Preek: Jakobus 1:5-11 Ons moet wysheid van God bid om staande te bly in die geloof

ONS MOET WYSHEID VAN GOD BID

OM STAANDE TE BLY IN DIE GELOOF

Skriflesing: Spreuke 8:10-21; 1 Kor.1:26-31; Jakobus 1:1-11

Preekteks: Jakobus 1:5-11

Die preek (asook die res van die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 1:5-11 (gaan na: 2015-03-08)

(Nota: Ek het in die verlede al my preke vanaf, Jak.2:14 tot 5:20, reeds hier op my blog geplaas. Ek gaan in die komende weke 1:1-2:13 se preke ook hier plaas.)

Preeknotas (die preeknotas stem nie presies ooreen met die audio preke nie, aangesien die preek gelewer is by beide GK Carletonville en GK Bet-el, waar dit in toepassing kan verskil):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Die Here het ons deur sy Woord, Jak.1:1-4 ons tot dusver geleer,

dat ons as diensknegte van Jesus,

gaan ly en swaarkry in hierdie lewe,

gaan beproef, getoets word in ons geloof.

Christus het eers die kruis gedra,

voordat Hy die kroon ontvang het.

En so sal dit met die kinders van die Here wees,

so sal dit ook met sy kerk wees.

En natuurlik, ja, hierdie beproewing van ons geloof,

dat ons getoets word is definitief nie maklik nie,

en baie maal wankel ons ook maar,

en as dit nie vir die genade van die Here was nie,

dan sou ons heeltemal weggeval het van ons geloof.

Wat moet ons dan doen, as ons dalk wankel,

as die lewe ons dalk so hard slaan,

dat ons wil opgee, oorgee, nie meer die goeie

stryd van die geloof wil stry nie ?

Dit is waaroor ons teks vandag gaan in Jak.1:5-11, ons tema is:

AS ONS WYSHEID KORTKOM OM STAANDE TE BLY IN DIE GELOOF 

MOET ONS DIT VAN GOD BID

Ons gaan op 3 sake let:

  1. wat is die wysheid wat ons kortkom
  2. hoe ons die wysheid bekom, en
  3. ‘n waarskuwing hoe om nie wysheid te soek nie

1 Wat is die wysheid wat ons kortkom?

Jakobus roep die diensknegte van die Here op,

om wysheid van God te bid, as ons dit kortkom.

Vers 4 het ge-eindig met die woorde dat die gelowige se beproewing,

deur volharding sy einddoel moet bereik,

en dit behels om volmaak te wees ….. en niks kort te kom nie.

Om volwasse te word in die geloof,

om sonder gebrek te wees,

om die mens van God te word wat gered en hernuwe is in Christus.

Maar ja, die werklikheid is ook dat kinders van die Here maklik kan wankel,

dit was sekerlik ook die ervaring van die gelowiges daar in die 1ste eeu,

deur alle eeue, ook ons vandag …

Al die aanslae van die lewe teen ons geloof is nie maklik nie

Maar daar is uitkoms geliefdes,

en dit is om om wysheid van God af te bid.

oor hoe om staande te bly midde die beproewinge.

Waarna verwys die wysheid in v.5 ?

Nou, wysheid in die Bybel verwys nie na bloot intellektuele kennis nie,

’n briljante einstein kennis oor ’n vakgebied nie,

maar ’n geestelike kennis en wysheid om die Here se Woord,

met die nodige insig en onderskeiding toe te pas in die hele lewe.

Dit wys daarop om die geeste, die tye te kan onderskei in die lewe oor die algemeen, maar ook veral my eie lewe.

MAAR dan spesifiek wat Jakobus betref, beteken dit spesifiek

om wat Jakobus nou net geleer het in v.2-4 prakties konkreet in my lewe

toe te pas, oor die beproewinge van hierdie lewe.

Dat ek as dienskneg van die Here sal raaksien

dat al hierdie beproewinge tot my beswil is,

dat dit vir my, soos Rom.8:28 dit stel, ten goede meewerk.

Dat ek midde die beproewinge dit as vreugde beskou,

dat die Here met my besig is deur al die beproewinge van die lewe.

Die wyse mens kyk nie vas in al die dinge, mense en omstandighede

wat sy lewe aanval nie, hy word nie moedeloos en hopeloos nie,

maar hy weet die Here is met hom besig … al maak dit seer.

In wese dus is hierdie wysheid om met die Here rekening te hou

in al my lewensomstandighede, om dus te vra na die Here se wil in my lewe,

om op Hom te wag midde alle aanslae.

Iets van wat ons daar bely in So.10 van die HK,

…. (dat ek) in alle teëspoed geduldig (a), in voorspoed dankbaar moet wees (b) en in alles wat nog oor ons kan kom, ‘n vaste vertroue moet stel op ons getroue God en Vader (c), dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle teen sy wil hulle nie kan roer of beweeg nie (e).

En hierdie wysheid om te kan onderskei en insig te toon in die lewe,

kom van die Here, dit is Hy wat wysheid gee, sien Spr.2:6.

Die HERE self is wysheid.

Daarom dat Spr.9:10 dit ook stel, dat die beginsel van die wysheid,

is die vrees van die HERE …

wat beteken my denke, lewe en wandel vind plaas midde die wete

dat daar ’n heilige God is wat lewe en alles bepaal,

ek wandel en lewe in eerbied en ontsag vir Hom.

Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek. – Spr.8:13

En Hy wil ook sy wysheid met ons deel, dit vir ons gee.

En daarom ook in die tweede plek,

 

2 Hoe ons wysheid bekom vir hierdie lewe

Jakobus roep ons daarom op om te bid, te vra vir wysheid,

Ja, in plaas om van verbitterd te raak, te begin twyfel,

moet ons bid vir die Here om die dinge te onderskei in ons lewe,

al die beproewinge te kan dra in Hom.

En Jakobus begrond hierdie oproep tot gebed in die karakter van God,

wie en wat ons hemelse Vader is,  daar in vers 5, die 2de deel

want God gee aan almal eenvoudig, en sonder verwyt.

Dit wys op die Here doelbewuste opregte versekering

aan sy kinders om hul wysheid te skenk,

Hy gee weer en weer,

Hy is lankmoedig oor ons en wil ons waarlik help deur hierdie lewe,

om al die beproewinge te kan dra.

Maar dan ook spesifiek, kyk hoe troosvol,

dat Hy dit gee sonder veroordeling,

sonder om dit selfs teen ons te hou,

as ons nie altyd tot sy eer staande bly onder die aanslae nie.

Hy sal ’n geknakte riet nie breek nie, Matt.12:20 !

Dit moet vir ons troosvol wees, dat hy ons swakhede nie teen ons hou nie

maar al weet Hy wat al ons behoeftes is, wil Hy hê ons moet daarvoor vra.

Doen u dit, kind van God wat nou in beproewing is ?

Maar dan, belangrik, moet ons wel in die geloof bid, sonder om te twyfel.

Om in die geloof te bid is die Here met ’n vaste vertroue te nader,

dit is nou wysheid in aksie, wat in dade oorgaan.

Ons nader Hom op grond van sy karakter, wie Hy is, v.5b,

en ook op grond van sy beloftes.

Hy wat juis beloof dat Hy geeneen sal verwerp wat tot Hom nader in

verootmoediging nie,

Hy wat beloof om ons te versorg en alles te skenk

wat nodig is in hierdie lewe om vir Hom te lewe.

Ons moet waarlik glo dat Hy ’n goeie Vader is wat vir ons sorg,

wat vir ons omgee, en alle dinge ons mee wil versorg,

Hier spesifiek in Jakobus, dat Hy vir ons wysheid sal gee

om die beproewing te deurstaan,

te groei tot ’n volwasse gelowige midde die aanslae.

SO GELIEFDES, WYSHEID GAAN IN WESE OOR ONS GODSBESKOUING

WIE ONS GLO GOD IS EN WAT HY DOEN

Baie mense dink die Here moet hul nader op hul voorwaardes.

Hulle soek ’n afgod om na hul pype te dans,

wat aan hulle moet rekenskap gee oor die lyding van die lewe.

Die Here moet by hul vrae en behoefte aanpas ?

Maar dit is nie hoe dit werk nie,

ons moet die Here nader soos Hy dit van ons vra,

deur die geloof kom luister en aanbid,

stil wees en stilraak voor sy grootheid.

“Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.” – Ps.62:1,2

Geen mens kan die voorwaardes stel nie,

die Here skuld ons nie antwoorde nie,

ons skuld hom antwoorde, soos Job moes geleer het,

en toe eers het hy begin verstaan.

Luister na sy woorde aan die einde van sy beproewing:  lees Job.42:1-6

Soos ons ook hoor daar in Hebr.11:6,

6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

So geliefde, soek jy wysheid oor die lewensvrae,

waarom dinge oor jou lewenspad kom,

waarom jy moet swaarkry en beproewinge deurgaan,

vra dan vir wysheid van God, deur die geloof

nie met ’n verbitterde hart, ons kan nie antwoorde by God eis nie.

Ons kan met ’n ootmoedige hart Hom nader

ons verootmoedig en vra Here wees ons genadig.

Help ons, gee wysheid om te volhard tot die einde,

midde al die aanslae … belangrik …

al kry ons nie al die antwoorde in hierdie lewe.

MAAR  dan, daar is ook ’n waarskuwing, en dit sien ons in die laaste plek,

 

3 Hoe ons nie wysheid moet bekom nie

Ja, Jakobus meen die diensknegte van die Here moet dit hoor,

ek en u moet dit hoor:

Ons mag die Here nie nader in twyfelagtigheid nie, v.6-8.

Die woord beteken om in jouself verdeeld te wees,

soos v.8 dit stel, om ‘dubbelhartig’ te wees, double minded

om op twee gedagtes te hink,

om een oomblik te bely en te glo die Here regeer alles, ook by beproewinge,

maar die volgende oomblik, nee Hy doen dit nie, in my dade te wys.

ek glo hom nie eintlik nie …. ek raak kwaad, verbitterd, opstandig teen Hom en teenoor ander mense …..

Hy wat dus nie in wysheid en geduld met die Here rekening hou nie,

wat ongelowig die Here se plan met my bevraagteken,

word beskryf as ’n golf wat rondgedrywe word deur die wind,

word orals heengesleep  – hier en daar en orals –

So is iemand wat die in die Here twyfel weens sy omstandighede

onbestendig in sy optrede en besluite  … lief, nie lief nie, lief, nie lief nie …

bely die geloof een oomblik, maar as dinge anders gaan, dink en doen hy weer anders.

Ook iets van wat ons gesing het in Ps.1,

… so is die goddelose nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi

En dan pas Jakobus dit toe op twee spesifieke gevalle,

waarvoor wysheid nodig is en voor gebid word, daar in vers 9-11

a. Die arm man wat in hierdie lewe ly, weens sy armoed en swakke omstandighede,

moet die wysheid hê om te besef watter rykdom hy het in sy Christus,

in wie hy hoog geplaas is in die hemele.

Hy moet die volle verwerkliking van sy geloof raaksien,

die ewige rykdom en posisie wat hy in Christus het,

dienskneg van die Here, v.1,

dat hy in Christus al die rykdomme van die heelal gaan beerwe !

Nie nou nie, maar eendag (sien ook Mark.10:29-31).

b. En die rykman moet roem in sy geringheid,

dat hy die wysheid en insig sal hê

dat sy rykdom vergaan, dit is tydelik,

dit is soos ’n blom wat verbygaan en verwelk

die rykdom se wins is maar tydelik, moenie daarop vertrou nie,

moenie daardeur verlei word weg van die wysheid van God nie.

(Jakobus wys in latere hoofstukke dan wys wat wysheid teenoor my naaste, medegelowiges behels)

In albei hierdie posisies in die lewe is daar daarom beproewinge op my geloof,

vir die een kan armoede ’n struikelblok wees – om verbitterd te raak

vir ’n ander sy rykdom ….. om nie op die Here te vertrou nie

Daarom is die belangrikste,

dit gaan nie om jou status of omstandighede of lewe of posisie in die lewe is nie, maar of jy wysheid het, dit wat ons ook daar gelees het in Spr.8:11,

Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk nie

Nie hoe arm of ryk ek is nie, wat my status of omstandighede is nie,

maar of ek wysheid het en dit begeer al hoe meer,

is wat werklik saak maak vir hierdie en die ewige lewe !

Vir ons wat glo, is die wonderlike troos geliefdes,

dat as ons diensnegte van Jesus is, ons waarlik in Hom glo,

dan het ons eintlik reeds die wysheid ontvang wat nodig is om die dinge te onderskei waar dit op aankom,

want die Wysheid, hoofletter van Spr.8, is en word aan ons geskenk deur die geloof – daarom Jak.1:6 se sleutel woorde (deur die geloof) te bid, want ons lees in 1 Kor.1:30,

30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.  31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Daarom roem ons nie in ons rykdom of armoede nie,

nie ons status of omstandighede nie,

maar dat ons die wysheid van God het, dat ons Jesus het,

Hy wat WYSHEID self is.

Daarom, kind van God,

Wat is jou grootste skat waarvoor jy bid in jou lewe ?

Nog geld maak, gemak, aansien ?

Of bid jy vir die wysheid van die Wysheid, Jesus Christus self ?

Vir jou en jou kinders.

Om midde hierdie lewe staande te bly as ons geloof beproef word.

En onthou dan die belofte, wat dan ook ons troos is:

Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.” – Spr.8:17

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: