoord zijne kracht verloren heeft, maar openbaring is van de waarheid, dat Gods heilbelofte niet allen geldt, doch alleen Zijne verkoren, die Hij uit souvereine vrijmacht daartoe verordineerde …” (Romeinen II, Bottenburg, 1933, p.404).
Prof. JC Coetzee skryf:
“Terwyl God die verbond gesluit het met Abraham en sy nageslag, het Hy van die begin af — van vóór Isak se geboorte — sy vrymag gehandhaaf om soewerein te besluit wie tot die verbondsnageslag sal behoort. Terwyl God aan Abraham die verbondsbelofte van ‘n geseënde nageslag gegee het, het Hy van die begin af in sy verbond sy vrymag gehandhaaf om deur eie beskikking en verkiesing te bepaal wie die nageslag van die belofte sal wees.
Vanaf die begin het God sy verbond só gesluit dat alleen die kinders van Abraham, d.i. alleen die lede van die volk Israel wat Hý verkies het, wat Hý na sy voorneme en welbehae as kinders van die belofte verkies, dat alleen húlle as die kinders van die belofte gereken sal word as die nageslag, as die hele nageslag. Die beginsel van verenging is die vrymagtige uitverkiesing van God met sy twee kante: die vrymagtige welbehae in diegene wat die verbondsvolk vorm en die vrymagtige uitsnyding uit die volk van diegene wat nie tot nageslag gereken word nie.
Dit is dus alleen elke fisiese afstammeling van Abraham wat uitverkies is in Christus, wat in Christus glo, v.5, wat die ware Israel is.
Die fisiese afstammeling wat Christus verwerp het, deur die hele OT die ware profete verwerp het, die fariseers en sadduseers wat Christus verwerp het (Joh.8), Paulus se vervolgers, is nie die ware Israel nie !
Soos v.7 dit nader verklaar: Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is (net fisiese afstammelinge), is hulle almal kinders nie.
Hoe is jy dan werklik ‘n ware kind van die genadeverbond, hoe is jy werklik Israel ?
En Paulus se antwoord is deur die Belofte woord, deur die Here wat jou roep deur sy Gees en Woord, in vers 11 sodat die ‘voorneme van God volgens die verkiesing’ kan vasstaan, en jy as vrug daarvan glo.
En so was dit van die begin gewees, nie mense handelinge nie, nie blote fisiese afstamming nie, maar die Here wat onfeilbaar roep deur sy beloftewoord.
Hy skep kinders van die Here, die ware kinders van Abraham (sien Matt.3:9; Joh.1:12,13).
En dit het Hy gedoen, dit sal Hy doen tot die laaste uitverkorene ingekom het, deur al die eeue (NGB art.37; HK v/a 54).
Paulus wys dit spesifiek deur 2 OT voorbeelde,
i. Isak en nie Ismael nie is kind van die belofte, waartoe hy uitverkies is
Isak en Ismael was albei fisiese afstammelinge van Abraham, albei is besny, het die teken van die verbond ontvang, maar, sê Paulus: maar in Isak sal jou nageslag genoem word (v.7)
Dit in navolging wat ons lees in Gen.17:21,
Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ‘n groot nasie maak. Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.
Nie in Ismael nie, dus deur blote fisiese afstammeling van Abraham nie, deur wat die mens doen nie, maak jou kind van die belofte nie, maar die Here gee sy belofte soewerein, Hy bedien sy belofte aan Isak soewerein uit sy vrye welbehae.
Letterlik staan daar in Isak sal jou nageslag uitgeroep word …
Die woord hou verband met die woord vir ‘kerk’ = die uitgeroeptes van die Here, die ware Israel, die ware kerk kragtens die Here se beloftewoord.
Die Evangeliewoord skep die kerk, laat die kerk gebore word …
en niks kan dit keer nie, dit sal nie verval nie, dit sal nie doodgaan nie!
Die Belofte is Christus as die beloofde Saad, deur die kragvolle onstuitbare werking van die Heilige Gees, wat kinders van God skep.
Dit is die Here se beloftewoord wat die redding bring, vir wie dit bestem is. Vers 8 vat dit baie duidelik saam:
Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
Die kinders aan wie beloof is die belofte van Gen.17:7, hulle is die ware nageslag, die ware Israel wat gered word, natuurlik ook onder die fisiese afstammelinge van Israel, maar nie almal of elkeen nie.
Natuurlik onder alle volke reg deur die eeue, ook onder ons volk, die Afrikaners en alle ander volke soos dit die Here behaag (DL V1:9; 2:5).
Soos oud prof Willie Snyman dit gestel het: elke volk word gered, nie elke individu natuurlik nie, maar elke volk word gered in sy uitverkorenes, wat baie of min kan wees, soos die Here bepaal het.
(sien Paulus se argument daaroor, vgl. Rom.11:1a met 1b)
Op ’n ander plek, Gal.3:16 en 29 beskryf Paulus ook wie die Beloofde saad is waaruit die ware nageslag van Abraham volg, dus wie die ware erfgename van die belofte van Gen.17:7 is deur alle eeue:
– Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. v.16
– En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. v.29
Die kinders van die belofte is almal wat aan Christus behoort, uit genade, deur die geloof. Hulle is die erfgename van die belofte.
ii. So verwys Paulus ook na ‘n 2de voorbeeld:
In die geval van Jakob en Esau, vers 11
9 Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ‘n seun hê. 10 En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. 11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep
Ja, dat … die voorneme van die verkiesing vasstaan … dus, dit is die Here wat bepaal wie is kinders van belofte, ware Israel, nie mens se optredes nie, ….
Die Belofte bepaal die redding, die geloof.
En nou moet ons ook hier noemr geliefdes: wie se skuld is dit dat so baie vleeslike afstammelinge verlore gaan, wat God se beloftes verwerp het, wat Christus verag het ?
Natuurlik is dit die mens self wat skuldig is, ook hulle wat sy verbond en bloed vertrap, dit is reeds vasgestel in Rom.2 en 3, (lees verse 3:19),
die mens is skuldig, ons praat van die ‘sondige oorsaak’ waarom mense verlore gaan, dit is hul eie skuld, ook hulle wat in die kerklike kring, die verbondskring gelewe het en geproe het aan die Evangelie en sakramente (Hebr.6 en 10), wie die bediening ontvang het, v.3-5, maar nooit – soos NGB art.34,35 dit stel – die onsigbare genadegawes ontvang het nie.
Ons bely o.a. in DL hoofstuk 1:
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).
2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh. 4:9; Joh. 3:16).
3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom. 10:14-15).
4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh. 3:36; Mark. 16:16).
5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Eph 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Php 1:29).
Paulus toon ons egter hier in Romeine wat die grond oorsaak, allesbepalende oorsaak is van ons redding, sodat geen maar geen mens sal roem nie. Ook en veral nie die ware Israel, die ware verbondelinge, kinders van die Here nie.
En hier sien ons dit baie duidelik in v.11 ev.
11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep
Die grondrede vir die Here se verkiesing, dat ons kinders van die belofte mag wees en nie kinders van die vlees nie, is alleen sy vrye welbehae – liefde vir Jakob, teenoor sy heilige haat vir Esau, v.13
God se vrye welbehae in genadige uitverkiesing, en regverdige verwerping, sien ook v.22,23. b
Ja, sonder God se almag, sy soewereiniteit sou daar geen maar geen kinders van die belofte gewees het nie, almal sou verlore gewees het.
Daarom is die groot troos: as die Here almagtig die redding bepaal, sal dit geskied … ook nog in ons tye …
So, daar mag droefheid wees oor die verval, ook in ons tye, hartseer dat soveel wat die bediening van die verbond, woord, sakramente verwerp verlore gaan.
Maar ons is ook vertroos, die Here se reddingsplan sal nie gestuit word deur baie se ontrou nie, baie wat die verbond verag, Christus verwerp nie.
Die Here se trou sal bestaan, die volvoering van sy Belofte kan nie gekeer word nie, Hy sal elkeen van sy uitverkore kinders red, jonk of oud !
En daarom kan ons ook die woorde van Paulus uitroep, vir ons tye en die toekoms, Rom.11:26,27:
… 26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; 27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.
Die Here se kant van die verbond, Christus (die Belofte, v.27), sal sorg dat die ‘hele Israel’, elke kind van God, elke gelowige, elke uitverkorene gered word (v.26).
Let wel: nie ‘dalk’ gered word nie, Hy sal sy kinders red, want Hy is getrou.
Geliefdes, moet dit nooit vergeet nie, dit is ons groot troos in Christus.
Dit is nie die ontrou van mense nie, niks wat die mens doen, goed of sleg nie, maar die almagtige genadige soewereine verbondstrou van die Here, wat die Here se kerk versamel, bewaar en instand hou tot in ewigheid.
Dank God daarvoor !
So hang ons redding nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God alleen wat barmhartig is ! (Rom.9:16)
Amen.
“Hoewel Paulus toegee dat Abraham se nageslag vanweë die verbond heilig is, verklaar hy nogtans dat vele daarin buitestaanders is en dit nie alleen omdat hulle ontaard het sodat hulle van onwettige kinders basters word nie, maar omdat God se besondere uitverkiesing wat alleen sy aanneming vas en seker maak, oor alles uitstaan en oor alles heers.” – Calvyn in sy verklaring van Romeine 9 (Institusies 3.22.4).