WEDERGEBOORTE
Lees: Esg. 36:16-38
Tema: Wedergeboorte
Teks: Esg. 36:26-27 Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en Ek sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
Psalms:43:3,4; 25:4,6; 119:20,26; 86:3,6
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Belydenisskrif: Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4, paragraaf 11
Verder: Wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, om die dinge van die Gees van God reg te verstaan en te onderskei nie.
Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is.
In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.
Openingsgebed (getranskribeer na die erediens)
Genadige God en Hemelse Vader,
Hoe wonderlik soet klink die beloftes waarna ons in Psalm 25 geluister het!
Hoe wonderlik soet klink die genade wat ons van onse Here Jesus Christus ontvang!
Evangeliewoord!
Woorde van redding en woorde van genade!
Woorde van U oneindige liefde en barmhartigheid en lankmoedigheid!
Ons bid dat daardie woorde vir ons ook vanaand hier in hierdie erediens
waar sal wees:
dat U ons lei na die Beloofde Land;
dat U ons aan die hand vat
en dat U Seun Jesus Christus,
wat die Goeie Herder is,
elkeen van sy skape tuis sal bring.
Ons dank U daarvoor!
Ons dank U vir die kragtige werking van die Heilige Gees,
wat ons verkwik en bemoedig op ons lewenspad.
Ons bely dat ons maar dikwels …
ons as sondaarsmense … maar dikwels
die kragtige werking van U Gees in ons lewens onderskat.
Ons bely dat ons baie min daarvoor bid,
terwyl U eintlik ons daardeur seen … elke dag.
Ons dank U daarvoor!
Ons dank U dat U die vermoeide krag gee.
Ons dank U dat U diegene wat geen krag het nie, oprig.
Daar is geen deurgronding van U verstand nie, Hemelse Vader!
U word nie moeg of mat nie.
U is besig om te werk en U Seun Jesus Christus is besig om te werk.
Die Heilige Gees is besig om te werk …
tot aan die voleinding van die wêreld … en daarna.
En dit gaan ons begrip te bowe.
En nou bid ons
dat U ons sal aansien in ons swakheid …
dat U ons sal aansien as mense wat ook van tyd tot tyd in sonde val;
as mense wat van tyd tot tyd mismoedig raak;
as mense wat van tyd tot tyd ons oë afhaal
van onse Here Jesus Christus
waar Hy in sy majesteit op die water loop …
dat ons ons oë van Hom afhaal en laat val op die golwe,
op die bedreiginge van hierdie wêreld.
Ons bid dat U ons in genade sal aansien
en ons bid dat U Gees in ons harte sal werk …
dat hierdie woord uit u profeet Esegiël se mond
vir ons vanaand ook waar sal word,
ons wat hier bymekaar is … hier, duisende jare later.
Ons bid dit in die Naam van onse Here Jesus Christus,
ons Verlosser!
Amen.
Broeders en susters,
Toe ek op skool was,
het ons ‘n sekere liedjie in die sangklas gesing:
What shall we do with a drunken sailor?
Dan word daar in dié lied sekere oplossings, sekere kure aangebied.
Een daarvan is om die dronk matroos agter aan ‘n boot vas te maak
en deur die water te sleep;
‘n ander is om hom met ‘n brandslang nat te spuit.
Ek glo nie een van daardie drastiese stappe
sal uiteindelik enige verskil maak nie.
Ons weet dis bykans ‘n onmoontlike taak
om ‘n dronkie van sy weë te bekeer.
So ook die ander verslaafdes:
die heroïen-verslaafdes, die pilverslaafdes,
die nikotien-verslaafdes, die kosverslaafdes, die seksverslaafdes …
Tog word daar wêreldwyd miljoene der miljoene dollars spandeer
deur mense wat graag wil regkom;
mense wat graag weer ‘n vol lewe wil lei;
mense wat weer lewenskwaliteit wil geniet.
Die Bybel sien die menslike toestand anders.
Die mens het nie maar net ‘n paar slegte gewoontes
wat hy of sy moet afleer nie.
Die mens is nie net siek
en het ‘n behoefte aan ‘n kuur nie.
Die mens is nie maar net wanfunksionerend
en nou hoop hy
dat hy op ‘n manier sal regkom nie.
Die mens is besoedel, deurtrek van die sonde.
Hy en sy moet geheel-en-al gereinig word …
nie net van kop tot tone nie,
maar tot by die laaste chromosoom in sy wese.
Volgens Esegiël was dit die volk Israel se toestand.
Haar sonde het haar onbekwaam gemaak
om in die Heilige Land te bly.
Haar sonde het gemaak
dat sy nie meer voor God mag verskyn nie.
Haar onreinheid het gemaak
dat nie net sy nie,
maar die beloofde land self vuil geword het.
Haar optrede was soortgelyk aan die eerste mens Adam se optrede
wat veroorsaak het dat die skepping self vervloek is …
Adam se sonde
wat veroorsaak het
dat hy en sy vrou uit die tuin van Eden verban is.
Kinders van die toorn.
Dis wat die apostel Paulus hulle in sy Brief aan die Efesiërs noem:
van nature kinders van die toorn.
Hulle … en natuurlik alle mense daarna …
ook ons.
Deur hulle gedrag het hulle nie net hulle lewenskwaliteit prysgegee nie,
hulle het die reg op die lewe self verloor.
Die duiwel en die wêreld is natuurlik goed geskool
om die spreekwoordelike wortel voor die donkie se neus te hang
deur die mens te oortuig
dat hy of sy self reg kan kom.
As jy regtig wil,
kan jy hierdie of daardie verslawing te bowe kom.
As jy jou linkerbrein begin gebruik,
is jy eintlik tot enige iets in staat.
As jy Dr Phil se program op TV kyk,
gaan dit jou baie help.
Sluit aan by Alkoholiste Anoniem …
Hulle sal jou regruk!
Hierdie optimistiese benadering het nou ook al na die geloofswêreld oorgespoel.
Mense word gelok met beloftes soos:
“God het ‘n wondelike plan vir jou lewe.
Jy moet Hom net ‘n kans gee!”
Bid sus of bid só.
Bid die gebed van Jabes …
of stuur hierdie kettinggebed aan soveel ander …
en jy sal geseënd wees.
Baie probeer dan op hulle manier
om maar net uiteindelik op te gee.
Die Christelike geloof “werk nie vir hulle nie”,
sê hulle dan.
As hulle wel vir die Here kies,
moet die Here maar te dankbaar wees
dat hulle hul hartjies vir Hom sal gee …
te dankbaar dat Hy die geleentheid gegee word
om hulle God te wees!
Dis alles so vanselfsprekend.
Vanselfsprekend miskien by die mensdom,
wat te lui is
om die Bybel te lees …
maar nie so vanselfsprekend vir die HERE nie.
Geliefdes, dat daar nog hoegenaamd mense op hierdie aarde is,
het niks met enige kwaliteit in die mens te doen nie.
As ons al enigiets uit hierdie reeks preke uit die Dordtse Leerreëls geleer het,
dan is dit dit:
Die genade wat ons ervaar, het alles te doen
met die feit dat God ‘n Raadsplan het
en dat Hy in sy onpeilbare goedertierenheid
nie die werk van sy hande sal laat vaar nie.
Sy Naam is onteer!
Dis Sy Naam wat onteer is.
Dis sy Heilige Land
wat verontreinig is.
Wanneer sy kinders in ‘n toestand van sonde is,
dan word sy heerlikheid, sy doxa aangetas.
Dis sy eer wat op die spel is
wanneer sy volk die bespotting van die heidendom geword het.
Dis ook hoekom die Here Jesus sy Vader se Naam heel bo aan die lys sit …
heel bo aan die lys van dit
waarvoor ons moet bid:
Vader, laat U Naam geheilig word!
Ek meen dis duidelik uit ons Skrifgedeelte.
Dit staan hier op soveel plekke:
Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel,
maar ter wille van my heilige Naam
wat julle ontheilig het ... (Ese 36:22)
Daarom moet sy volk gereinig, skoongemaak en geheilig word.
Om in sy teenwoordigheid te kan verskyn …
om enigsins ‘n verblyfreg in die Beloofde Land te mag hê …
moet die geloofsgemeenskap ‘n totale wesensverandering ondergaan.
Dis die profeet Esegiël se boodskap aan Israel:
‘n Reiniging van buite is nodig.
en ‘n Wedergeboorte van binne is nodig.
Die HERE sê:
Ek sal skoon water op julle giet,
sodat julle rein kan word.
U weet, Broeders en Susters,
Dis Jesus Christus se werk,
soos dit deur die doop afgebeeld word.
Sy kosbare bloed was gestort tot afwassing van ons sondes.
Dit word deur die doop beseël en bekragtig:
sondevergifnis en hartsvernuwing.
Dis die Evangelie,
wat jaar in en jaar uit aan u verkondig word
met elke preek, met elke Doop, met elke Nagmaal …
Skoon water wat oor ons gegiet word.
Maar dis nie al nie.
Die HERE het nie net ons reiniging bewerkstellig nie.
Die HERE is nie klaar met ons
noudat ons gehoor en gesien het
dat Hy ons sondes afwas nie.
Die HERE is nie tevrede
dat ons eendag die hemelse heerlikheid sal ervaar nie.
Hy bring ook die hemelse heerlikheid in ons lewens in ...
vandag, nou al.
En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee
en ‘n nuwe gees in jul binneste gee;
en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem
en julle ‘n hart van vlees gee.
En Ek sal my Gees in jul binneste gee
en sal maak dat julle in my insettinge wandel
en my verordeninge onderhou en doen.
Dis nodig, dis so nodig!
Soos ons van nature is,
is ons hopeloos onbekwaam.
Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie;
dit is vir hom dwaasheid,
hy kan dit nie verstaan nie (1Kor 2:14)
maar die Heilige Gees kom met sy Goddelike logika,
en oortuig ons van sonde.
Hy kom met sy Goddelike redelikheid
en oortuig ons van die Here se oordeel …
die huidige oordeel en die komende oordeel.
Die Heilige Gees kom met sy Goddelike waarheid
en verlig ons verstand
oor die geregtigheid
wat daar in Jesus Christus is.
Dis die Goddelike kennis, Goddelike wetenskap, Goddelike wysheid.
Die kwaad sit egter veel dieper as net die verstand,
is dit nie so nie?
U kan maar enige verslaafde vra
en hulle sal dit beaam.
Hulle weet
dat wat hulle doen,
besig is om ander mense se lewens misrabel te maak.
Hulle besef dat hulle in baie gevalle
besig is om hulle eie hel op aarde te skep.
In baie gevalle sal hulle erken
dat hulle verslawing hulle uiteindelik sal doodmaak.
Die verstand aanvaar dit.
Die mens as redelike wese kan dit nie ontken nie,
maar dan is daar nog iets anders wat ontbreek,
voordat daar ‘n verandering kan kom.
Die kwaad sit nog dieper.
Die kwaad sit in die hart.
Vanuit die hart word alles bepaal.
Dis wat die boek Spreuke ons leer:
Die hart is die oorspronge van die lewe.
Dis wat daar staan,
daarom moet die hart meer as alles bewaar word (Spr 4:23).
Die grootste wonder van God se genade het gebeur
toe my vyandige hart vriendelik gemaak is;
toe my vyandige hart die stryd teen die Here opgegee het;
toe my vyandige hart nie net die stryd opgegee het nie,
maar ook homself onder Christus se banier gaan plaas het.
Deur die hart word die wil beheers.
Die wil wat deur die sondige hart gelei word, is dood.
Die sondige wil kan slegs kwaad voortbring.
Maar nou, deur die kragtige werking van God se Gees wil ons iets anders.
Ons wil die oue mens aflê
wat besig was
om deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde te gaan.
Ons wil ons met die nuwe mens beklee …
die nuwe mens wat na God geskape is
in ware geregtigheid en heiligheid.
As ek gesteel het,
wil ek nie meer steel nie.
As ek vrye teuels aan my humeur gegee het,
wil ek dit nie meer doen nie.
As daar vuil woorde by my mond uitgegaan het,
dan sal ek nou woorde van stigting spreek,
sodat dit genade gee aan wie dit hoor.
In die plek van bitterheid en onverdraagsaamheid
kom daar nou vriendelikheid en ontferming.
Ons vergeef nou
soos ons self in Christus vergewe is (Ef. 4:22 ev).
In die Brief aan die Korintiërs lees ons
dat geen egbrekers of hoereerders of homoseksueles
of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers
die koninkryk van God sal beërwe nie.
Dan voeg die apostel daaraan toe:
Dit was sommige van julle …
Met ander woorde:
Daar het ‘n verandering gekom.
Daar het ‘n drastiese verandering gekom.
Dit was sommige van julle …
maar julle het jul laat afwas,
maar julle is geheilig! (1Ko 6:11)
Dit waarvan ons in Esegiël 36 geleer het,
het met hulle gebeur.
Daar was skoon water op hulle gegiet
sodat hulle rein kon word.
Daar is ook aan hulle ‘n nuwe hart gegee …
‘n nuwe gees in hulle binneste.
Dis die Wedergeboorte …
‘n totale radikale verandering.
‘n Algehele bloedoortapping kan nie so radikaal wees nie.
‘n Hartoorplanting kan nie so radikaal wees nie.
Self al kon hulle ‘n brein oorplant,
kan dit nie so radikaal wees nie.
Dis ook hoe Jesaja dit beskryf in die 55ste hoofstuk van sy professie:
Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan;
(so profeteer hy)
vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan;
en dit sal vir die Here wees tot ‘n naam (Jes 55:13).
‘n Totale nuwe skepping …
sodat ons volmaak sal wees,
soos ons Vader in die hemele volmaak is (Mat 5:48).
Geliefdes,
(só skryf die apostel Johannes in sy eerste Brief)
Geliefdes, nou is ons kinders van God,
en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie;
maar ons weet dat, as Hy verskyn,
ons aan Hom gelyk sal wees.
En julle weet
dat Hy verskyn het
om ons sondes weg te neem,
en geen sonde is in Hom nie (1Jo 3:2-6).
Ja, ek sondig nog steeds,
maar die Here het ‘n werk in my begin,
en in elke ware gelowige ‘n werk begin
wat ons uiteindelik tot Goddelike volmaaktheid sal lei.
Nie net ‘n klein gedragsverandering ter wille van ons lewenskwaliteit nie.
Nee ‘n totale herskepping, ‘n wedergeboorte
sodat ons in staat is
om voor God te kan leef …
sodat ons in staat is
om die nuutgemaakte Eden te betrek!
Amen.
Slotgebed (getranskribeer na die erediens)
Genadige God en Hemelse Vader,
Dit wat ons aan die begin gebid het,
bid ons nou weer en ons bid dit elke dag:
Ons bid vir die kragtige werking van die Heilige Gees
in elkeen wat hierdie boodskap vanaand hoor.
Ons bid dat die Heilige Gees ons
nie net sal oortuig van sonde
en van oordeel en van geregtigheid nie;
dat die Heilige Gees ons nie net sal oortuig
dat ons die Here Jesus Christus bo alles nodig het nie,
maar dat hierdie Wedergeboorte ook sal plaasvind
by elkeen van u kinders.
En U weet hoeveel van hulle
worstel met die sonde
en U weet ook hoeveel van u kinders
het nog nie ten bloede toe
weerstand gebied teen die sonde nie.
Ons vra dat U daardie Wedergeboorte
sal bewerkstellig
en dat dit sal wees tot die lof en heerlikheid van U Naam …
dat dit sal wees, sodat die goddelose wêreld … die Satan, die ou aanklaer,
nie na ons kan wys en sê:
Daar is iemand wat net maar sê hy of sy is ‘n Christen nie.
Ons bid vir daardie verandering
in elkeen wat dit mag hoor wat ons vanaand hier voorgehou het
en wat u profeet Esegiël aan ons verkondig het
duisende jare gelede.
Ons vra dit in die Naam van onse Here Jesus Christus,
ons Verlosser!
Amen.
Leave a Reply