MEDIAVERKLARING: NG EN GEREFORMEERDE KERKE
16 November 2015
Die afgevaardigdes van die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke het vanoggend in Pretoria vergader. Dit was die eerste vergadering sedert die Memorandum van ooreenkoms vroeër vanjaar deur albei kerke se Algemene Sinodes goedgekeur is.
Verskeie sake is bespreek, waaronder gesamentlike deelname aan die 500-jarige viering van die Hervorming in 2017 asook verootmoediging en voorbidding met die oog op die knellende droogte, soos dit ook Sondag gesamentlik in die onderskeie kerke plaasgevind het.
Die besluit van die NG Kerk oor dieselfde geslagverhoudings was hoog op die agenda. Verteenwoordigers van die NG Kerk het die besluit verduidelik. Van die GKSA se kant is dit duidelik gestel dat die kerk buite-egtelike en homoseksuele verhoudings afkeur, en die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as die enigste Godgegewe ruimte beskou vir die uitlewing van die seksuele. Die GKSA wil juis in ooreenstemming met die ooreengekome Memorandum daaroor met die NG Kerk in gesprek tree.
Van die kant van die NG Kerk is so ‘n gesprek verwelkom. Die gesprek sal DV vroeg in volgende jaar begin.
Beide afvaardigings het die groot klem wat die Bybel lê op die eenheid van die kerk beklemtoon.
Ds. Cassie Aucamp (GKSA) 082-377 1112
Dr. Gustav Claassen (NGK) 082- 856 1943
______________________________________________
Net een opmerking of aanhaling oor die ‘eenheid van die kerk’: alle gelowiges stem saam oor die belangrikheid daarvan, maar dit moet eenheid in waarheid wees (Joh.17:17), nie ‘n valse eenheid met ‘n valse doel nie:
Dr. SCW Duvenhage het geskryf (beklemtonings bygevoeg):
“By die Wêreldraad van kerke vind ons ‘n valse doelstelling nl, die totstandkoming of vorming van een enkele kerk, waarin al die kerke van die wêreld, Protestants, Rooms-Katoliek en Grieks-Katoliek hulle sou kan verenig. So ‘n verenigde kerk kan genoem word ‘n superkerk. Daartoe stuur die Wêreldraad van Kerke. Dit wil nie maar ‘n plek van samespreking van interkerklike probleme vorm nie — maar ‘n wêreldkerk, ‘n superkerk. Daarby kom dit dan nie soseer aan wat die belydenisgrondslag is nie; Eenheid bo geloofsverdeeldheid dus. …
‘n Egte eenheid is alleen moontlik in Christus. Trouens wie in Christus is, is in waarheid een. En die grondslag van elke suiwere poging tot eenheid mag niks anders wees nie as die absolute erkenning van die Skrif as die onfeilbare woord van God. Eenheid mag nooit gesoek of geforseer word as daar nie volkome instemming is ten opsigte van die Woord van God nie. Daar is dan ook in die verband ‘n groot en heilige roeping vir die kerk om die hand uit te steek na ander wat op dieselfde belydenis staan. Die nood van die tyd maak die roeping des te meer klemmend. Aan die ander kant moet skerp afgewys word alle bose raadslae wat teen Gods heilige Woord bedink word. Dit is ook ‘n ekumeniese roeping.”
Daarom is ons gebed vir ware eenheid in waarheid, ware liefde in Christus, deur sy Woord en Gees, en teen alle valse ekumene, en alle soeke na valse eenheid buite God se onfeilbare Woord om:
Sondag 48
123 Vraag: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e). (a) Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.
Sien die volledige artikel van prof Duvenhage hier: Die oproep tot ‘n wêreldkerk
Die NGK-Nuwe Gay Kerk is grootliks reeds ‘n vals kerk wat wegbeweeg het vd beginsels vd Gereformeerde basis vd geloof in die Bybel as die Woord van God.
Voorbeelde is: Aanvaarding van evolusie-denke, ekumense met die kultus van Rome, die bestaan vd duiwel as persoon, saamwoon voor die huwelik en/of buite die huwelik, die Belhar-belydenis, wegbeweeg vd gereformeerde belydenisse, geestelik-korrupte kweekskole, die vrou in die amp, ‘n skewe perspektief op homoseksualiteit, ens.
Dit kan ophierdie gronde nie meer as die kerk van Jesus Christus vd Bybel beskou word nie.
Dar is nog wel poele van waarheid binne die NGK maar as amptelike instansie is dit ‘n gekorrupteerde geestelike entiteit wat eerder ‘n humanistiese klub onder ‘n Christelike naam, as ‘n kerk is.
Ek begryp nie waarom die GKSA nog enigsins samewerking met so ‘n instansie wil nastreef nie en ook nog die Hervorming se 500 jaar-viering saam met die NGK wil aanbied nie, aangesien die NGK ‘n deformerende ‘kerk’ is, nie ‘n reformerende kerk nie.
Lig & duisternis kan nie meng nie, dit sluit mekaar uit.
Is die GKSA dalk net ‘n ent ‘agter’ op die pad vd die NGK se dwaling?