WARE GODSDIENS BEHELS
OM MY TONG IN TOOM TE HOU (deel 1)
Lees: Jakobus 1:19-27 en 3:1-10
Teksgedeelte: Jakobus 3:1-10
Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:
Jakobus 3:1-10 (2015-06-28)
“Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan. Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” – Jak.3:1,2
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ons is besig om uit die boek Jakobus te leer hoe om as diensknegte van Christus te lewe in hierdie wêreld, in die tyd van ‘verstrooiing’, soos Jakobus dit noem, 1:1.
Ons word opgeroep om hoe langer hoe meer volwasse te word in ons geloof, want in Christus het ons alles wat nodig is om as sy kinders midde hierdie wêreld te lewe.
Die volwassenheid v.d. geloof kom tot uiting in die volgende sake, wat ons in die vorige preke reeds geleer het:
– hoe ons die beproewinge van die lewe in lydsaamheid en volharding dra, 1:1-11
– dat ons die versoekinge deur die woord van die waarheid moet weerstaan, 1:12-18
– dat ons nie net hoorders nie, maar ook daders van die woord sal wees, 1:19-26; 2:14-26
In hfst.1:26,27 word dit saamgevat dat ons godsdiens, die ware reinde godsdiens gesien sal word in 3 sake:
- hoe ons met ons naaste omgaan, dit het ons geleer in hfst.2:1-13
- om ons vlekkeloos van die wêreld te bewaar, gaan ons nog sien in hfst.4,
en dan wat ons vandag spesifiek gaan leer:
- Reine en ware godsdiens behels dat ek my tong in toom sal hou, en dit sien ons in hfst.3, waarvan ons vandag wil leer.
Jakobus het die saak van die tong in ons geloofslewe, reeds genoem in 1:19 (lees), en 1:26 (lees), maar hier in hfst 3 gaan hy in die besonder daarop in.
Daarom is ons tema vanuit hierdie gedeelte:
Ware godsdiens behels om my tong in toom te hou (deel 1)
Ons let op die 3 sake:
- Die groot verantwoordelikheid van my tong, v.1,2
- Die groot invloed van my tong, v.3-5
- Die groot verdorwenheid van my tong, v.6-10
1. Die groot verantwoordelikheid van my tong, v.1,2
Jakobus begin met ‘n sterk waarskuwing, dat almal nie begerig moet wees om leermeesters te wil wees nie.
Hierdie leermeesters verwys dan spesiek na hulle wat leer in die kerk,
hulle wat die voorgangers is om die gemeente, die gelowiges te leer
aangaande die Christelike geloof, wat ons moet glo en hoe ons moet lewe.
Ja, almal, elke lidmaat, in die amp van gelowige leer mekaar,
ouers leer kinders, onderling leer gelowiges mekaar,
maar dit hef nie die besondere ampte op nie, soos ons bv lees in
Rom.12; 1 Kor.12; 1 Tim.3 en Ef.4, ens.
In Ef.4:11 lees ons, ‘En Hy het gegee sommige (dus nie almal nie) as …’ en dan volg die verskillende gawes en ampte, sommige wat tot ‘n einde gekom het, ander wat nog voortgaan in die NT bedeling.
Almal moet dus nie daarna moet verlang om ander te leer nie.
Hoekom nie ?
Behalwe dat die Here net ‘sommiges’ roep, hoor ons ook in die verse wat volg, verse 1b tot 12, al die redes daarvoor, wat saamgevat word in 1b: dat leraars, voorgangers, hulle wat ander leer ‘n groter oordeel sal ondergaan.
Mense oor die algemeen, veral voorgangers se woorde, onderrig, leringe, die tong, het groot mag en gevolge vir jouself en jou aanhoorders.
Jesus sê bv: Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. – Matt.5:19 (sien ook 1 Tim.4:16)
Wat jy leer – reg of verkeerd – oor die Christelike geloof, het groot gevolge vir die ewigheid.
Dit beteken egter nie dat net leraars, bv. predikante en ouderlinge se leringe en woorde sal getoets, beoordeel of geoordeel word nie, die waarskuwing van v.1b geld ook vir elke mens, dus vir elke gelowige, want Jesus sê ook op ‘n ander plek, Matt.12:36,
Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
En daarom wil Jakobus die gelowiges vermaan, almal, maar dan ook in die besonder die voorgangers, dat hul baie versigtig sal wees met die tong, met wat jy sê.
Let ook daarop, hoe sluit Jakobus homself in, ‘omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.’
So geliefdes, ek sluit myself ook eerstens in vandag, dat hierdie boodskap is ook vir my as leraar, predikant, en dit laat ‘n mens opnuut besef hoe groot die taak is, dat dit ‘n mens laat sidder en besef hoe groot is die verantwoordelikheid in wat ons leraars in die besonder moet leer en onderrig, en die omgang met die tong, die woorde wat ons spreek.
Maar onthou, dit wat Jakobus dan verder leer, geld ook vir ons almal,
soos vers 2 aandui, as begronding van vers 1, “Want ons almal, struikel dikwels.”
Die woord ‘struikel’ wys nie net op die onvolmaaktheid en gebrokenheid van die mens oor die algemeen nie, maar dit wys hier spesifiek daarop dat ek sondig, God se wet oortree, met my woorde en hoe ek praat, met my tong.
Kyk bv. 2:10 (lees) en Jesus verwys ook in Matt.18:6 na hulle wat een van sy kleintjies laat struikel, dus in die sonde in lei om verkeerd te doen of op te tree.
So, juis omdat ons so maklik struikel of sondig, God se gebooie verbreek, is een van die maklikste maniere om te sondig deur die tong, dus deur ons woorde, daarom waarsku Jakobus ons so sterk daaroor.
In vers 2 noem hy verder, dat eers as jy dit regkry om nooit te struikel in woorde nie, altyd jou tong in toom te hou, dan het jy volmaak geword.
Hoe moet die ‘volmaak’ hier verstaan word ?
Op 2 maniere: eerstens, volmaak soos in sondeloos, en dan wil Jakobus daarmee waarsku dat ons nie te veel van onsself moet dink om gou leermeesters te wil word nie, want ons is (soos alle ander mense) nie volmaak nie, en sal daarom sal ons nog in hierdie lewe maklik struikel in woorde wat dan gaan lei tot ‘n groter oordeel.
Maar dit kan ook verstaan word, tweedens, as ‘n oproep om hoe langer hoe meer volmaak te word in die gebruik van die tong, ons gesprekke en onderrig.
En hierdie verstaan lyk meer in lyn met wat ons reeds geleer het by Jak.1:4, waar dit gaan oor volmaaktheid soos in volwassenheid, om volwasse te word in die gebruik van jou tong in die heiligmaking: om ons tong in toom te hou, om woorde met wysheid te gebruik, is ‘n teken dat jy volwasse geword het in die geloof, dit waartoe Jakobus ons heeltyd toe oproep deur die hele brief.
En, as ek my tong kan in toom hou, dan kan ek ook my hele liggaam in toom hou, beheer, die gawe van selfbeheersing (natuurlik deur die Gees en Woord van God).
Die saak is so belangrik vir Jakobus, om te besef hoe kragtig die tong is en watter groot invloed dit uitoefen, dat hy dit met 3 verskillende beelde wil tuisbring.
2. Die groot invloed en krag van my tong, v.3-5
Jakobus gebruik drie beelde uit die alledaagse lewe om die groot invloed en krag van ons woorde, die tong uit te beeld.
Die sentrale les daaragter is dat iets wat so klein is, het ‘n groot invloed en gevolg.
In v.3 is die eerste voorbeeld: die stang in ‘n perd se bek.
Met daardie stang word die hele perd gestuur, in ‘n bepaalde rigting gestuur.
Die hele liggaam van die perd, sy gehoorsaamheid word bepaal deur wat met die stang gebeur, ‘n klein objek in vergelyking met die groot perd.
So is die tong in die mens se liggaam, klein lid daarvan wat die hele liggaam, ja, die lewe van die mens bepaal.
In v.4 is die volgende beeld: die roer van ‘n skip, klein in vergelyking met die groot skip, maar stuur die hele groot skip deur groot en sterk winde, soos wat die stuurman bepaal.
So is die tong in die mens se liggaam, klein lid daarvan wat die hele liggaam, lewe van die mens bepaal en in ‘n sekere rigting stuur.
(Vandag kan mens ook die voorbeeld gebruik van ‘n groot vragmotor, wat deur ‘n klein stuurwiel gestuur word, en bepaal waarheen die hele groot vragmotor beweeg.)
En in vers 5, word die derde beeld gebruik: die tong word vergelyk met ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand kan steek.
Jakobus se boodskap is duidelik: besef die groot mag en krag wat jou tong het, die groot mag en krag van woorde.
Klein woordtjies, woorde wat baiemaal ‘onskuldig’ voorkom, kan groot invloed uitoefen op jou eie lewe, jou eie lewe maar ook ander mense s’n.
Saamgevat: in verse 2 tot 5 beskryf Jakobus dus oor die algemeen die groot invloed, mag en verantwoordelikheid van die tong, van ons woorde, maar dit word neutraal gestel, dit kan goed of sleg wees.
Dit is egter wat hy beskryf in verse 6 tot 10, waar hy by die kern van sy betoog wil uitkom, en dit sien ons in die derde plek:
3. Die groot verdorwenheid van my tong, v.6-10
In aansluiting by sy laaste voorbeeld, die tong wat vergelyk word met ‘n ‘klein vuurtjie’, kom Jakobus uit by die groot gevaar, die verdorwenheid van die tong, die sondigheid van die tong as instrument in die hande van sondaars.
En ja, hy draai nie doekies om nie.
Jakobus noem 5 sake oor die verdorwenheid van die tong wat ons deeglik bewus van moet wees:
a) eerstens, die tong is ’n vuur, ’n wêreld van ongeregtigheid.
Daarmee bedoel hy dat die tong wys op ons sondige aard, dit wat die sondige hart van nature vol is, wat Jesus noem in Matt.15:18,19
Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
b) tweedens, die sondige tong besmet die hele liggaam en steek die hele lewe aan die brand.
Dit wys daarop dat die sondes van die tong, tref die res van jou lewe, en dit openbaar ander sondes, die res van jou geloofslewe word ook daardeur beinvloed deur die sonde van die tong – dus ook verhouding tot God en die naaste, my ‘hele lewensloop’, v6, word geraak.
As mens sondig met die tong, gaan dit ook jou laat sondig op ander terreine van die lewe, in die moeilikheid laat beland. Iemand wat lewe van een leuen tot die ander gaan homself later vas lieg, dit word net meer en onhoudbaar.
c) derdens, die sondige tong is vanuit die hel, dit is dus duiwels van aard.
Ja, ons is dalk maklik geneig om te roem dat allleen die ‘doen/dade’ sondes baie erg is, maar as ek met die tong haat, verbitterd is, leuens aflê, dan is dit darem nie so erg as sou ek verkeerde dinge ‘doen’ nie.
Hoor egter wat bely ons bv. by die verklaring van die 9de gebod volgens die Skrif (HK So.43 antw.112),
“… alle lieg en bedrieg (moet ek) as die eie werke van die duiwel … vermy, anders sal ek nie die sware toorn van God op my laai”
d) vierdens, vers 7 en 8, wys Jakobus daarop dat terwyl die diereryk getem word en kan word deur die mens, die tong so verdorwe is dat dit nie DEUR DIE MENS self getem kan word nie.
Geen mens kan uit homself, uit eie wilskrag die tong tem nie, in toom hou nie. Besef ons dit, of dink ons ons kan dit uit onsself doen ? Indien wel, het ons dalk nog nie erns gemaak met die eerste sin van vers 2 nie.
e) vyfdens, die teenstrydigheid van die tong. Ja, en die ergste van alles, waar die mens se tong se verdorwenheid die meeste gesien word, vers 9 en 10a.
– Dieselfde tong wat gebruik word om God die een oomblik te loof en te prys, word die volgende oomblik gebruik om mense te vervloek wat na die beeld van God gemaak is.
– Die tong wat die een oomblik gebruik word om God te loof, word die volgende dag gebruik om ’n ander kind van God se ondergang te bevorder
– Die tong wat uit die Bybel voorlees, word die volgende dag gebruik om kwaadstoker te wees, verbitterdheid en haat en onreg aan te blaas, iemand te verlei of te mislei.
G’n wonder dat Jakobus dan die mens se tong, wat verteenwoordigend
van die mens se sondige hart is, ‘n onbedwingbare kwaad … vol dodelike gif noem nie … soos ons gesing het daar in Ps.140 ….
Hoekom verwys Jakobus na die feit van dat die mens ‘na die gelykenis van God gemaak is’ ? (v.9b)
Sodat ons sal besef dat om die ‘gelykenis van God’ te vloek, my medemens, daarop neerkom dat ons die God van die gelykenis eintlik vloek, ongeag of ons dit bedoel of nie!
Besef ons nog die sondige verdorwenheid van die mens ?
Kyk maar net wat doen mense aan mekaar, met die tong !
Ons moet nie ‘n valse teenstelling maak tussen die tong wat God aanbid en dieselfde tong wat ons naaste moet dien nie. Dit is soos die eerste en tweede tafel van die wet, albei is vir ons Here belangrik, en is wesentlik deel van die ware, reine en onbesmette godsdiens (Jak.1:26,27; sien ook Matt.22:37-40; 1 Joh.4:7-21).
Geliefdes, laastens,
Laat ons vir geen oomblik dink die gevare van die tong, die sondige oorblyfsels van die tong is die probleem van die heidene en openlike godslasteraars en haters alleen nie.
Sien wie spreek Jakobus aan in hfst.3:
– ‘my broers’ v.1 (‘my geliefde broeders’, 1:19)
en v.10, ‘Dit my broeders, behoort nie so te wees nie’
Volgende week, kyk ons na v.10-18, en wat die antwoord, die goeie nuus is as antwoord op die slegte nuus wat ons vandag gehoor het, van ons giftige, gevaarlike verdorwe tonge.
Die evangelie wat ons moet hoor oor ons tonge, ons woorde, lê of begin by 10b, dat dit (v.6-10 spesifiek) nié so moet wees onder diensknegte van ons Here Jesus Christus nie (v.1:1)
DAT EK SAL BESEF HOE GROOT DIE SONDE EN ELLENDE VAN MY SONDIGE TONG IS SOOS HFST.3:1-10 MY NOU GELEER HET.
Nee natuurlik nie, dit is nie woorde en die tong opsigself – wat God geskape en geskenk het – wat die sonde is nie.
En nee, ons mag nie nou van een uiterste beweeg (verkeerde sondige gebruik van die tong), na die ander uitsterste (dat ek glad nie praat, leer, die tong wil gebruik nie).
Daarom wil ons juis volgende keer leer vanuit die Skrif, met Jak.3:10-18 as vertrekpunt, hoe die gelowige sy tong in toom kan hou en gebruik tot eer van God en heil van sy naaste.
Die sleutel is, wat ons gaan sien in 3:10-18, ons kort wysheid … ja, Wysheid van Bo !
Laat ons daarom bid, wat ons gesing het in Psalm 19,
o HERE Here,
“Die afdwalinge—wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is. Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding. Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my Rots en my Verlosser!” – Psalm 19:13-15.
Amen.