Preek: Jakobus 1:1b-4 Die beproewing van ons geloof lei tot volharding

DIE BEPROEWING VAN ONS GELOOF

LEI TOT VOLHARDING

Skriflesing: Psalm 119:65-72; Hebreërs 12:1,2; Jakobus 1:1-4; Openbaring 7

Preekteks: Jakobus 1:1b-4

Die preek (asook die res van die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 1:1b-4 (gaan na: 2015-03-01)

(Nota: Ek het in die verlede al my preke vanaf, Jak.2:14 tot 5:20, reeds hier op my blog geplaas. Ek gaan in die komende weke 1:1-2:13 se preke ook hier plaas.)

Preeknotas (die preeknotas stem nie presies ooreen met die audio preke nie, aangesien die preek gelewer is by beide GK Carletonville en GK Bet-el, waar dit in toepassing kan verskil):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons gedenk vandag aan die Here se tafel,

dat ons dit moet beskou as groot vreugde,

as ons in ons geloof beproef word, getoets word.

WANT dit lei daartoe, dat ons as diensknegte van die Here,

sal volhard tot die einde toe, alles tot sy eer.

Dit wil ons deur sy Woord ook hoor, oppad na die tafel,

hier vanuit Jak.1:1-4,

Beskou dit as groot vreugde om in jou geloof getoets te word,

want dit laat jou volhard tot die einde toe.

Ons gaan na twee sake kyk,

– vanuit die 2de gedeelte van vers 1, aan wie skryf Jakobus sy brief, en

– waaroor skryf hy vir hulle, wat is doel met sy skrywe

1 Aan wie skryf Jakobus ?

Jakobus, het ons gesien, wys ons op:

SY VERLOSSINGS VERHOUDING MET SY BROER

– daarom Jesus

OP SY DIENSKNEG VERHOUDING MET SY BROER,

– daarom Here

OP DIE WAARHEID DAT SY BROER DIE GESALFDE VAN DIE OT IS,

– daarom Christus

Jesus het as dienskneg sy lewe vir ons kom aflê deur swaarkry te kry, deur te ly, en so sal dit ook met sy kinders, sy diensknegte wees.

Ons lees die antwoord daar in die 2de deel van vers 1,

Jakobus skryf aan die diensknegte van ons Here Jesus,

aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is,

en hulle noem hy in vers 2 ‘my broers’, wat die susters verbondsmatig insluit.

Ons hoor dit regdeur sy brief, my broers, ja my medegelowiges,

‘my geliefde broeders’, kyk na verse 16,19; 2:1,5,14; 3:1,10,12; 4:11; 5:7,9,10,12,19

= dus x14 keer hierdie aanspraak vorm.

Julle wat saam my in God en Jesus Christus deur die geloof een is, julle wat dus my mede-diensknegte van Jesus is.

Ons moet hier verder let op twee sake, nl. wat word bedoel met die woorde

– ‘twaalf stamme’ en

– ‘wat in die verstrooiing is’

 

Eerstens dan, die ‘twaalf stamme’

– Die twee woorde kan op verskillende sake wys, almal in verband met mekaar, wat dui op,

die twaalf stamme van die OT, die twaalf seuns wat uit Jakob gebore is, en dus verteenwoordigend van die OT volk is, van die Here, Israel.

Of, vanuit die NT, kan dit wys op die 12 apostels wat uitverkies is. In Matt.10:1 lees ons van die 12 apostels wat verkies word, en Jesus praat ook later van hulle wat saam Hom op die twaalf trone sal sit in die hemele.

Maar dan ook, in NT vervulling in Christus wat sy kinders onder alle volke kom versamel, kan die twaalf stamme wys op die hele kerk van Christus deur al die eeue, die uitverkore kinders van die Here, onder Israel, die Jode, maar ook die Here se kinders onder alle tale, volke, stamme en nasies, soos dit voor die Here bekend is, en waarvan ons gelees het daar in Op.7.

Die 12 is ‘n getal van volkomenheid, en in Op.7:9, lees ons

9 Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;  10 en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!

Nou vra ons, na wie verwys Jakobus dan spesifiek hier in v.1 ?

Om dit te antwoord, moet ons kyk na die volgende frase in v.2 “wat in die verstrooiing is’ = die Griekse woord, diaspora. 

a) Hierdie woord kan eerstens verwys na die Jode wat verstrooi geraak het, toe die volk van die Here, spesifiek die 10 stamme in die 8ste eeu deur Assirie weggevoer is, en hul deur die koning van Assirie onder die volke van daardie tyd versprei is.  Hulle het nooit as geheel teruggekeer nie.

Onthou die 2 stamme ryk is deur Babilonie in die 6de eeu VC weggevoer en het na 70 jaar teruggekeer na Palestina, maar nie die 10 stamme nie, hulle het verstrooid gebly, in die diaspora, die verstrooing.

So Jakobus kan – volgens sommiges verwys na hierdie verstrooide Jodegenote, wat buite Palestina in die destydse wêreld versprei is.  (Sien ook Hand.2:9-11 wat daarvan getuig)

b) Maar ek dink die antwoord moet elders meer spesifiek gesoek word, veral deur die lyn van die hele NT, asook die volgende woorde in ons teks:

Jakobus, dienskneg van Jesus Christus, en

v.2 ‘my broers’

Onthou, Jakobus was die sentrale leier figuur in die kerk in Jerusalem.

Daar het toe het groot vervolging teen die kerk van Christus in Jerusalem uitgebreek, en wat was die gevolge daarvan ?

In Handelinge lees ons daarvan:

En Saulus het ook sy (Stefanus se) vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. – Hand.8:1

Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen. – Hand.11:19

So, Jakobus skryf hierdie brief eerstens aan medegelowiges, waarskynlik Joodse Christen gelowiges wat versprei was oor die destydse wêreld, hetsy deur hele Palestina, maar ook die hele destydse bekende wêreld, almal wat diensknegte geword het van ons Here Jesus Christus.

c) Maar dan ook verder, en vir ons is dit belangrik, by implikasie beteken die 12 stamme van Israel, gesien in die vervulling in Christus se Groot Opdrag, die kerk van Christus onder alle stamme, tale, volke en nasies.

Daarom dat Paulus ook die kerk, die Israel van God kan noem (sien Gal.6:16, wat verwys na Jode en nie-Jode, v.15). En in Gal 3:16, 29 wys Paulus daarop dat elkeen wat in Christus glo, sy dienskneg is, en is die nageslag van Abraham, volgens die belofte erfgename, en dus deel van die 12 stamme van Jak.1:1.

Dit waarvan ons gelees het in, Op. 7:9-10,

 9 ¶ Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;  10 en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!

En, as hy aan die 12 stamme, die kerk van Christus in die verstrooiing skryf, dan wys daardie woordjie, ‘verstrooiing’ juis op die doel van sy skrywe.

En dit sien ons in die die tweede punt.

 

2 Die doel van Jakobus se brief

Jakobus skryf om hul te bemoedig maar ook te vermaan om staande te bly,

midde die verstrooiing weens hul geloof in Christus,

omdat hul diensknegte van Christus geword het,

midde hul pelgrimslewe waar hul hul ook bevind,

om in die geloof te volhard tot die einde,

as diensknegte van Jesus Christus.

So bemoedig die Here ons elke dag met sy Woord,

deur die prediking, maar ook vandag in die besonder,

die sakrament van die heilige nagmaal.

Volhard tot die einde toe!

En, Jakobus gaan verder, hy wys daarop dat as ons geloof op die pad,

beproef word, getoets word, dan moet ons dit sien as ‘loutere vreugde’,

niks anders as vreugde nie, net vreugde, ‘n diep innerlike blydskap.

Die vorige woorde waarmee vers 1 eindig, ‘Groete’, beteken, jy is geluksalig, geseënd, en dit is wat Jakobus sê ons is, as ons geloof beproef word,

WANT ons is diensknegte van God en Christus !

Watter vreugde om vir Hom te ly, swaar te kry, beproef te word,

wat Petrus skryf in 1 Pe.4:12-14 (lees)

 

Nou wat is die ‘versoeking’, en ‘beproewing’ van ons geloof, waarvan v.2 en 3 spreek ?

Dit is 2 woorde wat dui op dieselfde saak, maar verskillende aspekte uitwys.

Die woord versoeking in v.2 wys op die feit DAT jou geloof getoets word, en die woord beproewing in v.3 wys op die proses van toetsing wat plaasvind.

Die beproewinge/toetsinge kan uiterlik en innerlik van aard wees.

Uiterlik wys dan na dinge, omstandighede en mense wat van buite my geloof toets of beproef, my gehoorsaamheid aan die Here word getoets, onder druk geplaas.

Innerlike beproewing of versoeking wys op ‘n morele toets of ek gaan sondig nie.

En die feit dat die twee woorde in v.2,3 saam gebruik word, wys daarop dat die eerste aspek hier ter sprake is, en nie die 2de aspek sodanig nie. Ons sal later sien, in vers 13 ev. dat daar gefokus word op die tweede aspek spesifiek van die beproewing van ons geloof, die innerlike morele versoeking om te sondig.

Wat is die uiterlike beproewinge dan ?

Dit kan enige mens, ding of omstandighede wees, daarom die woorde ‘allerhande versoekinge’, dit is veelkleurig, veelsoortig, ens. bv siekte, swaarkry, honger, dors, droogte, finansiële druk, tye waarin ons lewe.

In Jakobus, hfst.2 mense wat in moeilike maatskaplike omstandighede was; in hoofstuk 4 wat misbruik is deur ryker mense, hfst.5 wat siek was.

Maar dan ook spesifiek, vervolging van watter aard ookal oor hul geloof, omdat hul diensknegte van die Here is,

Dink maar aan Paulus se woorde in 2 Tim.3:11,12, Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. 12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” 

EN LET NOU DAAROP:

Jakobus sê ‘wanneer’ nie of nie, dus, dit gebeur met alle diensknegte van die Here, dit is deel van hierdie lewe wat ons nie kan ontsnap nie, dit is ‘n gegewe, so gee nie om hoe baie sielkundiges en valse profete die swaar lewe en lyding probeer ontken nie, dit is deel van hierdie lewe ….

Maar wat is die verskil ?

Die gelowige, die dienskneg van die Here verbly hom, is verheug daaroor,

WANT, sê vers 3, die gelowige, die kind van God, u nagmaalganger

WEET IETS … u het troosvolle kennis, ‘n vasstaande kennis,

EN WAT IS DIT ?

Dit is dat die swaarkry en lyding van die lewe oor die algemeen,

maar van die gelowige nie tevergeefs is nie,

dit is nie nutteloos nie,

dit is nie sinneloos nie,

want, sê vers dat die toetsing van ons geloof bewerk, produseer lydsaamheid.

Dit beteken ons geloof gelouter word, getoets word, gevorm word sodat ons hoe langer hoe meer sal volhard.

Die woordjie lydsaamheid is dalk nie so goed vandag bekend nie.

Dit wys op om iets te verdra, vas te byt, uit te hou, maar die woord wil positief meer sê, naamlik om te volhard, om sterk te staan, standvastig te wees midde die aanslae van al die lewe teen my geloof.

En vers 4 sê dat hierdie volharding, hierdie standvastigheid moet so gevorm word deur beproewing en toetsing, dat dit sy volle verwerkliking kan bereik, naamlik om volmaak en sonder gebrek te wees en niks kortkom nie.

M.a.w.  deur beproewing van ons geloof word ons sterker, groei ons meer, word ons gesuiwer en skoongemaak, sodat ons tot geestelike volwassenheid mag kom, tot rypheid in die geloof.

Die volmaaktheid wys nie in hierdie lewe op sondeloosheid nie, maar op groei, jy moet groei.

‘n Mens wat nie in die geloof besig is om te groei nie,

nie wil groei en geslyp en gevorm word nie,

sal ons later sien in hfst.2 is nie ‘n ware geloof nie,

is eintlik nog dood,

en beteken vanoggend se Woord en nagmaal niks.

Dit is tot sy verdoemenis (sien NGB artikel 35).

Maar vir die gelowige, die kind van God, die dienskneg van Christus,

hy beskou al die swaarkry en lyding as louter vreugde,

want die einddoel is om as volmaakte kinders van die Here te wees.

En daarom juis, het ons bemoediging nodig,

van die Woord, van mekaar, deur die sakrament te gebruik.

Moenie verslap nie, moenie opgee in die stryd teen die sonde, die wêreld en die Satan in Christus nie,

staan vas, bly standvastig op die weg van die geloof midde al die aanslae.

Hou goeie moed, by vasstaan in die Here se Woord, al wil die hele wêreld

ons daarvan aftrek.

Onthou, dit is die weg wat Jesus self bewandel het (Hebr.12:1.2),

vir en in ons plek sodat ons ook die weg van volharding sal bewandel,

midde al die aanslae van die beproewing van ons geloof.

Ja, dit is nie maklik nie, dit is pynigend, dit is swaar,

maar dit produseer ‘n wonderlike eindproduk,

om eendag in die wederkoms as volmaaktes,

in die woorde van die nagmaalsformulier,

“aan die ewige bruilofsmaal van die Lam vir ewig te sit.”

 

Ons mag nou na die Here se tafel kom, en daarom die woorde van

Hebr.12:1-3,

1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 
2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 
3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. 
4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 
5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 
6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 
7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 
8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 

Ja, geliefdes, kom na die Here se tafel en gedenk en glo,

Dit is volbring (Joh.19:30)!

En daarom ag ons dit groot vreugde as ons geloof getoets word,

en ons deur sy genade sal volhard tot die einde toe!

 Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: