Die Reg op die Kinderdoop (deel 5: Die Kinderdoop en die besprenkeling)

gkc preekstoel

DIE REG VAN DIE KINDERDOOP

(deel 5: Die Kinderdoop en die besprenkeling)

deur ds. Joh. Jansen

Uitgegee deur die Deputate vir Evangelisasie lektuur

[Nota: In my onlangse leeswerk oor verbond en doop het ek op hierdie boekie afgekom oor die kinderdoop en deel dit graag. In die teks het ek hier en daar klein vertaling-aanpassings gemaak, beklemtonings bygevoeg, en plaas my eie opmerkings in hakies met my voorletters, slc, vooraan.]

Inhoudsopgawe

Voorwoord van die Vertalers

INLEIDING

I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF

II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS

III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS

IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK

V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING

V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING

Die teëstanders van die kinderdoop val ons ook nog aan oor die besprenkeling.

Hulle betoog met klem en nadruk dat die grondwoord vir doop (baptizen) alleen deur indompeling vertaal word en dat die doop dan ook oorspronklik uitsluitlik deur onderdompeling plaasgevind het; verder dat die woord doop telkens met die voorsetsel in verbind word, bv. in die Jordaan, Matt. 5:6, in water, Matt. 3:11; Joh. 1:26; en eindelik dat die onderdompeling die betekende saak van die doop, nl. met Christus in die dood ingaan en weer uit die dood opstaan, Rom. 6:4, veel beter uitdruk as die woord besprenkeling.

Ons antwoord daarop die volgende:

1. Die Griekse woord doop (baptizein) beteken allereers indoop of indompel, Joh. 13:26: “En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskariot, die seun van Simon”; maar dit is nie die enigste vertaling nie, want dit kan in ruimere sin ook was beteken, bv. in Mark. 7:4: “die wassery van bekers”, in Luk. 11:38: “dat Hy nie eers voor die maaltyd gewas het nie”, en in Hebr. 9:10: “verskillende wassinge”, waar dieselfde grondwoord staan. Selfs word die grondwoord in oordragtelike sin gebesig bv. in die uitdrukkinge: “met die Heilige Gees en met vuur doop“, 3:11; Hand. 1:5, die lydensdoop ondergaan, Matt. 20:22.

Dit is dus nie waar dat die woord doop maar een betekenis het en maar een vertaling toelaat nie. Maar al stem ons toe dat indompel die eerste betekenis van die grond­woord vir doop is, daarin lê nie opgesluit, dat die doop dus alleen deur onderdompeling en nie deur besprenke­ling mag geskied nie, want dan lê daar ‘n gebiedende voorskrif in, wat daar nie in lê nie.

2. Aanvanklik het die doop in die Christelike kerk in die reël deur onderdompeling plaasgevind, maar by gebrek aan water of by die toediening aan krankes op hulle bed, het volgens die Didache c.7 en volgens Cyprianus toe ook reeds die besprenkeling voorgekom. Dit is toe reeds as geoorloof geag. In die Middeleeue is in die Weste die indompeling al meer deur die besprenke­ling vervang vernaamlik om gesondheidsredes. In die 16de eeu het die Hervormers soos Luther en Calvyn hulle daarby aangesluit omdat hulle nie alleen die onder­dompeling maar ook die besprenkeling geoorloof geag het. Maar die wederdopers maak daarvan ‘n beginsel. Hulle sê: die doop mag alleen deur onderdompeling ge­skied.

Ons sê: hoewel die onderdompeling die beteke­nis van die doop ryker laat uitkom, is tog ook die be­sprenkeling geoorloof, en wel om die twee redes:

– in die eerste plek omdat die water slegs ‘n teken en seël van die bloed en Gees van Christus is en dus nie die afwassing van die sonde self nie, sodat die hoeveelheid water van geen oorwegende betekenis is nie;

– en in die tweede plek omdat die betekende saak nie alleen ‘n afwassing van sondes maar ook ‘n besprenkeling met rein water en met die bloed van Christus genoem word, bv. in Eseg. 36:25: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al julle onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig”, en in Hebr. 12:24, waar staan, dat die gelowiges uit die N.T. gekom het “tot die bloed van die besprenkelinge wat van beter dinge spreek as Abel” Verg. ook 1 Petr. 1:2.

Die verskil lê dus hierin dat die teëstanders daar ‘n beginsel van maak en ons nie. Hulle sê: die doop mag alleen deur onderdompeling. Ons sê: die doop mag sowel deur onderdompeling as deur besprenkeling toegedien word.

Maar as dan beide, onderdompeling en besprenkeling geoorloof is, sou mens kon vra, is dit dan nie veiliger om die onderdompeling as ‘n verpligtende reël te stel nie?

Ons antwoord: nee, want terwyl die Baptiste dit doen, bind hulle daarmee die gewetens aan ‘n eis wat die Skrif nie stel nie. En om aan die Skrif iets toe te voeg is net so sektaries as om van die Skrif iets weg te laat.

So het ons in kort die vernaamste besware weerlê en die gronde vir die kinderdoop aangetoon. Mag dit onder Gods seën ‘n goeie ingang vind en diensbaar wees tot oortuiging van die goeie reg van die kinderdoop.

Die res van die reeks: Die Reg van die Kinderdoop

Ander artikels oor die doop: Verbondsdoop

PDF uitgawe van die hele reeks: Die Reg van die Kinderdoop 

One thought on “Die Reg op die Kinderdoop (deel 5: Die Kinderdoop en die besprenkeling)

Add yours

  1. Hi Slabbert
    Hou so aan. Die Here seen jou werk. Jy kan dinge mooi uiteensit sonder om dit los te maak van mekaar. John murray

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: