Preek: Jakobus 5:12 Ons moet onnodige eedswering vermy

 

ONNODIGE EEDSWERING 

Skriflesing: Jak.5:7-12

Preekteks: Jakobus 5:12,

Hierdie preek (asook die voriges in die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 5:12 (2015-09-20)

Preeknotas:

Geliefdes in Christus,

Jakobus het in verse 7-11 ons opgeroep om geduldig volhardend,

standvastig te lewe tot met die wederkoms van Christus.

Ons moet die voorbeelde van die profete en Job navolg (v.10,11a),

terwyl ons die einddoel raaksien en heeltyd in oog hou:

om die Here te ken as ‘n God vol medelye en ontferming (v.11b).

Dit is die genadeverbond, ek is julle God, julle my kinders vir altyd oor wie Ek my ontferm het!

Ons moet daarom heeltyd ons harte versterk met die wete van die koms

van ons Here, en daardie geduld moet ook teenoor mekaar beoefen word.

Daarom moet ons nie sug teenoormekaar nie, mekaar veroordeel nie, v.8,9.

Dit is dan in die lig van sy hele boek, maar dan in die besonder v.6-11,

dat Jakobus nou in verse 12-20 by sy laaste vermaninge, oproepe kom,

hoe ons dan moet lewe in die lig van die wederkoms.

Daardie 3 sake wat hy aanspreek, is:

  1. waarskuwing teen misleidende en roekelose eedswering, v.12
  2. ’n oproep tot ‘n lewe van gebed, v.13-18, en
  3. hoe om my dwalende broeder te help, v.19,20

Ons staan vandag stil by die eerste saak, misleidende en onderdeurdagte eedswering, en ons gaan dit doen onder die tema, wat die wese van die saak saamvat, nl.

Gelowiges se woorde moet geloofwaardig wees

sodat onnodige eedswering

vermy kan word

Anders gestel:

diensknegte en diensmaagde van die Here

se woorde moet betroubaar wees

sodat die misbruik van die Here se Naam vermy kan word

 

Vers 12 begin met die sterk uitspraak, ‘Maar bo alles’ …

Dit verwys na die belangrike saak wat Jakobus hier aanspreek in v.12,

naamlik ’n vorm van eedswering wat nie tot eer van die Here is nie,

en wat se doel is juis om te bedek en te mislei.

’n Eedswering wat se doel was dat jou ja nié jou ja is nie,

en jou nee nié jou nee is nie.

Nou staan daar tog in vers 12, ‘moenie sweer nie’ en ook weer ‘en ook geen ander eed nie’

Bedoel Jakobus nou hier, soos ook Jesus se woorde in Matt.5:34-37,

dat alle vorme van eedswering is verkeerd en moet verwerp word ?

Daar was mense deur die eeue, dink maar aan die anabaptiste,

van die 16de eeu, wat gemeen het ons mag glad op geen manier sweer nie,

alle vorme van eedswering is verkeerd.

Maar geliefdes, deur Skrif met Skrif te vergelyk sien ons dat dit die

misbruik van eedswering is, die willekeurige, oppervlakkige en ligsinnige

gebruik daarvan wat beide Christus en Jakobus veroordeel.

Ons belydenis by Sondag 37 daarom:

Mag ’n mens ook godvresend by die Naam van God ’n eed sweer ?

Waarop die antwoord is:

Antwoord:     Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis, om daardeur trou en waarheid te bevestig.  Dit moet dan tot eer van God en tot heil van die naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik.

Nou wat is ‘n eed ?

‘n Eed is ’n godsdienstige handeling, waarby iemand God tot getuie roep vir die waarheid van wat hy verklaar of belowe.

Die Israeliete het verskillende formules vir die eed geken, waaronder ook selfverwensinge as iemand vals sweer,

bv.: “Mag God aan my so doen, en so daaraan toedoen … .”, 1 Sm. 14:44 e.a.;

“so waar as die Here leef”, Ri. 8:19 e.a.: maar ook “so waar as u siel leef”, 1 Sm. 1:26.

Eedswering is duidelik in die Skrif begrond.

Om ‘n eed af te lê, is sterk begrond in die Skrif.

Jesus haal dan juis in Matt.5:33 aan uit die OT, uit Lev.19:12,

“Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.”

Regdeur die Skrif kry ons dan eedswering:

i. Jesus het ook onder eed gesweer:

Matthew 26:63-64   63 Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?  64 Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

ii. Paulus het eed afgelê:

Filp.1:8  8 Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus.

iii. Uit die OT:

Gen_31:53  Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.

Deu_6:13  Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.

iv. Uit die NT:

Heb_6:16  Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak.

Rom_9:1  Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees

2Co_1:23  Maar ek roep God as getuie aan oor my siel dat ek om julle te spaar nog nie na Korinthe gekom het nie –

So, daar is ‘n legitieme vorm van eedswering.

Die doel van die eed ?

Omdat ons nie die harte van mens kan ken en oordeel, het die Here die eed gegee om sodoende trou en waarheid te bevestig.

Dit beteken, dat die eedsweerder oproep dat God, wat die mens se hart alleen kan ken, en wat orals teenwoordig is en dus orals getuie is, sal optree ter bevestiging of veroordeling vir die inhoud van die saak waaroor die persoon gesweer het.

Daarom ook in HK So.37,

Vraag 102:     Mag ’n mens ook by heiliges of by ander skepsels sweer ?

Antwoord:     Nee, want om ’n eed reg te sweer beteken dat ons God aanroep as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer. Hierdie eer kom geen skepsel toe nie.

Geen mens kan regverdig oordeel soos God nie,

Dit is EGTER baie belangrik om te besef, dat eedswering in die Naam van die Here nie iets ligtelik is of vir sommer enige rede gedoen moet word nie.

Die HK noem in antw. 101 spesifiek die saak van owerhede wat dit vereis of as die NOOD dit vereis, bv. deur ‘n lewe te red.

Ons moet daarom dit nie aanwend vir enige weddenskap, of redetwis, sommer vir iemand sê sit jou hand op die Bybel, of jy ‘n slukkie melk gevat het of nie, ens.

Maar wat van Jesus se woorde in Matt.5 en Jakobus hier in v.12 ?

Wat gebeur het, is dat die volk almeer sommer vir enige rede, die eedswering begin misbruik het vir enige saak, of veral om krag by hul woorde te voeg, om sodoende iets te verkry of ‘n ander persoon in ‘n sekere rigting te druk.

Dit het deur die eeu gelei tot ligsinnige eedswering.

Net vinnig herinner aan die konteks van Matt.5

– Jesus handhaaf die wet, deur dit te vervul, hy vernietig dit nie, v.17-19,

– vers 20 sê Hy dat die gelowige se geregtigheid groter moet wees as die fariseers en wetgeleerdes, want hul het die wet gebruik om gered te word, dit verdraai, wanaangepas, ens.

– vanaf v.21 wys Jesus hulle op wat die ou mens gesê het, en wat die regte verklaring daarvan is en moet wees, Hy bring nie ‘n ander wet nie

Wat geleidelik ontwikkel het onder die Jode gebeur het, is dat hul die ‘eedsweringe’ verander het in allerlei reels en regulasies volgens hul eie goeddunke, bv.:

– as hul by die hemel sweer, was dit nie bindend nie

– wel as daar by Jerusalem gesweer is

– ‘n hele handboek daaroor ontwikkel met allerlei onderskeidings en reels, wat nie in die OT wetgewing was nie.

Jesus wys daarop dat as die heel doel van eedswering, nl. juis om waarheid en trou te bevestig, verlore gaan deur allerlei leuens en selfgemaakte reëls, dan is dit beter dat daar eerder nie eedswering is nie.

Soos die koperslang later aanbid is, en eerder vernietig is, so moet die korrupte Judaiese eedswering eerder verwerp word.

Eerder glad nie sweer nie, as vals of misleiddend sweer !

En dit is presies wat Jakobus ook wil aanspreek, dat ons nie ligsinnig oorhaastig sal sweer nie. 

Wat Christus egter ook wel by implikasie sê, dat in elk geval, sou jy wel by enigiets in die skepping sweer:

– hemel, aarde, Jerusalem, hoof, of wat ookal, dit is alles deel van God se skepping, God is in elke geval orals teenwoordig, Hy sal jou hou by jou woorde en beloftes hou, sal optree teenoor jou, al mislei jy dalk mense met valse ja’s en valse nee’s

Wees gewaarsku, daarom die woorde van v.12c !

Die Jode het gedink omdat hul nie die Here se Naam gebruik nie, maar wel(bv)  die woord ‘hemel’, hul eerbiedig is … en het hulle ook gedink dat hul kan wegkom as hul dan ’n valse eed aflê, dat hul dink hul gaan wegkom …..

En daarom Christus se beveel in vers 37:

Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

En Jakobus volg dit na: maar laat julle ja ja wees, en julle nee nee !

Toepassing

  1. Ons moet eedswering alleen doen waar dit van ons vereis word deur die owerhede, of wanneer die nood dit werklik vereis
  2. Dit moet dus nie oor ligsinnige alledaagse sake wees nie, die nood moet dit werklik vereis. Dink hoe kan kinders makliks skuldig weesaan die speletjie ‘belowe belowe’
  3. Ons moet nie die HERE se Naam misbruik om ander in ‘n verkeerde of onnodige eedswering te plaas nie. In die woorde van antw. 101 is eedswering daar om tot eer van God en die heil van ons naaste te doen … nie om my medemens te manupileer of te mislei nie.
  4. Ons hele lewens, ons dade en veral ons woorde moet Ja wees en Nee wees, volgens wat Jesus vereis in v.37

EN DIT IS DIE WESE VAN JAKOBUS SE BOODSKAP, IN AANSLUITING BY SY BROER, DAT GELOWIGES SE WOORDE MOET BETROUBAAR WEES SOOS DAAR GESE IS … HY IS ’N MAN VAN SY WOORD, SY WOORD IS SY EER HY BEDOEL IETS AS HY DIT SE

Daarom die waarskuwing aan die einde van vers 12, moenie dink die Here weet nie alles nie.

Onthou dat die Here alles hoor, (4:4!), en as Regter kom (4:9!).

Ons moet ook strewe om ons beloftes na te kom:

– my geloofbelydenis, is my ja nog ja en my nee nog nee ?

– my huweliksbeloftes, is ja nog ja en my nee nog nee ?

– my doopbeloftes, is my ja nog ja en my nee nog nee ? ‘

– my ampsdraers beloftes, is my ja nog ja en my nee nog nee ?

Bedoel ek my beloftes nog ?

Glo ek nog van harte alles wat ek bely het en beloof het ?

Jaag ek die heiligmaking na ?

Maar geliefdes, laastens maar baie belangrik, weet ons dat ons juis so dikwels struikel in woord en daad.

Ook in ons beloftes, selfs ede verbreek.

Jakobus het ons baie duidelik gewaarsku in Jak.1:19,20 en weer in Jak.3:1,2

Wie nooit struikel nie is ‘n volmaakte man.

Ja, ons kom nie altyd ons woorde, beloftes, ede na nie.

Ons sal baie maal opreg dit bedoel,

maar struikel dan wel in swakheid en sondes …

Wat nou ?

Ons moet juis opkyk na Hom wat tot die dood toe getrou was aan al sy ede.

Opkyk na die Vader waarvan ons lees:

Psalm 110:4   4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.

Hy het juis sy Seun gestuur, omdat ons ons ede aan Hom verbreek het, en dikwels nog verbreek.

Christus het in ons plek die waarheid en trou kom bevestig.

Christus wat gesê het Hy sal ons verlos,

dat nie een van sy kinders verlore sal gaan nie

Dat Hy die een wat struikel, weer sal optel.

Dank God, dat Hy sy eedsweringe vervul het en aanhou sal vervul.

Ons lees dit in,

Hebr 6:17-20  7 Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg;  18 sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê;  19 en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel  20 waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ‘n hoëpriester geword het vir ewig.

EN OMDAT CHRISTUS SY EED VAN VERLOSSING VOLBRING HET,

kan ons weer ‘hoe langer hoe meer’, mans en vrouens word, waarvan ons nou gaan sing  in Ps.24:2, deur die krag van die Heilige Gees:

Wie sal die Godsberg op kan gaan,

en wie sal op sy top kan staan,

omskitter deur Gods heilighede?

Die man wat rein van hart en weg,

sy siel aan nietigheid nie heg,

en trou is aan sy woord en ede.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: